Читать книгу Engele by ons - Susanna S.J. Wiese - Страница 7

Оглавление

1

Beskermengele


Die vraag wat ongetwyfeld die meeste tydens gesprekke oor engele bespreek word, is of elke mens sy eie beskermengel het.

Die idee van ’n persoonlike beskermengel is baie sterk gevestig en daar word daagliks in gesprekke na hulle verwys: “Sy beskermengel moes oortyd werk om hom veilig uit daardie situasie te kry”; “Dis ook maar goed elke kind het ’n beskermengel, anders het hy nou lelik seergekry”; en “Toemaar, sy beskermengel sal hom veilig terugbring.” Mense voel veilig en geborge in die wete dat elkeen ’n engel het wat na hom persoonlik omsien en die verantwoordelikheid vir sy veiligheid dra.

Mense verwys graag na Psalms, Handelinge en Matteus om hul siening oor persoonlike beskermengele te staaf. In Handelinge 12 staan daar dat die diensmeisie Rodé Petrus se stem herken toe hy uit die tronk kom en aan die deur kom klop. Die mense in die huis is egter nog onder die indruk dat hy in die tronk is en sê sy misgis haar – dit moet Petrus se engel wees wat gepraat het. Hulle aanvaar dus dat hy ’n persoonlike engel het wat met ’n stem praat wat nes syne klink. Hieruit word afgelei dat elkeen ’n persoonlike beskermengel het, wat per geleentheid namens jou optree en wat soos jy kan praat of selfs, indien nodig, soos jy kan lyk.

In Matteus berispe Jesus sy dissipels wat die kindertjies wou wegjaag deur te sê dat hul engele voortdurend voor God in die hemel staan (vgl. Matt 18:10). Hieruit word afgelei dat elkeen ’n persoonlike beskermengel het wat met sy geboorte aan hom toegewys word om hom deur sy lewe heen en tot op sy sterfbed te vergesel.

Tog is die getuienis waarop hierdie uitgangspunt berus skraal en is dit slegs afleidings wat uit teksverse gemaak word. Dis egter ook so dat niks in die Bybel dit weerspreek nie. Wat die Bybel wel sê, is dat daar miljoene der miljoene engele in God se diens is wat Hy tot mense se beskerming kan aanwend (vgl. Op 5:11; Ps 91:11).

Hierdie idee van persoonlike beskermengele word daagliks by mense versterk: Dis die primêre begrip waarop mense wat hulle deesdae met engele bemoei, klem lê. Mense wat vanuit ’n Nuwe Era-perspektief na engele kyk, is nie die enigstes wat hoë prioriteit aan beskermengele gee nie; alle ander verwante groepe plaas ook baie sterk klem op persoonlike beskermengele. Ook in die mitologie figureer beskermengele sterk, tesame met wraak- of doodsengele. Wanneer werksessies aangebied word, word veral gekonsentreer op hoe om jou eie beskermengel te ontmoet. Jy word op sy naam aan hom voorgestel en verder word jy geleer hoe om met hom te kommunikeer. Jy word selfs begelei in die kuns van hoe om opdragte aan jou beskermengel te gee en hoe om hom vir jou te laat werk.

Of daar nou vanuit die mitologie, vanuit ’n Nuwe Era-perspektief, vanuit ’n godsdienstige of kwasigodsdienstige oogpunt, of uit watter ander perspektief ook al na engele gekyk word, beskermengele is hoog op die lys.

Deesdae word daar vanuit alle oorde al hoe meer klem gelê op ons spiritualiteit. Mense wil toenemend vanuit hul eie vermoëns beheer oor hul lewens hê. In die proses word verskeie spirituele tegnieke ingespan wat sogenaamd wonderlike resultate en genesings tot gevolg het. Daar word gepoog om energievelde op verskeie maniere te manipuleer en verskeie kognitiewe tegnieke word ingespan om byvoorbeeld trauma onmiddellik te verwerk of om positief te dink. Ek wil geensins ontken dat verskeie van die tegnieke wel verrassende resultate oplewer nie.

Nou raak Christene verward, want aan die een kant weet hulle dat daar feitlik nie beperkings is op wat die mens met sy brein kan vermag nie en niemand wil ontken dat die mens nog nie naastenby die volle krag van sy grysstof ingespan het nie. Maar hiermee saam het mense nie beheer oor genesing, fisiek of psigies, nie. Hulle kan slegs die klimaat skep wat die beste omstandighede is waarin genesing vanself kan plaasvind. Mense kan nie self genees nie – selfs nie eens die beste mediese spesialis of die talentvolste geestelike geneser met die beste tegnieke kan ander genees nie. Mense kan net versorg. Deur versorging skep hulle die klimaat waarin genesing plaasvind. Genesing bly steeds ’n Goddelike wonder wat mense net met groot ontsag kan sien gebeur. In die uitvoering van hierdie wonder gebruik God ook sy engele.

Mense moet dus nie engele verwar met spirituele tegnieke nie. Nee, engele is nie kragte, magte of idees nie. Engele is geskape geestelike wesens tot eer en in diens van God. Mense kan hulle gerus bemoei met enige geesteswetenskap of sielkundige stroming wat hulle verkies, maar hierdie dinge staan apart van engele.

Engele is nie ’n geesteskrag wat ’n mens deur die inspanning van die brein kan optower wanneer jy hulle nodig het nie. Om die waarheid te sê, jy kan nooit deur middel van wilsinspanning, meditasie, konsentrasie of deur die dink van skoon en opheffende gedagtes self met engele in aanraking kom en so hul hulp verkry nie. Hiermee wil ek nie mediese, sielkundige of selfs esoteriese tegnieke afmaak nie. Die wetenskap kan nog baie verder ontwikkel om die ideale klimaat vir genesing te skep. ’n Mens moet onthou dat selfs die ingrypendste hartoperasie slegs klimaatskepping is vir genesing. Veral op sielkundige vlak begin mense nog net verstaan waartoe die brein werklik in staat is wat die bevordering van genesing betref. Al wat ek hiermee wil beklemtoon, is dat hierdie denkrigtings en wetenskappe nie betrekking het op engele nie, want hulle is nie gedagtes of idees nie. Engele is geskape wesens.

Vir Christene is dit ’n groot versekering en troos dat ’n mens van God afhanklik is vir jou beskerming. Dawid bevestig dit in Psalm 3:9 wanneer hy sê: “Hulp kom net van die Here af.” Om die waarheid te sê, God het nie engele nodig om enigiets uit te voer wat Hy gedoen wil hê nie. God is almagtig en algenoegsaam, maar uit die Skrif is dit duidelik dat God kies om engele te gebruik wanneer daar diens aan mense gelewer moet word. Ek vra van God bewaring en veiligheid vir myself en almal vir wie ek bid, maar ek gaan beslis nie aan Hom voorskryf hoe Hy daardie beskerming moet voorsien nie. Ek vra van God, ek ontvang van God en ek dank God vir beskerming. God het die Heilige Gees en die ganse hemelryk (wat nie net uit engele bestaan nie) en Hy kan dit aanwend soos Hy goeddink. En ek prys Hom daarvoor.

Psalm 91:11 is seker die teksvers wat die meeste aangehaal word wanneer daar oor beskerming deur engele gepraat word. ’n Mens moet net onthou wat daar presies geskryf staan: “Hý [my beklemtoning] sal sy engele aangaande jou bevel gee om jou te bewaar op al jou weë” (1953-hersiening). God sal besluit of engele ingespan moet word vir ’n mens se veiligheid. Engele is in God se diens vir jou bewaring. Jy vra van God volgens sy Woord, jy ontvang van God en jy dank Hom daarvoor.

Hoekom gebruik God dan hoegenaamd engele as Hy hulle nie nodig het om dinge gedoen te kry nie? Calvyn gee dalk die beste ant­woord: om mense in hul swakheid te troos. Die volgende vraag is op ’n keer aan my gestel: “Met Adam en Eva was daar net twee beskerm­engele – een vir hulle elkeen. Maar nou is daar miljoene mense op die aarde. Waar kom al die beskermengele nou vandaan?” Dit weerspieël die uitgangspunt dat elke mens ’n persoonlike beskermengel het wat van geboorte tot afsterwe by hom teenwoordig is. As daar dus net twee mense is, is daar net twee engele nodig. Die Bybel leer ’n mens dat daar met die skepping reeds miljoene der miljoene engele geskape is en dat almal in God se diens tot mense se beskikking is (vgl. Op 5:11; Heb 1:14).

Daar kan dus nie met sekerheid gesê word of elke mens net een engel het wat oor hom waghou nie. Een ding is wel seker: As gelowiges meer bewus was daarvan dat God deur engele beskerming voorsien – maak nie saak of daar net een of baie is nie – sou hulle beslis minder bang gewees het vir hul vyande en in hul omstandighede. Die probleem is, mense wil leef volgens wat hulle sien en nie deur geloof nie. Geloof maak voorsiening vir God se voortdurende bewaring deur middel van engele.

Dit is te verstane dat mense deesdae angstig vasklou aan die idee van ’n persoonlike beskermengel; dit verskaf ’n gevoel van sekuriteit in ’n misdaadgeteisterde en soms chaotiese wêreld. ’n Mens sien al hoe meer dat mense na die bonatuurlike, die buiteruimtelike of die metafisiese uitreik vir uitkoms. Dit is asof daar iewers hulp en beskerming vandaan moet kom wat groter is as wat mense self kan genereer. Hulle wag op ’n soort innerlike sekuriteit wat vanaf ’n hoër liefde of wysheid moet kom en hulle deur die vrese en gevare van hul onmiddellike bestaan moet dra.

Billy Graham sê tereg: “Engele is dalk dikwels ons metgeselle sonder dat ons besef hulle is daar. Ons weet maar min van hul deurlopende bediening. Die Bybel beloof egter dat die skille eendag van ons oë sal val en dat ons dan die volle omvang sal begryp van die aandag wat engele aan ons gegee het.”

Miskien som Johannes Calvyn dit die beste op:

“Of spesifieke engele aangestel is vir individuele gelowiges se beskerming, kan ek nie met oortuiging beaam nie. Spesifieke engele is wel aangestel as bewaarders oor koninkryke en provinsies. Ons moet as ’n feit aanvaar dat die bewaring van elkeen van ons nie die taak van ’n enkele engel alleen is nie, maar dat almal met dieselfde doel oor ons veiligheid waak. As die feit dat ’n hele leërskare van hemelwesens oor sy veiligheid waak nie vir iemand genoeg is nie, kan ek nie sien watter voordeel hy kan trek uit die feit dat slegs een engel aan hom gegee is om toe te sien dat hy veilig is nie. God beloof om vir ons te sorg en dat Hy ontelbare beskermers het aan wie Hy opdrag gegee het om te sorg vir ons veiligheid.”

Engele by ons

Подняться наверх