Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 6 - Susanna M Lingua - Страница 6
3
ОглавлениеRonelle is kwalik ’n halfuur tuis, toe maak haar vader sy verskyning vir middagete. Die tafel is reeds gedek en hulle gaan sommer dadelik aansit. Hy vra haar belangstellend uit na die oggend se gebeure in die saal en kondig dan so ewe terloops aan dat die Duque hulle genooi het om vanaand saam met hom in sy kasteel te eet.
“Daar sal glo nie veel gaste wees nie,” verduidelik die oubaas. “Slegs die lede van sy vernaamste familie en ’n paar vooraanstaande inwoners van Braca.”
“Die familie,” vra Ronelle en kyk haar vader belangstellend aan, “woon hulle saam met die Duque in sy kasteel, of woon hy alleen in daardie fabelagtige plek?”
“Diago woon alleen, meisiekind. Maar ’n tante en ’n niggie van hom kom glo een van die dae van Lissabon af om by hom te kom kuier. Daar is selfs sprake onder die personeel van die hospitaal dat Diago dalk aan die niggie verloof gaan raak. Jy sien, die bruid wat jare gelede deur sy vader vir hom gekies is, het glo ’n paar jaar gelede aan die een of ander aandoening beswyk; daarom dat die man nog steeds ongetroud is, en dit ten spyte daarvan dat hy die hele wêreld al deurreis het. Maar volgens hulle tradisie van edelliede mag hy nou nie meer lank ongetroud bly nie. En dis glo daarom dat die adellike niggie en haar moeder nou hierheen kom. Hy wil haar natuurlik eers deurkyk. Ek verstaan hy is die eerste Duque in die geskiedenis wat op drie-en-dertigjarige leeftyd nog ongetroud is.”
Die oubaas gaan saggies aan ’t lag, kyk Ronelle ondeund aan en vervolg terglustig: “Gister het ek gevrees dat hy dalk ’n ogie op jou het. Sy moeder het mos ook kastaiingbruin hare gehad en ek verstaan dat hy ’n besonder sagte plekkie in sy adellike hart koester vir daardie spesifieke kleur hare.”
Ronelle se hartlike lagbui weergalm klokhelder deur die vertrek. Sy vee die lagtrane uit haar oë, kyk haar vader nog steeds vol lag aan en verklaar dan spottend: “Toemaar, Pappie, jy het verniet jou hart op die Duque geplaas as toekomstige skoonseun. Die man sal nooit droom om my die hof te maak nie. Eerstens is ek te ver benede sy stand – ons het mos nie adellike bloed in ons are nie – en tweedens sal ek nooit ’n geskikte Duquesa vir die nougesette Duque kan wees nie. Ons sal soos kat en hond baklei en daar sal nooit vrede in ons huis, ek bedoel, in ons kasteel wees nie. Ek vrees die man sal my meer slae as kos gee en ek is maar lig teen sy gestalte van byna twee meter. Hy sal my met een klap skoon van die aarde af vee … Nee, Pappie, jy moet maar liewer van die Duque as ’n moontlike skoonseun vergeet. Hoe lyk dit, is daar nie ’n aantreklike doktertjie in die hospitaal wat minder vernaam is as julle adellike Duque nie?”
“O ja, daar is een,” spot die oubaas saam. “Armando de la Vega is nogal ’n neef van ons gewilde Duque. Maar jy sal hom stellig vanaand by Diago ontmoet. Glad nie ’n onaardige kêrel nie en hy koester ’n heilige ontsag vir sy neef, die Duque. Maar so is dit maar met almal hier op Braca gesteld. Almal koester ’n heilige ontsag vir Diago, behalwe die oudste lid van sy familie – ’n ou tante van hom wat in die huis hier langs ons woon. Nogal ’n uiters diplomatiese ou dame, dié tante van hom.”
“Het Pappie haar al ontmoet?” wil Ronelle geïnteresseerd weet. Die ou tante klink vir haar nogal na ’n interessante dame.
“O, ek het Diago se hele familie wat hier op Braca woon al ontmoet. Sy ou tante hier langsaan het haar ook al dikwels oor my ontferm en kom loer hoe dit met my huishouding gaan. Uiterlik lyk sy presies soos die Duque, trots en hooghartig, maar innerlik is sy ’n doodgoeie ou siel met ’n taamlik sagte plekkie in haar hart vir haar medemens. Hulle noem haar tia Maria.”
Geselsend geniet hulle die maaltyd en dan moet die professor weer na die hospitaal toe vertrek.
Ronelle gaan sien hom by die motor weg en begeef haar dan onverwyld na haar kamer om ’n uur of wat met ’n tydskrif te ontspan.
Dis byna halfvier, en hier waar Ronelle die tuin deur haar kamervenster staan en betrag, wonder sy of die Duque haar regtig vir ’n swem gaan neem.
’n Verborge duiweltjie ontwaak in haar en por haar onverwags aan om vandag daardie luukse kanariegeel bikini-swempakkie van haar aan te trek. Sy het die gewaagde pakkie weliswaar nog nooit gedra nie, maar sy koester op die oomblik ’n onweerstaanbare drang om die preutse Duque ’n bietjie uit sy waardigheid te skok; om hom te laat besef dat sy nie ’n plaaslike marionet is nie, maar wel Ronelle Dekker met ’n sin en wil van haar eie. Ja, sy sal nogal graag wil sien of hy regtig ’n onheilige humeur het en of daardie swart oë van hom werklik vuur kan spoeg as hy kwaad is!
Daar is ’n vreemde vonkeling in haar groen oë toe sy aan die Duque dink. Die man is verbrands aantreklik en sy is ook glad nie meer so seker of sy nie alreeds smoorverlief op hom is nie. Dog sy is verstandig genoeg om te besef dat sy hierdie ongevraagde liefde, as dit wel liefde is vir die Duque, onverwyld in die kiem sal moet smoor. Sy is oortuig daarvan dat Diago hom nooit in der ewigheid met so ’n ellende sal opsaal deur met haar te trou nie!
Nee, hy sal trou met sy niggie wat eersdaags van Lissabon af arriveer. Hulle is immers van dieselfde stand, praat dieselfde taal en deel dieselfde gewoontes en gebruike.
Toe stap sy doelbewus na haar hangkas en neem die geel baaipakkie ter hand, betrag dit ’n oomblik oorwegend en plaas dit dan doelgerig op die bed neer. Daarna neem sy die geel baaikeppie en ’n gitswart handdoek met ’n yslike, wit draak daarop uit die laai en voeg dit by die baaipakkie.
Onderwyl sy ’n aria uit Die Vrolike Weduwee fluit, verklee sy in die gewaagde baaipakkie wat slegs die allerbelangrikste liggaamsdele bedek. Daarna neem sy ’n paar strandsandale en trek dit ook aan – onbewus van die feit dat ’n mens dwarsdeur die dun strandjakkie kan sien.
Met haar baaikeppie in die hand en die swart-en-wit handdoek oor haar arm, stap sy ’n paar minute later op die stoep uit, net betyds om te sien hoe die Duque se lang sportmotor by die hek indraai en voor die deur stilhou.
Die man se onberispelike voorkoms slaan byna haar asem weg. Hy is in ’n wit broek, wit sporthemp, wit-en-swart kleurbaadjie en wit skoene en kouse geklee. Hy lyk inderdaad koel en gemaklik in hierdie ontsettende tropiese hitte, en hartbrekend aantreklik in die gemaklike, wit drag. Sy swart hare wat glad agteroor gekam is, blink soos ’n kraai se vlerk en sy breë, uitdagende skouers doen sy netjiese baadjie eer aan.
Lank, fier en dinamies bestyg hy die trappies, stoot die gaasdeur oop en betree die stoep. Toe rus sy oë op Ronelle.
“Goeiemiddag, señorita,” groet hy haar met ’n onpeilbare uitdrukking in sy donker, broeiende oë. Sy beantwoord sy groet beleef, en dan skuif sy blik stadig van haar vlammende hare tot by haar klein, geskoeide voetjies.
Toe glimlag hy meteens – ’n glimlag wat enigiets kan beteken – hou ’n goedversorgde hand uit vir haar handdoek, en sê met iets soos ’n geheimsinnige, gedempte laggie: “Aangesien jy gereed is, kan ons maar dadelik gaan.”
Hulle het al ’n hele ent gery, toe tref dit Ronelle meteens dat hulle glad nie in die rigting van die strand beweeg nie, maar wel in die teenoorgestelde rigting.
“Het u nie nou verdwaal nie, señor Diago?” vra sy ietwat bedees.
Maar die Duque gee slegs ’n kortaf laggie en verklaar sag, nadruklik: “Nee, señorita, ek dink ek kry nou stellig eers rigting.”
“Maar ons beweeg dan weg van die strand af!” waag sy dit weer, kyk die man vlugtig sydelings aan en toe weer weg.
“Presies,” hoor sy hom ietwat kortaf sê.
“Maar gaan ons dan nie swem nie, señor?” wil sy verbaas weet. Sy kan die man se eienaardige optrede glad nie begryp nie.
Maar dan hoor sy hom weer sê: “Ons …?” Sy merk hoe sy een wenkbrou ’n duidelike vraagteken vorm. “Ek vrees gemengde swemmery word nie hier op Braca toegelaat nie, señorita. Nee, jy gaan alleen swem,” help hy haar met ’n onpersoonlike stem reg, “maar nie by een van Braca se openbare strande nie.”
Hulle is alreeds buite die dorp en die Duque trek die motor terstond uit die pad, in die skaduwee van ’n boom, en hou stil. Hy draai hom skuins op die sitplek totdat hy Ronelle behoorlik in fokus het. Toe brand sy oë in hare van onderdrukte ergernis.
Daar is ook geen vriendelikheid meer in sy stem nie toe hy eensklaps onverbiddelik sê: “Laat ons mekaar asseblief mooi verstaan, señorita. Ek is deeglik bewus van die skrapse baaipakkie onder daardie oulike strandjakkie en ek is seker jy weet wat my beskouing van sulke onbehoorlike kleredrag is –”
“U verbaas my, señor Diago,” val Ronelle hom ewe onskuldig in die rede. “Hoe is dit moontlik dat u weet wat ek onder my strandjakkie aanhet?”
“Dis baie maklik, señorita. Al sou ek ook nie deur daardie dun strandjakkie kon sien nie, sou dit vir my nog baie maklik gewees het om te raai,” antwoord hy, nog steeds onverbiddelik. “Jy weet dit blykbaar nie, maar die goeie señor professor het my eendag die guns verleen om deur julle familie-album te blaai. Ek het al die foto’s van jou gesien, vanaf die dag toe jy ’n maand oud was; foto’s van jou in alle soorte kleredrag. Dog elke foto van jou in baaiklere was absoluut onbehoorlik om in ’n album te vertoon. Jy skyn ’n onweerstaanbare voorliefde te hê vir skrapse baaipakkies, señorita. En om daardie rede kan ek jou nie eens in my Quinta se swembad laat swem nie, want dit is onbetaamlik dat my personeel jou so onbehoorlik geklee sien.”
“Bedoel u dat hier op Braca vir my geen plek is om te swem nie? ” vra Ronelle met ’n gevaarlike vonkeling in haar oë, nou self verontwaardig oor die Duque se pynlike preutsheid. Sy wou hom uit sy waardigheid skok, maar nou wil dit voorkom asof sý die een is wat geskok is … Reken, dat hier op die ganse Braca nie eens vir haar ’n ou plekkie is om te swem nie …!
Maar dan hoor sy die Duque weer sê: “Nee, ek vrees hier is nie, señorita. Maar sodra jy vir jou ’n respektabele baaipakkie gekoop het, kan jy die Quinta se swembad as jou eiendom beskou.”
“Dankie, señor, maar ek glo nie ek sal van u aanbod gebruik maak nie,” antwoord sy, nou bleek en bitter ontstoke. “Ek vrees my vader het ’n groot fout gemaak. Hy moes my nooit hierheen laat kom het nie. Sal u my asseblief sonder versuim terugneem?”
’n Lang ruk kyk die Duque haar aan met nougetrekte, smeulende oë. Toe vra hy met ’n onpersoonlike stem: “Wil jy nie meer gaan swem nie, señorita? Ek weet van ’n afgesonderde plekkie langs die rivier waar jy vanmiddag kan gaan swem. Maar begryp my mooi, ek sê nét vanmiddag.”
Dog Ronelle wil nou niks van die Duque en sy swemplekke weet nie. Sy antwoord dus kil en met vlammende oë: “Moet u asseblief nie langer verontrus nie, señor. Ek sal nie vanmiddag, of enige ander middag, in u rivier gaan swem nie; ook nie in u swembad of op u strand nie. Stel dit u tevrede?”
“Wel, as jy beslis weier om van jou onbehoorlike swemklere af te sien, señorita, stel dit my inderdaad tevrede,” laat die edelman sag en met ’n ligte skouerophaling hoor, skakel die voertuig aan en trek sonder meer weg.
Daar is ’n harde, onverbiddelike trek om sy mond en dis duidelik dat hy nou net soveel van Ronelle verdra het as wat hy in een dag kan verduur. Met laasgenoemde is dit nie anders gesteld nie. Sy hoop van harte dat sy hierdie onuitstaanbare man nooit weer hoef te sien nie!
Die kort rit na die Dekkers se woning lê hulle in absolute stilte af. En toe die Duque eindelik voor die deur stilhou, wag Ronelle nie eens dat hy die motordeur vir haar oopmaak nie, maar klim haastig uit die voertuig.
Ofskoon haar oë nog vlam van diepe misnoeë, bedank sy hom nietemin beleef vir die motorrit, groet hom koelweg en stap die huis binne met haar kennetjie trots in die lug – onbewus daarvan dat die Duque se oë elke beweging van haar volg, nou met ’n vreemde, peinsende blik. Haar trots en die vuur in haar roer iets diep in hom, ’n gevoel waarmee hy nog nie tevore kennis gemaak het nie.
Onderwyl Ronelle in ’n koel somersrokkie verklee, huil sy haar pragtige oë rooi van skone misnoeë, frustrasie en mismoedigheid. Sy wens sy het nooit ’n voet in hierdie miserabele plek gesit nie – en die Duque, wens sy, was aan die ander kant van die aardbol!
Dog toe sy pas voor haar vader se tuiskoms haar gesig gewas en haar oë met koue water gebaai het, is haar besluit reeds geneem. Haar vader sal Diago se dinee vanaand maar alleen moet bywoon. Ja, sy sterf eerder as om ’n voet in sy kasteel te sit. Inderdaad wil sy met die man niks meer te doen hê nie. Sy wil hom nooit weer sien nie! Vir al wat sy omgee, kan hy met sy hele preutse gemeenskap na die maan toe vlieg en nooit terugkom nie.
Nadat Ronelle haar grimering opgeknap het, begeef sy haar na die voorstoep om daar op haar vader se tuiskoms te wag. Sy wag ook nie lank nie, toe hou die motor voor die deur stil.
Met die intrapslag merk haar vader dadelik dat sy gehuil het. Hy swyg wyslik oor hierdie waarneming. Hy ken sy dogter en weet dat sy hom op haar eie tyd in dié verband sal inlig.
Hulle sit kwalik toe Lena reeds met die tee verskyn. Ronelle is vreemd stil en afgetrokke en dit laat haar vader ietwat bekommerd voel. Hy ken haar nie so nie, derhalwe moet daar ’n groot skroef los wees.
Op sy gewone, bedaarde manier verneem hy of sy toe die middag gaan swem het, en dis toe dat Ronelle met die hele mandjie patats vorendag kom. Ook haar verbittering jeens die nougesette Duque vat opnuut vlam.
“Neem my raad aan en vergeet van die hele onaangenaamheid, my ou dogter,” paai die oubaas simpatiek nadat hy die ongelukkige episode aangehoor het. “Dit is presies wat Diago gaan doen. Hy sal hom vanaand so hoflik en sjarmant teenoor jou gedra asof julle nog nooit in julle lewe ’n argument gehad het nie.”
Maar Ronelle skud slegs haar hoof en antwoord met besliste finaliteit: “Ek vrees Pappie sal die dinee maar alleen moet bywoon. Ek is nie van plan om ooit ’n voet in sy kasteel te sit nie. Sy gedrag vanmiddag was allesbehalwe hoflik en gasvry. Ek sal eerder sê hy was beledigend. En ek laat my deur niemand beledig nie, Pappie, nie eens deur hierdie adellike hertog nie. Ek sal dit ook nie duld dat hy of enigiemand anders my kleredrag kritiseer nie! Dit is my saak wat ek doen en hoe ek aantrek, en dit het hoegenaamd niks met hom te doen nie. Ek is nie in die oertyd gebore nie!”
“En watter verduideliking gaan ek vir jou afwesigheid aanvoer, Ronelle?” wil haar vader bedaard weet. “Weet jy, ek het so ’n vae vermoede dat Diago hierdie dinee spesiaal gereël het om jou aan die inwoners van Braca voor te stel.”
“Vir al wat ek omgee, kan hy gaan doppies blaas met Braca se gemeenskap en al,” vaar sy weer bitter ontstoke uit. “As hulle almal so preuts soos hy is, koester ek geen sinnigheid om met hulle kennis te maak nie … Nee, Pappie, met die Duque is ek finaal klaar. Ek sal nooit weer van sy gasvryheid gebruik maak nie en hy nooi my ook verniet na sy Quinta –”
“Kyk, ek besef dat jy omgekrap voel, Ronelle,” demp haar vader haar onthutste woordevloed. “Maar wat gaan ek as verduideliking vir jou afwesigheid aanvoer, kind?”
“Sê ek is dood, of siek … Sê vir hom ek het hierdie nuwe siekte en ek lê op sterwe. Sê enigiets, Pappie. Die Duque sal wel weet waarom ek afwesig is, dus wat maak dit nou eintlik saak!”
Met Ronelle in so ’n omgekrapte bui, besluit professor Dekker dat dit veel beter sal wees om voorlopig te swyg en haar wens te eerbiedig. Sy sal wel later leer dat ’n mens nie met Diago de Velira Cervantes swaarde kruis nie!
Na haar vader se vertrek geniet Ronelle ’n eensame aandete. Daarna klim sy met ’n boek in die bed en vergeet absoluut dat daar so ’n man soos Diago bestaan. Tienuur doof sy die lig voor haar bed uit en raak byna dadelik aan die slaap. Sy weet nie eens hoe laat haar vader tuiskom nie.
Die volgende môre is Ronelle vroeg uit die vere. Sy wil graag haar vader se motor leen, dus moet sy hom spreek voordat hy na die hospitaal vertrek.
Aan tafel, tydens ontbyt, rep hulle nie een ’n woord in verband met die vorige aand se dinee nie – Ronelle omdat sy nie daarin geïnteresseerd is nie, en haar vader omdat hy nog effens vies voel oor die leuen wat hy moes versin.
Hy is volkome bewus daarvan dat Diago nie sy storie van hoofpyn en te veel son geglo het nie. Daardie betekenisvolle blik in die man se oë, en daarna sy dubbelsinnige woorde: “Ek hoop die señorita se hoofpyn sal van ’n korte duur wees, my goeie vriend,” het hom dadelik laat besef dat sy noodleuentjie oorbodig was. Die Duque weet waarom Ronelle afwesig was.
Na ontbyt, onderwyl Lena hulle met koffie bedien, kom Ronelle eindelik met haar vraag vorendag. “Mag ek vanoggend Pappie se motor leen?” wil sy met ’n klein stemmetjie weet.
Die oubaas kyk haar ’n oomblik stil aan. Toe antwoord hy haar met ’n weervraag: “Sê my eers, waar is die reis heen, of voel jy maar net nie lus om vanoggend na die saal te loop nie?”
“Die saal!” roep sy verontwaardig uit en kyk haar vader ietwat gekrenk aan. “Pappie dink tog seker nie dat ek, na wat gister plaasgevind het, ooit weer die Duque se orrel sal gebruik nie …? Nee, ek gaan nog vanoggend die saal se sleutel aan hom terugstuur. Maar om terug te keer tot die motor … Ek wil graag ’n entjie met die kus langs gaan ry. Ek sal Pappie by die hospitaal besorg en weer eenuur vir ete gaan haal.”
“Dis nie nodig nie, my ou dogter,” stel hy haar dadelik gerus. “Die hospitaal is slegs ’n hanetreetjie van ons voorhekkie af. Jy kan maar elke oggend die motor neem. Moet net nie te ver ry en dalk verdwaal nie, want dan sal ek genoodsaak wees om Diago te vra om jou met sy ligte vliegtuigie te gaan soek.”
“Toemaar, ek sal nie verdwaal nie, Pappie,” stel sy hom op haar beurt gerus.
Hulle gesels nog ’n rukkie oor huislike aangeleenthede; toe vermaan haar vader haar baie ernstig dat die son hier gevaarlik is vir mense wat nie daaraan gewoond is nie en dat sy haar nooit lank aan hierdie subtropiese son moet blootstel nie. Daarna kom hy orent, soengroet haar en vertrek sonder verwyl na die hospitaal.
Na haar vader se vertrek begeef Ronelle haar dadelik na haar kamer, neem haar skryfblok op en skryf haastig ’n kort briefie aan die Duque, waarin sy hom beleef bedank vir sy gasvryheid wat sy tot dusver geniet het. Sy bedank hom ewe hoflik vir die gebruik van die saal se orrel. Maar aangesien sy na die vorige middag se episode nie langer van sy gasvryheid gebruik sal maak nie, ag sy dit haar plig om die sleutel van die saal veilig aan hom terug te besorg. Daarna sluit sy haar briefie af met “Die uwe” en nie “Die dienswillige” nie. Sy voel op die oomblik na alles behalwe sy dienswillige!
Met die sleutel en die briefie veilig in ’n koevert verseël, ontbied sy Sofie en versoek haar om die koevert en sy inhoud sonder versuim by die kasteel te gaan aflewer.
Daarna neem sy haar handsak, klim in die motor en ry eers dorp toe om vir haar ’n strandhoed te koop. Sy koop ook koeldrank en kry toe koers in die rigting van die strand, waar sy ’n sandpad al met die kus langs volg.
Ronelle het seker goed dertig kilometer gery, toe trek sy die motor in die skaduwee van ’n oeroue boom en klim sorgloos uit …
Op dieselfde oomblik hou die Duque se vaartbelynde sportmotor voor die Dekkers se huis stil.
Diago was nie van plan om Ronelle vanoggend al in verband met haar afwesigheid van gisteraand te kom spreek nie. Maar nadat hy haar briefie gelees het en besef het dat sy haar nou finaal aan alles en almal wil onttrek, het hy besluit om maar dadelik ’n einde aan haar onsinnigheid te kom maak. Dis net ondenkbaar dat sy haar musiek oor so ’n onbenulligheid wil verwaarloos.
Met ’n vasberade, doelgerigte tred bestyg hy dus die Dekkers se voorstoep en klop aan. Sy teleurstelling is egter groot toe hy van Lena verneem dat die juffrou vroeër met die professor se motor weggery het, sonder om ’n woord te sê waarheen sy gaan óf hoe laat sy terug sal wees.
“Jy het nie miskien gesien in watter rigting sy gery het nie?” verneem die Duque hoopvol. Maar Lena antwoord slegs ontkennend en hy klim terug in sy vuurwa.
Daar is ’n donker frons op sy voorkop toe hy weer by die hek uitry. Hy het geen benul waarheen Ronelle kon gery het nie, terwyl sy nóg die dorp nóg die distrik ken. Sy het ook nie elders besoek afgelê nie, want hy weet vir ’n feit dat sy nog met niemand hier op Braca kennis gemaak het nie.
Diago wou net weer voor sy tante se deur verbyry, soos wat hy nou al die afgelope drie dae sedert Ronelle se aankoms doen. Maar die ou dame is voor in die tuin en wink hom sonder enige seremonie nader. Nou het hy geen ander keuse nie as om ’n paar oomblikke by sy ou tante aan te doen, al brand hy ook hóé van ongeduld om Ronelle op te spoor.
“Jy hou jou die afgelope drie dae baie skaars, my liewe Diago,” begroet doma Maria hom met ’n vriendelike glimlaggie, en sonder ’n tikkie verwyt neem sy sy arm en stuur hom ewe diplomaties in die rigting van haar somerhuisie wat ’n onbelemmerde uitsig op die Dekkers se voorstoep bied.
“Jy kan gerus daardie onsierlike frons van jou gesig afvee, Diago. Die wêreld sal glad nie vergaan net omdat jy en die goeie señorita Dekker woorde gehad het nie … Nee, moenie my in die rede val nie,” keer sy toe hy sy mond oopmaak om iets te sê. “Ek is volkome bewus van alles wat om my aangaan. Ek weet dat jy en die señorita gistermiddag woorde gehad het en dat jy op die oomblik baie omgekrap is omdat jy haar so pas nie tuis gevind het nie.”
“Hoe is dit moontlik dat u van al hierdie feite bewus is, my liewe tia Maria?” kry hy eindelik ’n paar woorde in. “Het u al met die señorita kennis gemaak?”
“Nog nie so intiem soos jy nie,” glimlag sy skalks. “Maar ek het haar al dikwels hier vanaf my somerhuisie gesit en bestudeer. En weet jy aan wie herinner sy my?”
“Aan my ontslape moeder, wat ook u geliefde suster was,” glimlag hy nou saam.
“Presies. Dieselfde hare en dieselfde vurige geaardheid toe sy nog jonk was. Net, jou Ronella is baie mooier, en dan is haar vel ook baie ligter as wat jou moeder s’n was.”
Hulle bereik die somerhuisie en neem op oorgetrekte rottangstoele plaas.
Toe gaan die ou dame ewe ongeërg voort: “Van hier af sal jy die señorita se tuiskoms onmiddellik waarneem –”
“Ek is nie begerig om die señorita se tuiskoms van hier af waar te neem nie, my liewe tia Maria,” val die Duque sy tante met kwalik bedekte misnoeë in die rede. “Ek wil weet waarheen die señorita gery het en hoe laat sy tuis sal wees.”
Hy trek ’n haelwit sysakdoek uit sy sak en vee sy effens klam voorkop daarmee af … Slegs die ou dame is bewus van die briefie wat saam met die sakdoek uit sy sak geval het – die briefie wat hy vroeër vanoggend van Ronelle ontvang het.
“Wel, ek kan jou sê in watter rigting sy gery het, Diago,” laat die ou dame nou hulpvaardig hoor. “Maar ek weet nie of dit jou veel sal baat nie. Jy sien, ek was vanoggend in die tuin toe sy hier weg is en ek het maar terloops opgemerk dat sy in ’n suidelike rigting, met die kus langs, gery het.”
“In daardie geval sal ek u nie langer met my teenwoordigheid steur nie, my liewe tia Maria,” verklaar hy met ’n sjarmante glimlag en kom sonder meer orent. “Maar vertel my asseblief net dit: Was my moeder uitermatig koppig en eiesinnig toe sy jonk was?”
“My liewe Diago,” sê die ou dame en begin saggies lag. “Jou moeder was in haar jong dae ’n katjie wat geeneen sonder handskoene sou aandurf nie, maar jou vader het dit tog reggekry om haar te tem.”
“Wel, dit klink bemoedigend,” glimlag die Duque. Dan buig hy sjarmant voor die ou dame. “Ek wens u ’n rustige dag toe, my liewe tia Maria.”
“Adeus, Diago,” groet sy terug en hou haar hand na hom uit.
Hy neem haar hand, druk sy lippe teer teen haar pols, buig weer eens hoflik en verlaat dan die somerhuisie met ’n ligte, veerkragtige tred.
Sy ou tante wag net totdat sy motor wegtrek; toe tel sy die briefie op, vou met ’n ondeunde glimlaggie die enkelvelletjie oop en merk dadelik dat dit deur Ronelle geskryf is.
Sy lees die inhoud sonder enige gewetenswroeging en verval dan in ’n diepe bepeinsing. Alles is vir haar nou baie duidelik. Haar dierbare Diego en die mooi señorita het ’n woordewisseling gehad en nou wys die señorita al sy gasvryheid van die hand.
’n Sagte laggie ontglip die ou dame se lippe. “Sy ontwyk jou doelbewus, my liewe Diego,” praat sy saggies met haarself, “en jy sal haar ook nooit tuis vind nie. ’n Vrou ken baie maniere om ’n man te ontwyk …”
Onderwyl die ou dame met haarself sit en praat, spoed Diago se motor doelgerig in die rigting waarheen Ronelle vroeër die oggend gery het.
Haar motor se spore lê duidelik sigbaar in die sandpad sodat hy dit kan volg. Dog waar die sandpad doodloop, raak hy die spoor byster. ’n Volle uur soek hy vrugteloos na haar en hy is eindelik verplig om onverrigter sake na sy Quinta terug te keer.
Daardie middag besluit Diago om maar weer by die Dekkers se woning aan te doen: dog hy tref dit ewe ongelukkig, want weer is Ronelle nie tuis nie. Volgens die diensmeisies moes sy gaan stap het, want die señor professor is self die middag met sy motor weg hospitaal toe.
Nou voel die edelman behoorlik omgekrap, want dit wil hom voorkom asof Ronelle hom opsetlik vermy. Met ’n onheilige frons en ’n toorn wat ten hemele vlam, skakel hy die voertuig se enjin aan en jaag met ’n gevaarlike spoed by die hek uit – onbewus daarvan dat Ronelle ewe stemmig saam met sy ou tante in laasgenoemde se somerhuisie sit en tee drink.
Toe Ronelle onder die boom stilhou, begeef sy haar sonder versuim na die strand en maak haar op ’n gemaklike rots tuis, waar sy vol gedagtes na die rustelose golwe sit en tuur. Toe die son egter hier teen halfelf se kant te warm word, skuif sy slegs ’n paar meter terug na die skaduwee van ’n hoër rots en sit haar bepeinsing voort. Sy besef dat sy haar op die oomblik in ’n onbenydenswaardige posisie bevind. Sy is op ’n vreemde dorpie wat nie oor ’n enkele bioskoop beskik nie. Sy mag nêrens swem nie en besit ook nie eens ’n orrel of ’n klavier wat sy kan bespeel nie. Op die dorp is absoluut niks wat besienswaardig is nie en sy ken niemand wat sy af en toe kan besoek nie.
In die huis is daar ook niks waarmee sy kan help nie, want Lena en Sofie neem die huishouding waar en alles verloop vlot en op geoliede wiele. Die enigste dinge waarmee sy haar dus besig kan hou, is lees, lang wandelings neem en na die radio luister, want selfs met naaldwerk is sy ’n nul op ’n kontrak en met koskook vaar sy nog ’n bietjie slegter.
Sy kan met die beste wil ter wêreld nie begryp waarom haar vader haar hierheen laat kom het nie. Dat die dorpie skilderagtig is, met sy eksotiese, tropiese plante en frangipanilanings, betwis sy nie. Maar dit baat haar absoluut niks. Twee weke lank sal sy bedags met haar eie geselskap opgeskeep moet sit, totdat André arriveer.
Toe Ronelle om twaalfuur die terugtog na haar tydelike tuiste aanpak, voel sy hopeloos mismoedig en terneergedruk.
Dit is vir haar ’n verrassing toe ’n opgeskote seun haar beleef by die hek voorkeer en ’n verseëlde koevert na haar uithou. Die koevert is aan haar, señorita Ronella Dekker, geadresseer en dit is baie beslis nie die Duque se handskrif nie.
In haar kamer skeur sy die koevert oop en lees doma Maria se briefie, waarin sy Ronelle vriendelik nooi om halfvier by haar te kom tee drink aangesien sy graag met die goeie professor se aanvallige dogter wil kennis maak.
’n Lang ruk sit Ronelle met die briefie tussen haar vingers en speel en sy wonder ernstig of sy die ou dame se uitnodiging moet aanvaar.
Dog haar vader gee die deurslag toe hy haar daarop attent maak dat die ou dame ’n gesiene inwoner van die dorp is en dat dit onvergeeflik van haar sal wees as sy die uitnodiging sonder ’n goeie rede van die hand wys. Derhalwe verklee sy haar keurig en meld haar om presies halfvier by die ou dame aan.
Omdat Ronelle nie skaam of teruggetrokke van aard is nie, vlot die geselskap sommer uit die staanspoor. Op heel diplomatiese wyse verneem die ou dame trapsgewys Ronelle se hele lewensgeskiedenis uit haar eie mond en stel toe voor dat hulle ’n tweede koppie tee in die somerhuisie geniet.
Die jongmeisie het ook net haar leë koppie in die skinkbord geplaas, toe hou die Duque se motor voor die Dekkers se tuiste stil.
Met smeulende oë sien Ronelle hoe hy die treetjies bestyg en aanklop. En toe Lena die deur oopmaak, is sy bly dat sy niks van doma Maria se uitnodiging aan Lena gesê het nie.
“So,” hoor sy doma Maria met ’n sagte laggie sê, “dan is die liewe Diago vandag vir die tweede keer voor dooimansdeur. Ek wed jou, señorita, dat hy nou bitter omgekrap gaan wees omdat hy jou vandag vir die tweede maal nie tuis vind nie.”
Ronelle kyk die ou dame vlugtig aan. Maar toe sy die pret en ondeundheid in haar oë sien, kan Ronelle nie anders as om self te glimlag nie.
Die volgende oomblik is hulle slegs bewus van die lewensgevaarlike spoed waarmee Diago vertrek.
“Wat my betref, gaan señor Diego elkers voor dooimansdeur te staan kom,” verklaar Ronelle met ’n glimlag, dog baie ernstig. “Ek het absoluut niks aan hom te sê nie. En as hy my vader wil spreek, weet hy waar om hom te vind.”
“Diago moes jou diep seergemaak het, señorita. Jy klink baie verbitterd,” hoor sy die ou dame sag, simpatiek sê.
Ronelle knik en verklaar ietwat huiwerig: “Ons sal señor Diago liewer nie bespreek nie, doma Maria. U is sy tante, en ek is maar net ’n vreemdeling – ’n skip wat stil in die nag verbyvaar. Sal ons nie maar oor iets anders gesels nie?”
“Maar alte seker, señorita,” glimlag die ou dame, met openlike goedkeuring in haar oë. “Ek wou jou al gevra het wanneer die eer my te beurt gaan val om na jou pragtige orrelspel te luister. Na die vroeë mis vanoggend kon die priester nie uitgepraat raak oor jou wonderlike spel nie. Hy het my oor en oor verseker dat dit iets goddeliks is om na te luister –”
“U vlei my, doma Maria,” val sy Diago se tante laggend in die rede.
“Nee, hoegenaamd nie,” kom dit baie ernstig van die ouer vrou. “Jou spel word selfs deur Diago hemelhoog geprys en hy is ’n streng kritikus met ’n fyn oor vir musiek. Maar sê my, wanneer gaan daardie eer my te beurt val, señorita?”
“Ek vrees ek is nie meer in besit van die saal se sleutel nie, doma Maria. Maar ek het vroeër gemerk dat u ’n klavier het. As u nie omgee nie, sal ek eendag die klavier vir u bespeel.”
“Ek is seker ek sal dit baie geniet,” kom dit vriendelik van die ou dame. “Ek gaan jou dalk nog dikwels lastig val om vir my te speel. Maar môreoggend wil ek na jou orrelspel luister. En moet asseblief nie weer praat van ’n sleutel nie. Ons twee het nie ’n sleutel nodig nie. Ek verseker jou die saal sal môreoggend om halfelf met ’n oop deur op ons wag. My motor sal dus kwart oor tien voor jou deur wees.”
’n Lang ruk staar Ronelle stil voor haar uit. Toe sê sy sag: “As señor Diago voor die saal verbyry en die orrelklanke hoor, mag hy dalk gaan kyk wie die speelster is, doma Maria, en … wel, ek wil graag ’n ontmoeting met hom vermy –”
“Onmoontlik, señorita,” val die ou dame haar met ’n goedige glimlaggie in die rede. “Geen mens kan op Braca woon en Diago vermy nie. Daardie susterskind van my besit ’n wonderlike gawe om soms oral te wees … Nee, ek vrees jy sal ’n ontmoeting met hom nie lank kan vermy nie. Hy was selfs vandag nie minder as twee maal op jou drumpel nie en ek verseker jou hy gaan dit môre drie maal doen. Ek ken Diago goed genoeg om te weet dat hy nooit ’n saak maklik gewonne gee nie. Jy het self gesien in watter bui hy hier weg is. Nou ja, laat ek jou dit vertel, señorita: Diago sal nie rus voordat hy jou gespreek het nie. En hoe langer jy hom ontwyk, hoe meer gedetermineerd gaan hy word.”
Hierdie mededeling van die ou dame laat Ronelle diep dink. En toe sy twintig minute later groet en vertrek, verkeer sy nog steeds in ’n hewige tweestryd.