Читать книгу Engele by ons - Susanna S.J. Wiese - Страница 12

Engeleverskynings

Оглавление

Sedert die eerste verskyning van Engele by ons in 1996 is daar letterlik nog honderde gevalle aan my gerapporteer van mense wat ondervindings met engele gehad het. Dit het gebeur met diep gelowiges wat eerlik en opreg is in hul weergawe van wat gebeur het en wie se woord ek nie vir een oomblik in twyfel trek nie. Maar daar is ook gevalle waar nie-Christene ervarings gehad het en dit was nie minder eg of geloofwaardig nie. Om dus te beweer dat engele net in Bybelse tye aan mense verskyn het, is om die werklikheid te ignoreer. Die getuienis tot die teendeel is te oorweldigend.

Mense kan met reg vra hoekom daar lank feitlik geen aandag aan engele gegee is nie; daar was ’n tyd toe die verskyning van ’n engel aan iemand hier op aarde feitlik ongehoord was. Ook die kerk het deur siklusse gegaan waar aandag geskenk is aan engele en waar hulle ge­ignoreer is, soos ook met ander dogmatiese sake gebeur het. Hiermee saam ontstaan die vraag hoekom daar nou ewe skielik ’n engelemanie posgevat het wat oral uitslaan – onder Christene sowel as die res van die wêreld.

Miskien was die verskyning van engele aan mense tog nie so seldsaam nie; mense het net nie die vrymoedigheid gehad om daaroor te praat nie uit vrees dat hulle as liggelowig, of erger nog, as ketters of fanatici gebrandmerk sou word. Ek het dikwels mense wat hul ondervindings aan my vertel, hoor sê: “Ek het niemand daarvan vertel nie, want dit was so ongelooflik dat niemand my in elk geval sou glo nie. Toe die eerste mens aan wie ek dit vertel, sê dit is my verbeelding, het ek my ondervinding diep in my hart gebêre en dit met niemand anders bespreek nie.”

Ander faktore is dat inligting nie so vryelik gevloei en met ander gedeel is nie. Minder boeke is geskryf en oorlewerings het verlore gegaan. Daarmee saam het die vertel van sulke stories of ondervindings ’n kort lewe gehad, veral as die ondervinding so ongelooflik was soos ’n engel van God wat met jou praat. Dalk het mense ook net verkeerde benamings aan die ware Jakob gegee sodat dit as minderwaardig afgemaak is.

Die oorgang van een millennium na ’n ander het sonder twyfel ’n groot impak op die kollektiewe psige gehad. Met die vorige oorgang het die hele Christelike wêreld verval in ’n donker, bygelowige tydperk wat honderde jare geduur het. Dit het bekend gestaan as die Middeleeue, en hierdie donker tydperk is eers verbreek met die Verligting tydens die Renaissance. Tydens die vorige oorgang van die millennium het mense ook geglo dat die wêreld gaan eindig. Mense het baie eng en konserwatief begin dink, en baie het fanaties godsdienstig begin raak. Sommige het ook heeltemal misties en esoteries geraak. Dieselfde verskynsel is opgemerk tydens die oorgang van hierdie millennium. Die impak was egter kleiner as gevolg van meer konkrete wetenskaplike kennis en beter kommunikasie wêreldwyd.

Nogtans het bygelowe, esoteriese tegnieke en ander mistiese verwagtings ’n bloeitydperk beleef. Engele is in die geskarrel weer in Jan Alleman se bewussyn afgestof. Dit het die positiewe gevolg gehad dat engele, soos die Skrif ’n mens van hulle leer, weer op die voorgrond gekom het. Gelowiges se taak is nou net om die ware skriftuurlike feite te onderskei van die fantasie-elemente wat aan engele gekoppel is.

Tesame hiermee is die kerk ook deur ’n fase waarin daar weinig, indien enige, aandag aan engele gegee is. Daar is baie goeie (en ook minder goeie) redes hiervoor, maar dis beslis ’n bydraende faktor in die sweepslageffek wat vandag ondervind word. Daarbenewens is ’n mens in jou gereformeerde denke bang om te veel aandag aan enige leerstellige sake te gee uit vrees dat jy iemand aanstoot sal gee as dié nie met jou saamstem nie. Mense verloor uit die oog dat mense mag verskil oor leerstellige kwessies – dit is oor die Evangelie van verlossing wat daar nie verskil mag word nie.

Die ontwikkeling van die inligtingsera het skielik groot eise aan die kerk gestel. Mense is skielik wetenskaplik baie goed ingelig, daar is meer kontak met ander gelowe en kulture en verskillende sielkundige en filosofiese denkrigtings het verder ontwikkel. Die uitdaging aan die kerk is om die onnodige dooiehout van sekere dogmas uit te sny en opnuut die suiwer, helder boodskap van God se genade en verlossing deur die soendood van sy Seun, Jesus Christus, na die wêreld uit te stuur.

Hiermee saam is diepgaande Bybelstudie nou binne elkeen se bereik danksy die vrye vloei van kennis en die beskikbaarheid van inligting. Die predikant is nie meer die enigste bron van Bybelkennis nie en sy woord is nie meer ongekwalifiseerd wet nie.

Enige student wat die volledige Bybel bestudeer, sal die een of ander tyd aandag moet skenk aan engele, aangesien daar in vier en dertig van die ses en sestig Bybelboeke meer as driehonderd uitsprake oor hulle bestaan.

Met die toename van kennis was dit dan ook moontlik om ’n naam te gee aan ’n onbeskryflike ondervinding wat iemand gehad het. Soos ’n sewentigjarige boer aan my gesê het: “Vandag weet ek presies wat met my gebeur het toe ek twaalf jaar oud was. Ek het altyd daaroor gewonder, maar namate my kennis van die Woord van God toegeneem en ek nader aan Hom begin leef het, weet ek vir seker dat ’n engel my bygestaan het. Dit was nie maar net ’n noue ontkoming nie, soos ek as kind gedink het toe ek van die perdekar af geval en tussen die speke van ’n draaiende wiel beland het.”

Aangesien die beskerming van mense ’n belangrike taak van engele is, moet ’n mens verwag dat hul aktiwiteite in krisistye sal toeneem. In haar boeke skryf Corrie ten Boom oor talle voorvalle waar engele Jode tydens die oorlog help beveilig het. In ander geskrifte word verskeie gevalle beskryf waar engele tydens die oorlog sigbaar betrokke was by die bewaring van byvoorbeeld vegvlieëniers. Wanneer jy weer krisistye tegemoetgaan, kan jy verwag dat die sigbare bedrywighede van engele sal toeneem.

Daar word aanvaar dat dieselfde ondervindings wat mense nou het, ook destyds met mense gebeur het, maar dat ’n mens nou net danksy gevorderde kennis ’n naam daaraan kan gee. Vroeër sou iemand God net gedank het oor hierdie onbegryplike ding wat met hom gebeur het. Vandag kan hy ’n naam daaraan gee en weet dat engeleverskynings, drome of visioene steeds deel van God se werkswyse is.

Dis allermins ’n manier om dié gebeure te veralgemeen of te verkleineer. ’n Mens kan dit vergelyk met die toename in gesondheidskennis: Hoewel die pyn wat mense deur die eeue heen ervaar het dieselfde gebly het, kan daar danksy groter kennis nou meer spesifieke name aan siektetoestande gegee word. Net so kan doodgewone mense nou met die beskikbare kennis ’n naam aan ’n ondervinding gee wat hulle met ’n engel gehad het.

Dit is ook so dat die kerk gedring is om meer aandag aan engele te skenk omdat die wêreld oorweldig word deur Satanisme en belangstelling in duiwels en demone. Ewe skielik moes die kerk oplossings gee aan mense wat deur duiwels gepla word en wat om hulp roep. Namate mense meer bewus geword het daarvan, het die vraag ontstaan: Bestaan sulke dinge werklik en kan dit Bybels geregverdig word? Is daar ’n antwoord daarvoor en wat is die oplossing? Sataniste en satanisme het al hoe sigbaarder geword en duiwelsrites word met groot vrymoedigheid ten aanskoue van die wêreld en televisiekameras beoefen. Dit het selfs meegebring dat sommige Christene duiwelbehep geraak het. Genadiglik het dit ook meegebring dat Christene en die kerk aan engele – goeies en slegtes – begin aandag gee het.

Christene en die kerk moet hulle op Jesus Christus toespits. Ge­lowiges moet teenoor duiwels optree soos Jesus opgetree het. Hy het hulle uitgedryf met sy woorde, en dan die mens wat genees is, verlos verklaar en hom na die samelewing teruggestuur. Daarmee was die saak afgehandel. Moet nooit onnodige eer aan Satan gee deur aandag op hom te vestig nie. Gelowiges moet hul vyand ken sodat hulle hom kan weerstaan, maar hulle bly hulle beslis nie met hom bemoei nie. Om te herhaal wat iemand eenmaal in ’n tydskrif gesê het: “Ek glo nie in die duiwel nie. Ek glo dat daar ’n duiwel is, maar ek glo in Jesus.”

Waarom gee ’n mens dan hoegenaamd aandag aan engele as dit nie noodsaaklike kennis is nie? Om jou te bemagtig met daardie kennis, en sodat jy nie verskrik of sinies sal wees as die Here jou ooit met ’n sigbare besoek deur een van sy hemelwesens vereer nie. Jy sal weet wat met jou gebeur. En as jy weet hoeveel engele gereed is om jou op God se bevel te help, sal jy minder beangs en neuroties wees oor jou omstandighede. God verkies dat mense hulp sal vra, en Hy word vereer deurdat hulle hul afhanklikheid van Hom erken.

As mense weet dat die vyand, die Satan, reeds aan die kruis deur Jesus verslaan is, sal hulle daardie oorwinning ook vir hulleself toe eien deur hom weg te jaag wanneer hulle versoek word. As mense weet hoe listig, knaend en magtig hy is, sal hulle hulle met die Here Jesus beklee sodat hulle kan staande bly teen Satan se aanslae. En as mense weet watter groot en magtige leër van hemelwesens God tot sy beskikking het om in hul diens te gebruik, sal hulle minder benoud wees. Hulle sal die oorwinning wat hulle reeds in Christus behaal het, vir hulleself toeëien.

Vanselfsprekend is nie elke ondervinding wat mense beleef, of soms optower, bona fide engeleverskynings nie. Die grys gebied tussen wat waarlik van God kom en wat menslike verdigsels is, is baie groot. Voeg daarby die natuurlike gevolge van medisyne wat ingeneem word of mediese ingrype, dan word dit feitlik onmoontlik om elke ondervinding netjies in ’n kategorie te plaas. Vir die Christen is dit in sulke gevalle belangrik om te weet dat jy God kan dank vir enigiets wat met jou gebeur en wat jou op die Here laat fokus, of wat jou nader aan God bring. Of jy ’n presiese naam aan die ondervinding kan gee, en of jy dit in ’n sekere kategorie kan vaspen, is onbelangrik. Dit is hier waar ’n mens onder leiding van die Heilige Gees die gawe van onderskeiding moet gebruik. ’n Eenvoudige riglyn is dat die nuwe inligting in ooreenstemming moet wees met die inhoud en gees van die Skrif en moet bydra tot die eer en uitbreiding van God se koninkryk.

Werksessies waar mense aanbied om jou teen betaling aan jou beskermengel bekend te stel of jou te leer hoe om engele vir jou te laat werk, spring soos paddastoele op. Met die bekendstelling aan jou engel word sy naam aan jou verskaf met die idee dat daar voortaan ’n wisselwerking tussen jou en jou engel sal wees. Hoekom sou ’n almagtige en liefdevolle Vader my engel se naam aan my wil verskaf deur middel van ’n persoon wat nie eens ’n persoonlike verhouding met die lewende Christus het nie? Dit is nie hoe ek Jesus se werkswyse leer ken het in al die jare dat ek ’n pad saam met Hom geloop het nie. En dit is allermins die werkwyse waaraan die Bybel ’n mens bekend stel.

Ek het onlangs ’n holistiese feesmark bygewoon en was verstom oor die verskeidenheid maniere waarop verskillende stalletjies kontak met of inligting oor engele verkwansel het. Dan praat ’n mens nie eens van die magdom ander “geestelike kragte” wat te koop is nie. Wat my verder verstom het, was die toue mense wat gereed gestaan het om hierdie inligting te koop. Ek het weer bewus geword van die ongelooflike geestelike honger wat mense het en hoe baie van hulle uitgebuit word deur mense wat beweer hulle verkoop die ware produk. God se gawes en sy hulp is nie te koop nie. Soveel gelowiges is skuldig daaraan dat hulle nie hul kennis en ervaring met hul naaste deel nie. Gelowiges laat toe dat vals profete hulle stilmaak terwyl hulle toekyk hoe mense die naam verkoop van ’n engel wat kwansuis oor die koper sal waak.

Om te koop voorsien in mense se perverse behoefte om oor iets beheer te hê. Dalk moet mense diep in hul harte kyk of hulle nie stilswyend meedoen aan hierdie onbybelse praktyke omdat dit hulle minder weerloos laat voel nie. Dit wat ’n mens glo, kan jy nie sien nie (vgl. Heb 11:1, 3), en dit maak jou bang. Liggelowigheid maak mense slagoffers van vals profete omdat hulle dít wat mense nodig het in ’n tasbare vorm bied. Mense soek bewyse en vergeet dat God net geloof vra.

Mense erken dit nie maklik nie, maar heimlik bestaan daar tog die idee dat iemand aan wie ’n engel verskyn het, ’n bietjie verhewe is bo ander sterflinge. Na hul mening moes so iemand iewers in hul lewe iets goed of reg gedoen het waarvoor hulle nou beloon word deurdat ’n engel aan hulle verskyn. Niks is verder van die waarheid verwyderd nie. God sal nie ’n engel aan iemand laat verskyn as beloning vir enigiets nie. Hy sal ook nie ’n engelverskyning van iemand weerhou as straf vir iets wat die persoon verkeerd gedoen het nie.

God sal wel ’n engel aan iemand laat verskyn as Hy dink dis om die een of ander rede noodsaaklik – ter bemoediging, vertroosting, waarskuwing, beskerming, hulp of ter versterking van die persoon se geloof. Die feit dat God dit goedgedink het om iemand deur middel van ’n engel te besoek, verhef dié persoon beslis nie bo ander Christene nie. God is nie nader aan iemand wat ’n verskyning beleef het as wat Hy aan my is deur die inwoning van sy Gees nie. Ook engele is nie nader aan die mens aan wie hulle verskyn het as aan die mens wat hulle nie sien nie. Die allerlaaste ding waarin Jesus Christus belangstel, is dat iemand sal sê: “Ek het die toppunt van my geestelike lewe bereik toe ek die engel sien.”

Om die waarheid te sê, die sigbare verskyning van ’n engel, of die behoefte daaraan, kan soms eerder wees omdat die mens so dikvellig en ongelowig is dat ander, meer normale ingrype deur God geen uitwerking op hom het nie. Dit kan dus soms wees dat ’n engel eerder aan jou verskyn as gevolg van jou ongeloof as danksy jou voortreflike geestelike lewe. Christus het self sy ontevredenheid te kenne gegee oor mense se ongelowige behoefte om alles te wil sien (vgl. Matt 16:4; Joh 20:29) en omdat hulle nie in die geloof wil lewe nie.

Engele verskyn nie altyd in ’n sigbare vorm aan mense nie. Soms is dit net ’n gewaarwording, ander kere sal iemand ’n hoorbare boodskap ontvang sonder dat die boodskapper gesien word, of soms sal dit ’n helder glans wees waaruit daar nieverbale boodskappe na hulle kom. Baie dikwels ontvang mense hulp terwyl hulle nie die betrokke hulpverlener kan sien nie.

’n Man vertel van ’n aand toe hy swaar pakkies agter in sy bakkie gelaai het. Hy het nie gesien hy het te naby aan ’n werkput parkeer nie. Toe hy met die swaar pakkies op die rand van die put trap, het hy sy balans verloor. Meteens was daar geen grond onder sy voete nie en het hy in die afgrond afgetuimel terwyl die swaar gewig sy kop eerste ondertoe druk. In daardie vlietende sekonde het hy tot God geroep vir bewaring. Terwyl hy val, het dit skielik gevoel of ’n reusehand hom ferm agter sy rug druk sodat hy weer regop kon kom en op vaste grond kon trap. Hy het bewend in sy bakkie geklim en die Here gedank omdat Hy sy lewe gered het.

Die ontvanger twyfel egter nooit daaraan dat hy wel ’n besoek van ’n engel ontvang het nie, en die egtheid daarvan word bevestig deur die uitkoms. Onthou, God gee die boodskap wat deur sy engel afgelewer word en die Here weerspreek Hom nooit. Ek sal dit dus bevraagteken as iemand daarop aanspraak maak dat hy iets van God ontvang het wat nie met Bybelse uitsprake strook nie.

Wanneer engele as sigbare wesens verskyn, is dit in een van twee vorme. Die eerste vorm sal ek duidelikheidshalwe ’n Kinderbybelengel noem. Dié engele is groot, wit en helder en het ’n sigbare liggaam. Hulle is geklee in ’n wit kleed en het soms vlerke. Hul voete raak gewoonlik nie die grond nie, hulle verskyn en verdwyn en hulle is meestal met ’n helder glans omring. Wanneer hulle verskyn, sal die ontvanger gewoonlik skrik omdat dit so ’n uitsonderlike gesig is, maar dit word onmiddellik vervang met onuitspreeklike liefde en vrede. Dink maar aan die herders in Betlehem: Aanvanklik het hulle geskrik toe hulle so ’n wonderlike gesig aanskou, maar die vrees is gou vervang deur verwondering oor en geloof in die engel se boodskap (vgl. Luk 2:8-20). Dieselfde reaksie is te sien by die vroue wat na Jesus se graf gegaan het en met wie die twee engele gepraat het (vgl. Luk 24:1-12).

Mense wat die verskyning probeer beskryf, het gewoonlik nie woorde om die voorkoms van die engele en die energie wat hulle omring, te beskryf nie. Dit maak my opgewonde en bevestig maar net dat mense nog nie oor die terminologie beskik om die geestelike dinge mee te kan beskryf nie. Hoeveel te meer sal ’n mens sukkel om te probeer beskryf wat jy in die hiernamaals tegemoetgaan? Dit gaan baie mooier en heerliker wees as enigiets wat mense nou kan bedink of waarvoor daar woorde is.

Die ander vorm waarin engele mense besoek, is dié van doodge­wone mense. Dit is hulle na wie die Bybel verwys as gesê word dat mense soms engele huisves sonder dat hulle dit besef (vgl. Heb 13:2). Onthou jy nog die mans vir wie Abraham en ook Lot kos berei en slaapplek vir die nag aangebied het (vgl. Gen 18-19)? ’n Engel sal byvoorbeeld as ’n sterk man ’n taak kom afhandel wat vir iemand anders onmoontlik is, of hy sal as metgesel saam met jou loop om jou vrees te verdryf as iemand anders nie beskikbaar is nie. Daar is nie ’n beperking op die vorms waarin hulle kom hulp verleen nie. As daar verpleeg moet word en geen verpleegster beskikbaar is nie, sal ’n engel as verpleegster optree. As ’n polisieman ’n kind oor die straat moet help en daar is nie een beskikbaar nie, sal ’n engel dit as ’n polisieman kom doen.

Mense vra dikwels hoe hulle sal weet wanneer hulle deur ’n goeie of ’n slegte engel besoek is, siende dat die duiwel hom soms as ’n engel van die lig voorstel (vgl. 2 Kor 11:14). Jy sal dit herken aan die gevolge van so ’n besoek. Die uitwerking wat ’n gevalle engel op ’n mens het, is angs, sweet, oorhaastigheid, benoudheid, vrees en onrustigheid. Die gevolg van ’n goeie engel se besoek is net mooi die teenoorgestelde – rustigheid, vrede, liefde, kalmte en vrees wat verdwyn.

’n Goeie voorbeeld hiervan is ’n geval waar die kleuter van ’n gelowige egpaar snags angsaanvalle gekry het. Hy het gesê die Here Jesus sit op sy bed en maak hom bang. Dit het die ouers laat wonder wat aan die gebeur is, totdat hulle ontdek het daar bly Sataniste in die woonstel bokant hulle. Hierdie kleintjie se ouers het hom geleer om Jesus lief te hê en dat Jesus hom liefhet, maar Satan wou hom probeer wysmaak dat daardie Jesus iemand is wat slegte dinge aan jou doen. Wat ’n genade dat daardie kleintjie ouers gehad het wat hom liefdevol na die waarheid kon begelei.

’n Geval is aan my gerapporteer waar diewe ’n motor voor ’n skool wou kaap terwyl die ma ’n paar treë weg met vriendinne gestaan en gesels het. Haar kleuter het reeds in die motor gesit. Toe die ma uiteindelik omkyk en besef wat aan die gebeur is, wou sy ’n geraas maak en hulp ontbied, maar die kapers het skielik die hasepad gekies – sonder om die kleuter skade aan te doen. Toe sy ma by hom kom en vra hoekom hy nie geskree het nie, sê hy doodluiters dit was nie nodig nie, want hy het geweet die polisiemanne met die blink klere aan wat rondom die motor gestaan het, sou hulle wegjaag en hom veilig hou. Dis onnodig om te sê die ooggetuies het geen ander mense buiten die kapers naby die motor gesien nie.

Christene mag nie behep raak met ’n begeerte dat ’n engel aan hulle moet verskyn nie. Gelowiges se saak is met die Here, nie met engele nie. As ’n mens enigiets nodig het, vra jy dit van die Here. Jy ontvang dit van die Here en agterna dank jy Hom daarvoor. Op watter manier God daardie hulp aan jou wil verskaf, is God, en God alleen, se besluit. Ek het al mense ontmoet wat nie tot rus kan kom nie omdat hulle oortuig is hul beker van geluk sal eers oorloop nadat ’n engel hulle besoek het. Mense doen moeite en gaan uit hul pad om engele te probeer “aktiveer” omdat hulle verteer word deur ’n begeerte om ’n engel te sien. Die feit dat ek hulle aanmoedig om op die Here Jesus te konsentreer en nie op engele nie, stel hulle nie tevrede nie.

Aan die ander kant word mense in werksessies wat byvoorbeeld deur Nuwe Era-proseliete aangebied word, aangemoedig om self kontak met ’n engel te bewerkstellig. Sodoende word die onus vierkantig op die beoefenaar geplaas om kontak met ’n engel te maak en wanneer hulle nie slaag nie, beleef hulle dan groot onvervuldheid. Hulle worstel met die vraag oor hoekom ’n vriendin byvoorbeeld met haar engel kontak kon maak, maar hulle dit nie reg kry nie. Wat dan veronderstel was om ’n opheffende ondervinding te wees, word ’n eindelose las.

Ek kan dit nie genoeg beklemtoon dat mense hulle met God en sy Woord besig moet hou en nie met engele nie. Mense moet hulle wel bemagtig met kennis rakende goeie en slegte engele sodat hulle nie deur elke wind rondgewaai word nie. Die besluit of engele aan ’n mens sal verskyn, al dan nie, word ten volle aan God oorgelaat. Hy wend sy engele aan soos Hy dit nodig ag. Ek herhaal: God laat nie toe dat die eer van sy Naam aangetas word nie. God se eer staan primêr – selfs bo die liefde. Wanneer mense begin konsentreer op die skepsels (engele) pleks van op die Skepper, doen hulle presies wat God verbied: Hulle tas die eer van sy Naam aan (vgl. Ps 29:2; 1 Tim 6:1; Eks 24:14; Lev 18:21; Lev 19:21; Lev 20:3; Lev 22:2; Fil 2:9).

Die belangrikste en allerbeste ding wat met enigiemand se geestelike lewe kan gebeur, is dat hy ’n persoonlike verhouding met Jesus Christus ontwikkel. Jesus is ver bo ’n engel verhewe (vgl. Heb 1:4, 6). Hy is die Woord van God wat vlees geword het. Jesus is God. Wat krag en gesag betref, is Jesus onvergelykbaar groter as die engele. Engele se krag en gesag kom van God; hulle het nie uit eie reg krag en gesag nie. Jesus was van ewigheid af daar en is nie soos engele geskape nie. Jesus is die Heerser, engele is dienaars. Selfs gelowiges is nou ondergeskik aan die engele, maar eendag gaan hulle engele se meerderes wees. Hulle gaan erfgename wees, terwyl engele hul status as dienaars gaan behou.

Engele by ons

Подняться наверх