Читать книгу Reënboog deur my trane - Solly Ozrovech - Страница 5

2 Lig in die duisternis

Оглавление

Die wêreld kan skielik stikdonker lyk wanneer ’n dierbare sterf. Dan verloor ’n mens maklik uitsig op die lewe. Jy reageer soos ’n blinde wat onseker voortstrompel. Dit word vir jou so moeilik om die duisternis te hanteer dat jy selfs nie die hulpmiddels wat God tot jou beskikking stel, doeltreffend kan gebruik nie. Dit voel asof alles in jou lewe bydra om die nag nog swarter te maak.

Daar is mense wat dié blindheid triomfantlik oorwin – nie op grond van hulle verskerpte sintuie, brailleskrif of ’n wit kierie nie, maar deur Christus wat hulle in staat stel om uit die duisternis die lig te betree. Jesus is die ware lig wat elke mens verlig (vgl Joh 1:9). Wanneer jou pad vorentoe onseker is en jy moeilike beslissings moet maak, lei Christus jou tree vir tree uit die duisternis van droefheid en verwarring tot in sy wonderbare lig.

“In die donker is daar geen keuses nie – dit is die lig wat ons in staat stel om verskille waar te neem. Christus is die gewer van dié lig” (C T Whitmell). God gee jou in Christus die ewige lig wat sy onveranderlike liefde en genade weerkaats. Die ligstrale van God se liefde omvou jou; Hy beskerm jou teen gevare waarvan jy onbewus is. In tye van droefheid en smart hou Hy liefdevol oor jou die wag.

Laat ons daarom in tye van nood nie dieper die donkerte in vlug nie, maar eerder soos die blom wat in die skaduwee groei, ons gesig na dié Lig toe draai. In Christus lê oorwinning en stralende blydskap en deur Hom groei ons seënryk in die volle sonskyn van God se onmeetlike liefde.

Liefdevolle Christus,

help my om moedig en verstandig

die lig te betree waarmee

U my lewensweg bestraal.

Ek plaas my hand vertrouend

in u hand –

lei my in u lig.

In Hom was daar lewe,

en dié lewe was die lig vir die mense.

Die lig skyn in die duisternis,

die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

(Joh 1:4-5)

TROOS IN BEPROEWING KAN ALLEEN VERSEKER WORD DEUR ’N VASTE GELOOF WAT GEGROND IS OP DIE SKRIF EN DIE LEERSTELLINGS VAN CHRISTUS

– Thomas Moore.

Reënboog deur my trane

Подняться наверх