Читать книгу Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M Lingua - Страница 7
4
Оглавление__
Lizelia is nog steeds bleek, hartseer en verward van skok toe sy eindelik by die villa aankom.
“Lizelia, piccina, kleintjie!” roep Tina besorg uit toe die jong vroutjie in die klein sitkamertjie se deur verskyn. Sy kom vinnig orent, sit haar arm om Lizelia se tenger skouertjies en vervolg met opregte medelye: “Ek is so jammer om te hoor van jou groot verlies, en dat jy so… so alleen was toe dit …”
“Laat Lizelia ons maar eers vertel waar sy heeltyd was en waarom sy nou eers hier aankom,” sny die baron se koue stem meteens soos ’n yswindjie deur die vertrek.
Tina kan aan Lizelia se bleek, verwese gelaat sien dat haar moeder se heengaan vir haar ’n groot skok moet gewees het, daarom tree sy dadelik vir haar skoonsuster in die bres deur te sê: “Dit is nie nou die tyd om Lizelia oor die kole te haal nie, Edoardo. Sy is doodsbleek en absoluut verward van skok, en sy het vandag seker ook nog niks geëet nie.”
Edoardo is rooi van ergernis oor Tina se vermetelheid om hom teë te gaan, daarom sê hy met ’n skerper stem as wat hy werklik bedoel het: “As Lizelia mediese hulp nodig het, sal ek natuurlik dadelik ’n dokter ontbied. Maar ek kan nie verstaan waarom haar moeder se dood vir haar ’n skok was nie. Sy het immers geweet dat dit ’n gewaagde operasie is en dat sy enigiets moet verwag!”
Die baron se ongevoeligheid tref Lizelia soos ’n golf wat verpletterend oor haar spoel. Sy voel hoe iets in haar breek – iets wat die hele aand al soos ’n styfgespanne snaar om haar bors geknel het. Alles word meteens swart voor haar en sy sak net daar in die middel van die vertrek inmekaar.
“Jy sal dadelik ’n dokter moet ontbied, Edoardo. Lizelia is bewusteloos. Ek het jou gesê dit is onnodig om nou hard en ongevoelig teenoor haar op te tree,” sê Tina verwytend, terwyl Marco die bewustelose vroutjie van die vloer af optel en na haar kamer toe dra.
Tina kyk haar broer stil, peinsend aan en vervolg dan met ’n stem wat nou meer simpatiek klink: “Ek verstaan jou glad nie, Edoardo. Jy het ’n vrou wat elke man jou sal beny, en tog behandel jy haar asof sy jou bediende is, asof jy geen gevoel van liefde vir haar het nie.”
“Ek dink jy moet liewer gaan kyk of jy iets vir Lizelia kan doen terwyl ons vir die dokter wag, Tina. Ek veronderstel die goeie Marco het alreeds iemand gevra om die dokter te ontbied,” antwoord die baron ontwykend.
Edoardo hoor hoe sy suster in die eetkamer met die huishoudster praat. Hy dink aan haar verwyt dat dit lyk of hy Lizelia nie liefhet nie. Hoe dink sy kan ’n mens iemand liefhê wat jy nog nooit gesien het nie? Tina behoort immers te weet dat Francesca hom vir goed genees het van die emosie wat ’n mens liefde noem, en dat hy nooit weer daardie emosie in hom sal toelaat nie. Lizelia moet slegs as ’n buffer dien tussen hom en die wêreld se talle fortuinsoekers. Hulle sal twee maal dink voordat hulle hul strikke span vir ’n getroude man – veral as hy blind is.
Terwyl Edoardo se gedagtes hom besig hou, herwin Lizelia haar bewussyn in haar bed en sy bars die eerste maal vandat die suster haar moeder se lewelose hand uit hare verwyder het, in trane uit.
Rou snikke skeur uit haar bors en haar skouers ruk. Dit voel vir haar of die hele wêreld om haar in duie gestort het en sy niks meer het om voor te lewe nie. Sy het alles gedoen, die grootste offer van haar lewe gebring, maar alles was tevergeefs. Al Edoardo se rykdom kon nie haar moeder se lewe red nie. En nou is sy getroud met ’n vreemde man wat haar meestal onvriendelik behandel.
Lizelia voel verskeurd en gebroke. Sy snik asof haar hart wil breek. Sy voel nie eens toe die dokter haar ’n inspuiting gee nie en is onbewus daarvan dat almal haar kamer verlaat.
“Jy moes jou vrou in haar uur van beproewing bygestaan het, Edoardo!” verwyt Tina weer eens haar broer terwyl hulle ’n ligte drankie in die klein sitkamertjie geniet. “Lizelia moes in die hospitaal al behandeling vir skok ontvang het.”
“Nou waarom het jý haar nie bygestaan nie?” kap hy onverskillig terug. “Jy is jare ouer as ek en sou seker beter geweet het hoe om teenoor ’n hartseer vrou op te tree. Onthou asseblief dat ek nie kan sien wanneer mense hartseer is of aan skok ly nie.”
“Ek is jammer oor my verwyte, Edoardo,” vra Tina dadelik om verskoning. “Ek het ’n oomblik lank vergeet dat jy nie kan sien nie. Jou … e … onverskillige houding jaag ’n mens die harnas in en dan sê mens dinge wat jy andersins nooit sou gesê het nie.”
“Nou goed, noudat ons mekaar verstaan, sal jy Lizelia en haar probleme hopelik in my hande laat en jou nie langer daarmee bemoei nie,” sê hy stroef en ongevoelig. “Solank jy haar pamperlang, sal sy aanhoudend in trane wees. Maar sodra jy haar behandel asof daar niks ernstig gebeur het nie, sal sy hierdie gevoelige slag te bowe kom. Ek wil hê Lizelia moet haar so gou moontlik by ons gewoontes aanpas en ons taal aanleer, maar sy sal dit baie beslis nie regkry as sy voortdurend in trane is nie.”
“Ek dink Edoardo het gelyk, Tina,” laat Marco nou ook van hom hoor. “Dit sal beter wees om Lizelia se gedagtes liewer af te lei van die ramp wat hulle so onverwags hier in die vreemde getref het. Sy sal haarself in elk geval net siek maak deur aanhoudend in trane te wees. Help haar liewer om weer vastigheid onder haar voete te kry, sodat sy weer haar plek in die lewe kan vol staan.”
Hulle gesels nog ’n rukkie oor Lizelia wat nou heeltemal wees is, en oor die begrafnis wat twee dae later sal plaasvind. Tina belowe Edoardo dat sy Lizelia die volgende dag na die modehuis sal neem om haar begrafnisuitrusting te koop. Dan kondig Edoardo aan dat dit tyd is om te gaan slaap.
Lizelia voel die volgende oggend asof haar lewe oornag leeggeloop het. Sy het in die vroeë môre-ure wakker geword en haar weer aan die slaap gehuil. Nou voel dit of sy nie meer ’n enkele traan het om te stort nie. Sy het nog nooit in haar lewe so eensaam en alleen gevoel soos nou nie.
Sy besef dat sy ’n eensame en onvriendelike toekoms tegemoetgaan, want Tina en Marco, die enigste twee wat haar vriendelik gesind is, vertrek oor ’n paar dae na hulle tuiste. Daarna sal sy heeltemal aan die baron se onvriendelikheid oorgelaat wees. En dit is beslis nie ’n aangename vooruitsig nie.
Lizelia is nog steeds besig om oor haar eensaamheid en troostelose toekoms te tob, toe daar meteens aan haar kamerdeur geklop word.
“Kom binne!” roep sag op Engels uit.
Dit is Tina. Sy dra ’n klein skinkbordjie met ’n koppie koffie vir Lizelia daarop.
“Edoardo het streng bevele aan die werkers gegee om jou nie wakker te maak nie, maar ek het vermoed jy is al wakker. Is jy lus vir ’n bietjie koffie?” glimlag Tina en plaas die skinkbord versigtig op die bedtafeltjie.
“Dankie, die koffie is baie welkom,” bedank Lizelia haar saggies, maar sy is nie in staat om die pyn en hartseer in haar te verbloem nie. Om haar mooi, sagte mond en in haar oë is ’n hartseer trekkie wat van groot leed getuig.
“Edoardo het gesê ek moet jou vandag na die modehuis toe neem sodat hulle jou volledig vir die begrafnis kan uitrus. Hy het hulle reeds gebel en verduidelik wat hy alles verlang. Jy moet dus net gaan aanpas,” verduidelik Tina.
“Hoe laat wil jy gaan?” vra Lizelia sonder enige belangstelling. Sy beskou hierdie besoek aan die modehuis as ’n bevel van haar werkgewer wat sy nie durf ignoreer nie.
“Ons kan gaan sodra jy gereed is, Lizelia,” hoor sy Tina sê, “maar dit sal beter wees as ons vanoggend gaan, ingeval jou tabberd verstel moet word. Die begrafnis is vir môreoggend gereël.”
“In daardie geval sal ek dan maar dadelik opstaan,” kom dit afgetrokke van Lizelia. Sy neem die koppie koffie en vervolg met ’n geslote gesig: “As jou broer kon sien, sou hy ongetwyfeld self vir my ’n rok gaan koop het …”
Tina stem met ’n sagte laggie saam dat dit nie onmoontlik is nie. Aangesien hy self altyd pynlik netjies en deftig aangetrek is, sal hy natuurlik verkies dat sy vrou ook deur ’n ring getrek kan word.
Lizelia wil eers vir Tina sê dat sy nie werklik die baron se vrou is nie; dat sy maar net een van sy talle werknemers is. Maar dan besluit sy om liewer te swyg, want dit lyk nie of hy sy familie ingelig het oor die voorwaardes waarop hulle getroud is nie. Tog, as hy die skyn voor sy familie wil bewaar, sal hy beslis vriendeliker teenoor haar moet wees.
Tina maak verskoning en verlaat die vertrek. Lizelia besef dat dit ’n teken is vir haar om op te staan en sy stoot haar bene traag van die bed af. Sy voel soos ’n marionet wat geen sin of wil van haar eie het nie, want binne-in haar, waar haar hart moet wees, voel dit koud en dood. Sy het haar in die vroeë môre-ure finaal aan alles en almal onttrek. Nou lewe sy net vir die dag wat die baron hulle skynhuwelik sal ontbind en sy weer vry sal wees om terug te gaan na haar eie land toe.
Terwyl Lizelia en Tina in die stad is, stuur sy ook ’n kabelgram aan haar ouma om haar van haar ma se afsterwe te verwittig. Sy verseker haar ook dat ’n brief die kabelgram spoedig sal volg.
Van die begrafnis weet Lizelia nie veel nie, want toe hulle die klein Engelse kerkie binnestap, het sy vir laas na haar ontslape moeder in die oop kis gekyk, en net daar langs die kis in ’n floute neergesak.
Toe Lizelia so onverwags in die kerk flou word, stel die baron voor dat hy en Mario haar na die villa terugneem sodat die dokter haar deeglik kan ondersoek en kan behandel vir hierdie periodieke floutes.
Dit is alreeds agt dae na die begrafnis. Tina en Marco het gister vertrek, en Lizelia is heeltemal alleen saam met die baron en sy werkers.
“Voel jy sterk genoeg om met die Italiaanse lesse te begin, Lizelia?” vra die baron terwyl hulle in sy studeerkamer aan weerskante van die lessenaar sit. Hy het haar spesiaal ontbied om ’n paar sake met haar te bespreek, want hy voel dat dit tyd geword het vir haar om weer aan die lewe deel te neem.
“ ’n Mens is nie noodwendig siek as jy flou word nie, Edoardo,” sê Lizelia met ’n stem waarin pyn en hartseer nog deurskemer. “Jy, wat blykbaar nog nooit enige menslike swakheid ondervind het nie, sal seker nie verstaan as ek sê dat ek ontwortel, verlate en ankerloos voel in hierdie vreemde land, alleen tussen vreemde mense wie se taal en gewoontes ek glad nie verstaan nie. Maar dit maak nie meer saak nie; ek het die afgelope agt dae geleer om daarmee saam te lewe. Wat jou vraag betref … Ek is gereed om die Italiaanse taal aan te leer, as dit nie inbreuk sal maak op my werk as jou verpleegster nie.”
“Toe maar, moet jou nie daaroor bekommer nie. Dit sal geensins inbreuk maak op jou werk nie. Ek het aandklasse vir jou gereël,” sê hy effens kortaf en met ’n onpersoonlike stem – so asof hy besig is om ’n onaangename taak agter die rug te kry.
“Noudat ons van my werk praat, wil ek graag weet wat my pligte alles behels. Dan wil ek ook dankie sê omdat jy geen koste ontsien het met my moeder se siekte en met haar begrafnis …”
“Ons gaan nie nou weer daaroor gesels nie,” val hy haar kortaf in die rede. “Ek het my deel van die ooreenkoms nagekom. Jou deel sal wees, soos ek reeds gesê het, om die fortuinsoekers se aspirasies te demp.” Hy wou eers byvoeg totdat hy weer kan sien, maar besluit om liewer te swyg oor die oogoperasie wat hy later moet ondergaan, en vervolg: “Ek het natuurlik nie ’n verpleegster nodig nie, maar jy kan my soms op my wandelings vergesel. Intussen moet jy jouself maar besig hou. Ek sal jou wel sê as daar iets is waarmee jy my kan help … Ja, daar is nog iets wat ek wou sê. Wanneer ek gaste ontvang, moet jy natuurlik jou plek langs my inneem soos dit die barones De Mashatini betaam. Ek vereis ook dat jy altyd baie deftig geklee moet wees, en daarby bedoel ek dat jy altyd die deftigste dame in Rome moet wees – nie net wanneer hier besoekers is nie, maar elke dag. Ek het met die modehuis gereël om gereeld vir jou tabberds op sig te stuur.”
“Ek wens jy was nie so … so vreeslik ryk nie, Edoardo,” sê Lizelia effens mistroostig. “Ek wens jy was sommer net ’n gewone man sonder ’n titel. Dit sou die lewe minder gekompliseerd maak.”
“Toe maar, sodra jy Italiaans kan praat en verstaan, sal die lewe vir jou meteens ook baie minder gekompliseerd wees,” troos die baron. “Jou lesse begin vanaand. Gino sal jou ná ete na die professor se huis toe neem en jou later weer gaan haal. As jy weet hoe om blomme te rangskik, kan jy gerus die huishoudster daarmee gaan help.”
Hierdie laaste voorstel is vir Lizelia ’n duidelike teken dat die gesprek afgehandel is en dat sy moet gaan. Dus stap sy dadelik na die eetkamer waar sy die huishoudster vroeër gesien het.
Lizelia neem drie maal per week les by die afgetrede professor Lancetti wat ongeveer ’n kilometer van die villa af woon. Sy doen dit nie omdat sy daarvan hou nie, maar omdat Edoardo dit van haar verwag. Sy het al agtergekom dat hy baie kwaad word wanneer sy wense verontagsaam word. Hy is pynlik gesteld op etiket, en het Lizelia al ’n paar maal berispe omdat sy ’n paar minute laat tuis gekom het van haar aandklas af.
Lizelia weet nie wat Edoardo vanaand gaan sê nie, want die taalles het byna ’n halfuur langer as gewoonlik geduur. Hulle is alreeds vier maande getroud. Gedurende dié tyd was die baron maar selde in ’n goeie bui. Hy was juis vanaand voor haar vertrek glad nie in ’n verdraagsame bui nie, dus kan sy haar maar klaarmaak vir ’n kil ontvangs.
Edoardo verhef nooit sy stem nie, maar hy kan so kil en ongenaakbaar optree dat dit behoorlik voel of hy jou met sy tong gesel.
Gino hou voor die deur stil en Lizelia klim haastig uit. Sy bedank hom omdat hy vanaand so geduldig vir haar gewag het, en hardloop die treetjies wat na die voordeur lei op.
Lizelia het nog nie eens die voordeur bereik nie, toe maak die hoofkneg dit vir haar oop. Hy verwelkom haar met ’n beleefde buiging en kondig aan dat die baron in sy studeerkamer wag om haar te spreek.
Lizelia bedank hom vriendelik en stap dadelik na die studeerkamer sonder om eers haar boeke te gaan bêre.
Daar is ’n harde, ongenaakbare trek om Edoardo se mond toe Lizelia in die studeerkamer binnekom, stilweg groet en die deur saggies agter haar toemaak. Sy klem die boeke styf, senuweeagtig in haar arm vas toe sy behoedsaam sê: “Die major domo sê jy wil my spreek, Edoardo.”
“Vind jy dit vreemd as ek jou na my studeerkamer ontbied om te hoor waarom jy ’n halfuur laat is?” sny sy stem deur die vertrek. Sy kyk hom verslae aan en weet ’n oomblik lank nie wat om te sê nie. Dan dreun sy stem onverbiddelik voort: “Ek veronderstel jy het ’n minnaar, daarom kom jy so dikwels laat van jou aandklas af. Maar ek wil jou net een ding vertel: Ek gaan in geen omstandighede toelaat dat jy my vir ’n gek hou en boonop skande oor my huis bring met jou skaamtelose flankeerdery …”
“Ek het my nog nooit in my lewe skaamteloos gedra nie, baron,” val Lizelia hom sag en diep seergemaak in die rede. “Ek het ook nog nooit skande oor my ouerhuis gebring nie. Wees dus verseker dat daar geen minnaar in my lewe is nie. Jy het my al dikwels in die verlede seergemaak met jou sarkasme. Ek kan jou jou humeurigheid nog vergewe, maar vir hierdie gemene beskuldiging sal ek jou nie maklik vergewe nie. Mag ek nou maar gaan?”
“Nee, nie voordat jy eers vir my vertel het waarom jy vanaand so laat is nie, Lizelia,” dring Edoardo aan, maar sy stem klink moeg.
“Ek vrees daar is geen bepaalde rede nie. Die les het maar net langer geduur,” antwoord sy saaklik en wag ongeduldig dat hy haar toestemming gee om te gaan.
“O, nou goed, ek sal professor Lancetti môreoggend bel en hom goed laat verstaan dat jou lesse slegs twee uur moet duur, en nie ’n minuut langer nie,” hoor sy Edoardo nou weer bedaard sê. “Jy mag maar gaan, Lizelia.”
Sy gaan dadelik na haar kamer nadat sy hom ewe onpersoonlik ’n goeie nagrus toegewens het.
Lizelia lê daardie aand tot laat en dink aan die edelman se onregverdigheid. Sy begryp dat hy ongeduldig en humeurig is omdat hy blind is en omtrent niks vir homself kan doen nie, maar ’n mens maak tog eers seker van jou feite voordat jy iemand beskuldig!
Soos gewoonlik moet Lizelia die volgende oggend ná ontbyt vir Edoardo al die belangrike nuus uit die plaaslike dagblad voorlees sodat hy kan hoor hoe sy met die Italiaanse taal vorder. Hier waar hulle agter die huis in die koel somerhuisie sit, is hulle onbewus van die motor wat voor die deur stilhou.
Edoardo is so meegevoer deur Lizelia se mooi, musikale stem dat hy onwillekeurig vererg frons toe ’n bekende vrouestem skielik tussenin opklink.
“Goeiemôre, my liewe Edoardo!” roep die effens heserige vrouestem vrolik op Italiaans uit. Sy tree vlugtig nader, buk grasieus oor die baron en soen hom hartlik op sy mond. “Ek het my byna doodverlang na jou, my skat,” babbel sy opgewonde en wend haar dan koel en hooghartig na Lizelia. “Sit asseblief vir my ’n stoel langs die baron s’n neer, juffrou, dan kan jy maar gaan. Ek sal jou pasiënt in die oog hou …”
“Wag ’n bietjie,” keer Edoardo met ’n harde trek om sy mond. “Jy praat nie nou met ’n verpleegster nie, Francesca. Laat my toe om my vrou, die barones Lizelia de Mashatini, aan jou voor te stel.” Hy wend hom na Lizelia en vervolg ongestoord, onbewus van die geskokte uitdrukking op Francesca se gesig: “Hierdie voorbarige dame is ’n gewese vriendin, Francesca Bove. Toe sy hoor ek is blind, het sy ons verlowing summier verbreek en haar aan iemand anders verloof. Ek sal dus graag wil weet wat haar vanoggend daartoe gedryf het om my te besoek.”
“Ek het jou alreeds gesê dat ek my byna dood na jou verlang het, Edoardo,” hou Francesca met ’n stroopsoet stem vol, terwyl sy vir haar ’n stoel nader trek. “Ek het gister my verlowing met Giovanni verbreek.”
Francesca is slim genoeg om te weet dat sy die rede vir hierdie verbreekte verlowing moet verswyg. Laat Edoardo maar glo dit is omdat sy hóm nog steeds liefhet. Hy hoef nie te weet dat sy uitgevind het dat Giovanni ’n kerkmuis is nie. Sy moet Edoardo weer terugwen. Hierdie sogenaamde vrou van hom is nie ’n onoorbrugbare probleem nie.
Toe Edoardo niks sê nie, gaan Francesca met ’n ongeduldige frons voort: “Ek het nie geweet dat jy getroud is nie, skat. Jou vrou lyk vir my nog na ’n skone kind.”
“Ek dink jy vergis jou met my vrou omdat sy so klein en fyn is, Francesca,” merk Edoardo met ’n stywe glimlaggie op. “Lizelia sal met haar volgende verjaardag drie en twintig jaar oud wees. Sy is dus glad nie meer ’n kind nie.”
“Dis waar,” erken die swartkopmeisie halfhartig, “sy is nie meer ’n kind nie, maar ek dink nog sy is te jonk vir jou vier en dertig jaar, Edoardo, skat.”
“O, jy sou graag wou sien dat ek met ’n oujongnooi opgeskeep sit,” sê Edoardo. Hy weet dat die nege en twintigjarige Francesca dié stekie sal voel. Lizelia glimlag geamuseerd agter die koerant en maak asof sy niks gehoor het nie.
Francesca is rooi van ergernis en verleentheid, maar laat niks deurskemer nie toe sy versigtig vra: “Hoe lank is julle al getroud, skat, of mag ek nie vra nie?”
“Daar is niks geheimsinnig in verband met ons huwelik nie, Francesca. Ons is vier maande gelede baie stil hier in die tuin van die villa getroud omdat my skoonmoeder op daardie tydstip op sterwe gelê het. Sy is die dag ná ons huwelik dood,” vertel Edoardo bedaard.
“So, dan is julle al vier maande getroud,” sê Francesca met ’n gesteurde frons. “Wel, ek moet sê dit het jou nie lank geneem om my te vergeet nie, of het jy miskien getrou met die hoop dat jy my sal kan vergeet?”
Edoardo lag kortaf en bitter en sê dan met ’n siniese klank in sy stem: “Wat laat jou dink dat jý onmisbaar is, Francesca? Geen mens is onmisbaar nie, weet jy? Of het jy miskien gedink dat dit vir my die einde van die lewe was toe jy ons verlowing beëindig het? Ek het nog nooit dinge nagejaag wat buite my bereik is nie.”
“Wel, ek moet sê, jy kon darem ’n paar maande langer gewag het met hierdie huwelik …”
“Ek sien geen rede waarom ek en Lizelia ons huwelik moes uitstel nie, my liewe Francesca,” sê Edoardo ongeërg. “Ons is gelukkig en ek verlang niks meer van die lewe nie, behalwe om weer die gebruik van my oë te hê.”
Lizelia vou die koerant op, maak verskoning en stap tydsaam in die rigting van die agterdeur. Sy besef dat sy haar maniere sou vergeet en die meisie presies sou vertel wat sy van haar dink as sy langer daar sou bly. Toe sy Edoardo gehad het, wou sy hom nie hê nie omdat hy blind is. Maar noudat hy getroud is, is hy skielik goed genoeg en wil sy hom weer hê. Sy kan nie verstaan waarom Edoardo haar nie na haar peetjie stuur nie.
Hy het haar natuurlik nog lief, daarom duld hy haar onbeskaamde voorbarigheid, dink Lizelia. Nie dat sy weet wat hy in haar sien nie, want vir Lizelia lyk sy maar soos talle ander Italiaanse meisies – miskien net deftiger en meer gesofistikeerd. Daar is baie mooier meisies hier in Rome …
Dit tref Lizelia meteens dat sy gebelg voel dat die swartkopmeisie Edoardo se hele hart in die palm van haar hand hou. Sy voel onthuts omdat die skaamtelose meisie weer haar verskyning in sy lewe kom maak het, net om ou wonde oop te krap.
Lizelia vertel die huishoudster van Francesca se onverwagte besoek en vervolg versigtig: “Ek dink u moet maar dadelik iemand stuur om te hoor of die dame vir middagete gaan bly, mevrou Bartoldi. Sy was nogal taamlik geskok toe sy hoor die baron is getroud.”
“Ek hoop sy besef dat dit skaamteloos en voorbarig sal wees om in dié omstandighede vir middagete te bly, barones,” sê die huishoudster onvergenoeg.
“Ek glo nie Francesca weet wat daardie twee woorde beteken nie, mevrou,” meen Lizelia. “As ek haar reg opgesom het, en ek dink ek het, gaan sy alles in haar vermoë doen om die baron terug te wen.”
“Ek glo nie sy sal dit regkry nie, barones,” verseker mevrou Bartoldi haar ernstig. “My heer die baron sal hom nie twee maal deur dieselfde persoon laat mislei nie.”
“O wel, dit sal die baron se verdiende loon wees as hy weer toelaat dat sy hom ’n rat voor die oë draai,” sê Lizelia met ’n ligte skouerophaling en stap sonder meer na die ontvangskamer om te kyk of die blomme nog vars is.
Lizelia sluit net voor ete weer by Edoardo in die somerhuisie aan, en is glad nie verbaas toe sy Francesca nog daar kry nie.
“Ek kom jou haal, want dit is tyd vir middagete, Edoardo,” sê Lizelia saaklik.
“Toe maar, ek sal hom eetkamer toe neem,” bied Francesca aan.
“Francesca bly vir middagete, Lizelia,” stel Edoardo haar in kennis. “Maar ek verkies dat jy, my vrou, my binnetoe neem, en nie ’n buitestander nie.”
“So, dan is ek nou ’n buitestander, na alles …”
“Jy is nie ’n lid van ons familie nie, Francesca,” wys hy haar tereg, “en ek laat in elk geval net twee persone toe om by my te staan – my vrou en my lyfkneg.”
Francesca is rooi van ergernis. Haar lippe is saamgepers. Lizelia kan sien dat sy nog nie daarin geslaag het om Edoardo se verharde hart week te maak nie.
Lizelia neem Edoardo se arm en voel hoe sy lang, goed versorgde hande na hare soek, dit vind en sy vingers versigtig deur hare strengel.
“Jy het darem ’n vreeslike fyn handjie, my kleintjie,” hoor sy hom met ’n vriendelike glimlaggie sê. “Net so klein en fyn soos ’n Dresdenpoppie s’n.”
“Ja, dit is jammer,” glimlag sy terug, “dat almal nie met lang, slanke ledemate geseën is nie.”
“Jy het hoegenaamd nie nodig om lang, slanke meisies te beny nie, my skat,” hoor sy die edelman weer gemoedelik sê. “Ek verkies ’n klein vroutjie wat ek kan beskerm. Lang dames het myns insiens nie ’n man se beskerming nodig nie.”
Lizelia merk hoe Francesca haar onderlangs dophou. Sy slaag nie daarin om haar wrewel en afguns te verberg nie, want die harde, onvergenoegde trek om haar mond verraai elke emosie in haar.
Hulle stap die villa binne. Edoardo maak verskoning by hul gas en vra Lizelia om hom eers badkamer toe te neem sodat hy sy hande kan gaan was.
Daar is ’n onpeilbare uitdrukking in Francesca se swart oë toe sy Lizelia en Edoardo agterna staar. Sy besef dat sy ’n groot fout begaan het toe sy destyds haar verlowing met Edoardo verbreek het. Nou is hy getroud, en dit gaan ’n opdraande stryd wees om ’n einde aan sy ongewenste huwelik te maak. Sy weier om te glo dat hy haar so gou vergeet het en dat iemand anders alreeds haar plek in sy hart ingeneem het. Sy sal nie rus voordat sy Edoardo en sy miljoene weer vir haarself gewen het nie. Dat hy blind is, maak nie meer saak nie.
Tydens middagete slaag Francesca daarin om Edoardo se aandag op haar te vestig deur aanhoudend met hom te gesels asof dit net hulle twee aan tafel is. Mevrou Bartoldi het Lizelia ’n paar maal betekenisvol aangekyk en toe huishoudelike sake met haar begin bespreek. Angelo Calbo, die baron se sekretaris, het Francesca afkeurend betrag en probeer om sy werkgewer van haar opdringerigheid te red deur ’n paar onbenullige sake met hom te bespreek. Maar Francesca se vasberadenheid is ongeëwenaard en ook Angelo moes later swyend toekyk hoe sy die edelman monopoliseer.
Ná ete neem Lizelia die baron na die systoep waar hy gewoonlik smiddags ontspan. Sy help hom versigtig om in ’n gemaklike leunstoel te gaan sit. Dan maak sy beleef verskoning en gaan na haar kamer, waar sy haar die res van die middag met die volgende dag se Italiaanse lesse besig hou.
Lizelia sien geen rede waarom sy haar die hele middag in Edoardo en Francesca se geselskap moet sit en verveel nie. Al kan sy die voorbarige swartkopmeisie nie veel nie, is sy immers die vrou wat Edoardo liefhet en oor wie hy al maande treur. Hy sal dit bepaald verwelkom om alleen met sy geliefde te wees.
Laat die middag ontbied Edoardo Lizelia na sy studeerkamer.
So, dan het sy geliefde toe eindelik vertrek, dink sy toe sy die studeerkamer binnestap en die baron alleen in die vertrek aantref. Sy maak die deur saggies toe en vra kalm: “Is daar iets wat ek vir jou kan doen, Edoardo?”
“Ja, jy kan sit en my vertel waar jy die hele middag weggekruip het,” versoek hy met ’n koue, ongenaakbare stem.
Lizelia voel dadelik moedeloos oor sy onregverdige aanval. Haar stem klink moeg toe sy sag sê: “Ek het nie weggekruip nie, Edoardo; ek het my lesse voorberei vir môreaand se klas.”
“Ek gee nie ’n flenter om wat jy gedoen het nie. Jy weet net so goed soos ek dat jou plek langs my is wanneer ons gaste onthaal, maar jy het my bevele vandag doelbewus verontagsaam,” wys hy haar bitter onvergenoeg tereg.
“Ek het dit nie uit laksheid gedoen nie,” verdedig Lizelia haar optrede. “Juffrou Bove is tog ’n baie spesiale gas en dit was baie duidelik dat sy bitter spyt is dat sy julle verlowing verbreek het. Ek het gedink aangesien sy die meisie is wat jy liefhet, sal jy graag alleen met haar wil wees …”
“Ek het jou nie gevra om vir my te dink nie, Lizelia. Jou plig is om my bevele stiptelik uit te voer, sonder om jou met my sake in te meng of na jóú goeddunke op te tree. Ek herhaal, wanneer ons gaste het, moet jy aan my sy bly totdat die laaste gaste vertrek het, maak nie saak wié die gaste is nie!”
“Wel, ek hoop van harte dat juffrou Bove nie van plan is om jou môre weer te besoek nie, want dit is môre Sondag en jy weet ek besoek gewoonlik my moeder se graf op ’n Sondagmiddag.” Die woorde is uit voordat Lizelia daaroor nagedink het. As sy Francesca reg opgesom het, gaan sy van nou af ’n gereelde gas by die villa wees.
“Ek sal jou oorsien wanneer jy blomme op jou moeder se graf gaan sit en wanneer jy professor Lancetti se klasse moet bywoon. Maar andersins verwag ek dat jy jou plig as my vrou stiptelik nakom wanneer ons gaste het,” hoor sy Edoardo nou kalmer sê. “In elk geval, ek dink dit is haas tyd om vir aandete te verklee.”
Lizelia het gelyk gehad, want dit is nog nie eens elfuur die volgende oggend nie, toe hou Francesca se rooi sportmotortjie weer voor die villa stil.
“Wie se motordeur het ek pas hoor toeklap, Lizelia?” wil Edoardo met ’n ligte frons weet. Lizelia was besig om uit die Sondagkoerant vir hom voor te lees.
“Dit is jou beminde, Edoardo – net soos ek verwag het.” Lizelia slaag nie daarin om die bitsigheid uit haar stem te weer nie.
“Wat het jy verwag?” vra hy met ’n sweem van ’n glimlaggie.
“Dat sy jou nou elke dag sal besoek …”
Francesca se verskyning verhoed Lizelia om meer te sê, maar sy voel hoe haar bloed weer kookpunt bereik toe die lang swartkopmeisie ongeërg afbuk en Edoardo met ’n soen groet. Daarna trek sy vir haar ’n stoel langs syne uit en begin met hom gesels asof sy vrou glad nie bestaan nie.
Lizelia se blik rus byna deurdringend op Edoardo se aantreklike gelaat. Dalk kan sy iets omtrent sy gevoel vir Francesca wys word. Dan besef sy met ’n skok … sy het hom lief! Hoe en wanneer dit gebeur het, weet sy nie. Sy weet net dat sy hierdie ongenaakbare man liefhet.
Lizelia voel hoe elke druppel bloed uit haar gelaat sypel by die hartbrekende besef dat haar liefde vir hierdie blinde man gedoem is om onbeantwoord te bly. Want Francesca, wat sy hart in die palm van haar hand hou, het teruggekom om hom weer vir haarself op te eis.
Lizelia draai haar gesig haastig weg en staar met nikssiende oë na die blommeweelde in die tuin. Sy besef sy het ’n pad in haar lewe bereik wat vir haar ongenaakbaar lyk, maar sy weet ook dat sy hierdie moeilike pad enduit sal moet loop.
Dit is vir haar ’n groot verligting toe die klokkie eindelik middagete aankondig, want ná ete sal sy haar moeder se graf gaan besoek en ten minste ’n uur of wat alleen wees om haarself reg te ruk.
Dit is ’n warm, sonnige dag. ’n Gewyde stilte hang oor die begraafplaas. Gino, die motorbestuurder, dra vir Lizelia die ruiker angeliere wat sy op haar moeder se graf wil sit. By die graf gee hy die blomme vir haar en staan dan ’n entjie weg sodat sy alleen met haar hartseer en herinneringe kan wees.
Sy rangskik die blomme met liefdevolle hande in die potjie, en bly dan ’n rukkie gehurk langs die graf sit.
Sy is so diep ingedagte dat sy nie eens die voetstappe hoor nader kom nie. Sy skrik toe sy ’n vreemde manstem skielik bokant haar kop hoor vra: “Kan ek jou orent help, barones?”
Lizelia staan vinnig op, kyk die man effens verward aan en sê kil: “Ek ken u nie, meneer. Wees asseblief so goed en laat my alleen.”
“Laat my toe om myself aan u voor te stel, barones,” praat die man weer. “Ek is Alberto Bove, Francesca se broer …”
“Ek gee nie om wie u is nie, meneer Bove,” val sy hom onthuts in die rede. “Loop asseblief nou dadelik en laat my alleen.”
“Maar u is so pragtig, barones. Hoe kan ek u ooit weer alleen laat!” lag die voorbarige man asof hy ’n goeie grap geniet. “Ek dink ek moet u maar sommer vir my vat, dan kan Francesca die blinde baron kry. Hy kan u wonderlike skoonheid in elk geval nie sien om dit opreg te waardeer nie.”
Alberto wou net sy hand op Lizelia se tenger skouertjie sit toe die groot, bonkige Gino, wat elke woord gehoor het, hom aan sy baadjie se kraag vat en hom sonder inspanning eenkant toe pluk.
“Ek sal jou nie aanraai om ’n hand op die barones te lê nie, meneer Bove,” waarsku Gino hom met ’n onheilspellende klank in sy stem. “Jy het gehoor die barones sê jy moet loop en haar alleen laat. Moet ek jou help, of gaan jy alleen loop?”
“Kyk, ek weet nie wie jy is nie, meneer …” protesteer Alberto, maar Gino gee hom nie kans om meer te sê nie.
“Ek is Gino, die baron se motorbestuurder, en op die oomblik hier om my meesteres teen jou soort te beskerm,” lig Gino hom bars in. “Ek gee jou ’n minuut, dan moet jy weg wees, meneer Bove, anders word jy môre ’n permanente inwoner van hierdie begraafplaas.”
Alberto haal sy skouers liggies open stap ongeërg weg sonder om een maal om te kyk.
“Ek dink ons moet ook maar gaan, Gino,” stel Lizelia voor. “Die ellendige vent het nou my hele middag bederf met sy voorbarige opdringerigheid. Dankie dat jy my so gou te hulp gesnel het. Ek weet regtig nie wat ek vandag sonder jou bystand sou gedoen het nie.”
“Ek is altyd tot u diens, barones,” verseker Gino haar met ’n beleefde buiginkie.
Francesca en die baron is albei verbaas dat Lizelia so vroeg tuis is. Francesca bly doodstil, maar Edoardo sê met iets in sy stem wat vir Lizelia amper soos besorgdheid klink: “Jy is nooit so vroeg tuis nie, Lizelia. Wat het vandag gebeur?”
“Jy kan wel vra, want dit lyk vir my of ek nou nie eens meer my moeder se graf kan besoek sonder om gemolesteer te word nie,” antwoord sy ontsteld.
“So! Wie het jou gemolesteer? En waarom het Gino jou nie beskerm nie?” wil Edoardo dadelik weet.
“Juffrou Bove se voorbarige en opdringerige broer, Alberto, het die vermetelheid gehad om my daar by my moeder se graf te kom molesteer,” lig Lizelia hom vererg in. “Dit is vir my ’n raaisel hoe hy geweet het dat ek my in die begraafplaas bevind. Hy het reguit na my toe gestap en hy het ook geweet wie ek is, al het ek hom nog nooit vantevore gesien nie. Gelukkig het Gino my te hulp gesnel en hom daar verwilder.”
Francesca is rooi van woede, maar kry dit tog reg om beheers te sê: “Ek glo nie dit was só erg nie, barones …”
“Miskien nie vir jou nie, juffrou Bove,” val Lizelia haar vererg in die rede, “maar ek het sy optrede uiters voorbarig en astrant gevind, en as Gino hom die opstopper gegee het wat hy gedreig het om hom te gee, sou dit beslis sy verdiende loon gewees het.”
“Ek sal my broer môre bring om om verskoning te vra, barones,” probeer Francesca die hele aangeleentheid doodpraat.
“Dankie, maar dit is nie nodig om hom hierheen te bring nie,” keer Lizelia verontwaardig. “Jou broer kan my net so goed oor die telefoon om verskoning vra.”
Francesca weet dat sy sal moet wal gooi sodat Edoardo nie uitvind wat haar aandeel aan die onaangename voorval was nie. Sy het gedink Alberto sal Lizelia met sy sjarme kan oorweldig, maar nou het sy blykbaar ’n afkeer van hom. Dis ook net Alberto wat haar planne om die baron se hart terug te wen so kan verongeluk. Sy wens sy het hom nooit gebel om te sê dat Lizelia vanmiddag by die begraafplaas sal wees nie!
Edoardo se eienaardige stilswye laat Francesca so skuldig en ongemaklik voel dat sy ná ’n rukkie verskoning maak en vertrek.
Lizelia merk die vreemde, onpeilbare trek om Edoardo se mond en sê ietwat huiwerig: “Verskoon my, ek wil nie met jou sake inmeng nie, Edoardo, maar as jy ’n egskeiding verlang om met juffrou Bove te kan trou … Ek bedoel, dit is tog baie duidelik dat sy jou wil terughê, en ek kan môre teruggaan Suid-Afrika toe. My paspoort is nog geldig …”
“Dit sal beter wees as jy liewer niks meer sê nie, Lizelia,” sê hy met onderdrukte woede. “Ek het niemand se advies nodig nie! En moet ook nooit weer praat van teruggaan Suid-Afrika toe nie. Moet ook nie probeer om my te ontvlug nie, want ek sal jou kry, waarheen jy ook al vlug. Ek weet jy het al dikwels jou huwelik met my berou, maar onthou net, jy was gewillig om met my te trou toe jy my geld nodig gehad het.”
“Dit is nie nodig dat jy my aan hierdie dinge herinner nie, Edoardo,” sê Lizelia gebelg. “Ek het maar net die voorstel gemaak omdat ek weet hoe lief jy vir juffrou Bove …”
“Jy weet niks,” val hy haar ongeduldig in die rede. “Bepaal jou liewer by jou eie sake.”
Ná hierdie onvriendelike afjak maak Lizelia verskoning en stap die huis binne, vasbeslote om haar nooit weer met sy sake te bemoei nie.