Читать книгу Die Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore - Страница 6
3
Оглавление_____________
Die klas
Elsabe loop deur honderde gange – soos dit haar voorkom – agter Marie aan. Haar leier is erg ontevrede oor die plig wat die hoof op haar gelê het en sy probeer gou om Elsabe te laat voel hoeveel sy in die pad is. Eindelik kom hulle by ’n ry deure. Een daarvan is oop en daar lei Marie haar in.
Die graadnege-slaapkamer is ’n lang saal, afgeskort in dele, met baie groot vensters wat op die speelterrein uitkyk. Elke afdeling het ’n bed, klerekas, wastafel, spieëltafel en stoel en die dekens en gordyne is blou. Dit is alles mooi netjies maar op Elsabe maak dit ’n indruk van onvriendelike koudheid en die groot aantal meisies is vir haar soos ’n slegte droom.
Al is sy veertien jaar oud, ken sy g’n meisies van haar eie ouderdom nie, want daar is nie jongmense op haar tante se eensame plaas nie. In die vreemde omgewing van die skool, tussen mense wat vir haar soos wesens van ’n ander planeet optree, is sy heeltemal verward.
“Laat ons sien waar jou afdeling is,” sê Marie, haastig om van haar plig ontslae te wees.
Sy lees gou deur die lys op die deur.
“Marie Dempers, Gertruida Nel, Johanna Landsberg, Teresa Karelsen, Elsabe van den Heever. O, dis jy. Nommer vyf.” Sy wys na ’n afdeling. “Nou kan jy self regkom.”
In haar angs laat Elsabe haar stem die eerste maal hoor. “O, as u blief!”
“Wat makeer?”
“Wat … wat staan my nou te doen?”
“My tyd! Gebruik jou oë en kyk wat die ander doen. Ons wag vir ons trommels om op te kom en dan gaan ons uitpak.” Marie wil nie eintlik wreed wees nie, maar die nuwe meisie is so vreemd dat sy nie te veel met haar te doen wil hê nie. Sonder om eenmaal om te kyk, spring sy weg na haar eie afdeling en laat Elsabe alleen by haar bed staan.
Die afdeling regs van Elsabe behoort aan Hannie, wat met iemand oorkant ’n gesprek voer. Links sit Kobie met haar wange rooi van plesier, onveilig op die rug van ’n stoel, maar hoog in haar skik. Naby is Terrie en iemand anders besig om een van die nuwe meisies alles van die skoollewe te vertel.
“Ons het vanaand g’n studie-uur nie,” sê Terrie. “Ons het natuurlik g’n lesse om te leer nie en dus maak ons maar wat ons wil.”
“Ons sou dit nooit op ’n ander aand gewaag het om so in die groot saal te raas nie,” sê haar maat.
“Sou ons nie?”
“Sekerlik nie! Daarop kan jy wed!”
“Wat sou dan gebeur het?”
“Hedetjie! Ek weet nie. Eenmaal toe Wessie die hele skool wou straf, het sy die swembad twee weke lank gesluit en dit in die middel van die somer!”
“Is sy baie streng?”
“Daarop kan jy jou alie verwed!” sê Terrie se maat.
Elsabe se tante sou so ’n uitdrukking baie grof gevind het.
“Wessie is ’n goeie kêrel, maar sy’s soos ’n tier as sy regtig kwaad word. Niemand hou daarvan om na haar kantoor te gaan nie.”
“Waarom nie? Wat gebeur as mens daarheen gaan?”
“Vra liewer vir Kobie. Sy gaan amper meer soontoe as enigeen in die skool, en tot sy vrees dit.”
Die nuwe meisies kyk met bewonderende belangstelling na Kobie en Kobie skud haar kop oor die onplesierige herinnerings.
“Ek weet nie hoe dit kom nie,” sê sy. “Wessie laat my altyd voel asof ek ’n moordenaar is, al weet ek self dat dit nie so erg is nie.”
“Sy’s darem nie so erg soos juffrou Muller nie,” sê Terrie.
“Wessie praat tog nie uit die hoogte met ons asof ons babatjies in die laerskool is nie.”
“Wie is juffrou Muller?”
“Sy’s die wiskunde-onderwyseres en vise-hoof. Sy laat ons almal bewe.”
“Sy’s so koud en sarkasties,” voeg Kobie by.
“Ek sal van geluk spring as ek een kwartaal terugkom en vind dat sy vir ewig weg is,” sê ’n ander meisie wat saam met ’n paar maats daar kom staan het. “Maar dis te veel om te verwag.”
Tientjie skree van die lag.
“O, vaderland! Is daar in die wêreld ’n man dapper genoeg om met Yskis te trou? As hy sover kom om haar te vra, sal sy seker sê: ‘Hou jou kop regop as jy praat en hou op om met jou sakdoek te speel!’”
“Juffrou Reitz is ’n skat,” gaan Terrie voort. “Sy’s die sportonderwyseres en sy’s regtig gaaf. Eenmaal vang sy graad tien toe hulle stilletjies ’n middernagfees hou en sy was so goed: sy’t gesê hulle moet aangaan daarmee, want sy sal hulle die volgende oggend daarvoor laat betaal.”
“En het sy nie woord gehou nie!” lag Kobie. “Eva Sandberg het my vertel dat sy nooit in haar lewe soveel reëls uitgeskryf het nie. Toe sy sê dat die skryf haar rumatiek in die hand gee, was Rykie nie eens jammer nie. Sy’t net gesê: ‘Dit wys dat jou hand in ’n slegte kondisie is. As dit nie gou beter word nie, sal ek jou nog ’n paar honderd reëls gee om die styfheid weg te neem!’”
“Rykie is baie populêr, al is sy so streng,” sê Hannie. “Sy doen nooit iets onregverdigs nie. Ek wonder of Dora Stefan nog so verspot is oor haar.”
“So ’n gek!” sê Kobie vol minagting. “Dit maak my naar om te sien hoe Dora agter Rykie aanloop. Ek wed Rykie haat dit. Sy is altyd strenger met Dora. Ek weet dit sou my naar laat voel het as ek ’n onderwyseres was en ’n kind dweep so met my.”
“Mens kan dit nie help nie!” verdedig Tientjie haar.
Syself koester ’n groot liefde vir Kobie se suster Ruth.
“As ek nou eenmaal van ’n mens hou, dan hou ek van haar! Ek meen – ag! Watter nut het dit om met jou daaroor te praat!”
“G’n nut in die wêreld nie!” antwoord Kobie met ’n breë glimlag. “Elke keer wat ek jou ure lank by Ruth se kamerdeur sien wag om haar boeke te dra, of jou sien huil oor sy jou ’n strafkruisie gegee het, wil ek jou kop teen die muur stamp!”
“Wag jy maar tot jy so baie van iemand hou, Kobie Malan!” sê ’n meisie wat nog nie gepraat het nie.
“O ja, Bettie Botes!” aap Kobie haar met ’n skaterlag na. “Dit sal pragtig wees! Ek kan gerus met die goeie ou Yskis begin! Kan jy jou verbeel hoe dit sal lyk as ek agter haar aanloop, soos jy met Vera maak? ‘Asseblief, Juffrou, dierbare juffrou Muller! Trap maar op my sodat u voete droog bly terwyl u oor die speelterrein loop!’”
Bettie verkleur.
“Ek wens jy wil jou neus uit my sake hou!” bars sy uit. “Dit gaan jou nie aan wat ek doen nie!”
“Nee, glad nie!” kom Tientjie by.
Hulle twee geliefdes is sulke groot maats dat sy en Bettie baie simpatie met mekaar het.
“As jy nie baie van iemand anders kan hou nie, dan hoef jy nie, maar as ons … O, Kobie! Jou dierasie!”
Gouer as ’n oog kan knip, het Kobie die koppe van die twee liefhebbertjies teen mekaar gestamp en nou staan sy hulle en uitlag.
“Dit sal julle leer om snaaks te wees teenoor my, my kleingoed!” sê sy skelm. “Dis erg genoeg om so te dweep, sonder om daarby iesegrimmig te word!”
Die ander twee lag ook en vryf hulle koppe.
“Wag maar! Ek sal dit onthou wanneer ons in die swembad is!” belowe Tientjie.
“Ek ook!” sê Bettie. “Daar’s ’n knop op my kop so groot soos ’n eier … en jy spring so rats weg dat mens jou nie kan terugbetaal nie!”
’n Mens sal verwag dat Elsabe nie so gou tant Alida se opvoeding sal vergeet nie en dat sy verras sal wees oor die onfatsoenlike gedrag van die meisies, maar die teendeel is waar. Hoe meer sy hulle met hul kort hare en verkorte name hoor en sien, hoe meer hou sy van hulle. Ongelukkig gaan die kamerdeur oop voor sy oorkant toe kan gaan om haar by die kring te voeg, en ’n klein meisie kom met ’n boodskap in. “Matrone wil Elsabe van den Heever sien!” sê sy.
“Wie is dit?” vra Kobie.
Marie antwoord uit haar afdeling.
“O, dis daardie snaakse mens, die een wat Wessie wil hê ek moet oppas.”
Elsabe kom vorentoe en staan regoor die kring by Terrie se afdeling. Sy voel baie hartseer, maar haar oë is koud.
“Ek is Elsabe van den Heever!” sê sy.
’n Oomblik lank is almal stil. Die meisies kyk met spottende nuuskierigheid na die ouderwetse figuurtjie wat net soos ’n portret van ’n kind van vyftig jaar gelede lyk. Toe praat Tokkie bitsig.
“O! Dis daardie kind van die trein!”
Meteens is dit of iets in Elsabe se kop breek.
“Ek wil julle vra om jul gepraat oor my en my sake te reserveer tot ek nie teenwoordig is nie!” bars sy los. “Vir my skyn julle heel sleg opgevoede en sleggeaarde kinders te wees. Ek sou vir geen geld ter wêreld soos julle wou wees nie!”
Die meisies kyk mekaar verstom aan.
“Wat ’n tierwyfie!” sê Hannie.
Met haar kop in die lug loop Elsabe die kamer uit. Met die toemaak van die deur hoor sy ’n geskree soos die agterblywendes lag.
“Allawêreld!” sê Kobie toe sy weer haar asem kry. “Wat gaan ons daarmee doen? Sy sal g’n versiersel vir graad nege wees nie!”
“Ek het nog nooit sulke astrantheid gehoor nie!” sê Hannie woedend.
Terrie skilder die hele ding in die donkerste kleure.
“Dis ’n gemene skande!” sê sy. “Al die ander grade sal ons uitlag. Ons het nog nooit vantevore so ’n snaakse mens in ons klas gehad nie. Het julle ooit in jul lewe sulke klere gesien! Is sy miskien arm?”
“Nee! Elkeen met oë kan sien sy’s nie arm nie!” sê Kobie. “Die verspotte ding het op haar kop geval – dis al.”
“Nou, dis baie vrot vir ons klas!” kla Terrie.