Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua - Страница 11
8
ОглавлениеDaardie aand lê Rina lank in haar bed oor Loreta Valdes en peins. Sy wonder hoe en waar die meisie in Conzalo se lewe inskakel. Hy het haar na die dansparty vergesel, elke vierde dans met haar gedans en Alvaro, na afloop van die dansery, feitlik aangesê om haar by die castelo te besorg. Sou hy heimlik planne koester om met haar in die huwelik te tree of is sy ook ’n lid van sy adellike familie? As sy ’n lid van die familie is, waarom het hý haar persoonlik vergesel en nie Marco nie? En tog, as hy trouplanne met haar het, waarom het hy haar nie self tuis besorg nie?
Nee, hierdie vriendskap – of is dit ’n verhouding? – van Conzalo en Loreta slaan haar dronk. Sy kan geen denkbeeld vorm hoe en waar die meisie in Conzalo se lewe inpas nie . . . en tog móét sy êrens inpas, anders sou hy haar nie persoonlik na die dansparty vergesel het nie.
Rina verstaan hierdie ou nasie van geen kant af nie. Ook hul gebruike en konvensies is vir haar so vreemd soos hul taal.Verbeel jou, dat ’n meisie nie eens alleen op straat mag gaan nie, nie eens haar eie lewensmaat mag kies nie.
Dis al na drie toe Rina eindelik aan die slaap raak. Tog is sy die volgende oggend wakker toe die kamermeisie haar koffie bring. Sy drink die koffie tydsaam en vertoef in die bed totdat die wysers van haar polshorlosie agtuur aandui. Eers daarna bad sy en trek haar aan.
Na ontbyt vertrek sy na Villa Pereda wat nie ver van die marquês se castelo af geleë is nie.
Die wit Jaguar het ook net voor die deur van die tweeverdiepingvilla stilgehou, toe kom Alvaro en sy ma by die voordeur uit en loop Rina tegemoet. Albei is bly om die meisie weer gesond en vol sprankelende lewenslus te sien. “Bom dia, Rina!” groet die ou señora Pereda vriendelik.
“Bom dia, pequena!” kom dit ewe vriendelik van Alvaro. Rina groet hulle op Engels.
“Ons het jou en jou ondeunde streke die afgelope week gemis, kind,” gesels die ou dame onderwyl hulle in die rigting van die voordeur stap.
Hulle tree die deftige, ruim ontvangsvertrek binne. Rina merk dadelik dat die meubels ’n paar eeue gelede vervaardig is. Seker alles erfstukke wat van die een geslag na die ander oorgedra word, meen sy.
Asof hulle mekaar jare al ken en maande laas gesien het, gesels die drie ewe gesellig. Die ou dame vertel vir Rina van die verrigtinge tydens die olyffees en Rina vertel van die vyf dae wat sy en tia Ada Estoril en Sintra se strate platgery het. Later word hulle met koffie en beskuitjies bedien. Daarna bied Alvaro aan om Rina vir ’n wandeling deur die villa se tuine te neem.
“Ja, gaan wys gerus vir Rina hoe mooi my blomtuin vanjaar daar uitsien,” stem die ou dame saam. “Ek wil net gaan kyk hoe die kok met die voorbereidings vir middagete vorder.”
Vrolik geselsend stap Rina en Alvaro op die voorstoep uit.
Dieselfde oomblik hou Conzalo se swart motor voor die villa stil. Rina bly op die stoep staan asof sy meteens daar vasgenael is. Dit tref haar oombliklik dat haar pret vandag ten einde geloop het, dat haar doelbewuste leuens in verband met haar sogenaamde voorliefde vir minirokke vandag op die lappe gaan kom. Sy weet die skerpsinnige edelman se arendsoog sal dadelik die lengte van haar rok raaksien; wat op aarde is daar wat hy nie met die eerste aanblik opmerk nie?
Die besef dat sy ook hierdie ronde teen Conzalo verloor het, is vir haar ’n steurende gedagte. Sy het nog altyd vir hom in die mou gelag, maar nou lyk dit asof die bordjies verhang gaan word. Maar Rina is nie ’n meisie wat ’n nederlaag maklik aanvaar nie. Sy glo daaraan dat die laaste woord te alle tye hare moet wees. Ja, sy hou nie van ’n nederlaag nie, slegs van oorwinnings.
Daar is meteens ’n peinsende uitdrukking in haar pragtige oë, die oomblik toe sy opmerk dat Loreta Valdes vir Conzalo en sy ma vergesel het. Nou voel sy vas oortuig daarvan dat daar ’n verhouding tussen Conzalo en die mooi, vriendelike Portugese meisie bestaan. Dit wek ’n diep gevoel van teleurstelling in haar wat sy agter ’n doelbewuste houding van onverskilligheid verbloem.
Conzalo en Loreta betree die stoep. Albei groet Rina bedaard en vriendelik. Rina sien hoe die edelman se blik stadig van haar voete opskuif totdat sy donker oë reg in hare staar.
“Is Portugal besig om jou ten goede te verander, pequena, of het jy ons maar net om die bos gelei in verband met jou voorliefde vir minirokkies?” vra hy meteens met die tergliggies openlik in sy swart oë.
“Nie een van die twee nie, Conzalo,” antwoord sy gemaak onverskillig, maar kan nie help om liggies te bloos nie. “Ek het hierdie rok gistermiddag spesiaal gekoop om vandag te dra, bloot uit respek en agting vir my gasvrou. Sy het my kleredrag nog nooit gekritiseer nie, maar ek weet sy hou nie van minirokke nie en . . . Nou ja, sy is ’n ou dame. My ouers het my geleer om ontsag te hê vir ou mense en hulle met eerbied en respek te behandel.”
“Vir my het jy natuurlik geen ontsag nie, nè?” ’n Sweem van ’n glimlaggie raak aan die een hoek van sy mond.
“Jy is nie ’n ou mens nie, Conzalo,” troef sy hom. “Gee my een goeie rede waarom ek vir jou ontsag moet hê, jy wat jou mond nie kan oopmaak sonder om my te kritiseer nie. Dit verbaas my dat jy nog nooit daarop aangedring het dat ek ook ’n mantilla moet dra nie.”
“As jy saans saam met ons in die castelo kom eet, sal ek beslis daarop aandring,” antwoord hy bedaard, maar met ’n erns in sy oë wat Rina nie ontgaan nie.
Sy kyk hom net stil aan. Ek wonder of ek jou moet glo of nie. Dit klink vir my al of jy nou die draak met my steek, waarsku haar oë duidelik.
“Conzalo laat niemand saans sonder aanddrag aan sy tafel toe nie en elke vrou moet ook ’n mantilla dra,” kom dit ter verduideliking van Loreta, wie se oë skitter van pret. Sy het reeds daardie skeptiese uitdrukking in Rina se oë opgemerk.
“Ja,” glimlag Rina die ouer meisie toe,“julle is gewoond aan hierdie soort dinge, ek nie. Ek dra nie eens ’n hoed nie, afgesien van ’n sonhoed. Glo my, ek sal net so ontuis in ’n mantilla voel soos ’n kat met sokkies aan. Ek dink hierdie mantilla draery van jong meisies is sommer ’n lawwe gebruik. Ek sou weier om die ding te dra as ek jy was.”
“Ek het nog nooit voorheen ’n meisie soos jy ontmoet nie, señorita Verhoef. Ek dink jy is waarskynlik die enigste van jou soort,” kom dit vol lag van Loreta.
Na ete ontspan die vier jong mense op die voorstoep, waar gemaklike rottangstoele en tafeltjies oral rondstaan, terwyl die twee ouer dames hul gebruiklike siesta geniet.
Dit is rustig en stil hier op die stoep. Rina sit lui agteroor terwyl sy haar gedagtes vrye teuels gee. Af en toe hoor sy hoe die ander drie ’n bal in die castelo bespreek, ’n geleentheid wat hulle blykbaar al ’n maand of wat gelede beplan het. Maar hieraan steur sy haar nie veel nie. Sy sal in elk geval nie meer in Lissabon wees wanneer die bal plaasvind nie, dus gaan die hele aangeleentheid haar nie aan nie. Sy sou dit in elk geval nie bygewoon het nie, al was sy ook in Lissabon. Noudat haar hart nie na haar verstand wil luister nie en na die jong edelman bly hunker, is dit beter dat sy die man vermy. Ja, nadat sy Lissabon verlaat het, sal sy sorg dat hul paaie nooit weer kruis nie. Loreta is ’n gawe meisie; sy sal vir hom ’n goeie vrou en ma vir sy kinders wees.
“Jy is besonder stil, pequena,” hoor sy Conzalo meteens sê.
“Dis van pure luiheid,” antwoord sy met ’n vaal glimlaggie. “Ek het vanmiddag te veel geëet. Ek voel altyd lui nadat ek my so gruwelik ooreet het,” jok sy ligweg.
“Ek hoop jy gaan ook die bal in die castelo bywoon, señorita,” kom dit vriendelik van Loreta.
“Wanneer sal dit wees?” vra Rina sonder veel belangstelling.
“Oor ’n maand,” antwoord die ouer meisie.
“Oor ’n maand sal ek reeds besig wees om deur Spanje te reis,” lig sy die Portugese meisie in.
“Jy moet baie versigtig wees dat die een of ander romantiese Spanjaard jou nie dalk ontvoer nie, Rina,” terg Alvaro met ’n breë glimlag. “Onthou, ek en Conzalo sal nie byderhand wees om jou te hulp te snel nie.”
“Jy bekommer jou verniet oor my, Alvaro. My ouers ken my, anders sou hulle my nie alleen op hierdie uitgebreide reis laat gaan het nie,” weerspreek sy hom. Sy kyk hom aan en ’n stadige glimlaggie sprei oor haar pragtige gesig. “Voor my vertrek uit Suid-Afrika het my pa vir my ’n polisiefluitjie in die hande gekry wat ek altyd saam met my in my handsak dra. Daar sal dus geen ontvoering wees nie, want ek dra my duenna saam met my in my handsak.”
Loreta lag weer heerlik. Ook Alvaro kan nie help om te glimlag nie. Slegs op Conzalo se gesig is daar ’n somber uitdrukking. Hy kyk Rina afgetrokke aan. Sy is so klein, fyn en tenger teenoor sy rysige gestalte, byna soos ’n kind teenoor ’n volwassene, maar vir hom so onbeskryflik dierbaar. Hy het nooit kon droom dat hy ooit ’n meisie so lief sou kry soos wat hy Rina het nie. Dis soos ’n fisieke pyn êrens in sy bors, daar waar sy hart moet wees. Hy word eintlik benoud as hy net daaraan dink dat sy alleen deur die vreemde wil gaan reis. As sy haar tog maar net met hul gebruike en konvensies wil vereenselwig, hom net halfpad tegemoet wil kom. Hoe op aarde kan hy ooit met ’n ander meisie trou, noudat sy hele hart aan haar behoort? Almal lyk vir hom vaal en uitgewas teen haar, sý, die liefling van sy hart, sy koppige en eiesinnige klein skat.
Die verskyning van sy ma en tante hier op die stoep maak ’n einde aan Conzalo se pynlike gedagtes. Hy kom hoflik orent en bied die twee ouer dames elk ’n gemaklike stoel aan.
Rina sit dadelik orent en verneem belangstellend of hulle hul siesta geniet het.
“Ag, ons het heerlik gerus, kind,” kom dit van señora Pereda. “Dit is regtig ’n gebruik wat jy ook moet aanleer. Dit is baie gesond vir ’n mens se hart om ’n paar uur lank tot stilstand te kom.”
“Wanneer ek eendag getroud is en ’n baba het wat my snags uit die slaap hou, sal ek sekerlik die siesta-gewoonte aankweek, señora,” verseker Rina haar met groot erns.
“Gaan jy snags self na jou babas kyk, Rina?” vra die marquesa.
“O, baie beslis, señora,” glimlag Rina. “Ek sal geen kinderoppasser snags by ’n baba van my vertrou nie.”
Loreta skater van die lag. “Jy sal dit nie met vier of vyf kinders kan volhou nie, señorita,” verklaar sy nadat haar lagbui bedaar het.
“O, ek sal,” hou Rina vol. “Snags sal ék na hulle kyk en bedags my ma.”
“En as jy ver van jou ouerhuis af woon?” wil Conzalo met ’n skewe glimlaggie weet.
“Dan pak ek my kroos in die motor en gaan laai hulle by my ma af. Nee wat, ek sal goed regkom sonder ’n kinderoppasser.”
“Jou man sal nie daarvan hou dat jy elke dag van die huis af weg is nie,” meen Alvaro.
“O, hy sal maar net moet,” kom dit ietwat verontwaardig van Rina. “Dit sal mos sy kinders ook wees, nie net myne nie. En nog ’n ding, Alvaro. My man gaan my nie koop nie, hy gaan net met my trou, weet jy? Ek sal my dus nie laat voorskryf of ek wel my ouerhuis elke dag mag besoek of nie.”
“Ek glo jou, Rina,” kom dit met ’n alwyse glimlaggie van Alvaro. “Terloops, ek bejammer die man wat eendag met jou trou. As hy ietwat saggeaard is, sal jy hom so hopeloos oorheers dat hy later soos ’n wurm sal voel.”
“Jy is nou skoon verspot!”
“En as hy sterk van karakter is met ’n wil van sy eie, sal jul huis se dak menige dag die lug in vlieg van al die rusies en gestry. Van jul kinders wil ek nie eens praat nie, want dié sal so verwen wees dat g’n mens hulle sal wil oppas nie . . .”
“Alvaro . . .”
“Wag, ek is nog nie klaar met my voorspellings nie, Rina,” maak hy haar met ’n glimlaggie stil. “Ek wil jou net dít nog sê, jou oor een ding baie vriendelik waarsku. As jou man oor ’n sterk karakter en ’n ewe sterk wil beskik, sal dit jou loon om inskikliker te wees, anders kan jy dalk slae kry.”
“Onsin,” lag sy hom saggies uit. “Ek wil nie ’n wurm vir ’n man hê nie en ek verseker jou dat ek ook nie slae sal kry nie. My kinders sal ook nie verwen wees nie, hulle sal die lieftalligste goedjies wees met baie mooi maniere.”
“Dit moet nog gesien word,” kom dit skepties van Alvaro. “As hulle na jóú aard . . .”
“. . . sal hulle ’n selfstandige klomp wees wat ten minste sal weet wat hulle van die lewe verlang,” voltooi Rina die sin vir hom.
“Ek vrees julle twee sal dae aaneen oor hierdie onderwerp redeneer sonder om ooit tot ’n punt te kom,” tree Alvaro se ma wyslik tussenbeide. “Ons gaan nou eers middagkoffie geniet, daarna kan julle ’n nuwe onderwerp vind om oor te argumenteer.”
Die gesprek raak weer algemeen, totdat die koffiewaentjie op die stoep uitgestoot word en almal met koffie en koek bedien word.
Dit is ’n gesellige groepie daar op die stoep. Rina en Alvaro gesels weer ewe gemoedelik, asof hulle nog nooit in hul lewe oor ’n onderwerp geargumenteer het nie.
“Wel,” laat Conzalo meteens hoor, “ons het almal ’n gesellige en aangename dag hier verwyl. Ek stel voor dat almal vanaand saam met ons in die castelo eet. Daarna kan my moeder en tia Nina die lys van gaste bespreek wat vir die bal genooi moet word. Moet net nie vergeet om Loreta se ouers boaan die lys te plaas nie, want die bal sal vir hulle net so belangrik soos vir ons wees.”
Rina, wat onder die indruk verkeer dat net die twee Peredas vir ete na die castelo genooi is, kyk na haar polshorlosie en roep sag uit: “My wêreld, ek het nooit geweet dat dit al so laat is nie! Ek sal ongelukkig nou moet gaan.” Sy bedank haar gasvrou vir die aangename dag wat sy saam met hulle deurgebring het, daarna groet sy die ouer vrou met die hand en vervolg vriendelik: “Ek is bly dat ek u ontmoet het, señora. Ek hoop ons sien mekaar weer eendag.”
“Jy sal tia Nina vanaand by my castelo weer sien, Rina,” val die edelman haar bedaard in die rede.
Sy draai na die marquês. “Dit spyt my, maar ek sal jou uitnodiging van die hand moet wys, Conzalo,” weerspreek sy hom.
“Wys jy my uitnodiging van die hand omdat jy vanaand ’n mantilla sal moet dra?” vra hy met iets soos ’n tergduiweltjie in sy oë.
“Ek sou in elk geval nie ’n mantilla gedra het nie, al het ek ook jou uitnodiging aangeneem, Conzalo,” antwoord sy. “Maar dit is nie die rede waarom ek jou uitnodiging van die hand wys nie. Ek vertrek môreoggend nog voor sewe-uur na Oporto, gevolglik moet ek vanaand al my persoonlike besittings inpak vir die reis. Ek sal julle na vandag dus nie weer sien nie, tensy julle my in Suid-Afrika met ’n besoek vereer.”
Daar is iets vreemds, byna soos ’n bekommerde trek, op Conzalo se gesig wat Rina nie kan peil nie. Tog is sy stem kalm en bedaard toe hy sê: “Jy is nog glad nie sterk genoeg om so ver te bestuur nie, Rina. Oporto lê nie hier agter die bult nie.”
“Ek sal heeltemal genoeg geleentheid vind om te rus,” sê sy ongeërg. “Ek behoort eenuur in Santarém te wees. Daar sal ek ’n uur of wat vertoef voordat ek die reis na Coimbra voortsit. As ek Woensdagmôre vroeg van Coimbra af vertrek, behoort ek so twee-uur se kant in Oporto te wees.”
“Hoe lank gaan jy in Oporto vertoef?” kom dit, nog steeds bedaard, van die marquês.
“Niks langer as drie weke nie.”
Sy groet ook die marquesa, Loreta en Alvaro met die hand en bedank hulle vir hul vriendelike belangstelling tydens haar onlangse siekte.
Maar toe sy Conzalo wil groet, sê hy so ewe: “Ek sal jou weer sien voordat jy vertrek, menina. Laat my toe om jou na jou motor te vergesel.” Hy hou die motordeur vir haar oop en sê ietwat afgetrokke: “Ry tog asseblief versigtig, Rina . . . Adeus, menina.”
“Tot siens, Conzalo,” glimlag sy, hoewel haar hart swaar en seer voel. Sy wuif vriendelik met haar hand na die agterblywendes, dan ry die wit Jaguar by die groot hek uit.
Conzalo is nou opvallend stil en afgetrokke, maar die res van die geselskap maak asof hulle nie eens daarvan bewus is nie. Dit is vir hulle geen geheim meer nie dat hy Rina bemin met ’n liefde wat maar een keer in ’n mens se lewe voorkom. Maar soos hulle Conzalo ken, weet hulle dat hy die stryd om Rina se hand te verower nie maklik gewonne sal gee nie.
By die hotel aangekom, verklee Rina haar vinnig in ’n geblomde somerrok. Daarna begin sy haastig inpak. Sy besef dat sy haar besig sal moet hou sodat haar swerwende gedagtes nie na verbode terrein kan dwaal nie. Die marquês is nie vir haar bedoel nie en dit moet haar wederstrewige hart nou eenmaal verstaan.
Maar hoe Rina ook al probeer, haar gedagtes bly wegdwaal na Conzalo en Loreta. Die aand met die bal, besluit sy, sal hul verlowing seker aangekondig word; daarom dat die bal vir haar ouers net so belangrik sal wees as wat dit vir die De Valcadas is. Ja, dis nooit anders nie. Ook maar goed dat sy nie hier sal wees om te sien hoe hy hom aan ’n ander meisie verbind nie, die toekomstige marquesa De Valcada . . . Nee, dit sal te veel selfbeheersing van haar verg.
Die volgende môre is sy vroeg uit die vere. Alles verloop volgens plan en tien voor sewe dra die portier haar tasse na haar motor wat voor die hotel staan. In ’n koel somerrok en wit laehaksandale geklee, volg sy die portier na buite. In die hoofingang van die hotel loop sy byna vas teen Conzalo wat lank en breed soos ’n standbeeld in die deur staan.
“Bom dia, pequena!” groet hy haar verras, hoewel effens afgetrokke, en neem terselfdertyd die motorsleutels uit haar hand.
“Môre, Conzalo,” antwoord sy, ietwat uit die veld geslaan. “Ek het nie verwag om jou hier te sien nie.”
Hy kyk haar aan asof sy ’n onsinnigheid kwytgeraak het. “Ek het jou gister gesê dat ek jou weer sal sien voordat jy vertrek,” herinner hy haar. “Kom, die portier wag om jou tasse in die motor te laai. Het jy al ontbyt geëet?”
Sy skud haar goudblonde kop. “Nog nie. Ek sal maar langs die pad iets koop en dit sommerso in die ry eet . . .”
“O nee, jy gaan dit nie doen nie,” voeg hy haar bedaard toe onderwyl hy die motordeur vir die portier oopsluit. “Jy gaan eers ’n behoorlike ontbyt eet voordat jy daardie lang motorreis aanpak; trouens, jy gaan nou saam met my ontbyt nuttig.”
“Maar ek kan nie, Conzalo, ek sal te laat in Santarém aankom!”
“Toemaar, ek sal sorg dat jy betyds by jou bestemming opdaag, menina,” verseker hy haar en sluit weer die motordeur, nadat haar bagasie ingelaai is. Hy stop die portier ’n fooitjie in die hand, neem Rina se arm en lei haar sonder meer na sy eie motor wat aan die oorkant van die straat staan.
“Nou goed, ek aanvaar jou woord,” gee sy toe. “Maar waarheen neem jy my, en waar gaan ons eet?”
“Jy sal sien sodra ons daar aankom,” antwoord hy ontwykend. “Moenie vrees nie, ek gaan jou nie ontvoer nie. Ek neem nooit iets met geweld nie, as hierdie versekering jou sal gerusstel. Ek neem jou slegs na ’n plek waar jy ten minste ’n ordentlike ontbyt sal kan eet en waar ons ’n rukkie sal kan gesels sonder om gesteur te word.”
“Maar ons kan nie tyd met gesels verkwis nie . . .”
“Het jy gehoor wat ek jou flussies belowe het?”
“O, nou ja, goed dan, doen wat jy wil, Conzalo de Valcada. Maar ek waarsku jou, die duiwel gaan jou haal as ek laat in Santarém aankom.”
“Dit sal ek verhoed,” glimlag hy sonder om sy blik ’n oomblik van die pad af te neem. “Maar net so terloops, het jy hierdie oulike rokkie ook spesiaal vir die reis na Santarém en Coimbra gekoop?”
Rina bloos openlik, onbewus daarvan dat Conzalo haar dophou.
“Nee,” sê sy sag, “dit is sommer ’n ou en lank vergete rok wat ek gisteraand tussen my ander klere ontdek het.”
“Ek hoop jy ontdek nog meer sulke oulike rokkies tussen jou ander tabberds, menina,” sê hy met ’n skewe glimlaggie. “Sulke lank vergete rokke vlei jou nogal regtig.”
“Dis nie nodig om jou ware mening oor my met komplimente te kamoefleer nie, Conzalo,” antwoord sy effens snipperig. “Ek weet presies wat jy van my dink en wat jou mening van my is. Jy kan dus maar reguit sê: ‘Jy lyk nou, na my mening, meer na ’n respektabele dame, Rina.’ Dit is tog immers wat jy gedink het.”
“Ek het nie geweet jy kan gedagtes lees nie, menina,” terg hy met ’n glimlaggie.
“Nee, ek kan nie gedagtes lees nie,” sê sy. “Maar ek ken jou al so goed dat ek soms kan raai wat jy dink; veral wanneer dit met my kleredrag in verband staan.”
Hierdie beskuldiging laat Conzalo ineens saggies lag. Hulle ry deur ’n sierlik geboogde ingang, waarvan die twee hoë ysterhekke oopstaan. ’n Netjiese betonpad kronkel tussen hoë sierbome en struike teen ’n rotsagtige koppie uit. Eindelik hou hulle stil voor ’n fabelagtige ou kasteel wat op die kruin van die koppie geleë is. Aan die linkerkant van die kolossale gebou skiet ’n yslike, ronde toring van die grond af op, vier verdiepings hoog, met ’n koepelvormige dak. Aan die regterkant is twee ewe hoë vierkantige torings, elk met ’n getande muur om die dak. Langs die sierlike, indrukwekkende hoofingang van die gebou pryk twee kleiner, seskantige torings, ook met koepelvormige dakke maar drie verdiepings hoog. Die res van die kolossale gebou bestaan uit twee verdiepings. Daar is geen balkonne nie, slegs die een ry vensters bokant die ander.
Hierdie kasteel lyk vir haar byna soos die castelo van Pena in Sintra, net baie groter. So ’n fabelagtige, indrukwekkende gebou het sy nog nooit in haar lewe gesien nie, nie eens in ’n rolprent nie.
“Dit . . . dit lyk soos ’n castelo, Conzalo,” sê sy met ontsag.
“Dit ís ’n castelo, pequena,” hoor sy Conzalo hier langs haar sê. “Dit is die castelo De Valcada en vergun my om te sê dat dit vir my ’n groot eer is om jou vanmôre in my castelo te verwelkom.”
’n Kort oomblik kyk Rina die man langs haar stil aan. Toe vra sy baie sag: “Waarom het jy my na jou castelo gebring, Conzalo?”
“Omdat dit die enigste plek is waar jy hierdie tyd van die oggend ’n ordentlike ontbyt sal kry. My moeder het die kok spesiaal opdrag gegee om vir ons ’n vroeë ontbyt gereed te hê. Want sien, ons het gister al geweet dat jy vanoggend sonder ontbyt in die pad gaan val. Geen hotel bedien hul gaste met ontbyt hierdie tyd van die oggend nie.”
Hy klim uit die motor en maak die ander deur vir haar oop. Rina het geen ander keuse as om maar sy voorbeeld te volg en ook uit te klim nie. Met ’n onpeilbare blik beskou sy die fabelagtige castelo, terwyl dit deur haar gedagtes flits dat Loreta eersdaags meesteres van hierdie indrukwekkende plek gaan wees.
Maar sy slaan haar gedagtes dadelik hok en vra sag: “Woon jy en jou ma alleen in hierdie kolossale castelo?”
“Ja, op die oomblik woon ons alleen, pequena,” antwoord hy bedaard. “Maar dit sal nou nie meer lank wees nie, dan bring ek my eie marquesa na my castelo.” Sy oë begin meteens ondeund vonkel. “Daarna sal die twaalf kinders volg. Maar hulle sal nie elf dogters en een seun wees, soos jy in die hospitaal voorspel het nie; hulle sal elf seuns en een dogter wees.”
So, dan was ek in die kol, dink Rina met ’n pynflits in haar oë; dan is die bal ter ere van sy verlowing aan Loreta. Daar is ’n ontsettende brandpyn in haar hart, maar sy slaag wonderbaarlik daarin om met ’n glimlag te sê: “Wel, ek wens jou alle voorspoed toe met jou twaalf kinders, Conzalo. Maar ek vrees jy sal ’n klokkie om elkeen se nek moet bind, want hulle sal elke dag soek raak tussen al hierdie bome en struike.”
“Hulle sal in elk geval nie verder as die hek kan gaan nie,” glimlag hy saam.
“Dis wat jy dink. Jou elf seuns sal bo-oor die heining klouter en waarskynlik nog hul sussie ook saamsleep.”
“Nee, dit sal hulle nooit regkry nie, Rina,” verseker hy haar met ’n glimlaggie. “As jong seun het ek dikwels oor die hoë heining probeer klim, maar dit ’n onbegonne taak gevind. By die hek sal hulle ook nie kan uitglip nie, want daar is gedurigdeur ’n wag om dit oop en toe te maak. Nee, die De Valcadakleingoed sal hier op die castelo se terrein heeltemal veilig wees, al is hulle ook ’n onmoontlike klomp. Maar kom, laat ons eers gaan eet, menina. Daarna sal ek jou vertel wat ek en my moeder in verband met jou reis na Santarém en Coimbra besluit het.”