Читать книгу Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M Lingua - Страница 10

7

Оглавление

__

Alhoewel Edoardo se vliegtuig in die werkwinkel is vir herstelwerk aan een van die motore, is hy darem gelukkig genoeg om twee sitplekke op die vliegtuig te bekom wat die volgende oggend suide toe vertrek.

Mario was aanvanklik sterk daarteen gekant om sy werkgewer daar in die vreemde heeltemal aan die tenger barones se genade oor te laat. Aangesien Edoardo egter in staat is om homself te bad en aan te trek, het Lizelia gevoel dat hulle verblyf in Pretoria haar die geleentheid sal gee om darem haar maandelikse toelaag te verdien, want tot dusver het sy nog niks noemenswaardig vir die edelman gedoen nie.

“Wel, daar is ongelukkig nie nog ’n sitplek op die vliegtuig beskikbaar nie, Mario,” het Lizelia hom vriendelik probeer gerusstel. “Maar jy hoef eerlikwaar nie bekommerd te wees nie. Ek sal my bes vir die baron doen en sorg dat hy niks oorkom nie. Ek verseker jou, in my land sal ek baie beter vir hom kan sorg as wat jy dit sal kan doen.”

Edoardo het volkome saamgestem en Mario onomwonde versoek om op te hou kla.

Dit is taamlik koud toe die vliegtuig van Florence se lughawe af vertrek, maar Lizelia weet dat die kwik in Pretoria darem al begin styg het.

Die reis is lank en eentonig. Laat die aand stryk die reusevliegtuig op Johannesburg-lughawe neer. Lizelia is bly toe sy haar oom na hulle aangestap sien kom nadat al die formaliteite afgehandel is. Sy voel moeg ná die lang reis en verwelkom sy hulp met die bagasie.

Gustav Heyns weet aanvanklik nie hoe om die baron aan te spreek nie, maar Edoardo voel sy verleentheid aan en stel voor dat hy hom maar sommer op sy voornaam noem.

Om Edoardo se ontwil praat Lizelia en Gustav Engels, want Edoardo verstaan natuurlik nie ’n woord Afrikaans nie.

“Gaan dit darem beter met ouma Amalia?” vra Lizelia besorg toe hulle van die lughawe af wegry.

Edoardo sit voor langs oom Gustav, en sy agter.

“Wel, sy herken ons darem al en het selfs flou geglimlag toe jou tante haar van julle koms vertel het,” vertel oom Gustav. “Dit het gelyk of sy teleurgesteld was toe sy hoor dat julle in ’n hotel tuis gaan en nie by ons nie.”

“Ek het voorgestel dat ons by oom-hulle moet tuis gaan, maar Edoardo wil nie nog meer verantwoordelikheid op tant Natalie se skouers laai nie,” verduidelik Lizelia. “Ons sal ouma Amalia môreoggend besoek – tensy haar toestand deur die nag versleg. In daardie geval moet oom my asseblief dadelik bel.”

“Moet ek julle môreoggend kom haal voor ek kantoor toe gaan?” vra oom Gustav toe hulle Pretoria later binnery.

“Ek glo nie dit sal nodig wees nie, signor Heyns,” sê Edoardo. “My sekretaris het alreeds met ’n verhuringsmaatskappy gereël om ’n motor tot ons beskikking te stel. Lizelia sal ons dus kan rondry. Ek hoop sy is ’n bedrewe bestuurder, want ek het die lewe nog baie lief.”

“Toe maar, Edoardo, jy is heeltemal veilig met my agter die stuur,” verseker Lizelia hom laggend. “Ek het Mario en Gino belowe dat ek jou met my eie lewe sal beskerm, dus sal ek geen wilde kanse met jou in die motor durf waag nie.”

“Sorg jy maar net dat jy na jouself ook kyk en nie jou arm seermaak nie, kleintjie,” kom dit goedig van Edoardo. Hy verduidelik aan oom Gustav van die ongelukkie wat Lizelia twee weke gelede gehad het.

Dit is amper middernag toe die portier hulle bagasie in die stel kamers wat Angelo vir hulle bespreek het, besorg. Lizelia merk dat Edoardo ook moeg en afgemat is na die lang reis, daarom besluit sy om maar eers sy tas uit te pak sodat hy kan gaan bad en slaap.

Sy lei die edelman na hulle private sitkamer, skink vir hom ’n drankie en sê verskonend: “Ek gaan net gou eers jou tas uitpak, Edoardo, sodat jy kan gaan bad en slaap.”

“Ek kan nie verstaan waarom jy nou juis vanáánd my tas moet uitpak nie, Lizelia. Ons is albei doodmoeg, en môre is daar tog tyd genoeg om al daardie dinge te doen. Ek stel voor dat jy vanaand net ons slaapklere uithaal,” doen hy aan die hand. “Soos ek Mario ken, sal jy my slaapklere en kamerjas heel bo in die tas vind.”

Terwyl Edoardo se badwater inloop, wys Lizelia hom waar elke ding in sy slaapkamer en in die badkamer is. Sy versoek hom omtrent tien keer om die klokkie voor sy bed te lui indien hy gedurende die nag iets nodig het.

Lizelia is verbaas oor sy behendigheid. Hy kan so baie dinge self doen. Terwyl hy later bad, hang sy gou die klere wat hy uitgetrek het in die kas en maak sy bed gereed vir die nag. Dan wag sy dat hy moet klaar bad sodat sy hom kan help om in die bed te klim.

Lizelia is doodmoeg toe sy die lig voor haar bed teen eenuur die nag afskakel en haar oë sluit. Dit is vir haar ’n salige gedagte dat sy haar op die oomblik in haar eie vaderland bevind, saam met die man wat sy met haar hele wese bemin. Sy wens hulle kan vir altyd hier in Suid-Afrika kom bly – ver van sy geliefde Francesca af.

Daardie nag droom Lizelia sulke wonderlike drome oor haar en Edoardo dat sy spyt is toe sy om sewe-uur die volgende oggend wakker word en besef dat alles maar net ’n droom was. Sy lê etlike minute in die vervoering aan haar wonderlike droom en dink, toe dit haar meteens tref dat sy verantwoordelik is vir die baron se welstand. Sy val amper uit die bed in haar haas om op te staan en by die badkamer te kom.

Dit neem Lizelia nie lank om aan te trek en gereed te maak vir die vroeë oggendkoffie wat nou enige oomblik bedien sal word nie. Die kelner bring dan ook die koffie stiptelik om halfagt.

Sy klop moes Edoardo wakker gemaak het, want hy lê nikssiende na die plafon en staar toe Lizelia sy kamer binnekom.

“Môre!” sê sy vriendelik. “Het jy darem goed geslaap?”

“Soos ’n klip,” glimlag hy. “Maar waarom is jy so vroeg uit die vere? Ek hoor nog niemand in die hotel lawaai nie, dus moet dit nog baie vroeg wees.”

“Ja, dit is nog vroeg,” erken sy. “Maar ek het skielik onthou Mario staan altyd vroeg op om jou te versorg, en ék is mos nou jou lyfkneg. Terloops, ek het vir jou koffie gebring.”

Hy kom orent, hou sy hand vir die koppie uit en sê skertsend: “As jy so aanhou, sal ek jou beslis ’n salaris moet betaal, ou meisietjie.”

“Jy betaal my alreeds ’n salaris wat ek nog nooit verdien het nie,” herinner sy hom.

“Dit is nie ’n salaris nie, dit is ’n toelaag vir jou grimering en ander klein dingetjies wat ’n dame moet hê,” help hy haar reg.

“Wel, ek weier om nog meer van jou te ontvang,” sê sy ernstig. “Ek is alreeds kniediep in die skuld by jou. Jy het al die koste vir my moeder se operasie en begrafnis gedra, en ek het nog niks gedoen om dit te verdien nie.”

“Jy gaan dit nou tydens ons verblyf hier in jou vaderland, as my oppasser verdien, Lizelia,” stel hy haar dadelik gerus. “Daarna wil ek nooit weer ’n woord daaroor hoor nie. Verstaan ons mekaar?”

Sy knik en sê sag: “Ja, ek verstaan, Edoardo.”

Hy ledig sy koffiekoppie en sê dan saaklik: “Ek dink ek sal ook maar opstaan. As jy nie omgee nie, kan jy my tot by die badkamer se deur neem. Ek sal dit waardeer as jy daarna my klere op hierdie kant van die bed in die regte volgorde sal neersit – begin maar by die sokkies en die onderklere. Ek veronderstel jy weet darem wat ’n man dra.”

“Ja, natuurlik, ek het darem ’n pa gehad!” sê sy goedig. “Sal ek daarna ’n oproep Italië toe bespreek? Mario-hulle sal seker bly wees om te hoor dat jy veilig hier aangekom het …”

“Jy bedoel dat óns veilig hier aangekom het.”

“Ek is nie so belangrik nie. Dit is oor jou veiligheid wat almal in die kasteel besorg is,” sê sy sag. “In elk geval, moet ek reël dat al ons maaltye in die privaatsitkamer bedien word?”

“Dankie, Angelo het alreeds daardie reëlings getref. Maar sê my: Weet jy darem hoe om ’n man se das te knoop?”

“O, baie goed,” sê sy met ’n sagte laggie. “Op skool moes ek self in die winter ’n das dra. Moenie bekommerd wees nie: Ek sal jou selfs kan skeer ook as ek ’n elektriese skeermes gebruik. Ek het my oupa dikwels geskeer toe hy bedlêend was.”

“Ek sal jou oupa eers bel om te hoor of jy ’n goeie barbier is,” spot hy met ’n glimlaggie.

Terwyl hulle gesels, trek sy die edelman se pantoffels liefdevol vir hom aan en help hom dan om sy kamerjas aan te trek. Daarna lei sy hom na die badkamer toe, waar alles vir hom gereed is.

Dit is vir Lizelia net so aangenaam om weer tussen haar eie familie te wees as wat dit vir hulle is om haar weer in hulle midde te hê. Haar ouma kan nog nie praat nie, maar Lizelia kan die blydskap in haar oë lees.

Om Edoardo se onthalwe praat almal Engels. Lizelia gee vir haar grootmoeder ’n paar foto’s wat met haar moeder se begrafnis geneem is, en ook een van haar en Edoardo se huwelik. Sy hou die foto’s vas sodat haar ouma daarna kan kyk, en sit hulle daarna op die bedkassie neer sodat haar oom en tante dit ook later kan besigtig. Dan vertel sy haar van haar lewe in Italië – sommer klein dingetjies waarin haar ouma sal belang stel.

Edoardo vertel ewe trots vir die ou dame hoe ’n uitstekende oppasser haar kleindogter is en dat hy dit maar eers vanoggend uitgevind het.

Hulle kuier by die sieke totdat dit haas tyd is vir middagete. Met die belofte dat hulle haar weer later die middag sal besoek, groet hulle en keer weer terug hotel toe.

Ouma Amalia sterk vinnig aan en Edoardo en Lizelia besoek haar gereeld twee maal per dag. Lizelia is verbaas om te sien hoe Edoardo hierdie kuiertjies geniet. Hy gesels graag met ouma Amalia, en toe sy haar spraak op die vierde dag weer herwin, moet Edoardo haar alles omtrent sy land vertel, want sy vra hom uit na alles.

Agt dae nadat hulle in Pretoria aangekom het, ontvang Edoardo ’n kabelgram uit Italië. Daar is sake wat dringend sy aandag vereis, en Angelo vra hom om so gou moontlik terug te gaan.

Ouma Amalia is sommer dadelik in trane toe sy hoor dat haar kleinkinders al weer die volgende dag moet vertrek.

“Ek kan nie verstaan dat julle so ver gereis het om net agt dae hier te bly nie, Edoardo,” kla die ou vroutjie met ’n tranerige stem.

“O, maar ons het nie hierdie reis onderneem vir pret en plesier nie, donna Amalia,” herinner Edoardo haar goedig. “Ek en Lizelia het ons hierheen gehaas om vir jou te kom sê dat jy nie nou al die tydelike met die ewige moet verwissel nie, want ons verwag volgende jaar ’n lang besoek van jou. Voor die sneeu volgende jaar begin val, moet jy veilig by ons in die castello wees. Is dit ’n belofte?”

“Ons moet eers wag en sien of ek daardie tyd nog lewe, Edoardo,” skerm die ou vroutjie. Sy wil darem nie ruiterlik aan die wêreldwyse man erken dat sy te bang is om ’n voet op ’n skip of ’n vliegtuig te sit nie!

Lizelia se oom en tante is net so teleurgesteld omdat hulle die volgende oggend al weer moet vertrek. Gustav bied gulhartig aan om hulle by die lughawe te besorg; daarna moet Lizelia in aller yl hulle tasse gaan pak. Sy is so besig om alles gereed te maak vir hulle vertrek dat daar nie tyd is vir trane of hartseer nie. Eers toe die vliegtuig vroeg die volgende dag van die lughawe af opstyg, tref dit haar dat sy haar land en haar mense miskien vir ’n baie lang tyd nie sal sien nie.

Lizelia is stil en afgetrokke, sodat Edoardo later besorg vra: “Waarom is jy so stil, kleintjie? Voel jy hartseer omdat ons besoek aan jou familie so gou verby is?”

“Ag, ’n mens voel seker maar altyd hartseer wanneer jy jou geliefdes moet agterlaat,” sê sy met ’n klein stemmetjie. “En ouma Amalia het behoorlik weggekwyn sedert ek haar laas gesien het – natuurlik is dit my moeder se skielike dood wat daarvoor verantwoordelik is. Ek glo nie sy sal nog lank lewe nie, Edoardo.”

“Jy is net moeg en hartseer, daarom dat jy so pessimisties is, ou meisietjie,” troos Edoardo besorg. Hy plaas een arm om haar smal skouertjies en trek haar saggies in die kring van sy arm. “Leun met jou kop teen my skouer en probeer om ’n rukkie te slaap. Ek verseker jou dat jou grootmoeder nog lank genoeg sal lewe om jou eerste kind te help grootmaak. Sy is maar sewentig, en dit is nie so vreeslik oud nie.”

“Dis waar, sewentig is nie so oud nie, Edoardo, maar sy is baie broos en tingerig …”

“Sy sal nog jare lank lewe, jy sal sien,” sê hy sag en gerusstellend. “Maak nou jou oë toe en slaap.”

Die eentonige gedreun van die kragtige staalmotore sus Lizelia sommer gou aan die slaap. Edoardo weet dat hy gelyk gehad het; sy was inderdaad moeg en hartseer.

Hulle reis eersteklas saam met drie ander passasiers – al drie middeljarige mense wat openlik verveeld lyk met die lang reis wat voorlê. Toe ’n vriendelike lugwaardin aanbied om die rugleuning van Lizelia se sitplek te verstel sodat sy gemaklik kan rus, keer Edoardo.

“My vrou rus heeltemal gemaklik, dankie, signorina,” sê hy sag en bedaard. “Sy sal in elk geval net wakker word as ons haar nou steur.”

Dit is byna teetyd toe Lizelia eindelik wakker word. Sy voel heerlik uitgerus, en haar hart begin sommer warm klop toe sy besef dat sy byna drie uur lank in Edoardo se arm, met haar kop teen sy skouer, gesit en slaap het. Sy kyk na sy dierbare gesig wat so naby hare is. Sy moet net haar kop effens draai om haar lippe teen sy wang te laat raak, maar sy doen dit nie.

Sy sit hom nog ’n paar sekondes so van naby en betrag, toe kom sy traag orent en sê met ’n vrolike stem: “Dankie vir jou gemaklike skouer waarteen ek so lekker gesit en slaap het, Edoardo. Jou arm is seker al doodmoeg en lam.”

“My arm makeer hoegenaamd niks, my liewe Lizelia,” glimlag hy. “Dit is jý wat doodmoeg moet wees na alles wat jy die afgelope week vir my moes doen.”

Lizelia plaas haar een hand vertroulik op syne en sê met ’n vreemde teerheid in haar stem: “Jy moenie jou so oor my bekommer nie, Edoardo. Ek kom uit ’n gewone middelklasfamilie wat aan werk gewoond is. Ons beswyk nie sommer van werk nie, en ek het trouens ook nog nooit van iemand gehoor wat hom doodgewerk het nie.”

Edoardo neem haar hand in albei syne. Dan sê hy sag dog ernstig: “Solank jy my vrou is, Lizelia, is jy my verantwoordelikheid en moet ek my oor jou veiligheid en welsyn bekommer.”

“Wel, jy het nie nodig om besorg te wees nie, meneer die baron,” terg sy laggend. “Ek voel heeltemal uitgerus en gereed vir enigiets.”

Hulle gesels ’n rukkie oor hulle verblyf in Pretoria, dan lees Lizelia saggies vir hom uit ’n bekende Engelse tydskrif voor.

Ná middagete sit Edoardo gemaklik agteroor en sluit sy oë. Lizelia het al net begin wonder of hy slaap, toe sy hom onverwags hoor sê: “Ons het die afgelope week baie na aan mekaar gelewe. Ek vrees ek gaan jou sorg en vertroulike omgang baie mis, my kleintjie. Dit het al ’n aangename gewoonte geword om elke môre te lê en wag dat jy ons koffie moet bring, en te weet dat jy jou koffie saam met my in die kamer sal geniet. Ek het ook al gewoond geraak aan die sagte geur van jou parfuum, jou badsout en die skoon geur van jou hare. Ek gaan al hierdie dinge baie mis wanneer ons tuis is en Mario weer oorneem as lyfkneg. Sy hand is nie so klein, sag en koel soos joune wanneer hy my das knoop nie.”

Lizelia besef meteens dat Edoardo se blindheid ’n baie eensame mens van hom gemaak het, daarom sê sy teer: “As jy verkies dat ek liewer daardie dinge vir jou moet doen, Edoardo, sal ek dit doen. Ek gee nie in die minste om om jou op te pas nie. Mario kan my net wys hoe om jou klere te versorg …”

“Nee, dit sal ek nooit toelaat nie,” sê hy verontwaardig. “Al die personeel in die kasteel sal baie geskok wees as jy my klere versorg. Geen barones De Mashatini het nog ooit haar hande in koue water gesteek nie, om van was en stryk nie eens te praat nie … Nee, Mario sal maar weer moet oorneem sodra ons in Florence van die vliegtuig afstap. Maar jy kan soggens by my in die kamer kom koffie drink …”

“En jou das vir jou knoop, jou hare kam en jou elke oggend skeer,” voeg Lizelia met ’n sagte laggie by. “Ek is ’n uitstekende barbier, nie waar nie?”

“Ja, jy is, ou meisietjie,” erken hy. “My gesig was elke dag baie netjies en glad geskeer, en ek het nie oë nodig om dit te weet nie. Maar ek weet nie of Mario jou sal toelaat om van sy pligte oor te neem nie. Jy moet weet, hy is my lyfkneg sedert my vyfde jaar. Ek dink jy moet maar net soggens jou koffie by my in die kamer kom drink en my ’n rukkie geselskap hou.”

Kort ná nege-uur stryk die vliegtuig op Florence se lughawe neer. Hulle word gelukkig nie lank by die doeane vertraag nie, want byna al die beamptes ken die baron en weet dat hy ’n eerbare en betroubare man is.

Mario en Gino is dadelik by en help Lizelia met die bagasie. Hulle verneem belangstellend na die edelman se welsyn en sy verblyf in die vreemde, en Mario merk op dat sy werkgewer besonder netjies daar uitsien.

“Ek sien die barones het mooi na u gekyk, my heer die baron,” verklaar Mario toe hulle die motor, wat voor in die straat staan, bereik. Hy hou die deur vir die edelman oop terwyl Gino hom help om in te klim.

“Ja, die barones is vol verrassings, Mario. Sy is ’n uitstekende oppasser,” verseker Edoardo hom met ’n glimlag. “Jy sal nou met ’n geruste hart met vakansie kan gaan sonder om jou oor my welsyn te bekommer. Jy sal net moet sorg dat ek genoeg skoon klere het, want die barones sê sy weet nie hoe om ’n man se klere te versorg nie. Maar sy is glo gewillig om te leer.”

“Dit sal nie nodig wees nie, my heer die baron,” maak Mario dadelik beswaar. “Ek is gelukkig nog in staat om alles self te behartig. Die barones se handjies is ook gans te fyn en sag vir sulke harde werk …”

“Jy moet my glad nie onderskat nie, Mario,” sê Lizelia vriendelik. “Jy sal verbaas wees om te weet wat ek alles kan doen.”

Edoardo is vandag skoon ’n ander mens – vol grappies en kwinkslae. Selfs Mario en Gino wat van kindsbeen af sy getroue vriende en bondgenote is, is bewus van hierdie verandering in hulle werkgewer. Dit doen hulle harte goed om te sien dat hy sy eertydse lewensvreugde begin herwin – die lewensvreugde wat die motorongeluk en Francesca se harteloosheid hom ontneem het. Hulle voel diep dankbaar teenoor die sagte en vriendelike Lizelia, want hulle is oortuig dat sy vir hierdie verandering in die baron verantwoordelik is.

Edoardo en Lizelia is albei moeg en afgemat van die lang reis toe hulle laat die aand by die kasteel aankom.

“Ek stel voor dat jy dadelik gaan bad en in die bed klim, Lizelia,” doen Edoardo besorg aan die hand nadat hulle koffie, vleisrolletjies en hoenderpasteitjies in die klein sitkamertjie geniet het. “Moenie eens daaraan dink om jou tas vanaand uit te pak nie. Jou kamermeisie kan dit alles môre doen. Gaan rus jy net.”

“En jy? Gaan jy ook nou dadelik slaap, Edoardo?” wil Lizelia ook besorg weet.

Hy skud sy kop. “Ek wil eers by Angelo gaan hoor waarom hy my so dringend ontbied het. Mario sê daar is nog lig in sy kantoor.”

“Ek hoop nie dit is groot … e … sakeprobleme nie, Edoardo,” sê Lizelia ietwat onrustig. “As daar iets is wat ek kan doen om te help …”

Die edelman stel haar dadelik gerus. “Ek sal jou môreoggend sê of dit ’n groot probleem is. Gaan slaap nou, my kleintjie. Ek weet jy moet doodmoeg wees, en jy kan my tog nie regtig met my sakeprobleme help nie.”

“Dis waar, ek weet absoluut niks van die sakewêreld en sy geheime nie. Ek sê dan maar nag en … lekker slaap, Edoardo!”

“Nag, my ou meisietjie!”

Later in die bed lê Lizelia aan Edoardo se ongewone vriendelikheid en dink. Sy weet nie waaraan sy dit moet toeskryf nie, want hy was nog altyd net hoflik en beleef teenoor haar. Dit kan ook nie uit dankbaarheid wees omdat sy hom die afgelope agt dae so pligsgetrou versorg het nie, want hy weet baie goed dat dit maar net ’n klein deeltjie van haar skuld is wat sy vereffen het.

Hy het seker tot die besef gekom dat hy ’n lewensmaat se bystand en geselskap nodig het om die donker wêreld waarin hy lewe vir hom aangenamer te maak, peins Lizelia. Sy voel oortuig dat Francesca se wagtyd vinnig besig is om te verstryk en dat Edoardo binnekort sal begin stappe doen om hulle huwelik tot niet te maak.

Hierdie gedagte laat onwillekeurig trane in Lizelia se oë opwel. Sy besef dat sy hierdie pyn self oor haar gebring het. Sy het van die staanspoor af geweet dat Edoardo se hart onherroeplik aan Francesca behoort en dat dit vir haar fataal sal wees om op hom verlief te raak. Sy voel meteens ontsettend moeg en afgemat.

Daardie aand huil Lizelia haarself aan die slaap. Toe sy die volgende oggend wakker word, is sy vasbeslote om haar liefde vir Edoardo in die kiem te smoor en dit onmiddellik uit haar weerlose hart te ban. Sy besef dat dit nie maklik gaan wees nie, veral omdat sy feitlik heeldag by hom moet wees. Sy moes al baie teleurstellings in haar jong lewe te bowe kom, dus sal sy hierdie liefdesteleurstelling ook mettertyd verwerk.

Net voordat die kamermeisie haar oggendkoffie bring, staan Lizelia dadelik op om haar rooi oë te dokter. Edoardo sal natuurlik nie agterkom dat sy byna die hele nag gelê en huil het nie, maar haar rooi oë sal die werkers laat gis.

Lizelia het ook net klaar haar oë gedokter, toe bring die kamermeisie twee koppies koffie na haar kamer en sê beleef: “My heer die baron het gesê ek moet sy koffie elke oggend hier na u kamer toe bring, barones.”

“Dankie, sit maar die skinkbord op die kleedtafel neer,” sê Lizelia. Sy kam haar hare en besef dat sy versigtig sal moet wees om haar liefde vir Edoardo geheim te hou. Vasbeslote om niks te laat blyk nie, neem sy die skinkbord en stap na Edoardo se kamer.

Sy klop saggies aan die deur wat hulle kamers verbind. Dan hoor sy hom met ’n slaperige stem sê: “Kom binne, Lizelia!”

“Ek is jammer dat ek jou steur,” sê sy verontskuldigend, “maar dit was jou voorstel dat ek soggens my koffie by jou in die kamer moet kom drink.” Sy sit die koppie in sy hand en vervolg besorg: “Ek hoop jy het ’n aangename nagrus gehad, Edoardo.”

“Ek het soos ’n klip geslaap, want die probleem was toe glad nie so ernstig as wat ek aanvanklik gedink het nie. Trouens, ek het dit alreeds opgelos,” glimlag Edoardo gemoedelik. “Maar ek verstaan my teenwoordigheid word ook dringend op die plaas verlang. My oom het glo gistermiddag gebel om te vra dat ek so gou moontlik plaas toe moet kom.”

“Wat is jou plaas se naam?” wil Lizelia belangstellend weet. Sy het al gehoor dat dit ’n pronkplaas is, geleë in die Povallei naby Milaan.

“Omdat die natuurskoon daar so asemrowend is, het my grootjie, die eerste eienaar van die plek, dit Bella Mondo genoem. Dit is inderdaad ’n mooi wêreld daar in die vallei, langs die Apennyneberg met ’n takrivier van die Po wat deur die plaas vloei en besproeiing vergemaklik. Maar jy sal self sien hoe mooi die plaas is wanneer ons eers daar is,” sê hy.

“Ek het nie geweet ek moet saamgaan nie,” sê sy met ’n verwese glimlaggie.

“En wat laat jou dink dat ek jou hier sal laat agterbly?” wil Edoardo weet.

“Wel, ek het gedink aangesien dit ’n sakebesoek is …”

“Ag, my oom verlang seker maar net my toestemming om die een of ander implement vir die plaas aan te koop,” raai hy. “My liewe oom beskou sulke dinge gewoonlik as baie dringend … Ons vertrek oormôre met my vliegtuig. Ek neem Mario en Angelo saam, want ek weet nie hoe lank ons op Bella Mondo gaan vertoef nie. As die eerste sneeu begin val terwyl ons daar is, kan dit ons weke lank daar hou.”

Lizelia sit by Edoardo en gesels totdat Mario opdaag om sy werkgewer te versorg.

Dit is nou so koud en winderig dat Lizelia en Edoardo nooit meer bedags langs die rivier gaan stap nie. Hulle soek nou die sonskynhoekies in die kasteel se binnehof op, of ontspan in die sitkamer voor ’n gesellige vuur in die haard.

Dit is vir Lizelia baie moeilik om elke dag so intiem saam met Edoardo te verkeer terwyl sy weet dat hy nou enige dag die beëindiging van hulle huwelik met haar kan bespreek. Dog twee dae verstryk sonder dat hy ’n woord in dié verband rep.

Op pad na Bella Mondo sit Lizelia langs Edoardo in die vliegtuig, en Angelo en Mario sit net agter hulle. Almal is in winterjasse geklee, want ’n ysige wind waai vanuit die noorde.

“Ek hoop jy het genoeg warm klere saamgebring, Lizelia,” sê Edoardo besorg. “Ek weet nie of jy daarvan bewus is nie, maar ons winters is baie strawwer as julle s’n in die sonnige suide.”

“Ja, ek het al so iets gehoor. Ek weet nie wat die kamermeisie alles vir my ingepak het nie. Ek veronderstel sy weet wat ek op die plaas nodig sal hê; sy ken mos julle winters,” sê Lizelia gerusstellend.

“Ons sal daar anderkant seker maak dat sy die regte klere vir jou ingepak het, want jy sal warm langbroeke, warm stewels en dik truie baie nodig hê op die plaas.”

Edoardo se hand soek hare totdat hy dit vind. Hy strengel sy lang vingers versigtig deur hare, en hou dan haar hand op sy skoot asof dit iets kosbaars is.

Hierdie intieme gebaar laat Lizelia se hart weer dadelik vreemde fratse uitvoer en sy voel hoe haar liefde vir hom soos ’n verterende vuur in haar opvlam. Maar dan dink sy weer aan sy liefde vir Francesca en sy moet verbete veg om haar allesoorheersende liefde te vergeet.

Die lug is grys en mistroostig toe die vliegtuig op die plaas se netjiese aanloopbaan neerstryk. Almal is bly om die baron en sy vrou weer te sien.

Almal komplimenteer Lizelia omdat die huwelikslewe nie afbreuk aan haar skoonheid gedoen het nie. Edoardo glimlag breed en sê spottend: “Dit wys julle net hoe ’n uitstekende eggenoot ek is, en hoe goed ek haar behandel.”

“Hm, hoor net hoe blaas hy sy eie beuel,” lag sy niggie Genina hom heerlik uit. “Hy dink ons weet nie dat Lizelia ’n volle week lank sy lyfkneg moes wees nie.”

’n Opgewekte atmosfeer heers in die ontvangskamer van die groot drieverdiepingopstal. ’n Gesellige vuur brand in die kunstige haard en die hele vertrek is lekker warm. Lizelia hou baie van hierdie ou huis, en sy neem haar voor om haar verblyf saam met Edoardo hier op Bella Mondo ten volle te geniet. Sy gaan elke kosbare oomblik geniet en nie een maal aan Francesca dink nie.

Sake hou Edoardo, sy oom en Angelo twee dae in die studeerkamer besig – twee dae waartydens Lizelia die res van die familie beter leer ken. Toe alles eindelik afgehandel is en die mans ook by hulle in die gesellige ontvangskamer aansluit, is dit die eerste keer sedert hulle aankoms dat Edoardo en Lizelia regtig met mekaar kan gesels.

“Nou kan jy vir my vertel wat jy die afgelope twee dae alles gedoen het, ou meisietjie,” sê Eduardo toe hy langs Lizelia op ’n rusbank plaasneem.

Voordat Lizelia hom egter kan antwoord, verskyn Francesca se lang, skraal gestalte in die ontvangskamer se deur, en Lizelia voel hoe ’n ongekende wrewel in haar opvlam.

Francesca groet almal met ’n gemaak opgewekte stem. Dan pyl sy op Edoardo af, slaan haar arms om sy nek en soen hom hartlik op die mond.

“O, Edoardo, ek is so bly om jou weer te sien!” sê sy skaamteloos en neem ongenooi aan die ander kant van die edelman plaas. “Ek is al twee dae hier in Milaan en ek hoor vanmiddag eers dat jy hier op Bella Mondo is vir sake.”

“En toe besluit jy om die middag saam met ons te kom deurbring,” voltooi Edoardo ongeërg haar sin.

“Wel, ek het só na jou verlang, skat, ek kon net nie wegbly nie,” lag Francesca met haar heserige stem. “Trouens, ek het gehoop dat ek ’n paar dae hier by julle sal kan oorbly, want die vriende by wie ek gekuier het, het vanoggend na die suide vertrek. Die taxi wat my gebring het, is alreeds weg.”

Lizelia besef dat haar gelukkige oomblikkies saam met Edoardo nou vir goed iets van die verlede is, want Francesca het gekom om hom vir haarself op te eis. Sy hou haar asem op terwyl sy wag om te hoor hoe Edoardo hierop gaan reageer.

Susanna M Lingua-keur 11

Подняться наверх