Читать книгу Reënboog deur my trane - Solly Ozrovech - Страница 10

7 Laat hulle gaan

Оглавление

Lasarus moes op bevel van Christus losgemaak word van die grafdoeke sodat hy vry kon wees om terug te gaan na die lewe en na hulle wat hom liefhet. Diegene wat ’n geliefde aan die dood afgestaan het, moet hom of haar laat gaan na ’n nuwe en verheerlikte lewe saam met Christus. Dit is een van die moeilikste eise in ons ganse bestaan, want die verlede staan ons nog so helder voor die gees en ons kan ons die ewigheid beswaarlik voorstel. Vir hierdie mense het Jesaja ’n boodskap vanuit die hart van God: “Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen, dit staan op die punt om te gebeur, julle kan dit al sien kom; Ek maak in die woestyn ’n pad, Ek laat in die droë wêreld riviere ontspring” (Jes 43:18-19).

God verwag dat ons die verlede, en daarmee saam ons ontslape dierbares, aan Hom moet oorgee. En dan moet ons met moed en geloof vorentoe beweeg. Selfs die goeie kan, as ons krampagtig daaraan vasklem en telkens probeer om die verlede te herleef, ons geestelike groei verhinder. Ons kan God se wil vir ons lewe deur so ’n ingesteldheid verydel. In die onderwerping aan sy wil, lê ons vrede.

As ons ons dierbares aan God opdra en afgee, kan Hy sy volmaakte wil vir ons toekoms laat ontvou. Dit beteken nie dat ons ons liefde vir hulle moet verloën nie, maar slegs dat ons vorentoe moet kyk in plaas van agtertoe. Dan eers kan God ons begelei na die feesmaal in die Vaderhuis waar daar ’n heerlike weerontmoeting en ewige geluksaligheid op ons wag.

Die familie om die sterfbed van ’n ou Skotse leraar het gefluister: “Hy nader nou die land van die dooies.” Met ’n gebroke stem het hy gesê: “Nee, ek is nóú in die land van die dooies. Ek nader, dank God, die land van die lewendes.” Ons siening oor die lewe en die dood is soms so skeefgetrek dat ons vashou aan dit wat ons moet laat vaar, en waarhede vergeet wat ons moet onthou.

Opgestane Here en Meester,

help my om die hede

na die beste van my vermoë te hanteer

en om vooruit te sien na dit wat U

vir my in die vooruitsig stel.

Ek bid dit met danksegging.

Maak hom los

dat hy kan huis toe gaan.

(Joh 11:44)

DIE WOORD WAT GOD OP DIE VOORKOP VAN DIE MENS GEGRAVEER HET, IS HOOP

– Victor Hugo.

Reënboog deur my trane

Подняться наверх