Читать книгу Engele by ons - Susanna S.J. Wiese - Страница 10

Drome, visioene en gesigte

Оглавление

Dit is veral by sigbare verskynings van engele waar drome, visioene en gesigte ineengestrengel begin raak. Engele is dikwels ook die spilpunt van ’n droom of visioen en mense raak verward omdat hul ervaring nie die verskyning van ’n engel insluit soos dit algemeen verstaan word nie.

Wanneer ’n engel iemand bedien, hetsy deur ’n trooswoord, ’n opdrag, bemoediging of deur ’n fisieke taak uit te voer, is die ontvanger wakker, nugter en by sy volle verstand. Heel dikwels is daar interaksie of gesprekvoering tussen die ontvanger en die engel.

Wanneer iemand in ’n beswyming is of slaap, is drome ter sprake. In die oorgrote meerderheid van gevalle is dit ’n engel wat in ’n droom na die ontvanger kom.

Wanneer iemand ’n gesig of visioen sien, is hulle heel dikwels by hul volle positiewe, maar in die meerderheid gevalle wat opgeteken is, was hulle in ’n droomtoestand. Petrus was in ’n geestesvervoering terwyl hy die gesig van onrein diere gesien het en die opdrag gekry het om daarvan te eet (vgl. Hand 10:10-16). Paulus verwys na ’n ondervinding van ’n man, maar hy weet nie of hy by sy verstand was nie (vgl. 2 Kor 12:2-4). “This is the rabbinical way of speaking of oneself,” sê Bob Utely in Paul’s letters to the troubled church. Heel dikwels is ’n engel die boodskapdraer in ’n droom of gesig. Die feit dat iemand nie duidelik tussen ’n droom of visioen kan onderskei nie, maak die ondervinding nie minder betekenisvol nie.

Dit sal die moeite loon om eers mooi te onderskei tussen die begrippe drome, visioene en gesigte. Die psigoanalis Carl Jung definieer drome in algemene terme as die manier hoe mense hulleself in simboliese vorm sien, van hoe hulle werklik lyk, gesien vanuit hul eie onbewuste. Hy voer aan dat drome en die bewuste deel van ’n mens in ’n kompenserende verhouding tot mekaar staan. Dit beteken vir enigiets wat eensydig in die bewuste deel van ’n mens se lewe gebeur, word daar in die onbewuste gekompenseer. As ’n mens byvoorbeeld honger gaan slaap, sal jy heel waarskynlik van kos droom. Die onbewuste balanseer dus die bewuste, nes die liggaam homself ook balanseer deur die proses van homeostase. As die liggaam byvoorbeeld sout nodig het, sal ’n mens lus kry om iets souts te eet om die balans te herstel.

Die bewuste onderdruk of inhibeer daaglikse ervarings wat vir die bewuste deel van die mens onaanvaarbaar of onbenullig is of sluit dit uit. Dit word dan in die onbewuste gestoor. Hier verteenwoordig dit dan die teenoorgestelde pool van die “standpunt” wat die mens se bewuste ingeneem het. As die bewuste deel van die persoon byvoorbeeld baie onaggressief is, sal die meeste aggressiewe impulse in sy onbewuste gestoor word. As hierdie pool sterk genoeg raak in die onbewuste, breek dit in die vorm van drome deur na die bewuste, byvoorbeeld deurdat die mens moontlik baie aggressiewe drome sal hê. Die twee pole, die bewuste en onbewuste, word dus met mekaar verbind deur middel van simbole, soos dit voorkom in die droommateriaal. Vir persoonlike groei moet die bewuste deel van die mens hierdie simbole verstaan sodat dit geïntegreer kan word; daarom is die uitleg van drome, visioene en gesigte so belangrik, veral omdat God en sy engele daardeur met mense kommunikeer.

Op ’n sekere vlak kan ’n mens algemene interpretasies maak van die betekenis van simbole in drome, maar soms het die simbole ’n baie unieke en persoonlike boodskap. Die uitleg van drome is ’n baie ingewikkelde veld wat buite die bestek van hierdie boek val. Dis slegs belangrik om te weet dat ’n mens deur selfkennis God se stem duideliker kan hoor.

Daar is verskeie maniere waarop ’n mens selfkennis kan opdoen. Jy kan jou byvoorbeeld onder leiding van die Heilige Gees spieël in die Woord van God, jy kan psigoterapie ondergaan (wat dikwels droomanalise insluit) of jy kan dit deur iets so eenvoudigs soos die bou van ’n intieme langtermynverhouding met ’n ander mens doen. Deur selfkennis word die pad wat God wil hê ’n mens moet volg duideliker en die wyse waardeur Hy dit doen, naamlik deur die Heilige Gees en sy engele, word ook sigbaarder.

Drome help mense ook met die genesingsproses. Trauma fragmenteer die gevoelswêreld en persoonlike ervarings, en drome help om hierdie gevoelens en gefragmenteerde persoonlike ervarings weer heel te maak deur die proses van simbolisering. Die woord “simbool” is afgelei van die Griekse woord vir bymekaar sit of gooi, teenoor “diabolies”, wat afgelei is uit die Griekse woorde vir uitmekaar haal of gooi. Drome hou dus die gefragmenteerde ervarings in een storie.

Carl Jung het ook geglo dat drome ’n vooruitskouende aspek bevat. Hy het egter voorgestel dat ’n mens die inhoud van so ’n droom moet sien as ’n soort voorlopige skets of ’n plan wat rofweg uitgewerk is, eerder as ’n profesie of as bepaalde riglyne. Soms het drome wel ’n groot impak op ’n mens en kan dit iemand se hele lewe verander, maar gewoonlik kan ’n mens in die bestudering van jou drome gaandeweg ’n patroon of persoonlike simboliek waarneem wat ’n goeie riglyn is van wat God se wil vir jou op aarde is.

Dit is egter belangrik om altyd in gedagte te hou dat drome ontstaan vanuit die onbewuste wêreld. Dis ’n wêreld wat mense nooit volkome sal kan verstaan nie; daarom moet ’n mens droommateriaal nie sonder oordeel en versigtigheid interpreteer nie. ’n Mens moet onthou dat die bewuste toestand en die vermoë om daarin besluite te neem die hooffokus moet bly, want dit is ook op hierdie vlak dat ’n mens se roeping ter sprake kom. God se grootste gawe aan die mens as sy skepsel is die feit dat Hy aan elkeen die reg tot keuse en besluitneming gegee het. Dit onderskei mense van al sy ander skepsels en hierin lê hul hoogste roeping dus.

’n Visioen is ’n skielike, indrukwekkende, persoonlike ervaring op ’n visuele en skilderagtige wyse. Dit gebeur wanneer die onbewuste skielik inbreuk maak op die persoon se bewuste. Die persoon is gewoonlik wakker tydens die gebeurtenis, maar die ervaring gaan gewoonlik gepaard met ’n verandering van bewussyn, soos om in ’n beswyming te wees. Omdat dit so indrukwekkend is, het dit gewoonlik ’n groot impak op die persoon. Om ’n visioen te hê beteken nie dat daar iets met jou skort nie, alhoewel dit dikwels voorkom by mense wat psigoties is en wat dus kontak met die werklikheid verloor het.

Die waarde van ’n visioen hang af van die individu se vermoë om betekenis te gee aan die inhoud daarvan. Daar moet versigtig met ’n visioen omgegaan word, want as die persoon nie die doel en betekenis daarvan reg interpreteer en hanteer nie, kan dit lei tot selfverheerliking, wat lynreg teenoor die wil van God staan. Dit is dikwels ’n goeie aanduiding of ’n visioen werklik van God afkomstig is. As die persoon in nederigheid en tot die verheerliking van God en sy koninkryk met die visioen omgaan, kan ’n mens seker wees dit is van God. Maar as die persoon onnodig aandag op homself vestig en dit veral gebruik om sy superieure verhouding met God te bevestig, moet dit baie versigtig benader word. Slegs onder leiding van die Heilige Gees en met ’n gees van onderskeiding kan ’n mens werklik sin maak van ’n visioen.

Gesigte val in dieselfde kategorie, maar verskil van visioene deurdat ’n gesig net ’n visuele beeld is sonder ’n bepaalde boodskap of storielyn. Dit verskyn gewoonlik meer tot versterking van ’n persoon se geloof of ter bevestiging van besluite wat ’n mens se roeping betref. ’n Mens kan hulle beskou as wegwysers op jou pad wat deel vorm van die ontelbare maniere waarop die Here en sy engele mense elke dag begelei, soos Hy ook die Israeliete elke dag deur die woestyn begelei het (vgl. Eks 13:17-22). Net soos dit met hulle die geval was, is dit ongeloof wat ’n mens blind maak vir hierdie wegwysers, nie die afwesigheid van God en sy engele nie.

Omdat ’n mens jou hier in die geesteswêreld bevind, is dit baie moeilik om iemand se ervarings te beoordeel. Net die ontvanger sal weet of sy ondervinding eg en van God afkomstig is. Ek sou graag as riglyn wou stel dat ’n droom agterna deur die Here bevestig moet word, maar dit is nie in alle gevalle van toepassing nie. By Daniël is sy droom byvoorbeeld bevestig deur die uitleg wat aan hom gegee is (vgl. Dan 7-8). Jesaja se roeping as profeet begin met ’n gesig waarin hy die Here sien en waar ’n seraf sy lippe met ’n gloeiende kool aanraak (vgl. Jes 6). Esegiël, soos ook ander profete, se profesie begin met gesigte wat hy sien (vgl. Eseg 1-3).

Paulus vertel in 2 Korintiërs 12 van ’n ondervinding waar ’n man weggeruk is na die derde hemel, maar hy weet nie of dit met of sonder sy liggaam was nie. Dit was in elk geval ’n geestelike ondervinding waarvoor daar nie ’n besliste verklaring is nie, maar dit sou nie vergesog wees om dié ondervinding by die kategorie van drome, visioene of gesigte in te deel nie.

’n Mens kan verstaan dat mense lugtig is vir drome of gesigte, want deur die jare was daar al gruwelike misgissings en is groot skade berokken. Skeptici neem maar altyd uitsprake wat hul oorsprong in ’n droom of ’n visioen het met ’n knippie sout en as algemene reël is dit seker die veiligste omdat daar so dikwels foute begaan word. Mense hoef egter nie skuldig te voel oor hul onbeholpenheid met hierdie dinge nie, want in die Ou Testament is valse profete moeilik herken, totdat hul profesie nie bewaarheid is nie. Eers dán het gelowiges geweet dit waarop die profeet aanspraak gemaak het, het nie van God af gekom nie.

’n Klompie jare gelede het ’n plaaslike “profeet” mense aangespoor om gereed te maak vir die eindtyd, wat voor die jaar 2000 sou aanbreek. Onder sy invloed het jongmense hul studies opgeskop en voltyds sendingwerk begin doen. Ouers het hul kleuters uit die skool gehou, want “onderwys sou oorbodig wees”. Vroue het hul juwele en silwerware verkoop en lenings is afgelos sodat mense nie met die wederkoms skuld sou hê nie. In die proses het die sogenaamde profeet baie hartseer veroorsaak, maar hy was oortuig van die boodskap wat hy in visioene ontvang het.

In sulke gevalle moet ’n mens nie die baba met die badwater uitgooi nie. Die Bybel maak beslis voorsiening daarvoor dat God met mense praat. Nie net deur die inspraak van sy Gees en deur engele nie, maar ook deur drome en visioene. Daniël is ’n goeie voorbeeld van iemand in die Bybel wat met engele, drome, visioene en gesigte te doen gehad het. In elke geval was God die middelpunt en het die ervarings van Hom gekom.

In die Nuwe Testament is een van die bekendste visioene dié een wat Petrus van rein en onrein diere gesien het (vgl. Hand 10). In hierdie geval was Petrus in ’n geesvervoering terwyl hy die gesig gesien het. Die belangrikste is dat die visioen van God gekom het en dat Petrus nooit aan die egtheid en oorsprong daarvan getwyfel het nie. Die boodskap van die visioen was vir Petrus helder en duidelik en het ’n groot invloed op die verspreiding van die evangelie gehad.

Namate die eindtye naderkom, sal gelowiges voorwaar moet steun op die onderskeiding van die Heilige Gees, want die profeet Joël het voorspel dat seuns en dogters “in die laaste dae” sal profeteer, dat jongmense gesigte sal sien en dat oumense drome sal droom. Dit sal nie altyd maklik wees om te weet wat van die Here af kom en wat van sy nabootser, die duiwel, af kom nie.

Wanneer mense my van hul engeleverskynings vertel en ek hulle begin uitvra, sê hulle dikwels: “Ek weet nie of dit ’n engel of ’n visioen was nie.” Dit is nie belangrik dat die persoon sy ondervinding in ’n kategorie moet kan indeel nie. Die feit dat hy nie weet in watter kategorie sy ondervinding val nie, maak die ondervinding nie minder eg of belangrik nie, solank die Here net sy doel daarmee bereik het.

Mense sê dikwels dat hulle nie ’n engel nie, maar Jesus self gesien het. Hieroor moet ’n besliste mening uitgespreek word, gegrond op sowel ondervindings as die Woord. Nêrens in die Bybel word aangedui dat Jesus ná sy hemelvaart ooit weer op aarde aan mense sou verskyn nie. Jesus se werk in die hemel is nou om sy skepping te onderhou, om as die ewige Middelaar by God vir mense in te tree en om hul plek in die hemel voor te berei (vgl. Heb 1:3, 7:25; Joh 14:2).

Wanneer ek mense uitvra oor die gesig wat hulle gesien het, sal hulle altyd, wanneer daar ’n engel betrokke was, ’n glansende engel beskryf. Wanneer hulle daarop aanspraak maak dat hulle Jesus gesien het, sal hulle ’n prentjie beskryf wat baie herinner aan die skildery van die Here Jesus wat oral aangetref word – ’n mooi, vriendelike gesig met blou oë, lang, donker hare en ’n baard. In hierdie gevalle kan ’n mens aanvaar dat as dit nie ’n engel was wat die persoon gesien het nie, dit ’n droom, visioen of gesig was en hulle Jesus nie van aangesig tot aangesig gesien het nie.

Voeg hierby die feit dat niemand God se gesig kan sien en bly leef nie (vgl. Eks 33:20). Maar, word geredeneer, hulle het Jesus gesien soos almal Hom destyds op aarde gesien het. Die antwoord hierop is dat Jesus wel aarde toe gekom het en as ’n mens onder ander mense kom woon en werk het, maar dat Hy ná sy hemelvaart sy aardse liggaam afgelê en sy hemelse heerlikheid aangeneem het. As iemand Jesus dus nou sien, moet hy Hom in sy Goddelikheid aanskou. En dit kan tog nie gebeur nie.

Een manier waarop ’n mens bogenoemde verskynsel beter kan verstaan, is om te besef dat alle eksterne ervarings van mense en dinge om jou, rou materiaal aan die interne wêreld van die onbewuste verskaf. Die onbewuste gebruik dié materiaal dan in simboliese vorm om ’n bepaalde nuwe boodskap oor te dra. Iemand kan byvoorbeeld skielik droom oor iemand wat hulle jare gelede geken het en verstaan dan glad nie waarom hulle nou oor die persoon droom nie. As ’n mens egter kyk na wat die persoon simbolies vir die dromer beteken, verstaan jy waarom die onbewuste juis daardie persoon in die droom laat verskyn.

As ’n mens wel deur ’n droom, visioen of gesig ’n boodskap van God ontvang, sal dit dus nie vreemd wees as dit in die vorm van Jesus kom soos mense Hom uit voorstellings in die Kinderbybel ken nie. So ’n beeld sal bekend en sonder bedreiging wees. ’n Mens bevraagteken dan nie die verskynsel nie en jy weet vanuit jou verwysingsraamwerk dat dit van God afkomstig is. ’n Mens moet onthou dat God in die meeste gevalle die normale psigiese prosesse gebruik om met mense te kommunikeer.

In hierdie psigiese proses van projeksie vind ’n mens dus ’n skatkis van inligting oor wat God besig is om te sê. Projeksie is die proses waardeur mense positiewe of negatiewe aspekte van hulleself en hul wêreld aan ander mense en dinge toeskryf. Soos met ’n projektor, gooi ’n mens ’n beeld op ’n skerm en die skerm is ’n ander mens of situasie. As ek byvoorbeeld nie my eie aggressie wil erken nie, sien ek baie gou aggressie in iemand anders raak. Dis soos die spreekwoordelike splinter wat jy in ’n ander se oog sien, terwyl jy nie die balk in jou eie oog kan sien nie.

Op dié manier sien ’n mens dus elke dag hoe jou innerlike werklikheid konkreet en visueel na buite, op die uiterlike werklikheid, geprojekteer word. ’n Mens kyk daarna soos na ’n film. Hoewel elkeen oortuig is dit wat hy sien, aan iemand anders behoort, sal ’n mens tog, as jy noukeurig kyk, bewus raak daarvan dat dit in werklikheid iets van jou sê. ’n Mens sal ook, deur die werking van die Heilige Gees en sy engele, die hand van God daarin sien. ’n Mens moet net jou geloofsoë oopmaak en sien dat God die hele tyd met jou praat.

’n Ander baie algemene verskynsel is dat mense vertel van ’n afgestorwene wat hulle kom besoek het, meestal ook in ’n droom. In die meeste gevalle was daar ook gesprekvoering om die persoon te troos of selfs ’n belofte te maak. ’n Mens hoef nie noodwendig ’n Bybelse verklaring hiervoor te soek nie, want dit is ’n algemene verskynsel wat aan die sielkunde bekend is. As die Here egter hierdie verskynsel gebruik om iemand mee te troos, dank ’n mens Hom daarvoor. ’n Mens moet onthou dat die Here op ’n baie normale manier met die meeste mense werk – en dis normaal dat die onderbewuste mense sal laat droom van iemand met wie hul bewussyn (gedagtes) kort tevore doenig was.

Die onbewuste sal weereens vergoed vir die bewuste trauma. Die verlies van iemand dierbaars word soms as so traumaties ervaar dat die onbewuste dit moet versag. Dit gebeur veral as daar iets onafgehandelds was tussen die gestorwene en die oorlewende. Dit is dan ook hierdie bepaalde aspek wat ter sprake kom wanneer die afgestorwene die oorlewende deur middel van ’n droom, visioen of gesig besoek.

Ek het onlangs ’n gesprek met ’n meisie gehad wie se broer wreedaardig vermoor is. Sy het nagmerries gehad oor die pyn wat sy gevrees het hy net voor sy dood ervaar het. Hy het toe in ’n droom aan haar verskyn en gesê hy is op slag dood en het geen pyn ervaar nie. Dit het haar gerusgestel en sy het nie verder nagmerries gekry nie. Soos reeds gesê, tree God op ontelbare maniere met mense in gesprek na aanleiding van elkeen se bepaalde behoefte en sy goeddunke.

Daarby moet ’n mens toenemend voorsiening maak vir die gevolge van medikasie wat aan mense toegedien word. Baie mense was al op ’n “trip” of het reeds die wit lig aan die einde van die tonnel gesien as gevolg van ’n barbituraat waarmee hulle ingespuit is. Die grys gebied waar godsdiens, sielkunde, die okkulte en medisyne oorvleuel, word by die dag groter.

Die mediese wetenskap maak mense toenemend bewus van hoe sensitief die brein vir enige chemiese ingrype is. Sommige wetenskaplikes beweer selfs dat alle ervarings en selfs gevoelens, ook geestelik, toegeskryf kan word aan chemiese skommelings. Dit maak egter nie saak wat ’n mens omtrent die feite van verskillende wetenskaplike velde leer nie; geestelike ervarings kan nog altyd op geloof berus. ’n Mens sal nooit God se verhouding met mense wetenskaplik kan bewys nie, en gelukkig hoef ’n mens ook nie daarvoor ’n wetenskaplike bewys te vind nie. Hierdie wetenskaplike terreine is dus nooit in konflik met die geestelike wêreld nie; alles dra by tot die groter prentjie.

Verder moet ook voorsiening gemaak word vir die onomstootlike feit dat sommige mense bloot meer geneig is tot en ontvankliker is vir die spirituele as ander. Diegene wat met hul voete stewig op moederaarde staan en boonop meer prakties ingestel is, moet dus versigtig wees om nie skepties te verwys na diegene wat fynbesnaard en sensitief is teenoor die geestelike nie. Praktiese mense sal maklik ’n bonatuurlike ondervinding as onsin afmaak of dit aan verbeelding toeskryf. Mense moet altyd daarvan bewus wees dat hul verstand dikwels die grootste hindernis vir kinderlike geloof is. Die feit dat ’n mens nie elke klein detail in die Skrif verstaan of kan verklaar nie, maak die Bybel nie minder waar of betroubaar nie.

Dan is daar nog die feit dat sommige mense wel oor heldersiendheid beskik, of soos vroeër daarna verwys is, met die helm gebore is. Daar is dinge soos voorbodes waarmee ’n mens rekening moet hou. Mense doen ongelooflike dinge deur hul breinkrag in te span en die resultaat daarvan is nie oëverblindery nie. Soos voorheen gesê is, is daar feitlik geen beperking op wat ’n mens met breinkrag kan vermag nie. Dit is belangrik om te onthou dat alles binne hierdie doolhof van spirituele vermoëns ver van engele verwyderd is. Engele is nie gedagtes of besluite nie, hulle is geskape hemelwesens.

Engele by ons

Подняться наверх