Читать книгу Die Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore - Страница 9

6

Оглавление

_____________

Die eerste maaltyd

Die meeste van die koffers is al uitgepak en die slaapafdelings lyk nou meer huislik, want die meisies het hulle eie prente en goed op die tafels gerangskik.

Niemand neem van Elsabe notisie nie. Dis die besluit van die klas om te maak of sy nie daar is nie. In haar afdeling voel sy meer tuis, want dit is tog haar eie gedeelte van die slaapkamer.

Sy maak haar lang, dik hare los en kyk ’n bietjie verleë na die ander meisies met hulle kortgeknipte hare. Elsabe is die enigste een wat tot nog toe aan was en kam voor die aandete gedink het.

Kobie het opgehou met uitpak en nou spring sy onvermoeid soos ’n bokkie rond. Sy staan ’n oomblik voor Tientjie se klerekas stil om die matrone na te maak.

“Nou ja, Katrina Duvenage,” sê sy met ’n diep stem, “dis ’n verandering vir die beste. Ek hoop net dit sal so voortgaan!”

Sy gaan na Hannie se afdeling toe.

“So ’n mooi netjiese laai! Maar ons sal dit uitpak, my kind. Ja, ons sal dit maar uitpak! Aha! Soos ek verwag het! ’n Klomp onderklere sonder knope, weggesteek onder die ander goed. Jy’s onderduims, Hannie Landsberg! Jy kry ’n strafkruisie. Skaam jou!”

“Dis nie waar nie!” sê Hannie vererg. “Dis vir jou wat sy dit gesê het, Kobie! Jy weet dit!”

“Beeldspraak!” sê Kobie op ’n opgewekte toon. “As ek ander mense kritiseer, hoef ek nie danig aan die waarheid vas te hou nie!”

“Nee! Dit weet ons lankal!” roep Tokkie. “As jy jou by die waarheid wil bepaal, moet jy die matrone se kritiek op jouself ook namaak.”

Tokkie spring uit die pad van Kobie se pantoffel.

“Watter prefek kry ons in die slaapkamer?” roep Grieta Bierman, maar niemand weet nie.

“Die afdeling is daar, en vanaand sal ons iemand daarin kry,” sê Tokkie. “Ek wonder wie dit sal wees!”

“Ek hoop sy sal so goedaardig soos Miemie wees,” sê Bettie Botes.

“Miemie was so ’n boekwurm, sy het skaars gesien wat onder haar neus aangaan,” vertel Hannie vir ’n nuwe meisie wat sy onder haar beskerming geneem het. “Sy was vreeslik slim – moes eintlik hoofmeisie gewees het, maar haar gedagtes was te veel in die wolke.”

“Barbara Fontein was ’n uitstekende hoofmeisie,” sê Kobie. “Sy was slimmer as die hele matriekklas saam en sy kon alles doen. Sy was net so goed in sport. Ek dink Vera sal net so wees.”

“Ek het gedink Ruth sou hoof wees,” sê Tientjie nukkerig. “Sy’s net so slim en so goed in sport soos Vera, en sy’s so mooi!”

“Hemel!” spot Kobie. “Wat het haar mooiheid daarmee te make? Dis onsin. Vera is natuurlik ’n duisend maal geskikter daarvoor. Ruth is te stil. Sy kan nie moeilikheid verdra nie en so iemand maak g’n goeie hoof uit nie. ’n Hoofmeisie behoort allerhande moeilikhede te veroorsaak en dan nog ’n paar te soek!”

“O, aarde. Daar lui die klok!” sê iemand. “Ons sal moet hardloop sonder om ons hande te was. Gelukkig hoef ons nie vanaand te verklee nie.”

Elsabe loop saam met die ander die breë trappe af. Meisies, groot en klein, hardloop van alle kante, want die eerste aand eet die hoër- en laerskool saam. Op ander aande is die vroeë maaltyd alleen vir die laerskool.

Die trap gaan in die voorsaal uit en aan die een kant is die groot deure van die eetsaal.

Die meisies staan vier-vier, elke klas agter sy kaptein. Die twaalf prefekte, almal uit die matriekklas, staan oorkant om orde te hou in die rustelose rye.

Vera is ’n bietjie bleek oor die gewigtigheid van haar posisie, maar haar stem is beslis.

“Stilte asseblief. Die nuwe meisies moet van nou af verstaan dat daar g’n gepraat op die trappe moet wees nie en ook nie hier in die gang nie.” Sy knik na die leiers. “Voorwaarts!” Die geleentheid maak ’n aangename indruk op Elsabe. Al word sy soos ’n mens van ’n ander planeet behandel, verheug dit haar om aan iets so groot soos die skool te behoort. Die orde en dissipline maak op haar ’n indruk.

Elke klas moet inmarsjeer en om sy eie tafel, met die klaskaptein aan die hoof, staan. Na ’n kort gebed deur Vera gee sy die wenk om te sit en meteens breek ’n lawaai los. Elsabe is aan die ent van ’n lang tafel met Marie aan die hoof en omtrent veertien meisies aan elke kant. Elsabe voel baie klein en verlore in die groot saal.

“Dis pragtig!” sê sy vir haarself. “En reusagtig. Dis nodig as mens dink dat daar minstens tweehonderd-en-vyftig jong dames aan die inrigting behoort.”

Met die lawaai van die jong stemme wat almal saam praat, kan sy skaars die gesprek van haar bure hoor.

Al die nuwe leerders is aan die ent van die tafel, waar Elsabe se plek ook is, maar hulle volg die voorbeeld van die ander en niemand praat met haar nie. Sy neem ’n sny brood uit ’n groot bord langs haar en probeer om dit te eet, maar die trane staan weer in haar oë. Eindelik dwing sy haar om na die gesprekke rondom haar te luister, sodat sy haar eie moeilikhede kan vergeet.

Kobie is aan die bo-ent van die tafel. Haar gesig is rooi en lewendig en die sonnige krulle maak ’n kroon om haar rustelose hoof.

“Dit lyk vir my net lekker!” sê een van die nuwe meisies vir ’n ander. “Dis ’n goeie ding dat ons môre g’n toets, soos by Goeie Hoop, hoef te skryf nie.”

“Was jy by Goeie Hoop?” vra haar buurvrou met belangstelling. “Dis mos in Kaapstad. Ek sou daarnatoe gegaan het as hier nie plek was nie, maar ek is baie bly dat my ouers my hiernatoe gestuur het. Dit lyk eersteklas! Ek het ’n niggie by die Middelburgse hoërskool. Dis nie ver hiervandaan nie, maar dis baie kleiner. Aaltjie sê hulle geniet dit daar ook.” G’n wonder dat hulle dadelik tuis voel nie, al is dit hulle eerste dag, dink Elsabe. Dit lyk of hulle altyd in so ’n atmosfeer geleef het. Sy het maar net op die plaas private lesse van ’n afgedankte onderwyser gehad.

“Ek kan skaars wag om met sport te begin,” sê ’n ander meisie. “By ons, tuis, speel ons baie tennis, maar ek glo darem nie ek sal so goed wees soos party van die meisies hier nie.”

“My niggie sê hierdie skool het die beste naam vir tennis in die provinsie,” sê die meisie wat eerste gepraat het. “Nou ja, dis die grootste skool, daarom het dit meer spelers om van te kies. My niggie sê daar is ’n meisie, Malan, wat regtig verskriklik goed is in tennis. Ek dink dit moet die een in ons klas wees, want Aaltjie het vir my gesê sy is maar nog ’n babatjie. Aaltjie is in matriek, daarom praat sy so.”

“Dis reg,” antwoord Bettie Botes van ’n klein afstand. “Dis Kobie wat jy bedoel. Sy’s die grootste plesier van ons lewe. Die laaste maal wat ons voor die vakansie teen Middelburg gespeel het, het hulle haar in die eerste span gesit en sy het teen Middelburg se beste speler – ’n matriekmeisie – gewen. Ons was tog te trots op haar!”

“Natuurlik!” sê Elsa Hofmeyr. “Daar’s niemand soos Kobie nie. Sy kan regtig alles doen, as sy maar net wil. Julle moet haar sien dans! Verlede kwartaal voor die Kersfeesvakansie was sy Koningin van die Feë in die konsert, en iemand wat haar sien dans het, en kennis daarvan het, het gesê Kobie se dans op die punte van haar tone is so goed dat sy toneelspeelster behoort te word.”

Oor die lengte van die tafel kyk Elsabe met eerbied na die wonderlike Kobie. Dit moet te heerlik wees, dink sy, om so mooi en populêr en slim te wees. Sy is glad nie jaloers nie, want dis vir die beskroomde, ouderwetse Elsabe of Kobie aan ’n heeltemal ander planeet behoort.

Skielik weet Kobie, op die manier wat almal seker al gevoel het, dat iemand na haar kyk. Sy draai haar kop en haar laggende bruin oë kyk vas in Elsabe s’n. Sy kyk gou weg en skud haar kop ongeduldig.

Ek kan dit nie verstaan nie, maar daardie kind laat my skuldig voel, dink sy ongewoon ernstig. Ek moet maar probeer om haar te help.

Aan die ander ent van die tafel is Elsabe baie vererg.

Sy sal seker dink ek wou haar om hulp bedel, of dat ek haar vriendskap wil soek, dink sy vies. Ek sien nou waarom sê tant Alida mens moet nooit ’n vreemdeling so stip aankyk nie. Ek weier nou eenmaal om hierdie onopgevoede, onbeskofte meisies te laat sien dat hulle my kan seermaak!

Die Meisies van Maasdorp

Подняться наверх