Читать книгу Die Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore - Страница 8

5

Оглавление

_____________

’n Nuwe vriendin

Juffrou Muller bly ’n oomblik stil.

“Kom hier!” sê sy eindelik.

Verblind deur haar trane gaan Elsabe in die rigting van die stoel by die venster. Sy is in so ’n histeriese toestand dat dit erger word hoe meer sy wil ophou huil.

“Wat makeer? Huil jy oor jou huis?”

“Nee!” snik Elsabe.

Sy is so ongelukkig dat sy nie eens oor die huis kan dink nie. “In watter klas is jy?”

“Graad nege.”

“O, ek begryp!”

Juffrou Muller het reg verstaan. Graad nege (tot die end van die vorige kwartaal het sy hulle as graad agt geken) kan haar nie meer verras nie. Sy is jammer vir Elsabe, maar sy gee g’n teken daarvan nie.

“As jy oud genoeg is om in graad nege te wees, behoort jy nie soos ’n babatjie te huil nie,” sê sy streng.

Elsabe probeer hard om haar trane te beheers, maar tevergeefs. Sy wil toestemming vra om te loop, maar tot haar eie konsternasie kan sy net sê: “O! As u blief! Ek wil huis toe gaan!”

“Nou ja, dit sal gebeur … aan die end van die kwartaal.”

“Nee, nou!” snik Elsabe. “Ek weet my tante sal verdrietig wees as ek in ’n plek moet bly waar alles so verskriklik is!”

“Onsin!” sê juffrou Muller. “Dis glad nie verskriklik nie! Natuurlik voel jy vreemd. Die ander voel ook so, al wys hulle dit nie – die ou leerders sowel as die nuwes.”

“Ek is seker hulle voel dit nie!” bars Elsabe deur haar trane los. “Hulle het heeltemal geen gevoel nie. Ek sal nooit hier kan lewe nie. Ek moet aan my tante skrywe om my uit hierdie narigheid te neem.”

Juffrou Muller se lippe bewe. In die skool word algemeen gesê dat sy nie kan lag nie. Daar is ook g’n teken van lag in haar stem nie toe sy antwoord.

“As jy reeds sulke uitdrukkings gebruik het, is dit g’n wonder dat jy hier ongelukkig is nie!” sê sy bitsig.

Elsabe is so verbaas oor haar eie vrymoedigheid dat sy haar nie verdedig nie. Sy wens sy kan sê dat sy sulke uitdrukkings gebruik omdat almal haar vandat sy aangekom het so sleg behandel het.

Juffrou Muller gaan streng voort.

“’n Kind word nie net skool toe gestuur om geskiedenis en aardrykskunde te leer nie. Dis byna nuttiger om te leer hoe om met ander saam te lewe en jou maniere by hulle s’n te laat inpas. As jy huis toe skryf dat jy hier ongelukkig is, sal jou mense jou miskien wegneem, maar dan sal jy altyd die gevoel hê dat jy nie kon volhard nie. As jy hier bly en alles wat gebeur, goed of sleg, deurleef, sal jy ná ’n kwartaal of twee bly wees en tevrede voel omdat jy jou nie soos ’n lafaard gedra het nie.”

Elsabe kyk met traangevulde oë op.

“Ek voel dat u reg is,” sê sy in ’n bewerige stemmetjie. “Ek sal probeer!”

Juffrou Muller glimlag effens. Dit is egter weer so gou weg dat Elsabe wonder of sy regtig die skielike opheldering van die streng gesig gesien het.

“Dit sal vir jou miskien nie maklik wees nie, maar so ’n strewe is altyd die moeite werd. Graad nege is nie ’n bende hongerige wolwe wat jou wil verskeur nie. Hulle is almal meisies met goeie karakters … een van die beste klasse in die skool.” (So iets van juffrou Muller sou graad nege laat skrik het!) “Hulle haal natuurlik allerhande dom streke uit, soos by meisies die gewoonte is, en een daarvan is dat hulle ’n bietjie wantrouig is teenoor elkeen wat effens anders as hulleself is. Later sal jy miskien nes hulle maak.”

“Ja, ek hoop so. U is seer vriendelik!”

“Is ek?”

Juffrou Muller is verras. Sy is dit nie gewoond dat haar leerders haar as vriendelik beskou nie.

“Niemand wil regtig anders as vriendelik wees nie,” sê sy.

“Na die aandete en ’n goeie nagrus sal jy sien dat die wêreld nie so ’n slegte plek is nie. Het jy al uitgepak?”

“Nee. Ek soek juis na die slaapsaal …”

“Kamer,” help juffrou Muller haar reg.

“Na die slaapkamer, sodat ek my sleutels vir die matrone kan gaan haal, daar sy verkies …”

“So! Een van die eerste dinge wat jy moet leer, is om jou gedagtes so kort moontlik uit te druk. Moenie so baie woorde gebruik nie. ’n Skool is ’n besige plek en niemand het tyd om na sulke taalblommetjies te luister nie. Dis moontlik om hoflik en tog kort te praat. Jy sal gou moet maak as jy voor die aandete wil uitpak. Nee, dis nou al te laat. Jy’t net tien minute.”

“Ek het g’n aptyt … ek wil nie eet nie!”

“Dis die reël hier om na al die maaltye te gaan, of jy wil eet of nie. Hardloop nou!”

Almal in hierdie plek wil hê ek moet hardloop, dink Elsabe bedroef.

“As u blief!” sê sy hardop en angstig. “Kan ek verlof kry om van hierdie maaltyd weg te bly?”

“Dit sou miskien moontlik wees as jy voel jy kan die ander meisies nie in die eetkamer ontmoet nie, maar dan sal jy dit tog môreoggend moet doen. As jy vanaand teenwoordig is, sal jy vir die res van jou verblyf in die skool presies weet waarheen jy moet gaan en wat om te doen. Dink jy nie dis verstandiger nie?”

“Ja,” sug Elsabe.

“Gaan nou na die badkamer toe – die badkamers is in die kort gangetjie net hier aan die end van die groot gang – en was jou gesig. Waar is jou sleutels?”

“In die slaapsaal … kamer … in my handtas. Moet ek hulle nie eers aan die matrone oorhandig nie?”

“Jy het nie tyd nie. Gaan baai liewer jou oë, sodat jy daar nie so sleg uitsien nie. Ek sal sorg dat die matrone die sleutels kry. Na die aandete mag jy opkom en uitpak. Jy sal jou eie slaapkamer maklik kan kry. Dis nommer een, die tweede deur van myne.”

“O, hartlik dank!”

“En as jy oor ’n paar minute die klok hoor lui, loop jy met die groot trap af en gaan tussen die meisies van jou klas staan. Ken jy hulle gesigte?”

“Ja, o … u is wonderlik goed!”

Elsabe maak die deur oop en kyk verleë terug.

“Ons sal mekaar môre in die wiskunde-uur ontmoet,” sê juffrou Muller met ’n klein bewys van ’n glimlag. “Ek hoop jy sal dan daar minder soos ’n gewonde soldaat uitsien.”

“Ek sal my bes doen,” sê Elsabe.

“Goeienaand, dan. Probeer om goed te eet.”

“Goeienaand, Juffrou. Hartlik dank!”

’n Paar minute lank staan juffrou Muller diep in gedagte, stil, voor sy eindelik na juffrou Reitz se kamer toe gaan. Hier heers nog wanorde.

“Ag, sit tog, asseblief!” sê juffrou Reitz verstrooid. “Ek is nog nie halfpad klaar nie! Ek wens nou ek het ook vroeg gekom soos jy, maar ek kon my nie van die huis af wegskeur nie. Ek sou om halfsewe moes vertrek het as ek met die eerste trein wou gekom het.”

“Ek moes taamlik vroeg vertrek, maar dis soveel plesieriger om my goed in orde te hê sonder om my te oorhaas.”

Juffrou Reitz sug. Onderwyseresse ken ook “heimwee”.

“Jy’s altyd so moedig!” sê sy.

Hierop gee juffrou Muller geen antwoord nie.

“Het jy koperdraad by my laat vra?”

“Ja. Het jy ’n stukkie?”

“Nee, dit spyt my. Ek het nie nuwe prente om te hang nie, daarom het ek nie draad gebring nie. Het jy miskien op die meisie gelet wat jy met jou boodskap gestuur het?”

“Ja. ’n Snaakse kind. Ek dink nie sy’s baie intelligent nie.”

“Daarvan is ek nie oortuig nie,” sê juffrou Muller. “Sy’s maar net verskrik en g’n wonder nie.”

“Sy kom my voor of mens haar van die begin af moet herskep, arme sieltjie!”

“Die graad neges sal sorg dat sy ’n nuwe geboorte deurmaak,” belowe juffrou Muller.

Die verdere gesprek tussen die twee onderwyseresse is oor roosters en die nuwe verdeling van klasse.

In die badkamer is Elsabe besig om haar oë deeglik af te spoel.

Sy voel beter noudat sy ’n gedeelte van haar ongelukkigheid uitgehuil het.

“Ek sal my sakdoek vir ’n handdoek moet gebruik,” sê sy vir haarself. “Hoe kan ek my hare kam en borsel? Ek kan nie voor al daardie meisies in die slaapkamer ingaan nie.” Sy staan ’n oomblik stil, dan sê sy hardop: “Dis onsin! Ek sal nie ’n lafaard wees nie. As ek twee en ’n half maande met die meisies moet saamlewe – hoe gouer ek daaraan gewoond word, hoe beter.”

Sonder om tyd te verkwis, loop sy gou in die gang af en stoot die deur van die slaapkamer oop.

Die Meisies van Maasdorp

Подняться наверх