Читать книгу Reënboog deur my trane - Solly Ozrovech - Страница 9

6 Hoe sal ek ooit my droefheid hanteer?

Оглавление

Job het jare lank die liefde van sy kinders geniet en aan hulle sy liefde in oorvloed gegee. Ten spyte van sy verwarring en smart in die donker uur toe God hulle van hom weggeneem het, was daar by hom geen opstand nie.

Om te rebelleer teen ons “ongelukkige noodlot” (soos ons dit soms verkeerdelik noem) is in werklikheid om teen God in opstand te kom. Die dood is deel van God se lewensplan vir ons en daarom is gelowige aanvaarding daarvan ’n teken van geestelike volwassenheid. Oor aanvaarding het C S Lewis gesê: “’n Mens kan aanvaar wat God gedoen het sonder om te weet hoe dit werk; inderdaad, jy sal sekerlik nie weet hoe dit werk voordat jy dit aanvaar het nie.”

Om van God af weg te draai is om ons droefheid alleen en sonder hulp te moet dra. Dit lei tot wanhoop. Dit skep ’n verwydering tussen ons en God, want God kan ’n opstandige hart nie help of vertroos nie. Om ons droefheid te probeer ontvlug deur ons in ons werk te begrawe, los ook nie die probleem op nie. Dis soos wanneer ’n mens ’n verdowingsmiddel neem om jou pyn te stil. Op sy beste bring dit slegs tydelike verligting, maar dit genees nie die oorsaak van die probleem nie. Hoe meer ons onsself mislei, hoe ondraagliker word die waarheid.

God plaas nooit sy kinders in ’n vuuroond sonder dat Hy self daar by hulle is nie. As ons nie iets leer en geestelik groei in tye van beproewing nie, is ook ons lyding enkel verlies. Die ervaring van duisende van God se gelowige kinders bewys dat tye van lyding juis die optimale groeityd in ’n mens se lewe kan wees – mits jy dit in die regte gesindheid deurworstel. Die enigste manier waarop Christene hulle droefheid kan erken en verwerk, is om die voorbeeld van ons Meester na te volg: om kalm en moedig die lewe te aanvaar en met ’n vreeslose hart en ongeknakte rug onder die kruis in te buig. Die bevryding lê in die seker wete dat die sin van die lewe nie duskant nie, maar anderkant Golgota en die graf gevind word.

Verlosser en Heiland,

al het ek nie al die antwoorde nie,

het ek U in my lewe.

Ek hou aan U vas met die gelowige wete

dat u liefde my nooit

aan wanhoop sal uitlewer nie.

As ons die goeie van God aanvaar,

moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?

(Job 2:10)

DIE VREEMDSTE WAARHEID VAN DIE EVANGELIE IS DAT VERLOSSING UIT LYDING GEBORE WORD

– Milo L Chapman.

Reënboog deur my trane

Подняться наверх