Читать книгу Truitjie roer my nie - Schalk Bezuidenhout - Страница 8

Pomona Spur

Оглавление

’n Ier bel my in die eerste jaar (2011) van my komedieloopbaan en vra of ek ’n gig wil kom doen by Rock Paradise. Hy MC baie by Parker’s Comedy & Jive in Montecasino. Sy komedie bestaan uit old school-liedjies wat hy op die kitaar speel en die tipe opmerkings wat jou oom ná ’n paar brandies in die Spur maak. Daai oom wat dink hy’s nie rassisties nie omdat hy “Hallo, hoe gaan dit?” in Xhosa kan sê. Een van die Ier se jokes is dat hy die klank van honde wat blaf oor die klankstelsel speel en dan sê: “Watch all the Africans leave.”

Ek het nog nooit gehoor van Rock Paradise nie. Bliksem. Dit klink soos ’n gig in Namakwaland! Hy sê die gig is in Pomona, wat ’n area in Kempton Park is. Ek was in Kempton vir die vakansie. Perfek! Die fooi was R4 000! Vir ’n komediant wat nog open spots gedoen het (dis vyfminuut-spots en jy word nie betaal nie) was dit baie geld.

Hier was die probleem: Ek moes twintig minute doen. Dan was daar ’n pouse. Dan nog twintig minute. In daardie stadium het ek nog net tien minute se materiaal gehad. Ek jok toe en sê ek kan twintig minute doen. Dan kan hy ’n ander komediant kry om die ander twintig te doen. Dan split ek en die ander ou die R4 000 en vat R2 000 elk. Nog steeds kakbaie geld vir ’n beginner.

Ek kan nie onthou wie nie, maar iemand sê toe vir my dat Rock Paradise ’n strip club is. Dis vir my weird, maar teen R2 000 sal ek in ’n bordeel optree!

Een Vrydagmiddag stap ek en my pa toe by Rock Paradise in. O ja, ek het vergeet om dit te sê. Toe ek vir my pa sê dat ek by ’n strip club gaan optree, was sy reaksie: “Dit moet ek sien!” Oorgewig girls in Mr Price-lingerie verwelkom ons by die deur. Baie van hulle is Afrikaans.

Hulle het toe nie ’n ander komediant gekry nie. Dis net ek met my twintig minute. Eintlik my tien minute wat ek beplan om baie stadig te doen.

Rock Paradise is basies ’n ou groot huis wat in ’n strip club omskep is. Daar is die main area waar die strippery plaasvind. ’Skuus … ek ken nie die Afrikaanse woord vir “stripping” nie. Die gig moes tweeuur die middag plaasvind. Nie net was dit my eerste gig in ’n strip club nie, maar ook my eerste gig oor lunch-tyd. Hulle probeer nie eers om die illusie van aand te skep nie. Deur die skuifdeure skyn die middagson salig. Buite is daar ’n swembad met baie van hierdie fake rotse oral om. Dit verduidelik die plek se naam. Buite is ook ’n buffet, waar ’n ou wat lyk soos die ouer boyfriend by die matriekafskeid vir mense braaivleis en ’n verskeidenheid slaaie skep. Sy bokbaardjie skep die indruk dat hy tans gelukkig is met waar hy in sy lewe is, maar tog ambisies het om eendag iets meer as die opskeptannie by ’n strip club te wees.

’n Ander ou kom stel hom aan my voor. Hy het swart hare en dra ’n swart hemp en swart broek. Hy lyk soos Blackie Swart sonder die hits. Ek kan nie nou aan ’n Blackie Swart hit dink nie, maar jy kry die punt. Hy lyk soos ’n handelskool-Blackie Swart. Dis nou as Blackie Swart nie ook dalk in ’n handelskool was nie … Sy naam (of eerder verhoognaam) is egter nie te ver van Blackie s’n nie – William Blackrose. Ek sal van hier af vorentoe na William Blackrose verwys deur sy volle verhoognaam te gebruik. Ek kan nie net sê “William” of net “Blackrose” nie. “William Blackrose” is net te epies.

William Blackrose gaan wys my eers so ’n bietjie rond. Hy neem my na die agterste kamers. Onthou jy toe ek gesê het “teen R2 000 sal ek in ’n bordeel optree”? Ja wel, die plek is eintlik ’n bordeel. Ek kan my oë nie glo nie. Hulle is so openlik oor die kamers en die pryse (R500 vir dertig minute of R700 as jy die Jacuzzi Room wil gebruik). Hoe het die polisie nog nie hier ingebars en die plek toegemaak nie? Sedert daardie gig hét die polisie al actually ’n paar keer die plek geraid.

William Blackrose roep my later nader en vra my om my naam en van te spel. Hy tik iets op sy iPad. Ek kyk oor sy skouer en lees: Catch William Blackrose and comedian Schalk Bezuidenhout today at Pomona Spur. Ek vra hom wat dit is. Hy sê dis ’n bulk SMS wat hy vir die Rock Paradise regulars stuur. Ek vra hom waar die “Pomona Spur”-gedeelte dan vandaan kom. “Dis die plek se skuilnaam,” sê hy. “Ons regulars se vrouens lees hulle mans se fone. So ons noem die plek Pomona Spur sodat hulle vrouens nie weet hulle kom na die strip club toe nie. Daar is nie eers ’n Spur in Pomona nie.” Ek dink by myself dat jou vrou baie stupid moet wees om dit te glo, want waar in jou lewe het jy al ’n musikant en ’n comedian in ’n Spur sien optree?! Imagine dit … “Hey guys! So the salad valley doesn’t exist anymore. What’s up with that?”

Die horlosie se armpies tik voort en naderhand is dit tyd vir die gig. William Blackrose seën die verhoog met sy teenwoordigheid. Hy sing covers soos “Going Back West” en daai Bloubul-liedjie van Steve Hofmeyr. ’n Handjievol mans wie se vrouens dink hulle sit in die Spur tik hulle vingers op die maat van die musiek. Die een man is verbasend aantreklik en dra ’n netjiese pak – Pomona George Clooney. Op sy skoot is ’n jong blondine in onderklere wat weens swak lewenskeuses nou vir haar ma moet jok elke keer wat sy werk toe gaan. Ek het eenmaal ’n documentary gekyk oor ’n bordeel in Nevada. Sommige strippers doen wat hulle “the girlfriend treatment” noem. Dit beteken dat hulle nie met die man slaap nie, maar hom behandel asof hulle ’n couple is. Hulle hou handjies vas, vryf sy hare en sê vir hom hoe oulik en aantreklik hy is. Ou George was beslis besig om die girlfriend treatment te ontvang. Hy staar diep in haar oë terwyl die musikale klanke van William Blackrose hom wegvoer na ’n ander dimensie waar daai trouring-tan op sy vinger nie meer daar is nie.

Ná so vyf songs stel William Blackrose die eerste stripper van die dag bekend. Sy is iets in haar veertigs met genoeg plastiek in haar ingespuit om haar stelselmatig in Barbie se ma te verander. Sy bring saam met haar na die verhoog ’n stoel en ’n groot pot Vaseline. Haar moves vloei moeiteloos in mekaar asof sy hierdie roetine al ’n duisend maal gedoen het (wat sy tien teen een het). Eers waai die bra. Dan die panty. Dan die Vaseline-pot se deksel. Sy smeer haarself in soos ’n tannie wat nou die hele dag op die strand gaan lê. My pa sit agter en eet sy aartappelslaai. Sy neem haar posisie in op die stoel. Oop ketel. Ek sal jou die details spaar, maar dit het twee vingers en nog Vaseline behels. Sy voltooi (in elke sin van die woord) haar roetine, draai die Vaseline-pot se deksel toe, tel haar bra en panty op en neem haar buiging. Onentoesiastiese applous vanaf die gehoor.

William Blackrose kom weer op en bedank haar vir haar kuns. Die volgende sin uit sy mond: “And now, please welcome to the stage … Schalk Bezuidenhout!”

Ek kan dit nie glo nie. Sommer net so, William Blackrose? Nie eers ’n Neil Diamond-treffer nie? Fokkol? Ek stap op en gly amper op wat ek hoop was room. Die res van die pad na die mikrofoon loop ek soos iemand wat met nuwe skoene op nat gras loop. Ek begin my set. Die punchlines val plat, een na die ander. Pomona George Clooney kyk nie eers vir my nie. Die paar mans wat wel sit en luister, het gesigsuitdrukkings wat vra: Waar’s die tiete? Die laughs is so min dat drie strippers naderhand heel voor kom sit en aansitterig lag en klap om my te laat beter voel. Ek dink net heeltyd: R2 000, R2 000, R2 000. Ek is nie seker of ek toe by twintig minute uitgekom het nie, maar fokkit ek het my heel beste gegee. Ek weet nie of die regulars dit geniet het nie. Ek weet nie of die strippers dit geniet het nie. Maar hier is wat ek wel weet: Van my eerste sin tot en met my laaste sin het my pa daar agter gesit en sy gat af gelag.

As komediant is daar gigs wat jy so baie geniet dat jy eintlik vergeet jy word betaal. Die geld is dan eintlik net ’n bonus. Ander kere sou jy vir seker jouself geskiet het as dit nie vir die geld was nie. Daardie dag by Rock Paradise het ek daai koevert met R2 000 met die grootste smile in my sak gesteek. Dit was moeilik en ek het soos ’n totale doos gevoel, maar bliksem ek het daai geldjie verdien.

Ek was sedertdien nog nie weer daar nie, maar ek hoop werklik dat die meisies wat daai dag daar gewerk het nie meer daar werk nie. Ek hoop dat die mans wat daai dag daar was nie meer soontoe gaan nie. Ek hoop dat die vrouens wie se mans wel nog soontoe gaan, sal besef dat hulle beter verdien. Ek hoop dat die outjie buite by die swembad nie meer tjoppies opskep nie en sy drome gevolg het. Ek hoop dat William Blackrose die nuwe Francois van Coke word. Ek hoop dat George Clooney nou al the girlfriend treatment ontvang van iemand wat regtig sy girlfriend is. En ek hoop dat ’n Spur een of ander tyd in Pomona sal oopmaak.

Truitjie roer my nie

Подняться наверх