Читать книгу Truitjie roer my nie - Schalk Bezuidenhout - Страница 9

Erns

Оглавление

My eerste one-man show ooit was in ’n fokken tent. Mike van Graan het my gebel en gevra of ek ’n Afrikaanse one-man show by 2015 se KKNK wil doen. Daar was daardie jaar baie stand-up-komediante by die fees – Nik Rabinowitz, Marc Lottering en Rob van Vuuren. Maar niemand wat dit in Afrikaans doen nie. Ek het verduidelik dat ek meestal in Engels optree en net nou en dan in Afrikaans. Die rede hiervoor was nie dat ek een of ander volksverraaier was nie. Daar was net eenvoudig nie Afrikaanse gigs nie.

Ek en ’n paar ander ouens, onder andere Kobus Galloway wat Idees vol vrees doen, het ’n groep begin met die naam Gemengde Vrugte en ons het stand-up in Afrikaans gedoen. Dit was meestal ons vriende en familie wat kom kyk het en daar is net soveel keer wat iemand dieselfde jokes kan hoor, maak nie saak hoe lief hulle vir jou is nie. (My ma is ’n uitsondering.) Die pressure was altyd op Kobus om die shows te adverteer, want hy het die meeste followers op Facebook gehad. Toe die laaste vriende, niggies en nefies weier om WEER dieselfde show te kom kyk, het Gemengde Vrugte ’n stil dood gesterf.

Ek sê toe vir Mike as ek al my materiaal vertaal, kan ek miskien ’n show van ’n uur lank saamskraap. Die langste wat ek tot in daardie stadium aaneen gedoen het, was dertig minute. Ek het gevoel soos ’n verpleegster wat nou ewe skielik ’n hartoperasie moes uitvoer.

So tree ek toe op by die KKNK se ATKV Karoo-Kafee. Maar soos ek sê … nie ’n kafee nie, ’n fokken tent (dit was die eerste joke in die show). Tydens een van my drie shows het dit verskriklik gereën en daar was ’n gaping in die tent se dak net voor die verhoog. Daar was letterlik ’n waterval tussen my en die gehoor. Elke keer wat ek my arm uitgestrek het om vir ’n gehoorlid iets te vra, het my mou sopnat gereën. (Dis nou so droog in die Kaap dat ek enige tyd in ’n donderbui sal optree.) Daardie jaar het ek die Slurpie-Kanna vir Beste Opkomende Kunstenaar by die KKNK gewen.

Later daardie jaar het ek die voorreg gehad om vir ’n rukkie Trevor Noah se opening act te wees vir sy laaste show in Suid-Afrika. Dit was toe reeds aangekondig dat hy Jon Stewart as host van die The Daily Show sou opvolg. Die ses weke by Montecasino se Teatro was so uitverkoop soos WWF T-shirts by die Boksburg-vlooimark. En ek was die opening act. Eenduisend-agthonderd mense ’n aand. Ses shows ’n week. ’n Maand en ’n half in ’n hotel. Optredes saam met een van die mees talentvolle comedians in die wêreld. Ek was in comedy-hemel.

Trevor se right-hand man was en is nog steeds ’n ou met die naam Ryan Harduth. Ek het al voorheen saam met hulle gewerk toe ons Trevor Noah se NationWILD-toer gedoen het. Dit was aan die einde van 2014 en die show het bestaan uit Trevor en ’n klomp jong outjies wat hy gedink het snaaks is. Ryan het nog altyd seker gemaak dat Trevor oor niks behalwe die inhoud van die shows hoef te worry nie. Trevor kon fokus op dit wat hy daar was om te doen: comedy. Nie kontrakte, die stel, of enige ander admin-kak nie.

By die KKNK het ek alles self gedoen. Selfs my eie posters opgeplak. Ek wou ’n Ryan hê.

Op 13 April 2015 rol daar ’n Facebook-boodskap in van ’n Erns Grundling. Hy skryf dat my show by die KKNK “mind-blowingly befok” was. Flattery will get you everywhere. Erns vra toe of ek bereid sou wees om by die bachelor’s-paartie van een van sy beste vriende op te tree. Dit was vir my nogals ’n vreemde versoek. Ek was nog nooit by ’n bachelor’s nie, maar is dit nie waar ouens so gesuip raak en kak aanjaag dat die bruidegom amper sy huwelik opfok nog voor dit begin het nie? Comedy by ’n bachelor’s klink soos Shakespeare by ’n landbouskou. Het hulle verwag dat ek ná my comedy set op die bar counter moes lelik lê terwyl die ouens een vir een shooters uit my naeltjie uit drink? Dit sou anyway nie werk nie. Ek het nie een van daai naeltjies wat ingaan nie.

Nog voor ek kan vra, stel Erns my gerus en verduidelik: “Ons is so 20-25 ouens, en dis nie jou voorspelbare kom-ons-dra-gips-raak-fucked-up-en-kry-’n-stripper-bachelor’s nie. Ons is byna almal ’n klomp joernaliste wat hier in die Kaap werk.” Die bachelor’s was in die bowling alley by die ou German Club in Kaapstad. Befokte klein venue. Erns het meeste van die aand rondgehol en probeer om al sy best man-verpligtinge, wat op ’n klein gefrommelde papiertjie geskryf was, af te handel. Hy het ’n lekker sin vir humor gehad, hy was ’n fan van my comedy, en hy was (nogals) georganiseerd. Was hy dalk my Ryan?

Ek en Erns het aan die einde van die aand blad geskud en vir mekaar “dankie vir ’n lekker gig” gesê. Ek wou voorstel dat ek en hy miskien in die toekoms saamwerk.

Die laaste keer wat ek so op my senuwees was, was net voor ek in 2001 vir Karla Schoeman uitgevra het. Ons was in graad 3 en saam in die skoolkonsert. Sy was ’n druiwetros. Ek was ’n kamp papie – soos in die ding waaruit ’n skoenlapper kom. Nie die actual skoenlapper nie, maar dit waaruit hy kom. Ek is nie seker waar die kamp deel ingekom het nie. En net vir clarification: nie kamp soos in ’n tent en liedjies om die vuur nie. Kamp soos in jou nefie wat almal weet is gay, maar nog nie uit die kas uit is nie. Ek het reeds genoem ek was ’n verfynde kind. Die juffrou het seker gedink dit sal snaaks wees as ek heeltyd met wapperende armpies op die verhoog paradeer. Ek volg vir Karla by die gang af soos ’n kamp leeu wat wag vir die regte oomblik om sy dazzling move te maak. Ek skree: “Karla!”

Sy draai om: “Ja?”

“Sal jy my meisie wees?”

“Nee.”

En dit was dit.

Nou staan ek voor ’n volwasse man en skraap moed bymekaar om hom “uit te vra”. Ek kan hom nie eers in die oë kyk nie.

“So, uhm, Erns. Ek weet nie of jy, soos, daarin sal belangstel nie … Maar, uhm, soos, as jy wil, soos, sal dit nogals cool wees om soos saam te werk. Nie soos jy doen al die admin en ek doen die shows nie. Maar, soos, om als self te doen kan net partykeer bietjie overwhelming raak. Trevor Noah, ek open later hierdie jaar vir hom, het so ’n ou, Ryan, met wie hy werk. Dit sal, soos, nogals cool wees as ek en jy so ’n tipe vibe kan hê.”

Erns vertel my dat hy nog altyd mal is oor sulke goed. Hy het destyds in PE vir Koos Kombuis en David Kramer gekontak en hulle gevra of hy vir hulle shows daar kan reël. Hy sê dat hy binnekort op pad is Spanje toe waar hy die Camino gaan stap. In daardie stadium het hy nog nie eers geweet dat daardie ervaring sou lei na die skryf van sy eerste boek, Elders, nie.

Op 25 Junie het Erns, 1 025 kilometer se stap later, vir my ’n boodskap gestuur om te sê hy is terug. ’n Paar weke later het ons ’n drankie gaan drink.

Ek en Erns het saam begin werk en is sedertdien in ’n comedy bromance betrokke. Dit is juis sy boek Elders se uitgewer wat ons twee genader het om hierdie boek te skryf. Ek het ook later met die einste Ryan begin werk – hy is die promoter van my Engelse shows. Dinge kon nie beter uitgewerk het nie. Nou het ek twee Ryans.

Truitjie roer my nie

Подняться наверх