Читать книгу Die Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore - Страница 3

Die meisies van Maasdorp

Оглавление

Kan ons ’n petisie opstel om die boeke weer in druk te kry? Só laat weet ’n boekwinkelbestuurder in ’n dringende e-pos. Dis Meimaand 2001, en ek, my joernalis-sus Hannelie en Jomarié Dick werk saam aan ’n storie wat ons na aan die hart lê: ’n artikel vir die tydskrif Insig se Julie-uitgawe oor die jeugboekskrywer Stella Blakemore en haar immergewilde kosskoolreekse Maasdorp en Keurboslaan (onder die skuilnaam Theunis Krogh).

In ’n kort advertensie op die webtuiste LitNet nooi ons lesers om hulle herinneringe aan onder andere die Kobie-boeke per e-pos aan te stuur. En die reaksie is verstommend. In brief ná brief kom die belydenisse: “Ek het die Maasdorpboeke verslind!”. “Dit het my so lief gemaak vir lees dat dit deesdae my ultimate drug is.” Talle is nie skaam om te erken dat die boeke verslawend was nie. Sommige erken selfs dat hulle vandag nog skelm ‘terugsluip’ na die Maasdorpwêreld. “Ek wou ook soos hulle presteer, iets bereik – van geweet wees.” “Maasdorp het gehelp om ’n paar geslagte Afrikaanse lesers lief te maak vir lees.” “Ons is ’n groep vriendinne wat beplan om al die Maasdorp en Keurboslaan boeke saam te neem ouetehuis toe!”

“Ek dink dat die balans tussen enersyds avontuurlike kattekwaad en andersyds pligsbesef, dissipline en hoë standaarde hetsy in spel of akademie of musiek, wat tog in die reekse uitgebeeld word, op my ’n onuitwisbare indruk gelaat het.” “Vandag weet ek dat daar lank nie meer sulke mense bestaan nie – maar ’n mens kan seker maar bly hoop.” “Ek sal my oogtande gee om die hele reeks iewers te kry en dit eendag vir my kleindogter te kan gee.”

Uit die navorsing vir die artikel blyk dit duidelik dat die blywende waarde van Blakemore se werk dikwels oorskadu word deur die nostalgie waarmee dit omsluier is, maar dat dit ’n reuse-impak gemaak het, is onbetwisbaar. Ondanks kritiek staan Stella Blakemore steeds bekend as een van dié jeugboekskrywers wat Afrikaanse kinders laat lees het met ontvlugtingsleesstof van die hoogste gehalte. Die verskyning van die Insig-artikel, wat die drie van ons aangepak het as ’n huldeblyk aan die grootliks onbekende vrou agter ons gunsteling jeugtydstories, het bygedra om die vlam van belangstelling in Stella se werk weer aan te blaas. Maar die boeke is haas onbekombaar en is besig om versamelaarsitems te word. Uit alle oorde kom die versugting: is daar nie dalk die moontlikheid dat die Maasdorp-reeks heruitgegee kan word nie?

Einde 2003 kom die goeie nuus: Human & Rousseau beplan om ’n Afrikaanse Retro Reeks uit te gee ná baie jare se talle versoeke. En dit bring ons dus weer by die vraag: wie WAS die enigmatiese vrou agter die Maasdorp-reeks wat vandag nog soveel emosie ontlok?

Stella Blakemore kan beskryf word as ’n wêreldburger by uitstek en haar lewe was interessant genoeg om self ’n boek of twee vol te maak. Blakemore is op 13 April 1906 in ’n “hensopper-tentjie” naby Koppies in die Vrystaat gebore. Haar ma was ’n musiekonderwyseres en Boeremeisie, haar pa, kaptein Percy Blakemore, ’n offisier in die Britse leër. Hy verlaat sy vrou en kind vroeg (Stella was slegs vier jaar oud) om ’n beroepskaartspeler in Engeland te word.

Stella was van jongs af op kosskool, maar tog het sy nie positiewe herinnerings daaraan nie, al laat sy die kosskoollewe in haar boeke idillies klink. In ’n brief aan haar uitgewer van later jare, Jan van Schaik, sê sy dat haar kinderjare “dreary” was: “Ek hou altyd daarvan om oor lekker kinderjare te skryf, waarskynlik omdat my eie so mistroostig was. My ma het alles op aarde vir my gedoen, behalwe om ’n tuiste vir my te gee. Sy het ’n ding gehad oor kosskole en ’n meer skrikwekkende bestaan vir ’n kind is daar nie.”

Ná haar skoolopleiding verwerf sy ’n klavier- en sanglisensiaat aan die London Royal Academy of Music, sy studeer opera in Italië en Duitsland, en bedryf in die jare rondom die Tweede Wêreldoorlog haar eie suksesvolle musiekskool, die Blakemore Studios, in Pretoria. Sy is reeds in 1933 in Londen getroud met die Wallieser David Owen, ’n siviele ingenieur, en saam reis hulle later die wêreld deur en trek agter sy werksprojekte aan. Hulle woon onder meer in Ghana, Ivoorkus, Italië, Engeland, Swaziland, Nigerië, Duitsland en Ierland.

Stella het in die jare twintig in Duitsland begin skryf en haar eerste werk was ’n toneelstukkie, Die Goue Sleutel. Die meisies van Maasdorp het in 1932 die eerste keer verskyn toe Blakemore 26 was. Nog 15 boeke in die Maasdorp-reeks het gevolg, wat in ’n latere uitgawe in 12 boeke vervat is. In 1940 het die eerste van twintig boeke in die Keurboslaan-reeks verskyn. Sy het haar oupa, Theunis Krogh, se naam as skuilnaam gebruik. In totaal het sy sowat vyftig jeugverhale geskryf. Sy het al haar boeke met drie vingers op haar ou Remington tikmasjien getik.

Alhoewel sy die grootste deel van haar lewe buite Suid-Afrika gewoon het, het sy in Afrikaans aanhou skryf en was sy tot met haar dood baie verknog aan haar Afrikaanse wortels. Baie van haar briewe sluit sy af met ’n belydenis dat sy “homesick beyond words” is. Stella Blakemore is in 1991 op 85 in Noord-Ierland oorlede. Sy het twee aangenome kinders gehad, Seline en Peter, en ses kleinkinders.

Susan Booyens

Februarie 2004

Die Meisies van Maasdorp

Подняться наверх