Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 4 - Susanna M Lingua - Страница 5
2
ОглавлениеOnderweg na Lissabon vertel Rina die drie Amerikaners van haar ondervinding met die marquês, sy neef en niggie.
Dit is reeds lank na middagete toe hulle eindelik by die hotel aankom, maar Rina voel glad nie honger nie. Die drie meisies vertrek ’n uur later om hul hare vir die dansery die aand te laat versorg.
Pas voor sononder daag hulle eindelik weer by die hotel op. Rina het ’n ligte hoofpyn, maar daaraan steur sy haar nie veel nie. Dis seker maar te wyte aan die haardroër in die salon, besluit sy. Sy neem in elk geval ’n hoofpynpil voordat hulle na die saal vertrek. Dalk word dit later erger.
Rina haal ’n deftige, silwer lamé-aandrok met ’n lae ruglyn uit die kas, maar besluit dat sy dit liewer nie vanaand sal dra nie. Dalk het sy ’n verkoue onder lede. Sy sal eerder ’n rok met ’n hoë hals kies, sodat haar verkoue nou nie onnodig gaan staan en vererger nie.
Sy krap tussen haar aandrokke rond en vind eindelik een wat geskik sal wees om vanaand te dra. Dis ’n lang swart aandrok waarvan die romp uit vyf lae sluiersy bestaan, besaai met swart blinkers wat met die geringste beweging soos liggies skitter. Die lyfie is nousluitend met ’n paar blinkertjies om die hals.
Voordat Rina eetsaal toe gaan, neem sy maar eers weer ’n hoofpynpil, aangesien haar hoofpyn nou toeneem. Aan tafel het sy nie juis ’n eetlus nie, maar wurg nogtans so ’n bietjie van alles af, aangesien sy nie middagete genuttig het nie. Vanaand is al vyf haastig. Hulle moet hulle nog gaan verklee vir die dansparty, gevolglik word daar nie onnodig aan tafel getalm nie.
Dis byna nege-uur toe Rina en die Summers-gesin voor die stadsaal uit die twee taxi’s klim. Net die punte van Rina se fyn goudkleurige skoene is sigbaar toe hulle die ruim saal binnetree. Haar hoofpyn het nou gewyk en sy voel weer in haar element.
Daar is egter so ’n gedrang in die saal dat Rina nie eens die marquês, Carla en Marco raaksien wat daar eenkant in die geselskap van twee ouerige vroue by ’n tafeltjie sit nie. Maar Conzalo, sy neef en niggie was op die uitkyk vir haar, dus het hulle dadelik gesien toe sy in die geselskap van die Summers-gesin die saal binnetree. Die edelman is werklik verras om Rina vanaand so stemmig geklee te sien. Hy het verwag dat sy ’n uiters gewaagde tabberd sou aanhê.
Daar is ’n ondeunde lig in die ou marquesa en haar suster se oë, daar waar hulle half in die middel van die kolossale vertrek op ’n kelner wag om hulle na hul tafel te neem. Carla het haar ma en tante die middag omslagtig van hul ontmoeting met die beeldskone Rina vertel en hoe sy Conzalo ’n paar keer, sonder om te skroom, vermaan en weerspreek het. Daarna kon dit nie hoër of laer nie, hulle wou hierdie buitengewone dametjie self ontmoet. Nog nooit het iemand dit gewaag om Conzalo te weerspreek nie . . . Ja-nee, dié Rina Verhoef moet beslis ’n buitengewone mensie wees om Conzalo op sy plek te wil sit, het die twee vroue geredeneer.
Noudat hulle Rina met hul eie oë aanskou, kan hulle byna nie glo dat so ’n fyn en klein mensie oor soveel durf beskik nie. Maar albei is dit eens met Carla: Rina is inderdaad die mooiste meisie wat hulle nog ooit gesien het. Haar fyn, hartvormige gesiggie, fynbesnede neus, sagte mond en fyn geboogde ligbruin wenkbroue herinner hulle sterk aan ’n pragtige Dresdenpoppie. Sy is fyn en klein, tog in alle opsigte volmaak. Selfs haar blonde hare blink soos ou goud.
“Wel, ek moet sê jy het glad nie oordryf toe jy die jong Rina Verhoef aan ons beskryf het nie, Carla,” glimlag die ou marquesa, Conzalo se ma. “Ek sal eerder sê dat jy die helfte van haar skoonheid nie aan ons beskryf het nie. Wat sê jy, Ada?”
“Ek stem volkome met jou saam, Astrid,” beaam die marquesa se suster, die señora Ada de Mora. “Ook ek het nog nooit so ’n beeld van ’n meisie gesien nie.”
Onderwyl die adellike De Valcadas en De Moras die Suid-Afrikaanse skoonheid sit en bespreek, het ’n kelner eindelik sy verskyning gemaak en Rina-hulle geneem na die tafel wat vir hulle bespreek is. Meneer Summers bestel ook sommer dadelik vir elkeen ’n drankie, maar Rina verkies ’n vrugtedrankie. Sy is nie lief vir sterk drank nie.
“Jy is vanaand die mooiste meisie in die hele saal, Rina,” sê Basil, “dus bespreek ek die eerste dans met jou. Ek weet al by voorbaat dat die kêrels ná die eerste dans soos ’n motreën op jou gaan toesak.”
Rina laat Basil toe om haar na die dansbaan te lei, onbewus van die talle oë wat haar van alkante met bewondering beskou.
Dis ’n stadige wals wat die orkes speel. In ’n ommesientjie wemel die baan van dansers. Ook Carla en Marco is tussen die dansende pare.
Die jong marquês dans egter nie. Maar daar waar hy by sy ma en tante sit, ’n indrukwekkende figuur in sy foutlose aandpak, volg sy donker, deurdringende blik elke grasieuse beweging van Rina. Vanaand lyk sy vir hom net soos ’n glinsterende ster in daardie swart aandrok wat vol liggies skyn te wees. Hy merk die hoë hakke van haar netjiese skoene en dan is dit meteens asof die harde lyne om sy mond ietwat versag. Ja, dit lyk byna soos ’n glimlaggie wat aan die hoeke van sy mooi, karaktervolle mond raak. Sy blik dwaal na haar glansende hare, na die stylvolle kapsel. Dis vir hom duidelik dat sy een van die mees modieuse vroue in die saal is. ’n Mens sal nooit sê dis dieselfde klein rabbedoe wat hy vanoggend uit die rivier gehelp het nie. So op die oog af lyk sy die verfyndheid self.
Die musiek loop meteens ten einde. Op dieselfde oomblik kom Conzalo orent en loop Rina en Basil halfpad na hul tafel tegemoet.
Hy groet hulle bedaard, draai na Rina en sê met ’n onpersoonlike stem: “Veroorloof my om jou aan my ma en my tante voor te stel, señorita.”
Rina kyk die man met ’n onpeilbare blik aan. Die volgende oomblik dans haar oë weer van loutere ondeundheid. “Met plesier, señor marquês,” antwoord sy beleef.
Hy neem haar arm en lei haar versigtig na sy tafel.
“Is Carla en Marco ook hier?” vra Rina belangstellend. “Hulle is albei hier, señorita, en sal stellig baie bly wees om jou weer te sien. Carla het my ma en my tante van ons onverwagte kennismaking met jou vertel, gevolglik is die twee baie gretig om ook met jou kennis te maak.”
Hier waar Rina en Conzalo oor die breedte van die saal beweeg, besef hulle nie eens hoe ’n seldsaam aantreklike paartjie hulle uitmaak nie. Hulle merk nie die talle blikke op wat hulle met openlike goedkeuring volg nie.
Ook in die ou marquesa se donker oë is daar nou ’n nuwe lig, ’n vreemd geheimsinnige lig, terwyl haar blik op Rina en haar lieflingseun rus. Daar is drome in haar oë, silwer drome oor haar seun se toekoms, drome waarvan slegs sy weet.
Eers toe Rina en Conzalo hul tafel bereik, merk die ou marquesa hoe pragtig Rina se oë werklik is. Maar dan onderbreek Conzalo se stem haar gedagtes.
“Laat my toe om die jong señorita Rina Verhoef aan julle voor te stel . . . My ma, die marquesa De Valcada, en my tante, señora De Mora.”
Rina groet Carla en Marco wat nou ook van die dansbaan af teruggekeer het.
“Doen ons asseblief die eer aan en sit ’n rukkie hier by ons, señorita . . . of sal ek jou ook maar ‘Rina’ noem, soos Carla en Marco?” versoek die ou marquesa met ’n vriendelike stem.
“U kan dit met plesier doen, señora marquesa,” antwoord Rina met ’n vriendelike glimlaggie.
“Señorita, veroorloof my om hierdie dans met jou te dans,” val die jong marquês weg voordat sy verder kan praat.
Rina kom grasieus orent en kyk die jong man met openlike spot aan. “O, ek verstaan nou mooi,” sê sy, “noudat ek ’n rok aanhet, gee jy nie om om saam met my gesien te word nie, señor. Maar ek sal hierdie dans met jou dans. Dis dalk net mooi die laaste keer dat jy my in ’n rok sal sien.” Die vier om die tafel begin hartlik lag, maar die trotse marquês vind geen humor in die situasie nie. Hy weet dat sy hom nou doelbewus uittart oor vanoggend se dinge. Hy neem daar en dan ’n besluit om haar nog mak te maak.
Conzalo kan homself glad nie verstaan nie. Rina is die soort meisie na wie hy nie twee keer sou gekyk het nie. Haar uitgesprokenheid, eiesinnigheid en uittarting, tesame met haar gewaagde kleredrag, is alles dinge wat hom dwars in die krop steek. Tog kan hy sy oë nie van haar afhou nie, nie eens wanneer sy in ’n kortbroek of ’n bikini geklee is nie. Dis kompleet asof sy ’n towerspel op hom geplaas het.
In stilte lei hy haar na die dansbaan. Die orkes speel ’n dromerige tango toe hy haar in sy arms neem. Grasieus beweeg hulle oor die baan op die meesleurende maat van die musiek. Die sagte aroma van haar hare styg behaaglik in sy neus op. Onbewus daarvan, hou hy haar effens stywer teen hom vas. Sy voel lieflik en sag in sy arms en op hierdie oomblik onweerstaanbaar begeerlik.
“Mag ek die volgende twee danse ook bespreek, señorita?” hoor Rina hom vra toe die dans haas ten einde loop.
Sy lig haar gesig op en kyk met tergende ondeundheid in sy streng, onpeilbare swart oë. Dis waar, die man is gevaarlik aantreklik met daardie effens hoë voorkop, ietwat skraal gesig, hoë wangbene, aristokratiese neus, karaktervolle mond en effens vierkantige ken, dink sy. Maar sy sê net hardop: “As dit nie vir jou te vernederend is om met my op die dansbaan gesien te word nie, mag jy, señor marquês. Terloops, jy dans baie goed. Ek hou daarvan om met mans te dans wat geskool is in die kuns.”
“Dankie,” sê hy onderwyl sy blik hare gevange hou. “Wanneer jy respektabel geklee is soos vanaand, is dit vir my ’n eer en ’n plesier om saam met jou gesien te word, señorita.Veroorloof my om te sê dat jy vanaand besonder aanvallig lyk.”
“Indien jy dit as ’n kompliment bedoel, señor,” verklaar sy met merkbare pret in haar stem, “sê ek dankie. Maar ek herhaal: mense sien my nie dikwels in ’n rok nie,” jok sy sonder om te blik of te bloos.“En soos ek reeds gesê het, as mense my nie wil sien soos ek is nie, staan dit hulle heeltemal vry om my te ignoreer. Ek hou ook nie daarvan dat mense vir my preek nie.”
“In daardie geval sal ek beslis nog baie vir jou preek,” kom dit onverwags van die marquês.
“O, maar ek is heeltemal opgewasse teen jou preke, señor, al hou ek nie van ’n prekery nie,” glimlag sy.“Moet my net nie êrens insmokkel en my probeer versteek nie . . .”
Die dans loop ten einde voordat Rina haar sin heeltemal kan voltooi. Maar die marquês is geensins van plan om dit daar te laat nie.
“Solank jy behoorlik geklee is, sal ek jou nooit vir ander se oë probeer wegsteek nie, señorita,” sê hy onderwyl hulle in die rigting van sy tafel beweeg.
“O, Herman, dis nou die professor, gee glad nie om dat ek in ’n einaklein bikini swem nie,” glimlag sy meewarig, maar haar oë is vol tergduiweltjies. “Hy is so ’n ou droë stoppel, weet jy, dat hy dit nie eens sal agterkom nie, al swem ek ook kaal voor hom.”
“Is jy verloof aan die droë . . . e . . . professor?” Amper verspreek die marquês hom.
Rina kan sweer hy bloos effens. Sy bedwing haar lag, maar haar oë lag hom openlik uit. “Nee, ons is nog nie verloof nie, señor,” antwoord sy en vervolg ondeund: “Hy verveel my nog te dikwels.Verbeel jou, in plaas van om my te vertel hoe lief hy my het, vertel hy my van die droë onderwerpe wat hy bedags met sy studente bespreek.”
“En jy hou nie daarvan nie; jy wil hoor hoe lief hy jou het?” As Rina haar nie vergis nie, is daar sowaar ’n glimlaggie om die man se altyd streng mond. Nou ja, dit was in elk geval haar bedoeling om te sien of hy darem kan glimlag.
“Maar is dit nie wat elke meisie van die man wil hoor wat sy as lewensmaat oorweeg nie?”
“Dan is jy regtig van plan om met die professor in die huwelik te tree, señorita?” vra die edelman, nou weer met ’n onpersoonlike stem.
Rina trek haar skouers liggies op en maak asof sy nie eens bewus is van sy onpersoonlike houding nie.“O, ek sal stellig met hom trou, die dag wanneer hy my nie meer verveel nie, señor,” sê sy sedig. “Herman kan nogal baie gaaf wees wanneer hy nie die dag se vervelige lesings bespreek nie. Maar ek sal hom nog daardie slegte gewoonte afleer. Ek was nog altyd te besig met my studie om hom werklik reg te pluk.”
Sy kyk hom aan en haar oë sê duidelik: Nou toe, wat het jy nou weer daarop te sê? Maar die marquês sê niks nie en weldra sluit hulle hulle weer by sy familie aan.
“Rina,” roep Carla opgewonde uit, nadat eersgenoemde en Conzalo plaasgeneem het, “tia Astrid het belowe dat ons drie jou oormôre by die hotel mag besoek.”
“Julle is baie welkom, Carla,” glimlag Rina vriendelik. Haar blik skuif na die marquês en sy merk die ligte frons op sy voorkop. Dadelik is die tergduiweltjies weer terug in haar oë. “Moet asseblief nie bekommerd wees nie, señor,” paai sy terglustig. “Carla sal twee duennas by haar hê, nie net een nie.”
“Sal jy ’n drankie neem, señorita?” vra die marquês.
Rina maak eers seker dat die bak rose naby haar staan. Sy merk die ou marquesa se blik wat geamuseer op haar rus. Ongemerk knik sy vir die ou dame.
“Dankie, ek sal ’n glasie grappa neem, señor,” antwoord sy ewe ongeërg, asof dit vir haar wat nooit sterk drank gebruik nie, ’n alledaagse ding is om grappa te drink. Sy merk die skok in die edelman se oë en sien hoe hy skielik verstyf. Heimlik verheug sy haar daarin dat sy hierdie trotse, konserwatiewe man weer eens uit sy waardigheid geskok het.
Ellendige man, hy dink mos almal wat nie hul adellike gebruike en gewoontes volg nie, kan ooit respektabel wees nie, dink Rina. Nou goed, laat hom van haar dink wat hy wil. Maar wanneer die geleentheid hom voordoen, gaan hy telkens ’n skok of twee opdoen.
Rina dans weer ’n dansie met die edelman. Toe hulle na die tafel terugkeer, wag die glasie grappa reeds op haar.
Sy gaan sit, neem die glasie drank ewe onskuldig op en bring dit na haar lippe. Sy hou haar asem op en laat die vloeistof slegs aan haar lippe raak. Die volgende oomblik trek sy die bak met rose ewe onskuldig nader en ruik behaaglik aan die halfoop knoppe. Terselfdertyd ledig sy die helfte van die drank in die blombak, terwyl die twee ou dames hierdie optrede van haar geamuseer dophou.
Hierdie proses herhaal sy nog twee keer, toe is die glasie eindelik leeg. Daarna dans sy weer met Conzalo.
Terug by sy tafel, is Rina weer eens bewus van die ellendige hoofpyn wat haar vroeër by die hotel geteister het. Gelukkig het sy daaraan gedink om twee hoofpynpille in haar aandsakkie te plaas. Maar haar aandsakkie is by die Summers se tafel, dus sal sy nou moet aanstaltes maak om na hulle terug te keer.
“Julle sal my nou ongelukkig moet verskoon, sodat ek kan teruggaan na die geselskap saam met wie ek na die dansparty gekom het,” sê Rina beleef.
Maar hiervan wil die marquesa niks weet nie. “Ons het dan nog nie eens gesels nie!” maak die ou dame dadelik beswaar. “Jy het nog die hele tyd net met Conzalo gedans. Nee, jy gaan ons nie so afskeep nie, Rina . . . Conzalo, gaan maak asseblief vir Rina verskoning by haar vriende. Ek wil nog ’n rukkie met haar gesels.”
“As jy nie omgee nie, señor,” kom dit beleef van Rina, “sal ek dit waardeer as jy sommer my aandsakkie ook saambring.”
“Rina,” vra die marquesa terwyl Conzalo onderweg is na die Amerikaners se tafel, “waarom het jy jou glasie drank in die blombak leeggemaak?”
“Ek drink nooit sterk drank nie, señora, nie eens tafelwyn nie,” antwoord Rina bedaard. “Ek bepaal my net by koffie, tee en vrugtedrankies.”
“Nou waarom het jy dan so ’n verskriklike sterk drankie bestel?” wil Marco verbaas weet.
“Om jou neef, die marquês, te treiter,” glimlag Rina skalks. “Het jy nie gesien hoe dit hom tot in sy adellike tone geskok het nie?”
“Is dit nodig om hom só te skok, kind?” vra die marquesa met ’n vonkeling in haar wyse oë.
“Ek vrees dit verskaf my groot plesier, señora,” kom dit van Rina. “Die marquês koester ’n pynlik verdraaide mening oor my. Hy meen dat ek glad nie respektabel of ordentlik is nie. Nou doen ek opsetlik dinge wat ek meen hom terdeë sal skok. Dit verbaas my werklik dat hy nie ’n woord oor die glasie drank gesê het nie. Maar hy meen blykbaar dat ek nou al so laag gesink het dat daar geen hoop meer is om ooit ’n mens van my te maak nie.”
Rina begin saggies lag. Sy kyk die marquesa ondeund aan en vervolg sag: “Ek dink die marquês slaan morsdood neer as hy moet weet in hoe ’n ordentlike huis ek opgevoed is, maar dis net tussen ons gesê. Terloops, ek dra nooit kortbroek in die openbaar nie, señora, nog minder swem ek in openbare plekke met ’n bikini. Ek dra nie eens minirokke nie. Maar noudat die marquês my reeds geklassifiseer het, sal ek daardie reputasie in sy teenwoordigheid moet handhaaf, anders gaan ék die een wees wat die nederlaag ly, en dit weier ek beslis . . . Maar hier kom hy nou. Laat ons liewer oor ’n ander onderwerp gesels.” Sy kyk Carla en Marco beurtelings aan. “Ek het toe inderdaad vanoggend ’n yslike verkoue opgedoen, met my nat baaiklere in die koel windjie . . . Dankie, señor,” sê sy en neem haar aandsakkie by hom.
“Dit is deur jou eie onverantwoordelikheid dat jy ’n verkoue opgedoen het, señorita,” meen die marquês en kyk haar streng aan.
“Ek weet, señor,” sê sy onderwyl sy twee hoofpynpille uit haar aandsakkie neem en dit voor haar op die tafel plaas. “Ek het jou mos gesê dat ek veel eerder verkies om ’n verkoue op te doen as om saam met jou na jou castelo te gaan . . . Marco, sal jy asseblief vir my ’n glas water bestel om hierdie pille mee te drink?”
“Voel jy nie wel nie, señorita?”
Rina kan sweer daar was ’n tikkie besorgdheid in sy stem. “Dis maar net ’n hoofpyn, señor,” antwoord sy ongeerg. “Ek het vroeër vanaand, voor ete, ook ’n hoofpyn gehad, maar hierdie pille het gou ’n einde daaraan gemaak.” Sy kyk die edelman reguit aan. “Ek het darem nog nooit van iemand gehoor wat aan ’n verkoue beswyk het nie, señor, het jy?”
“As daar komplikasies intree, is so iets wel moontlik,” meen die marquês. “Dit is inderdaad onverantwoordelik van jou om vanaand in die koel aandlug uit te wees met ’n verkoue. In elk geval, as jou hoofpyn nie bedaar nie, sal ek jou onverwyld terugneem na die hotel waar jy tuis is.”
“Conzalo,” begin die marquesa, “as Rina nie gesond voel nie, moet ons haar liewer na die castelo neem. ’n Hotel is glad nie ’n gerieflike plek as ’n mens ongesteld voel nie.”
“Nee, asseblief nie, señora,” keer Rina dadelik.“Moet asseblief nie moeite doen nie. Ek sal heeltemal gerieflik wees in die hotel. Terloops, ek het die Amerikaners belowe dat ek hulle môre op ’n uitstappie na Belém en Queluz sal vergesel. Dit is hul laaste dag hier in Lissabon. Hulle vertrek oormôre baie vroeg na Amerika.”
“Onmoontlik, señorita,” val die marquês haar met ’n onverbiddelike stem in die rede. “Jy kan beslis nie so ’n uitstappie onderneem terwyl jy ’n verkoue het nie. Ek sal jou eerder aanraai om môre in die bed te bly.”
“Señor marquês,” kom dit ongeërg van Rina, “ek mag nou wel nie respektabel of ordentlik wees nie, maar my ouers het my darem geleer om nooit my woord te breek nie, tensy dit ’n saak van lewe en dood is.”
“So ’n verkoue kan ’n ernstige siekte tot gevolg hê, señorita,” voeg die marquês haar streng toe. “Jou vriende sal verstaan dat jy hulle in sulke omstandighede nie kan vergesel nie. Jy moes dit glad nie eens vanaand buite gewaag het nie.”
“My soort gaan nie maklik dood nie, señor,” antwoord Rina. ’n Sweem van ’n glimlaggie raak aan haar mond. “Die glas grappa wat ek flussies gedrink het, behoort my ook gou reg te ruk.”
Rina kyk die man uitdagend aan en haar oë sê duidelik: Toe, wanneer gaan jy jou preek oor die glasie grappa afsteek?
Die marquês stel haar egter nie teleur nie, want sy volgende woorde is openlik afkeurend. “Waar het jy geleer om sulke sterk drank te drink, señorita?”
“O, by disko’s en so aan,” jok sy in sy gesig sonder om te blik of te bloos. Slegs haar oë is vol lagduiweltjies. “As ’n mens die lewe ten volle wil geniet, moet jy aan al sulke dinge gewoond word, señor,” las sy nog as nagereg by.
“Ek vrees dit is ’n baie slegte gewoonte, señorita,” kom dit weer onverbiddelik van die edelman. “Ek hoop nie jy bestel ooit weer grappa in my geselskap nie. ’n Ligte drankie sal in elk geval baie gesonder wees vir jou gestel. Maar ek sal in die vervolg self vir jou bestel.”
“Ek weet nie so mooi of daar wel ’n volgende keer sal wees nie, señor,” sê Rina so sedig soos ’n engel.“Jy vergeet blykbaar dat ek slegs drie weke hier in Lissabon sal vertoef.”
“A, dan sal jy darem nog hier wees om die olyffees op Conzalo se quinta by te woon,” begin die marquesa.
Maar Conzalo val haar onverstoord in die rede: “Ek is seker die señorita sal nie in die olyffees belangstel nie.”
Die man is lugtig vir my, dink Rina geamuseer. Hy verwelkom my glad nie by sy quinta nie. Dink natuurlik dat ek hom en sy familie in die verleentheid sal bring met my . . . e . . . ongehoorde gedrag. In elk geval, hy kan gaan doppies blaas as hy my nie daar wil hê nie. Maar hardop vra sy: “Wanneer vind die olyffees plaas, señora marquesa?”
“Die Woensdag voor Paasnaweek.”
“Ek sal dan nie meer hier in Lissabon wees nie,” stel Rina die ou dame vriendelik in kennis. “Ek verwag dat my motor oor twee weke per boot sal aankom, daarna gaan ek ’n paar dae na Sintra en Estoril. Ek sal stellig van Estoril af sommer met die kuspad langs na Oporto reis.”
Die kelner bring vir Rina ’n glas water, waarmee sy die twee pille sluk. Na ’n rukkie vra Marco haar om te dans. Hulle gesels opgewek terwyl hulle dans.
Onderwyl Rina en Marco dans, kyk die marquesa haar seun met ’n sagte blik aan en verklaar met ’n glimlaggie: “Jy was baie haastig om die liewe Rina af te raai om ons olyffees by te woon, Conzalo. Ek dink sy het geraai dat jy glad nie gretig is om haar op jou quinta te ontvang nie.”
“Ek weet sy het,” antwoord die marquês ernstig. “Sy het vanoggend geen planne gehad om ’n paar dae in Sintra en Estoril te verwyl nie. Maar ek is bly dat sy ’n goeie begryper is. Ek gaan baie beslis nie toelaat dat die Suid-Afrikanertjie ons almal in die verleentheid bring met haar ongehoorde kleredrag en grappa-drinkery nie.”
Die marquesa begin hartlik lag. “Conzalo,” sê sy, “daardie dametjie het jou baie netjies om die bos gelei, my seun. Sy het haar mes terdeë vir jou in omdat jy haar van die staanspoor af so verkeerd beoordeel het. Terwyl jy haar aandsakkie gaan haal het, het sy ons vertroulik vertel dat sy nooit sterk drank gebruik nie, nie eens tafelwyn nie.”
Conzalo kan haar net ongelowig aanstaar.
“Sy het ook gesê sy dink jy slaan morsdood neer as jy moet weet in hoe ’n ordentlike huis sy opgevoed is,” las tia Ada met ’n glimlag by. “Nou moet sy glo daardie reputasie in jou teenwoordigheid handhaaf, anders gaan sy die een wees wat die nederlaag ly, en dít weier sy beslis.”
Voordat Conzalo iets hierop kan sê, keer Rina en Marco na die tafel terug. Daar is ’n onpeilbare lig in die jong marquês se swart oë. “Sal jy nog ’n glasie grappa drink, señorita?”
“Ek . . . e . . . glo nie dit sal raadsaam wees om nou sterk drank te drink na die twee hoofpynpille wat ek pas geneem het nie, señor,” antwoord Rina bedaard.
“Maar jy het nog net een drankie geniet, señorita,” hou die ellendige man knaend vol. “Ons gaan nou almal ’n drankie geniet en ’n glasie heerlike soet marsala sal jou beslis nie kwaad doen nie.”
“Nee, liewer nie ’n alkoholiese drankie nie, dankie, señor. Ter wille van die pille sal ek dan maar liewer ’n vrugtedrankie geniet.”
“ ’n Glasie marsala sal die pille juis aanhelp om hul werk te doen,” hou die marquês vol asof hy alles van hierdie dinge af weet. Rina wil hom net vertel dat sy haarself en haar eie gestel beter ken as wat hy haar ken, maar die edelman is reeds besig om vir hulle elk ’n glasie marsala by die kelner te bestel.
Daar is ’n sweem van ’n glimlaggie om haar sagte mond toe haar blik dié van die marquesa vang. Haar blik skuif stadig na die bak rose wat nog steeds hier naby haar staan. Sy voel byna jammer vir die pragtige knoppe wat vanaand so met drank gedokter moet word; eers grappa, en nou sal dit marsala wees.
Maar Rina merk nie op dat Conzalo haar ongemerk dophou nie, selfs sien hoe ingedagte sy die bak rose bekyk. “Is die rose in Suid-Afrika net so mooi soos hier in Lissabon, señorita?” vra die marquês met vreemde belangstelling en trek die bak blomme ongeërg tot byna reg voor hom.
O, duiwels en dinge, knoop Rina in haar enigheid. Nou moet die ellendige man nog die bak rose ook voor my staan en verwyder. Hoe op aarde gaan ek nou van die marsala ontslae raak?
“Jy het nog nie my vraag beantwoord nie, señorita,” herinner die man haar met sy oë ernstig, deurdringend op haar gerig.
“Ek was nog besig om te besluit, señor,” antwoord sy met ’n suur glimlaggie. Die volgende oomblik trek sy die rose effens nader en beskou die roosknoppe met konsentrasie. Gemaak ongeërg trek sy die blomme nou tot reg voor haar. “Ek dink hulle is ewe mooi, señor,” antwoord sy, nou weer met ’n tergende lig in haar oë omdat sy hom so pragtig uitoorlê het.
Maar wat Rina nie weet nie, is dat die marquesa hom alles vertel het van haar doelbewuste uittarting en dat die man nou gewapen is teen haar taktiek.
“Ek hou besonder baie van die geur van rose,” kondig die marquês bedaard aan. Die volgende oomblik trek hy die bak weer nader en ruik behaaglik aan die roosknoppe. Hy kyk Rina stip aan. “ ’n Heerlike, sagte geur. Stem jy nie saam nie, señorita?”
Hy jok, die ellendige leuenaar, dink sy vies. Hy ruik die aaklige geur van grappa, glad nie die geur van rose nie. Maar hardop sê sy: “Jy het reg, señor. Rose het inderdaad ’n heerlike, sagte geur . . .”
Die kelner maak sy verskyning, maar Rina merk nie die geamuseerde vonkeling in die jong marquês se oë toe die kelner die glasie marsala ewe beleef voor haar plaas nie. Haar verstand werk nou in die hoogste versnelling. Sy sal óf hierdie glasie wyn moet drink en moontlik aangeklam raak en dalk nog ’n spektakel van haarself maak, óf sy sal ’n uitweg moet vind om ongesiens daarvan ontslae te raak.
Rina is ’n intelligente meisie. Sy laat haar nie so goedsmoeds deur ’n edelman droogsit nie. As hy dan nou skielik so behep is met die ellendige bak rose, laat hom dan wees.
Dit sal in elk geval nie die eerste keer in haar lewe wees dat sy ongesiens van ’n glasie drank ontslae raak nie. Sy het dit al dikwels gedoen, op partytjies waar mense aanstoot neem indien jy ’n drankie van die hand wys.
Sy wag ook net totdat die geselskap mooi op stryk is, toe stamp sy die glasie ongemerk met haar hand om, sodat die bruin vloeistof oor haar skoot stroom, haar duur rok ten spyt. Nou, weet sy, móét iemand haar na die hotel neem. Sy kyk die marquês met die onskuldige gesiggie van ’n engel aan, ofskoon haar oë hom stil uitlag.
“Ek is vreeslik jammer dat ek so ’n gemors hier op die tafel gemaak het, señor,” maak sy verskoning. “Maar gelukkig het die meeste van die drank op my skoot beland en nie op die tafeldoek nie.”
Rina en Conzalo kom byna gelyktydig orent. Rina knik ongemerk vir sy ma. Dié kan ’n glimlaggie nie bedwing toe sy die lagduiweltjies in Rina se oë gewaar nie. Sy, net soos die ander drie, weet dat Rina die glasie opsetlik omgestamp het. Sy is seker dat Conzalo dit ook weet, al lyk hy so koel en bedaard.
Met ’n kantsakdoekie probeer Rina die ergste drank van haar rok verwyder. Die volgende oomblik bied Conzalo haar sy haelwit sysakdoek aan.
“Jou rok is seker nou geruïneer,” meen die edelman.
“Nee, wat,” antwoord Rina ongeërg, “nadat die droogskoonmaker dit onder hande geneem het, sal daar nie ’n enkele merk aan wees nie. Maar ek vrees ek sal nou na die hotel moet teruggaan. Ek het heeltemal genoeg van nat klere gehad vir een dag. As dit nie te veel moeite is nie, sal ek bly wees as jy vir my ’n taxi kan ontbied.”
“Ek sal jou persoonlik tuis besorg, señorita.”
“Dit is regtig nie nodig om soveel moeite te doen nie,” antwoord sy dadelik. “’n Taxi kan my ewe goed tuis besorg; waarom jou pret bederf deur die geselligheid tydelik te verlaat? Ek is seker hier is baie vroue wat graag met jou sal wil dans.”
“Ek het gesê ek sal jou persoonlik tuis besorg, señorita,” herhaal die man met vreemde verdraagsaamheid onderwyl hy haar manteltjie oor haar skouers hang. “As jy gereed is, kan ons maar gaan.”
Hierop antwoord sy nie. Met haar gewone vriendelike, innemende glimlaggie, wens sy die agterblywendes ’n rustige nag toe. Daarna neem Conzalo haar arm en lei haar na waar sy lang swart motor voor die gebou in die straat staan. In die ligte van die straat merk Rina die wapens van die De Valcadas op die voorste deure van die voertuig in silwer gemonteer. Maar sy laat haar nie daardeur beïndruk nie.
Die edelman maak die motordeur oop en help haar bedagsaam om in te klim. Hy verwyder selfs die wye romp van haar rok eiehandig uit die deur se pad voordat hy dit toemaak; inderdaad die adellike heer.
Hm, dink Rina effens verontwaardig, hy maak nou kamma of ek die koningin van Skeba is, maar hy vergeet al die nare insinuasies wat hy vanoggend by die rivier teenoor my kwytgeraak het. Selfs vanaand in die saal het hy baie duidelik laat blyk dat hy my nie tydens hul olyffees op sy quinta verwelkom nie. Maar hy moet tog nie dink dat ek my daaroor gaan verknies nie. Ek is glad nie gretig om met hulle bevriend te wees nie, in elk geval nie met hom nie. Omdat hy soos ’n Griekse god lyk, dink hy hy ís een.
Hulle lê die rit na die hotel in stilte af. Toe hulle voor die hotel stilhou, wag Rina dat hy nou weer vir haar die motordeur moet oopmaak. Maar die man maak geen beweging om uit te klim nie. Sy steek haar hand uit om die deur self oop te maak, maar Conzalo keer haar terstond.
“Net ’n oomblik, asseblief, señorita,” sê hy bedaard onderwyl hy stil voor hom uitstaar. “Ek wil jou graag ’n oomblik spreek voordat jy gaan.”
“Ek glo nie daar is iets wat ons aan mekaar te sê het nie, señor.”
“O ja, daar is,” antwoord hy. Hy draai na haar, kyk haar ’n oomblik deurdringend aan en vervolg: “Dit was nie nodig dat jy die wyn op jou rok moes omkeer om daarvan ontslae te raak nie, jy kon dit ook maar in die blombak leeggemaak het. Ek hoop jou nat rok gaan nie jou verkoue vererger nie.”
“Ek het nie die vaagste benul waarvan jy praat nie, señor,” val Rina hom vererg in die rede. Ellendige man, hy skyn ook alwetend te wees! Want sover sy weet, is slegs die marquesa daarvan bewus dat sy die glasie opsetlik omgestamp het.
“O ja, jy weet goed waarvan ek praat, señorita,” troef hy haar. “Grappa kan ’n mens ver ruik en ek verseker jou dat daar niks met my reuksintuig skort nie. In elk geval, ek hoop hierdie tweede eskapade van jou gaan nie maak dat jou verkoue ’n ernstige wending neem nie.”
“Ek verseker jou dat ek môre gesond genoeg sal wees om die Amerikaners op hul uitstappie te vergesel,” antwoord Rina met ’n kil stem onderwyl sy die motordeur oopstoot. “Goeienag, señor. Dankie vir die gesellige aand en vir al jou moeite.”
Sy klim uit die motor en stap die hotel binne sonder ’n enkele terugblik; onbewus van die edelman se donker, onpeilbare blik wat elke beweging van haar volg.
“Até a vista, pequena. Tot ons weer ontmoet, kleintjie,” sê die marquês sag.