Читать книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa - Страница 12

Оглавление

Hoofstuk 7

’n Dier laat jou minder eensaam voel. Maar nie alle diere nie. Konyne, byvoorbeeld, beteken niks, hulle is heeltemal te dof. Honde kan my ook vreeslik irriteer. ’n Voëltjie is wat ek wil hê; so ’n klein kerkkraaitjie met ’n silwer nekkie en melkblou oë. Kerkkraaitjies is oulik, en anders as ’n gewone kraai of ’n raaf, klink hulle soos ’n mens wat praat. Veral saans wanneer daar ’n hele kolonie neerstryk in die kastaiings langs die Bleiburg, waar hulle met mekaar gesels tot dit donker word en jy soms ’n harde “ka” hoor as een van sy tak afval. Daarby is hulle baie skoon voëltjies. Partykeer sien jy hoe hulle by ’n vlak poel in die weiland kort-kort vooroor buig om die water oor hulle rug en vlerke te spoel tot hulle skoon is.

Ek het geweet waar hulle hou. Elke lente maak hulle nes in ’n paar halfdooie bome rondom ’n spoeldam, ’n klein meertjie wat agtergebly het nadat die dyk lank gelede daar deurgebreek het. Dit was vroeër ’n verskriklike ramp, so ’n dyk wat breek, met massas mense wat verdrink. Op die plek van die deurbraak het die water binnetoe gekolk en ’n diep gat agter die dyk gespoel. Die nuwe dyk is later om so ’n spoeldam aangelê, en dis waarom ou dyke dikwels sulke skerp kinkels het.

Die kerkkraaie maak nes in die splete en holtes van die bome rondom die spoeldam, en een Woensdagmiddag het ek vir Sam gevra om vir my ’n kuikentjie daar te gaan uithaal.

– Oukei, het Sam gesê.

Hy het agter my geloop met een hand op die rolstoel, en eenstryk allerhande tipiese Sam-onsin kwytgeraak. Ek dink soms hy het breinskade.

Ek het uitgekyk oor die oewerveld tussen die dyke waar die rivierwater weer agter die somerdyk teruggetrek het. Aan die donker kringe onderom die boomstamme kon mens sien hoe hoog die water in die winter gestyg het. Bo in die bome het die swart stippels gesit. Ek was skoon opgewonde. Ek wou ook ’n kerkkraaitjie hê omdat hulle so getrou is; dié soort kraaitjies bly altyd by mekaar, en as jy enetjie van kleins af grootmaak, raak hy net so geheg aan jou. Maar mens moet betyds begin.

– Moet ek dáárin klim? het Sam gevra toe ons by die bome kom.

Hy het vir ’n rukkie teëgestribbel, maar is uiteindelik hande-viervoet teen die dyk af. By ’n boom met takke wat laag oorhang het hy eers ’n rukkie gestaan en opkyk tot hy ’n kraaitjie sien wat nes toe vlieg. Toe begin hy klim. In die boomtoppe het die voëls onrustig rondgefladder, want hulle het lankal agtergekom daar is moeilikheid. Ek het koud gekry; die winter het nog tussen die warmer luglae van die lente ingedring. Dit was al skemer en dit was moeilik om in die verte iets raak te sien. Die bome rondom die spoeldam het gelyk asof hulle vergiftig was. Hulle was so goed soos dood en party het al stadigaan hul bas begin afgooi, wat hulle kaal en koud laat lyk het. Sam het tot by ’n tak op omtrent ’n derde van die boom se hoogte geklim en dit taamlik stokkerig verder gewaag. Hy het beslis nie voor in die ry gestaan toe intelligensie en soepelheid uitgedeel is nie. Om die waarheid te sê, hy het net een eienskap gehad, en dit was dat hy nogal ’n gawe outjie was. Dis te sê as gaafheid ’n eienskap is en nie ’n afwyking nie, omdat jy nie daardie wreedheid in jou omdra waarmee iemand soos Dirk homself handhaaf nie.

Sam was net ’n meter van die nes af toe hy skielik ophou beweeg. Ek het my oë op skrefies getrek, maar kon nie uitmaak wat aan die gang was nie. Ná ’n rukkie het ek hom hoor skree, moerskont en sulke goed. Hy het begin paniekerig raak. Dit was ’n baie slegte plek om paniekerig te raak. So iets maak my heeltemal rasend. Daar hang hy bewegingloos tussen hemel en aarde, en ek sit vasgekluister aan my rolstoel langs die pad. My enigste uitweg was om terug te ry dorp toe, hulp te kry en te hoop dat hy dit daar bo in die takke uithou. Ek het gery so al wat ek kon. Lank daarna sou ek nog die noodkrete van die kraaitjies hoor wat om die arme Sam sirkel.

Ek het die dorp langs die Achterom binnegery. Joe het in die eerste huis gewoon. Die ligte het binne gebrand en die huis het gestraal soos ’n ligbak. Ek het met my vuis hard teen die voordeur geslaan; India het oopgemaak. Sy was duidelik verbaas om my te sien. Ek het nog nooit kans gehad om haar goed te bekyk nie en het nou eers ontdek hoe mooi sy vir my was, al was sy nog baie jonk. Ek het gesien dat sy op ’n sekere ouderdom besonder aantreklik sou wees, en dat mans tot dan ongeduldig na haar sou kyk, soos ’n boer in die lente die teer groen sprietjies van sy gesaaides betrag wat nog skaars bokant die grond uitsteek. India was anders gebou as haar broer, veel fyner, maar sy het daardie selfde helder kyk in haar oë gehad.

– Waarmee kan ek help? het sy eindelik gevra.

Ek het die dik slym weggesluk wat met die gejaag dorp toe in my mond saamgepak het, en my kop opgelig.

– UH-UH-DSJOOOOH, het ek gebalk.

– Joe? het sy gevra. Soek jy vir Joe?

– UH-JAAAAH.

Ek het geklink soos Chewbacca, daai hairball uit Star Wars. India het binnetoe geloop en die deur laat oopstaan. Dit was soos ’n gloeiende ertsoond daar binne, so warm en lig was dit. Dit het dieselfde gloed afgegee as die elektriese verwarmer in ons badkamer. “Maak toe die deur!” het iemand gegil, waarskynlik die een wat die kragrekening betaal.

– Joe! Hier’s iemand vir jou! het India geroep.

Haar ouers het haar so genoem omdat sy in Indië verwek is, iets wat Joe my later vertel het. Haar tweede naam was Laksmi. Dit is ’n godin van geluk en wysheid, volgens die Hindoes. Ek het niks van Hindoes geweet nie, net van samoerai en nog ’n paar goed. Joe se ouers is in Indië getroud omdat hulle ’n spirituele band met die land gehad het. Tydens die huwelikseremonie het hulle vreeslik maagwerkings gehad. Terwyl ’n wolk lotusblare op hulle neergedaal het, het diarree langs hul bene afgestroom. Onder die sitarkonsert ter ere van die bruidspaar het Regina Ratzinger huilend op die toilet sit en skyt.

Ek het gehoor hoe Joe by die trap afstorm. Toe kom staan hy voor my, besonder opgewek, het dit vir my gelyk.

– Fransie, wat’s fout?

Ek het stilswyend opgekyk na hom.

– Oukei, wat is verkeerd en hoe gaan jy dit vir my verduidelik?

Ek het met heftige gebare in die rigting van die dyk gewys en beduie dat hy moes saamkom.

Lassie die slim kolliehond.

– Gou skoene aantrek, het Joe gesê.

Hy het my gestoot. Sy hande was gelaai met energie. Dit was die uur wanneer alles blou word, metaalagtig blou, wanneer alle kleure wegkwyn en die wêreld blou en hard en donker lyk, tot dit stadig wegsink in die duisternis.

– Is dit ver? het Joe gevra.

Ek het vorentoe gewys en Joe het begin met ’n storie oor die wonders van die moderne fisika, waarin hy toe baie begin belangstel het. Hy het ’n gawe vir monoloë gehad, hierdie ou.

Iewers langs die pad het hy skielik gestop en gevra: “Wat is dit dié?” Hy het gewys na die koker waarin ek my teleskoop bêre. Ek het dit nog by Ma gekry, wat verstaan het dat ek deur te kyk dit sou regkry om enige neerdrukkende gedagtes oor my gebreke op die agtergrond te skuif. Die teleskoop het langs my rolstoel gehang en deel van my stadig groeiende wapenrusting uitgemaak. Joe het die dop van die koker losgedraai en die teleskoop in sy hand laat gly.

– Wow, het hy gesê, en die loergat voor sy linkeroog gehou.

Hy kon nou maklik tot oorkant die rivier sien, en selfs die huise agter die dyk. Ek het ’n juweel van ’n teleskoop gehad: die Kowa 823 met ’n zoemlens 20-60x en ’n wyehoek van 32x.

– So dis wat jy doen, jy sit en bekyk ons almal, het hy gesê terwyl hy die instrument laat sak. Maar wat jy dink, bly jou geheim.

Hy het die teleskoop soos ’n wysterstok op my gerig. My gesig het gevlam van skaamte; die kyker is bekyk. Ek wat gedink het dat ek onsigbaar was omdat niemand ooit langer as ’n halfminuut aan my aandag gegee het nie, het nie aan sy blik ontsnap nie. ’n Gevoel van dankbaarheid het my keel laat toetrek – ek is gesien, en dit deur die enigste een in die hele wêreld deur wie ek gesien wou word . . .

– Wat is nou verkeerd?

Asof ek dit kon help; ek was sommer net ontroer.

Ek het beduie dat ons moes verder gaan; Sam kon enige tyd uit die boom foeter. Maar toe ons by die dam kom, was hy skoonveld. Ek het paniekerig op die grond langs gesoek, maar hy het nêrens met ’n gebreekte rug of met sy been in ’n snaakse kinkel gelê en kerm nie. Dit het gelyk of die rus weer oor die voëlkolonie neergedaal het. Miskien het Sam dit tog op sy eie ondertoe gemaak en deur die veld huis toe geloop. Nou het ek nog steeds nie ’n kraaitjie gehad nie.

Joe het langs my gestaan, sonder ’n idee van wat aangaan. Ek het aan sy mou getrek en hy het oorgeleun na my toe.

– Wat gaan ons doen?

Met my hand het ek so goed as wat ek kon ’n vlerkslag nageboots – mens sou daarin netsowel ’n sandgryper of ’n happende pacman kon lees – en na die bome gewys. Joe het na die voëls gekyk wat af en toe verbyvlieg en na die hemel agter hulle wat ál verder toetrek, en gesê: “Verstaan ek jou reg dat jy ’n kraaitjie wil hê?”

Ek het gegrynslag soos ’n aap.

– Moet ek so ’n dingetjie vir jou uit die nes haal; is dit hoekom ons hier is?

Hy het sy kop geskud, maar sonder verdere protes teen die helling afgegly, lenig soos ’n ninja in die boom geklim en dadelik weer afgekom. In sy hand het hy ’n verkrimpte kuikentjie vasgehou. Die diertjie het skigtige, flitsende ogies en ’n plat, breë snawel gehad. Jong veerpuntjies het rond en bont deur sy rooi-blou vel gesteek, met ’n olierige donsigheid tussenin. Dit was die lelikste wat ek in ’n lang tyd gesien het.

– Is dit wat jy wou gehad het? het Joe ongelowig gevra.

Hy het die dingetjie op my skoot gesit en ek het my hand versigtig daarom gevou.

– Pasop met daai sterk klou van jou.

Die voëltjie het warm en effens klam gevoel, en al was hy so klein, het hy my laat dink aan ’n groot, kloppende hart wat in die holte van my hand bons.

– Nou ja, het Joe gesê en sy skouers opgetrek, almal moet seker iets hê om te troetel.

Hy het die handvatsels van die rolstoel vasgevat en my in die rigting van Lomark gedraai. Ek het die voëltjie versigtig in die kromming van my hand gehou. Hy sou my Oë op die Groot Hoogtes word en sy naam sou Woensdag wees, die dag waarop ek hom gekry het. Dit het saggies begin reën. Ek was dolgelukkig.

Joe Speedboot

Подняться наверх