Читать книгу Reënboog deur my trane - Solly Ozrovech - Страница 7

4 Wie vertrou ek met my droefheid?

Оглавление

Vir mense wat hulle vertroue volkome in God stel, is alles moontlik. Hoe meer ’n mens op God vertrou, hoe betroubaarder vind jy Hom. God is vol deernis en medelye met jou en Hy faal jou nooit – selfs nie in jou diepste droefheid en rouste smart nie. Hy verwag alleen dat jy onvoorwaardelik en volkome op Hom moet vertrou. Hoe groter die las wat ’n mens dra, hoe groter is jou behoefte aan iemand op wie jy onwrikbaar kan vertrou. Alleen die Almagtige kan aan hierdie hoë eis beantwoord. Sy wil vir jou is enkel goed en Hy alleen is in staat om kwaad in goed te omskep, droefheid in blydskap, en trane in lag.

Die feit dat ’n mens nie weet hoe Hy dit gaan doen nie, beteken nie dat jy Hom nie kan vertrou nie. God maak nooit ’n fout nie en elke gebeurtenis op jou lewenspad voltooi ’n stukkie van sy groot legkaart vir jou lewe.

’n Mens vertrou gewoonlik jou geneesheer onvoorwaardelik, al verstaan jy nie alles van die snykunde wat hy op jou gaan toepas nie. Waarom sal jy nie die alwetende en liefdevolle God met jou lewe vertrou nie? Een aspek wat droefheid en verlies opnuut beklemtoon, is ’n mens se onvermoë om te verstaan wat met jou gebeur het en wat die toekoms vir jou inhou. Dit is juis in hierdie tyd dat ’n onwrikbare vertroue op God gemoedsrus en vrede bring. God sal sy plan uitvoer en jy sal uiteindelik in verwondering moet uitroep: “Hy het alles goed gedoen!”

Hoe groter en vaster jou vertroue op God is, hoe oorvloediger sal jy ontvang wat jy van Hom vra. Thomas Merton het ’n belangrike geestelike waarheid beklemtoon: “Geloofsvertroue is die énigste sleutel tot begrip vir God se dade. Die werklike betekenis van ons menslike bestaan, die antwoorde op al die vrae wat ons gemoedsrus en geluk bepaal, kan op géén ander manier ontdek word nie.” As ons volkome op God vertrou, omskep Hy ons droefheid in vrolike gesange van bevryding.

Here en Meester,

ek lê myself en my droefheid

en verwarring aan u voete neer,

met die stille geloofsvertroue

dat u wil met my geskied.

Laat jou lewe aan die Here oor

en vertrou op Hom;

Hy sal sorg.

(Ps 37:5)

DAAR IS GEEN WARE VRYHEID NIE BEHALWE DIE VRYHEID VAN HÚLLE WAT AAN GOD VASKLEM

– Augustinus van Hippo.

Reënboog deur my trane

Подняться наверх