Читать книгу Die Meisies van Maasdorp - Stella Blakemore - Страница 7
4
Оглавление_____________
Deure
Dit is die mening van die hele klas. Hulle het Elsabe se woord daarvoor dat haar gedrag veroorsaak word deur ’n gevoel dat sy beter as hulle is en hulle beskou dit as verwaandheid. Die besluit is om die nuwe leerder te wys dat ’n mens in Maasdorpskool net soos al die ander moet wees, of jy sal dit hardhandig geleer word.
Arme Elsabe staan in die gang en probeer haar trane wegsluk. Sy het net in die slaapkamer so woedend uitgebars omdat sy nie wou wys hoe ongelukkig sy is nie. Nou kyk sy wanhopig rond en wonder wat om te doen. As die matrone haar wil sien, moet sy gou maak, maar die lang gang met sy groot klomp deure is op die oomblik leeg. Sy vee haar oë af en sluk een maal om die knop in haar keel weg te kry, en klop toe aan die deur langs die slaapkamer. Dit het haar veel moed gekos, want vir haar lyk dit of enige ding in hierdie nuwe wêreld kan gebeur. Daar is g’n antwoord nie en sy wil net wegdraai toe die deur skielik oopgaan dat sy byna gil van skrik. “Ja?” sê ’n lewendige stem. “Wat wil jy hê?”
Elsabe skrik nog meer, want dit is g’n skoolkind nie. Skerp grys oë kyk haar aan en lyk of hulle op ’n antwoord wag.
Met tant Alida se opvoeding in gedagte maak Elsabe ’n buiging.
“As u blief!” stamel sy. “Ek het …” sy snik. “Ek het per abuis aan die deur geklop. Ek soek na informasie.”
“Na informasie? Wat wil jy weet?”
“As u blief! Die matrone verwag my en ek moes nou al by haar gewees het.”
“Waarom is jy dan nie?”
“Ek weet nie waar sy te vind is nie.”
“Dan, my goeie kind, sou jy ons albei baie tyd bespaar het as jy gesê het: ‘Waar kan ek die matrone asseblief vind?’ Dan sou jy al in die klerekamer gewees het.”
Elsabe word rooi, terwyl die grys oë haar so tergend aankyk.
“’n Skool is ’n besige plek,” gaan die koel stem voort. “En as jy altyd sulke lang sinne maak, sal jy nie ver kom nie. Loop nou. Die klerekamer is met daardie trappe op, die derde deur regs.”
“Neem my dank aan!” sê Elsabe met die gevoel dat die skool meer en meer soos ’n slegte droom word. “En verontskuldig my, as u blief, dat ek u gestoor het.”
“Dis niks,” sê die onderwyseres ernstig. Sy maak die deur toe.
“Met die trappe op, die derde deur regs!” mompel Elsabe om te keer dat sy nie dink nie.
Die klerekamer is weer iets om haar op die proef te stel. Al die nuwe meisies is daar om die matrone se vrae oor hulle uitrustings te beantwoord. Toe Elsabe die deur oopmaak en ingaan, voel sy elke oog op haar.
Die mure van die groot kamer is een klerekas op die ander en daar is g’n ander meubels as ’n paar lang tafels nie. Op die oomblik staan die nuwe meisies se trommels op hierdie tafels en die matrone is besig om dit een vir een deur te kyk. Die meeste se uitrustings is in orde.
“Elsabe van den Heever!” sê die matrone eindelik.
Elsabe stap bewerig vorentoe. Waar dit vir haar lyk of die onderwyseresse en meisies in die skool te min klere dra, kan sy goed verstaan dat haar eie klere vir hulle ook vreemd moet voorkom. Sy het vroeër nooit tyd oor haar klere verkwis nie en hierdie nuwe beskroomdheid oor haar voorkoms is vir haar onplesierig en vreemd.
“Gee my jou sleutels,” sê die matrone.
“Ek vrees ek was so nalatig om dit nie mee te bring nie,” antwoord Elsabe en verkleur toe sy die ander hoor giggel.
“Bedoel jy jy het hulle tuis gelaat?”
“Nee, gewis nie. Hulle is in my handtas.”
“Waar, kind? Waarin?”
“In die handtas waarin ek my sakdoek en geld bewaar. Ek het dit in my slaapafdeling gelaat.”
“Jy bedoel jou beursie. Nou, loop haal dit gou. Hardloop. Ons is almal hardwerkende mense in hierdie plek!”
Toe Elsabe die deur agter haar toemaak, hoor sy weer die gegiggel waaraan sy nou al begin gewoond word.
Nou moet sy weer die graadnege-slaapkamer binneloop en haar sleutels uithaal, en almal sal na haar kyk, en …
“Hulle is ongemanierd!” praat sy kokend van woede met haarself. “Ongeskik en ongemanierd! Hoe kan ek lewe tussen mense wat staan en giggel net soos … soos simpel mense, net oor my klere anders as hulle s’n is!”
Dis ’n warm dag, maar sy bewe van koue en senuweeagtigheid. Sy staan ’n oomblik stil en probeer om haar trane wat sy skaars kan inhou, te beheers. Sy is nou weer in die moeilikheid, want hoe sal sy in die lang gang die slaapkamer kry? Al die deure lyk so eenders.
Sy kan haarself nie sover bring om weer aan een van die deure te klop nie, maar op daardie oomblik gaan een van die deure oop en ’n jongerige, blonde onderwyseres verskyn met ’n groot prent in ’n vergulde raam in haar arms. Toe sy Elsabe sien, praat sy op die haastige manier wat in Maasdorpskool die gewoonte skyn te wees.
“O, kom hier, asseblief. Wat is jou naam?”
“Elsabe van den Heever, Juffrou.”
“Nou loop vra asseblief soos ’n soet kind vir juffrou Muller om vir my ’n stuk draad te stuur om die portret op te hang. Juffrou Muller!” herhaal sy ongeduldig oor Elsabe haar verstom staan en aankyk. “Ag! Jy’s natuurlik ’n nuwe leerder! Nommer drie – aan die end van die gang. Dankie!”
Sy gee ’n vriendelike laggie en maak die deur agter haar toe.
“Dit lyk my,” sê Elsabe met ’n bedroefde stem, “ek gaan my hele lewe hier deurbring deur aan deure te klop!”
Vir ’n senuweeagtige kind het sy vandag baie deurgemaak. Sy loop baie stadig die gang af, soos die witkop-onderwyseres beduie het, en gaan voor nommer drie staan. Dié keer is daar ’n antwoord op haar geklop.
Op die skerp “Kom binne!” maak sy die deur sag oop.
Dis ’n gesellige kamer met warmgekleurde gordyne en tapyte en in ’n leunstoel by die oop venster rus die onderwyseres wat haar ’n rukkie vantevore gesê het waar die klerekamer is. Dís dan juffrou Muller wat die meisies die naam van Yskis gegee het. Haar gelaatstrekke is fyn en ferm, en daar is iets so kalm en verstandig in haar houding dat sy meer as ’n bietjie vrees inboesem.
Sy maak haar oë wyd oop toe sy haar besoeker herken. “Ja?”
“As u blief,” sê Elsabe met ’n knop in die keel. “Ek is beveel om u koperdraad te vra vir die ophang van ’n portret as u so iets by u het.”
Juffrou Muller rek haar oë nog wyer oop.
“En wie het jou so beveel?”
“Ek … ek weet nie,” stamel Elsabe.
Juffrou Muller bekyk haar ’n oomblik.
“Hoe kom dit dat jy na my gestuur is vir koperdraad?” vra sy met meer geduld as wat haar gewoonte is.
Elsabe sluk hard. Die knop in haar keel is so groot dat sy byna nie kan praat nie.
“Ek was op pad na my eie afdeling in die gang toe ’n jong dame met ’n groot portret in haar arms my tegemoetkom en dis sy wat …”
“O, so! Jy moet leer om jou meer verstaanbaar te maak en minder woorde te gebruik. Hoe kan jy verwag dat ek vir jou ’n lang stuk koperdraad sal gee vir ’n onbekende persoon? Was die jong dame ’n onderwyseres of ’n prefek?”
Elsabe begryp dat juffrou Muller haar stilletjies uitlag.
“Sy was, so skyn dit my, ’n onderwyseres, alhoewel dit moeilik is om daaroor te oordeel, want haar hare is kort en …” Iets kom in haar keel op en sy bars in onkeerbare trane uit.