Читать книгу Susanna M Lingua Gunstelinge 6 - Susanna M Lingua - Страница 5

2

Оглавление

Met ’n vrolike gebaar wuif Ronelle vir haar vader toe hy voor die deur wegtrek en weldra in die straat verdwyn. Langsaam kuier sy onder die bome deur na die hek toe en merk tot haar verbasing dat hulle huis aan die end van die straat geleë is, heeltemal weg van die ander huise en slegs ’n paar honderd meter van die strand af.

Werktuiglik kyk sy op na die rantjie agter die dorp, en ja, daar, soos ’n wag oor die dorp en die baai, troon die indrukwekkende, fabelagtige kasteel – ’n stille getuie van menige lewensdrama wat hom seker al op hierdie eeue oue dorpie afgespeel het.

Haar blik skuif na die linkerkant van haar nuwe tuiste waar geen huise te sien is nie. Sy gewaar ’n skilderagtige berg wat dig met bome en bosse begroei is en wat seker ’n kilometer en ’n half van die dorp af geleë is. Dit lyk vir haar byna asof dit ’n rivier of ’n spruit is wat daar aan die voet van die berg verbyvloei … Sy moet tog onthou om haar vader daarna te vra.

Etlike minute betrag Ronelle die skilderagtige omgewing en dan besluit sy om maar solank uit te pak en haar tuis te maak. Sy voel ook dat sy voorlopig genoeg gehad het van hierdie ongewone subtropiese son. Haar hare lyk nie slegs op die oomblik asof dit vlamgevat het nie, dit voel ook asof dit aan die brand is.

In die huis begin sy in aller yl uitpak. Haar kamer is ruim en ofskoon dit nie juis weelderig gemeubileer is nie, is elke meubelstuk massief, byna antiek, dog besonder gerieflik. Alles is ook baie skoon en netjies.

Toe Ronelle die uitpakkery eindelik afgehandel het, gaan staan sy ’n wyle voor haar kamervenster om die omgewing aan die regterkant van die huis te betrag. Wat sy aanskou, is ’n wildernis van bloeiende frangipani, oleanders, bougainvilleas, jasmyn en nog talle ander tropiese plante wat aan haar totaal onbekend is. Tussen hierdie kleurryke woud deur merk sy ’n wit dubbelverdiepinghuis op. Maar alles is vreemd stil om die huis. Dit lyk byna asof daar geen lewe in daardie huis is nie. Toe val dit haar meteens by dat die Portugese gewoonlik hierdie tyd van die dag hulle gebruiklike siësta geniet.

Dis waar, dink sy met ’n geamuseerde vonkeling in haar lewendige oë, al wat leef en asemhaal slaap blykbaar nou … Reken, om op so ’n lekker sonnige dag te lê en slaap asof hulle niks anders te doen het nie! Regtig, hulle leef darem vreeslik gemaklik. As sy net geweet het waar daardie saal geleë is, het sy nou lekker op hulle ou orreltjie gaan litte losmaak … Seker ’n Middeleeuse ou orreltjie soos al die meubels in hierdie huis!

Saggies begin sy ’n aria uit Die Fledermaus neurie en begeef haar dan na die badkamer om ’n koue stortbad te neem. Sy is net klaar gebad en geklee toe een van die twee vroue wat die huishouding waarneem aan haar kamerdeur klop.

“Binne!” roep sy op Engels, want dit is vir haar nou al baie duidelik dat die inwoners van hierdie geweste geen Afrikaans verstaan nie – slegs hulle eie taal, Portugees, en ’n bietjie Engels.

Die deur gaan oop en Lena, die moeder van Sofie, wat in die huis werk, tree die vertrek binne met die teegerei en plaas die skinkbord versigtig op die kleedtafel neer. Toe haal sy ’n verseëlde koevert uit haar wit voorskoot se sak en gee dit aan Ronelle.

“Die Duque van die Quinta het dit vir juffrou gestuur,” verduidelik sy beleef. “En juffrou moet net sê as daar iets is wat ek of Sofie vir juffrou kan doen.”

Ronelle bedank haar vriendelik en sê dat hulle die volgende dag vir haar ’n paar tabberds kan stryk aangesien alles so verkreukel is dat geen mens dit kan aantrek nie. Toe verlaat Lena weer die kamer.

Ronelle begin een van Johann Strauss se walse saggies deur haar tande fluit, onderwyl sy die wit koevert met die De Velira Cervantes-embleem agterop noukeurig betrag.

Señorita Ronella Dekker, lees sy haar eie naam op die koevert en wonder so tussen Johann Strauss se wals deur hoe die Duque weet dat haar naam Ronelle is, en waarom die man ’n a in plaas van die gebruiklike e agter aanlas.

Dis natuurlik die saal se sleutel, besluit sy en skeur dan die koevert oop. Dog saam met die sleutel is daar ’n briefie in die koevert. Sy vou die enkele velletjie oop en begin die volgende lees:

Geagte señorita

Dit spyt my werklik dat ek nie my woord aan u gestand kan doen, deur u môreoggend persoonlik na die saal te vergesel nie. Ek vrees dringende sake vereis my aandag in die binneland; derhalwe sal ek nie betyds terug wees om ons afspraak na te kom nie.

Alles is egter met die opsigter van die saal vir u gereël en die goeie señor professor het my verseker dat hy u môreoggend persoonlik na die saal sal vergesel.

My beste wense vergesel hierdie skrywe … Adeus, señorita,

U dienswillige

Diago de Velira Cervantes

Hm, nie ’n slegte handskrif nie … nogal sterk en manlik, som sy die edelman se netjiese handskrif op onderwyl sy weer saggies deur haar tande fluit. Ek wonder of hy regtig dringende sake in die binneland het, dink sy. Ek sal eerder sê hy voel nog steeds die herrie in vir my omdat ek vanoggend sy geliefde Braca so onheilig verkleineer het … Ja-nee, hy gaan my daardie sondetjie nie maklik vergewe nie.

Ronelle haal haar fyn skouertjies liggies op asof sy met hierdie gebaar te kenne wil gee dat die Duque se gevoelens haar nie juis diep raak nie. Dan steek sy die briefie terug in die koevert en bêre die sleutel sorgvuldig in haar handsak. Daarna skink sy vir haar ’n koppie tee, ledig die inhoud en vly haar met ’n tydskrif op die bed neer.

Die son is byna onder toe professor Dekker se ligblou Cadillac eindelik voor die deur stilhou. Hy tref Ronelle op die stoep aan, groet haar en neem op die rusbank plaas. Toe wil hy belangstellend weet wat sy gedurende die middag met haarself aangevang het.

“Ek het eers gebad, toe tee gedrink en toe op die bed gaan lê en lees,” vertel sy. “En … o ja, byna vergeet ek. Ek het ’n briefie van die Duque ontvang waarin hy my in kennis stel dat hy my ongelukkig nie môreoggend na die saal kan vergesel nie. Alles is egter vir my gereël en die goeie señor professor sal my môreoggend persoonlik daarheen vergesel.”

“Ja, hy het my by die hospitaal gebel en die omstandighede aan my verduidelik. Daarna moes ek hom natuurlik plegtig belowe dat ek jou môreoggend persoonlik na die saal vergesel.”

“En toe het my ou paps maar ewe mak ingestem om sy wilde dogter na die saal te vergesel,” glimlag sy met fyn spot. “Wel, ek moet sê, sover ek weet, is hierdie vername Duque die eerste persoon wat dit nog ooit reggekry het om my ou paps om sy pinkie te draai!”

“Maar vervlaks, die man het my geen keuse gelaat nie,” verdedig die oubaas sy handelswyse. “Ek het hom aanvanklik gesê dat ek jou vanmiddag sal gaan wys waar die saal is, dan kan jy môreoggend self jou weg daarheen vind. Maar toe moes jy die kêrel hoor! Op ’n uiters beleefde en beskaafde wyse het hy my vertel dat hy niks van ons Suid-Afrikaanse gebruike hou nie, want dit is absoluut ongehoord dat ’n jong dame alleen op straat rondkuier. En as ek dan regtig te besig is om jou te vergesel, sal hy sy sekretaris versoek om jou môreoggend na die saal te neem … Nou ja, ek kon kwalik vir die man sê hy moet gaan doppies blaas, en nog minder kon ek toelaat dat hy om ons ontwil so baie moeite aangaan. Gevolglik moes ek maar toesien om jou self te neem. Maar señor Diago moenie dink ek het tyd om jou elke dag na die saal te vergesel nie! Jy is mos darem al groot genoeg om na jouself te kyk. Trouens, jy het dit oor en oor bewys gedurende die twee jaar wat jy in Rome vertoef het. En as hy jou ken soos ek jou ken, sal hy sy betroubare sekretaris maar voorlopig voltyds by ons moet laat inwoon. Gelukkig weet hy nog nie hoe ’n rustelose siel en rondloper jy werklik is nie.”

“Toemaar, Pappie, moenie jou oor die Duque se preutsheid en my rondlopery ontstel nie. Stuur hom in die vervolg na my. Ek sal hom op sy plek sit en hom daar hou,” paai sy met ’n besliste stem en ’n vonkeling in haar oë wat vir die Duque niks goeds voorspel nie.

Maar die oubaas wil niks weet nie. “Dis baie maklik vir jou om te sê jy sal hom op sy plek sit en hom daar hou,” wys hy haar goedig tereg. “Maar wat jy blykbaar vergeet, is dat ek jou vader is en dat die man my dit ernstig kwalik neem omdat ek jou nie soos ’n skaduwee bybly nie –”

“Maar, Pappie, daarvoor het ek ook ’n oplossing,” val sy hom sameswerend en met ’n sfinksagtige glimlaggie in die rede. “’n Mens kan tog nie bedags by die hospitaal wees en terselfdertyd weet wat by sy huis aangaan nie. En as ’n man dan nog … e … wel, ’n ongehoorsame dogter het, kan hy kwalik vir haar dade aanspreeklik gehou word, nie waar nie? Ek herhaal, my ou paps, laat die Duque maar aan my oor. As hy nie van my rondlopery hou nie, sal hy en sy sekretaris my beurtelings moet vergesel. En ek is oortuig daarvan dat hulle nie langer as ’n week met my sal kan tred hou nie. Dan sal hy hopelik sy fout insien en hom nie verder aan my kom en gaan steur nie … Dis waar, ek gaan die man nog laat les opsê! Dit is nie altemit nie.”

Ronelle verheug haar by voorbaat as sy dink hoe lekker sy die konserwatiewe edelman gaan laat ronddraf. Maar waarmee sy nie rekening hou nie, is dat genoemde edelman geen swakkeling is nie, maar ’n man uit een stuk en dat sý moontlik die een is wat gaan les opsê!

Sy merk nie die skeptiese glimlag om haar vader se mond nie en vrolik, geselsend skink sy vir hulle twee toe die diensmeisie die teegerei langs haar op ’n tafeltjie neersit.

Onderwyl hulle tee drink, gesels hulle oor die navorsingswerk waarmee haar vader tans besig is en sy hoor dat hy soms Johannesburg toe gaan vir spesiale toetse en ontledings wat nie hier gedoen kan word nie aangesien Braca nie oor ’n laboratorium beskik nie. Sy is ook verbaas om te hoor dat hulle nog etlike maande hier op Braca sal moet vertoef.

“Maande …!” roep sy verbaas uit. “Maar ek sal my morsdood verveel op hierdie dooie ou plekkie, Pappie!”

“Genugtig, Ronelle, jy moenie so neerhalend van Braca praat nie, kind,” vermaan die vader weer goedig. “As jy die dorp en sy inwoners eers leer ken het, sal jy nogal van die plek hou. Die natuurskoon is onoortreflik en die mense besonder vriendelik en gesellig. Jy moet net weet hóé om met hulle om te gaan. En as jy graag hulle guns wil verwerf, my ou dogter, moet jy jou paslik by hulle gebruike bepaal –”

“En daarby bedoel my ou paps natuurlik dat ek sonder versuim vir my ’n duenna moet aanskaf wat my hand elke oomblik van die dag kan vashou,” val sy hom laggend, skertsend in die rede.

“Ek dink dit is nogal nie ’n slegte idee nie,” terg hy saam.

“Berge val op my, heuwels bedek my … Kom, Pappie, laat ons liewer strand toe stap. En laat my asseblief vroegtydig weet wanneer Pappie nou heeltemal verportugees het, sodat ek dadelik Johannesburg toe kan laat vat!”

Vrolik, skertsend stap vader en dogter ’n paar minute later af strand toe, onbewus van die bure se oë wat hulle belangstellend volg.

Die hele gemeenskap ken die professor al en almal koester groot respek en agting vir die besadigde Suid-Afrikaner. Nou bewonder hulle weer sy beeldskone dogter wat vanoggend uit die buiteland gearriveer het, waar sy twee jaar studeer het. Trouens, hulle weet reeds alles in verband met Ronelle, want in so ’n klein gemeenskappie versprei nuus gewoonlik soos ’n veldbrand. Selfs die feit dat Ronelle vrye toegang tot die saal se orrel het, is reeds aan die meeste inwoners bekend.

Die gety is vinnig besig om in te kom. ’n Koel, verfrissende bries stoot van die see se kant af oor die dorp.

“Ek sal darem seker elke oggend hier kan kom swem, Pappie, of swem die mense in hierdie geweste nie?” sê-vra Ronelle onderwyl haar oë verlangend tuur oor die wit kruine van die golwe, tot daar gunter waar ’n skip stadig op die horison verbyvaar.

“O, hulle swem ook,” antwoord die vader bedaard, “maar nie hier nie. Die kleedkamer is ’n entjie hoër op, maar dit wil my voorkom of die strand slegs ’n swemplek is vir mans. Trouens, ek het nog nooit ’n enkele vrou hier in die water gesien nie en ek dink dat ’n Portugese vrou stellig nie toegelaat word om in die openbaar te swem nie.”

Hierdie verklaring van haar vader laat Ronelle ’n rukkie met ’n ernstige frons nadink.

Dan sê sy meteens ietwat weerbarstig: “Wel, ek is nie ’n Portugese dame nie en ek gaan my baie beslis nie deur hulle konvensies en gebruike aan bande laat lê nie. Ek kom môreoggend swem. En as hierdie ou nasie nie gewoond is aan ’n vrou in hulle midde nie – ek bedoel nou wanneer hulle swem – sal hulle van môre af maar mooitjies daaraan gewoond moet raak.”

“Wel, ek weet nie wat die Duque daarvan sal sê nie, en ’n mens wil ook nie onnodig moeilikheid veroorsaak nie. Ek stel dus voor dat jy liewer soggens na die mans hier kom swem, en moet tog in hemelsnaam nie hier in een van jou talle bikini-swempakkies kom swem nie. Ek glo nie die Duque sal daarmee genoeë neem nie.”

“Ag, toggie, al weer die Duque. Die man gee my ’n pyn,” laat sy ietwat gesteurd hoor en trek haar mond op ’n plooi.

“Of hy jou ’n pyn gee of nié, ou dogter,” help die oubaas haar geduldig reg, “die man bly heerser van sy koninkryk en sy woord is wet in hierdie kontrei. As jy my raad wil volg, sal jy jou sonder argumente by hierdie mense se gebruike bepaal. Ek sê jou eerlik, Ronelle, ek wil nie graag met die Duque oorhoops lê nie. Hy lyk inderdaad of hy onverantwoordelik kan raak as ’n mens hom werklik die hoenders in maak, sy waardigheid en fynbeskaafdheid ten spyt. Hierdie Latyners is ’n warmbloedige nasie wat nie vir die duiwel sal stuit nie, en die Duque is ’n perfekte voorbeeld. Ek het al self gesien dat hy geen ongerymdheid in hierdie gemeenskap duld nie. Maar kom, ek dink ons moet liewer nou teruggaan. Dit word laat en ek wil nog voor ete die een en ander afhandel.”

Daardie aand kruip Ronelle maar vroeg in die bed omdat haar vader na ete in sy studeerkamer gaan werk het. Tot laat lê sy aan die Duque en al sy eienaardighede en dink, en sy wonder selfs ’n oomblik of sy haar nie maar om haar vader se ontwil soos ’n kluisenares moet gedra nie. Sy sal nie graag wil sien dat haar vader weens haar toedoen by die preutse man in die moeilikheid beland nie. En tog kan sy haar ook nie met ’n kluisenaarsbestaan vereenselwig nie … Nee, die man sal maar net daaraan gewoond moet raak dat sy anders is as die dames van hier rond en dat sy aan ’n vrye en ongebonde lewe gewoond is.

Slaap oorweldig haar eindelik en toe sy die volgende oggend ontwaak, toon haar polshorlosie dat dit al byna tienuur is.

“O, wêreld, Pappie sal aanstons hier wees om my na die saal te neem, en hier lê ek nog steeds in die vere!” roep sy gedemp uit en vlieg uit die bed. “Mensig, dat ek sommer die eerste dag so skandelik verslaap,” gesels sy met haarself onderwyl sy bad en aantrek. “Dis seker hierdie warm klimaat wat my so vas laat slaap het. In elk geval, ek sal my moet roer as ek nog ontbyt wil geniet voor ons ry.”

Ronelle het egter net tyd om te bad en aan te trek, toe hou haar vader voor die deur stil. Sy moet in aller haas ’n paar musiekboeke bymekaarskraap. Gelukkig stel haar vader voor dat hulle eers tee drink, dus kry sy die geleentheid om haar innerlike met tee en beskuitjies te versterk.

Dis byna halfelf toe hulle eindelik na die saal vertrek. Haar vader lyk haastig en Ronelle besef dat hy ongeduldig is om terug te wees by sy glasbuisies, kieme, proefkonyne en virusse. Dis ’n sonde dat die Duque hom so in sy werk steur.

Hulle ry nie eens drie minute nie, toe hou hulle voor ’n indrukwekkende gebou stil. Ronelle kyk hom vraend aan en dan verduidelik hy ongeërg: “Die saal is langs hulle kerk geleë, gevolglik moet ons by die kerk se hek ingaan aangesien dit die enigste ingang na die saal is.”

“Ek hoop hulle hou nie hierdie tyd van die dag kerk nie,” sê sy en kyk half onseker na die groot, stil gebou.

“Toemaar, jy sal niemand steur nie,” glimlag die oubaas bemoedigend. “Kyk, daardie gebou aan die linkerkant van die kerk is die plaaslike skool. Hierdie straat is die hoofstraat en ook die sakesentrum van Braca. Die poskantoor en winkels is almal in hierdie straat geleë, selfs ’n dameshaarkappery.”

Die oubaas merk die verbaasde uitdrukking in Ronelle se oë en gaan ter verduideliking voort: “Hierdie mense is nou wel nougeset en konserwatief, maar baie beslis nie agterlik nie. Trouens, die jong dames hier is net so modieus soos jy, ofskoon hulle die mode op ’n waardiger en meer besadigde wyse volg. Eintlik is hulle ’n mengsel van Middeleeus en modieus, maar nietemin besonder fyn opgevoed. Jy sal hier geen uitspattigheid vind nie. Maar kom, ek het nie tyd om die hele môre hier in die motor te sit en gesels nie. Ek gaan jou in elk geval net in die saal besorg, daarna ry ek dadelik weer. Ek sou dink jy is groot genoeg om jouself tuis te besorg.”

’n Klokhelder laggie borrel oor haar sagte, aanloklike lippies. Sy kyk haar vader glimlaggend aan en oudergewoonte verstaan hulle mekaar.

Ronelle sien vanoggend besonder keurig daar uit. Sy is in ’n modieuse, groen, moulose rokkie met wit bykomstighede geklee. Haar kastaiingbruin hare wat volgens die jongste mode gekam is, skitter in die môreson. Twee fyn pêreloorkrabbetjies pryk aan haar oortjies en ’n dubbelstring pêrels versier haar fyn, slanke hals. Selfs professor Dekker kan nie help om sy dogter met trots en liefdevolle bewondering te betrag nie. Sy is die ewebeeld van haar moeder, wat hulle vyf jaar gelede deur die dood ontneem is.

Ronelle se voetstappe klink vrolik op die betonpaadjie toe sy en haar vader om die kerk se hoek in die rigting van die saal stap. Die hele omgewing lewe van kleurryke, tropiese bome, plante en struike. Dis ’n mengelmoes van kleure en eksotiese geure.

Dis waar, die plek mag nou wel so dood soos die Dooie See wees, mymer sy, maar dit is inderdaad ’n lus om te aanskou; strelend vir die oog en ’n ware paradys.

Hulle bereik die saal en vind die deure wawyd oop.

“Dit was natuurlik Diago se versoek dat die saal se deur oopgemaak word om jou te verwelkom,” terg die oubaas met so ’n opsigtelike ondeundheid in sy oë dat Ronelle sommer weer heerlik begin lag.

“Dit sal my glad nie verbaas as dit wel sy opdrag was nie,” glimlag sy geamuseerd. “Hy kom my nogal voor as ’n baie deeglike en pligsgetroue persoon, iemand wat eerder sy nek sal breek as sy woord.”

“Nou het jy ’n ware woord gespreek,” antwoord die oubaas sag.

Toe tree hulle die saal binne en oomblikke later val Ronelle se oog op die glinsterende silwerkleurige pype van die orrel wat langs ’n sydeur teen die hoë muur pryk. Wat sy egter nie weet nie, is dat daardie sydeur die saal direk met die kerk verbind en dat dieselfde orrel vir die kerk gebruik word. As die deur oop was, sou sy dit dadelik gemerk het. Maar die deur is toe, derhalwe is sy heeltemal onbewus van hierdie feit.

“Sal ek gou vir jou so ’n ietsie van ons geliefkoosde Schumann speel voordat jy gaan, Pappie? ” vra Ronelle en voeg skertsend daaraan toe: “My ou paps sal tog seker wil hoor of my studie in Rome darem die moeite werd was, of hoe? ”

Die aangesprokene werp ’n vlugtige blik op sy polshorlosie en sê dan toegewend: “Nou goed, speel vir ons Schumann se ‘Serenade’. Daarna moet ek onverwyld ry.”

Sy neem die musiekboek op en blaai versigtig daarin rond. Toe sy vind waarna sy soek, plaas sy die boek op die bladhouer en neem dan voor die orrel plaas. Met sagte, wit handjies skuif sy die panele weg en trek die sleutels oop. Haar vingers voel-voel liggies oor die geliefde toetse. Dan hef sy die openingsakkoorde van Schumann se pragtige “Serenade” aan. Die musiekklanke swel aan tot ’n goddelike harmonie en vul die hele saal van hoek tot kant met soet, aangrypende orreltone wat enige luisteraar in vervoering sal laat. Dan klink dit weer soos ruisende bergstroompies en sweef op golwe deur die lug, totdat die laaste noot eindelik saggies wegsterf en ’n tasbare stilte in die ruim vertrek hang.

“Dit was wonderlik, meisiekind,” verklaar die oubaas met ’n warm gevoel, “absoluut onverbeterlik. Ek is oortuig dat die komponis self dit nie beter sou kon vertolk het nie … Maar wag, ek moet nou gaan, my ou dogter. Op ’n ander dag luister ek graag weer na jou spel.”

Nadat haar vader die saal verlaat het, speel Ronelle nog ’n onvergeetlike komposisie van Schumann. Toe volg die sielroerende “Largo” van Händel, ’n komposisie wat haar volkome meesleur en waarin haar hele wese oopgaan.

Dog Ronelle is nie die enigste persoon wat op hierdie oomblik hemelse genot uit dié meester se werk put nie. Maar sy is so volkome weggevoer deur die musiek dat sy absoluut onbewus is van die Duque wat reg agter haar staan, en van die priester en die sestal nonne wat hulle na die professor se vertrek stil in die voorste bank kom tuismaak het en nou in vervoering na haar meesterlike spel sit en luister. Dis vir almal baie duidelik dat die speelster geheel en al weggevoer is deur hierdie groot komponis se werk.

Na “Largo” speel Ronelle weer Beethoven se “Pastorale Simfonie” en sluit haar spel af met “Claire de Lune” van Debussy.

Met ’n sug van intense genot neem sy die musiekblad van die bladhouer af en kom stadig orent. Die volgende oomblik kyk sy op, vas in die Duque se donker oë wat ernstig, waarnemend in hare terugstaar. ’n Oomblik hou sy blik hare meesterlik gevange.

Dan hoor sy hom eindelik sag, informeel en met openlike verwondering sê: “Ek kan byna nie glo dat jy dieselfde dame is wat ek gisteroggend by die goeie professor se huis ontmoet het nie, señorita Ronella. Gisteroggend het jy by my die indruk geskep dat jy leeg en oppervlakkig is, en nou voel ek weer heeltemal oortuig dat jy net die teenoorgestelde is … Dit laat ’n mens wonder wat nou regtig jou ware karakter is, weet jy?”

“Ek vrees ek is ’n mengsel van die twee, señor Diago,” antwoord sy en vereer hom met een van haar bekoorlike glimlaggies, wat selfs tot in haar oë vonkel en lewe. “Die lewe is mos ook maar ’n eienaardige spel. Een oomblik is ’n mens ernstig en diepdenkend, en die volgende oomblik sweef jy weer op die wieke van ekstase en voel jy uitbundig en sorgloos van skone lewensblyheid en lewenslus … Voel u nooit so nie, señor? ”

Die aangesprokene skud sy hoof stadig, glimlag en antwoord goedig: “Jy is inderdaad ’n onpeilbare mensie, señorita. Maar ons sal albei in die vervolg trag om mekaar beter te verstaan.” Hy blik af na sy polshorlosie en dan weer na Ronelle. “Laat my toe om jou aan die res van jou gehoor bekend te stel. Ons het jou meesterlike spel intens geniet.”

Hy stel Ronelle voor aan die priester en sy gevolg, en wend hom dan weer na die jong meisie. “Ek het die señor professor flussies, voor sy vertrek na die hospitaal, verseker dat ek jou veilig tuis sal besorg, señorita. Dit is al byna tyd vir middagete, dus sal ek nou my woord aan die goeie professor gestand moet doen. Laat my toe om die boeke vir jou te dra.”

Ronelle kan die ondeunde glimlaggie wat reeds om haar lippe bewe, nie onderdruk nie. Sy hou die boeke na die edelman uit, neem haar handsakkie op en sê met ’n sagte laggie: “U bedoel, u wil net doodseker maak dat ek nie dalk alleen ’n verkenningstog hier in Braca se strate op tou sit nie, señor?”

“A, ek sien ons begin mekaar eindelik verstaan, señorita,” sê hy met ’n betowerende glimlaggie wat soos ’n tornado aan Ronelle se weerlose hart ruk. “Jy het heeltemal gelyk. Dit is my plig om toe te sien dat so iets nie gebeur nie. Trouens, ek is enige tyd tot jou beskikking wanneer jy daardie verkenningstog op tou wil sit.”

Hulle groet die priester en sy gevolg, wat Ronelle hartlik in Portugees – wat sy nie verstaan nie – bedank vir die genotvolle uurtjie wat sy hulle met haar musiek besorg het. Toe bied die edelman haar ewe galant sy arm aan en geselsend verlaat hulle die saal.

Met ’n hoflike buiging hou hy vir haar die deur van sy roomkleurige sportmotor oop en neem dan sy plek agter die stuurwiel in.

Toe hervat Ronelle die gesprek van flussies deur ietwat tergend te sê: “Ek was nie van plan om vandag al ’n toer deur die dorp te waag nie, señor Diago. Die plan is om vanmiddag te gaan swem.”

Nou, dink sy, gaan hy my natuurlik vertel dat geen dame in ’n baaikostuum hier op Braca se strande toegelaat word nie, en dan kan ek hom my mening oor die saak gee.

Die Duque verras haar egter toe hy met ’n geheimsinnige glimlaggie vra: “Hoe laat wil jy gaan swem, señorita?”

“Wel … e … so om en by vieruur,” antwoord sy effens van stryk. Dan was my ou paps tog verkeerd toe hy gesê het dat hy nog nooit ’n dame by die strand sien swem het nie, dink sy. Sy werp hom ’n sydelingse blik toe en vra versigtig: “Maar waarom vra u, señor?”

Die Duque het alreeds in die truspieëltjie die verwarde trek op haar gesiggie waargeneem, en daarom verbreed sy glimlag toe hy ewe gemoedelik antwoord: “Ek vra omdat ek graag wil weet hoe laat ek jou by jou tuiste moet gaan haal.”

“Ek vrees ek kan nie van u aanbod gebruik maak nie, señor,” laat sy haastig hoor. “My vader sal my dit nooit vergewe as ek so skandelik van u vriendelikheid misbruik maak –”

“En ek, señorita,” val hy haar sag, dog beslis in die rede, “sal jou ook nie vergewe indien jy weier om van my aanbod gebruik te maak nie. Ek besef dat die goeie señor professor maar min tyd tot sy beskikking het om jou oral heen te vergesel. Maar ek kan soms tyd maak. En indien dit werklik vir my ongeleë is, sal my sekretaris, die getroue José, jou met genoeë bystaan … Verstaan ons mekaar nou, señorita?”

Ronelle knik en antwoord met ’n mooi glimlaggie: “Ek waardeer u vriendelikheid baie, señor Diago. Maar wat my vader daarvan gaan sê, weet ek nie so mooi nie. Hy is nie iemand wat graag van ander se vriendelikheid misbruik maak nie. In elk geval, sodra André, my broer, hier is, en dit is oor twee weke, sal ek u nie langer tot las wees nie.”

“Vertel my ’n bietjie meer van die jong señor, André,” versoek hy belangstellend. “Hoe oud is jou broer, señorita?”

Hy bring die voertuig voor die Dekkers se woning tot stilstand en help Ronelle hoflik en sjarmant uit die motor.

Dog dit is eers toe hulle albei op die voorstoep plaasneem dat sy na sy vraag van kort tevore terugkeer. “My broer is sewe jaar ouer as ek, señor Diago –”

“Dan moet hy drie-en-twintig jaar wees, want jy lyk nie ’n dag ouer as sestien jaar nie,” val hy haar met ’n goeie glimlaggie in die rede.

“U vlei my, señor,” antwoord sy geamuseerd. “Ek was alreeds ’n jaar gelede mondig, en André is nege-en-twintig jaar oud.”

“Is die jong señor André net so gekompliseerd soos jy, of beskik hy oor die gelykmatige temperament van die goeie professor?” wil hy belangstellend weet.

Ronelle kyk die man ondeund aan en begin saggies lag. “Ek vrees André is ook maar ’n mengsel van albei, hoewel hy tog in ’n mate baie na my vader aard – juis daarom het my vader gedink dat hy ook in die medisyne sou studeer. Maar André het ons almal baie mooi laat verstaan dat hy graag ’n landbougraad wil verwerf en daarna wil gaan boer. Vandag is hy ’n vooruitstrewende boer en volkome gelukkig op sy plaas in die Laeveld.”

“En vind jy sy plaas in die Laeveld ook so dood soos die Dooie See, señorita?” vra hy ewe onverwags.

“Señor!” roep sy ietwat verbaas uit. Toe begin sy meteens saggies lag en kyk hom met guitige oë aan. “U gaan my daardie onbesonne woorde seker nooit vergewe nie, nè?”

“Miskien … eendag, señorita,” glimlag hy goedig. “Eendag wanneer jy my volkome oortuig het dat jou gevoel en mening oor hierdie stil en rustige dorpie van my verander het.”

Hierop antwoord Ronelle egter nie en byna dadelik kondig die Duque aan dat dit tyd is vir hom om te gaan en dat hy alreeds langer vertoef het as wat hy aanvanklik bedoel het.

Ronelle vergesel hom tot by sy motor.

Toe kyk hy ’n paar oomblikke diep en ernstig in haar fluweelsagte oë en sê dan ietwat kortaf, byna onpersoonlik: “Gaan asseblief na binne en bly weg uit die son.” Hy buig sjarmant. “Adeus, señorita.”

“Adeus, señor Diago,” groet sy effens verward terug toe hy in die voertuig klim. Sy sien hoe hy met sy donker, adellike hoof in haar rigting knik en dan vinnig wegtrek.

“Nou wat het ek weer gesondig dat die man my meteens so kortaf en onpersoonlik aangespreek het?” vra sy haarself saggies af met ’n peinsende uitdrukking op haar pragtige gelaat. “Die hele tyd was hy besonder gaaf en vriendelik en toe ewe skielik so kortaf, asof … asof ek hom op die een of ander wyse te na gekom het. En tog, ten spyte van sy onpersoonlike woorde was hy nogtans begaan oor my welsyn!”

Hierdie vreemde edelman is vir Ronelle nou inderdaad ’n raaisel. Sy besluit egter dat hy hom óf vir haar vererg het óf ’n temperamentele vent is. Maar met laasgenoemde feit kan sy hom nie vereenselwig nie, dus is hy seker maar die herrie in vir haar.

“Ronelle, ou dogter,” waarsku sy haarself, “jy sal vir hierdie man baie versigtig moet wees. Hy mag nou wel fynopgevoed, beskaaf en sjarmant wees, maar moet hom in hemelsnaam nie onderskat nie. Daardie skerp, deurdringende oë van hom lyk of hulle vuur kan spoeg as sy toorn billik ontstoke is … Ja, dit lyk inderdaad of hy ’n duiwel kan wees as hy kwaad is. Moet dus nie met die man se humeur lol nie!”

Diep in gedagtes versonke stap Ronelle die huis binne.

Susanna M Lingua Gunstelinge 6

Подняться наверх