Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 6 - Susanna M Lingua - Страница 10

7

Оглавление

Die volgende oggend vergesel Ronelle tog haar gasheer na Marisa se tuiste en nadat sy die jonger meisie op die klavier hoor speel het, stem sy in om vir haar verdere musieklesse te gee. Gevolglik vertrek Ronelle nou elke oggend om tienuur na Marisa se ouerhuis en keer dan pas voor middagete terug.

Smiddags is dit dieselfde roetine. Na ete, siësta; om drie-uur gaan sy ’n halfuur swem; vieruur drink hulle koffie op die voorstoep en daarna ry sy alleen strand toe en kuier op die rotse totdat die son haas ondergaan.

Saans na ete lê hulle gewoonlik by die een of ander familielid van die adellike Duque besoek af.

So verloop die een dag na die ander vir Ronelle, met Diago en sy tante altyd vriendelik en bedagsaam. Selfs die kasteel met sy doolhof van gange en vertrekke is vir haar ook nie meer so skrikwekkend nie. Sy het ook al by Carmelita heelwat Portugees geleer.

Saterdagoggend is sy merkbaar opgewonde toe Diago haar voor haar vertrek na Marisa herinner aan hulle afspraak om daardie aand by die hotel te gaan dans.

“Is dit darem vir my geoorloof om alleen saam met jou te gaan dans, of moet ons my waaksame duenna saamneem?” vra sy met ondeunde pret in haar laggende oë.

“Nee, pequena,” antwoord hy goedig, glimlaggend terug. “Jy mag sonder ’n duenna saam met my gaan dans. As hoof van ons familie mag ek te eniger tyd die plek van ’n duenna inneem. En ek wil jou sommer ook vra om asseblief nie ’n skouerlose aandtabberd te dra nie. Dames uit die Portugese adelstand dra nooit gewaagde tabberds nie.”

“Maar ek is nie ’n Portugese dame nie, en nog minder uit julle adelstand, Diago,” werp Ronelle ter verdediging terug. Die man begin sowaar al weer lastig word.

Maar dan hoor sy hom bedaard, dog met ’n stadige glimlaggie sê: “Tydens jou verblyf in my kasteel word jy wel met dieselfde maat gemeet, pequena. En jy gaan my tog seker nie in die verleentheid bring deur so ’n gewaagde tabberd te dra nie.”

Etlike sekondes kyk Ronelle die konserwatiewe jongman stil aan. Toe haal sy haar skouertjies op en sê ietwat onverskillig: “O, wel, as jy dan nou daarop aandring dat ek my soos my oumagrootjie moet aantrek, sal jy maar ’n dame uit jou eie volk na die dans moet neem, Diago. Ek vrees ek besit nie ’n enkele aandrok wat jou smaak sal bevredig nie.”

Met daardie woorde draai sy om en wou net wegstap na haar vader se motor, wat voor die deur staan, toe Diago haar onverwags aan albei skouers neem en haar liggies omswaai totdat sy reg voor hom staan.

’n Kort oomblik brand sy oë in hare, maar dan kalmeer hy homself met groot inspanning en sê bedaard: “Ek het alreeds vir ons ’n tafel by die hotel bespreek, Ronella, en daar is nog genoeg tyd om ’n geskikte tabberd te gaan koop. Ek sal Marisa nou dadelik gaan bel en vir haar sê om jou nie vanoggend te verwag nie. Daarna sal tia Maria jou na die winkels vergesel.”

Hierteen kan Ronelle geen beswaar maak nie en ’n halfuur later is sy en doma Maria onderweg na die winkels.

Terwyl sy die een tabberd na die ander aanpas, tref dit haar meteens dat dit vanaand die eerste maal sal wees dat sy met Diago sal dans – en helaas ook die laaste maal – want sodra sy adellike niggie eers hier op Braca is, sal hy natuurlik geen aandag meer aan haar, Ronelle, skenk nie.

Hierdie gedagte wek ’n ontsettende pyn in haar binneste, êrens waar haar hart moet wees. Sy kan nou nog nie begryp waarom sy juis op Diago, van alle mans, moes gaan staan en verlief raak nie. Sy het tog uit die staanspoor geweet dat daar sprake is van ’n huwelik tussen hom en sy niggie wat oor twee dae uit Lissabon arriveer …

Ja, nog net twee dae, ween dit stil in haar hart. Daarna sal daar vir my geen genotvolle oomblikkies saam met hom meer wees nie. Ek sal slegs ’n toeskouer van hulle intieme samesyn wees. Maar gelukkig sal ek nie hier wees om nog hulle huwelik ook te moet aanskou nie … Nee, daardie beproewing sal my genadiglik gespaar word!

Ronelle is opvallend stil toe sy en doma Maria later na die Quinta terugkeer. Die ou dame is intens bewus van die meisie se stille afgetrokkenheid en dit laat haar heimlik wonder of sy en Diago dan weer ’n woordewisseling gehad het. Ook die hartseer trekkie in Ronelle se oë en om haar mooi, sagte mond ontgaan die ou dame se opmerksame blik nie. Dat Ronelle diep hartseer voel, is vir die wyse ou dame geen geheim nie. Daarom bewaar sy ook maar die swye.

Hulle is pas terug, toe ontvang Ronelle ’n hooflynoproep van haar vader om haar mee te deel dat hy vieruur die volgende middag op Braca arriveer.

Hierdie goeie nuus laat Ronelle dadelik weer moed skep vir die lewe, want nou sal sy ten minste nie hier wees wanneer Diago met sy aanstaande bruid by die kasteel arriveer nie. Ja, sy en doma Maria sal na hulle afsonderlike tuistes teruggaan en hierdie week se verblyf in die kasteel sal iets van die verlede wees – slegs ’n aangename herinnering wat sy diep en veilig in haar hart sal bewaar. Sy weet dat haar liefde vir Diago haar nog bittere trane gaan laat stort, maar sy verkies om nie hier te wees en sy liefde vir ’n ander vrou te aanskou nie.

Diago toon geen tekens van verligting óf opgewondenheid toe Ronelle hom tydens die noenmaal van haar vader se oproep vertel nie.

Al wat hy sê, is: “Dit is nogal jammer dat die goeie señor professor eers môremiddag arriveer. Ek sou hom graag voor my vertrek na Beira wou spreek. In elk geval, my sekretaris sal sorg dat jy en tia Maria môre veilig by julle tuistes besorg word, want ek sal nie voor Woensdagmiddag terug wees nie.”

“Jy kan jou sekretaris gerus maar die moeite bespaar, Diago,” voeg Ronelle hom bedaard toe. “Ek sal doma Maria self by haar tuiste besorg.”

Daardie middag hou Ronelle haar besig met voorbereidings vir die aand se dans, en om drie-uur gaan sy swem. Sy weet dat dit ook die laaste maal is wat sy ooit in dié luukse swembad sal swem.

Na die middagkoffie gaan sy nie soos gewoonlik strand toe nie, maar verwyl die middag saam met die ou dame en Diago op die voorstoep. Sy besef dat hulle kort samesyn sy einde nou snel nader en sy wil graag die laaste paar uur nog saam met Diago verwyl. Sy voel momenteel soos Aspoestertjie, en weet dat die klok ook vir haar om middernag sal slaan.

“Jy is besonder stil vandag, Ronella,” merk die ou dame sag op en betrag die aangesprokene met ’n waarnemende blik.

“Ek bepeins maar net my sondes,” antwoord Ronelle gevat en glimlag die ouer vrou tergerig toe. “Diago het my eendag baie ernstig verseker dat ek ook van my klein sondetjies sal moet afsien, en nou het ek net gewonder hoe dit sal voel om sonder sonde te wees.”

“Sonder al jou oorbodige sondetjies sal jy nog steeds dieselfde voel, pequena,” verseker Diago haar goedig. “Maar sê vir my: Watter onmoontlike dinge gaan jy alles in my afwesigheid aanvang, of is jy darem al genees van jou knaende voorliefde vir onmoontlike en ongehoorde dinge?”

“Of ek daarvan genees is, sal ek nie kan sê nie,” terg sy laggend, “maar jy sal met jou tuiskoms wel gou genoeg hoor as ek iets ongehoords aangevang het. Op die oomblik kan ek natuurlik aan niks dink wat die moeite werd sal wees om aan te vang nie. Trouens, Marisa se klavierlesse en jou familie se uitnodigings hou my deesdae so besig dat daar geen tyd is om iets onmoontliks aan te vang nie.”

Haar laaste sin laat sowel die ou dame as Diago breed glimlag. Toe stel laasgenoemde voor dat sy haar voor ete vir die dans moet aantrek en gereed maak sodat hulle dadelik na ete kan vertrek. Derhalwe maak Ronelle ’n oomblik later verskoning en begeef haar na haar kamer.

’n Paar minute voor ete is sy smaakvol in ’n lang, stemmige, wit aandrokkie – van ’n besonderse soort kant – en swierige silwerkleurige aandskoentjies geklee. Op haar bed lê ’n silwerkleurige aandsakkie en ’n kantstola van dieselfde kleur. Die enigste juwele wat sy vanaand dra, is haar pêreloorkrabbetjies en ’n string pêrels om haar hals. Oor haar kastaiingbruin hare is ’n pragtige wit mantilla gedrapeer, wat haar byna soos ’n bruid laat lyk, en teen haar skouer nestel ’n fraai skouerruikertjie van liggeel orgideë – ’n geskenkie van Diago.

Na ’n vlugtige blik in die spieël begeef Ronella haar na die klein sala waar hulle drie elke aand vergader voordat die ghong aandete aankondig.

Doma Maria is alreeds bekend met Ronelle se nuwe tabberd, en op Diago se gelaat is openlike tevredenheid te lees toe sy die vertrek binnetree.

“Jy lyk wonderskoon soos altyd, pequena,” begroet hy haar met ’n warm stem en oë wat vol verering op haar rus. “Jou skoonheid oortref al die Madonnas van ons wêreld. En as ek sê jy is die bekoorlikste vrou aan albei kante van die ewenaar, bedoel ek dit, Ronella.”

“Dankie, ek voel gevlei,” sê sy sag, lag saggies en voeg ietwat tergerig daaraan toe: “Jy lyk self nie onaardig in daardie deftige aandpak nie, señor Duque.”

Diago glimlag stilweg, neem haar arm en wil haar net na ’n stoel toe lei, maar dan lui die ghong en hulle moet na die eetkamer verdaag.

Soos afgespreek, vertrek die jong paar pas na ete, nadat Ronelle die mantilla verwyder het en haar stola en aandsakkie gaan haal het. Haar hart klop snel van opgewondenheid, want vanaand gaan sy Diago uitsluitlik vir haarself hê. Daarna … Nee, sy wil liewer nie aan die toekoms dink nie, want dan sal hy onherroeplik aan iemand anders behoort en vir ewig vir haar verlore wees. Slegs vanaand kan sy haar nog in sy geliefde nabyheid koester, haar verlangende hart vul vir die leë, doellose jare wat voorlê.

Hulle hou voor die hotel stil. Hoflik en sjarmant help Diago haar om uit die motor te klim.

Hy bied haar sy arm aan en sê ernstig: “Ek bespreek jou vir elke dans, Ronella.”

Die aangesprokene kyk hom tersluiks aan, frons liggies en verklaar ietwat droogweg: “Ek glo nie hier is iemand wat graag met my sal wil dans nie, Diago. Jy hoef dus nie te vrees dat ek straks die een of ander onmoontlike ding mag aanvang terwyl ek met iemand anders dans nie.”

“Jy interpreteer my woorde hopeloos verkeerd, pequena,” help hy haar sag met ’n tere glimlaggie reg. “Ek bespreek jou uitsluitlik vir elke dans omdat ek graag elke dans met jou wíl dans, en om geen ander rede nie!”

Hulle bereik die danssaal en Ronelle bly hom ’n antwoord skuldig. Op die oomblik weet sy ook nie juis wat om te sê nie. Hy hemel haar voorkoms op en erken openlik dat hy graag met haar wil dans, en tog koester hy planne om met sy niggie te trou …! Voorwaar ’n volmaakte flirt.

Hulle aankoms wek ’n aardige opskudding, want dit is beslis die eerste maal dat die Duque so ’n publieke dans slegs in die geselskap van ’n enkele beeldskone dame bywoon. Die gemeenskap van Braca is al gewoond daaraan dat hy alle openbare geleenthede gewoonlik in die geselskap van ’n paar familielede bywoon. Gevolglik is sommige van mening dat Ronelle die aanstaande Duquesa de Velira Cervantes moet wees, terwyl ander, wat alreeds die gerug gehoor het dat die Duque trouplanne met sy niggie, Julietta Montes, koester, heimlik wonder waarom hy die jong señorita dan vanaand alleen na die dans vergesel. Indien hy regtig trouplanne met sy niggie koester, sou dit tog pasliker gewees het as hy en die jong señorita hierdie dans in die geselskap van ’n paar familielede bygewoon het … Nee, vanaand begryp hulle die altyd voorbeeldige Duque se optrede glad nie. Trouens, dit wil vir hulle nou meer lyk asof hy ’n ogie op die jong señorita Dekker het.

Ronelle en Diago se onverwagte verskyning hier in die danssaal het sommige mense inderdaad aan die gis, terwyl ander weer in ’n knaende onsekerheid verkeer.

Gelukkig is die twee onbewus van die gissings en onsekerheid en hulle geniet die aand ten volle. Diago is, soos gewoonlik, uiters hoflik en sjarmant en probeer alles in sy vermoë om die aand vir Ronelle aangenaam te maak.

Hulle dans byna elke nommer wat die orkes speel. En wanneer Ronelle so intiem in sy arms oor die dansvloer beweeg, wens sy dat daar nooit ’n einde aan hierdie aand moet kom nie. Nog nooit in haar lewe het sy so gelukkig gevoel soos vanaand nie. Sy kyk op na sy dierbare, aantreklike gelaat, na sy mooi, sterk mond en die lippe wat haar nou die middag so hartstogtelik gekus het, en wonder heimlik of daardie kus darem vir hom ook iets beteken het – of was dit vir hom slegs ’n aangename tydverdryf?

Sy laat haar blik skielik sak, want die waarheid laat haar liggies bloos – die waarheid, dat daardie kus vir hom werklik niks beteken het nie, dat dit slegs ’n ingewing was, daarom dat hy nog nie weer een maal probeer het om haar te omhels nie.

Die musiek loop ten einde en Diago lei haar terug na hul tafel.

“Dit is halftwaalf, pequena,” sê hy toe hulle die tafel bereik. “Ek dink dit is tyd vir ons om te gaan.”

“Het die dansery jou uitgeput?” vra sy met ’n ondeunde glimlaggie toe hy haar stola ewe sjarmant om haar skouertjies hang.

“Nee, hoegenaamd nie,” antwoord hy glimlaggend. “Ek sal nagte aaneen met jou kan dans sonder om ooit moeg te word. Maar ongelukkig moet ek môreoggend om vyfuur na Beira vertrek en ek mag dus nie verslaap nie.”

Hierop antwoord Ronelle nie, neem slegs haar aandsakkie en laat hom toe om haar na buite te lei waar sy motor in die straat voor die gebou staan.

Die rit terug na die Quinta wek in Ronelle ’n vreemde gewaarwording. Dit voel vir haar kompleet asof alles wat die moeite werd was om voor te lewe meteens ten einde geloop het, en dat haar eie lewe daarmee saam leeggeloop het. Sy luister na Diago se mooi, diep stem terwyl hy gemoedelik met haar gesels, maar ook dít kan nie die swaarmoedigheid wat haar gemoed soos ’n digte sluiter omhul, verjaag nie.

Aspoestertjie se middernagtelike klok het dus vir my ook geslaan, dink sy weemoedig toe hulle deur die geboogde ingang van die Quinta ry en ’n oomblik later voor die deur stilhou. Die einde van ons laaste genotvolle aandjie het helaas aangebreek en nou moet ook ék aan my prins vaarwel sê.

Toe Diago uit die motor klim, wag Ronelle nie soos gewoonlik dat hy die motordeur vir haar oopmaak nie, maar klim haastig uit en sluit by hom aan.

Hy neem haar arm en vergesel haar tot by haar kamerdeur. Dan stoot hy die deur vir haar oop en sê sag: “Ek sal jou bepaald nie weer sien voor my vertrek nie, Ronelle, dus sal ek jou nou maar groet.”

Sy reik hom die hand, maar Diago ignoreer haar uitgestrekte handjie, neem haar aan albei skouers en trek haar saggies nader. Die volgende oomblik rus sy lippe sag en warm teen haar blanke voorhoof. “Nag, pequena, en mooi bly,” sê hy met sy asem warm teen haar voorkop. Etlike tellings staar hy diep in haar weemoedige oë en vervolg met ’n baie teer stem: “Ek hou niks daarvan om jou hier agter te laat nie, en ek wil hê jy moet weet dat ek dit teen my sin doen … Boa noite, Ronella, pequena.”

“Nag, Diago, en ’n voorspoedige reis vir jou,” voeg sy hom met ’n hartseer glimlaggie toe.

Toe laat hy haar skouers los en staan ’n tree agteruit. Ronelle stap haar kamer binne en stoot die deur saggies agter haar toe. Sy voel doodmoeg en geestelik uitgeput. Warm trane brand agter haar ooglede en haar gemoed voel tot oorlopens toe vol. Soos ’n outomaat verklee sy en klim in die bed.

Daardie aand is Ronelle se kussing nat van die trane voordat sy eindelik in die vroeë ure aan die slaap raak.

Die oggend verslaap sy hopeloos, gevolglik is dit byna elfuur toe sy eindelik gereed is om die Quinta te verlaat. Sy besorg doma Maria ook net veilig tuis en vertrek toe sonder versuim na haar eie tuiste.

Diago moes die twee diensmeisies klaarblyklik gister al van haar koms verwittig het, want die huis is so skoon en netjies asof sy nooit weg was nie.

Lena en Sofie is albei baie bly dat Ronelle terug is. En toe Ronelle verduidelik dat die professor ook die middag om vieruur tuis sal wees, begin die twee dadelik aanstaltes maak om beskuitjies vir hul werkgewer se middagkoffie te bak.

Die huis is vir Ronelle ontsettend stil en leeg – leeg soos haar eie hart en die eensame toekoms wat op haar wag. Sy weet dat sy nooit weer ’n man so intens sal kan bemin soos wat sy Diago bemin nie. En dis hierdie gedagte wat ’n hewige opstand in haar ontketen jeens haar verraderlike hart wat haar so ’n genadelose streep getrek het.

Met loodswaar treë stap sy uit op die veranda en neem op die rusbank plaas. Daar is ’n diep hartseer in haar groen oë wat ver oor die blou, nimmer rustende golwe van die baai tuur. Sy besef dat sy haar sal moet regruk voordat haar vader vanmiddag arriveer, anders gaan hy dadelik haar geheim agterkom. En dit, besluit sy, mag nooit gebeur nie. Niemand moet ooit weet dat sy Diago bemin nie.

Haar gedagtes dwaal terug na Diago se vurige, hartstogtelike omhelsing daardie middag in die swembad, en dan styg ’n vreemde, onverklaarbare woede ineens in haar op by die gedagte dat hy haar so hartstogtelik kon liefkoos, terwyl hy so te sê op troue staan met iemand anders.

“Hy sien my klaarblyklik aan vir ’n goedkoop flerrie,” gesels sy saggies met haarself. “Iemand wat hy na willekeur kan liefkoos wanneer die gier hom pak, en dan weer opsy kan stoot wanneer die gier bedaar het … Wel, jy het jou les geleer, Ronelle,” spreek sy haarself ietwat sinies aan. “Dit was nou wel nie ’n aangename les nie, maar dit sal jou in die vervolg leer om nooit weer ’n man goedsmoeds te vertrou nie … Ja, al is hy ook ’n adellike Duque. Alle mans is eenders; bly dus uit hulle kloue uit! En wat Diago betref – van hom moet jy onmiddellik vergeet. Hy het die vermetelheid gehad om met jou teerste gevoelens te speel en is dus nie jou liefde werd nie. Bly liewer uit sy pad en laat hy gerus met sy adellike niggie trou …”

’n Lang ruk sit sy nog daar op die stoep met ’n stormagtige gemoed en tob oor die onbetroubaarheid van die manlike geslag, toe hoor sy die klokke lui wat middagete aankondig.

Na ete neem sy ’n tydskrif en gaan ontspan op haar bed tot om drie-uur. Toe gaan bad en verklee sy en vertrek daarna om haar vader by die kasteel se vliegveld te ontmoet.

Met die eerste aanblik merk Ronelle dadelik dat haar vader uiters vermoeid daar uitsien. Hy is baie duidelik oorwerk en die donker kringe onder sy oë is ewe opvallend. Sy groet hom hartlik en verneem dan besorg na sy welstand.

“Wel, ek voel ’n bietjie moeg, my ou dogter,” erken hy onderwyl hulle in die rigting van die motor stap, “maar dit is slegs te wyte aan die feit dat ek die afgelope week byna dag en nag aan my proefnemings gewerk het. Een goeie nagrus sal my dadelik regruk.”

Hy vra Ronelle belangstellend uit na haar eie welstand en haar verblyf in die kasteel, onderwyl sy bagasie in die motor gelaai word. Toe groet hulle die vlieënier en vertrek sonder versuim.

Tuis rus professor Frans Dekker net tot na aandete en hervat daarna sy werk onverwyld.

Toe Ronelle om elfuur aanstaltes maak om bed toe te gaan, brand die lig in sy studeerkamer nog steeds.

Die volgende paar dae sleep vir die meisie traag en eentonig verby. Soggens neem sy eers haar vader hospitaal toe en vertrek dan om tienuur na Marisa se tuiste. Eenuur gaan haal sy die oubaas vir middagete en verwyl dan die namiddag met lees totdat dit koel genoeg is om langs die strand te gaan stap.

Gevolglik is sy nie by die huis nie toe Diago die Woensdagmiddag bel om te sê dat hulle pas tuisgekom het. Eers toe haar vader daardie middag tuiskom, hoor sy dat die Duque herhaalde male vrugteloos na hulle huis toe gebel het. Daarna het hy die hospitaal gebel om te hoor wat aangaan, en waarom hy Ronelle dan nie te spreke kan vind nie.

“En wat het Pappie toe vir hom gesê?” wil sy met ’n onnutsige glimlaggie weet onderwyl sy, soos gewoonlik, vir hulle koffie op die voorstoep skink.

“Ek het hom gesê dat jy maar seker weer langs die strand ronddwaal. Jy doen dit tog elke middag wanneer dit koel is … Terloops, ons is genooi na môreaand se dinee, wat ter ere van sy tante en niggie gegee word. Dit gaan glo ’n swierige affêre wees. Sy neef, Armando, meen dat hy dalk môreaand sy verlowing aan sy niggie amptelik gaan aankondig.”

Ronelle haal haar skouertjies op en verklaar effens onverskillig: “Hy kan môreaand selfs in die huwelik tree ook, vir al wat ek omgee. My eerlike mening is dat die man pynlik vermetel en aanmatigend is. En as hy dink ek gaan bedags tuisbly om die telefoon op te pas, vir ingeval hy dalk hierheen bel, kan hy gerus weer ’n keer dink … En waaroor wou hy my nou juis so dringend gespreek het?”

“Hy het nie gesê nie, maar dit het vir my al geklink of hy gesteurd was oor jou ontydige rondlopery,” verduidelik haar vader sonder veel erg. “In elk geval, hy het gesê hy sal jou môre weer bel.”

Na hierdie verduideliking ledig professor Dekker sy teekoppie en begeef hom dan na sy studeerkamer, waar hy besig bly totdat Lena die klokkie lui vir aandete.

Na ete keer hy dadelik terug na sy studeerkamer, en moet Ronelle weer eens met haar eie geselskap opgeskeep sit.

Tienuur neem sy vir hom ’n koppie tee en gaan kruip daarna ewe gedwee in die bed. Sy besef deeglik dat haar vader haastig is om sy proefnemings hier op Braca te voltooi sodat hulle terug kan gaan na hulle eie tuiste in Johannesburg. Maar sy besef ook dat hy besig is om sy gesondheid te ondermyn deur feitlik dag en nag aaneen te werk. Hy is alreeds hopeloos oorwerk. Dan troos sy haar egter met die wete dat haar vader ’n dokter is en behoort te weet hoe ver ’n mens kan gaan voordat jy breekpunt bereik.

Die volgende dag is Ronelle opsetlik die hele dag uithuisig. Sy koester hoegenaamd geen sinnigheid om met Diago oor die telefoon te gesels nie. Sy het haar reeds voorgeneem om in die vervolg uit sy pad te bly sodat sy hierdie ongevraagde liefde vir hom uit haar gestel kan kry, en sy gaan by daardie besluit bly. Sy wens sy kan vanaand se dinee ook ontduik. Maar ongelukkig kan sy aan geen oortuigende rede dink wat sy as verduideliking vir haar afwesigheid kan aanvoer nie. Derhalwe sal sy maar moet gaan, of sy daarvan hou of nié. Gelukkig rek die Duque darem nie sy dinees tot na middernag uit nie, dus sal sy slegs ’n paar uur van foltering moet verduur.

Pas ’n halfuur voor haar vader se tuiskoms daardie middag, keer Ronelle ook terug van haar uitstappie na die strand. Sy groet haar vader en toe wil hy sonder meer weet waar sy die hele dag rondgeflenter het, dat hy weer die spit met Diago moes afbyt.

“Wat! Het hy my ou paps al weer by die hospitaal lastig geval?” roep sy verontwaardig uit. Sy vly haar langs hom op die bank neer en kyk hom met ’n onpeilbare uitdrukking in haar oë aan.

“Ja, hy het vanmiddag glo herhaalde male hierheen gebel, net om te verneem dat jy nog nie tuis is nie,” antwoord haar vader ietwat verwytend. “Daarna wou hy van my weet waar jy is, asof ek elke oomblik van die dag van jou rustelose bewegings verslag kan gee. En toe ek vir hom sê dat ek geen idee het waar jy jou op die oomblik bevind nie, vertel hy my so ewe dat jy die leiding en beskerming van ’n duenna nodig het.”

“En wat sê my ou paps toe vir hom?” vra sy, nou met ’n flikkering van ondeunde pret in haar oë. Dog sy waag dit nie om te glimlag nie, want haar vader lyk duidelik omgekrap.

“O, ek het hom onomwonde vertel dat geen duenna langer as ’n week met jou pas sal kan volhou nie,” antwoord hy. “Jy is gans te vol lewe. En soos wat ek jou ken, sal jy jou bloedweinig aan ’n duenna se teregwysings steur. Jy het die afgelope twee jaar daaraan gewoond geraak om vir jouself te dink en te besluit, en daarbenewens is jy mondig en baas van jou eie lewe. Maar as jou rondlopery ’n slegte invloed op die plaaslike jongdames het, sal ek jou met die eerste geleentheid Johannesburg toe terugstuur. Daarvan wou hy egter ook nie hoor nie en het toe vriendelik voorgestel dat ons hierdie saak later breedvoerig bespreek – so asof dit ’n einde aan jou rondlopery sal maak …

“In elk geval, ek dink nog die beste sal wees as jy saam met André teruggaan. Jou rondlopery en die Duque se voortdurende gemor hinder my ontsettend in my werk. En dit gaan ek nie langer duld nie. Nee, dan moet jy liewer saam met André gaan en by hom op die plaas kuier tot tyd en wyl my taak hier afgehandel is … O, ja, byna vergeet ek. Die Duque het gevra of jy weer vanaand die orrel sal bespeel. Ek het toe namens jou ingestem. Dus, onthou asseblief om ’n paar musiekboeke saam te neem.”

“Ek het nou sommer baie lus en woon glad nie eens sy dinee by nie,” verklaar Ronelle, nou self effens liggeraak, want dit wil vir haar sterk voorkom asof hierdie adellike Duque nie weet wat hy wil hê nie. Haar rondlopery is vir hom ’n doring in die vlees, en tog wil hy ook nie daarvan hoor dat sy Braca nou al verlaat nie.

Maar dan hoor sy haar vader byna radeloos sê: “Kyk, jy en Diago het my genoeg versondig vir een dag, Ronelle. Gaan trek jou asseblief nou dadelik aan vir die dinee en sorg dat jy halfagt gereed is om te gaan.”

Sonder ’n enkele woord verder gehoorsaam Ronelle haar vader. Sy kan merk dat sy senuwees behoorlik uitgerafel is en sy wil hom liewer nie meer kommer op die hals haal nie. Maar innerlik voel sy lus om Diago te verongeluk, want dit is deur sy inmenging dat haar vader in so ’n slegte bui is.

Twintig minute voor agt daardie aand hou die Dekkers se motor voor die kasteel stil en vader en dogter klim uit. Albei is deftig uitgevat vir die dinee – die professor in sy onberispelike aandpak, en Ronelle in ’n pragtige silwerkleurige dineetabberd van lamé, ’n mantilla, skoentjies en aandsakkie van dieselfde kleur as haar tabberd. Om haar hals dra sy ’n ragfyn silwersnoer met ’n enkele diamantrosie daaraan, en aan haar oorbelletjies skitter twee fyn diamantoorkrabbetjies.

Diago ontmoet hulle persoonlik by die deur. Hy groet die twee vriendelik en kyk dan vas in Ronelle se ongelukkige oë, waarin hartseer nou weer naak lê. Dog die volgende oomblik draai sy haar gesig weg en is hy slegs bewus van die hartseer trekkie om haar mond.

Daar is ’n opvallende teerheid in sy stem toe hy aanbied om die musiekboeke vir haar te dra – ’n teerheid wat professor Dekker verbaas na hom laat kyk. Maar hy ignoreer die ouer man se verbaasde blik, neem die musiekboeke by Ronelle en bied haar sy arm aan.

“Ek merk jy is deesdae weer knaend uithuisig, pequena,” voeg hy haar bedaard toe onderwyl hulle in die rigting van die groot sala beweeg.

Dog laasgenoemde kyk hom nie eens aan nie toe sy onverskillig sê: “Dis jy wat so ontydig bel, Diago. En afgesien daarvan: Ek is nie oud of getroud nie, dus is daar niks wat my aan bande lê nie. Ek kom en gaan soos ek wil.”

Hierdie onverskillige woorde van Ronelle maak die jong edelman diep seer. Maar hy laat daar niks van blyk nie en sê slegs bedaard: “Jy behoort iemand in die huis te hê wat jou bedags geselskap kan hou.”

Toe tree hulle die sitkamer binne, en Diago stel hulle voor aan sy tante en niggie – doma Elena en Julietta Montes. Die ou dame kan slegs ’n paar Engelse woorde besig, maar Julietta is nogal taamlik op die hoogte met die taal.

Professor Dekker en Ronelle antwoord paslik op die bekendstelling, groet die res van die gaste en neem dan op een van die klein bankies plaas.

“Wel, ek moet sê, Diago het beslis ’n oog vir skoonheid,” voeg Ronelle haar vader sag in Afrikaans toe. “Sy niggie is stellig die mooiste Portugese meisie hier op Braca. Maar as hy nie gou met haar trou nie, gaan Armando hom sowaar by die nooi droogsit. Kyk hoe gooi hy sy flikkers vir haar, Pappie.”

“Ek dink Diago maak ’n gek van homself,” antwoord haar vader ewe bedaard. “Sy is gans te jonk vir hom. Ek glo sy is nie ’n dag ouer as agttien nie, en hy is alreeds drie-en-dertig.”

“Dis waar, sy lyk baie jonk,” moet Ronelle toegee. “Maar dit maak vir haar blykbaar nie saak dat hy soveel ouer as sy is nie …”

Die diensmeisie wat ’n skinkbord met skemerkelkies na hulle uithou, maak ’n einde aan vader en dogter se gesprek.

Die volgende oomblik sluit Diago by hulle aan en neem langs Ronelle plaas. “Wat het jy toe alles tydens my afwesigheid aangevang, pequena?” vra hy belangstellend en blik haar ondersoekend aan. “Tia Maria kla dat jy haar sedert Sondag nog nie een keer besoek het nie en almal wil van my weet waarom jy hulle deesdae nie meer besoek nie.”

Ronelle haal haar skouertjies ongeërg op en antwoord ietwat onverskillig, sonder om hom direk aan te kyk: “O, ek sal hulle nog die een of ander tyd besoek. Ek is maar net nie die soort wat knaend op ander mense se drumpels boer nie.”

Diago kyk haar etlike tellings stil aan. Toe draai hy hom na haar vader en knoop ’n gesprek met die oubaas aan. Hy kan nie begryp wat oor Ronelle se lewer geloop het nie. Hierdie onverskillige houding van haar slaan hom totaal dronk. As hy nie daarvan oortuig was dat sy hom ook bemin nie, sou hy oortuig gewees het dat sy geselskap haar vanaand uiters verveel. Maar daardie middag in die swembad het hy onverbloemde liefde in haar oë gelees. Ook haar spontane oorgawe aan sy omhelsing was nie geveins nie … Nee, iets is beslis nie pluis nie, en tog kan hy nie ’n vinger daarop lê nie. Maar hy is in elk geval vasbeslote om nog uit te vind wat aangaan met hierdie nooientjie wat hom eensklaps so onverskillig en aggressief gesind is!

Na ete moet Ronelle weer die orrel bespeel. Daarna skaar sy haar by doma Maria en die res van die aand sit sy en toekyk hoe Diago sy aanstaande bruid en haar moeder geselskap hou.

Toe ’n paar gaste om halfelf begin aanstaltes maak om te vertrek, kondig sy aan dat dit ook tyd is vir haar en haar vader om te gaan. Na die aankondiging kom sy dadelik orent en gaan sluit by haar vader aan, waar hy hom in Armando se geselskap bevind.

“Sal ons nou ook maar gaan, Pappie?” vra sy sag.

“Maggies, ja, dis al halfelf,” antwoord hy en kom terselfdertyd orent.

Armando volg die ouer man se voorbeeld; dan kyk hy Ronelle met ’n warm blik aan en vra ewe onverwags: “Señorita, sal jy een Saterdagaand saam met my gaan dans, as ek Diago se toestemming het om jou te neem?”

Ronelle val byna op haar rug van skone verbasing, maar kry dit tog na ’n kort oomblikkie reg, hoewel nog ietwat deur die wind, om te sê: “Goeie hemel, en waarom moet jy nou juis Diago se toestemming vra om my na ’n dans te neem?”

“Verskoon my, señorita, maar hier op Braca word niks sonder sy toestemming gedoen nie,” antwoord hy bedaard en vervolg ter verduideliking: “Diago is die hoof van ons familie en moet te alle tye geraadpleeg word –”

“Nie in verband met my nie, señor,” val sy die jong dokter vinnig in die rede. “Diago het geen outoriteit oor my nie …”

“Wat, is Diago al weer die onderwerp van bespreking?” gee die Duque skielik oor haar skouer antwoord. Hy kom langs haar staan, kyk haar met ’n ondeunde glimlaggie aan en vervolg tergerig: “Inderdaad dié Diago, nè, pequena?”

“Ja, nogal,” antwoord sy onverskillig, “vernaamlik wanneer hy hom verbeel dat hy ook die hoof van mý familie is. Ek weet net nie waar hy die reg vandaan kry om oor my te wil baasspeel nie!”

“Daar is sommige dinge in die lewe wat ’n man tog wel daardie reg gee, my meisie,” sê hy en kyk haar met ’n betekenisvolle glimlaggie aan. “Maar daaroor sal ons later gesels. Wat ek op die oomblik wil weet, is of jy môremiddag tuis sal wees.”

Ronelle skud haar hoof stadig en antwoord sonder veel erg: “Nee, ek vrees ek sal nie tuis wees nie. Ek het ’n afspraak met doma Maria.”

Hierop lewer Diago geen kommentaar nie en ’n rukkie later groet sy en haar vader die gaste, bedank hulle gasheer – wat hulle na die motor vergesel – vir sy gasvryheid, en neem hulle vertrek.

Susanna M Lingua Gunstelinge 6

Подняться наверх