Читать книгу Reënboog deur my trane - Solly Ozrovech - Страница 8

5 Hemelse vertroosting

Оглавление

Indien ons slegs ’n vae beeld kon hê van die hemelse heerlikheid, sou ons nie treur oor ons ontslape dierbares nie, maar liefs oor ons wat agterbly. So onbeskryflik is God se volmaakte voorsiening vir hulle wat in Hom glo dat daar in sy teenwoordigheid net blydskap en vervulling is.

Openbaring bied telkens flitse van hierdie hemelse heerlikheid: Dié wat daar woon, is verhef bo aardse pyn en beproewing en word liefdevol vertroos deur Hom wat op die troon sit. Hulle honger word gestil in groen weivelde en hulle dors word geles by die fonteine van lewende water. God self vee die laaste trane van hulle oë af weg (vgl Op 7:16-17). As ons hulle vreugde net maar gedeeltelik kon begryp, sou dit ons verskeurde harte uitermate vertroos. Dis goed om te weet die aarde het geen droefheid wat God in die hemel nie kan genees nie.

Jesus het met sy vertrek na die Vaderhuis belowe om ’n ander Trooster te stuur wat vir ewig by ons sal bly: die Heilige Gees. Sy God-opgelegde taak is om ons hier op aarde in die waarheid te lei en ons te vertroos, soos wat Jesus dit vir ons in die hemel sal doen.

Die wete dat ons ontslape dierbares die besitters is van al die glorieryke gawes wat ons met die woord “hemel” omsluit, dring ons om ons te verheug in God se ryke genade. Dit gee ons moed om ons ontwrigte lewens in die geloof te hervat. Wie hierdie troos nie het nie, is aan wanhoop blootgestel. Met God se vertroosting in ons harte kan ons te midde van die grootste droefheid staande bly. “Om aan God in die hemel te glo is nie om van die lewe af weg te vlug nie, maar om die lewe tegemoet te gaan” (J Blinco).

Hemelse Vader,

vertroos in genade

deur u Heilige Gees almal wat treur

en sterk hulle om die uitdagings

van ’n nuwe lewensfase te aanvaar.

Doen dit deur die krag wat daar is

in ons opgestane Heiland,

Jesus Christus.

Wat die oog nie gesien

en die oor nie gehoor het nie,

en wat in die hart van ’n mens

nie opgekom het nie,

dit het God gereed gemaak

vir dié wat Hom liefhet.

(1 Kor 2:9)

DAAR IS GEEN KROONDRAERS IN DIE HEMEL WAT NIE KRUISDRAERS OP AARDE WAS NIE

– Charles H Spurgeon.

Reënboog deur my trane

Подняться наверх