Читать книгу Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M Lingua - Страница 5

2

Оглавление

__

Lizelia snik nie meer nie en die trane rol net stil oor haar wange toe Mario en die baron voor haar verskyn.

“Ek wil graag my werkgewer, die baron De Mashatini, aan u voorstel, signorina Heyns,” hoor sy Mario sê.

Sy erken die bekendstelling beleef, dan help Mario die baron om langs haar op die bankie te gaan sit.

“Ek sal nie ver weg gaan nie, indien u my nodig het, my heer die baron,” stel Mario die blinde man gerus, en gaan sit dan op ’n bankie ’n paar tree van Lizelia-hulle af.

“Mario, my lyfbediende, het my vertel van die ramp wat jou en jou moeder getref het, signorina,” begin die edelman met haar op Engels gesels. “Ek is bly om te hoor dat jy nie meer huil nie, want sien, jy is nie die enigste mens wat al ooit ’n ramp beleef het nie, signorina. Ek het onlangs my sig in ’n motorongeluk verloor.

“Dit is ook nie al wat ek verloor het nie,” voeg hy verbitterd by. “Toe my verloofde hoor dat ek blind is, het sy my net so gelos vir ’n man wat nie blind is nie – ’n man wat haar na rolprentvertonings, operas en ander vermaaklikheidsplekke kan neem. Maar om na jou probleem terug te keer: Wie is die chirurg wat die operasie moet uitvoer?”

“Dokter Carini sou die operasie uitgevoer het, meneer die baron,” sê sy sag met ’n bewerige stem, terwyl die trane weer stadig oor haar wange begin rol, “maar daar sal nie ’n operasie kan wees nie. Dit sal beter wees as ek my liewer daarmee versoen en nie bly hoop op ’n wonderwerk wat tog nooit sal plaasvind nie …”

Hartseer oorweldig haar en sy begin weer saggies te snik.

“Wat is die wonderwerk waarop jy gehoop het, signorina?” dring die baron se stem ná ’n paar sekondes tussen haar snikke tot haar deur.

Sy vee haar trane af en sê met ’n onvaste stem: “Daar is nie ’n spesifieke wonderwerk nie. Ek het maar net gehoop dat ek iewers die geld sou vind om vir die operasie te betaal. Maar daar is niemand in Suid-Afrika by wie ek om hulp kan aanklop nie.”

“Het jy nie ’n verloofde of familie wat jou kan bystaan nie, signorina?” wil die edelman sonder veel belangstelling weet.

“Daar is geen gegoede familie waarvan ek weet nie, en ek het ook nie ’n verloofde nie,” sê sy met ’n hartseer stem. “Ek was al die jare aan die onderwyskollege te besig met my studie om aan kêrels te dink, en die afgelope jaar wat ek onderwys gegee het, was my lewe ook te vol en bedrywig om regtig aandag aan mans te gee. Ek het niemand behalwe my moeder nie.”

Daar heers ’n kort stilte, dan hoor sy die baron met sy mooi, diep stem sê: “Ek het nou net aan ’n oplossing gedink waarby ons albei moontlik kan baat vind, signorina – dis te sê as jy kans sien om Italië jou tuiste te maak. Jy sien, ek het al verskeie verpleegsters in my diens gehad vandat ek blind geword het. Maar hulle is meestal so irriterend dat ek vinniger van hulle ontslae raak as wat my sekretaris hulle in diens kan neem. In elk geval, vertel my wat jou moeder se naam is, wat die naam van die hospitaal is waar sy haar op die oomblik bevind, en wat die naam van die dokter is wat haar behandel.”

Lizelia verskaf al hierdie besonderhede en wonder heimlik wat die oplossing is wat hy in gedagte het. Hy weet immers dat sy ’n onderwyseres is, dus kan hy haar nie as verpleegster in diens neem nie.

Lizelia is nog besig om die edelman se woorde te bepeins, toe hoor sy hom al weer sê: “Ek sal weer vanmiddag by die hotel met jou in verbinding tree, signorina. Moet jou dus nie langer oor die operasie bekommer nie.” Hy staan langsaam, versigtig van die bankie af op en vervolg effens hooghartig: “Sal jy asseblief so vriendelik wees om my lyfbediende nader te wink?”

“Ek sal hom gou vir u gaan roep – hy sit nie ver van ons af nie,” sê Lizelia, en vervolg ietwat huiwerig: “Ek weet natuurlik nie wat die oplossing is wat u vir ons albei in gedagte het nie, meneer die baron, maar ek wil u graag bedank vir u vriendelike belangstelling in ’n vreemdeling se probleme …”

“Moet asseblief nooit voor my werknemers sê dat ek vriendelik is nie, signorina. Hulle sal sekerlik dink jy is geestelik versteurd,” val die edelman haar met ’n stroewe stem in die rede.

Lizelia kyk hom ondersoekend aan en sê effens verward: “Ek … e … verstaan nie wat u bedoel nie.”

“Ek sou sê dit is baie duidelik,” hoor sy hom weer sê. “Sedert ek my sig verloor het, was ek nog nooit ’n vriendelike mens nie. Dit is ook nie uit vriendelikheid dat ek na jou probleem geluister het nie. Ek was oortuig dat jy hartseer veins net om geld uit die een of ander swakkeling te kry, en ek was vasbeslote om jou slinksheid aan die kaak te stel.”

“O, ek sien,” sê Lizelia ontnugter. “Ek is jammer dat ek u optrede verkeerd vertolk het, baron.”

Sy roep Mario met ’n ligte handgebaar nader, sien hoe hy haastig aangestap kom en wend haar dan weer na die edelman. “Ek sê dan maar tot siens, baron, en onthou net, u maak die lewe vir uself onaangenaam deur so sinies en agterdogtig te wees.”

Nog steeds ontnugter en teleurgesteld, stap Lizelia haastig van die twee mans af weg voordat hulle haar kan groet. Sy is vasbeslote om nooit weer aan die lang, donker, aantreklike baron te dink nie. Sy besef dat sy ’n gek was om haar probleme met hom en sy lyfbediende te bespreek. Maar dit het haar ’n les geleer: Sy moet die mans van hierdie stad liewers vermy asof hulle aan ’n aansteeklike siekte ly; hulle is ongetwyfeld almal soos die hardvogtige baron.

Lizelia voel nou nog meer verlate en eensaam – noudat sy besef hier is niemand in die hele stad op wie sy kan vertrou nie. Sy stap werktuiglik in die rigting van die hospitaal sonder dat sy eens daarvan bewus is. Haar ongelukkige gedagtes is so vol van die onbetroubaarheid van sommige mense en die haglike posisie waarin sy haar op die oomblik bevind, dat sy blind is vir ander dinge.

Eers toe sy die hoofingang van die hospitaal binnestap, besef sy hoe diep ingedagte sy al die tyd was. Sy kyk op haar polshorlosie en merk dat daar darem nog genoeg tyd vir ’n besoekie aan haar moeder is. ’n Verpleegsuster in wit drag groet haar met ’n vriendelike “Buon giorno, signorina,” wat haar sommer dadelik laat beter voel. Sy beantwoord die suster se groet ewe vriendelik op Engels, en stap dan na die sykamer waar haar moeder lê.

Lizelia gaan die siekekamer saggies binne. Dan voel sy meteens hoe vinnig haar hart van loutere vreugde begin klop: Haar moeder is nie meer in ’n koma nie!

Sy beweeg vinnig na haar moeder se bed, neem Irma se hand liefdevol in hare en sê effens uitasem: “Ek is so bly om te sien Mams is nie meer in ’n koma nie. Dit was aaklig om Moeksie so bleek en stil te sien.” Lizelia buk oor en soen die sieke saggies op haar bleek voorkop.

’n Moeë glimlaggie verskyn om Irma se mond. Sy gee haar dogter se hande ’n sagte drukkie en fluister: “Dokter Montesi was flussies hier by my. Hy het my van die operasie vertel, maar ek het hom gesê dat ons nie genoeg geld het om vir die operasie te betaal nie en dat dit beter sal wees as ons liewer dadelik teruggaan Suid-Afrika toe.”

“Wat het hy van Mams se voorstel gesê?” vra Lizelia bekommerd.

“Presies dieselfde as wat hy glo vir jou gesê het, my kind,” kom dit sag en moeisaam van Irma. Dan sluit sy haar oë, want dit voel nog steeds of haar kop wil bars van pyn.

“As ek maar net weet wáár om vir ’n lening aan te klop,” sê Lizelia hardop vir haarself.

“Daar is geen plek waar jy kan aanklop nie, my kind,” hoor sy Irma sê, “net die Suid-Afrikaanse ambassade. Maar ek verkies dat jy liewer nie by die ambassade gaan hulp vra nie. Ons kan dit nie bekostig om ’n lening aan te gaan nie. En as die operasie nie slaag nie en die ergste gebeur met my, sal jy vir die lening verantwoordelik gehou word. Ek wil liewer huis toe gaan. Ek dring daarop aan.”

“Daar is nie tyd vir huis toe gaan nie, Mams. Die spesialis het my verseker dat die operasie so gou moontlik uitgevoer móét word. Hy het ook gesê dat Mams nie ’n vliegtuigrit sal oorlewe nie. Ek sal dus ’n plan moet bedink om die geld te bekom. Maar moenie bekommerd wees nie; ek sal wel aan ’n plan dink.”

Lizelia probeer haar moeder gerusstel, maar in haar hart weet sy dat dit net by woorde sal bly. Dan dink sy weer aan die verbitterde edelman se belofte dat hy van ’n oplossing weet waarby hulle albei moontlik sal baat vind. Die man se siniese houding stoot haar nou wel af, maar om haar moeder se ontwil is sy bereid om selfs van hom hulp te aanvaar.

Lizelia gaan sit op die stoel voor die bed en vertel vir Irma van haar kennismaking met die adellike baron en sy lyfbediende.

“Die baron het gesê hy sal weer vanmiddag by die hotel met my in aanraking kom. Ek vermoed hy het een of ander betrekking vir my in gedagte,” sluit sy haar verduideliking af.

Irma verduur so baie pyn dat sy nie alles hoor wat Lizelia sê nie. Eintlik weet sy op die oomblik nie eens waarvan Lizelia praat nie.

Ná ’n rukkie kom ’n suster die siekekamer binne en gee die pasiënt ’n inspuiting wat haar dadelik aan die slaap laat raak. Lizelia besef dat dit sinneloos is om langer langs haar moeder se bed te sit, daarom staan sy saggies van die stoel af op en stap tydsaam terug hotel toe.

Ná middagete gaan strek Lizelia haar op haar bed uit om ’n rukkie te rus voordat sy weer hospitaal toe gaan om haar moeder te besoek. Sy is so uitgeput van kommer dat sy byna dadelik aan die slaap raak.

Met die baron se tuiskoms tree hy dadelik met dokter Carini, die breinspesialis, in verbinding. Hy vind dat Lizelia glad nie oordryf het nie, want Irma se toestand is inderdaad kritiek en die operasie moet sonder versuim uitgevoer word.

“Die jong dame in die park se trane en hartseer was dus heeltemal eg, my goeie Mario,” sê die edelman toe hy die gehoorbuis terugplaas. “Ek wil hê jy moet namens my ’n brief aan die jong dame skryf. Ek sal vir jou dikteer, want die brief moet in Engels geskryf word. En moenie bang wees nie, ek sal elke woord vir jou spel.”

“Dit gaan u baie vermoei, my heer die baron,” maak Mario besorg beswaar. “Dink u nie dat dit sal beter wees as u sekretaris die brief skryf nie?”

“Nee, Angelo ken nie die dame en haar omstandighede soos ek en jy nie, Mario. Hy sal my optrede baie … ongewoon … vind,” help die edelman hom dadelik reg. “Ek verkies dat jý die brief skryf. Jy sal my persoonlike skryfblok en koeverte in die boonste laai van my lessenaar vind.”

Dit neem Mario buitengewoon lank om die Engelse brief reg en volgens die baron se wense op te stel, want die edelman moet feitlik elke woord vir hom spel. Maar die vier en dertigjarige baron Edoardo Bertorelli Frederico de Mashatini is ’n man met ongeëwenaarde deursettingsvermoë wat nooit ’n saak maklik gewonne gee nie.

Ná middagete moet Gino, sy motorbestuurder, Mario na die hotel neem sodat hy die brief persoonlik by Lizelia kan aflewer.

Lizelia is besig om gereed te maak vir ’n besoek aan haar moeder toe sy ’n sagte klop aan haar kamerdeur hoor. Sy maak die deur oop, en is baie verbaas toe sy die baron se lyfbediende voor haar kamerdeur sien staan.

Mario groet haar beleef en verduidelik verontskuldigend: “Ek het vir u ’n brief van my heer die baron gebring, signorina. Ek weet nie watter indruk hy vandag op u gemaak het nie, maar hy is baie eerbaar en verantwoordelik. Hy is ’n vooraanstaande man hier in Rome, en hy is ook baie geëerd en bemind in Italië …”

“Dit is nie nodig om u werkgewer op te hemel nie, meneer Cordoni,” val Lizelia hom in die rede met ’n weemoedige glimlaggie waarin al die pyn en hartseer van die wêreld opgesluit lê. “Ek weet hy is ’n onuitstaanbare en siniese man wat nie skroom om eerlike mense met agterdog te bejeën nie. Ek kan byna nie glo dat hy hier in Italië bemind is nie. Dit is seker sy rykdom wat hom gewild maak.”

“Dit is die baron se blindheid wat hom so hard en sinies maak, signorina. Dit is onregverdig om hom te streng te oordeel. Ek moet nou weer gaan.” Hy gee vir haar die brief en vervolg sag: “Ek sê dan maar tot siens, Signorina.”

“Tot siens, meneer Cordoni,” sê sy effens afgetrokke. Sy maak die kamerdeur toe en gaan sit op die leunstoel voor die venster.

Daar is ’n ligte frons op Lizelia se voorkop terwyl sy na die handskrif op die koevert kyk en wonder wie die brief vir die edelman geskryf het.

Sy skeur die koevert oop. Nou eers merk sy die De Mashatini-familiewapen agter op die koevert en ook boaan die brief. Inderdaad indrukwekkend, dink sy, en begin die brief lees.

Signorina Heyns

Nadat ons vanoggend in die park gesels het, het ek ernstig oor jou probleem nagedink en aan ’n oplossing gedink waarby ons albei sal baat vind. Ek is bereid om die kostes van jou moeder se operasie te betaal en ook die res van haar lewe vir haar te sorg, mits jy met my trou en na my omsien.

Ek besef natuurlik dat daar geen band van liefde tussen ons bestaan nie en dat ons heeltemal vreemd is vir mekaar. Ek glo nie dit sal enigsins saak maak nie, aangesien ons huwelik slegs in naam sal wees totdat ek eendag anders besluit.

Dink intussen ernstig na oor my voorstel. Ek sal Mario vanaand, na die hospitaal se besoektyd, met my motor stuur om jou te gaan haal sodat jy jou besluit persoonlik aan my kan meedeel. Ek hoop jy neem ’n wyse besluit, want jou moeder se lewe hang van die operasie af en ek het die diens van ’n verpleegster dringend nodig.

Tot vanaand

Edoardo de Mashatini.

Lizelia is doodsbleek. “Is die man gek? Dink hy ek is van my wysie af?” roep sy sag en ontsteld uit. “Ek kan mos nie met ’n wildvreemde man in ’n vreemde land trou nie! Ek ken nie eens sy taal nie, en boonop hou ek ook niks van sy hardvogtige, siniese houding nie …”

Maar dan dink sy aan haar moeder wie se lewe van die operasie afhang, en sy besef dat sy die baron se voorstel beslis ernstiger sal moet oorweeg … Maar om darem met ’n wildvreemde man te trou!

Al wat in die edelman se guns tel, besluit sy, is sy uiterlike aantreklikheid. Enige meisie hou van ’n aantreklike man. Dit is egter hoegenaamd nie voldoende rede om met ’n man te trou nie; daar moet iets meer as fisieke aantreklikheid wees.

Lizelia bepeins die situasie met erns. Elke keer dat sy finaal besluit dat sy nie met die baron kan trou nie, doem haar moeder se beeld voor haar op en besef sy dat sy nie haar moeder in die steek mag laat nie. Eie geluk is vir haar van geen waarde as sy dit ten koste van haar moeder se lewe moet behou nie.

Ná ’n rukkie besluit Lizelia om hierdie saak liewer vanaand met haar moeder te bespreek, aangesien sy dit so moeilik vind om alleen te besluit.

Ná al hierdie getob begin sy haarself inderhaas gereed maak om hospitaal toe te gaan. Gelukkig kan sy haar moeder enige tyd van die dag besoek en hoef sy nie tot besoektyd te wag nie.

Irma lê met geslote oë en dit is duidelik dat sy al weer baie pyn verduur toe Lizelia haar opwagting in die siekekamer maak. Dit breek die meisie se hart om haar moeder so te sien ly. Sy besluit terstond om die baron se voorstel te aanvaar.

Die huwelik sal in elk geval net in naam wees, dus verloor ek nie veel nie, net my vryheid, dink sy bekommerd. Sy streel liefdevol met haar hand oor haar ma se hare en Irma se oë gaan oop.

“Ek kan sien Mams verduur weer baie pyn,” sê Lizelia sag en besorg. “Maar glo my, dit gaan nie meer lank so aanhou nie. Ek het iemand gevind wat die hospitaalkoste en vir die operasie sal betaal. Ons sal vanaand finaal daaroor besluit.”

“Wie is die barmhartige Samaritaan, my kind?” vra Irma sag, met ’n baie swak stem.

“Die baron Edoardo de Mashatini. Hy is glo baie bekend en bemind hier in Italië, en sy lyfbediende vertel my dat hy ’n vooraanstaande man hier in Rome is, Mams. Hy is egter blind as gevolg van beserings wat hy onlangs in ’n motorongeluk opgedoen het,” vertel Lizelia ietwat gespanne, want sy weet nie of sy haar moeder die hele waarheid moet vertel nie.

“Wat het die vreemde man laat besluit om hom oor ons te ontferm, Lizelia?” hoor sy haar moeder ná ’n rukkie vra, haar stem dof van pyn.

Lizelia besef dat haar moeder nie met ontwykende antwoorde tevrede sal wees nie, dus lees sy vir haar die brief wat sy vroeër die middag van die baron ontvang het voor.

“Ek weier baie beslis dat jy so ’n ongehoorde opoffering om my ontwil doen, my kind,” sê Irma moeg. “Die man weet nie wat hy van jou vra nie …”

Haar stem raak meteens weg van uitputting en dit gee Lizelia kans om te verduidelik: “Die huwelik sal net in naam wees, Mams, maar dit sal verseker dat die baron ’n verpleegster in sy diens sal hê, en my eie ou Mams sal terselfdertyd ook versorg wees.”

Irma skud haar kop stadig en moeisaam as teken dat sy die edelman se voorstel glad nie goedkeur nie. Maar Lizelia het alreeds besluit dat sy die baron se voorstel gaan aanvaar. Sy kan tog nie toekyk hoe haar ma elke oomblik verswak sonder om iets daaraan te doen nie! Die operasie is vir haar op die oomblik die belangrikste oorweging – die operasie en haar moeder se gesondheid.

Lizelia gesels nou op gedempte toon oor alles wat sy al in Rome besigtig het. Sy merk op dat haar moeder se asemhaling geleidelik reëlmatig word, en dan weet sy dat sy rustig slaap.

Lizelia sug saggies toe sy van die stoel af opstaan en die siekekamer stil verlaat. Sy is so diep ingedagte dat sy haar byna vasloop in dokter Montesi wat onverwags in die deur verskyn.

Die arts herken die blonde Suid-Afrikaanse nooientjie dadelik. Hy groet haar en stel vriendelik voor: “As u op pad is hotel toe, kan u gerus saam met my ry, signorina. Ek wil graag u moeder se toestand met u bespreek.”

Lizelia aanvaar die dokter se vriendelike aanbod dankbaar, en stap dan saam met hom na sy motor wat voor die gebou parkeer is. Haar gedagtes draai om haar moeder se toestand, die baron se voorstel en die operasie.

“Het u al besluit wanneer die operasie uitgevoer kan word, signorina Heyns?” hoor sy die arts vra toe hy voor die hospitaal wegtrek. “Ons kan u moeder se lewensvlammetjie nie meer lank aan die gang hou sonder die operasie nie.”

“Ek hoop om u môreoggend ’n finale antwoord te kan gee, dokter,” belowe sy afgetrokke. Dan kyk sy die arts reguit aan en vra sag: “Ken u miskien die baron Eduardo de Mashatini?”

“Die baron is baie bekend in Rome en in die hele Italië, signorina. Trouens, hy en my jonger broer was saam op skool en ook in dieselfde klas,” vertel die arts.

“Ek sien,” sê Lizelia met ’n ligte frons tussen haar mooi geboogde winkbroue. “Kan u miskien vir my sê hoe ’n soort man die baron is, dokter?”

“Laat ek dit vir u só stel, signorina,” antwoord die arts bedaard: “Hier in Italië kan jy vandag ’n titel vir ’n paar honderd Amerikaanse dollar koop. Maar die baron is nog van die ou Italiaanse aristokrasie: skatryk, geëerd en gerespekteer. Hy is natuurlik nog in die tradisie van die Italiaanse adel opgevoed, daarom is hy baie nougeset en konserwatief, maar hy is ook te alle tye ’n heer wat eerbied en respek van sy medemens afdwing.

“Sy swaer en suster besoek hom glo dikwels noudat hy blind is. Maar daar is ’n gerug dat hy verbitter en ongenaakbaar is sedert sy verloofde hom vir ’n ander man laat staan het. Hy neem glo deesdae geen uitnodigings aan nie, en moedig ook niemand aan om hom te besoek nie. Dit is amper of hy ’n kluisenaarsbestaan voer. Hy woon tans in sy villa hier in Rome, maar hy het ook ’n fabelagtige castello langs die Arnorivier tussen Florence en Arezzo, bo-op ’n hoë, bosbegroeide koppie. Sy plaas is iewers in die noorde naby Milaan. Maar sê my, het u al met die baron kennis gemaak, signorina?”

“Ja, ek het vanoggend met hom kennis gemaak, dokter. Ek moet sê hy hét vir my baie sinies voorgekom.”

“O, hy was dalk maar net in ’n slegte bui,” raai die arts.

“Dit is moontlik,” antwoord sy sag. Dan hou hulle voor die hotel stil. Sy bedank die dokter omdat hy haar opgelaai het, groet hom beleef en klim dan haastig uit.

Lizelia kom net betyds vir aandete by die hotel aan, wat sy stil en afgetrokke nuttig. Noudat sy van die hospitaal af weg is, begin sy weer twyfel aan die wysheid van haar besluit om met die baron te trou. Maar dan tref dit haar weer dat haar moeder se lewe aan ’n baie dun draadjie hang, en dat net ’n operasie haar lewe kan red.

As my moeder sterf omdat die operasie nie gedoen kon word nie, sal ek myself altyd verwyt omdat ek dit kon verhoed het, gesels sy in haar gedagtes met haarself, en sy is nie eens daarvan bewus dat sy slegs peusel aan die smaaklike geregte wat die kelner aan haar voorsit nie.

Sy vermaan haarself om positief te dink en dinge in die regte perspektief te sien. Die baron stel hoegenaamd nie belang in haar of haar probleme nie. Vir hom is sy maar net nog ’n persoon wat hom van diens kan wees – nie as vrou nie, maar as ’n soort verpleegster. Hy het ’n permanente verpleegster nodig en sy … sy het sy geld nodig vir die operasie wat lewe en gesondheid vir haar moeder kan verseker.

Die eetkamer is byna leeg toe Lizelia werktuiglik van die tafel af opstaan en die vertrek verlaat. Terwyl sy vir die hysbak wag om af te kom, sien sy Mario na haar toe aangestap kom en oombliklik val dit haar by dat die baron vanáánd al ’n antwoord van haar verwag.

Sy loop Mario tegemoet, groet hom beleef en sê sonder veel belangstelling: “Ek vrees ek het nog nie aangetrek vir die besoek aan u werkgewer nie, meneer Cordoni. Daar word seker van my verwag om formeel aan te trek, nie waar nie?”

Mario knik en antwoord bevestigend: “My heer die baron is baie gesteld op etiket, signorina. Ek sal u dus aanraai om altyd saans formeel aan te trek. Ek sal hier in die ingangsportaal vir u wag.”

“Nou goed, ek sal so gou ek kan, verklee, meneer Cordoni. Ek is regtig jammer dat u vir my moet wag,” maak Lizelia haastig verskoning en gaan dan na haar slaapkamer.

Terwyl sy aantrek, tref dit haar met ’n ligte skok dat sy aanstons finaal oor haar toekoms sal moet besluit. Sy besef dat daar geen omdraaikans sal wees nadat sy haar besluit aan die baron meegedeel het nie.

Dit neem haar nie lank om aan te trek nie. Nadat sy haar grimering afgerond het en parfuum aangetik het, betrag sy haarself goedkeurend in die spieël.

Sy is in ’n eenvoudige swart aandtabberd geklee en dra daarby goudkleurige bykomstighede. Haar hoëhaksandale is ook goudkleurig, en die sjaal om haar skouertjies is swart.

Toe sy ná ’n rukkie uit die hysbak stap, tref dit haar meteens dat sy verniet so baie moeite met haar voorkoms gedoen het. Die edelman is immers blind en kan tog nie sien wat sy aanhet nie.

Mario merk haar dadelik op toe sy uit die hysbak stap. Hy loop haar tegemoet, maak ’n galante buiging en vergesel haar dan na die baron se luukse motor wat voor die hotel staan. Gino, die baron se motorbestuurder, is dadelik by om die motordeur vir haar oop te maak. Mario klim voor langs die bestuurder in, dan vertrek hulle dadelik na die edelman se villa langs die Via Appia.

Die eerste maal sedert sy die baron se voorstel ernstig begin oorweeg het, voel Lizelia senuweeagtig en gespanne. Noudat sy daaraan dink, tref dit haar dat sy onvoorwaardelik die baron se woord geneem het in verband met die ontslag van sy vorige verpleegsters. Hy het haar nou wel verseker dat hulle hóm geïrriteer het, maar hoe weet sy dat dit nie hy is wat die lewe vir húlle onhoudbaar gemaak het nie?

Lizelia is nog besig om hieroor te wonder, toe hulle by ’n groot hek indraai en voor die edelman se drieverdieping-villa stilhou. Gino is weer dadelik by en maak die motordeur vir haar oop. Hierna vergesel Mario haar na die baron se private sitkamer, waar glo net spesiale gaste toegelaat word en waar die edelman alreeds op haar aankoms wag.

Lizelia voel so vreemd en gespanne dat sy nie eers die luisterryke weelde om haar opmerk nie. Sy wou ook net vir Mario vra om haar liewer terug te neem hotel toe, toe hy voor ’n toe deur tot stilstand kom en saggies aanklop.

Op die edelman se uitnodiging stoot Mario die deur oop en nooi haar vriendelik om binne te gaan. Lizelia stap die weelderige vertrek behoedsaam binne, dan trek sy haar asem saggies in en bly meteens staan. Vanoggend het dit haar opgeval dat die baron ’n besonder aantreklike man is, maar waar hy nou voor die rusbank staan, geklee in ’n donker aandpak en ’n spierwit borshemp, lyk hy vir haar onweerstaanbaar aantreklik.

Sy hoor hoe die baron vir Mario iets op Italiaans sê, en dan verlaat Mario die vertrek. Dan hoor sy hom weer op Engels sê: “Kom sit asseblief hier langs my op die rusbank, signorina. Ek kan nie met jou gesels as jy aan die ander kant van die vertrek sit nie … of het jy vergeet dat ek blind is?”

“Dis waar, ’n mens is geneig om dit te vergeet,” sê Lizelia afgetrokke. Sy haal haar sjaal af, wag dat die edelman eers gaan sit en neem dan op die ander punt van die rusbank plaas.

“Hoe gaan dit met jou moeder, signorina?” hoor sy die edelman met sy mooi, diep stem vra.

“Dokter Montesi het my vanaand verseker dat hulle my moeder nie meer lank aan die lewe sal kan hou sonder die operasie nie, baron. Sy het vanoggend haar bewussyn herwin, maar sy verduur ontsettend baie pyn.”

Lizelia doen haar bes om kalm en bedaard te klink, maar die edelman is bewus van die hartseer in haar stem toe sy van haar moeder praat.

Daar heers ’n rukkie lank stilte in die vertrek, dan hoor sy hom weer sê: “Ek veronderstel jy het my brief gelees en my voorstel oorweeg, signorina.”

“Ja, ek het u voorstel ernstig oorweeg, baron. Ek het die saak selfs met my moeder bespreek,” sê Lizelia sag. “Maar ek vrees my moeder keur dit ten strengste af dat ek so ’n groot opoffering om haar ontwil doen.”

“En jy, signorina? Voel jy ook dat die opoffering te groot is?” hoor sy die man weer vra.

“Ek weet nie wat om te dink nie, baron,” antwoord sy met ’n moedelose sug. “Sien, die probleem is die huwelik wat u voorgestel het. Ek sal vir u ’n toegewyde verpleegster wees sonder om met ’n huweliksband aan u gebind te wees. Ek verseker u, ek is baie eerlik opgevoed en kom altyd my beloftes getrou …”

“Ek het nie geweet daar is nog eerlike vroumense in die wêreld nie, signorina,” val hy haar smalend in die rede. “Maar ek vrees jou eerlikheid verander niks aan my voorstel nie. As jy geldelike steun van my verlang, sal jy my voorstel net so moet aanvaar.”

Lizelia vroetel senuweeagtig met haar aandsakkie toe sy ietwat huiwerig vra: “Waarom is dit vir u so belangrik om met my te trou, baron? As dit nog ’n huwelik in die ware sin van die woord sou wees, kon ek nog dink dat u miskien ’n erfgenaam verlang. Maar dit gaan slegs ’n huwelik in naam wees!”

Die baron swyg so lank dat Lizelia al begin wonder of hy ooit haar vraag gaan beantwoord. Dan hoor sy hom eindelik sê: “Nou goed, ek sal jou vertel waarom ek met jou, ’n meisie wat ek glad nie ken en ook nog nooit gesien het nie, in die huwelik wil tree. Noudat my verloofde my die trekpas gegee het, sal ek deur baie fortuinsoekers lastig geval word. As ek die gebruik van my oë gehad het, sou dit my nie in die minste gehinder het nie. Maar my blindheid plaas my in ’n moeilike posisie, want my ander sintuie is nog nie so ontwikkel dat ek iemand deur middel van sy stem kan opsom nie. Dit is vir my dus baie belangrik dat ek so gou moontlik in die huwelik tree, signorina.”

“Ek sien,” sê sy sag. “Die huwelik moet vir u as ’n skild dien. Maar hoe weet u dat ek nie ook ’n fortuinsoeker is nie, baron? U ken my nie. Ons het vanoggend maar vir die eerste maal kennis gemaak!”

“Jy het gelyk, signorina, ons het maar eers vanoggend kennis gemaak. Maar dokter Carini het my verseker dat jou nood heeltemal waar en eg is: Jy is dus nie ’n leuenaar nie, en daarom glo ek ook dat jy baie eerlik is.”

“Maar ek is nie ’n verpleegster nie, baron, ek is ’n onderwyseres …”

“Dit het jy vanoggend reeds vertel, signorina,” val die edelman haar bedaard in die rede. “Maar as dit jou sal gerusstel, wil ek net sê dat ek nie die diens van ’n gekwalifiseerde verpleegster verlang nie. My lyfbediende sien baie goed na my om. Al wat ek van jou verlang, is dat jy my oë sal wees en soms ligte takies vir my sal uitvoer. Jy sál dus in ’n sekere sin my verpleegster wees, en as vergoeding sal ek die bekwaamste breinspesialis ontbied om die operasie op jou moeder uit te voer. Daarna sal ek vir haar sorg solank sy lewe.”

“Ek het nog nooit in my lewe voor so ’n gewigtige besluit te staan gekom nie,” sê Lizelia met ’n stem wat vir die edelman baie verwese klink. Sy sug saggies en vervolg: “Die feit dat my moeder se lewe van die operasie afhang, gee my geen ander keuse as om u voorstel te aanvaar nie, baron … Ja, ek … ek aanvaar u voorstel. U kan dus maar begin reëlings tref vir die operasie.”

“Ek sal professor Landuzzi môreoggend per vliegtuig laat haal … Verskoon my, ek het vergeet wat jou naam is, signorina.”

“My naam is Lizelia en my van is Heyns, baron,” sê sy met ’n vreemde gelatenheid in haar stem wat die edelman se oor nie ontgaan nie.

Maar hy laat niks hiervan blyk nie en sê bloot: “My naam is Edoardo, en ek dink dit sal beter wees as ons mekaar van nou af op die voornaam noem.”

Toe Lizelia niks hierop sê nie, gaan hy ongestoord voort: “My sekretaris sal môre alles reël sodat ons oor twee dae in die huwelik kan tree. Gino, my motorbestuurder, sal jou môreoggend na ’n bekende modehuis neem sodat jy jou bruidsuitrusting kan gaan koop. Ek sal die modehuis vooraf skakel, want jou bruidsuitrusting moet net die beste wees. Jy moet ook vir my die maat van jou vinger gee, want ek moet seker maak dat die familieringe jou pas.”

Sy haal haar seëlringetjie van haar vinger af en sê merkbaar gespanne: “Ek hoop nie u het ’n groot troue in gedagte nie, baron … Edoardo, want ek kan nie ’n woord Italiaans praat nie en ek voel dat so iets onvanpas sal wees terwyl my moeder se toestand so kritiek is. Ek weet ongelukkig nie wat die maat van my vinger is nie, dus moet u maar my seëlring neem.”

Die baron hou sy hand na haar uit en sy plaas die ring versigtig op die palm van sy lang, slanke hand. Hy voel-voel die ringetjie tussen sy vingers, probeer dit aan sy pinkie steek, maar kry dit nie eers so ver as die eerste lit nie.

“Jy het verbasende dun vingertjies, Lizelia,” hoor sy hom sê. “Mario sê jou kop kom darem tot by my skouer. In elk geval, jy moet jou nie oor die huwelik bekommer nie. Ons trou hier in die tuin van my villa, en die enigste gaste sal lede van my familie wees wat naby genoeg bly om betyds vir die huwelik te wees. Ná ons troue sal ek reël dat iemand vir jou privaat lesse in Italiaans gee.”

“Sal die huwelik in die oggend of in die middag voltrek word?” vra Lizelia terwyl sy die edelman ondersoekend betrag. Sy stem klink nou wel kalm en besorg, maar dit flous haar glad nie. Daardie harde trek om sy mond toon baie duidelik dat hy die soort man is wat sy vrou knaend onder die duim sal hou, die wette sal neerlê en net een maal sal praat.

Gelukkig sal hulle huwelik net in naam wees, totdat hý anders besluit – natuurlik op ’n egskeiding, dink sy.

Maar dan hoor sy hom sê: “Die huwelik sal in die oggend voltrek word, en Gino sal jou môreoggend na die modehuis toe neem.”

Noudat alles bevredigend afgehandel is, stel die baron voor dat hulle die komende vennootskap met ’n glasie sjampanje beklink. Ná die tweede glasie kondig Lizelia aan dat dit tyd is vir haar om te gaan as sy haar nie môreoggend wil verslaap nie.

Die baron is ’n man van sy woord, want net ná ontbyt hou Gino voor die hotel stil. Lizelia, in ’n netjiese wit broekpak en goudkleurige sandale geklee, is gereed om na die modehuis te vertrek. Tot haar verbasing moet sy hoor dat die modehuis haar nie net van ’n bruidsuitrusting moet voorsien nie, maar dat hulle haar volledig moet uitrus vir die somer en dat alles nog dié middag by die baron se villa afgelewer moet word.

Lizelia het nog nooit in haar lewe sulke duur, en so baie, klere vir een seisoen besit nie. Dit duur byna vier uur om al die kledingstukke aan te pas, dus is sy bly toe alles eindelik afgehandel is en sy mag gaan. Sy vra Gino om haar asseblief by die hospitaal af te laai, aangesien sy haar moeder nie vanoggend kon besoek nie.

Irma is gelukkig nog wakker toe Lizelia haar opwagting in die siekekamer maak, en sy is ooglopend verlig toe sy Lizelia sien.

“Ek was al bekommerd oor jou,” begroet sy haar. “Jy moet altyd vooraf vir my sê as jy my nie kan besoek nie, my kind.”

Lizelia soen haar moeder baie teer op die voorkop en sê verontskuldigend: “Ek het nie gisteraand geweet dat ek Mams nie vanoggend sou kon besoek nie. Ek moes die baron gisteraand ’n antwoord gee op sy voorstel in die …”

“Ek hoop jy het my raad gevolg en vir hom gesê dat hy gans te veel van jou vra, my kind,” val Irma haar haastig in die rede.

Daar is ’n sweem van ’n glimlaggie om Lizelia se mooi, sagte mond toe sy sê: “Inteendeel, ek het vir hom gesê dat ek sy voorstel aanvaar, Moeksie. Die baron het vanoggend sy vliegtuig gestuur om professor Landuzzi, Italië se bekwaamste breinspesialis, te gaan haal om die operasie op Mams uit te voer. In elk geval, ons trou môreoggend in die tuin van sy villa hier in Rome. Die baron het vanoggend sy motorbestuurder hotel toe gestuur om my na ’n modehuis te neem. Daar is ek van ’n bruidsuitrusting en genoeg klere vir die res van die seisoen voorsien. Ek dink die modehuis se rekening gaan die edelman ’n fortuin uit die sak jaag, want hy het die bestuurder telefonies verwittig dat elke kledingstuk net van die beste moet wees.”

“So, dan is dít die vreemde chirurg wat my vanoggend ondersoek het,” merk Irma verwonderend op. “Hy wil eers môre ’n paar toetse op my uitvoer, dus sal hy oormôre opereer.”

“Ek sal so bly wees as die operasie agter die rug is en my ou Mams weer soos ’n mens voel,” kom dit hartstogtelik van Lizelia.

“Ja, maar het jy al daaraan gedink hoe die situasie daarna sal wees, Lizelia? Ek sal huis toe kan gaan, maar jy sal hier moet agterbly omdat jy met die baron getroud sal wees.”

“My ou Moeksie hoef nie huis toe te gaan nie,” keer Lizelia. “Die baron het gesê hy sal vir Mams sorg so lank as wat Mams lewe.”

“Ons sal weer later daaroor praat, my kind,” is al antwoord wat Lizelia van Irma ontvang. Irma sluit haar oë, en ná ’n rukkie is haar asemhaling egalig.

Lizelia besef dat hulle haar ma ’n rukkie gelede ’n doofmiddel teen die pyn moes gegee het, daarom besluit sy om maar te gaan en haar ma liewer vanaand weer te besoek.

Susanna M Lingua-keur 11

Подняться наверх