Читать книгу Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M Lingua - Страница 6

3

Оглавление

__

Dit is die laaste aand van Lizelia se verblyf in die hotel. Sy het alreeds haar en haar moeder se tasse gepak. Môreoggend trek sy na die villa. Op die oomblik voel sy moeg en uitgeput van die gewerskaf, maar sy kan ook nie aan die slaap raak nie. Haar komende huwelik met die edelman rus soos ’n berg op haar smal skouers.

Lizelia lê tot laat daardie nag aan die baron en dink. Hy is so trots, hooghartig, verbitter en sinies. Sy wonder of hy ooit met haar diens tevrede sal wees, of sal sy hom ook ná ’n paar dae irriteer soos al haar voorgangers? En dan is daar ook nog sy leefwyse. Sal sy ooit by sy leefwyse kan aanpas? Sy is gewoond aan ’n eenvoudige lewe, sonder die swier en luister wat sy gisteraand in sy villa opgemerk het. Hulle het sulke uiteenlopende geaardhede en het geen gemeenskaplike belangstellings nie. Hulle praat nie eens dieselfde taal nie!

Talle vrae flits deur Lizelia se gedagtes, vrae waarop sy geen antwoorde kan verstrek nie. Sy voorsien donker dae vir haarself, maar een ding staan soos ’n paal bo water: Edoardo is bereid om te betaal vir die operasie waarvan haar moeder se lewe op die oomblik afhang.

Lizelia raak in die vroeë môre-ure eers aan die slaap. Sy slaap baie onrustig en het die een nagmerrie op die ander, met die gevolg dat sy die volgende môre nog vaak en prikkelbaar voel toe die wekker voor haar bed aankondig dat dit tyd is om op te staan.

Sy kan met die beste wil ter wêreld nie begryp waarom die huwelik nou juis so vroeg in die oggend moet plaasvind nie. Sy kan trouens net so min begryp waarom daar fortuinsoekers in die wêreld moet wees om die lewe vir ander te bemoeilik. Maar noudat sy daaraan dink, besef sy opnuut weer dat sy die baron glad nie verstaan nie, en dat sy ook nooit sal weet hoe sy gedagtes werk nie.

Net ná ontbyt daag Gino by die hotel op om Lizelia na die villa, haar toekomstige tuiste, te neem. Sy kyk na die eenvoudige rokkie wat sy aanhet, en wonder of sy nie iets deftigers moes aangetrek het nie. Die edelman is nou wel blind, maar daar mag alreeds gaste by die villa wees en húlle is bepaald nie blind nie.

Ag, hulle kan gaan doppies blaas, besluit sy fronsend. Sy is ’n doodgewone mens, nie ’n Italiaanse adellike nie, en sy gaan nie voorgee dat sy uit die adelstand kom nie.

Die portier neem haar tasse na die motor wat voor die hotel staan terwyl Lizelia die hotelrekening vereffen. Hierna groet sy die bestuurder en stap dan na die wagtende motor.

Edoardo ontspan op die voorstoep saam met sy swaer en sy enigste suster toe die motor voor die villa stilhou. Lizelia is dadelik van die twee vreemdelinge bewus toe sy uit die voertuig klim, maar sy hoor gelukkig nie toe die baron se suster saggies op Italiaans uitroep nie. “My wêreld, wat ’n pragtige meisie! Inderdaad ’n meesterstuk uit die hand van die Skepper.”

“Van wie praat jy nou eintlik, Tina?” wil die baron met ’n ligte frons weet.

“Ek dink dit is jou bruid, want sy het so pas uit jou motor geklim, Edoardo,” verduidelik sy suster.

Die edelman kom dadelik orent toe hy Lizelia se voetstappe hoor nader kom. Hy herken haar dadelik aan die sagte aroma van haar parfuum. Dan hou hy sy hand na haar uit terwyl hy haar groet en voel hoe sy haar koel handjie in syne plaas.

“Laat my toe om my suster, Tina, en my swaer, Marco An-dretti, aan jou voor te stel, Lizelia.” Hy wend hom na sy suster en vervolg afgetrokke: “Lizelia is die meisie met wie ek vanoggend in die huwelik tree. Haar naam is op die oomblik nog Lizelia Heyns.”

Lizelia erken die bekendstelling op Engels. Dan nooi Edoardo haar om te sit.

“Ek dink nie daar is meer tyd vir gesels nie, Edoardo,” keer Tina voordat Lizelia kan gaan sit. “Julle sal nou dadelik moet gaan aantrek as julle nie laat wil wees vir julle eie troue nie.”

“Ja, ek dink ook ons moet gaan verklee sodat ons die plegtigheid agter die rug kan kry,” laat die edelman onverskillig hoor. “Jy sal vir Lizelia moet gaan wys waar haar kamer is, Tina. Miskien is daar iets waarmee jy haar kan help. ’n Bruid het mos altyd iemand nodig om haar te help aantrek.”

“Dit is werklik nie nodig dat iemand my help aantrek nie, Edoardo. Ek is heeltemal in staat om dit self te doen,” maak Lizelia dadelik beswaar, want vir haar voel dit glad nie of hierdie huwelik haar aanstons een van die adellike De Mashatini- familie gaan maak nie. Vir haar is hierdie huwelik niks anders as ’n klug nie, en in der waarheid sal haar posisie dieselfde wees as dié van die baron se talle ander werknemers. Sy beplan dus hoegenaamd nie om op familiêre voet met sy vername familie te verkeer nie.

“Ek hoop nie jy beskou dit as voorbarig nie, maar ek het alreeds vroeër vanoggend jou bruidsuitrusting en alles wat jy nodig sal hê op die bed neergesit,” gesels Tina vriendelik terwyl hulle met die trappe oploop na die tweede verdieping toe. “Ek veronderstel jy het alreeds by die hotel gebad, dus sal ek jou net gou help om aan te trek. Die gaste bestaan uit ’n paar ooms, tantes, neefs en niggies. Hulle sal nou enige oomblik hier aankom, en ek weet hulle sal graag met jou kennis wil maak voor die seremonie begin.”

“Dit is baie vriendelik van u, mevrou Andretti,” sê Lizelia gespanne en met ’n geforseerde glimlaggie.

Tina gee haar nie kans om meer te sê nie, want sy help haar byna dadelik reg: “Aangesien jy op die punt staan om my skoonsuster te word, Lizelia, sal dit meer gepas wees as jy my liewer Tina in plaas van mevrou Andretti noem.”

“Ja, ek moet seker. Maar ek sal eers daaraan gewoond moet raak,” sê Lizelia sag en gelate. “Julle is almal vir my so … vreemd. Ek ken Edoardo nie eens goed nie, en dan is daar ook nog die taal wat ek glad nie verstaan nie. Ek sal nie eens ’n woord van die huweliksbevestiging …”

“Dit is presies waar jy verkeerd is, Lizelia,” val Tina haar laggend in die rede. “Ek weet nie hoe my broer dit in sy blinde toestand reggekry het nie, maar die predikant wat die huwelik gaan voltrek, kan baie goed Engels praat.”

“Jou broer kom my voor as die soort man wat alles in die lewe sal regkry, maak nie saak of hy blind is of nie,” sê Lizelia onwillekeurig.

“Jy het hom nogal reg opgesom,” verklaar Tina met ’n sagte laggie. “Dis presies hoe hy was toe hy nog die gebruik van sy oë gehad het. Dit lyk my darem nie of sy blindheid hom te veel verander het nie – ek dink dit was baie bedagsaam van hom om vir die Engelssprekende predikant te sorg.”

Hulle stap die kamer wat vir Lizelia gereed gemaak is binne. Te midde van al die spanning, kommer en senuweeagtigheid wat sy op die oomblik verduur, kan Lizelia nie help om beïndruk te voel met al die weelde wat haar selfs in hierdie vertrek omring nie. Dit is nie duur, moderne meubels nie, maar kosbare oudhede van eeue gelede waarmee die hele villa binne gemeubileer is.

Lizelia word nie eintlik tyd gegun om haar weelderige slaapkamer te bewonder nie, want haar aanstaande skoonsuster stoot die kamerdeur versigtig toe en waarsku haar dat hulle nou baie gou sal moet maak.

Wat vir Lizelia ’n heuglike dag moes wees, is vir haar ’n onrusbarende dag vol kommer en spanning. Net die gedagte aan haar moeder se lewe en gesondheid weerhou haar daarvan om van die villa en sy mense af weg te vlug. Sy voel op die oomblik soos ’n masjien sonder ’n wil en sin van haar eie. Maar eindelik is sy in haar spierwit bruidsgewaad geklee.

“Jy is inderdaad die mooiste bruid wat ek nog ooit gesien het, Lizelia,” hoor sy Tina met openlike bewondering sê. “Dit is net jammer dat jou bruidegom jou nie vandag kan sien nie. Hy sal nooit weet hoe pragtig jy vandag lyk nie.”

“Dankie vir die mooi gedagte, Tina,” sê Lizelia met ’n hartseer glimlaggie. “Maar ek het nog nooit ’n lelike bruid gesien nie. In elk geval, ons moet seker nou afgaan.”

“Ja, die familie is seker al almal in die tuin waar julle huwelik voltrek gaan word,” sê Tina en hou die kamerdeur vir Lizelia oop.

Daar is ’n opgewonde gefluister onder die twintigtal gaste toe Tina en die bruid hulle verskyning in die tuin maak. Marco en Edoardo, wat by die gaste gesit het, kom dadelik orent en die blinde bruidegom word deur sy swaer na ’n tafeltjie gelei, waar die predikant wag om die edelman en sy bruid in die eg te verbind.

“Hoor jy hoe hard fluister die gaste, Lizelia?” vra Tina saggies. “Hulle is almal in vervoering oor my broer se skone bruid.”

“Ag nee, jy verbeel jou dit,” laat Lizelia met blosende wange hoor. “My spieël het nog nooit vir my gesê dat ek buitengewoon mooi is nie.”

Dan is hulle by Edoardo en Marco, en Tina is genoodsaak om te swyg.

Lizelia neem die arm wat Edoardo na haar uithou, en is meteens steurend bewus van haar skamel lengte langs hierdie lang, swartgeklede man wat oor ’n paar minute haar wettige eggenoot sal wees.

Alles verloop vir Lizelia soos ’n onwerklike droom. Sy hoor hoe die predikant hulle man en vrou verklaar, maar sy is nie eens daarvan bewus dat Edoardo, behalwe die trouring, ook ’n fabelagtige verloofring wat uit twee yslike blou diamante bestaan aan haar vinger steek nie.

Eers toe sy hom saggies langs haar hoor sê: “Ek het nog nooit ’n vrou met sulke fyn handjies teengekom nie,” kyk sy af na haar hand en merk die twee blou diamante wat so groot soos ertjiepitte is. Sy besef dadelik dat die verloofring slegs bedoel is om die skyn voor die familie te bewaar. Sodra hulle vertrek het, sal sy die ring weer vir hom teruggee.

Die predikant vertrek dadelik nadat hy die egpaar gelukgewens het, om sy gebruiklike oggendbesoek by die hospitaal af te lê. Hierna word hulle deur die familie gelukgewens, foto’s word deur ’n paar verslaggewers geneem, en dan gaan sit almal aan vir ’n feestelike noenmaal.

Sjampanje vloei vrylik, maar Lizelia drink net een glasie en sy merk dat Edoardo dieselfde doen.

Die gaste vertoef nog ’n rukkie ná ete, toe maak almal aanstaltes om te vertrek – behalwe die baron se swaer en suster wat deur hom genooi is om ’n paar dae te kuier.

Nadat die gaste vertrek het, maak Lizelia verskoning om te gaan verklee. Maar dan hoor sy Edoardo skielik sê: “Ek wil graag voel hoe jy lyk voordat jy gaan, Lizelia, as jy nie omgee nie.” Hy staan van die rusbank af op en vervolg: “Kom staan asseblief hier voor my. Al het ek nie oë om jou te sien nie, kan my vingers my net so baie vertel.”

Edoardo voel eers liggies oor haar gesig en haar hare met sy vingers, dan voel dit vir Lizelia of sy hande saggies, liefkosend oor haar skouers, haar arms, haar dun middeltjie en haar heupe streel. Sy voel hoe ’n warm blos teen haar nek opstoot. Dan hoor sy hom weer sê: “Jy is inderdaad ’n mooi bruidjie.” Die baron laat sak sy hande en vervolg sag: “Jy kan nou maar gaan verklee, Lizelia; verkieslik in ’n tabberd wat ook geskik sal wees vir ’n besoek aan jou moeder. Ek sal vanaand saam met jou hospitaal toe gaan.”

Lizelia neem sy arm en sê sag: “Laat ek jou net eers help om te sit, dan sal ek gaan verklee …”

“Toe maar, ek sal Eduardo help, Lizelia,” bied Marco vriendelik aan en kom terselfdertyd orent.

Maar Edoardo tree dadelik tussenbei deur half gebiedend te sê: “Laat staan vir Lizelia, Marco. Dit is van vandag af haar plig om my by te staan en my oë te wees.”

Lizelia help hierdie vreemdeling wat nou haar man is versigtig om op die rusbank te gaan sit. Dan verlaat sy die ontvangskamer en gaan na haar slaapkamer. Alles voel nog steeds vir haar vreemd en onwerklik, so asof dit met iemand anders gebeur en nie met haar nie. Maar dan dink sy aan Edoardo se woorde dat dit van vandag af haar plig is om hom by te staan, en dit tref haar dat vandag se gebeure ’n werklikheid is en dat dit een van die redes is waarom hy vandag met haar getrou het.

Dit voel nog steeds vir haar of sy droom toe sy een van die nuwe uitrustings aantrek wat sy gister op die baron se bevel moes koop.

Lizelia se oog val weer op die kosbare diamantring aan haar vinger en sy besluit om dit sonder versuim aan die baron terug te gee. Sy weet hy het dit bloot aan haar vinger gesteek om die skyn voor sy familie te bewaar, maar noudat die ring sy doel gedien het, moet sy dit liewer teruggee. Sy weier om die verantwoordelikheid vir so ’n kosbare juweel te aanvaar.

Met hierdie gedagte gaan sy onmiddellik terug na die ontvangskamer, waar sy Edoardo alleen aantref.

“Mag ek jou asseblief vir ’n oomblik spreek, Edoardo?” vra sy beleef. Sy staan ’n entjie van die rusbank af.

“Ja, kom sit hier langs my en vertel my waaroor jy met my wil praat, Lizelia,” nooi hy saaklik.

Sy stem klink so onvriendelik dat sy meteens huiwerig voel om langs hom te gaan sit. Maar sy staal haarself en neem langs hom plaas.

Haar stem klink onseker toe sy sê: “Daar is nie eintlik iets waaroor ek met jou wil praat nie. Ek wil graag … e … Ek bedoel, ek wil maar net jou kosbare diamantring teruggee. Ek besef dit is ’n erfstuk …”

“Jy het gelyk,” val hy haar ongeërg in die rede, “dit is ’n erfstuk. Dit is die familiering waarmee elke De Mashantini- erfgenaam verloof raak.”

“In daardie geval hoort die ring in jou brandkluis.” Sy haal die ring van haar vinger af en plaas dit versigtig in die edelman se hand.

“Nee, ek glo nie die ring se plek is in my brandkluis nie. Sy plek is aan jou vinger,” hoor sy Edoardo met ’n besliste stem sê. Hy hou sy hand na haar uit. “Gee my jou hand sodat ek die ring weer aan jou vinger kan steek. My familie sê almal jy is die mooiste vrou onder die son, en ’n mooi vrou moet ook mooi juwele dra. Die ring bly dus aan jou vinger.” Sy stem klink koud en afgetrokke, asof Lizelia se aanvalligheid hom nie in die minste beïndruk nie, asof dit hom glad nie kan skeel hoe sy lyk nie.

Hy steek die ring weer aan haar vinger en hou haar hand in syne terwyl hy vra: “Hoe laat wil jy jou moeder besoek?”

“Ek dink dit sal beter wees om haar vroeg te besoek. Dan kan sy ten minste vroeg gaan slaap en goed uitrus vir die operasie wat môreoggend voorlê,” doen Lizelia aan die hand.

“Nou goed,” sê hy en los haar hand stadig, “ontbied asseblief vir Mario om my te help verklee; daarna kan ons maar dadelik gaan.” Hy verduidelik aan haar waar sy die klokkie se knoppie sal vind, en ná ’n rukkie maak Mario sy verskyning in die ontvangskamer.

Edoardo is baie deftig uitgevat in ’n roomkleurige pak met bypassende skoene en kouse. Hy is ’n lang, skraal man en die snit en die lengte van sy baadjie laat hom nog langer lyk. Sy blink, swart hare is netjies agteroor gekam en sy skraal gesig met die fynbesnede gelaatstrekke is uitdrukkingloos – nie soos ’n bruidegom op sy troudag behoort te lyk nie

Onderweg na die hospitaal is dit stil in die motor. Lizelia se gedagtes draai nou onophoudelik om haar moeder wat môre ’n uiters gewaagde operasie moet ondergaan. Edoardo dink aan die ongeluk wat hom sy sig ontneem het en die hartelose optrede van sy gewese verloofde.

Vir ander mense wat so ’n ramp oorleef het, was daar genesing en berusting, maar vir hom sal daar geen berusting wees voordat hy weer die gebruik van sy oë het nie. Dit is die afgelope maande al die belangrikste ding in sy lewe om weer te kan sien.

Gino hou voor die hospitaal stil en help Edoardo om uit die motor te klim.

“Jy kan vir ons hier in die motor wag, Gino,” spreek die baron sy motorbestuurder op Italiaans aan. “Die barones sal my nou verder bystaan.”

Lizelia neem Edoardo se arm en lei hom versigtig binnetoe. Gelukkig is haar moeder se kamer op die grondverdieping en is dit nie nodig om trappe te klim of ’n hysbak te gebruik nie. Dit neem hulle ook nie lank om Irma se kamer te bereik nie.

Haar moeder is nog wakker toe Lizelia en Edoardo die siekekamer binnestap en langs haar bed gaan staan.

“Ou Moeksie, ek wil graag die baron Edoardo de Mashatini aan Moeks voorstel,” sê Lizelia op Engels. “My moeder, mevrou Irma Heyns, Edoardo.”

Die baron erken die bekendstelling en dan help Lizelia hom om op die stoel langs die bed te gaan sit. Sy buk af en groet haar moeder met ’n liefdevolle kus op haar bleek voorkop.

Lizelia wou net na haar moeder se gesondheid verneem, toe Edoardo sê: “Ek veronderstel u is gereed vir die operasie wat voorlê, signora Heyns. Professor Landuzzi is een van die wêreld se bekwaamste breinspesialiste en ek het baie vertroue in hom. Sodra u uit die hospitaal ontslaan word, sal ek reëlings tref dat ’n verpleegster u Switserland toe vergesel. Daar sal u rustig kan aansterk. Daarna sal u natuurlik by ons kom inwoon. So, moet u asseblief oor niks bekommer nie, ook nie oor Lizelia nie, want ek kan baie goed na haar omsien, al is ek blind.”

’n Sweem van ’n glimlaggie raak aan die sieke se mond toe sy moeisaam sê: “Ek waardeer alles wat u vir my doen en vir my toekoms beplan, baron, maar ek verkies liewer om terug te gaan na my eie land sodra ek uit die hospitaal ontslaan word. Al my belange is in Suid-Afrika en ek is ook nie gewoond aan ’n lewe van niksdoen …”

“Ons sal weer oor u toekoms gesels sodra u uit die hospitaal ontslaan word, signora. Op die oomblik kan ek nie insien waarom u alleen in Suid-Afrika wil gaan woon nie,” val hy Irma met ’n ligte frons in die rede, asof haar teëpratery iets is wat vir hom absoluut ongehoord is. “In elk geval, moet asseblief nie huiwer om my te laat weet as u iets nodig het nie.”

Irma bedank hom en sê dan versigtig: “Ek veronderstel julle is vanoggend getroud. Ek weet nie of ek julle moet gelukwens met so ’n … e … vreemde verbintenis nie. Ek kan dit nie ’n huwelik noem nie, want wat my aanbetref, is dit nie ’n huwelik nie. Ek beskou dit eerder as ’n … e … eienaardige indiensnemingskontrak. Ek sal julle dus nie gelukwens nie, maar ek hoop alles werk vir julle ten goede mee.”

Ná hierdie woorde gaan Irma se oë toe van vermoeienis, en sy raak omtrent dadelik aan die slaap.

Lizelia, wat nog steeds langs haar moeder se bed staan, sug hoorbaar en sê met ’n bekommerde stem: “Ek dink my moeder slaap. Sy lyk totaal uitgeput, so asof ons besoek vir haar te veeleisend was.”

“In daardie geval moet ons maar liewer gaan sodat sy kan rus,” stel Edoardo voor met ’n onpersoonlike stem wat byna hooghartig klink. “Ek sal die dokter van die villa af bel om te hoor hoe laat hulle môreoggend met die operasie begin.”

Lizelia groet haar slapende moeder met ’n sagte soentjie op die voorkop, dan neem sy die baron se arm en lei hom terug na die motor toe. Sy sou graag nog langer by haar moeder wou bly om haar gerus te stel oor haar huwelik met die wildvreemde man, maar sy besef ook dat Edoardo op die oomblik in haar sorg is en dat sy hom nie alleen durf huis toe stuur nie. Sy sal probeer om môreoggend by die hospitaal te wees voordat hulle haar moeder teater toe neem.

Onderweg na die villa is albei weer stil en besig met hulle eie gedagtes. Lizelia dink aan die operasie wat voorlê, en die baron is weer vol wrewel oor sy blinde toestand wat hom so weerloos maak, sodat hy verplig was om vandag hierdie halsoorkop huwelik met ’n wildvreemde meisie aan te gaan. Sy familie sê nou wel sy is die mooiste vrou onder die son, maar wat baat haar skoonheid hom terwyl hy Francesca liefhet!

Sy huwelik met haar sal hom ten minste beskerm teen die fortuinsoekers wat soos aasvoëls sit en wag vir ’n prooi om wie hulle kan toesak … Dit is die enigste voordeel wat hy uit hierdie huwelik sal trek …

Met hulle tuiskoms onttrek Edoardo hom dadelik na sy studeerkamer, van waar hy bedags meeste van sy sake telefonies behartig. Lizelia sluit weer by haar skoonsuster, wat op die voorstoep ontspan, aan.

“Ek hoop dit gaan môre ná die operasie sommer baie beter met jou moeder, Lizelia,” sê Tina besorg. “Ek wens mý moeder het nog gelewe. Maar nou ja, Edoardo is al wat ek het, behalwe die ander familie met wie jy vandag kennis gemaak het. En Edoardo, my liewe sussie, is nie deesdae die vriendelikste mens wat leef nie. Hy praat nooit oor homself nie en ons het nie eens van jou geweet nie.”

Lizelia kyk die ouer vrou stil aan en knik afgetrokke. “Dis waar,” sê sy sag, “ hy is baie beslis nie ’n vriendelike mens nie. Ek dink hy is sinies, kil en ongenaakbaar, en as hy nie oppas nie, gaan hy nog ’n regte ou suurknol word.”

Tina begin saggies lag en sê ná ’n rukkie baie ernstig en vertroulik: “Edoardo was nie altyd so onvriendelik nie, Lizelia. Sy gewese verloofde, Francesca Bove, se harteloosheid het van hom so ’n verbitterde mens gemaak. Maar hy sal wel later besef dat nie alle vroumense so gewetenloos soos Francesca is nie. Ek vrees net dat dit dan te laat sal wees om te vergoed vir al die skade wat sy verbittering gedoen het.”

“Ja, ek het opgemerk dat hy selfs wantrouig is teenoor mense wat hom opreg goedgesind is,” kom dit van Lizelia.

Tina knik. “Jy het gelyk. My broer vertrou op die oomblik niemand se vriendskap nie. Hy verkeer onder die indruk dat mense slegs vriendelik met hom is omdat hy ryk is, daarom is die familie nie juis gretig om hom te besoek nie. Ek en Marco besoek hom net Sondae en maak dan baie seker dat ons die aand weer vertrek. Trouens, ek voel baie jammer vir jou, Lizelia, want my broer is op die oomblik ’n moeilike mens om mee oor die weg te kom. Maar miskien is jy die anker wat hy nodig het om weer aan sy lewe balans te gee.”

“Ek wonder of ek opgewasse is om vir hom as anker te dien,” sê Lizelia ingedagte. “Hy is so wêreldwys en gesofistikeerd …”

Hulle sit nog op die voorstoep en gesels totdat dit tyd is om vir aandete te gaan verklee.

Lizelia is opvallend stil waar sy teenoor Edoardo aan die tafel sit. ’n Uur of wat, terwyl sy en Tina op die voorstoep gesit en gesels het, het Tina daarin geslaag om haar gedagtes van haar moeder se siekte af te lei. Maar noudat sy Edoardo so trots en ongenaakbaar aan die bopunt van die tafel sien, dink sy onwillekeurig hoe haar moeder vrugteloos probeer het om met hom te redeneer.

Lizelia is so diep ingedagte dat sy ruk soos sy skrik toe die baron skielik sê: “Jou moeder word om agtuur môreoggend geopereer, Lizelia. As jy halfagt by die hospitaal is, kan jy haar moontlik nog sien voordat sy na die teater geneem word.”

“Dankie, ek sal so maak, Edoardo,” antwoord sy afgetrokke, want die onrus oor haar moeder neem weer vinnig toe. Sy hoop en bid dat die operasie suksesvol is en dat haar moeder gou sal herstel, want sy voel so eensaam en alleen in hierdie groot, vreemde stad met sy vreemde taal en gewoontes waarvan sy niks verstaan nie.

Lizelia is so diep in haar eie ongelukkige gedagtes versonke dat die ander drie se stemme net vaag tot haar deurdring. Sy is bly toe die maaltyd eindelik ten einde loop en Tina haar na die klein sitkamertjie nooi. Later sluit die twee mans ook by hulle aan en hulle gesels oor dinge en mense wat vir Lizelia heeltemal vreemd is. Ná ’n rukkie maak sy verskoning om te gaan inkruip.

“Ek sal die huishoudster vra om te sorg dat jy môreoggend betyds wakker gemaak word, Lizelia,” stel Edoardo haar gerus. “Ek dink jy het ’n goeie nagrus nodig ná so ’n vol dag soos vandag.”

Lizelia wens almal ’n aangename nagrus toe en verlaat die vertrek. Toe sy later in die bed klim en die bedlamp afskakel, onthou sy weer dat dit vandag haar huweliksdag is. Die heelmiddag het sy nie een maal daaraan gedink nie, want dit voel nie vir haar asof dit haar huweliksdag kan wees nie. Haar en Edoardo se troufoto was vanaand in al die koerante, en tog voel sy nie soos ’n bruid nie.

Lizelia lê ’n lang ruk aan haar en Edoardo se vreemde huwelik en dink. Sy weet dat sy wettiglik met hom getroud is, maar dit voel vir haar glad nie of sy getroud is nie. Sy beskou hom ook nie as haar man nie, maar eerder as haar werkgewer.

Haar gedagtes kring nog om die aantreklike, ongenaakbare baron, toe die slaap haar oorval en haar moeë gees tot rus kom.

Edoardo het woord gehou, want sy huishoudster maak Lizelia die volgende oggend betyds wakker om gou te bad, aan te trek en ’n haastige ontbyt te nuttig voordat sy hospitaal toe vertrek.

Almal behalwe die bediendes slaap nog toe Lizelia die villa verlaat. Sy wou die huishoudster vra of Gino haar hospitaal toe sal neem, maar die huishoudster kan nie ’n woord Engels verstaan nie en Lizelia kan weer nie ’n woord Italiaans praat nie. Sy besluit dus maar om ’n bus te haal.

Sy moet so lank vir ’n bus wag dat sy hopeloos te laat by die hospitaal aankom om haar ma te sien. Sy vind haar bed leeg en besef dat sy alreeds na die teater geneem is.

Sy moes vroeër gekom het … sy moes nooit ontbyt geëet het nie, dan sou sy betyds hier gewees het om haar voor die operasie te sien, verwyt Lizelia haarself terwyl sy met traanbenewelde oë na die leë bed staar.

Die saalsuster kom die vertrek binne en groet Lizelia vriendelik. Sy raak ’n lang string Italiaanse woorde kwyt, waarvan Lizelia nie ’n woord verstaan nie, en neem haar na die wagkamer toe.

Terwyl Lizelia vol kommer en hartseer deur ’n Italiaanse tydskrif blaai, bly haar gedagtes voortdurend by haar moeder in die teater.

In die villa gaan die lewe sy gewone gang. Skynbaar dink niemand aan Lizelia se kommer nie, want niemand sê ’n woord oor haar afwesigheid nie, totdat Tina later aan die ontbyttafel vra: “Kan iemand vir my sê hoe het Lizelia vanoggend by die hospitaal gekom?”

“Ek het gister vir haar gesê Gino sal haar hospitaal toe neem,” lig Edoardo haar ongeërg in asof dit hom nie in die minste kan skeel hoe Lizelia by die hospitaal gekom het nie.

Maar Tina steur haar nie aan sy afsydigheid nie. Sy is duidelik bekommerd toe sy sê: “Ek glo nie Gino het haar hospitaal toe geneem nie, Edoardo, want net nadat ek haar deur die groot hek sien verdwyn het, het ek Gino langs die huis met die tuinier sien praat.”

“Wel, as Lizelia deur die groot hek gestap het, het sy beslis ’n bus na die middestad gehaal,” sê Marco.

“Dan sou sy te laat by die hospitaal aangekom het om haar moeder voor die operasie te sien,” meen Tina.

“Dit sal net haar eie skuld wees as sy te laat was om haar moeder te sien,” meen Eduardo ongevoelig. “Sy het geweet dat Gino tot haar diens is.”

“Dis waar, sy het dit miskien geweet. Maar het jy ooit daaraan gedink dat sy nie ’n woord Italiaans kan praat nie en dus nie sal weet hoe om Gino dit aan die verstand te bring dat hy haar hospitaal toe moet neem nie?” kom dit verwytend van Tina.

“Ek wonder of sy ooit by die hospitaal aangekom het?” wonder Marco hardop. “Hoe goed ken sy die stad?”

Edoardo lyk nou werklik bekommerd. Hy wend hom na sy sekretaris en sê saaklik: “Bel asseblief die hospitaal ná ete en hoor of die barones daar is, Angelo.”

“Ek dink ons is ’n hartelose, onsimpatieke familie om Lizelia so alleen met haar kommer, angs en hartseer te laat,” sê Tina skuldig. “Sy is so klein en fyn, dit lyk nie of haar skouers swaar laste kan dra nie.”

“Nou waarom gaan onderskraag jý haar nie, Tina? Niemand belet jou om dit te doen nie!” kom dit skerp van die baron.

Tina kyk vinnig na haar broer. Sy is daarvan oortuig dat sy bruin oë vuur blits agter daardie donkerbril, wat hy slegs afhaal wanneer hy saans in die bed klim.

“Ek is seker jou vrou sal dit meer waardeer as jý haar in hierdie uur van angs en nood bystaan, Edoardo,” sê Tina verwytend.

“Ek dink jy moet jou liewer by jou eie sake bepaal, Tina,” waarsku Edoardo haar nou met ’n koue, ongenaakbare stem. “Ek het geen teregwysing van jou of van enigiemand anders nodig nie. Ek was ook nog altyd in staat om my sake sonder jou hulp te behartig. My vrou is ook nie jou verantwoordelikheid nie, sy is mý verantwoordelikheid; daarom sal ek besluit wat goed is vir haar.”

“Ek gee nie ’n flenter om nie, jy kan al daardie dinge doen, Edoardo. Maar laat ek jou een ding vertel: Jy weet niks van vroumense af nie,” gaan Tina ongestoord voort.

Toe sy sekretaris die hospitaal na ontbyt bel, is Edoardo merkbaar verlig om te hoor dat Lizelia op die oomblik in die wagkamer is. Die wete dat sy veilig by die hospitaal aangekom het, stel hom in ’n mate gerus dat hy sy aandag onmiddellik by ander sake bepaal.

Edoardo is die oggend so besig met sy eie sake en belange dat hy totaal van Lizelia, haar moeder en die operasie vergeet. Dit is eers toe Tina hom ná middagete vra of hy al weer die hospitaal gebel het, dat hy van Lizelia en haar moeder onthou.

“Ek vrees daar is gans te veel sake wat my aandag vereis, Tina,” hoor sy haar broer met ’n onpersoonlike stem sê terwyl hy na sy studeerkamer stap. “Jy moet maar liewer self die hospitaal bel.”

Tina kyk haar broer stil, berekenend agterna toe hy saam met sy sekretaris in die rigting van sy studeerkamer verdwyn. Te oordeel na sy onverskillige optrede gee hy glad nie vir sy vrou om nie … en hulle is maar eers gister getroud!

Daar is iets in verband met haar broer se huwelik wat nie vir Tina pluis is nie. Hy is gans te onverskillig teenoor sy vrou wat op die oomblik sy onderskraging nodig het. Dit laat ’n mens wonder of hy haar regtig liefhet!

“Gaan jy nie die hospitaal bel nie, Tina?” ruk Marco se stem haar meteens uit haar gedagtewêreld.

“Ja, ek sal nou dadelik bel,” sê sy en stap dadelik na die telefoon in die voorportaal.

Tina lyk duidelik bekommerd toe sy by Marco, wat diep ingedagte voor die eetkamervenster staan, aansluit.

“Ek vrees dit gaan nie te goed met Lizelia se moeder nie,” hoor Marco sy vrou meteens langs hom sê.

Hy kyk vinnig na haar en vra besorg: “Is die operasie afgehandel en … het sy al bygekom?”

“Ja, die operasie is afgehandel en sy het al bygekom, maar sy verkeer op die oomblik in ’n diep koma. Die saalsuster sê haar toestand is kritiek,” vertel Tina met kommer in haar stem. Sy voel bitter jammer vir Lizelia, veral noudat dit so sleg met haar ma gaan, want dit lyk nie of sy veel simpatie van Edoardo sal kry nie.

Terwyl almal in die villa besig is met hulle eie belange, sit Lizelia met haar ma se stil hand in hare. Sy kom nie eers agter dat sy sedert ontbyt nog niks oor haar lippe gehad het nie.

Dit is donker buite toe die suster die siekekamer binnekom. Sy voel die pasiënt se polsslag. Dan stap sy om die bed, verwyder Irma se stil, koue hand uit haar dogter s’n en trek die laken oor die ontslapende se bleek gelaat. Sy neem die verbysterde Lizelia se arm en lei haar uit die kamer.

Omdat sy nie die mense se taal kan praat nie, bedank sy die suster met ’n knik vir haar bedagsaamheid en verlaat die hospitaal soos ’n slaapwandelaar. Die skok dat haar moeder gesterf het sonder dat sy daarvan bewus was, is so groot dat sy nie ’n traan kan stort nie. Die pyn in haar hart is soos ’n fisieke pyn. Sy voel verskeurd, gebroke en stom van verdriet.

Doelloos stap sy van die een straat na die ander en bevind haar later op een van die talle brûe wat oor die Tiberrivier strek. ’n Ruk lank staar sy met hartseer oë na die stil, donker water. Toe begin sy meteens onbedaarlik bewe van skok en koue en eindelik dring dit tot haar deur dat sy ’n bus moet haal en huis toe gaan. Maar verder as dit kan sy ook nie dink nie …

“Is my vrou al terug van die hospitaal af, signora Bartoldi?” vra die baron vir die huishoudster toe hulle aansit vir aandete.

“Die barones is nog nie tuis nie, my heer die baron,” antwoord die huishoudster bekommerd.

Daar is ’n donker frons op die edelman se voorkop toe hy sonder enige verskoning van die tafel af opstaan en gebiedend sê: “Bel asseblief die hospitaal vir my, Angelo, en sê vir hulle ek wil met my vrou praat.”

Dit neem nie lank nie, toe praat Angelo met die saalsuster. “Die baron De Mashatini wil graag met sy vrou die barones praat, suster,” sê hy saaklik en gee die gehoorbuis vir sy werkgewer.

“Die barones se moeder het twee ure gelede gesterf en sy het die hospitaal net daarna verlaat,” sê die suster saaklik.

Edoardo bedank die suster en keer saam met Angelo terug na die etenstafel. Almal kyk hom vraend aan toe hy sy plek aan die bopunt inneem, maar niemand sê ’n woord nie, want daardie onpeilbare frons is nog steeds op sy voorkop.

“Lizelia se moeder het twee ure gelede gesterf,” kondig die edelman ná ’n rukkie aan. “Maar moenie vir my vra waar sy is nie, want ek weet self nie. Die suster sê sy het die hospitaal pas na haar moeder se dood verlaat.”

“Sy het seker ’n bus gehaal huis toe,” meen Tina.

“Dan moes sy lankal tuis gewees het,” help die baron haar stroef reg. Hy wonder of Lizelia miskien besluit het om haar ooreenkoms met hom te verbreek noudat haar moeder oorlede is. Maar dan tref dit hom dat sy nie haar paspoort, geld of klere by haar het nie, en dus nie die land sal kan verlaat sonder om eers huis toe te kom nie.

Dit is buitengewoon stil aan tafel. Edoardo is in ’n ongenaakbare bui, en almal voel bekommerd oor Lizelia se afwesigheid so laat in die aand, en dit terwyl sy waarskynlik in ’n toestand van skok verkeer …

Susanna M Lingua-keur 11

Подняться наверх