Читать книгу Engele by ons - Susanna S.J. Wiese - Страница 8

Оглавление

2

Waar was die engele toe?


Wanneer mense – meestal kinders of gelowiges – seerkry, word dikwels gevra: “As elkeen ’n beskermengel het, waar was daar­die engel toe my kind verongeluk het?”

Die maklikste sou wees om te sê daar is nie ’n antwoord op so ’n vraag nie. Hoewel die Bybel nie ’n volledige antwoord hierop gee nie, sou dit onbillik wees om nie te let op wat die Bybel wel hieroor sê nie.

Eerstens beweeg mense met die lewe en die dood op die terrein van God se toelaatbare maar ongeopenbaarde wil. God is die Een wat uiteindelik besluit wat waar sal gebeur. Selfs Satan staan onder sy beheer en ook engele voer nie hul eie besluite uit nie; hulle is volkome en onvoorwaardelik gehoorsaam aan God se opdragte en doen net wat Hy sê. Engele is dus heeltemal onskuldig aan die onverantwoordelikheid waarvan hulle met so ’n vraag beskuldig word.

Die beste antwoord op die vraag lê opgesluit in Jesus se kruisiging. Hoekom het die engele Hom nie daar afgehaal nie? Of waarom het hulle nie die soldate wat Hom gekruisig het met lamheid geslaan nie? Hulle het nie, want hulle het nie so ’n opdrag van God ontvang nie. Die kruis was die kern van God se liefdesplan – sy verlossingsplan vir die wêreld. In sy groot liefde wou Hy Jesus nie die kruis spaar nie, want dan sou ek nie verlos kon word nie. Verstaan ek dit? Nee, maar ek aanvaar dit in die geloof, met onuitspreeklike dankbaarheid vir my verlossing.

’n Mens moet bid vir die genade om nooit aan God se liefde te twyfel nie en om altyd te aanvaar dat Hy sy volgelinge net die beste wil gee, al ervaar hulle slegte dinge en hartseer. As ’n mens terugskouend kon kyk, soos God nou reeds doen, sou jy dalk kon sien dat God sy kinders volgens sy wyse raadsbesluit ten goede lei, al ervaar hulle dit op daardie oomblik as uiters traumaties. ’n Mens moet altyd onthou dat God en sy engele buite mense se tyd en ruimte funksioneer. As ’n mens sê dat God weet wat goed is vir sy kinders, beteken dit dat God alles in die geheel en in volmaaktheid sien. Toe God op die sewende dag sien sy skepping is goed en toe gaan rus, het Hy sy skepping as volledig, afgehandel en volmaak beskou. Hy beskou mense dus ook vanuit daardie ewigheidsperspektief. Vanuit die mens se perspektief binne liniêre tyd en ruimte is elkeen steeds op die moeilike pad na volmaaktheid. Andrew Murray sê nie verniet nie: “God se pad vir sy kinders is altyd deur lyding tot volmaaktheid. Soos dit met Jesus was, so is dit ook met ons. Daar is geen ander weg nie.”

Almal moet hul kruis optel en Christus volg. Elkeen se kruis lyk anders. Dit het geen sin om te vra hoekom jy dié of daardie kruis ontvang het nie. ’n Mens kan net vra wat God wil hê jy moet leer uit die kruis of trauma wat Hy oor jou pad gestuur het. Friederich Nietzsche het gesê dié wat weet waarom hulle lewe, sal amper met enige omstandigheid kan saamleef. As ’n mens jouself egter bly sien as ’n slagoffer van jou omstandighede en nie leer en groei uit jou ervarings nie, beleef jy telkens dieselfde trauma – dikwels totdat ’n mens bewus word daarvan en aan die trauma betekenis gee. Elkeen moet besef sy siel het, nes ’n boom, nodig om diep in die donker aarde wortel te skiet sodat die wortels sterk genoeg kan wees vir die boom om te groei. So moet die siel soms donker en moeilike tye beleef om na die lig te kan groei. Dan hoef ’n mens nooit te twyfel aan die betekenis van dinge wat met jou gebeur nie. In Man’s search for meaning sê Victor Frankl die belangrikste menslike vryheid is die vermoë om jou ingesteldheid tot en beoordeling van ’n bepaalde situasie te kies. Dit lei tot ’n volgende belangrike punt.

’n Tweede aspek wat ’n mens nooit uit die oog mag verloor nie, is dat God mense as verantwoordelike wesens geskape het. Dit onderskei mense van enige van sy ander skepsels: Hulle kan besluite neem en die verantwoordelikheid daarvoor dra. Ongelukkig wil mense net hul eie besluite neem, maar oor die gevolge vra hulle dan dikwels: “Hoekom, Here?”

Let op Jesus se reaksie toe die duiwel Hom versoek met die versekering van Psalm 91:11, dat God sy engele opdrag sal gee om Hom te beskerm as Hy by die tempel sou afspring (vgl. Matt 4:5-6). Laat ’n mens God nie versoek nie. As ek ’n kleintjie toelaat om met ’n skerp mes te speel, moet ek verwag om hom met bebloede hande en ’n bebloede mond aan te tref. God verwag dat mense verantwoordelikheid aanvaar vir hul besluite en optrede.

Op ’n ligter trant het ’n vriend my altyd gewaarsku: “Onthou, op honderd en veertig kilometer per uur klim die Here uit die motor en op honderd en sestig klim die duiwel ook uit. Dan is jy op jou eie.”

Is dit dan nou slegte engele wat slegte dinge met ’n mens laat gebeur? Om hierdie vraag te beantwoord, is drie feite van uiterste belang.

Eerstens is daar geen beperking op die aaklige dinge wat slegte engele aan die gang sal sit en sal probeer om met ’n mens te laat gebeur nie. Hulle is gevalle en sleg en hou hulle voltyds daarmee besig om mense te verlei en te pla. Selfs al bied hulle jou onskadelike dinge aan, bly jou uiteindelike ondergang hul doel.

Tweedens moet ’n mens onthou dat die kwaad nie deur God op tou gesit word nie, maar deur Satan. Romeine 8:28 sê onomwonde dat God behae daarin het dat dit met sy kinders voorspoedig sal gaan en dat hulle vrede sal hê. In Job 1 is dit Satan wat met die voorstel kom dat daar slegte dinge met Job moet gebeur om sy geloof in God te toets. God laat dit toe, maar stel duidelike perke aan Satan. Omdat gevalle engele hul opdragte van Satan kry, kan ’n mens dus sê dis hulle wat mense treiter.

Derdens moet ’n mens ook onthou dat dit een van die take van goeie engele in God se diens is om sy oordeel oor mense te voltrek. Hulle is as ’t ware God se wetstoepassers wat moet toesien dat God se opdragte uitgevoer word. As mense ongehoorsaam is, sal die gevolge waarteen God hulle gewaarsku het, hulle tref. Maar ’n genadige God laat nooit sy oordeel oor mense kom voordat hulle nie genoeg gewaarsku is nie. God sê altyd baie duidelik wat Hy verwag en wat die gevolge sal wees as mense Hom nie gehoorsaam nie. Daar is volop voorbeelde hiervan.

In 2 Samuel 24 lees ’n mens van ’n engel wat deur die Here gestuur word om sewentig duisend Israeliete aan die pes te laat sterf. Dit doen God aan sy eie volk, mense wat jy sou dink op God se bystand kon reken! En terwyl Dawid die slagting aanskou, weet hy presies wat besig is om te gebeur en bely hy teenoor die Here: “Dit is ék wat gesondig het” (2 Sam 24:17).

Adam en Eva het presies geweet wat God van hulle in die paradys verlang, maar toe hulle sy bevel oortree, is hulle uit Eden verjaag en is daar gerubs by die ingange geplaas om hulle uit te hou sodat hulle nie dalk terugkom en van die boom van die lewe eet en vir ewig in hul sonde voortlewe nie (vgl. Gen 3:24). Deur hulle te verjaag, was God hulle dus eintlik genadig.

Die Israeliete het met hul uittog uit Egipte die duidelike opdrag gekry om die bloed van ’n vleklose offerdier aan hul deurkosyne te smeer om te keer dat die eersgeborenes sterf (vgl. Eks 12:5, 23). Dit was nie ’n slegte engel wat die dood gebring het nie, dit was ’n goeie engel wat God se opdrag uitgevoer het.

In Eksodus 23 is ’n pragtige voorbeeld van die wisselwerking tussen God en sy engele. God gee sy volk volledige voorskrifte en stuur dan ’n engel om hulle as sy gesant in hul teenwoordigheid op hul trek te vergesel. Maar die engel het ook opdrag om, wanneer die volk nie aan God se voorskrifte gehoorsaam is nie, die oordeel onmiddellik te voltrek. Dit is God wat aan die volk en die engel die opdrag gee. Die volk is aan God gehoorsaam, maar toon daardie gehoorsaamheid teenoor die engel, wat as God se verteenwoordiger in hul midde is om toe te sien dat dit wel gebeur.

In Handelinge 12:21-23 lees ’n mens van Herodes, wat nie die volk teregwys toe hulle hom as ’n god aanspreek nie, maar die eer wat God toekom, vir homself toeëien. God laat egter nie toe dat die eer van sy Naam aangetas word nie en gebruik ’n engel om Herodes met die dood te tref. Dit sou korrek wees om te sê ’n gevalle engel het Herodes verlei tot die sondige daad om homself die eer toe te eien, maar ’n goeie engel het hom in opdrag van God doodgemaak.

In elke voorafgaande geval is dit ’n goeie engel in God se diens wat ’n “slegte” taak uitvoer. Om dus net te sê dat dit slegte engele is wat slegte dinge met mense laat gebeur, is weerlegbaar. Ek besef dis nie altyd vir Christene maklik om te verstaan waarom ’n genadige God slegte dinge met hulle laat gebeur nie, veral as dit iets so traumaties soos die verlies van ’n kind is. God se genade vrywaar jou egter nie van slegte gebeurtenisse nie. Hy staan ’n mens wel by in krisistye, dikwels deur middel van sy engele. In die eerste plek moet ’n mens jou naaste in hul oomblik van nood vertroos. Dan moet jy hulle ook help om deur middel van die leiding van die Heilige Gees te soek na die betekenis van hierdie krisis in hul lewe.

Spinoza sê as ’n mens ’n helder en duidelike prentjie kan kry van die emosionele lyding wat jy ondervind, word dit nie meer as swaarkry beleef nie. Soms help engele ’n mens ook hiermee deur byvoorbeeld te troos of die rede vir lyding te gee, soos toe engele vir Lot gesê het hoekom Sodom en Gomorra vernietig word (vgl. Gen 19). ’n Mens vind dit ook waar die engele die dissipels met ’n toekomsblik bemoedig terwyl hulle ná die hemelvaart na die hemel staar (vgl. Hand 1:9-11).

Wat ’n mens wel moet weet, is dat mense beperkte kennis het en dat dit nie altyd moontlik is om alles te verstaan nie. God se gedagtes is immers nie mense se gedagtes nie (vgl. Jes 55:8). Dan moet ’n mens net in geloof weet dat God dit in sy liefdevolle genade wel aan jou sal openbaar indien dit sy wil is. Dit bly egter elkeen se verantwoordelikheid dat jy altyd in gehoorsame afwagting moet bly om sy wil vir jou lewe te hoor. Mense moet nogtans in geloof aanvaar dat wanneer God toelaat dat slegte dinge gebeur, Hy net die beste vir sy kinders in gedagte het.

Hoewel goeie of slegte engele nie kan besluit wanneer iemand moet sterf nie, is dit deel van goeie engele se beskermingstaak om betrokke te wees by die dood van gelowiges. Die sterfbed is Satan se laaste kans om mense nog aan te val of te beskuldig, maar gelowiges kan seker wees dat God se engele hul onsterflike siel op die reis vanuit die sterflike liggaam na die ewige heerlikheid sal vergesel.

Engele by ons

Подняться наверх