Читать книгу Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M Lingua - Страница 4

1

Оглавление

__

’n Aangename gevoel van opwinding stu oorweldigend in die twee en twintigjarige Lizelia Heyns op toe sy Rome vanuit die lug in die verte sien nader skuif. Sy dink aan die wonderlike vakansie wat hier in die vreemde, waar dit tans somer en heerlik warm is, op haar en haar moeder wag.

Die gedagte aan haar moeder laat haar onwillekeurig terugdink aan die hartseer en kommer wat sy die afgelope vier maande beleef het. Sy dink aan die rampspoedige motorongeluk wat haar vader se lewe geëis het en haar moeder, weens talle beserings, twee maande lank aan ’n hospitaalbed gekluister het.

Die dokter het Irma Heyns twee maande gelede uit die hospitaal ontslaan en voorgestel dat Lizelia haar Italië toe neem waar sy hopelik vinniger sal aansterk. Hulle het ’n besonder koue winter in Suid-Afrika gehad, en die dokter het gedink dat Italië se sonnige klimaat Irma sal goed doen.

Lizelia het die arts se voorstel heelhartig gesteun, want dit was selfs vir haar duidelik dat haar moeder, wat by dieselfde skool as sy onderwys gee, eers baie goed sal moet aansterk voordat sy weer in die tuig sal kan staan.

Die skoolhoof was so vriendelik om aan hulle albei ’n maand verlof toe te staan, maar Lizelia het getwyfel of hulle genoeg geld sou hê om die vakansiekoste vir al twee te dek.

Haar ma het egter volstrek geweier om alleen na Europa te reis. Gevolglik moes sy al haar spaargeld gebruik om haar moeder op hierdie reis te vergesel …

Die liggies flits bokant die sitplekke en die passasiers word versoek om hulle sitplekgordels vas te maak, aangesien hulle binne ’n paar minute op Fiumicino-lughawe sal neerstryk.

Lizelia se blou oë helder dadelik op toe sy die groot lughawe ver onder hulle opmerk. Die lugwaardin, wat tydens die reis opgemerk het hoe swak en uitgeput Irma daar uitsien, help hulle vriendelik om met hulle aankoms op die lughawe ’n taxi te kry wat hulle onverwyld na hulle hotel neem.

Lizelia is die lugwaardin dankbaar vir haar behulpsaamheid. Sy voel juis soos die spreekwoordelike vreemdeling in Jerusalem, want nie sy of haar moeder verstaan ’n enkele woord van hierdie vreemde land se taal nie.

Dit voel vir Lizelia of die noodlot haar darem goedgesind is, want die bestuurder van die Ambasiatore Hotel kan gelukkig ’n geradbraakte Engels besig.

Ná al die formaliteite afgehandel is, vergesel ’n portier hulle na hulle kamer wat op die eerste verdieping geleë is. Lizelia sug hoorbaar van verligting toe hulle eindelik alleen in die kamer is.

“Ek dink dit is raadsaam dat Mams nou eers gaan rus,” doen sy besorg aan die hand. “Mams is so bleek soos die dood, en dit van skone uitputting.”

Sy verwyder een been se deken en maak haar ma met liefdevolle hande gemaklik. Hierna bestel sy vir hulle tee. Irma het ook net haar tee gedrink, toe raak sy aan die slaap.

Lizelia voel ietwat onrustig terwyl sy die slapende vrou stil betrag. Sy wonder meteens of dit ’n wyse besluit was om haar moeder so ver te laat reis. Maar dan dink sy weer aan die vier weke wat haar moeder hier in die warm sonskyn sal kan aansterk, en sy voel weer opgeruimd.

Sy kyk deur die venster na die vreemde stad. Dan val dit haar by van die stadskaart van Rome wat ’n vriendin vir haar gegee het. Sy haal die kaart uit haar tas, sprei dit op haar bed oop en bestudeer dit met groot konsentrasie. Dit duur etlike minute voordat sy weet waar die Ambasiatore Hotel geleë is. Noudat sy dit weet, vind sy dit glad nie moeilik om al die plekke op te spoor wat sy graag wil besigtig nie.

Lizelia bestee ’n volle uur aan die kaart. Sy memoriseer ’n groot gedeelte van die stad, maar besluit om die kaart veiligheidshalwe altyd in haar handsak te hou. Sy vou dit versigtig toe en gaan sit dit in haar handsak.

Peinsend gaan staan sy voor die kamervenster en staar na die stilvloeiende water van die Tiberrivier wat agter die hotel verbyvloei. ’n Paar tree van haar kamervenster af merk sy ’n mooi brug wat oor die rivier strek. Verder as dit kan sy nie sien nie, maar sy besluit om vandag nog met ’n deeltjie van die stad kennis te maak.

Lizelia draai van die venster af weg en merk dat haar moeder diep en rustig slaap.

Sy sal beslis nie gou wakker word nie, besef Lizelia, en besluit om intussen ’n kort wandeling langs die rivier te onderneem. Die tasse sal sy later uitpak wanneer haar moeder wakker is.

Met die breë band van haar handsak gemaklik oor haar skouer, verlaat Lizelia die kamer sonder om haar moeder te steur. Sy kan nie meer wag om hierdie beroemde stad te besigtig nie.

Rome lê deurdrenk in heerlike warm sonskyn, en Lizelia kan byna nie glo dat hulle net gisteraand nog in die snerpende koue op Johannesburg-lughawe gestaan en bibber het nie. In een kort nag het hulle van wêreld en klimaat verwissel.

Sy stap stadig en op haar gemak om die hotel se hoek na die brug wat sy vroeër deur haar kamervenster opgemerk het. Sy staan ’n ruk op die brug en kyk hoe die water stadig onder haar verbyvloei en sierlik deur die eeue oue stad kronkel. Dan stap sy verder. Sy wil vandag nog gaan kyk hoe lyk die veelbesproke park Villa Borghese.

Die vriendin wat vir haar die kaart gegee het, het twee jaar lank aan Rome se konservatorium vir musiek gestudeer en het haar van al die besienswaardighede in Rome vertel. Sý was gaande oor die Villa Borghese, en aangesien dit so naby aan die hotel is, besluit Lizelia om sommer dadelik soontoe te stap.

Lizelia slenter tydsaam in die rigting van die park terwyl sy alles om haar met belangstelling bekyk. Sy kan nie juis in vervoering raak oor die ou geboue nie – sy is ’n kind van die twintigste eeu. Maar sy moet darem erken dat sy van Rome se mooi, kunstige vywers hou, veral die beeldhouwerk.

Sy doen eers aan by die legendariese Fontana di Trevi met sy beelde van watergode en perde wat wild met hulle pote in die lug kap, en water wat soos ’n waterval oor kunstige rotsnimfe stroom. Hier is ’n mens veronderstel om iets te wens en daarna ’n muntstuk in die water te gooi – dit verseker glo dat jou wens bewaarheid word!

Lizelia kan nie help om te glimlag toe sy aan hierdie unieke manier van geldmaak dink nie. Dit verhinder haar egter nie om self ook ’n muntstuk in die fontein te gooi nie. Maar voordat sy iets kan wens, val haar oog op twee mans wat ’n entjie van haar af op ’n bankie sit. Die een man, baie deftig geklee, dra ’n donkerbril en sy skat hom niks ouer as in sy vroeë dertigs nie. Die ander kêrel is beslis al middeljarig.

Sy hou die jonger man ongemerk dop – nie net omdat hy die aantreklikste man is wat sy nog ooit gesien het nie, maar omdat daar so ’n harde, stroewe en onverbiddelike trek om sy mond is, en hy so hooghartig en ongenaakbaar lyk. Die man interesseer haar op ’n vreemde en onverstaanbare manier.

Drie meisies en twee luidrugtige jong mans kom ’n entjie van haar af staan. Die vrypostige wyse waarop die mans haar van kop tot tone betrag, laat haar besluit om maar liewer terug te gaan hotel toe. As haar moeder môre beter voel, kan hulle saam in die park gaan stap, besluit sy.

Irma slaap nog rustig toe Lizelia by die hotel aankom, dus is sy genoodsaak om alleen ondertoe te gaan vir middagete.

Daardie aand kan Lizelia nie aan die slaap raak nie. Die kamer is vreemd, die geluide wat van buite af deur die oop venster kom is vreemd en om alles te kroon, dwaal haar gedagtes knaend na die man met die donkerbril wat so bitter ontevrede gelyk het met die lewe.

Sy kan die man net nie plaas nie. Hy het nie vir haar gelyk na die soort man wat gewoonlik in parke rondsit nie. Inteendeel, hy het vir haar meer gelyk na ’n gegoede sakeman wat ’n vreeslike grief teen die lewe koester.

Dit is lank ná middernag toe Lizelia eindelik aan die slaap raak – ’n rustige, droomlose slaap.

Irma voel die volgende oggend heerlik uitgerus en gesond genoeg om ontbyt in die eetkamer te gaan nuttig. Sy en Lizelia het al twee koel, deftige broekpakke aan – gereed om die heerlike sonnige dag hier in Italië se hoofstad te geniet.

“Mams sien vanoggend daar goed uit,” merk Lizelia aan die ontbyttafel op, terwyl haar blik sag en vol deernis op haar moeder rus.

“Dit is omdat ek vanoggend weer soos ’n mens voel,” glimlag Irma ietwat weemoedig, want die dood van haar man is iets wat haar nog baie lank sal bybly. “Maar ek moet sê jy lyk vanoggend self soos ’n vrolike sonstraaltjie, my kind.”

“Ek is bly dat Mams so goed voel,” glimlag Lizelia saam. “Die dokter het dus gelyk gehad: al wat Mams nodig het, is warm sonskyndae. Maar sê my, voel Mams sterk genoeg om my vanoggend op ’n uitstappie te vergesel?”

Lizelia sien opgewonde daarna uit om al Rome se historiese besienswaardighede te besigtig. Sy wil so graag al die kunswerke van die ou meesters gaan bewonder.

Terwyl Lizelia vir haar ’n tweede koppie koffie skink, antwoord haar moeder met ’n mooi, rustige stem: “Ek voel heeltemal uitgerus en sterk genoeg om saam met jou te gaan, my kind. Ek wil trouens self ook graag ’n paar plekke sien …”

Lizelia stel voor dat dit ’n ideale geleentheid is om ’n uitstappie na Tivoli te onderneem. Sy ontbied ’n taxi, en al gou verlustig hulle hulle in die mooi, kunstige vywers in die tuine van Villa d’Este. Die rustige tuine is vir albei soos ’n verkwikkende oase in ’n woestyn van mense, voertuie en geboue.

Hulle bring byna twee uur in die fraai tuine van Villa d’Este deur. Dan gaan hulle na die skilderagtige tuine van Keiser Hadrianus. Hier vertoef hulle baie langer as wat hulle aanvanklik van plan was, en bereik die hotel net betyds vir middagete.

Ná middagete sê Irma dat sy hoofpyn het en maar liewer die res van die middag wil rus. Lizelia besluit om dan maar alleen ’n draai in Villa Borghese te gaan maak, want gister het sy slegs so ver soos Fontana di Trevi gekom.

Lizelia is verbaas toe sy die man met die donkerbril en sy maat in Villa Borghese se park aantref. Sy stap ’n paar tree voor hulle verby en volg dan ’n kronkelpaadjie wat na ’n kerkie toe lei, maar sy bly deurentyd bewus van die aantreklike man met die donkerbril. Sy wonder of hulle elke middag op hierdie manier ontspan. Of is hulle maar die soort wat hulle dae in parke deurbring?

Lizelia neem haar voor om terstond van die man met die donkerbril te vergeet en nooit weer toe te laat dat hy haar beïndruk nie. Sy spits haar gedagtes doelbewus toe op die kerkie wat half in die hoek van die park staan. Ná ’n rukkie staan sy aan die bopunt van ’n mag der menigte trappe wat na die plein toe lei.

Van hier af het sy ’n pragtige uitsig oor ’n groot deel van die stad. Sy staan ’n ruk na die oerwoud van geboue en kyk. Dan merk sy dat die son vinnig besig is om te sak en besef dat dit tyd is om terug hotel toe te gaan.

Irma se hoofpyn het nog nie verbeter toe Lizelia net voor sononder by die hotel kom nie. Toe vergesel sy haar dogter na die eetkamer vir aandete. Die volgende dag word sy nog steeds deur die hoofpyn geteister, en Lizelia is genoodsaak om haar verkenningstog van die stad alleen voort te sit.

“Ek dink dit het tyd geword dat Mams ’n dokter raadpleeg in verband met hierdie vermoeiende hoofpyne, anders kan dit Mams se hele vakansie bederf,” doen Lizelia aan die hand toe haar ma daardie aand aankondig dat sy nie in staat voel om af te gaan eetkamer toe vir aandete nie.

“Ek is seker ek sal môre beter voel,” skerm Irma, maar sy weet dat hierdie hoofpyn haar, soos gewoonlik, ’n paar dae lank sal teister voordat dit verbeter. Maar dit verswyg sy, soos sy dit die afgelope twee maande al verswyg.

Irma voel die volgende dag nog niks beter as die vorige twee dae nie, en Lizelia moet haar verkenningstog maar weer alleen voortsit. Sy stap al met Via Del Babbuine langs. Dit voel amper vir haar of sy in ’n kunsmuseum beland het. Werke en onbekende kunstenaars is in die talle winkelvensters uitgestal, en vir Lizelia is dit duidelik dat baie van hulle nie lank onbekend sal bly nie.

Sy sal voor hulle vertrek na Suid-Afrika hier ’n skildery kom koop, besluit sy toe sy op haar polshorlosie kyk en merk dat sy die ganse oggend voor Via Del Babbuine se winkelvensters verwyl het. Sy besluit om maar eers te gaan kyk hoe dit met haar moeder gesteld is. Dan kan sy haar verkenningstog weer ná middagete voortsit.

Met haar aankoms by die hotel tref sy haar moeder in ’n beswyming op die vloer aan.

Wasbleek van skok kniel sy haastig langs haar ma, voel haar polsslag en sug hardop van verligting toe sy besef dat haar moeder slegs in ’n beswyming verkeer.

Sy sal dadelik ’n dokter moet ontbied, flits dit deur haar verwarde gedagtes. Dan moet sy ook iemand vra om haar te help om haar ma op die bed te kry.

Diep bekommerd kom Lizelia orent om ’n kamermeisie te ontbied. Hierna maak sy gou haar moeder se bed gereed. Sy is nog met hierdie takie besig, toe die kamermeisie haar opwagting maak.

“Help my asseblief om my moeder op die bed te kry,” versoek sy die meisie op Engels, ’n taal wat sy gelukkig darem op ’n manier kan verstaan.

“Dit lyk of die signora ’n dokter nodig het,” stamel die kamermeisie toe hulle Irma eindelik op die bed het.

Lizelia knik, maak haar moeder versigtig met die deken toe en vra bekommerd: “Sal jy asseblief die bestuurder vra om vir my ’n dokter te ontbied, juffrou?”

“Si, si, signorina,” verseker die kamerbediende haar met vriendelike handgebare en verlaat die kamer haastig.

Lizelia is besig om haar moeder se hande en gesig met ’n nat lap af te vee toe die hotelbestuurder aan die kamerdeur klop en die vertrek op haar uitnodiging binnestap.

“Ek het dottore Montesi vir u mamma ontbied,” lig hy haar saaklik in. “Nou kan u vir my sê hoe ek u nog van diens kan wees, signorina.”

Lizelia plaas die nat lap op die bedtafeltjie, trek haar smal skouertjies liggies op en sê met weemoed in haar stem: “U het my reeds oneindig baie gehelp deur die dokter te ontbied, meneer Saragnese. Maar ek vrees ek sal nie ’n woord verstaan wat die dokter sê nie.”

“U hoef u nie oor die dottore te bekommer nie, signorina,” verseker die behulpsame bestuurder haar dadelik. “Die dottore kan baie goed Engels praat.”

Dit voel meteens vir Lizelia of ’n swaar las van haar skouers af is, want sy het die hele tyd gevrees dat sy en die dokter mekaar nie sal kan verstaan nie.

“Ek weet eerlikwaar nie hoe om u vir u vriendelikheid te bedank nie, meneer Saragnese,” sê sy met innige dankbaarheid. “Ek hoop net my moeder is nie ernstig siek nie, want ons het juis Europa toe gekom sodat sy kan aansterk na ’n onlangse siekbed.”

“Ek verstaan, signorina. Ek sal in my kantoor wees indien u my hulp nodig het,” bied die bestuurder behulpsaam aan. Intussen hoop ek dat u mamma gou sal herstel.”

Met hierdie woorde verlaat die bestuurder die vertrek en is Lizelia weer alleen met die bewustelose Irma. Sy het geen benul waarom haar moeder in hierdie toestand verkeer nie. Sy streel saggies met haar hand oor die bewustelose vrou se bleek gelaat en ’n onkeerbare hartseer wel meteens oorweldigend in haar op. Sy voel hoe die trane warm in haar oë opskiet, maar sy vee hulle haastig met die agterkant van haar hand af. Sy besef dat sy haar nie nou aan trane durf oorgee nie, want die dokter kan enige oomblik sy opwagting maak en om haar moeder se ontwil moet sy sterk bly.

Lizelia neem die nat waslap en wil net weer haar moeder se gesig daarmee afvee, toe die middeljarige dokter saggies aanklop, die deur oopstoot en die kamer binnestap.

“Ek is dokter Montesi, en u is natuurlik die pasiënt se dogter?” hoor sy die arts op Engels met ’n swaar Italiaanse aksent vra.

Lizelia knik net, sit die waslap op die bedkassie neer en sê met ’n hartseer stem: “Ek is onuitspreeklik bly dat u so gou gekom het, dokter. Ek voel absoluut magteloos omdat ek nie weet wat om vir my moeder te doen nie. Ek het geen benul wat haar makeer of wat met haar gebeur het nie.”

Terwyl die dokter die pasiënt ondersoek, vra hy Lizelia uit na haar moeder se gesondheidstoestand. Sy vertel hom van die motorongeluk vier maande gelede; dat haar moeder sedert eergister al hoofpyn het en dat sy haar ’n rukkie gelede in hierdie bewustelose toestand op die kamervloer aangetref het. “My moeder het dikwels oor hoofpyn gekla, dokter,” sluit Lizelia af.

Die dokter sukkel byna twintig minute lank vrugteloos om Irma uit haar beswyming by te bring.

“U moeder sal sonder versuim in die hospitaal opgeneem moet word, juffrou Heyns,” kondig die arts aan terwyl hy sy stetoskoop versigtig in sy tas terugsit. “U moeder verkeer in ’n koma, nie in ’n floute soos u aanvanklik gedink het nie.”

Lizelia is skoon dronkgeslaan van skok, en kan die man slegs stil aankyk met oë wat nou in trane swem.

“Is … my moeder se toestand ernstig, dokter?” vra sy met ’n knop in haar keel wat dreig om haar stem uit te wis.

Daar is deernis in die dokter se stem toe hy sy hand vertroostend op haar skouer sit en sag sê: “Ja, ek vrees u moeder se toestand is ernstig, juffrou. Maar presies hóé ernstig, weet ek nog nie. Ek stel voor dat u solank vir haar die nodige in ’n tas pak en haar in die ambulans na die hospitaal vergesel.”

Lizelia voel diep bekommerd en verward, want hulle het nie voorsiening vir siekte of hospitaalkoste hier in die vreemde gemaak nie. Tuis is daar ook nie meer geld in die bank waarop hulle kan reken nie.

Ná die dokter se vertrek haas Lizelia haar om die nodige vir die sieke ingepak te kry. Sy is ook net hiermee klaar toe die ambulans vir die hotel stilhou.

Die hospitaal is gelukkig nie baie ver van die hotel af nie. Hieroor is Lizelia bly, want nou het sy nie nodig om elke keer ’n bus te haal nie. Sy besef dat sy elke sent sal moet spaar vir haar moeder se mediese behandeling en die hospitaalkoste.

Lizelia sit byna heelmiddag in die hospitaal se wagkamer om te hoor of die dokters al vasgestel het wat haar moeder makeer. Sy kan nie eens vir ’n verpleegster vra hoe dit met haar moeder gaan nie, want sy kan hulle taal glad nie verstaan of praat nie. Sy blaai dus maar deur die tydskrifte en kyk na die prente, terwyl haar gedagtes voortdurend by haar moeder is.

Lizelia sug saggies van verligting toe dokter Montesi eindelik sy verskyning in die wagkamer se deur maak. Sy staan haastig van die stoel af op, loop hom tegemoet en vra met iets dringends in haar stem: “Dokter, het u al vasgestel wat my moeder makeer? Is sy nog in ’n koma?”

Die geneesheer kyk die meisie ’n paar tellings stil, ondersoekend aan, en sê dan versigtig: “U moeder verkeer nog steeds in ’n koma, juffrou Heyns, en ek vrees haar toestand is kritiek. Sy sal heel moontlik ’n operasie moet ondergaan. Maar dit sal ons eers môre seker weet nadat die breinspesialis die x-straalplate bestudeer het. U sien, die plate toon ’n gewas op die brein aan. Maar hoe ernstig dit is, sal ons eers môre weet. Om julle ontwil hoop ek dis nie ernstig nie.”

Lizelia is meteens doodsbleek van skok en ontsteltenis. Sy kan nie glo dat daar so ’n donker, dreigende wolk oor haar moeder se lewe hang nie. Tog weet sy dat die dokter nie sommer dinge sal sê wat nie so is nie.

“Kan ek my moeder ’n paar minute lank besoek, dokter?” vra sy met ’n onvaste stem.

“Ja, kom, ek sal u gou na haar toe neem,” bied hy vriendelik aan. “U is natuurlik welkom om haar enige tyd te besoek.”

Die dokter voel weer Irma se polsslag, luister na haar hart en sê ná ’n rukkie: “Ek dink u moet liewer nou gaan rus, juffrou Heyns. As u wil, kan u saam met my ry. Ek ry gewoonlik voor die hotel verby, en dit is glad nie moeite om net daar stil te hou nie.”

Lizelia bedank die arts vir sy vriendelike behulpsaamheid en verlaat die hospitaal met ’n hart wat swaar is van kommer en onrus. Voor die hotel bedank sy hom weer toe sy uit die motor klim. Met ’n vriendelike dog afgetrokke groet stap sy die hotel binne. Sy besef dat sy eers die hotelbestuurder sal moet vertel van die ramp wat haar en haar moeder getref het, voordat sy na haar kamer toe gaan om ’n rukkie te rus voor aandete.

Lizelia voel daardie aand baie eensaam en verlore sonder haar moeder. Haar gedagtes bly voortdurend by die sieke in die hospitaal, en sy bid dat dit nie nodig moet wees om te opereer nie. Waar gaan hulle die geld kry om vir ’n operasie te betaal? Nie een van hulle twee het ’n ekstra sent in die bank nie!

Lizelia het nou ’n splinternuwe bekommernis bygekry. ’n Gewas op die brein, weet sy, kan rampspoedige gevolge hê indien dit nie betyds verwyder word nie. Maar aan die ander kant is dit weer ’n baie delikate operasie, en in sommige gevalle uiters gewaag. Dan is daar ook nog die geldkwessie …

Vir Lizelia wat nog nooit met sulke probleme te kampe gehad het nie, voel dit of sy in ’n maalstroom beland het wat haar met groot krag en geweld die dieptes wil insleur. Sy voel absoluut magteloos en weet nie hoe om die situasie die hoof te bied nie … tensy dokter Montesi dit kan reël dat haar moeder in Suid-Afrika geopereer word.

Hierdie gedagte laat haar kommer meteens effens minder word en ná ’n rukkie raak sy eindelik aan die slaap.

Dit voel vir Lizelia soos ’n ewigheid wat sy al hier in die hospitaal se wagkamer op die breinspesialis se bevinding sit en wag. Maar in werklikheid het daar maar twintig minute verstryk sedert sy versoek is om in die wagkamer te wag. Sy sluit haar oë en leun gespanne agteroor in die stoel, totdat haar kop teen die koel muur rus.

Sy wip soos sy skrik toe dokter Montesi skielik langs haar sê: “Die ondersoek is afgehandel, juffrou Heyns. Dokter Carini wil u graag in sy kantoor spreek.”

“Ek kom dadelik, dokter,” sê sy en staan haastig van die stoel af op.

Lizelia is duidelik gespanne toe dokter Montesi haar aan die breinspesialis voorstel. Hy nooi haar vriendelik om te sit en sê dan op Engels: “Ongelukkig is die uitslag van my ondersoek glad nie bemoedigend nie, signorina. Die signora sal so gou moontlik geopereer moet word; haar lewe hang daarvan af. Maar ek moet u ook waarsku dat dit ’n uiters gewaagde operasie is.”

Hy verduidelik waarom die operasie so gevaarlik is, maar Lizelia verstaan niks van al die mediese terme en Italiaanse woorde wat hy gebruik nie. Sy verstaan wel toe hy sê: “U vader sal onmiddellik van die operasie in kennis gestel moet word, signorina. Die operasie kan slegs ’n paar dae lank uitgestel word.”

“My vader is oorlede, dokter,” sê Lizelia verbysterd, bleek soos die dood. “Ek weet ook nie waarvandaan ek die geld gaan kry om vir die operasie te betaal nie. Ek en my moeder het al ons geld gebruik om hierdie reis na Italië te onderneem.”

“In u land is daar tog seker ’n familielid wat u geldelike steun kan bied, signorina?” hoor sy die spesialis bedaard sê. “U moeder se lewe is op die spel, en die operasie kan nie langer as ’n paar dae uitgestel word nie; daarna sal dit te laat wees.”

“Kan die operasie nie in Suid-Afrika gedoen word nie, dokter?” vra sy hoopvol, want daar kan sy probeer reël om die hospitaal en die chirurg paaiementsgewys te betaal.

Haar hoop word egter dadelik verydel toe die spesialis sy kop skud en simpatiek sê: “Ek vrees dit sal fataal wees om die signora in hierdie kritieke toestand te laat reis. Ek stel voor dat u liewer nou dadelik probeer om met ’n familielid in aanraking te kom; daarna kan u met dokter Montesi kontak maak.”

Met hierdie woorde staan die spesialis van sy stoel af op, en Lizelia weet intuïtief dat die onderhoud afgehandel is. Sy groet die twee geneeshere en verlaat die dokter se kantoor soos ’n slaapwandelaar. Sy vertoef ’n paar minute langs haar moeder se bed. Die gedagte dat net ’n operasie haar lewe kan red, maak Lizelia so beangs dat sy haastig buitetoe vlug.

Verblind deur trane stap sy na die rustige atmosfeer van Villa Borghese se park, waar sy hierdie groot ramp wat hulle getref het in stilte kan bepeins. Sy gaan sit op ’n bankie en is nie eens bewus van die man met die donkerbril en sy vriend wat ’n paar tree agter haar sit nie.

Lizelia sit ’n hele rukkie en wonder hoe sy die geld vir die operasie in die hande kan kry. Maar sy kan aan geen instansie dink waar sy om hulp kan aanklop nie en sover sy weet, het hulle ook geen gegoede familie tot wie sy haar kan wend nie.

Sy voel meteens so magteloos, mismoedig en hartseer dat sy haar gesig in haar hande verberg en saggies begin huil. Die gedagte dat sy dalk nou ook haar moeder aan die dood sal moet afstaan, laat haar hart voel of dit in skerwe gebreek is.

Lizelia huil saggies. Sy voel só verlore. Tog hoor die man met die donkerbril haar.

“Wie snik so droewig, Mario?” vra die man met die donkerbril vir sy middeljarige lyfkneg.

Mario luister vir ’n oomblik aandagtig, kyk dan om en sien die blonde meisie wat huil asof haar hart wil breek, op die bankie agter hulle sit.

“Dit is ’n meisie, my heer die baron,” sê Mario met eerbied en respek vir sy adellike werkgewer. “Sy sit op die bankie agter ons. Ek het haar al een of twee maal vorentoe hier in die park opgemerk, en sy het vir my nog altyd baie gelukkig en opgeruimd gelyk. Ek wonder wat het gebeur dat sy vandag so hartseer is?”

“Dit is bepaald ’n liefdesteleurstelling,” meen die baron.

“As dit ’n liefdesteleurstelling is, my heer die baron, moet die man inderdaad vermetel wees as hy dink hy sal ’n mooier meisie as sy raakloop,” laat Mario weer hoor. “So ’n seldsame skoonheid sien ’n mens nie elke dag nie.”

Daar is ’n kort rukkie stilte, dan sê die edelman met duidelike minagting in sy stem: “Beskryf die wonderskone dame vir my, my goeie Mario. Dit is inderdaad die eerste maal dat jy so gaande raak oor ’n meisie se voorkoms.”

“Sy is klein, fyn en blond, my heer die baron,” begin Mario se beskrywing van Lizelia. “Haar hare is lank, krullerig en goudkleurig. Haar oë het ek nog nie van naby gesien nie, maar sy lyk amper net soos Gina Lollobrigida, net nog mooier as ons geliefde Gina.”

“Ek het jou beskrywing gevolg, my goeie Mario, en ek moet sê die dame klink nie te onaardig nie. Nou kan jy net vir ons gaan kyk hoe lyk haar oë. Ek wed jou hulle is blou,” kom dit ongeërg van die edelman.

Mario kyk sy werkgewer aan asof hy dink dat die jong man van sy wysie af is. Maar die nege en twintig jaar wat hy al in die baron se diens is, het hom geleer om enigiets van die jong edelman te verwag.

“Maar, my heer die baron, ek kan tog nie vir die dame sê ek kom net kyk wat die kleur van haar oë is nie …”

“Nee, natuurlik kan jy nie, my liewe Mario,” help die edelman hom half ongeduldig reg. “Maar jy kan haar gaan vra waarom sy so droewig huil, en vra of daar iets is wat jy vir haar kan doen om haar weer in ’n goeie stemming te bring!”

“Nou goed, ek sal gaan hoor wat ek vir die dame kan doen, my heer die baron,” sê Mario met ’n sweem van ’n glimlag. “Ek hoop nie sy dink ek is voorbarig nie.”

“Jou heldin sal bitter ondankbaar wees as sy dít van jou dink,” merk die edelman op toe sy lyfbediende opstaan en na die snikkende meisie toe stap.

Lizelia is so vasgevang in haar verdriet dat sy dit nie eens opmerk toe Mario langs haar op die bankie kom sit nie. Sy snik saggies en droewig, maar hoor dan skielik ’n besorgde manstem langs haar vra: “Ti fa molto malé, signorina? Voel jy siek?”

Sy skud haar mooi blonde kop, droog haar trane af en sê met al die hartseer en weemoed van die wêreld in haar stem: “Ek is jammer, maar ek verstaan nie jou taal nie, meneer, en ek praat ook nie met vreemde mans nie. Gaan asseblief en laat my alleen.”

“Verskoon my, ek wil nie onbeleef wees nie, signorina,” sê Mario nou in ’n mengsel van Engels en Italiaans, “maar my werkgewer, die baron, het gesê ek moet kom hoor waarom u so hartseer huil. U sien, my werkgewer is blind, daarom het hy my gestuur om te kom hoor of daar iets is wat ons vir u kan doen. My naam is Mario Cordoni, en ek is die baron se lyfbediende.”

Lizelia kyk die middeljarige man eers wantrouig aan. Daar is duidelike besorgdheid in sy oë en op sy gelaat, en dit gee haar die nodige vrymoedigheid om haar moeder se toestand met hom te bespreek.

“Wanneer word u moeder geopereer?” vra Mario met merkbare meegevoel.

Lizelia skud haar kop stadig en die trane begin weer oor haar wange rol.

“Ons het nie geld om vir die operasie te betaal nie, meneer,” sê sy met trane in haar stem. “Ek het dit al oorweeg om selfs my moeder se ringe te verkoop, maar die ringe sal nie genoeg oplewer om die operasiekoste te dek nie.”

“U verkeer inderdaad in ’n onbenydenswaardige posisie, signorina,” sê Mario ingedagte. “Ja, u het inderdaad rede om hartseer te voel. Maar u het my nog nie gesê wat u naam is nie.”

“Ek is Lizelia Heyns, en ons is in die Ambasiatore Hotel tuis, meneer Cordoni,” sê sy sag. “U wonder natuurlik ook waarom ek al die verantwoordelikheid vir my moeder se siekte moet dra. My vader het vier maande gelede in ’n motorongeluk omgekom. My moeder was saam met hom in die ongeluk, en het twee maande lank in die hospitaal gelê met talle beserings. Hierdie vakansie was juis beplan sodat sy kon aansterk.”

Lizelia soek in haar handsak na ’n sneesdoekie, en sê weer na ’n paar sekondes: “Ek is jammer dat ek u met my probleme verveel het, meneer Cordoni. U werkgewer is bepaald al ongeduldig omdat u so lank wegbly. Ek waardeer sy belangstelling, en u moet hom asseblief namens my bedank.” Mario besef dat Lizelia alleen met haar hartseer en probleme wil wees, daarom staan hy haastig van die bankie af op en groet haar beleef.

“Wel, ek moet sê, jy het lank weggebly, my goeie Mario,” begroet die baron hom ongeërg toe hy weer langs hom op die bankie gaan sit. “Is dit moontlik dat jy jou nie van die aantreklike dame kon losskeur nie? Ek hoor sy huil nie meer nie!”

“Haar naam is Lizelia Heyns, my heer die baron. Sy is onbeskryflik mooi en baie verfynd,” vertel Mario ongestoord. “U het gelyk gehad, haar oë is blou – saffierblou en amper deurskynend, sou ek sê. Sy en haar moeder kom van Suid-Afrika af, en het vier dae gelede hier aangekom met vakansie. Hulle was egter net twee dae hier in Rome toe die vreeslike ramp hulle getref het …”

Mario vertel sy werkgewer van die motorongeluk waarin Lizelia haar vader verloor het, van haar moeder se verblyf in die hospitaal en dat hierdie vakansie bedoel was vir Irma om aan te sterk. Dan vertel hy die edelman kortliks van die ramp wat die twee dames twee dae gelede getref het, en dat Lizelia nie die operasiekoste kan bybring nie.

“So, dit is toe nie ’n liefdesteleurstelling nie,” sê die baron met ’n ongeërgdheid wat aan harteloosheid grens. “Ek wonder of dit nie maar net ’n wolhaarstorie is wat sy jou vertel het om geld uit jou te kry nie, Mario. Die lewe het my geleer dat ’n vrou enigiets sal doen vir geld en die dinge wat geld kan koop.”

“Ek glo nie dit is ’n wolhaarstorie nie, my heer die baron,” waag Mario dit om sy adellike werkgewer te weerspreek. “Sy wou aanvanklik niks met my te doen hê nie. Sy het my onomwonde laat verstaan dat sy nie met vreemde mans praat nie en dat ek haar asseblief alleen moet laat … Nee, sy lyk nie vir my na die soort wat leuens sal versin om geld uit ’n man te kry nie. Haar hartseer en kommer is ook heeltemal eg.”

“Dis waar, ’n mens kan altyd by die hotel en by die hospitaal uitvind of sy die waarheid praat,” gee die baron toe. “Het die dame vir jou gesê wie die spesialis is wat die operasie moet uitvoer?”

Mario skud sy kop verleë en sê verskonend: “Ek kan haar gou gaan vra, my heer die baron.”

“Nee, wag, ek dink dit sal beter wees as jy my aan die dame voorstel sodat ek self met haar kan praat, my goeie Mario,” doen die baron aan die hand. “Jy mag baie ouer as ek wees, maar ek dink ek ken vroumense baie beter as jy. Hulle is almal eenders; ewe selfsugtig.” Die edelman staan versigtig van die bankie af op en vervolg bedaard: “Kom, neem my na die dame toe en laat ons dan alleen.”

Susanna M Lingua-keur 11

Подняться наверх