Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua - Страница 6
3
ОглавлениеDaardie nag voel Rina koorsig en siek van die verkoue. Sy neem maar weer haar toevlug tot die hoofpynpille en raak eindelik aan die slaap.
Die volgende oggend voel sy werklik lusteloos en koorsig toe sy traag uit die bed klim. Sy dam dadelik weer die pille by, daarna gaan bad en trek sy haar aan.
Die hele dag slenter Rina saam met die vyf Amerikaners rond. Sy laat niks blyk van haar verkoue wat nou veel erger skyn te wees as vanoggend nie. Sy is heimlik bly toe oubaas Summers vieruur die middag aankondig dat dit tyd is vir hulle om terug te gaan na die hotel, aangesien die drie vroumense nog moet inpak vir hul vertrek sewe-uur die volgende oggend.
Na aandete kondig Rina aan dat sy nou maar gaan slaap. Sy groet haar tafelgenote, aangesien sy hulle nie weer voor hul vertrek sal sien nie, en wens hulle ’n voorspoedige reis toe.
Dié nag voel sy sommer werklik siek en koorsig. Haar bors voel benoud en as sy hoes, voel dit behoorlik asof haar longe wil uitskeur.
Sy neem die sakwoordeboekie wat voor haar bed op die tafeltjie lê ter hand, want sy sal die kamermeisie moet vra om vir haar ’n dokter te ontbied.
Met koorsige oë en hande probeer Rina die regte woorde opsoek, maar sy vind dit ’n hopeloos onbegonne taak.
Die woordeboekie bevat geen grammatika nie. Al wat sy kan wys word, is dat ’n dokter médico genoem word; dis nou as dit ’n man is. Maar wat nou van die res?
Die noodlot was Rina egter goedgesind, want toe die kamermeisie haar opwagting maak om die kamer aan die kant te maak, het sy dadelik gemerk dat Rina ernstig siek is. Hierdie bevinding het sy onverwyld aan die bestuurder gaan meedeel. In die geselskap van die kamermeisie het die bestuurder, wat Engels darem op ’n manier kan praat, Rina besoek om te verneem of daar iets is wat hy vir haar kan doen.
In ’n hees stem, amper fluisterend, het sy hom vertel van die koue wat sy twee dae gelede opgedoen het en hom daarna gevra om asseblief vir haar ’n dokter te ontbied.
Dit het ook nie lank geduur nie, toe maak ’n gryskopdokter sy verskyning in die siekekamer. Dié kan ook nie ’n woord Engels verstaan nie, gevolglik kan Rina hom niks vertel nie en ook hy kan háár niks vertel nie.
Maar die dokter is nie dom nie. Met handgebare en verduidelikende geluide, vind hy gou uit waar Rina oral pyn het. Nadat die ondersoek afgehandel is, ontbied hy die bestuurder, met wie hy ’n kort gesprek voer, na die siekekamer. Daarna groet die dokter Rina met ’n vriendelike “Adeus, señorita,” en vertrek.
“Wat is die dokter se diagnose, señor?” wil Rina dadelik van die bestuurder weet.
“Die dokter sê u het longontsteking in ’n ligte graad en u moet sonder verwyl na die hospitaal gebring word. Ek sal ’n kamermeisie stuur om vir u die nodige in te pak wat u na die hospitaal sal moet neem. Terloops, ek sal een stuur wat ’n bietjie Engels kan verstaan.”
Rina bedank die bestuurder vir sy behulpsaamheid.
Daarna vra sy hom om asseblief nie haar kamer te verhuur nie. Sy is bereid om volle losies te betaal vir die tyd wat sy in die hospitaal sal moet vertoef. Hy moet net die kamerdeur sluit en die sleutel by hom in die kantoor hou. Aan die marquesa De Valcada wat veronderstel is om haar vanoggend te besoek, moet hy asseblief verduidelik wat gebeur het.
’n Uur later word Rina in die hospitaal opgeneem sonder enige besonderhede. Daar word slegs na haar verwys as die sul-africana.
’n Rukkie later kom die vyf-en-dertigjarige superintendent, dokter Alvaro Pereda, Rina se kamer binne. Gelukkig kan die man Engels redelik goed praat. Hy is ’n aantreklike en vriendelike man wat haar dadelik op haar gemak laat voel.
Dokter Pereda groet haar met ’n vriendelike stem en neem voor haar bed op ’n stoel plaas. In sy hand hou hy die vorms wat ingevul moet word.
Dít afgehandel, gee hy die vorms aan ’n non wat skynbaar die saalsuster is. Hy ondersoek Rina weer baie deeglik, vra haar ’n paar roetinevrae in verband met vorige siektes. Daarna verlaat hy die siekekamer in die geselskap van die witgeklede non.
Na ’n paar minute keer dieselfde non weer terug en dien Rina ’n inspuiting toe.
Rina sluit haar koorsige oë met die lang ligbruin wimpers en raak byna dadelik aan die slaap. Hoe lank sy geslaap het, weet sy nie, maar toe haar oë swaar oopgaan, merk sy op dat haar bed omring is deur mense. Dis die marquês, sy ma, tante, neef en niggie. Op elkeen se gesig is ’n trek van kommer en besorgdheid.
Rina verwelkom hulle met ’n waterige glimlaggie en sê fluisterend: “Dit spyt my dat ek julle almal so ongesellig ontvang het. As ek vooraf van jul besoek geweet het, sou ek probeer het om nie te slaap nie. Ek vrees ek het gisternag baie min geslaap.”
“Moet jou glad nie daaroor bekommer nie, Rina,” stel die marquesa haar met moederlike besorgdheid gerus. “Waarom het jy ons nie gisteraand gebel en gesê dat jy ernstig siek is nie, kind?”
“Ek is ’n volslae vreemdeling vir u, señora,” antwoord Rina nouliks hoorbaar. “Hoe op aarde kan ek u met my ongesteldheid belas?”
“As jy my van jou ouers se adres voorsien,” kom dit van die marquês, “sal ek hulle onverwyld van jou siekte in kennis stel, señorita.”
“Nee, moet dit asseblief nie doen nie, señor!” keer Rina haastig. “Ek is my ouers se enigste kind. As hulle moet hoor dat ek my hier in die vreemde in die hospitaal bevind, sal hulle sommer die eerste vliegtuig haal en hulle hierheen haas. My pa kan nie alles sommer net so laat en hierheen kom nie; hy is die superintendent van ’n ortopediese kliniek en het ’n groot verantwoordelikheid wat op hom rus. Ek sal my ouers se adres aan jou verstrek, señor. Maar jy moet hulle asseblief nie van my siekte in kennis stel nie, tensy dit dringend noodsaaklik is.”
“Ek wil jou pa vanaand bel.”
“Maar ek is nog lank nie sterwend nie, señor marquês,” val sy hom met haar hees fluisterstem in die rede.
“Jou ouers moet weet dat jy ernstig siek is,” hou die man vol. “Dit is nie regverdig om hulle in die duister oor so iets te hou nie.”
Die man is gek, dink sy, maar sê net hardop: “Dan kan jy maar netsowel vir hulle ’n dubbelkamer in die een of ander goeie hotel ook bespreek, señor. Want nadat jy my pa gebel het, sal my ouers hulle so gou moontlik na hierdie hospitaal haas en . . . wel . . . hulle gaan nooit in ’n minderwaardige hotel tuis nie. My ma sal die piep kry as sy in die Hotel Universo moet tuis gaan. Sy is net aan die allerbeste gewoond.”
“En jy, señorita?” wil Conzalo met vreemde belangstelling weet.
“O, ek aard na my pa. By ons twee is daar geen aansien des persoons nie. Ons oordeel mense gewoonlik na meriete en nie volgens status, titel of bankrekening nie. Dit is ’n groot fout dat my ouers slegs een kind gekry het. As my ma ’n halfdosyn kinders gehad het, sou sy miskien nie vandag so puntenerig en kieskeurig gewees het nie. Sy sou ook minder op my gekonsentreer het as daar ander kinders was wat haar aandag geverg het.”
“Dit is baie prysenswaardig van jou ma om soveel aandag aan jou te gee, señorita,” meen die jong edelman. “Jy behoort dit te waardeer.”
“O, ek is baie lief vir my ma, señor,” help Rina hom reg. “Ek hou net nie daarvan om so gepamperlang te word asof ek nog steeds ’n dogtertjie is wat dalk kan seerkry nie. Dis eintlik my ma wat daardie ou droë stoppel van ’n professor vir ’n skoonseun wil hê. My pa sê weer ek sal ’n gek wees as ek met die man trou, hy is droër as die Sahara.”
Almal begin heerlik lag. Selfs die marquês kan nie help om met ’n skewe glimlaggie te sê nie: “Ek het nog nooit in my lewe ’n droë man gesien nie, señorita.”
“Ja, maar dan het jy nog nie vir Herman gesien nie,” antwoord Rina. “Terloops, hy is professor Herman Theron. Hy doseer sosiologie en is meer geïnteresseer in sy boeke as in enigiets anders.”
“Ek dink jou pa het reg, Rina, pequena,” glimlag die marquesa. “Jy sal nooit gelukkig wees met daardie professor nie. Julle skyn vir my twee uiteenlopende karakters te wees. Jy moet liewer trou met ’n man wat meer in jou belangstel en minder in sy boeke.”
“Dit is presies wat ek van ’n man verlang, señora,” glimlag Rina. “Ek moet eerste in sy lewe kom, voor alle ander dinge.”
“Dan moet jy met ’n Portugese man trou, pequena,” meen die ou dame. “Hul vroue kom gewoonlik voor alle ander dinge.”
“Wel, ek weet nie so mooi nie,” antwoord Rina met ’n afgewaterde glimlaggie. “As al die Portugese mans soos die señor marquês is, sal ons mekaar ophang of lewend afslag. Nee, ek vrees ek is nie onderdanig of gehoorsaam genoeg vir so ’n man nie.”
“As jy ’n man regtig liefhet, sal jy sy wense eerbiedig en respekteer, señorita,” kom dit bedaard van die marquês.
“Ek weet nie, dit moet nog gesien word, señor. Ek stel my voor dat so ’n man ’n mens se lewenslus sal demp. Jy sal later soos ’n wandelende robot wees. Hy druk die knoppie en jy beweeg outomaties. Ek kan my nie in daardie rol voorstel nie.”
“Jy sal daaraan gewoond word, señorita,” meen Conzalo.
Voordat Rina hierop kan antwoord, lui die klokkie wat aankondig dat besoektyd verstreke is.
Die De Valcadas en De Moras wens Rina ’n spoedige herstel toe. Sy, op haar beurt, bedank hulle weer vir hul besoek. Daarna groet die besoekers en verlaat die siekekamer.
Pas na besoektyd kom die verpleegster weer Rina se koors meet. Sy is merkbaar ontsteld toe sy vind hoe ontsettend hoog die pasiënt se koors gestyg het. Sy verlaat Rina se kamer, maar keer na ’n rukkie weer met dokter Pereda terug. Hy neem sy pasiënt se koorskaart op en bekyk dit met ’n ligte frons tussen sy wenkbroue. Daarna draai hy met ’n bekommerde blik na Rina.
“Ek vrees vir die volgende week gaan ek geen besoekers in u kamer toelaat nie, señorita. U gaan die volgende week niks anders doen as net rus nie. Hier sal geen geselsery in u kamer wees nie.”
“Dokter, dan moet u asseblief sonder versuim die marquês De Valcada bel en aansê om nie my ouers van my siekte te laat weet nie,” stel Rina voor.“My ma sal haar glad nie aan u reëls steur nie. Dit sal beter wees dat hulle liewer in Suid-Afrika bly waar hulle is.”
“Goed, ek sal hom nou dadelik gaan bel, señorita,” belowe die dokter.
“Maar onthou, u koors moet vanaand af wees. Ek wil dit nie weer so hoog sien nie.”
’n Glimlaggie sprei om Rina se mooi, sensitiewe mond. “Die marquês De Valcada is genoeg om enige mens se dood te verhaas, dokter,” sê sy. “Ons twee is hopeloos allergies vir mekaar.”
“Ek sal sorg dat u hom die volgende week nie sien nie,” glimlag die dokter met ’n geamuseerde vonkeling in sy donker oë. “U kan dus in vrede herstel. En terloops, ons kan gerus maar die formele aanspreekvorm laat vaar. Adeus, señorita.”
Wat dokter Pereda aan die edelman gesê het, weet Rina nie. Maar tien dae lank het sy geen besoekers ontvang nie. Dit het haar nie juis gepla dat sy so sielalleen in hierdie privaat kamer gelê het nie, want sy was ernstig siek en het meestal in ’n koorsige slaap verkeer sonder belangstelling in die dinge wat om haar aangaan.
Maar vandag, die elfde dag, is sy bewus daarvan dat haar koors heelwat afgeneem het. Sy voel net geweldig swak, byna te swak om te praat. Dit voel asof ’n groot rustigheid oor haar neergedaal het. Die brandpyn in haar bors het verdwyn en sy voel heeltemal ontspanne.
Wat Rina nie weet nie, is dat die jong marquês minstens vier keer per dag gebel het om na haar gesondheid te verneem. Maar van sy diepe kommer en die dinge wat in sy hart omgaan, het Rina niks geweet nie.
Daar is ’n droomverlore uitdrukking in Rina se oë hier waar sy deur die venster na buite lê en staar. So diep ingedagte is sy dat sy nie eens hoor toe haar kamerdeur oopgaan nie. Dis eers toe dokter Pereda en die suster langs haar bed verskyn dat sy van hul teenwoordigheid bewus raak.
“Bom dia, señorita!” groet die twee haar vriendelik. Rina beantwoord hul môregroet met ’n verwese glimlaggie.
“Jy lyk vanmôre baie beter,” gaan die dokter voort. “Die pyn in die bors is weg, nè?”
“Ja, dokter, ek het geen pyn meer nie,” antwoord sy met ’n glimlaggie. “Ek voel net swak. Dis vir my selfs ’n inspanning om te praat.”
“Ek glo jou, señorita,” antwoord die dokter ernstig. “Jy was die afgelope tien dae baie siek.” Hy neem haar koorskaart en lees dit met konsentrasie. “Ek sal van vandag af besoekers toelaat,” sê hy weer onderwyl hy die koorskaart na die suster uithou. “Maar ek sal hulle vroegtydig waarsku dat hier nie veel geselsery in jou kamer moet wees nie. Jy moet nou rustig aansterk, nie met onnodige geselsery vermoei word nie.”
“Dokter,” glimlag Rina verwese,“as jy my so streng aankyk, lyk jy net so streng en ongenaakbaar soos die marquês De Valcada. Jy en hy trek nogal besonder baie na mekaar.”
“Ons is neefs, señorita,” kondig die dokter met ’n glimlaggie aan. “Ons ma’s is susters.”
“So! Is jy ook so konserwatief soos hy, dokter?” kan Rina nie help om met ’n ondeunde lig in haar oë te vra nie, ’n lig wat die dokter se noulettende blik nie ontgaan nie.
“Konserwatief in watter opsig?” vra hy glimlaggend. Rina vertel hom van haar ontmoeting met die edelman langs die rivier en hoe doelbewus sy hom die aand met die dansery geskok en uitgetart het. Daarna wil sy weer weet: “Laat jy darem jou vrou en dogters toe om sonder ’n duenna op straat te gaan, dokter?”
Hy lag hartlik. “Señorita, jy is inderdaad ’n klein terggees. Nee, ek is nie getroud nie,” laat hy goedig hoor. “Maar as ek met so ’n beeldskone vrou soos jy moet trou, sal ek haar baie beslis nie sonder ’n duenna op straat toelaat nie.”
“Dokter, jy is net so onmoontlik soos jou adellike neef,” antwoord Rina. “Maar ek wil hom nog ’n skok of twee laat opdoen voordat ek Lissabon verlaat.”
“Wat gaan jou volgende strategie wees, señorita?” vra hy met ’n geamuseerde glimlaggie.
“Wel, ek het gedink terwyl ek hier in die hospitaal lê, wil ek een van my rokke in ’n eina minirok verander. So ’n gewaagde skepping sal ek natuurlik net dra wanneer ek in die marquês se geselskap verkeer . . .”
Die dokter se hartlike lagbui doof alle woorde uit wat Rina nog wou sê.
“Ek sal my ma vra om vir jou die rok en ook die benodigdhede te bring waarmee jy dit wil korter maak,” bied die dokter met ’n ondeunde trek in sy oë aan. “As vergoeding vir my moeite, kan jy gerus een aand saam met my gaan dans en ook die volgende dag by ons kom kuier, maar nie met ’n minirokkie aan nie.”
“Dokter, ek doen dit met plesier,” glimlag Rina. “Ek hoop nou net die marquês bied aan om my persoonlik na die hotel te neem, die dag wanneer ek uit die hospitaal ontslaan word. Daardie dag moet ek beslis die minirokkie dra. Dit sal kostelik wees om die skok op sy gesig te aanskou.”
“Dit sal ek graag self ook wil sien,” glimlag die dokter. “Ek sal sorg dat ek teenwoordig is. Ek sal dit ook so bewimpel dat hy jou by die hotel besorg, señorita.”
“Dankie, dokter, jy sal my daardeur ’n groot guns bewys,” verseker sy hom.
“Nou goed, nou moet jy rus. Ek vrees ek het my eie bevele verontagsaam deur so lank met jou te staan en gesels. Ek sal die castelo De Valcada nou dadelik in kennis stel dat jy besoekers mag ontvang . . . Adeus, señorita.”
Hierna verlaat die dokter en die suster Rina se kamer.
Na haar geselsie met dokter Pereda voel Rina werklik uitgeput. Sy sluit haar oë en laat haar gedagtes dwaal.
Dit is reeds besoektyd toe sy eindelik ontwaak. Sy maak haar oë traag oop. Die volgende oomblik is sy slegs bewus van die vyf besoekers wat om haar bed sit, die gewone vyf van die castelo De Valcada.
Met ’n slaapbenewelde glimlaggie groet Rina haar besoekers en vervolg verontskuldigend: “Dit spyt my dat ek al weer geslaap het met jul aankoms. Dit lyk of dit nou ’n gewoonte raak en dit is baie ongesellig van my.”
“My liewe kind,” kom dit sag, gerusstellend van die ou marquesa, “moet jou nie in die minste daaroor bekommer nie. Ons is maar te bly dat ons jou nou, ná tien dae, mag besoek. Hoe voel jy vandag, Rina, pequena? Jy is ontsettend bleek.”
“Heelwat beter, dankie, señora. My koors het glo gisternag begin daal. Ek voel net ontsettend swak. Maar dokter Pereda het my vanoggend verseker dat ek gou sal aansterk as ek my net stil gedra en nie baie gesels nie. Ek hoop hy ontslaan my oor drie of vier dae.”
“Dit sal jou niks baat om haastig te wees nie, señorita,” kom dit bedaard van die marquês.“Ek sal Alvaro nie toelaat om jou te ontslaan voordat jy nie volkome aangesterk het nie. Daar gaan geen wilde kanse meer met jou gesondheid gewaag word nie.”
“Maar my motor sal oor drie of vier dae per boot aankom, señor,” hou Rina vol. “Ek moet die voertuig by die doeane gaan . . . ”
“Ek kan dit ook doen,” val hy haar, nog steeds bedaard, in die rede. “Gee my net jou paspoort en die nodige dokumente van jou motor.”
“Dankie, señor,” sê sy met ’n bleek en verwese glimlaggie, “maar ek kan jou nie al daardie moeite aandoen nie. Ek weet ook nie eens presies wat die koste sal beloop nie . . . Nee, ek sal die voertuig liewer self gaan haal.”
“Maar, Rina-kind, Conzalo kan dit mos voorlopig uit sy sak vereffen!” kom dit hulpvaardig van die marquesa. Maar hiervan wil Rina niks weet nie.
“Ek vrees die marquês se trots en hovaardigheid sal hom nooit toelaat dat ek die bedrag aan hom terugbetaal nie, señora. Hy is u seun, u behoort dit te weet.”
“Is dit jou enigste beswaar?” wil Conzalo weet.
“Nee, nie die enigste nie, señor. Ek hou ook nie daarvan om ander mense tot las te wees nie. As dokter Pereda dus weier om my oor drie dae te ontslaan, sal ek die hospitaal op eie risiko moet verlaat. Ek kan net so goed in die hotel ook aansterk.”
“Nee, nie die hotel nie, Rina, dan liewer in die castelo,” stel die ou dame besorg voor.
Rina skud haar kop beslis. “Onmoontlik, señora,” sê sy sag. “Die marquês sal met my saamstem dat sy castelo nie ’n verblyfplek is vir mý soort nie. Daar is talle dinge waaroor ons nie saamstem nie, dinge wat my verblyf in sy castelo vir hom bitter onaangenaam kan maak.”
“Maar jy verjaar mos oor drie dae, Rina!” sê Carla geesdriftig. “Ons kan jou verjaardag in die castelo vier, weet jy?”
“Ek verjaar oormôre, Carla,” glimlag Rina vriendelik. “Dus sal ek hier in die hospitaal verjaar. Twee dae daarna behoort ek sterk genoeg te wees om die hospitaal te verlaat. Ek is seker dokter Pereda sal aan hierdie wens van my voldoen. Ons het die afgelope tien dae nogal goeie vriende geword. Hy sal dus verstaan as ek aan hom verduidelik waarom dit noodsaaklik is dat ek die hospitaal so gou moet verlaat.”
“Hoe goed is jy met my neef, Alvaro, bevriend, señorita?” kom dit onverwags van die jong edelman. Hy kyk haar met ’n deurdringende, waaksame blik aan.
Hy hou natuurlik nie daarvan dat sy geëerde neef met ’n uitlandse meisie bevriend is nie, dink Rina. En dit nogal met haar, van alle meisies. Maar hardop sê sy: “Wel, goed genoeg dat ek hom belowe het om een Saterdagaand saam met hom te gaan dans en ook die volgende dag saam met hom en sy ma in sy villa te verwyl.”
Etlike sekondes lank staar Conzalo met ’n onverbiddelike blik deur die venster na buite. Nou is Rina oortuig daarvan dat sy neef se afspraak met haar glad nie sy goedkeuring wegdra nie. Die edelman se volgende woorde laat Rina weer dadelik opstandig voel.
“Ek sal jou nie aanraai om jou vriendskap met Alvaro ernstig op te neem nie, señorita,” sê hy met pynlike bedaardheid.
“Dis waar,” las die marquesa vriendelik by, “Alvaro is heeltemal te oud vir jou, Rina-kind. Hy sal met sy volgende verjaardag ses-en-dertig wees en dit is gans te oud vir jou.”
“My liewe señora,” sê Rina goedig, “ek koester geen trouplanne met dokter Pereda nie. Ek beskou hom slegs as ’n vriend. Terloops, ek hou besonder baie van sy geselskap. Maar as daar so ’n wonderwerk moet plaasvind dat ek dalk wel op hom verlief raak, sal sy ouderdom aan my geen verskil maak nie.”
“Ek sal jou nie aanraai om op hom verlief te raak nie, señorita,” sê Conzalo weer, nou baie ernstig. “Alvaro is nie vir jou as lewensmaat bedoel nie, ek beoog iemand anders vir hom as bruid.”
“O, jy is verniet bekommerd, señor,” kom dit met ’n opvallende skerp ondertoon in Rina se stem. “Ek koester geen planne hoegenaamd om met ’n lid van jou adellike familie in die huwelik te tree nie. Dokter Pereda sal jou dus nie in die skande steek deur met my te trou nie.”
“Dit is glad nie wat ek bedoel het nie,” begin die marquês, maar Rina val hom met ’n alwetende glimlaggie in die rede.
“Toemaar, señor, ek begryp volkome wat jy bedoel. Ons sal dus nie verder daarop ingaan nie. Ek gee jou egter die versekering dat dit vir dokter Pereda heeltemal veilig is om saam met my te gaan dans. Terloops, daar is baie eerbare en respektabele mans in my eie land met wie ek kan trou indien ek skielik troukoors sou ontwikkel. Hierdie reis van my deur Europa is nie bedoel om ’n lewensmaat te soek nie. Ek beskou hierdie uitgebreide reis bloot as deel van my opvoeding.”
Na hierdie lang gesprek is dit vir die edelman, sy ma en sy tante baie duidelik dat Rina haarself ooreis het. Sy voel lighoofdig en moet haar oë teen wil en dank ’n paar oomblikke sluit, gevolglik merk sy nie die betekenisvolle blik waarmee die marquês sy ma aankyk nie.
Na ’n rukkie gaan Rina se oë stadig oop. “Ek is jammer dat ek so ongesellig is,” maak sy met ’n sagte, moeë stem verskoning.
“Jy is nie ongesellig nie, Rina-kind,” stel die marquesa haar gerus.“Dit is ons skuld dat jy jou so vermoei het. Ons sal jou dus nie vanaand besoek nie, pequena. Ek hoop van harte dat jy môre sterker sal voel.”
Sesuur die middag maak die vriendelike dokter Pereda weer sy verskyning langs haar bed. “Ek kom net kyk of jy darem my neef se besoek oorleef het, señorita,” groet die dokter haar met ’n breë glimlag.
“Ek was vanoggend, na sy besoek, byna die skeidslyn oor, dokter,” terg Rina saam. “Die man besit ’n wonderlike gawe om my bloeddruk ten hemele op te jaag.” Sy vertel hom van haar gesprek met sy neef en sluit glimlaggend af: “Onthou nou, ek is gewaarsku om nie op jou verlief te raak nie, dokter.”
“Ons sal dit in gedagte hou,” spot hy saam.“In elk geval, ek bring my ma vanaand saam sodat jy met haar kan kennis maak, señorita.”
“Ek sal haar baie graag wil ontmoet, dokter.”
Dokter Pereda gesels nog ’n rukkie met Rina, toe sê hy dat dit tyd is vir hom om te gaan, aangesien hy nog ander pasiënte ook moet besoek.