Читать книгу Engele by ons - Susanna S.J. Wiese - Страница 13

Оглавление

5

Gebedsverhoring: engele of die Heilige Gees?


Hoe weet ek wanneer ’n engel of die Heilige Gees betrokke is by die beantwoording van ’n gebed?” is ’n algemene vraag. Voordat ’n mens op fyn onderskeidings begin let, is dit uiters belangrik om twee verskille tussen engele en die Heilige Gees uit te wys. Eerstens woon die Heilige Gees in mense terwyl engele hulle van buite bedien. Tweedens is die Heilige Gees as een van die Drie-eenheid die ewige God, terwyl engele ondergeskikte, geskape hemelwesens is.

Laat ek dadelik sê dat God nie engele nodig het om mense se gebede te beantwoord nie. Hy is ook nie van die hulp van engele afhanklik om dinge gedoen te kry nie. God is algenoegsaam. God is almagtig. Soos Charles C. Ryrie dit in Basic theology stel: “Natuurlik is God nie verplig om engele te gebruik nie; Hy kan alles self doen, maar dis duidelik dat Hy telkemale verkies om engele as tussengangers te gebruik.”

Wat ook al mense se omstandighede, jy kan verseker wees van God se betrokkenheid omdat gelowiges die blywende teenwoordigheid van die inwonende Heilige Gees van God in hul lewens het.

Maar God het in sy alwysheid besluit om hemelwesens te skep om vir Hom tot diens te wees. Onthou, hier op aarde is mense as die Here se kinders as ’t ware die voorste linie in sy werkerkorps. As iets vir ’n medegelowige gedoen moet word, is ek die een wat dit moet doen. Gelowiges is almal lede van dieselfde liggaam en het die opdrag om mekaar te bedien. As hulle dit nalaat, ly die liggaam skade.

Waar mense egter nie kan help nie, sal God engele inspan om die taak af te handel. Wanneer dit nie vir mense fisiek moontlik is om iets te doen nie, as daar nie ’n mens beskikbaar is nie, of as die omstandighede dit onmoontlik maak dat ’n mens kan help, sal God engele gebruik. Let daarop dat dit in alle omstandighede korrek is om te sê “God het dit gedoen”, want God is in beheer van die engele; hulle luister net na sy opdragte en nie na wat mense sê nie. Dis dus heeltemal in orde om in een asem van God en engele te praat as dit kom by die uitvoer van dade, want dit is bloot God se woord wat uitgevoer word.

“Hoe weet ek of ’n engel of die Heilige Gees dit vir my gedoen het?” Ek kan slegs ’n baie breë riglyn hiervoor gee en uiteraard sal elke antwoord wat iemand op ’n gebed ontvang het nie binne hierdie raamwerk val nie.

As iets fisieks gedoen moet word, kan ’n mens aanvaar dat God engele daarvoor gaan gebruik, soos toe ’n engel Jesus se geboorte vir die skaapwagters aangekondig het (vgl. Luk 2:8-12), ’n engel die klip voor Jesus se graf weggerol het (vgl. Matt 28:2) en ’n engel die tronk oopgesluit het sodat Petrus kon uitgaan (vgl. Hand 12:6-11).

Wanneer dit egter iets is wat met mense se denkvermoë of hul besluitneming te doen het, geskied dit deur die Heilige Gees. Laat ek verduidelik hoekom ek dié stelling maak. Die Heilige Gees is die Een wat in ’n mens woon, wat jou hele menswens en lewe vul. As ’n mens dit visueel wil voorstel: Die Gees neem besit van jou brein en hart. Dit is wel so dat die Heilige Gees in iemand kom woon die oomblik as hy tot geloof in Jesus Christus as sy Saligmaker en Middelaar kom, maar hy moet hom voortdurend aan daardie Gees onderwerp sodat Hy sy gedagtes kan besit. Dit is waarom Paulus vir die Romeine sê hul gedagtes moet ná hul bekering vernuwe word (vgl. Rom 12:2). Hulle moet met ander gedagtes begin dink – hulle moet nou oor sake begin dink soos God daaroor dink. En dis net moontlik as die Heilige Gees, wat in hulle woon, beheer het oor hul gedagtes.

Daarvoor moet ’n mens God se Woord ken, want om God se wil (sy gedagtes) te ken moet jy sy geopenbaarde wil ken, en dit vind jy in sy Woord. Die Gees wat in ’n mens woon, is dieselfde Gees van God wat sy Woord vir jou gee en die twee weerspreek mekaar nooit. As ’n mens dus God se Woord ken, sal jy baie van sy gedagtes ken. Deurdat jy God se gedagtes ken, kan jy sy gedagtes joune maak en so met God se gedagtes begin dink.

Wanneer jy ’n besluit moet neem, sal die Heilige Gees jou denkprosesse lei sodat jy by die regte besluit uitkom – die besluit wat die Here wil hê jy moet neem. “Bedink die dinge wat daarbo is,” lui die 1953-hersiening (vgl. Kol 3:2). Dis presies wat gebeur as ’n mens die Heilige Gees toelaat om jou gedagtes te oorheers. Daar is ook ’n bewuste oorgawe of toelating van die gelowige se kant af sodat die Gees dit vir hom kan doen.

Die werk van die Heilige Gees en engele verskil dus daarin dat – om dit baie eenvoudig te stel – die Heilige Gees van binne werk en engele van buite. Die Heilige Gees is die een wat ’n mens onderrig, leer en lei, terwyl engele ’n mens bedien. Engele kan wel ’n boodskap as leiding bring, maar die boodskap wat hulle bring, kom van God en nie van die engel nie. Engele onderrig nie mense in die Skrif nie; dit is die werk van die Heilige Gees. Engele verkondig ook nie die verlossingsboodskap nie, maar hulle is wel fasiliteerders by evangelieverkondiging en verleen bystand aan leraars en almal wat die Woord versprei.

Die Heilige Gees troos en versterk ’n mens innerlik terwyl Hy in jou woon, maar engele sal ’n boodskap van troos kom aflewer en hulp verleen deur in te gryp en mense se omstandighede gunstig te maak.

Gebedsverhoring moet duidelik onderskei word van sielkundige en esoteriese tegnieke wat mense laat voel hulle het in ’n mate beheer oor hul wêreld. In gebed praat ’n mens met ’n lewende God wat in sy Woord belowe dat Hy geen gebed onbeantwoord laat nie. Die antwoord sal dalk nie onmiddellik kom nie; God sê dat hy wat op God vertrou, nie haastig moet word nie (vgl. Jes 28:16, 1953-hersiening). Die antwoord kom dalk ook nie in die vorm waarin ’n mens dit verwag nie, maar jy kan verseker wees dat dit wat die Here in antwoord op gebed aan jou gee, die allerbeste vir jou is (vgl. Rom 8:28), hoewel jy dit dalk nie op daardie oomblik so insien nie. By gebedsverhoring is daar dus binne ’n persoonlike verhouding ’n direkte, versekerde wisselwerking tussen ’n kind en sy hemelse Vader.

Hierteenoor is die doel van esoteriese tegnieke om beheer te kry oor jou onmiddellike omgewing. Daarom maak dit baie sterk aanspraak op jou persoonlike vermoëns en talente. Op hierdie manier word daar dan gepoog om die energieë om jou aan te wend sodat jy dit tot jou voordeel kan gebruik.

In gebed is ’n mens in afhanklikheid volledig in die hande van die genadige Skepper. Hoewel oefening en dissipline wel goed is, moet jy onthou daar is geen versekering dat jy sukses gaan behaal as jy jou eie kragte inspan nie. As jy jou liggaam oefen, lei jy ’n gesonder lewe. As jy jou psigiese vermoëns oefen, byvoorbeeld deur meditasie, sal dit positiewe resultate lewer. Christene weet dit maak nie saak hoe hard hulle werk nie, want eindelik is hulle volledig in die hande van God. Soos klei vorm Hy ’n mens deur die leiding van die Heilige Gees volgens sy wil (vgl. Jer 18:6).

Met gebedsverhoring word dikwels aangevoer Christene gebruik net ’n ander naam vir die krag van positiewe denke, of dat die wêreldling met telepatie dieselfde bereik as die gelowige met sy gebed. Albei span net breinkrag en breingolwe in om hul doel te bereik. Die Christen bid vir innerlike vrede, terwyl die ongelowige dieselfde bereik deur meditasie.

Dié saak val ongelukkig buite die bestek van die onderwerp van die boek. Weet net dat die Bybel ’n mens daarop voorberei dat ’n gelowige en ’n ongelowige baie eners lyk en doen (vgl. Matt 7:22; 1 Sam 16:7; Luk 24). God oordeel ’n mens egter nie volgens hoe jy lyk en wat jy doen nie. Hy kyk na die hart en na jou gesindheid. Hy ken die ingesteldheid waarmee mense dinge doen en die afhanklikheid waarmee hulle vra. As mense heelhartig op God vertrou, sal Hy hul gebede beantwoord. ’n Mens hoef jou nie toe te spits op dit wat bereik moet word nie, maar jy moet wel glo en vertrou dat ’n almagtige God dit vir jou sal doen. Jou fokus is nie op wat jy vra of hoe dit verkry kan word nie; jy fokus deurentyd op God, die Een van wie jy vra en ontvang.

As God engele gebruik om dit te doen waarvoor jy gevra het, dank Hom daarvoor. As God jou gedagtes deur sy Heilige Gees lei om die regte besluit te neem oor ’n saak waaroor jy onseker is, dank Hom ook daarvoor. Of dit nou deur bemiddeling van engele of deur die Heilige Gees is, dis God wat antwoord.

Beteken dit die Heilige Gees het dieselfde taak teenoor engele as wat Hy teenoor mense het? Nêrens in die Bybel word aangetoon dat die Heilige Gees in engele woon nie. Mense ontvang die Heilige Gees wanneer hulle tot geloof in Jesus Christus kom, en engele kom nie tot bekering nie. Goeie engele het van altyd af ’n onafgebroke verbintenis met en kennis van Christus.

In teenstelling hiermee is daar geen aanduiding in die Bybel dat God voorsiening maak vir die redding van gevalle engele nie. In Matteus 25:41 staan boonop dat daar reeds ’n ewige vuur voorberei is vir die duiwel en die slegte engele wat gesondig het deur hom in sy opstand teen God te volg. Oor hierdie teksvers sê Calvyn in Tracts and treatises: “Die verdoemenis van die duiwel en sy engele is reeds voorberei om enige hoop op ontsnapping te vernietig, want hulle is as ’t ware reeds gevangenes van daardie poel.”

Hierteenoor woon die Heilige Gees in elkeen wat Christus as sy Verlosser aangeneem het. Hy lei gelowiges op die pad van heiligmaking en tot by hul sterwensoomblik, wanneer hulle volmaak sal word. Goeie engele het nie hierdie proses van heiligmaking nodig nie, want hulle is nie met sonde bevlek nie en is dus reeds volmaak. Hoewel mense nou nog in ’n mate ondergeskik is aan engele, gaan hulle eendag met hul verheerlikte liggame ook toegang hê tot engele se kennis en vermoëns en sal hulle dan as erfgename terselfdertyd hul meerderes wees.

Ander take wat die Heilige Gees teenoor mense het, byvoorbeeld die oortuiging van sonde, geloof in Jesus as Seun van God en om ’n Voorspraak by die Vader te wees, is nie nodig teenoor engele nie omdat hulle onbelemmerde toegang het tot God.

Dit is dus veilig om te sê dat, net soos God sy Seun Jesus Christus gestuur het om vir mense te sterf en nie vir engele nie, het Hy ook sy Heilige Gees uitgestort om in mense te woon en nie in engele nie.

Engele by ons

Подняться наверх