Читать книгу Truitjie roer my nie - Schalk Bezuidenhout - Страница 6
My ma
ОглавлениеDaar is nóg ’n stereotipe waaraan ek lelik voldoen. ’n Mens sien altyd hierdie red carpet events, soos die Met Gala. Hier word die nuutste celebrity couples onthul, jy beleef die kaklelikste outfits wat geen normale persoon sal dra al word hulle betaal nie (maar in dié geval is dit nou cool want Rihanna dra dit), en as jy gelukkig is, sien jy iemand se koekie terwyl hulle slordig uit die limo klim. Dis net die arme vrouens met wie dit gebeur. Jy sien nooit per ongeluk Ryan Gosling se linkerbal uithang omdat hy nie mooi opgezip het ná hy gaan piepie het nie.
Soms wens ek dat ons ook sulke wonderlike skandale in Suid-Afrika gehad het. Ons het nie Paris Hiltons of Lindsay Lohans wat nie panties dra en wydsbeen in taxi’s inspring nie. Ons het Margaret van Wyk. ’n “Hokkie Ouers”-WhatsApp-groep is nou nie so glamorous soos die voorblad van People nie.
Maar om terug te kom by die Hollywood-rooitapyt … Amper elke A-lys manlike celeb het al in ’n stadium sy ma na een van hierdie spoggeleenthede geneem. Almal dink dan dit is moerse oulik! Ek is nooit seker of hy regtig wou en of sy ma hom net so erg ge-guilt trip het nie. “Jy vat altyd net jou slet van ’n vrou! Ek hou ook van sulke events!” Hulle steel heeltemal die show. Mense vra dan waarom hy nou juis sy ma as sy date gekies het. Die antwoord is altyd dieselfde: “My mom is my biggest fan.”
I hate to say it, maar my ma is ook beslis my grootste waaier. Dis nie een of ander kak grap waar ek “fan” letterlik in Afrikaans vertaal nie. Sy waai gereeld vir my uit die gehoor wanneer ek optree. Maar sy is ook my grootste fan. Ek het selfs ook al die Hollywood stunt probeer pull en haar as my date geneem na 2016 se Fiësta-toekennings. Niemand het gedink ek is moerse oulik nie. Mense het net gedink ek is te cheap om my (destydse) girlfriend uit die Kaap uit op te vlieg.
My ma wou baie graag drama gaan swot het, maar my oupa het gesê: “Die kans dat jy gaan drama swot, is kleiner as die kans dat ’n swart man eendag die president van ons land word.” Hy is oorlede voor die 1994-verkiesing. So gaan swot my ma toe iets complicated wat ek nooit kan onthou nie. Ietsie ietsie politieke ietsie ietsie en sy word toe ’n spy. Ja, jy het reg gelees. ’n Fokken spy! Sy het vir meer as twintig jaar van haar lewe vir Nasionale Intelligensie gewerk en ek het vir elke kind by die skool vertel dat ek vir hulle kan sê wat my ma doen, maar dan sal ek hulle moet doodmaak. Ek het nie geweet dat die meeste van haar spy missions agter ’n lessenaar plaasgevind het nie. Volgens my het my ma elke dag van nege tot vyf bad guys met haar hoë hakke in die gesig geskop en haarself voorgestel as: “Die naam is Bezuidenhout … Greta Bezuidenhout.”
In 2008 het my ma bedank en my hoërskool se snoepie gekoop. Ek weet wat jy dink: Hmm … ’n Baie logiese skuif. Van Goldfinger na fish finger. Ek is vandag nog oortuig dat daar ’n spesifieke buddy Coke in een van die yskaste was wat sy soos ’n hefboom kon trek en dan afsak na ’n ondergrondse laboratorium. Daar het sy gesit en op ’n moerse rekenaar beplan hoe sy ’n stokkie gaan steek voor Kurt Darren se plan om die wêreld oor te neem. Ek weet Kurt Darren lyk nie juis soos ’n skurk nie, maar met die oogklap wat hy destyds gedra het, kon hy nogals pass vir ’n Bond movie villain.
Later het my ma ook by die snoepie bedank. Nou is sy die manager van ’n fancy estate waar ryk mense kla oor die bure se hond wat vyf desibels te hard blaf. My ma vertel my altyd van die daaglikse klagtes wat sy ontvang en meeste van hulle is werklik belaglik. Haar foon lui: “Hallo Greta. Dis Susan Teveelgeld van Ek’s-’n-bitch-laan 23 wat praat. Ek wil asseblief ’n klagte lewer oor die nuwe sekuriteitswag by hek A. Hy het vandag toe ek inry vir my gesê ‘Môre, mevrou’. Soos jy weet, Greta, is ek onlangs geskei en is ek nou weer ’n mejuffrou. Maak asseblief seker dat die sekuriteitswagte dit weet en my korrek aanspreek.”
Ek weet nie hoe oud ek was nie. Sewe of agt. Toe sê ek vir my ma ek wil dramaklasse begin neem. Ek dink nie dit was ’n week later nie, toe sit ek in my eerste dramaklassie. Tannie Tammy se garage. Baie keer het my ma ook bygesit en mental notes gemaak van wat tannie Tammy ons leer. Dit het later handig te pas gekom toe my ma die Engelse skooltoneel afrig die laaste twee jaar van my hoërskoolloopbaan. Sy het selfs by die een of ander kompetisie Beste Regisseur gewen. Meanwhile was sy maar net die snoepietannie met ’n passie vir toneel. Sy het haar alles gegee.
My ma kan nogals ’n ekstreme mens wees. Ek wou op laerskool aan die kunswedstryd deelneem, maar my ma doen nie ’n ding halfpad nie. Ek is jaarliks vir amper elke item ingeskryf. Een jaar het my ma my letterlik vir elke item ingeskryf, insluitende Zulu Poetry.
(Erns sê: Hier is een van die strofes uit die Zoeloe-gedig “Yin’ uKwazi”:
Ngitshele mame!
Kuyin’ ukwazi?
Ngukuba yisikhulumi,
Ngibatshazwe yizwe lonke,
Ngichazane nemithetho
Ngingenal’ ulwazi lwayo?)
Ek was daardie dag die enigste wit seuntjie daar en ek onthou hoe die ander kinders gelag het terwyl ek my gediggie voordra. Ek het seker baie van die woorde verkeerd uitgespreek en per ongeluk “my vakansie was kak” in plaas van “my vakansie was lekker” gesê.
Die feit dat ek eendag ’n akteur wou word, was vir my ouers als goed en wel. Veral vir my ma, aangesien sy self wou, maar nooit die geleentheid gehad het nie. Toe luister sy eendag na ’n onderhoud op RSG waar hulle met ’n bekende Suid-Afrikaanse akteur praat. Dié ou sê toe dat hy nie kinders sal aanraai om drama te gaan swot nie. Nie almal maak dit nie, daar is nie werk nie, ensovoorts. Dit het my ma heeltemal uitgefreak! Soos toe sy uitvind wat EINTLIK in die snoepie se steak-and-kidney pies was, maar erger. Dadelik was drama swot van die tafel af. Ek kon nog steeds ’n akteur word, maar ek moes eers iets anders gaan swot. Ek kan jou waarborg dat elke akteur in die wêreld in die een of ander stadium die “Kry iets om op terug te val”-speech van hulle ouers ontvang het.
Omdat ek ’n goeie redenaar was, het my ma gedink prokureur is ’n goeie plan B. Sy het my probeer oortuig deur te sê: “Dis dieselfde as toneelspel! Jy sit ’n act op vir die regter om hom te oortuig van jou kliënt se onskuld!” Ek het geweet dis nie die regte rigting nie (see what I did there?). Uiteindelik het ek vir my ouers ’n keuse gegee: Ek gaan swot drama of ek word ’n beach bum. Dit was bietjie van ’n empty threat. Ek sou nooit regtig ’n beach bum word nie. Ek haat sand. Maar my ouers het daarvoor geval en my ma het haar posisie as grootste fan ingeneem. Sy het afgevlieg Kaap toe vir amper elke amateur-dramaskoolproduksie, my stand-up-loopbaan met ope arms verwelkom en elke dag op Facebook begin post oor hoe oulik ek is. Ek het in 2017 vir Gerrit Schoonhoven by die KKNK ontmoet. Hy het vir my gesê: “Ons het nog nooit ontmoet nie, maar ek en jou ma is vriende op Facebook. So dit voel asof ek jou ken.”
Ek weet my ma het hierdie boek seker al ’n honderd keer gelees, vyfhonderd mense geforseer om dit te gaan koop, en die Kempton Express al ’n duisend keer gemail en gevra dat hulle ’n resensie van die boek sal publiseer. Obviously net as die resensie sê die boek is briljant. As die resensie sê die boek is kak, is dit ook fine, maar my ma sal dan ongelukkig nie hulle asook hulle families se veiligheid kan waarborg nie.
Dankie, Ma. Jy is die grootste fan met die grootste hart. Jy kan dieselfde joke wat jou hardop laat lag honderd keer hoor en elke keer lag asof dit die eerste keer is dat Ma daai joke hoor. Jy kan ook dieselfde joke wat jou ontstel honderd keer hoor en my dan elke keer uitkak asof dit die eerste keer is dat Ma daai joke hoor.
Erns sê: Schalk sê dikwels in sy shows dat sy ma ’n onderskeiding verdien in ma-wees, omdat sy gemiddeld meer as 75% van sy shows in een jaar bywoon. Ek dink Greta verdien ’n ma-dalje – okay, ek belowe hierdie is my kakste pun in die hele boek – vir hoe sy Schalk ondersteun. Sy het my vertel sy het die eerste keer van sy liefde vir optree bewus geword tydens ’n seevakansie naby Port Edward toe Schalk in graad 2 was. Daar was een aand ’n talentkompetisie en Schalk het ’n liedjie van Leon Schuster se album Gautvol in Paradise gesing en natuurlik gewen en met ’n blinknuwe speelgoedvragmotor as prys huiswaarts gekeer. Hy het ook in graad 2 ’n gedig, “Oom Thys en die bobbejaan”, by ’n kunswedstryd voorgedra, waarna die beoordelaar glo verstom opgemerk het: “So ’n klein seuntjie en so ’n lang gedig.”
In graad 3 was daar by Schalk se skool in Kempton Park, Laerskool Kruinsig, ’n entrepreneursdag. Greta het ’n kontak gehad wat klein radio’tjies uit die VSA ingevoer het, en Schalk wou dit graag by die skool verkoop. Hy moes vooraf bestellings kry en het vir die skoolhoof gaan vra vir ’n spreekbeurt tydens saalopening. Schalk het toe voor die hele skool ’n demonstrasie gegee van hoe die radio’s werk en vir ’n volle week tydens pousetyd nie gespeel nie maar op ’n spesifieke plek gaan sit en bestellings geneem. Hy het uiteindelik sowat veertig radio’s verkoop.
Schalk het ook in sy laerskooljare ’n DVD van Lord of the Dance gekyk en wou toe graag leer om te tap-dance. Greta was egter bekommerd dat die ander seuns hom gaan spot, omdat sy laerskool ’n groot sportskool is. Sy het hom voorgesê om vir niemand te vertel dat hy tap doen nie. Een middag gesels sy met sy onderwyseres, wat vir haar sê: “Dis fantasties dat Schalkie tap doen!” Greta was erg verbaas en wou by die onderwyseres hoor hoe sy daarvan weet. “Hy het self vir my vertel,” het die onderwyseres trots geantwoord. “Hy leer nou pouses vir die rugbyouens hoe om te tap.”
Nog iets wat vir Greta uitstaan van Schalk se grootwordjare en eerste optredes was toe hy as vyftienjarige ’n nuwe eenmanstuk, Pretpark, geskryf deur Wim Vorster, by die Reza de Wet-toneelfees in Bloemfontein opgevoer het. Sy dramajuffrou was toe swanger, so Greta het self haar seun afgerig op die sonstoep van hul huis in Kempton Park. Dit was ’n stewige teks: twee-en-dertig bladsye lank. Schalk het by die fees die prys vir Beste Akteur gewen, en een van die Kovsie-dramadosente het vir Greta gesê: “Kan jy dit glo? Daardie outjie is nog net vyftien jaar oud en hy het ’n stuk van vyf-en-veertig minute gedoen.”
Ek geniet dit om soms ná Schalk se shows met Greta te gesels oor WhatsApp, sy wil dikwels weet hoe dit met hom gegaan het. En meestal antwoord sy met iets soos: Solank jy tevrede is! Ek weet my kind is in goeie hande.
Greta deel ook graag haar mening, soos hierdie WhatsApp ná die eerste vertoning van 3-in-1 met Casper de Vries, Schalk en Hannes Brümmer by die Atterbury-teater in Pretoria: Ek dink Schalk was skerp, ook in ag genome dat hy mense soos Bouwer Bosch uitgehaal het.
’n Jaar later, toe Schalk drie uitverkoopte solo-vertonings by die Atterbury-teater gehad het, en sy ma se sitkamerstel geleen het as stel op die verhoog, het sy só van haar laat hoor toe ek ’n foto van die verhoog stuur: Ek sou items net ’n bietjie anders rangskik … maar dis baie mooi.
Ek waardeer ook haar eerlikheid. Toe ek een keer vir haar ’n paar foto’s van haar en Schalk aanstuur, het sy dadelik laat weet: Een wenk Erns … moet my NOOIT weer van die kant afneem nie. #vanityismynaam
Ek het self ouers wat hulle kinders met groot moeite en toewyding ondersteun – ek dink dit is waarom ek begrip en waardering vir Schalk se ouers het. Greta het al meer as een keer op ’n vliegtuig geklim om vir Schalk te kom verras in die Kaap wanneer hy ’n groot show in die Baxter het – al het sy daardie materiaal al tientalle kere gehoor. Ek kan dikwels voor ’n vertoning of ’n funksie sien hoe ingenome sy met haar enigste kind is.
Van tyd tot tyd kry haar geesdrif die oorhand, soos toe sy bietjie namens Schalk die Kempton Express gekontak het en per ongeluk laat val het dat hy weer in Trevor Noah se voorprogram gaan optree, toe dié nuus nog onder embargo was. Schalk was erg ontsteld, en ek dink hy het heeltemal oorreageer toe hy daarvan gehoor het. Sy wou maar net help, maar ek dink die insident was goed vir hulle albei om die grense ’n bietjie duideliker te stel.
Ek projekteer seker ’n bietjie, maar ek voel soms soos ’n tweede kind in hulle huis. Ek word altyd met groot gasvryheid aan huis in Kempton ontvang en die kamer waarin ek oornag, het altyd ’n opgevoude handdoek en iets soos ’n klein Lindt-sjokolade op die kussing.
In Mei 2017 het Schalk een aand ’n uitverkoopte vertoning by sy ou hoërskool, Hoërskool Jeugland, gehad. Greta het ons bederf met ’n aand se verblyf in ’n luukse gastehuis in Kempton Park. Toe ons Schalk se kamer binnestap, was daar ’n tafeltjie met ’n bottel Krone-vonkelwyn, ’n deftige bottel rooiwyn en bakkies vol biltong, droëwors en neute. En ’n boodskap van Greta op Schalk se bed: Schalk en Erns, geniet jul verblyf. Hoop die aand verloop goed. Van jul grootste ondersteuner.
Hier is ’n gedig wat Greta vir my aangestuur het. Sy het dit in 2012 geskryf, ’n jaar nadat Schalk begin het met stand-up-komedie:
Aan Schalk my seun, student by UCT
Met mense om jou wat jy laat lag
berei jy jou voor vir die grote dag;
wanneer jy jou talent op die verhoog
met ander kan deel, net soos jy dit beoog.
Jy’s ’n nar, jy’s ’n hanswors, jy’s ’n komediant,
met hope talent, in ’n soepel lyf vasgevang.
jy toor met woorde, jou lyf weerspieël die akkoorde
van iemand wat wil uitbreek uit die kokon,
van nimmereindigende mentors.
Aan die einde van die dag
is jy die protégé van jou eie geslag!
Ek hoop dit bring jou baie kontant
dat jy kan koop wat jy begeer –
suinig grootgemaak, sal jy dit dalk waardeer!