Читать книгу Reënboog deur my trane - Solly Ozrovech - Страница 6

3 Beloftes wat troosryk vervul word

Оглавление

Ons het die vaste belofte dat God ons nooit sal begewe of verlaat nie. Maar God belowe nie net nie – in sy almag en genade doen Hy sy woord gestand. Hy is dié God wat die beloftes waar maak, selfs wanneer dit onmoontlik lyk – selfs wanneer omstandighede die teendeel wil bewys. Terwyl Jakob vlug, ontvang hy in die nag by Bet-E1 dié belofte: “Ek is by jou en Ek sal jou beskerm waar jy ook al gaan” (Gen 28:15). Hoe wonderlik het God nie hierdie belofte waar gemaak nie!

Josua, die jong leier wat die Israeliete die land Kanaän moet binnelei, ontvang dié bemoedigende belofte van God: “Soos Ek by Moses was, so sal Ek by jou wees. Ek sal jou nie in die steek laat nie, jou nie verlaat nie” (Jos 1:5). En Josua hét dag na dag God se wonderlike teenwoordigheid ervaar.

Voordat Dawid sterf, versterk hy sy seun Salomo met hierdie woorde: “God die Here, my God, is by jou. Hy sal jou nie aan jouself oorlaat of jou verlaat nie” (1 Kron 28:20). God het dit onwrikbaar gedoen.

In die Hebreërbrief kry ons die versekering dat hierdie belofte uitgebrei word om almal in te sluit wat in Jesus Christus glo en op Hom vertrou. Wanneer ’n mens iemand aan die dood afgee, ontstaan daar ’n leemte wat nie gevul kan word nie. Dan het jy God se beloftes so nodig en kry hulle vir jou nuwe betekenis. Te midde van jou eensaamheid verseker Hy jou dat jy nooit werklik alleen is nie, want Hy is dáár, mét jou!

God is regverdig en heilig, daarom sal Hy jou nie bedrieg nie. God is genadig en goed, daarom sal Hy jou nie vergeet nie. God is ewig en waar, daarom sal Hy nie verander nie. God is almagtig, daarom is niks vir Hom onmoontlik nie. Wat God belowe, kán en sal Hy doen! Loof die Here, o my siel!

Heilige God,

U wat in Jesus Christus ook my Vader is,

dankie dat ek op u beloftes kan bou

deur ’n vaste geloof

en deur die verdienste van my Heiland,

Jesus Christus.

Daarom kan ons met vertroue sê:

“Die Here is my helper,

ek ken geen vrees nie:

wat kan ’n mens aan my doen?”

(Heb 13:6)

WANNEER GOD ONS OP KLIPPERIGE PAAIE STUUR, VOORSIEN HY STEWIGE SKOENE

– Corrie ten Boom.

Reënboog deur my trane

Подняться наверх