Читать книгу Susanna M Lingua-keur 11 - Susanna M Lingua - Страница 9
6
Оглавление__
“Jou gas het jou ewe eiegeregtig hier uit die kamer kom haal,” sê Lizelia effens sarkasties. Dit ontgaan nie Edoardo se oor nie en hy glimlag in sy enigheid.
“Die barones het gelyk,” praat Francesca nou van die oop kamerdeur af, “ek het signora Bartoldi gevolg, Edoardo. Ek kan nie sien waarom die barones se ongesteldheid jou moet verhoed om my te ontvang nie.”
Sy stap Lizelia se slaapkamer ongenooi binne en kom stil agter Edoardo se stoel staan. Dan plaas sy haar hande liefderik op sy skouers terwyl sy saggies pleit: “Moet my asseblief nie wegstuur nie, skat. Ek soek net geselskap en …”
“Ek was ernstig toe ek netnou gesê het dat ons vir twee dae geen gaste ontvang nie, Francesca,” val hy haar in die rede. “Ek en die barones het verlede nag baie min geslaap. Ons gaan albei nou rus, as jy nie omgee nie.” Hy wend hom na mevrou Bartoldi, wat nog steeds eenkant staan. “Signorina Bartoldi, vergesel asseblief vir signorina Bove na haar motor. Sy gaan nou dadelik ry.”
Francesca se swart oë skiet vuur toe sy die huishoudster aangluur en met onderdrukte woede sê: “Jy het nie nodig om my na my motor te vergesel nie, signora Bartoldi. Ek ken hierdie villa soos die palm van my hand … Tot siens, Edoardo! Ek sien jou weer oormôre!”
Met hierdie belofte verlaat Francesca die vertrek saam met die huishoudster.
Daar is ’n ligte frons tussen Lizelia se mooi, ligbruin wenkbroue terwyl sy aan Francesca se voorbarige opdringerigheid dink. Sy is óf voorbarig óf sy weet dat Edoardo se huwelik sommer net ’n klug is. Hierdie gedagte laat haar vra: “Ek veronderstel jy het juffrou Bove vertel dat ons slegs in naam getroud is?”
“Nee, ek het nie, en sy kon dit ook van niemand anders gehoor het nie, want net ek en jy weet dat ons huwelik net in naam is – totdat ek anders besluit. Maar waarom vra jy, Lizelia?”
“O, ek het maar net gewonder watse soort mens sy is om haar so aan jou op te dring, en dit terwyl sy onder die indruk verkeer dat jy ’n gelukkig getroude man is. Is al die meisies hier in Italië so skaamteloos?”
“Nee, net Francesca – noudat sy uitgevind het hoe ’n groot flater sy begaan het om my af te sê vir ’n man wat nie haar duur smaak kan bevredig nie,” antwoord Edoardo ongeërg asof hy die weer met haar bespreek.
“Wat sou gebeur het as jy getroud was met ’n vrou wat jy liefhet en wat jou liefhet?” wil Lizelia belangstellend weet.
“Wel, in daardie geval sou my vrou op haar regte gestaan en Francesca die deur gewys het,” sê Edoardo. “Sy wonder seker waarom jy dit nog nie gedoen het nie.”
“Sy verkeer seker onder die indruk dat ek nie genoeg vir jou omgee om terug te veg nie,” sê Lizelia met ’n sagte laggie.
“Hm, so ’n misverstand is beslis nie strelend vir my ego nie. Ek hoop nie dit is wat sy dink nie.” Edoardo glimlag ook nou.
“In elk geval, noudat juffrou Bove gery het, kan jy in vrede gaan rus, Edoardo,” stel Lizelia bedagsaam voor. “Moet ek vir Mario ontbied om jou by te staan?”
“Sal jy omgee as ek my baadjie uittrek en eenkant op jou bed gaan lê? Ek belowe om jou nie te steur nie en my goed te gedra.”
“Op daardie voorwaarde gee ek hoegenaamd nie om nie,” glimlag Lizelia. “Laat ek net my kamerjas aantrek, dan help ek jou …”
“Toe maar, dit is nie nodig nie, dankie,” keer hy dadelik. “Ek kan my baadjie self uittrek, en ek kan ook self na die ander kant van die bed loop. Jy kan net die kussings vir my regsit – as jy dit met een hand kan doen.”
Lizelia skud die kussings vir hom reg, en dan lê sy en kyk hoe hy sy baadjie uittrek, dit versigtig oor die stoel se rugleuning hang en dan ewe versigtig om die bed loop. Sonder enige moeite gaan sit hy op die kant van die bed en strek hom dan met skoene en al bo-op die komberse langs haar uit. Hy haal sy bril af en hou dit na haar toe uit sodat sy dit langs haar op die bedkassie kan neersit.
Sy sit die bril versigtig op die kassie neer. Dan kyk sy lank na hom. Dit is die eerste keer dat sy hom sonder sy bril sien. Hy is inderdaad die aantreklikste man wat sy ken.
“So, nou is ons albei gemaklik,” sê hy met ’n sweem van ’n glimlaggie, “en nou kan ons oor ons vertrek na die kasteel gesels. Eerstens sal jy jou taallesse moet opsê en daarna met ’n bloemiste reël om elke week vars blomme op jou moeder se graf te sit …”
“Nee, ek sal maar liewer die blomme laat staan,” maak Lizelia beswaar. “As ’n bloemiste dit moet doen, gaan dit my baie geld kos – geld wat ek nie het nie. Voor ons vertrek sal ek kunsblomme op haar graf gaan sit.”
“Ek verstaan dit glad nie. Jy sê jy het nie geld nie, en tog het ek ook nog nooit ’n enkele rekening ontvang vir goed wat jy gekoop het nie,” sê hy fronsend. “Hoe kry jy dit reg om sonder geld te lewe, Lizelia?”
“Ek het darem nie heeltemal sonder geld gelewe nie,” sê sy kalm. “Ná my moeder se dood het ek nog ’n paar lire van ons sakgeld oorgehad, en twee weke gelede het ek my seëlring aan ’n juwelier verkoop.”
“En wanneer die ring se geld op is?” Hy draai sy gesig na haar.
Lizelia haal haar tingerige skouertjies liggies op en sê verleërig: “Ek sal maar seker my goue oorkrabbers moet verkoop.”
“So! En hoe lank gaan jy aanhou om jou persoonlike besittings te verkoop?” vra Edoardo geamuseerd.
“Wel, totdat jy voel jy het juffrou Bove genoeg gestraf vir die hartseer wat sy veroorsaak het en julle hierdie geskil uit die weg ruim en in die huwelik tree,” sê sy met ’n vreemde gelatenheid. “Daarna sal ek teruggaan na my eie land en weer aansoek doen om ’n onderwyspos.”
Hy swyg ’n hele rukkie, en sê dan ietwat afgetrokke: “Ek sal reël dat jy elke maand ’n toelaag ontvang. Moet dus nie weer van jou persoonlike besittings verkoop nie. Het ’n kêrel vir jou die seëlring gegee?”
Lizelia skud haar kop en sê sag: “Nee, dit is ’n ring wat ek op my sestiende verjaardag van my ouers ontvang het. Ek het nie ’n kêrel gehad nie, net ’n vriend wat my af en toe uitgeneem het. Maar hy is nie die soort man wat die son, maan en sterre laat skyn, of die son twee maal ’n dag kan laat uitkom nie. Hy was maar net ’n goeie vriend.”
Daar is ’n breë glimlag om Edoardo se mond toe hy vra: “Hoe laat ’n man die son, maan en sterre vir ’n meisie skyn, ou kleintjie?”
“O, hy kan dit net doen as die meisie hom baie liefhet,” glimlag sy terug. “Jy het seker al dikwels die son twee maal ’n dag vir juffrou Bove laat opkom …”
’n Hartlike lagbui van Edoardo maak dadelik ’n einde aan Lizelia se relaas.
“Ek glo nie ek het die son al ooit een maal vir Francesca laat skyn nie, Lizelia,” sê Edoardo toe sy lagbui eindelik bedaar. “Francesca is nie so ’n romantiese mens soos jy nie. Al wat sy van die lewe verlang, is die dinge wat ’n mens met geld kan koop.”
Ná ’n rukkie vra Edoardo besorg: “Waarom is jy skielik so stil? Skok dit jou om te hoor dat Francesca ook maar net belang stel in die dinge wat met geld gekoop kan word?”
“Wel … nee, nie juis nie,” antwoord sy half ingedagte. “Dit verbaas my net dat jy so ’n meisie kan liefhê.”
“Ek het dit nooit voorheen geweet nie. Trouens, ek vind dit ook maar nou eers uit. Maar ons gaan tog seker nie die heeldag oor Francesca se swakhede gesels nie, gaan ons?” Hy steek sy hand uit, neem Lizelia se regterhand in syne en vleg sy lang, slanke vingers versigtig deur hare. “Jy het mooi fyn handjies,” merk hy op. “Ek wens ek het die gebruik van my oë net ’n oomblik lank om te sien hoe jy lyk, Lizelia. Ek ken jóú al goed. Jy is ’n sagte mensie met ’n stil en rustige geaardheid. Jy is klein en fyn, en almal sê jy is die mooiste vrou in die wêreld. Maar vir my is jy op die oomblik ’n meisietjie sonder ’n gesig – en dit maak my ongeduldig.”
“Waarom maak dit jou ongeduldig, Edoardo? Ek is tog nie so belangrik nie!”
“Ek hou daarvan om te weet hoe almal om my lyk. Maar dit sal jy nie verstaan nie, Lizelia, want jy het nog nooit in so ’n wêreld geleef nie … Nou ja, enige man sal seker nuuskierig wees om te weet hoe lyk die vrou met wie hy getroud is. Of is ek ’n uitsondering?”
“Nee, ek sou seker dieselfde gevoel het, Edoardo. Maar gelukkig weet jy darem hoe juffrou Bove en al die ander hier in die villa lyk. Die mense in jou kasteel is ook nie vir jou vreemd nie.”
Hulle gesels nog oor sy kasteel totdat die werker hulle met oggendtee bedien. Daarna raak Lizelia aan die slaap en Edoardo is weer alleen met sy gedagtes …
Ook hy sluimer later in.
Lizelia is aangenaam verras toe Edoardo haar die volgende middag vertel dat hulle oor vier dae na die kasteel vertrek.
Sy bly twee dae in die bed soos die dokter beveel het. Noudat hulle op die punt staan om die villa te verlaat, is daar heelwat sakies wat sy moet afhandel. Dan moet sy ook nog haar daaglikse pligte teenoor Edoardo nakom.
Lizelia voel nog betreklik swak toe sy die baron ná ontbyt na die koel rustigheid van die somerhuisie lei, waar sy elke oggend uit die plaaslike koerant vir hom voorlees. Sy het nog nie eens die voorblad klaar gelees nie, toe ’n motor voor die villa stilhou. Sy weet sommer dadelik dat dit Francesca is, want net sy sal dit waag om by die villa besoek af te lê sonder ’n afspraak of ’n uitnodiging.
Lizelia frons vererg. Sy is nou baie moeg vir Francesca se skaamtelose voorbarigheid. Sy wens Edoardo wil nou finaal oor hulle toekoms besluit en klaarkry, sodat Francesca kan ophou om so ’n oorlas van haarself te maak. Sy sien buitendien ook geen sin daarin dat hy haar so aan ’n lyntjie hou nie. Dit is tog duidelik dat sy hom weer wil terughê. As hy háár dan nie meer wil hê nie, behoort hy ferm op te tree en haar weg te stuur.
Lizelia voel hoe Edoardo langs haar verstyf; dan merk sy die harde trek om sy mond en die donker frons tussen sy wenkbroue. Voordat sy ’n verklaring vir sy skielike wrewel kan vind, maak Francesca haar verskyning in die somerhuisie en groet hom met ’n vleierige stem en ’n vlugtige soentjie op die voorkop.
“Ek het na jou verlang, Edoardo, skat,” sê sy terwyl sy vir haar ’n stoel langs syne neersit en ongenooi plaasneem. “Dit was harteloos van jou om my vir twee dae van jou af weg te stuur …”
“Wat, harteloos?” vra die edelman met ’n minagtende stem. “Moenie dat ek lag nie, Francesca. Jy is inderdaad die laaste persoon op aarde wat my van harteloosheid durf beskuldig. Maar ek wil nie nou ou koeie uit die sloot haal nie, dus stel ek voor dat ons oor iets anders gesels. Hou net asseblief op om voor my toneel te speel, ek ken jou spel te goed.”
“Ek weet glad nie waarvan jy praat nie, skat,” sê Francesca gekrenk. Lizelia kan sien dat sy bitter vererg voel, want haar gesig is bloedrooi en haar lippe is dun saamgepers.
Edoardo reageer deur met ’n kortaf laggie en sê: “Toe maar, Francesca, jy weet baie goed waarvan ek praat. Onthou net, jou toneelspel beïndruk my glad nie. Ons verhouding is iets van die verlede. Trouens, ek dink nie eens meer daaraan nie. Hou maar op om my met geveinsde koketterie te probeer beïndruk. Jy ken my goed genoeg om te weet dat dit nie sal werk nie.”
Francesca byt haar onderlip nadenkend tussen haar tande vas. Sy besef dat dit haar skuld is dat hulle gesprek hierdie onplesierige wending geneem het. Sy moes nooit die woord harteloos gebruik het nie. Sy besef dat sy vinnig aan iets sal moet dink wat Edoardo weer in ’n gemoedelike stemming sal bring. Op die oomblik kan sy aan niks dink nie, dus vra sy sonder veel belangstelling: “Wanneer verwag jy Tina en Marco terug van hulle oorsese reis, Edoardo?”
“Ek en Lizelia verwag hulle wanneer ons hulle sien,” sê Edoardo ontwykend. “Ek hoor niks van hulle nie, maar ek dink my vrou kry af en toe ’n brief van Tina.”
Lizelia wat afgetrokke deur die koerant blaai, ruk soos sy skrik toe sy Edoardo skielik hoor vra: “Wanneer het jy laas ’n brief van Tina gehad, Lizelia?”
“Ek het verlede week van haar gehoor. Dit lyk my hulle sal nog ses maande in die buiteland vertoef.”
Terwyl sy hulle vertel van die lande wat Tina en Marco nog wil besoek, voel sy hoe Edoardo se hand na hare soek, dit vind en sy vingers vertroulik deur hare vleg – asof hy haar met hierdie gebaar wil dwing om by hom te bly. Of soek hy maar net morele ondersteuning?
Net voor middagete is daar ’n telefoonoproep vir Francesca, en tot Lizelia se vreugde vertrek sy byna dadelik ná die oproep.
Die dag daarop bly Edoardo feitlik heeldag in sy studeerkamer om sake met sy sekretaris te bespreek, aangesien hulle baie vroeg die volgende dag na sy kasteel vertrek. Lizelia gaan eers stad toe; daarna kyk sy toe terwyl haar kamermeisie al haar persoonlike besittings inpak.
Soos Edoardo beplan het, vertrek hulle vroeg die volgende oggend na die lughawe waar sy privaat vliegtuig gereed is om hulle na Florence te neem. Mario, Gino en Angelo vergesel hulle na die kasteel, maar mevrou Bartoldi en die res van die personeel bly agter om die villa te versorg.
Dit is mevrou Bartoldi wat Francesca by die voordeur ontvang toe sy later die oggend haar opwagting by die villa maak.
“Die baron en die barones is nie tuis nie, juffrou Bove,” sê mevrou Bartoldi kortaf, want sy verag die skaamtelose, opdringerige meisie wat nie sal skroom om die baron se huwelik te vernietig nie.
“Moenie vir my jok nie, signora Bartoldi,” roep Francesca onthuts uit. “Staan asseblief opsy sodat ek kan verbykom.”
“Ek kan u ongelukkig nie in die villa toelaat in die baron se afwesigheid nie,” sê die huishoudster nou met openlike veragting in haar stem. Dit ontgaan nie Francesca se oor nie. Mevrou Bartoldi kan nie verstaan waarom die baron hierdie skaamtelose meisie se besoeke duld nie. Hy behoort haar die deur te wys. Hy is ’n intelligente man en behoort te weet dat haar besoeke niks goed tot gevolg kan hê nie.
“Waar is die baron heen en wanneer sal hy tuis wees?” wil Francesca neerhalend weet.
“Die baron het my opdrag gegee om aan niemand te sê waarheen hulle is nie, signorina Bove.”
Mevrou Bartoldi wou nog meer sê, maar Francesca vlieg haar woedend in. “Jy sal hierdie dag nou berou, ou vrou,” snou sy die ouer dame onbeheers toe. “Die dag wanneer ek die barones word, sal dit met jou sleg gaan. Jy sal die eerste persoon wees wat ontslaan sal word. Maar jy het nie nodig om vir my te vertel waar ek die baron sal vind nie. Ek het my eie manier om dinge uit te vind.”
Op hierdie dreigende noot draai Francesca om en stap haastig na haar motor toe. Sy voel nou so gefrustreerd dat sy byna in die hekpaal vasry. Sy sal nog voor vanaand weet waar Edoardo hom bevind, dit neem sy haar voor.
Lizelia is ietwat teleurgesteld toe hulle deur die groot, hoë ysterhekke ry en voor die eeue oue kasteel stilhou. Edoardo het haar vertel dat sy kasteel een van die oudstes in Italië is, maar sy het iets heeltemal anders verwag, eintlik om ’n vrolike kasteel met baie skerp torinkies hier op die koppies te sien.
Die gebou wat Lizelia voor haar sien, is ’n massiewe klipgebou met talle vierkantige torings. Die vensters is besonder klein en die plek lyk somber en spookagtig vir Lizelia. Sy hoop heimlik dat dit nie vir haar nodig sal wees om lank in hierdie kasteel te woon nie.
“Jy is so stil,” merk Edoardo op toe hulle eindelik in die rigting van die hoofingang beweeg. “Wat dink jy van my kasteel?”
“Ek weet nog nie,” antwoord sy huiwerig terwyl sy die indrukwekkende familiewapen bokant die hoofingang bestudeer. “Die plek is so gróót en oud! Dit laat my bang voel!”
“Ag nee wat, dit is heeltemal onnodig om bang te wees, kleintjie,” glimlag Edoardo gemoedelik. “Ek belowe jou hier is nie ’n enkele spook in die hele kasteel nie, en ek behoort te weet, want ek is hier gebore en het hier grootgeword. Ek ken hierdie ou kasteel soos die palm van my hand.”
Die massiewe houtdeur wat met koper beslaan is, gaan meteens oop en hulle word deur die huishoudster en die hoofkneg ontvang. Hulle is baie vriendelik, en dit is vir Lizelia duidelik dat hulle Edoardo respekteer. Sy het gelukkig die dag voor haar huwelik met die kasteel se personeel kennis gemaak, dus voel sy darem nie heeltemal soos ’n vreemdeling nie. Sy merk ook dadelik dat die kasteel darem al elektrisiteit het, maar die res van die kasteel lyk binne nog net soos dit seker eeue gelede moes gelyk het. Antieke meubels, kosbare behangsels en kunswerke, alles onbeskryflik mooi en baie indrukwekkend, laat die kasteel soos ’n museum lyk.
Lizelia het nooit kon droom dat die somber, ongenaakbare kasteel binne so sou lyk nie. Sy het haar voorgestel dat die plek binne ook maar vaal, neerdrukkend en koud sou wees. Sy is egter aangenaam verras en besef dat sy haar verblyf in hierdie ou kasteel, tussen soveel kosbare oudhede, baie interessant gaan vind.
Ná ete daardie middag bied die huishoudster, mevrou Bonera, aan om Lizelia deur die kasteel te neem sodat sy daarmee vertroud kan raak. Hierdie verkenningstog is vir haar ’n ware belewenis en sy leer daardie middag meer van die Italiaanse geskiedenis as wat sy van haar eie land se geskiedenis af weet.
Die son hang al laag in die weste toe hulle eindelik die dak van die kasteel, wat ’n lushof van blomme en struike is, bereik. Eenkant pryk ’n moderne tuinstel met ’n swaaibank en ’n groot, kleurvolle sambreel.
Lizelia sak ook sommer dadelik in een van die stoele neer en sê met ’n breë glimlag: “Ek hou hiervan! ’n Daktuin was nog altyd vir my iets besonders, en ek weet ek gaan baie aangename uurtjies hier deurbring, mevrou Bonera.”
“Die baron kom ontspan ook dikwels hier tussen die blomme en struike – veral soggens wanneer dit nog koel is, en ook smiddags laat,” vertel die huishoudster.
Lizelia verlustig haar vir ’n paar oomblikke in die onbelemmerde uitsig wat die daktuin oor die blink, kronkelende Arnorivier en die noordelike deel van die Apennyneberg bied.
Maar dan sê die huishoudster beleef: “Ek dink ons moet liewer nou afgaan, barones. Middagkoffie sal nou enige oomblik bedien word, en ek glo nie die baron sal daarvan hou om sy koffie alleen te geniet nie.”
Lizelia kyk na haar polshorlosie en kom dadelik orent.
“Jy het gelyk, mevrou Bonera,” glimlag sy vriendelik. “Die baron haat dit om alleen koffie te drink. Ek sal môreoggend vir hom die koerant hier tussen die blomme en struike kom lees.”
Lizelia voel skoon uitgeput toe sy eindelik by Edoardo aansluit. Sy is ook net betyds, want een van die diensmeisies is alreeds besig om die dienwaentjie binne te stoot.
“Wat dink jy nou van die kasteel, noudat jy die hele plek van binne gesien het, Lizelia? Maak die kasteel jou nog bang?” vra Edoardo terwyl hulle gesellig op die rusbank sit en koffie drink.
“Ek dink dis fantasties en onbeskryflik mooi,” antwoord sy opgewonde. “Veral die daktuin was ’n aangename verrassing. Dit is so afgesonder en rustig daar bo, en die uitsig oor die rivier en die Apennyneberg is onvergeetlik. Ek kan regtig nie begryp waarom jy so lank in Rome gebly het nie! Met so ’n kasteel en so ’n uitsig …”
“Ek moes in Rome bly omdat ek gereeld behandeling vir my oë moes ontvang,” verduidelik hy. “Dit was juis ná ’n behandeling, terwyl ek en Mario ’n rukkie in Villa Borghese se park ontspan het, dat ons met jou kennis gemaak het.”
“Ek veronderstel die behandeling het jou niks gebaat nie,” waag Lizelia om te vra. Sy het nog altyd die gevoel gehad dat Edoardo nie graag oor sy blindheid praat nie.
Die jong edelman skud sy kop en sê versigtig: “Ek sal nie sê dat die behandeling my niks gebaat het nie. Dit was net ná die ongeluk en ek het dikwels ontsettende hoofpyne gekry. Dis natuurlik nou iets van die verlede.”
Hy oorweeg dit eers om haar te vertel dat daar ’n geringe kans is dat sy sig herstel kan word deur ’n operasie, maar besluit daarteen. Lizelia vra ook nie verder uit nie.
Ná ’n rukkie sê Edoardo weer: “Jy het nog nie vir my gesê of jou slaapkamer jou geval nie, Lizelia.”
“Ek het. Ek het flussies al gesê dat alles onbeskryflik mooi is, en dit het my slaapkamer ingesluit,” sê sy. “Maar ek moet sê, dit is so groot dat ’n mens amper daarin verdwaal.” Sy dink aan die groot hemelbed, en vervolg met ’n sagte laggie: “Ek hoop net ek kry nie nagmerries en val dalk van daardie hoë bed af nie, want dan sal ek beslis ’n geval vir die hospitaal wees.”
“Dis waar, jy kan dit nie bekostig om nou weer te val nie,” stem hy saam, en sê dan gerusstellend. “ ’n Mens kry maar soms nagmerries wanneer jy bang of alleen is. Maar jy het nie nodig om een van die twee te wees nie, want my kamer is langs joune en daar is ’n deur wat die twee kamers verbind. Moenie bang wees dat ek op jou privaatheid sal inbreuk maak nie, maar dit staan jou vry om die deur te gebruik as jy in die nag bang of alleen voel. Trouens, dit was my moeder se kamer en sy het nooit nagmerries gekry nie.”
Nee, sy sou nie, dink Lizelia. Hulle het natuurlik met daardie deur oop geslaap, en wie sal nou bang wees as jy weet dat jou man naby is om jou te beskerm?
“Die sleutel is aan jou kant van die deur, ingeval jy bang is dat ek dalk in my slaap loop. Maar ek kan jou verseker dat dit nie die geval is nie,” sê Edoardo tergend.
“Toe maar, ek vertrou jou, Edoardo, daarom sal ek nie die deur sluit nie. Ek weet jou hart behoort aan juffrou Bove,” sê Lizelia ewe kalm, maar haar hart bons onstuimig. Sy wens hy wil dit ontken; sy wens dat hulle die swartkopmeisie liewer nooit weer sien nie.
Maar wensdenkery het nog nooit iemand gehelp nie. Lizelia verander daarom doelbewus die onderwerp en vra Edoardo uit oor die geskiedenis van die Castello de Mashatini.
Lizelia geniet die lewe in die kasteel baie meer as wat sy aanvanklik verwag het. Wanneer Edoardo nie met sake besig is nie, ontspan hulle in die daktuin of onderneem lang wandelings langs die rivier. Soms hou hulle piekniek langs die rivier. Dan leer Edoardo haar om te hengel.
Elke dag is vir Lizelia, die stedeling, ’n ware belewenis, en sy merk dat Edoardo hierdie rustige uitstappies net so baie geniet. Gelukkig is hier nie ’n Francesca wat hierdie aangename en vreedsame uitstappies vir haar kan bederf nie.
Vandag is dit presies twee weke sedert hulle na die kasteel gekom het. Lizelia is besig om vir Edoardo uit ’n tydskrif voor te lees. Hulle geniet hierdie rustige uurtjie in die daktuin elke dag meer.
Die huishoudster is duidelik verbaas toe die hoofhuishouer haar van juffrou Bove se onverwagte besoek verwittig.
“Waar is sy?” wil mevrou Bonera fronsend weet. Sy het al by mevrou Bartoldi gehoor dat die baron se gewese verloofde deesdae so ’n oorlas van haarself maak deur tydig en ontydig daar op te daag en die baron dan te annekseer asof hy nog steeds aan haar behoort.
“Ek het haar na die ontvangskamer geneem, signora,” antwoord hy ietwat verleë. Hy het werklik nie geweet wat om aan te vang met die voorbarige meisie wat sonder ’n uitnodiging of ’n afspraak by die kasteel opdaag nie.
Daar is ’n stroewe, onvriendelike trek om mevrou Bonera se mond toe sy haar na die ontvangskamer haas. Sy het nooit juis van die afsydige en hooghartige Francesca gehou nie. Nadat sy haar en die baron se verlowing op so ’n hartelose wyse verbreek het, verag sy haar werklik.
“O, hier is jy eindelik, signora Bonera!” begroet Francesca haar ongeduldig. “Die onnosele hoofhuishouer bring my hier na die ontvangskamer toe asof ek ’n vreemdeling is. Waar is jou heer, die baron?”
“Die baron is besig. U sal ’n afspraak moet maak as u hom of die barones wil spreek.” Mevrou Bonera wil nog meer sê, maar die verontwaardigde meisie gee haar nie kans nie.
“Moenie met mý praat oor afsprake nie!” snou Francesca haar woedend toe. “Ek is nie ’n vreemdeling wat ’n afspraak moet maak wanneer ek die baron wil besoek nie. Ek sal die baron besoek wanneer ek wil én sonder ’n afspraak. Is dit duidelik? En as jy my nie nou dadelik na hom neem nie, sal ek hom self gaan soek.”
“Ek glo nie Gino se broer, Luca, sal u toelaat om verder as hierdie ontvangskamer te gaan nie,” troef die huishoudster haar. “Sy werk hier in die kasteel is uitsluitlik om die baron en die barones teen indringers te beskerm …”
“Ek is nie ’n indringer nie …” val Francesca haar onthuts en met vlammende oë in die rede. Maar mevrou Bonera is nou self vies en maak haar stil.
“Enigiemand wat by die kasteel aanklop sonder ’n uitnodiging of ’n afspraak, behalwe die baron se familie, is indringers,” help sy die vermetele meisie reg. “Maar ek sal gaan hoor of die baron u kan spreek.”
Met hierdie belofte verlaat sy die ontvangskamer voordat Francesca weer beswaar kan maak. Sy vra Luca om vir die baron te gaan sê dat juffrou Bove hier is om hom te besoek.
Francesca, wat die huishoudster se gesprek met Luca doelbewus afgeluister het, besluit om hom ongemerk na die daktuin te volg. Sy is vasbeslote om Edoardo te sien en sy gaan niemand toelaat om haar te keer nie. Het dit haar nie twee weke geneem om vas te stel waar hy hom bevind nie?
Ná haar gesprek met Luca gaan mevrou Bonera kombuis toe om die kok te spreek. Sy is onbewus daarvan dat Francesca hulle afgeluister het en nou besig is om Luca ongemerk na die daktuin te volg.
Lizelia en Edoardo lag heerlik oor ’n grappige verhaal wat sy uit die tydskrif voorgelees het toe Luca sy verskyning maak. Hy vra nederig om verskoning omdat hy inbreuk maak op hulle privaatheid, en vervolg beleef: “Hier is ’n dame wat daarop aandring om u te sien, my heer die baron. Sy het nie ’n afspraak nie, maar ek vrees die hoofhuishouer was onverstandig en het haar laat binnekom.”
“Ek weet van net een dame wat so voorbarig sal wees om etiket te minag wanneer dit haar pas, en dit is Francesca Bove,” sê die edelman ergerlik.
Die volgende oomblik staan Francesca voor die swaaibank waarop Lizelia en Edoardo sit en roep met geveinsde gekrenktheid uit: “Skaam jou om my so te verkleineer, Edoardo, skat. En dit nadat ek so gesukkel het om uit te vind waar jy is!”
Francesca se onverwagte verskyning het Luca ietwat van stryk, maar Edoardo red die situasie dadelik toe hy bedaard sê: “Dankie dat jy vir my kom sê het wat aangaan, Luca. Jy mag nou maar gaan.” Dan wend hy hom na Francesca: “Ek weet van niks waaroor ek my behoort te skaam nie. Ek hoop dit is die laaste keer dat jy etiket en goeie maniere so ignoreer.”
“Ek het nog altyd vrylik gekom en gegaan in jou huis, sonder om vooraf ’n afspraak te reël,” pruil sy terwyl sy ongenooi gaan sit.
“Jy praat nou van die verlede, toe ons nog verloof was, Francesca,” wys hy haar tereg. “Maar jy vergeet skynbaar dat ons lankal nie meer verloof is nie, dat ek nou getroud is en ander belange het.”
Die verskyning van Lizelia se kamermeisie met ’n kabelgram op ’n silwerskinkbordjie maak meteens ’n einde aan die woordewisseling tussen Edoardo en Francesca.
“Ek is jammer om u te steur, barones,” sê hy verskonend. “Maar hierdie kabelgram is so pas afgelewer, en signora Bonera het gedink dat u dit graag dadelik sal wil lees.”
“Dankie, dit was baie bedagsaam van mevrou Bonera,” bedank Lizelia haar met ’n vriendelike glimlaggie.
Sy wend haar na Edoardo en sê met kommer in haar stem: “Sal jy my asseblief verskoon sodat ek die kabelgram kan gaan lees, Edoardo?”
“Goed, gaan lees dit gou, kleintjie, en kom vertel my as dit slegte nuus bevat,” dring sy mooi, diep stem tot haar bekommerde gedagtes deur.
Met ’n sagte “Verskoon my, asseblief,” stap Lizelia na die privaatheid van haar slaapkamer. Sy is skaars weg, toe gaan sit Francesca langs Edoardo op die swaaibank en plaas haar hand vertroulik in syne.
“Jy vryf dit altyd onder my neus dat jy getroud is, my liewe Edoardo,” sê sy met ’n sagte laggie. “Jy kan gerus nou maar daarmee ophou. Ek het uitgevind dat jou huwelik nie ’n normale huwelik is nie en dat jy en jou vrou nie eers ’n kamer deel nie. Jou huwelik sal ook nie lank hou nie …”
“Ek weet glad nie waarvan jy praat nie, Francesca,” maak Edoardo haar met ’n onheilspellende stem stil. “Ek sal jou afraai om jou neus in my of my vrou se sake te steek, want dan sal ek jou beslis my huis moet belet. Jy weet dit miskien nog nie, maar ek het ’n broertjie dood aan bemoeisieke mense. En nog iets: Daar is hoegenaamd niks verkeerd met my huwelik nie. Ek het ’n wonderlike, sagmoedige vroutjie en ek is baie lief vir haar. Sy is baie fyn opgevoed en edel. Maar of ek haar bed deel of sy myne, het hoegenaamd niks met jou te doen nie. My huweliks-lewe gaan jou nie in die minste aan nie. As jy ’n familievriendin wil wees, sal jy jou beslis soos een moet gedra, of anders moet jy maar my kasteel verlaat …”
“Daardie bleek meisietjie wat jy jou vrou noem, kan jou nooit die liefde gee wat ek vir jou koester nie, liefling. Sy is niks meer as ’n kind nie!”
Dinge het nou ’n wending geneem wat Francesca glad nie voorsien het nie. Sy was nog altyd onder die indruk dat hy haar maar net ’n bietjie straf omdat sy destyds hulle verlowing beëindig het. Maar as hy sy vrou liefhet, lyk dit of die pad terug vir goed vir haar gesluit is. Sy gaan in elk geval nie nou al moed verloor nie.
Edoardo maak haar met ’n ligte handgebaar stil en sê sag: “Jy vergis jou hopeloos met my vrou. Sy is glad nie so jonk as wat jy dink nie. Ek het jou alreeds gesê dat sy met haar volgende verjaardag drie en twintig sal wees, as jy dit miskien vergeet het. En wat jou sogenaamde liefde betref … Wel, ek het dit nie nodig nie. My vrou en ek het mekaar lief en ons is baie gelukkig.”
Francesca wou hom net vertel dat sy hom regtig liefhet, maar Lizelia se onverwagte verskyning in die deur wat na die daktuin lei, laat haar voorlopig swyg.
Lizelia neem op die stoel langs Edoardo plaas en sê met ’n bekommerde stem: “Ek vrees die kabelgram bevat slegte nuus, Edoardo. My grootmoeder het verlede nag ’n beroerteaanval gehad, en my tante sê haar toestand is redelik ernstig.”
“Ek is jammer om dit te hoor, my ou kleintjie,” sê Edoardo simpatiek. “Maar moenie bekommerd wees nie. Ek gaan nou dadelik reël dat ons sommer môreoggend reeds Suid-Afrika toe vertrek …”
“Ek waardeer jou bedagsaamheid, Edoardo, maar dit is werklik nie nodig dat jy jou met so ’n lang reis vermoei nie,” maak sy beswaar. “Ek kan maar alleen gaan …”
“Ek is nie bereid om jou alleen te laat gaan nie, meisietjie. Ons sal saam reis, en moenie jou oor my bekommer nie. Ek is gewoond aan lang, vermoeiende reise. Kom, laat ons afgaan,” stel Edoardo voor.
Hy kom sonder Lizelia se hulp orent en neem haar arm. Versigtig stap hulle met die trappe af. Francesca volg hulle. In die voorportaal vra hy Lizelia om hom asseblief na sy sekretaris se kantoor te neem. Hy groet Francesca kortaf en draai onmiddellik sy rug op haar.
Edoardo vra haar na haar grootmoeder se adres en die naaste lughawe. Dan bereik hulle Angelo se kantoor.
“Jy kan maar jou kamermeisie gaan aansê om solank vir jou ’n tas te pak, Lizelia,” doen hy aan die hand toe sy op die punt staan om die kantoor te verlaat. Sy bedank hom en trek die deur saggies agter haar toe.
Lizelia is verbaas toe sy Francesca nog steeds in die voorportaal aantref. “Ek was onder die indruk dat jy al vertrek het, juffrou Bove,” sê sy met ’n gesteurde frons tussen haar oë.
Francesca verkies om dit te ignoreer. “Ek wil met jou praat, barones,” kondig Francesca hooghartig aan. “Waar kan ons gesels waar niemand ons sal steur nie?”
“Wat laat jou dink dat ek graag met jóú wil gesels, juffrou Bove? Jy moet my asseblief verskoon – ek het baie om te doen voordat ons môreoggend vertrek …”
“Ek wil ’n voorstel maak, barones,” keer Francesca haar toe sy begin wegstap. “Jy weet tog dat Edoardo my liefhet en slegs met jou getrou het om my ’n bietjie te straf. Ek het besluit om jou te help sodat jy kan teruggaan na jou eie land toe …”
“Jy sal my nou moet verskoon, juffrou Bove,” maak Lizelia haar kortaf stil. “Jou voorstel is heeltemal onvanpas … Tot siens!”
Met hierdie woorde bestyg Lizelia die trappe en steur haar nie meer aan die skaamtelose meisie nie. Ná ’n paar sekondes hoor sy hoe Francesca die swaar voordeur hard toeklap. Sy kyk deur haar kamervenster en sien hoe roekeloos die swartkop voor die kasteel wegtrek en met die pad teen die koppie afjaag asof die duiwel op haar hakke is.