Читать книгу Reënboog deur my trane - Solly Ozrovech - Страница 4

1 God se vertroosting

Оглавление

Die dood van ’n dierbare kom altyd as ’n skok – of dit skielik en onverwags is en of dit lank reeds verwag is. Met die verlies van ’n dierbare is dit asof ’n mens uit voeling raak met die werklikheid. Die droefheid oor en die finaliteit van jou verlies oorweldig jou met ’n byna onhanteerbare eensaamheid. Daarby besef jy dat die toekoms skielik moeilike beslissings én veranderinge inhou.

Al is jou verlies op hierdie oomblik pynlik en byna ondraaglik, moet jy altyd aan God se belofte van bystand en troos vashou:

“Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel” (Jes 66:13). God antwoord op sy kinders se verwarde “Waarom?” met hierdie gerusstellende versekering: “Ek is by jou; Ek versterk jou.”

Victor Hugo het gesê: “Droefheid is ’n vrug. God laat dit slegs groei aan lote wat Hy sterk genoeg ag om dit te dra.” Wanneer jy dus worstel met die pyn ná die dood van ’n geliefde, kan jy ryke vertroosting put uit die Skrif en die ervarings van ander wat dieselfde smartlike pad geloop het.

’n Wyse man het aan ’n bedroefde vriend gesê: “Ek het nie gekom om jou te vertroos nie – alleen God kan dit doen. Ek het net vir jou kom sê hoe diep en innig ek met jou meevoel in jou verlies.” Mense wat opreg omgee, kan nie uit hulleself dié vertroosting bring wat verskeurde harte sal genees nie, maar God kan hulle gebruik om kanale vir sý vertroosting te wees.

Vertrou net stilweg van dag tot dag op God. Hy sal sy vertroosting skenk soos ’n lentereën in die barre woestyn. As jy op Hom vertrou het toe jou lewensboom oortrek was met lentebloeisels, kan jy Hom ook nou in die koue van jou wintersmart vertrou. Buite God om is daar geen hoop op blywende troos nie.

Ek pleit om u vertroosting, Here,

soos wat U alleen dit kan gee.

Skenk genesing vir my verskeurde gemoed

en laat my deur my trane die reënboog van

hoop sien. Om Christus ontwil.

Moenie bang wees nie,

Ek is by jou,

moenie bekommerd wees nie,

Ek is jou God.

Ek versterk jou,

Ek help jou,

Ek hou jou vas,

met my eie hand red Ek jou.

(Jes 41:10)

ONS VERSTAAN DIE DOOD EERS WANNEER HY SY HAND LÊ OP IEMAND WAT ONS LIEFHET

– Anne L de Stael.

Reënboog deur my trane

Подняться наверх