Читать книгу Die Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore - Страница 4
1
Оглавление_____________
In die trein
“Dag, Ma! Dag, Pappie!”
“Tot siens!”
“Moenie vergeet wat Mamma van die vry Sondag belowe het nie!”
“O! Ek het my sambreel in die sitkamer laat lê! Stuur dit tog, asseblief!”
“Dag! Tot siens! Dag! Dag!”
Die trein trek by die stasie uit en Elsabe kyk na die ander meisies. Sy is ’n bietjie bang, want hulle is die eerste meisies van haar eie ouderdom wat sy in die trein opgemerk het. Hulle is almal omtrent veertien of vyftien jaar oud en uit hulle lewendige gepraat en gelag kan Elsabe sien dat sy die enigste vreemdeling onder hulle is.
“So ja! Hier is ons weer!” sê ’n meisie met laggende oë terwyl sy haar goed wegpak. “Hannie, jou olifant! Jou hele gewig is op my voet!”
Hannie, ’n mooi, donkerkop meisie, lag haar toe.
“Arme Terrie!”
“Waar is my kosmandjie? Wie het my mandjie gesien?” Dit kom van ’n meisie met vuurrooi hare wat langs Elsabe sit.
“Tokkie se mandjie! O, Kobie, dis onder jou jas!”
“Ekskuus!” van Kobie en “Dief!” van Tokkie; dan saam: “Tientjie! Wat makeer? Waarom huil jy?”
Laasgenoemde sit in ’n hoekie en snik asof haar hart wil breek.
“Maar Tientjie! Wat makeer jou tog?”
“Is jy siek?” vra Terrie besorg.
Tientjie praat deur haar trane.
“O, ek wil huis toe gaan! Ek wil my ma hê!”
“My liewe tyd!” Hannie is verstom. “Ag nee, Tientjie! Dis darem te erg!”
“Ek sou so dink!” skimp Tokkie. “Jy’s veertien, nie vier nie!”
“Hoe kan jy so ’n babatjie wees? Jy’s mos al vier jaar op kosskool. Moenie so verspot wees nie!” sê Terrie.
“Laat haar tog staan!” sê Kobie. “Sy’s net ’n bietjie onder die invloed van die weer, nè, Tientjie? Kyk hoe nat is jou sakdoek. Dè! Neem myne!”
Elsabe is verbaas oor die besondere manier van troos, maar dit help blykbaar, want binne ’n paar minute hou die trane op en Tientjie begin saam lag en praat.
Toe hulle met al hul gepak klaar is, kyk die meisies vir die eerste maal na Elsabe. Vir die moderne hoërskooldametjies lyk sy maar snaaks. Haar donkerblou rok is lank, tot halfpad na haar voete toe en haar hare is met olie besmeer en in ’n lang, stywe vlegsel van haar voorkop weggetrek. Daarby dra sy ’n outydse strooihoed en lomp kouse en skoene. Die indruk wat sy maak, is allesbehalwe aangenaam.
Kobie is die eerste om die vreemdeling aan te spreek, al is dit teen haar sin.
“Gaan jy ook na Maasdorp?” vra sy vriendelik maar ’n bietjie styf.
Elsabe sien ’n liewe gesiggie met ’n goue krulkop soos ’n seuntjie s’n.
“Ja.”
“Na die Hoër Meisieskool?”
“Ja,” sê Elsabe skamerig.
“O!”
’n Kuiltjie wys in Kobie se rooi wangetjie, maar verdwyn weer gou. Sy kan haar voorstel hoe koddig dié figuurtjie tussen die moderne meisies van Maasdorp se hoërskool sal wees.
“Weet jy in watter klas jy is?”
“Die hoofonderwyseres het my tante te kenne gegee dat sy my geklassifiseer het om graad nege in te tree.”
Daar is ’n oomblik stilte. Kuiltjies wys in albei Kobie se wange en dié keer verdwyn hulle nie.
“O, aarde!” sê Terrie eindelik. “Hoofonderwyseres! Wessie!”
“Klassifiseer!” sê Tokkie minagtend. “Dink die kind sy’s ’n gogga?”
Elsabe word bloedrooi. Sy kan nie verstaan waarom die ander haar so vreemd beskou nie.
Kobie se groot bruin oë kyk laggend na haar.
“O!” sê sy kortaf.
Elsabe kry ’n knop in die keel. Sy is heeltemal verbouereerd. Die spottende meisies het haar woedend gemaak. Sy sluk haar trane weg en kyk hulle boos aan.
“Dit is vir my onverstaanbaar dat my gesegdes u soveel kan amuseer,” sê sy in ’n stemmetjie wat tog beef, al probeer sy hard om dit kalm te hou. “Miskien was dit wyser van my, had ek geantwoord dat my sake u heeltemal nie aangaan nie!”
Wat sy met soveel moed gesê het, veroorsaak net ’n gelag.
“Sy praat presies soos ’n outydse boek,” sê Tokkie, wat ’n skerp tongetjie het. “Ek wed sy het Noordwaarts gelees!”
En toe kom dit van Hannie: “Kyk hier! Jy moenie jou verbeel dat jy daardie toon in Maasdorp kan aanslaan nie. Dit moet nog gebeur dat nuwe meisies met die oues parmantig durf wees!”
“En nog voor hulle ’n voet in die skool gesit het!” sê Terrie.
Kobie kom tussenin. Sy vind die nuwe meisie se ouwêreldse klere en houding heeltemal onsimpatiek, maar sy kan tweedrag nie verdra nie.
“Ag, laat die kind staan,” is haar advies. “Sy het nie bedoel om parmantig te wees nie. As ’n mens tergery nie kan verdra nie is dit so min sy skuld as wanneer hy ’n skeeloog het. Maar,” sê sy terwyl sy na Elsabe kyk, “ek kan jou net sê dat jy g’n maats sal kry as jy so aangaan nie.”
Op die oomblik is daar niks wat Elsabe meer plesier sou gegee het nie. Sy leun terug in die hoek, maar al kyk sy deur die venster sien haar oë niks nie. Die ander neem verder g’n notisie van haar nie, nie eens by Maasdorpstasie nie.
Hulle spring uit en groet ’n ander komp meisies vrolik. Nou en dan kyk almal na Elsabe, waar sy soos ’n eensame gesie by haar bagasie staan, en lag onder mekaar.
Elsabe weet nie wat om te doen nie. Al die meisies – vir haar lyk dit of dit honderde is – gaan vorentoe na die uitgang en laat die tasse en sakke sommer op die stasie lê.
’n Groot meisie kom haastig na haar toe.
“Jy gaan mos na die hoërskool, nè? Waarom het jy dan nie die ander gevolg nie? Laat jou bagasie lê. Die kruiers sorg daarvoor as dit goed met jou naam gemerk is.”
Daar is reeds ’n paar kruiers besig.
Elsabe moet haar leier na die straat volg waar ’n groot aantal busse wag. Sy klim in die laaste een in, maar daar is g’n leë plek meer nie. So vol is dit dat party op die ander se skote moet sit. Elsabe moet staan en vashou waar sy kan en ’n paar maal laat die gestamp van die bus haar byna val, terwyl dosyne onvriendelike oë haar aankyk.
Eindelik ry hulle by ’n groot ysterhek in en toe die bus stilhou, spring almal uit. Elsabe word meegesleep, die trappe op en deur die grootste deur wat sy nog ooit gesien het.