Читать книгу Die Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore - Страница 10

7

Оглавление

_____________

Kobie se plan

En dit was die rede waarom Elsabe tien minute later “die steen op die graf van haar populariteit gelê het”, om dit in Hannie se woorde weer te gee.

“Ons moet regtig iets doen omtrent die Van den Heeverkind,” het Kobie aan tafel vir haar intiemste maats gesê. “Soos sy nou is, sal sy die klas belaglik maak. Kom ons probeer haar op ’n vriendelike manier ’n bietjie verander.”

Die ander het dadelik ingestem, want al is Marie kaptein van die klas, is Kobie tog die leier.

Hulle wag toe in die gang tot Elsabe uit die eetsaal kom en Kobie praat met haar.

“Ons gaan almal onder na die tuin toe. Kom jy saam?”

Elsabe kan sien dat Kobie haar bejammer en dit maak haar woedend en nog ongelukkiger.

“Nee, ek bedank. Ek wil liewer nie,” sê sy styf.

Hannie en Tokkie draai hul rûe ongeduldig na haar.

“Komaan, Kobie!” sê Tokkie kortaf.

Maar Kobie het nog nie opgegee nie.

“Luister!” sê sy. “Moenie so verspot wees nie. Jy kan dit hier baie geniet as jy maar net verstandig wil wees, maar jy kan nie verwag dat die skool jou verwaandheid sal toelaat nie. Praat tog soos ’n ordinêre mens en nie soos die Kinderbybel nie. Waarom wil jy maak of jy beter as ons is?”

Iemand wat Kobie se manier nie gewoond is nie, kon skaars verstaan het hoe goed sy dit bedoel.

Binne-in haar hart het Elsabe verstaan, nes Kobie ook in haar hart verstaan het dat dit nie verwaandheid is waaraan die nuwe meisie ly nie. Maar, ongelukkig, deur die gebrek aan woorde wat meestal by meisies van veertien die gewoonte is, kyk die twee mekaar met vyandige blikke aan.

“Ek moet nog leer,” sê Elsabe, “dat ek aan jou en jou vriendinne verantwoordelik is vir wat ek doen. Ek is in hierdie inrigting geplaas sodat ek die voorregte van die opvoeding mag geniet wat hierin verkrygbaar is. Maar met die ander leerders wil ek so min as moontlik te doen hê.”

Die klein regop figuurtjie in haar ouderwetse klere klim sonder om weer om te kyk die trap op.

Tokkie en Hannie stik van die lag.

“O, aarde!” sê Hannie. “Sy behoort in ’n sirkus vertoon te word vir ’n sent as toegangsgeld! Dis te pragtig om haar te sien en te hoor! Dit lyk my sy dink sy’s strate beter as ons.”

“Ek glo nie sy’s heeltemal reg nie,” sê Tokkie. “Ek het al van mense gehoor wat in die malhuis is oor hulle dink hulle’s die koning van Engeland, of so iets.”

“Nou ja, ons kan dit nie help nie!” sê Kobie. “Ons het dit goed met haar bedoel. Ek wonder of die uilspieël weet sy mag nie nou bo in die kamer wees nie.”

“Ag, laat haar staan!” sê Tokkie ongeduldig. “As sy daar gevang word en in ’n vader-en-moeder van ’n lawaai kom, sal dit miskien ’n bietjie van die parmantigheid uit haar neem.”

“Wat maak julle hier in die gang?” vra ’n stem agter hulle. Dis Vera wat na die aandete met Ruth ’n inspeksie van al die gange moet doen.

“Julle weet goed dit word nie toegelaat om hier rond te staan nie.”

“Asseblief, verskoon ons tog, ons is net op pad, o hoofmeisie,” mompel Kobie.

“Moenie so verspot wees nie, Kobie!” sê Ruth vererg. Kobie kyk haar suster verwytend aan.

“En as ek met Heloise so praat, sê julle almal ek’s wreed teenoor my klein sussie en jy is tog net … of amper …”

“Sal jy jou mond hou!”

“… soveel ouer as ek as wat ek ouer as Heloise is. Ek meen, wat ek regtig wou sê …”

“Asseblief, my liewe klein kind,” val Vera haar in die rede op dieselfde manier as wat ’n volwassene met ’n babatjie praat. “Probeer tog om te onthou dat jy nie meer in die babatjieklas is nie! Noudat jy, hoe ook al, sover gekom het om in graad nege te wees, hoef jy nie meer snaaksie te speel nie. Dis so vervelig! Onthou nou vir altyd: Dit word nie toegelaat om in die gange rond te staan nie!”

Kobie rek haar oë wyd oop.

“Miskien wil jy my dan vertel,” sê sy in ’n goeie nabootsing van juffrou Muller se stem, “wat jy hier in die gang maak en waarom jy so rondstaan!”

Almal, tot Hannie en Tokkie, is verstom oor Kobie se parmantigheid.

“Regtig,” sê Vera bits, “as jy wil aanhou om jou soos ’n ongepoetste kind te gedra, is my enigste plan om van jou g’n notisie te neem nie. Ons het almal verwag dat jy hierdie kwartaal verstandiger sou wees, maar dis te veel om te hoop en ek gaan nie my tyd op jou verkwis nie. Maak soos jy wil, maar elke keer wat ek jou iets teen die reëls sien doen, gee ek jou ’n strafkruisie, sonder om jou te waarsku. Loop nou, julle drie.”

Hulle loop ’n bietjie neerslagtig die gang af.

“Jy gaan te ver!” kla Tokkie. “Hoe kon jy so dwaas wees om Vera so te vererg? Jy durf mos nie met ’n prefek so parmantig wees nie. Nou sal sy ons almal in die oog hou.”

“Ek weet!” sê Kobie. “Ek is ’n esel! Ek het nie gemeen om haar so te terg nie. Dit het sommerso gebeur. Lekker vir my as sy my kruisies gee waarvan ek nie eens weet nie! Dis soos ’n swaard oor my kop.”

“Ag, sy sal tog nie!” sê Hannie, wat ’n bietjie te lui is om dinge ernstig op te neem tot hulle regtig gebeur het. “Sy sal nooit so iets doen nie. Dit sal haar verskriklik onpopulêr maak.”

“Daaroor sal sy haar nie bekommer nie,” sê Kobie, wat regtig ’n groot respek vir Vera het. “Barbara het nooit omgegee of ons van haar hou of nie en Vera sal ook nie.”

Hulle maak die deur van die graadnege-klaskamer oop en ’n gebabbel soos die geraas van die see kom hulle tegemoet. Dit word nog erger toe die ander Kobie sien.

“Kobie! Kom hier!”

“Luister! Wat dink jy?”

“Ons het net gehoor …”

Kobie spring van ’n stoel af bo-op die klavier. Dis ’n ou instrument waarop deur onversigtige jong hande jaar na jaar getrommel is.

“Wat makeer?” vra sy van haar troon af.

“Ons kry die nuwe juffrou as klasonderwyseres!” sê Marie opgewonde. “Sy’s bloedjonk … sommer ’n kind!”

“Sy lyk nie ’n dag ouer as Vera nie!” sê Terrie minagtend. “Ouer as twintig is sy sekerlik nie! Ek wonder wat op die wêreld makeer Wessie dat sy ons die jongste juffrou gee. Ek noem dit ’n belediging!”

“Ek noem dit ’n waagstuk!” lag Kobie.

“Ons sal die gek met haar skeer!” dreig Tokkie.

Kobie leun so ver vorentoe dat sy byna vooroor val.

“Kom ons skeer die gek met haar!” sê sy pleitend.

“Hoe?”

“Wessie sal haar natuurlik sê ons is ’n slim klas, omdat ons altyd hoë punte kry. Nou ja, laat ons hierdie kwartaal die slegste punte in die skool kry tot sy dink sy het ’n klas van idiote. Intussen leer ons hard en luister na mekaar se lesse in die speeltyd, sodat ons in die eksamens verskriklik goed doen – beter as ooit. Ons moet probeer om die hoogste totaal punte in die skool te kry. Dit sal te heerlik wees as ons die matriekklas kan wen!”

“Dit lyk vir my nie ’n vreeslike goeie idee nie,” sê Marie. “Al wat sal gebeur, is dat ons by Wessie in die moeilikheid sal kom. Sy weet wat ons kan doen en sy sal nooit lae punte verdra nie. Sy sal ons almal na graad agt terugsit, of vir ons ouers skryf, of so iets.”

“Natuurlik sal ons nie so mal wees om sulke lae punte te kry nie!” sê Terrie. “Ek dink Kobie se idee is piekfyn!”

“Jy dink altyd nes Kobie!” spot Grieta Bierman.

Terrie kyk haar minagtend aan.

“Dit sal die moeite werd wees om die nuwe juffrou se gesig te sien as ons aan die end van die kwartaal die hoogste punte in die skool kry, nadat ons die hele tyd vir haar soos bobbejane voorgekom het,” sê sy.

Die klas begin nou die grap insien.

Kobie is heeltemal geesdriftig oor haar idee.

“Ons moenie sulke lae punte kry dat Wessie iets kras kan doen en die hele saak bederwe nie,” sê sy. “Dit sal ’n pragtige grap wees! Elkeen moet probeer om nooit meer as vyftig of minder as veertig punte vir elke vak te kry nie. Hulle kan ons dan nie na graad agt terugsit nie, want veertig is die slaagpunt. Maar die nuwe juffrou sal dink ons is net aaklig swak! Ons moet maak of ons verskriklik gehoorsaam is en of ons so hard probeer om vooruit te kom dat sy dit nie oor haar hart kan kry om vir ons kwaad te word nie. Beloof almal? Steek hande op!”

Sonder uitsondering steek elkeen die regterhand op.

As enige van die nuwe meisies ’n oomblik getwyfel het, omdat sy haar ouers belowe het om haar bes te doen, was dit genoeg om net een maal na Kobie te kyk waar sy so trots op die klavier sit om al hulle twyfel te laat verdwyn. Dis nie dat hulle nie meen om te werk nie. Hulle sal in hul vrye tyd baie hard moet leer om in die eksamen aan die end van die kwartaal so goed te doen soos Kobie wil hê.

“Dis besluit!” sê Kobie bly. “Nie een stem daarteen nie! O, vaderland! Wat van daardie snaakse nuwe meisie? Sy lyk die soort wat ’n slim boekwurm kan wees. Sy moet tog iets hê om so oor te pronk!”

“Sy sal moet maak soos ons vir haar sê!” sê Tokkie beslis. “Ek glo nie sy’s slim nie! Waarom sou sy wees?”

“Nou ja, iemand moet vir haar die plan uitlê,” sê Kobie. “Dis jou werk, Marie.”

“Ek sal nie!”

“Jy moet. Wessie het vir jou gesê jy moet na haar kyk en die skoolreëls vir haar duidelik maak. Jy’s mos klaskaptein!”

“Dis so ’n snaakse ding vir ’n klaskaptein om te doen!” brom Marie.

“Nou is alles besluit!”

Kobie spring van haar onveilige sitplek af en gaan sit voor die klavier. Haar vingers rammel die nuutste jazz-deuntjie af wat sy in die vakansie by een van haar ouer susters geleer het.

Een ding in die wêreld waaroor Kobie regtig ernstig is, is haar musiek. Sy het wonderlike aanleg en is ’n groot plesier vir haar onderwyser, meneer Claudius de Villiers, ’n beroemde musikus. Hy kom eenmaal in die week na Maasdorp om vir die ses beste klavierleerlinge in die skool musiekles te gee. In Kaapstad was dit genoeg om sy naam op ’n program te laat verskyn om die saal vol liefhebbers van klassieke musiek te kry. Afgesien van Maasdorp gee hy nêrens anders les nie, want al gee hy graag onderwys is hy te besig met sy werk as konsertspeler. In Engeland en Duitsland het hy ook met sukses konserte gegee. Vir die vriende wat hom ’n bietjie uitlag oor die lesse by ’n meisieskool antwoord hy dat dit sy enigste ontspanning is. Hy het ’n baie hoë dunk van Kobie se talent, maar hy laat haar nie daarvan bewus word nie – net so min as wat sy haar vriende laat agterkom hoeveel gesteelde ure sy aan haar oefening bestee. Die meisies weet dat sy buitengewone talent moet hê, anders sou meneer De Villiers haar nie geneem het nie, maar hulle het haar nog nooit hoor speel nie, want hy laat sy leerlinge nie toe om aan skoolkonserte deel te neem nie.

In elk geval kan hulle nie glo dat die malkop-Kobie ’n genie is nie. Daar is min bewys daarvan in haar afdreun van die jazz-lied terwyl die klas mekaar die nuutste danspassies wys. Dis nie geoorloof nie, want dans word net Saterdagaande in die groot saal toegelaat. Niemand kan Kobie van vroomheid of erns beskuldig toe sy later met Terrie die gang af hardloop nie – weer ’n sonde teen die reëls.

Graad nege het met vreugde en angs begryp dat Kobie dié kwartaal ryp vir allerhande kattekwaad teruggekom het.

Die Meisies van Maasdorp

Подняться наверх