Читать книгу Engele by ons - Susanna S.J. Wiese - Страница 4

Voorwoord

Оглавление

Ek bied jare lank al lesings aan oor die onderwerp van engele. As gevolg van ’n groot behoefte aan nog inligting oor engele, het my lesings uitgebrei en mettertyd uitdrukking gevind in twee boeke, Engele by ons (1996) en Mense en engele as geestelike wesens (2002). Vir ’n omvattende geheelbeeld is hierdie twee boeke saamgevoeg as een.

Vrae oor engele het egter intussen ’n aansienlike klemverskuiwing ondergaan. Aanvanklik was die vrae eenvoudig: “Hoe lyk engele? Waar woon hulle, en hoeveel van hulle is daar?” En dikwels ook: “Het elke mens hul eie beskermengel?”

Gaandeweg het vrae egter begin verskuif na die meer geestelike vlak, asook na die groot grys gebied waar breinkrag, besluitneming, die werk van die Heilige Gees, gebedsverhoring en esoteriese tegnieke ter sprake is.

Die doel van hierdie boek is om die algemeenste vrae te bespreek wat oor engele gevra word. Dit het gou vir my duidelik geword dat hedendaagse vraagstukke op teologiese sowel as sielkundige vlak ondersoek moet word. Hiervoor het ek Abraham le Roux, ’n kliniese sielkundige, genader om ’n bydrae te lewer tot van die aspekte wat in die boek bespreek word.

Met die toenemende belangstelling in engele oor die afgelope jare, word daar nou groter klem gelê op geestelike dinamika. Dit is waarskynlik te wyte aan ’n gebrek aan begrip oor wat engele se aandeel in die geesteswêreld werklik is. Mense wil graag meer weet oor watter geestelike kragte inherent in elke mens is; watter aspekte van geestelikheid ’n mens self kan genereer en uitbou; en hoe ’n mens jou eie geestelikheid kan inspan om jou lewensgehalte te verbeter.

Sommige mense is verward oor die rol van hul eie geestelikheid en die rol van engele, en hierdie verwarring word dikwels deur Nuwe Era-denke aangevuur; denke wat mense aktief aanmoedig om deur hul eie geestelike inspanning met engele kontak te maak. Die doel van hierdie boek is egter nie om as ’n handleiding te dien vir die leser wat deur sy eie geestelike inspanning met engele in aanraking wil kom nie. Dit is eerder geskryf vir Christene wat nie die nodige tyd het om self navorsing te doen nie, of wat nie toegang tot toepaslike navorsingsbronne het nie, maar nietemin graag groter duidelikheid wil verkry oor die ineengestrengelde terreine waarop die onderwerp van engele deesdae bespreek word.

Hoewel daar heelwat boeke oor engele beskikbaar is en heelwat sprekers toesprake oor engele lewer, bevat sulke boeke en toesprake dikwels slegs legendes en mites, of hou hulle hul besig met dwaalleringe of die okkulte, sonder om aandag te gee aan wat in die Bybel oor engele vervat is. As ’n mens meer oor ’n spesifieke onderwerp wil weet, moet jy immers na die oorsprong teruggaan. Vir Christene is dit die Bybel, waar die meeste gelowiges waarskynlik vir die eerste keer van engele te hore gekom het.

Mense het nou maar eenmaal die neiging om dinge wat buite hul begripsvermoë val as onsinnig af te maak. Almal praat graag saam, en bespiegel selfs, oor engele, maar hulle is nie bereid om te aanvaar wat in die Bybel oor engele geskryf is nie. Dit betaam gelowiges egter om met ontsag en in onderworpenheid aan die gesag van die Skrif verdere ondersoek na engele in te stel. En hiervoor het ’n mens die Heilige Gees nodig, wat in gelowiges woon.

Ek hoop om op ’n toeganklike manier nog inligting te verskaf in antwoord op die algemeenste vrae wat deesdae omtrent engele gestel word. Ek vertrou dit sal groter duidelikheid en dieper insig tot gevolg hê aangaande wat in die Bybel vervat is omtrent engele – die magtige en heilige dienaars in God se hemelryk, wat vir elkeen tot diens is. Mag hierdie boek groter helderheid oor die mens as geestelike wese bring.

Daar word eers gekyk na algemene vrae oor engele, waarna daar ’n afdeling oor persoonlike ontmoetings of ervarings met engele is. Daarna word stilgestaan by dit wat die Bybel oor engele openbaar.

Om leesbaarheid te vergemaklik word daar telkemale na die manlike vorm verwys wanneer van ’n individu gepraat word. Dit sluit wel die vroulike ook in.

Sannie Wiese

Engele by ons

Подняться наверх