Читать книгу Engele by ons - Susanna S.J. Wiese - Страница 5

Inleiding

Оглавление

Wanneer ’n mens oor die onsienlike en die bonatuurlike praat, praat jy oor sake wat nie altyd deur die beperkte menslike verstand verklaar of verstaan kan word nie. Dit sou dus verkeerd wees om bloot uit nuuskierigheid meer oor engele te wil weet sonder om in Bybelse verband na hulle as God se dienende geeste te kyk.

Ek glo die Here wil hê sy kinders moet elke aspek waaroor Hy in sy Woord praat gelowig en biddend ondersoek. Omdat die engele nie net ’n geringe plek in die Bybel inneem nie, is dit nodig dat ’n mens ook aan hulle aandag skenk en probeer uitvind wat God gelowiges in sy Woord oor hierdie hemelse wesens leer. Daarsonder sou ’n studie van die Bybel nie volledig wees nie.

Boonop is dit vir kinders van die Here ’n wonderlike troos en bemoediging om meer oor die werk van engele uit te vind en te weet in hoe ’n groot mate hulle mense hulp, vertroosting, bewaring en bystand kan bied wanneer hulle dit die nodigste het.

Christene kan in die versoeking kom om te dink dat iemand ’n spesiale uitverkorene van God is net omdat ’n engel aan hom verskyn het. Of dat so ’n verskyning ’n teken sou wees van die persoon se gevorderdheid in die geloof. Sulke uitgangspunte is egter mistastings en onbybels.

In hierdie studie van engele, net soos in enige ander Bybelstudie, moet die klem altyd val op die Skepper, nie op sy skepsels nie. Hierdie studie wil ook hê dat alle oë op Jesus gerig sal word, die Skepper van en Heerser ook oor engele. Johannes Calvyn het destyds al gewaarsku dat mense geneig sal wees om sonder Bybelse getuienis na engele te kyk en wanneer dit gebeur, beland ’n mens vir seker op dwaalspore.

Engele by ons

Подняться наверх