Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 6 - Susanna M Lingua - Страница 9

6

Оглавление

Die volgende oggend is Ronelle vroeg uit die vere. Sy voel nog bitter vies vir Diago en weet nie hoe sy ooit saam met hom aan dieselfde tafel sal kan sit nie. Sy koester geen sinnigheid daarin om met hom te praat nie; aan die ander kant moet sy beleef wees teenoor hom aangesien hy haar gasheer is.

Na vele oorwegings besluit sy dat sy vir hom slegs môre sal sê en dan al haar aandag by die ou dame sal bepaal. Maar hierin word sy weer eens gedwarsboom, want toe die ghong ontbyt aankondig, is dit net sy en Diago wat vir die maaltyd aansit.

Toe haar blik vraend op die ou dame se leë stoel rus, verduidelik die edelman bedaard: “My tante nuttig gewoonlik ontbyt in die bed. Sy is al betreklik bejaard en het baie rus nodig. Ons sal haar dus verskoon.” Ronelle swyg en nadat hulle bedien is, vra hy weer: “Hoe laat wil jy dorp toe gaan, señorita?”

“Sodra doma Maria gereed is,” kom haar antwoord ietwat onpersoonlik.

“Nou ja,” sê hy weer, nou met iets soos kommer in sy stem, “ek hoop die uitstappie gaan nie te veeleisend vir haar gestel wees nie.”

Ronelle se oë vonkel weer dadelik gevaarlik toe sy agterdogtig sê: “Daarby bedoel jy natuurlik dat ek haar onnodig saam met my deur die dorp sal sleep asof sy ’n jong dogter is, slegs om my eie giere en grille te bevredig, nè, señor Duque?”

Hy glimlag onderlangs en toe hy nie dadelik antwoord nie, kyk Ronelle hom aan met ’n warm, opstandige blik en gaan onomwonde voort: “As jy my nie saam met doma Maria vertrou nie, señor, moet jy my dit asseblief reguit sê. Ek hou nie van jakkalsdraaie nie.”

Die edelman plaas sy mes en vurk stadig op sy bord neer, kyk na haar en sê met ’n sweem van ’n glimlaggie: “Ek vrees hoegenaamd nie dat jý doma Maria onnodig sal uitput nie, Ronella; ek vrees dat sy haarsélf mag uitput. Sy is nog besonder jonk van hart, ofskoon haar gestel oud en afgeleef is. Jy hoef dus nie so verontwaardig te wees nie, pequena.”

Die aangesprokene werp hom slegs ’n vlugte blik toe en bepaal dan haar aandag by die vis op haar bord. Maar dadelik voel sy dat sy die stryd nie so maklik gewonne behoort te gee nie en verklaar ewe slinks: “As jy verontrus voel oor doma Maria, kan ons met plesier tuisbly. Ek wou slegs ’n mantilla gaan koop het, maar ek kan heeltemal goed daarsonder klaarkom. Ek is in elk geval nie gewoond aan so ’n vreemde hooftooisel nie en sal dit verloor sonder dat ek dit ooit agterkom.”

“Toemaar, jy sal gou daaraan gewoond raak, pequena,” stel hy haar met ’n sagte stem gerus. “Ek voel ook heeltemal oortuig dat jy met ’n mantilla net so wonderskoon soos ’n madonna sal lyk.”

Hierop antwoord Ronelle nie, want dit wil haar nou al voorkom asof die man besig is om met haar te spot. Hulle geniet die res van die maaltyd in stilte en ’n uur daarna vertrek sy en die ou dame na die dorp.

Voor die grootste modewinkel op Braca hou Ronelle ’n kwartier later stil. Sy help die ou dame versigtig uit die motor en met haar arm deur die ouer vrou s’n gehaak, stap hulle die winkel geselsend binne.

Ronelle is nie verbaas toe sy merk met hoeveel eerbied en ontsag hierdie oudste familielid van die Duque in die winkel ontvang word nie. Dog hulle vertoef nie lank nie. Sy koop slegs ’n paar mantillas van die fynste kant om by haar dineetabberds te pas, ’n geel swempakkie en ’n doos sjokolade. Daarna verlaat hulle die winkel.

By die motor aangekom, help Ronelle die ou dame weer versigtig in die voertuig, sit haar pakkies op die agterste sitplek neer en klim dan self in. Sy skakel die enjin aan, kyk die ouer vrou met ’n stralende glimlaggie aan en vra sag: “Is dit nodig dat ons nou dadelik moet teruggaan na die Quinta toe, of sal ons eers ’n bietjie met die strand langs gaan ry?”

“Sodat jy weer met klere en al in die water kan val?” terg die ouer vrou gemoedelik.

Ronelle merk die ondeunde lig in die spreekster se oë en begin saggies lag. “Ai, Diago het hom gistermiddag behoorlik buite weste geskrik toe ek so voor sy oë tussen die golwe verdwyn!” sê sy, nog steeds laggend. “Maar dis nog niks. U moes sy gesig gesien het, doma Maria. Hy was so bleek soos die dood, maar sy oë was soos twee donker vlamme. En in een stadium het dit vir my regtig gelyk of hy lus gehad het om my te skud dat my tande klap … In elk geval, ek belowe om nie ’n voet uit die motor te sit nie.”

“Nou goed, laat ons dan maar gaan,” gee die ou dame toe. “En as jy in die water wil val, Ronella, sorg asseblief net dat jy nie verdrink nie, want dan sal Diago mý dalk skud dat my tande klap!”

’n Heerlike lagbui is al antwoord wat sy van Ronelle kry. Toe trek die voertuig weg en weldra bereik hulle die strand. Hulle ry om die punt van die berg wat na aan die strand geleë is.

Toe trek Ronelle die motor uit die pad, in die skaduwee van ’n lowergroen boom. Hier maak sy die doos sjokolade oop, en geselsend verwyl hulle die oggend in die rustigheid van die natuur. Ronelle vertel die ou dame van haar verblyf in die buiteland en spreek dan haar misnoeë uit oor Diago se knaende nougesetheid wat haar lewe so streng aan bande lê.

“O, maar ek gaan hom vanmiddag ’n lieflike streep trek,” sê sy weer na ’n rukkie met oë wat lewe van pret en ondeundheid, en vertel die ou dame wat sy eintlik van plan is om daardie middag te doen.

“Ronella, jy sal maak dat Diego se kop binne ’n week grys is,” lag die ouer vrou. “In elk geval, ek sal maak of ek van niks weet nie. Ek weet net nie of jy sonder ’n skrobbering daarvan gaan afkom nie, kind.”

“Daardie risiko sal ek maar moet loop,” glimlag die meisie breed. “Trouens, ek begin al haas daaraan gewoond raak om deur Diago uitgetrap te word. En vanmiddag kan hy dit met plesier doen, want ek gaan hom doelbewus uittart. Dis net wanneer ek onskuldig in ’n ding beland, soos gistermiddag, dat ek my hartlik vervies as hy my die kop was.”

Hulle gesels nog ’n rukkie, toe begin die twee aanstaltes maak om terug te gaan.

Met hulle tuiskoms tref hulle Diago aan wat soos ’n ingehokte leeu op en neer in die klein sala – die klein sitkamer – stap, diep bekommerd omdat dit byna etenstyd is en hulle nog nie terug is nie.

Sy verligting is egter groot toe hulle die vertrek binnekom. Tog kan hy nie help nie om ietwat skerp te sê: “Ek het al net begin wonder of ek na julle moet gaan soek of nie –”

Maar Ronelle knip sy betoog daar en dan kort toe sy ewe ongeërg verklaar: “Dit sou onsinnig gewees het, señor, want Braca is gans te klein om in te verdwaal. En moet asseblief nie met so ’n verwytende blik na doma Maria kyk nie. Ek is die skuldige. Dit was op my voorstel dat ons ’n entjie gaan ry het. Ek sien ook eerlikwaar niks daarmee verkeerd nie; trouens, dit is omtrent al wat ’n mens hier op Braca kan doen om die lang ure mee te verwyl.”

Sy draai haar na die ou dame wat haar en Diago met ’n fyn glimlaggie betrag, en vra besorg: “Die ritjie het u nie dalk vermoei nie, doma Maria?”

Die aangesprokene skud haar hoof liggies, ontkennend: “Nie in die minste nie, kind. Gaan bêre gerus maar jou pakkies.”

Ronelle het ook net haar pakkies op die bed neergesit, haar hande gewas en haar voorkoms opgeknap, toe kondig die ghong middagete aan.

Aan tafel vertel Diego dat die goeie señor professor ’n uur gelede gebel het om te sê dat hy veilig in Johannesburg aangekom het, en dra dan sy groete oor aan Ronelle en doma Maria. Daarna gesels hulle oor die aand se dinee en die gaste wat genooi is.

Na ete begeef die ou dame haar na haar kamer vir die gebruiklike siësta.

Ronelle, wat nie aan ’n middagslapie gewoond is nie, verklee in ’n skouerlose somersrokkie en gaan sit dan voor haar kamer op die balkon waar sy met ’n tydskrif ontspan. Sy is nog besig om lusteloos deur die tydskrif te blaai, toe maak Diago sy verskyning op die balkon en sluit ongenooid by haar aan.

Hy kom langs haar staan en betrag haar ontblote wit rug en skouers asof hy besig is om die fyn tekstuur van haar sagte vel te bepaal.

“’n Oulike rokkie wat jy aanhet,” sê hy bedaard en neem dan regoor haar plaas. “Maar dit is natuurlik nie die soort rok wat dames hier in die publiek sal dra nie. In elk geval, jy is welkom om dit hier op die balkon te dra waar niemand jou kan sien nie.”

’n Sagte laggie ontglip Ronelle se lippe. Sy sit die tydskrif langs haar op die vloer neer, kyk die edelman reguit aan en sê tergerig: “Dit is dus vir my geoorloof om dit in jou teenwoordigheid te dra, Diago. Met ander woorde, dit skok jou nie.”

“My liewe Ronella,” sê hy met ’n sweem van ’n glimlaggie, “na al jou vreemde manewales behoort ek seker al skokvry te wees. Maar vir jou inligting: Dit is nie die eerste maal dat ek ’n dame in ’n skouerlose rokkie sien nie. Ek het die wêreld al deurreis, pequena, en alles gesien wat daar te siene is. Maar dit beteken nog nie dat ek my beginsels, gebruike en konvensies moet prysgee nie. En ten spyte van alles wat ek op my wêreldreise gesien het, gaan ek nogtans nie toelaat dat jy so skraps geklee in die publiek verskyn nie. So ’n pragtige, volmaakte liggaam is nie bedoel vir goedkoop vertoon nie, pequena, onthou dit altyd!”

Ronelle wil haar net weer vir Diago vererg. Maar dan dink sy aan die streep wat sy hom vanmiddag wil trek en haar ergernis is uitgebrand nog voordat dit behoorlik ontvlam het.

Die volgende twee uur sit hulle daar op die balkon en gesels oor al die besienswaardighede wat Rome bied. Dan vertel hy Ronelle weer van sy eeue oue kasteel in Lissabon, en dat hy gewoonlik ses maande in Lissabon woon en ses maande hier op Braca.

Halfvier kom Diago orent. Hy bedank Ronelle beleef vir die aangename middag wat hy in haar geselskap verwyl het en kondig dan aan dat hy nou gaan swem.

Ronelle wag net totdat hy in die swembad se kleedkamer verdwyn, toe kom sy ook orent en begeef haar na haar kamer.

’n Paar minute later verlaat sy haar kamer, netjies in ’n koel moulose rokkie, wat voor toeknoop, met ’n paar wit sandale.

Met haar hande diep in haar roksakke verberg, kuier sy sorgloos om die swembad waarin Diago nou lustig swem en begeef haar na die hoë duikplank. Ewe nonchalant bestyg sy die staaltrappies en toe sy eindelik bo-op die duikplank staan, betrag sy die gronde van die Quinta met innerlike verrukking.

Etlike sekondes staar die edelman bekommerd op na haar tenger figuurtjie daar bo-op die hoë duikplank. Hy waarsku haar om versigtig te wees en begin dan in aller yl in die rigting van die duikplank swem.

Ronelle wag net totdat hy begin swem. Toe bring sy ’n kanariegeel baaikeppie uit haar rok se sak te voorskyn en trek dit haastig oor haar kastaiingbruin hare. Ewe haastig knoop sy haar rok los en die volgende oomblik staan sy daar op die duikplank, uitgedos in die nuwe swempakkie wat sy die oggend gekoop het.

Sy wag totdat Diago byna reg onder die duikplank is, toe duik sy sierlik af en gly langs hom onder die water in. ’n Kort oomblik is die edelman skoon spraakloos van kommer, onrus en verbasing. Maar dan tref dit hom skielik dat sy tog nie van daardie hoë duikplank af sal duik indien sy nie ’n uithalerswemmer is nie, en die trek van kommer en onrus wyk dadelik van sy gelaat. Hy kom tot die slotsom dat hy in die vervolg enigiets van haar moet verwag, want sy sal beslis nie Ronelle wees as sy nie die mees onverwagte dinge aanvang nie …

Met donker oë waarin ’n glimlag skuil, fynkam hy die swembad om te sien waar haar geel figuurtjie onder die water beweeg.

Dog die volgende oomblik duik Ronelle onverwags soos ’n kurkprop hier langs hom op. Sy trek haar longe behaaglik vol lug, stroop die water met albei hande van haar gesig af en lag dat haar tande wit skitter in die son.

“Ek het jou vandag ’n lekker streep getrek, señor, het ek nie?” sê-vra sy laggend en reik met albei haar handjies uit na sy glinsterende, swart hoof, met die doel om dit onder die water te druk.

Diago snap egter gou wat haar plan is en vang haar twee handjies vas in syne. “Ronella,” betig hy haar met ’n breë glimlag, “wat op aarde gaan jy nie nog alles aanvang nie? Besef jy dat jy my in ’n uiters onbenydenswaardige posisie plaas deur saam met my hier in die swembad te verkeer?”

“O, ek het al gehoor dat jy gemengde swemmery ten strengste afkeur, Diago,” erken sy laggend. “Maar of jy daarvan hou of nie, ek is hier, en jy kan niks daaraan verander nie. Vereenselwig jou nou maar daarmee en kom, laat ons swem. Ek daag jou uit tot ’n wedloop na die ander kant van die swembad.”

Maar Diago skud sy kop en antwoord baie ernstig: “Ek vrees dit kan nie gebeur nie, pequena. Jy sal jou maar alleen hier in die water moet vermaak.”

“Bedoel jy dat jy nie langer gaan swem nie?” vra sy duidelik teleurgesteld.

Die edelman is bewus van die teleurstelling in haar stem, daarom verduidelik hy haastig: “As een van Braca se inwoners ons hier saam in die swembad sien, sal dit ’n ontsettende skandaal afgee, Ronella. ’n Vrou is slegs geoorloof om saam met ander dames of saam met haar eie man te swem.”

“Ek sal my nooit met julle eng leefwyse kan vereenselwig nie, Diago,” laat sy nog steeds teleurgesteld hoor, maar vervolg dan met ’n sweem van ’n glimlaggie: “Nou sal ek nie eens die geleentheid kry om jou kop ’n slag onder die water te druk nie.”

“Nee, ek vrees jy sal nie daardie geleentheid kry nie, pequena,” antwoord hy met ’n breë glimlag, los haar handjies en is oorgehaal om na die kant toe te swem. Dog die volgende oomblik sluit Ronelle se handjies netjies om sy hoof.

Maar Diago is te uitgeslape vir haar. Sy eie hande sluit om haar middeltjie en saam verdwyn hulle onder die water.

Na ’n paar oomblikke verskyn albei koppe weer langs mekaar bokant die water en Ronelle se laggie klink helder oor die watervlak toe sy prettig uitroep: “Wel, ek het toe die geleentheid gekry om jou kop onder die water te druk, Diago! Hoe lyk dit, sal ek weer probeer?” En met hierdie woorde gooi sy haar arms ewe onskuldig om sy nek in ’n poging om hom onder die water te druk.

Sy hou egter nie rekening met die warmbloedige Latyner se emosies nie, en nog minder dink sy daaraan dat so ’n intieme gebaar dalk wilde drange in hom mag losruk. Dis eers toe sy arms blitssnel om haar vou en hy haar styf, byna hartstogtelik teen hom vasdruk, dat dit haar meteens tref hoe intiem hulle op dié oomblik in mekaar se arms verkeer.

Met ’n warm blos op haar wange staar sy op na Diago se gelaat en die volgende oomblik kyk sy vas in sy vurige oë wat hartstogtelik in hare terugstaar. Sy voel hoe wild en onstuimig sy hart teen haar bors klop en dit noop haar om dadelik haar arms om sy nek te verwyder. Haar hande gly liggies af tot op sy skouers, maar hy laat haar nie los nie en nog steeds hou sy warm blik hare meesterlik gevange. Sy merk hoe ’n warboel emosies en onderdrukte drange in die donker dieptes van sy oë gloei. Toe, meteens, tref die onverbiddelike wete haar dat sy hierdie man met ’n ongeëwenaarde intensheid bemin.

’n Eienaardige lamheid kruip in haar bene op. Sy voel hopeloos van stryk, en steeds hou sy oë hare teen wil en dank gevange. Sy wil iets sê om die intieme oomblik te verbreek, maar sy weet nie wat om te sê nie. Dis kompleet asof haar brein verseg om te funksioneer. Die volgende oomblik is sy slegs bewus van Diago se lippe wat warm en hartstogtelik oor hare sluit en haar stroop van alle wil en terughoudendheid. Toe gee sy haarself willoos oor aan die drif van sy omhelsing en die vuur van sy lippe.

Na ’n paar sekondes, wat eeue kon gewees het, lig Diago eindelik sy hoof op. Met ’n tere glimlaggie kyk hy af in Ronelle se dromerige oë, wat openlik van haar liefde vir hom getuig. Toe verstar sy glimlag meteens, want uit die hoek van sy oog sien hy hoe doma Maria stadig in die rigting van die swembad aangestap kom.

“Pequena, dit is hemels om jou so in my arms te hou,” sê hy sag, “maar ek vrees ek sal jou nou moet laat gaan. Tia Maria is alreeds op pad om na jou te kom soek en sy gaan bitter geskok wees as sy ons hier saam in die swembad vind.”

Hy laat haar, ofskoon baie onwillig, vry uit sy arms, maar kelk haar gesiggie liefderyk tussen sy twee hande en steel eers weer ’n vlugtige soentjie voordat hy na die ander kant van die swembad toe swem.

Hy het ook net sy kamerjas en sandale aangetrek, toe verskyn die ou dame langs die swembad. “Ek het net vir jou die kabelgram gebring wat flussies gearriveer het, Diago,” sê sy, en hou die verseëlde koevert na hom uit. “En dan het ek julle twee natuurlik ook daaraan kom herinner dat dit lankal tyd was vir koffie.” Sy laat egter niks deurskemer dat sy flussies ’n ooggetuie was van hulle liefdevolle omhelsing nie, draai haar slegs na Ronelle en sê sag: “Kom, Ronella-kind, julle het nou lank genoeg geswem.”

Met ’n sweem van ’n glimlaggie kyk Diago sy tante aan en vra sag, agterdogtig: “Tia Maria, was u bewus van Ronelle se plan om vanmiddag saam met my te kom swem?”

“Wel, ek was nie juis daarvan bewus nie, maar ek het toevallig gesien toe sy van die duikplank af ingeduik het,” jok die ou dame sonder om te blik of te bloos. “En ek sien werklik niks daarmee verkeerd nie. Sy het immers saam met jou kom swem, Diago, en nie saam met ’n ander man nie!”

“Ek is ook ’n man, Tia –”

“Ag, kom nou, Diago,” val sy hom met ’n sfinksagtige glimlaggie in die rede. “Hoe op aarde gaan jy haar ooit die hof maak as ek julle nie die geleentheid daartoe gee nie?”

“Ek vrees dis ’n gevaarlike speletjie om ’n dame in ’n swembad die hof te maak –” begin hy weer.

Maar sy tante gee hom nie die geleentheid om meer te sê nie. “Voel jy dan nou spyt omdat jy haar omhels het?” vra sy met fyn spot in haar stem.

“Ja, in ’n mate voel ek nogal spyt omdat ek so haastig opgetree het,” antwoord Diago met ’n somber uitdrukking in sy andersins vurige, deurdringende oë, onderwyl sy blik Ronelle se geel figuurtjie peinsend volg, daar waar sy die trappies bestyg om haar rok en sandale wat bo-op die duikplank lê, te gaan haal. “Ronella is nog gans te oningelig, impulsief en eiesinnig om nou al die posisie as my Duquesa te beklee,” sê hy weer. “Ek vrees sy sal nog heelwat getem moet word voordat ek dit ooit sal kan waag om my liefde aan haar te verklaar. En nou mag my swye dalk by haar die indruk skep dat ek slegs met haar gevoelens gespeel het.”

“Dink jy jou gevoel vir haar is wederkerig?” wil die ou dame nou met ’n ernstige stem weet.

“Ek is heeltemal oortuig daarvan dat Ronelle my ook liefhet, Tia,” antwoord hy sag, peinsend.

“Nou ja, dan is daar absoluut niks om ongelukkig oor te voel nie,” laat sy ou tante met ’n breë glimlag hoor. “Toon haar maar net op alle maniere dat jy haar nie ongeneë is nie en wees geduldig met haar. As sy jou ook liefhet, sal sy vanself leer om haar by ons gebruike aan te pas sonder dat jy haar hoef te tem … A, hier is Ronella nou ook. Gaan verklee julle nou gou. Koffie sal aanstons op die voorstoep bedien word.”

“Het u gepraat van koffie, doma Maria?” wil Ronelle met ’n stralende glimlaggie weet toe sy by hulle aansluit.

“Ja, ek het gesê julle moet nou gaan verklee aangesien koffie aanstons op die voorstoep bedien sal word,” herhaal die ouer vrou.

Ronelle laat ook nie op haar wag nie, maak haastig verskoning en begeef haar in aller yl na haar kamer.

Twintig minute later stap sy weer op die voorstoep uit, netjies in ’n geblomde somerstabberd en wit laehakskoentjies geklee. Sy het pas gesit, toe sluit Diago by hulle aan en neem langs haar plaas.

Onderwyl hulle koffie geniet, kondig die edelman aan dat die kabelgram van sy tante afkomstig is, waarin sy hom in kennis stel dat hy hulle eerskomende Maandag op die lughawe moet gaan haal.

Die aankondiging tref Ronelle soos ’n weerligstraal. In haar roes van geluk daar in die swembad het sy totaal van Diago se voorgenome huwelik met sy niggie vergeet … En nou arriveer sy aanstaande bruid Maandag in Beira!

Ek was inderdaad ’n swakkeling en ’n gek om my so volkome aan sy omhelsing oor te gee, dink sy met ’n ligte blos van vernedering. Maar dan troos sy haar weer met die wete dat sý omhelsing ook warm en hartstogtelik was, en dat die hele episode maklik sal kan deurgaan as ’n ligte flirtasie … Ja, ek moet hom net laat glo dat dit ’n ligte flirtasie was … Maar hoe op aarde gaan ek hom dit aan die verstand bring nadat ek my gevoel so openlik aan hom getoon het?

Ronelle is nog ernstig besig om die saak te bepeins, toe hoor sy Diago ietwat lighartig sê: “Ek vrees julle twee dames sal nou moet aanstaltes maak om te gaan verklee. Die proses neem julle mos gewoonlik ure om af te handel en ek wil graag hê dat julle gereed moet wees wanneer die gaste begin arriveer.”

Ronelle laat nie op haar wag nie en begeef haar onverwyld na haar kamer; trouens, dit is vir haar ’n groot verligting om ’n uur of wat alleen te wees met die pynlike probleem wat so eensklaps in haar vreedsame lewe opgeduik het. Nooit het sy kon droom dat sy so hopeloos verlief sou raak nie! En noudat dit wel gebeur het, is haar liefde uit die staanspoor tot vernietiging gedoem, want die man van haar keuse behoort reeds aan iemand anders …!

Met ’n sug wat diep uit ’n gefolterde hart kom, stoot sy die kamerdeur agter haar toe en begin verklee vir die adellike dinee wat sy aanstons moet bywoon. Alles geskied werktuiglik, want binne-in Ronelle heers daar nou so ’n ontsettende verwarring en botsing van emosies dat sy nie in staat is om ’n gedagte te skenk aan wat sy doen nie. Sy het nooit geweet dat die liefde soveel pyn kan meebring nie!

Tog is sy betyds geklee. In die sagte, geel dineetabberd – met ’n goue draad in die materiaal geweef – goudkleurige hoëhakskoentjies, ’n dubbele string pêrels om haar slanke hals en pêreloorkrabbetjies aan haar rosige oorbelletjies, lyk Ronelle inderdaad soos ’n wonderskone godin. Uit die hangkas haal sy ’n goudkleurige mantilla en drapeer dit versigtig oor haar kastaiingbruin hare soos wat doma Maria haar die oggend gewys het.

Sonder veel belangstelling betrag sy haar voorkoms in die spieël. Toe draai sy om en begeef haar tydsaam na die groot sala, waar doma Maria en Diago alreeds op haar wag.

Laasgenoemde kom dadelik orent toe Ronelle die groot, luisterryke vertrek binnetree, en slegs ’n kort oomblik ontmoet hulle oë mekaar.

Toe wend Ronelle haar na die ou dame en vra gemaak lighartig: “Hoe lyk dit – het ek darem hierdie uitheemse hooftooisel reg gedrapeer?”

Dog voordat die ou dame iets kan sê, antwoord Diago haar vraag. “Jy het dit pragtig gedoen, pequena,” sê hy met ’n gerusstellende glimlaggie, neem haar arm en lei haar soos ’n kosbare kleinood na ’n bankie wat met ligblou satyn oorgetrek is.

By die bankie hou hy haar arm nog ’n oomblikkie vas, kyk diep in haar ietwat weemoedige oë en vervolg baie ernstig: “Veroorloof my om te sê dat jy vanaand die skoonste onder alle vroue is, pequena, en dat dit vir my ’n eer is om jou aan my familie voor te stel.”

Sy bedank hom met geforseerde lighartigheid en besef dat lighartigheid, hoewel geforseer, die enigste skans is waarmee sy die knaende pyn in haar hart vir die wêreld sal kan verbloem.

Sy neem op die bankie plaas en is meteens intens bewus van Diago se nabyheid toe hy so ewe langs haar kom sit en ongeërg ’n geselsie met doma Maria aanknoop. Hy lyk vanaand weer hartbrekend aantreklik in sy foutlose dineepak, wat die hand van ’n eersteklas snyer verraai.

Hulle wag nie lank nie, toe begin die gaste die een na die ander arriveer. Ronelle word aan elkeen voorgestel. Almal is baie vriendelik en beleef teenoor die goeie señor professor se beeldskone dogter, wie se vaardigheid met die orrel al wyd en syd bekend is.

Party van die gaste is in ’n redelike mate vertroud met die Engelse taal, terwyl ander slegs ’n paar geradbraakte woorde kan besig. Maar daaraan steur Ronelle haar nie veel nie. Al wat vir haar nog altyd van die grootste belang was, is die mens se persoonlikheid. En dit is inderdaad ’n welopgevoede, vriendelike en gesellige groep mense.

Diago se neef, dokter Armando de La Vega, skaar hom ongenooid aan Ronelle se sy en begin heel opgewek met haar gesels oor haar beroemde vader vir wie hy groot agting koester. Dan wil hy weer weet of sy darem van die lewe hier op Braca hou, en waar sy haar al die jare versteek het dat hy haar dan nou eers ontmoet!

Dit is baie duidelik dat Armando met die eerste oogopslag hopeloos verlief geraak het op die aanvallige groenoognooi. Ronelle ken al die tekens en voel bitter jammer vir die man. Sy weet wat dit beteken om op die verkeerde persoon verlief te wees. Dog sy forseer haar om mee te doen aan sy vrolike opgewektheid en slaag nogal goed daarin.

Toe die gaste later voltallig is, word daar skemerkelkies bedien en almal lag en gesels vrolik. Waardig, soos altyd, kuier Diago tussen sy gaste rond en voer kort, vriendelike gesprekkies met elkeen, totdat hy eindelik by Ronelle kom.

“So,” sê hy met ’n vriendelike glimlaggie aan Armando, en neem sonder meer aan die ander kant van die nooientjie plaas. “Dan is dit die goeie Armando wat die skone Ronella se geselskap geniet.” Hy draai hom na die meisie, kyk diep in haar oë en sê met ’n baie teer stem: “Ek het jou bekoorlike nabyheid gemis, pequena. Ek beny Armando die genot wat hy in jou geselskap gesmaak het. Jy lyk sprankelend, pequena … Waaroor het die geselskap gegaan?”

Ronelle wil hom net sê dat hulle oor haar vader gesels het, maar Armando spring haar voor deur met ’n glimlag en in Portugees te sê: “Kom nou, Diago. Ek is natuurlik volkome bewus daarvan dat jy tydens haar vader se afwesigheid die jongdame se voog is. Maar ek glo nie dit gee jou die reg om elke oomblik te wil weet waaroor sy gesels nie?”

Diago kyk die jonger man etlike tellings stil aan. Dan plooi ’n glimlaggie stadig om sy lippe toe hy ietwat geheimsinnig en ook in Portugees antwoord: “Jy is reg, my liewe Armando, ek is haar voog tydens haar vader se afwesigheid. Maar glo my, ek koester veel hoër aspirasies as slegs tydelike voogdyskap. En dit is vir my baie duidelik dat ek jou reeds te lank in haar genotvolle geselskap gelaat het.”

Hy kom orent, hou sy hand na Ronelle uit en sê sag en vriendelik: “Kom, pequena, tia Maria voel al onrustig omdat jy so lank in die goeie Armando se geselskap verkeer.”

Dis vir Ronelle byna ’n verligting om eindelik van die spraaksame Armando ontslae te wees. ’n Paar dae gelede sou sy die man se geselskap verwelkom het. Maar nou het dinge ’n ander wending geneem, wat haar die lus vir mans se geselskap totaal ontneem het.

Sy is intens bewus van Diago se aanraking toe hy haar arm vertroulik deur syne trek, haar hand ’n sagte drukkie gee en haar toe na die bankie lei waar doma Maria gesellig met ’n ander ou dame sit en gesels.

Talle oë is op hulle gevestig tot hulle oor die lengte van die vertrek beweeg en dit laat ’n ligte blos van verleentheid in Ronelle se wange opstyg.

Diago moes haar verleentheid opgemerk het, want hy kyk haar met ’n sweem van ’n glimlaggie aan en sê sag: “Dit lyk of jy vanaand nog baie harte gaan breek, pequena. Maar moet jou nie aan die jongmans se vererende blikke steur nie. Ek en tia Maria sal sorg dat hulle jou nie lastig val nie. In elk geval, nou sien jy self waarom dit so noodsaaklik is dat ’n jongdame ’n duenna moet hê. En jy, my liewe Ronella, behoort twee te hê, want jou skoonheid is inderdaad onweerstaanbaar.”

’n Sagte laggie ontglip Ronelle se lippe. Sy kyk Diago aan met oë wat vonkel van ondeundheid en sê dan ietwat tergerig: “Ek het mos twee duennas – jy en doma Maria. Of het jy vergeet dat jy my so pas van señor Armando gered het?”

Hulle begin albei saggies lag en terselfdertyd kondig die ghong aandete aan.

“Aangesien jy vanaand die eregas is, pequena,” sê Diago, “sal ek myself die eer vergun om jou na die eetkamer te vergesel.” Hierna spreek hy die gaste in hul eie taal aan en daarna begeef almal hulle na die eetkamer, waar ’n lang tafel luisterryk gedek is met ’n weelderige wit kanttafeldoek, kosbare silwerware, duur porselein en delikate, geslypte glasware. Alles getuig van ongekende luister.

Die maaltyd verloop gesellig. Tog is Ronelle bly toe hulle eindelik terugkeer na die groot sala, want sy vind die uitheemse hooftooisel uiters hinderlik. Sy weet nie of sy ooit aan ’n mantilla gewoond sal raak nie. Sy is in elk geval nie van plan om dit die hele aand te dra nie.

In die groot sala lei Diago haar weer na ’n klein bankie en neem dan langs haar plaas. Toe word hulle met koffie bedien.

Ronelle het haar die hele aand baie stemmig en op haar plek gedra. Maar toe sy die leë koppie langs haar op ’n geleentheidstafeltjie neersit, besluit sy dat die mantilla nou sy doel gedien het, en verwyder dit sonder meer deur dit soos ’n stola om haar skouers te hang; onbewus van die gaste se geamuseerde blikke wat op haar rus.

So, dink sy tevrede, nou is ek eindelik ontslae van die lastige ding. Dit voel ook sommer baie koeler! Dog die volgende oomblik is sy slegs bewus van Diago se hande wat die kant-hooftooisel weer oor haar glinsterende hare drapeer.

“Die gaste het nog nie vertrek nie, pequena,” hoor sy hom bedaard langs haar sê.

Sy kyk hom aan en merk die geamuseerde glimlaggie om sy mond.

“Regtig, hierdie mantilla-draery,” verklaar sy nadruklik, “is ’n gewoonte wat jy moet afskaf, Diago.”

“Afskaf!” sê hy met ’n skewe glimlaggie. “Nooit, pequena. Jy lyk gans te bekoorlik met ’n mantilla. Ek wens jy wil dit bedags ook dra.’

“Wel, regtig, jy is die onmoontlikste mens wat ek nog ooit ontmoet het, señor Duque,” glimlag sy goedig. “Maar jy moenie dink hierdie vleiery van jou gaan my beweeg om bedags ook ’n mantilla te dra nie. Ek is absoluut immuun teen vleitaal, weet jy?”

“Ek vlei jou glad nie, pequena; trouens, ek het nog nooit probeer om jou te vlei nie,” verklaar hy nou weer ernstig. “As ek sê jy lyk wonderskoon en bekoorlik, bedoel ek dit. Maar sê my, gaan jy ons aanstons op ’n paar orrelstukke vergas?”

“Met hierdie ding,” en sy loer uit die hoek van haar oog na die goudkleurige hooftooisel wat haar wang saggies streel, “oor my kop?”

“Presies, met daardie ding oor jou kop, pequena,” glimlag hy goedig.

“Wel, ek sal probeer,” belowe sy halfhartig. “Maar ek waarsku jou: As hierdie stuk kant lastig raak, verwyder ek dit oombliklik.”

’n Breë glimlag is al antwoord wat sy van hom kry. Toe kondig hy aan dat die goeie señorita Dekker hulle nou op ’n paar orrelstukke gaan vergas.

Na die aankondiging verdaag almal na die ruim musiekkamer.

Ronelle voel glad nie in haar element nie. Sy het nog nooit die orrel met ’n mantilla en ’n lang dineerok aan bespeel nie en sy weet nie so mooi hoe dit met die voetwerk sal gaan nie. Maar sy neem nietemin haar plek in voor die instrument, skuif die panele weg en trek die sleutels oop.

Iemand moes haar geliefkoosde stukke bo-op die pak musiekboeke geplaas het, want die eerste musiekblad wat sy optel, is “Soewenier in F”. En toe sy opkyk na Diago, wat nou langs haar staan, weet sy sommer dat dit sy werk is.

Sy plaas die musiekblad op die bladhouer en begin dan met intense gevoel speel. Sy raak so weggevoer deur die goddelike klanke van die aangrypende komposisie dat sy terstond van die mantilla vergeet. Dis eers toe sy die laaste noot van die slotakkoord druk, dat sy weer bewus is van die ragfyn kant hier teen haar wang.

Die applous is so oorweldigend dat sy Diago, wat nou liggies teen die instrument aanleun, effens radeloos aankyk. Maar hy glimlag slegs bemoedigend en plaas Händel se “Largo” op die bladhouer.

“Jy het nou met jou meesterlike spel almal se harte verower, pequena,” voeg hy haar sag toe. “En as jy nog drie komposisies lewer, sal jy vir ewig in hulle harte lewe.”

Diago was soos gewoonlik reg, want toe sy na die vierde komposisie orent kom, word sy byna oorweldig deur die lofbetuigings.

Armando sweer hoog en laag dat hy nog nooit sulke aangrypende musiek gehoor het nie.

Een van die dametjies nader haar selfs om gevorderde lesse aangesien sy alreeds die lisensiaat-eksamen geslaag het en nou, nadat sy Ronelle se spel gehoor het, graag met haar musiekstudie sal wil voortgaan.

’n Paar van die ouer dames se oë toon selfs tekens dat hulle vroeër ’n paar trane gestort het, en Ronelle raai dat die hartroerende “Soewenier in F” vir daardie trane verantwoordelik was.

Die aand is ’n groot sukses en toe die gaste ’n uur later groet en vertrek, het Ronelle talle uitnodigings ontvang. Sy wag ook net totdat die laaste gas vertrek, toe raak sy onverwyld van haar deftige hooftooisel ontslae.

“Nou gaan ek eers buite in die tuin vars lug skep,” kondig sy aan toe die ou dame begin aanstaltes maak om bed toe te gaan.

“Maar jy kan mos nie alleen in die donker tuin gaan stap nie, Ronella!” maak doma Maria dadelik beswaar. “Nee, kom stap liewer saam met my na my kamer toe en vertel my of jy Marisa met haar musiek gaan help.”

“Ek sal ook graag wil hoor,” kom dit van Diago.

“Ek vrees ek kan nog niks sê nie, aangesien ek nog nie oor die saak besluit het nie,” verklaar Ronelle bedaard. “Eerstens is ek slegs ’n tydelike inwoner van Braca, dus sal ’n paar weke se lesse haar nie veel baat nie. En tweedens wil ek haar eers hoor speel voordat ek enige besluite neem.”

“Jy sal Marisa ’n baie groot guns bewys as jy so vriendelik sal wees om haar verder lesse te gee,” laat Diago weer hoor. “Noudat sy jou hoor speel het, is sy baie ernstig om met haar musiek voort te gaan en vir gevorderde lesse sal sy noodgedwonge na Lissabon moet gaan, wat vir haar natuurlik heeltemal onmoontlik is.”

“Ek kan glad nie insien waarom dit vir haar so onmoontlik is om in Lissabon te gaan studeer nie,” spreek Ronelle haar eerlike mening uit. “Marisa se ouers lyk welaf en kan dit tog seker bekostig om hulle dogter na Lissabon te stuur.”

Maar dan hoor sy doma Maria sê: “Om die eenvoudige rede dat Marisa se moeder haar nie vir ’n jaar of twee in Lissabon kan gaan vestig nie, Ronella. En sonder haar moeder as duenna mag sy natuurlik nie gaan nie.”

“Wel, ek moet sê, Marisa het al my simpatie. Die lewe van ’n jong Portugese meisie is beslis gebonde. Ek dank die hemel dat ek ’n Suid-Afrikaanse meisie is en dus sonder my moeder as geleide kon gaan studeer het. Maar ek sou dit nogtans nie geduld het nie, al was ek ook in Marisa se posisie. Ek sou tot die bitter einde geveg het om my ideale verwesenlik te sien.”

“As jy in die tradisie van Portugese edelliede opgevoed was, pequena,” glimlag Diago meewarig, “sou jy sonder twyfel jou ouers se leiding gevolg het, presies soos Marisa. Maar dit nou daar gelaat. Wat op die oomblik wel ter sprake is, is dat ek jou môre na Marisa sal neem sodat sy die klavier vir jou kan bespeel.”

“Maar ek sal slegs ’n paar weke nog op Braca wees –”

“In daardie paar weke, my liewe Ronella,” val Diago haar sag in die rede, “kan jy met ’n gewillige en ywerige leerling wondere verrig.”

“Ek sal môre besluit,” is al antwoord wat sy hom gee. Daarna sê sy en die ou dame nag en begeef hulle na hulle kamers.

Susanna M Lingua Gunstelinge 6

Подняться наверх