Читать книгу Truitjie roer my nie - Schalk Bezuidenhout - Страница 4
Voor ons begin …
ОглавлениеHallo, Erns hier. Jy wonder dalk hoekom ek die inleiding skryf, of waarom my naam in ’n kleiner dog duidelik leesbare lettergrootte langs ’n “&” saam met Schalk s’n op die voorblad pryk. Of miskien wonder jy glad nie en wil jy net hê Schalk moet aangaan met sy storie.
Ek en Schalk ken mekaar nou al so ’n Radio Raps meer as drie jaar. As die vorige sin nie sin maak nie, is dit omdat ek so vroeg as moontlik ’n uiters lomp en ondoeltreffende stukkie woordspel wou pleeg in hierdie boek. Hiervandaan gaan dit net beter raak, ek belowe.
So ek en Schalk werk saam op verskeie projekte. Hoe ons comedy bromance begin het en hoe ons dit nogal moeiteloos in stand hou, volg later in die boek.
Ek het so begin verlede jaar een oggend in die bad – want ek is die tipe man in Kaapstad wat bad, ondanks ’n waterkrisis – die idee gekry om ’n Schalk-boek te skryf, met Schalk se hulp.
Aanvanklik was ek nie presies seker hoe dit sou werk nie. Op vyf-en-twintig was Schalk darem wraggies te jonk vir ’n biografie. Daar is genoeg rugby- en krieketspelers wat nou as SuperSport-aanbieders werk wat met hul lewensverhaal in boekvorm smous nog voor dit ordentlik begin het.
Maar ek en Schalk het in ’n betreklik kort tyd verskeie avonture in stand-up-komedie gehad. Aangesien ons in komedie werk, is die meeste van hulle (hopelik) snaaks. Wel, dit is vir ons snaaks. En in ’n droewe land wat deur konflik en fronse en uitputtende kommentaar op sosiale media gekenmerk word, mag ons darem seker vir onsself en vir mekaar lag. Dit is tog een van die minder skadelike maniere om ’n lewe om te kry.
So toe begin ek rowwe notas aanmekaartimmer op vliegtuie en agter in Ubers. Ek wou ’n struktuur vind om ons staaltjies (Schalk verpes hierdie woord, so ek is nou net aspris) op te teken. Ek het vir Schalk gevra om solank vir my voice notes op WhatsApp – want dit is hoe millennials meestal kommunikeer – aan te stuur, wat ek dan moeisaam sou transkribeer en probeer omskep in puik (nóg ’n woord wat vir Schalk die horriepiep gee) prosa.
Toe ek weer sien, het Schalk ’n Google Drive-lêer oopgemaak en self begin om stukke in Word te skryf, vir my om te redigeer. Ek het eers my bedenkinge gehad, tot hy dit een dag op die langpad in sy ouers se Honda FR-V begin voorlees het.
Ek het dadelik ’n gevoel van skok én verligting ervaar: Schalk het my nie regtig nodig om hierdie boek te skryf nie.
Tydens ’n gesprek vroeër met Ryan Harduth, oor wie julle later meer sal lees, het ons gesels oor Trevor Noah en sy vele talente. Ryan het vertel Trevor is amper “irritatingly good” met enigiets wat hy aanpak, of dit nou stand-up, boekskryf, The Daily Show of sommer net ’n PlayStation game is. So is dit ook met Schalk.
Maar ek kla nie, dit het my werk makliker én minder gemaak.
Hierdie boek is dus Schalk wat ’n Schalk-boek skryf, met Erns se hulp. Waar jy ook al ’n stukkie in italics lees, is dit ek wat kommentaar lewer. Op ander plekke word daar boaan duidelik aangedui as ek aan die woord is.
Een van my minder eensame pogings tot woordspel was die boek se titel: Truitjie roer my nie. Ek wou nog vir Anton Goosen vertel dat ons sy bekende liedjie as inspirasie gebruik het, maar ek het nie daarby uitgekom nie. Want deadlines. (Sien, ek hang deesdae so baie met ’n millennial uit dat ek selfs soos een praat én skryf!)
Maar genoeg van my, vir eers. Schalk het baie om te deel oor sy grootwordjare, sy stand-up-loopbaan van die afgelope sewe jaar, en vele ervarings en gewaarwordinge oor homself en ander mense en hul dinge.
Sit terug. Lees. Lag. Maar maak vas jou veiligheidsgordel. Hierdie vlug mag by tye turbulensie ervaar. Want ’n puik (jammer, Schalk) stand-up-komediant is, in die woorde van John Lahr: “… an enemy of boundaries, a disturber of the peace, a bringer of insight and joy, a comic distillation of his own rampaging spirit”.