Читать книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa - Страница 13

Оглавление

Hoofstuk 8

Toe ek vyftien was, het ek my ouers laat verstaan dat ek by die tuinhuisie agter ons huis wou intrek. Ek kon nou ’n hele klompie dinge self doen, en dit sou maklik genoeg wees om ’n blikkie worsies warm te maak. Ma was daarteen; Pa het die huisie weerbestand gemaak en ’n gasverwarmer, ’n kombuishoekie en ’n toilet ingesit. Bokant die deur het hy ’n perde-skoen vasgespyker, vir geluk. Van toe af het my ouers oorkant my gewoon; daar het ek gestort en soms televisie gekyk. Vir Woensdag was daar ’n voëlkou langs die huis. Bedags het ek hom dikwels op my skouer saamgeneem, soos ’n seerower met ’n papegaai maak. Hy kon nou vlieg en soms was hy ’n halfuur of wat weg, maar as hy my fluit gehoor het, was hy dadelik terug.

In hierdie huisie het ek begin om alles neer te skryf. En ek bedoel alles. Vir party mense is dit moeilik om te glo dat ek hierdie lewe byna letterlik op papier kan weergee. In my dagboeke kan jy sien hoe die tyd verloop – so lyk 365 dae, en so tien maal 365 dae, of vyftien, of twintig. Jy kan dit byna nie meer miskyk nie, dis ’n berg wat agtertoe die geskiedenis in groei. En alles staan daarin; ten minste, as dit in my buurt afgespeel het, of as ek by iemand anders daarvan te hore gekom het. As jy byvoorbeeld vandag hier sou uitslaan, sou ek dit neerskryf. Iets soos: vir so en so gesien, so laat of so laat, op hierdie of daardie dag. En as iets aan jou my sou opval, jou snaakse ore of jou mooi neus, sou ek dit ook opskryf, waarom jy hier was en wat jy aangevang het. Maar ook ander dinge: hoe die herfsreëns byvoorbeeld die blondheid uit ons hare spoel en die donker winterhare daaronder uitgroei, en oor die rivier wat deur ons lewens stroom soos die bloedsomloop deur ons liggame.

Ek dink dikwels aan die groot samoerai Miyamoto Musashi wanneer ek skryf. Hy sê dat die weg van die samoerai tweeledig is: die weg van die swaard en van die penseel, oftewel die pen. As die weg van die swaard vir my ’n bietjie moeilik is, bly dié van die pen oor. Ek het dit in Die Boek van die Vyf Ringe, Go Rin No Sho, gelees, die boek wat ek in die biblioteek gekry en vodde gelees het. Ek het dit nooit teruggegee nie.

Musashi is Kensei, die Swaard-Heilige, wat in sy lewe nooit ’n enkele geveg verloor het nie. Sy volle naam is Shinmen Musashi No Kami Fujiwara No Genshin; Musashi vir sy vriende. Hy is in 1584 in Japan gebore en het op sy dertiende verjaardag sy eerste teëstander doodgeslaan. Nog vele gevegte sou volg, waarvan hy nie een verloor het nie. Hy was in sy lewe al ’n legende, maar het self gesê dat hy die strategie eers begin verstaan het toe hy omtrent vyftig jaar oud was. Die Boek van die Vyf Ringe gaan oor hoe om soos hy te veg, maar daar is ook baie goeie raad as jy nie juis ’n baasvegter is nie.

“Met die krag van die strategie beoefen ek vele kunste en vaardighede – alles sonder ’n leermeester. Met die skryf van hierdie boek het ek nie die leer van Boeddha of van Confucius gebruik nie, nóg die ou oorlogskronieke of boeke oor die gevegskunste. Ek neem die pen op om die ware gees van hierdie Ichi-skool te verduidelik, soos dit weerspieël word in die Weg van die hemel en Kwannon. Dis nou in die middel van die nag, die tiende dag van die tiende maand, die uur van die tier.”

’n Paar weke nadat Musashi sy lesse opgeteken het, is hy dood.

Ek glo baie in Die Strategiese Blik, wat jou leer om beter te kyk. Musashi skryf: “U blik moet sowel ruim as oop wees. Dit is die tweevoudige blik wat ‘Waarneem en Sien’ genoem word. Waarneem is sterk en sien is swak. In Strategie is dit belangrik om die dinge wat ver weg is te sien asof hulle naby is, en om die dinge wat naby is van ’n afstand te bekyk.”

Ek bedoel, dis mos nou briljant.

Ek het met my dagboeke begin om vir my oudag voorsiening te maak. Ek het gedink: As ek nou presies neerskryf wat alles gebeur, dan kan mense my later kom vra: “Fransie, wat het op 27 Oktober van so en so ’n jaar gebeur. En kyk of jy iets oor my kry op daardie spesifieke dag.” Omdat ek altyd alles bygehou en netjies ingedeel het, sou ek dan die regte boek uithaal en dadelik die inligting kry. Hier, op 27 Oktober, ’n paar jaar gelede, ’n afskuwelike suidwesterstorm wat baie skade aangerig het. Bome het omgewaai en alarms het oral afgegaan. Op die sportveld het die penningmeester soos ’n getroue slaaf die lyne met ’n krytkarretjie nagegaan en is hy byna omgewaai. Uit die kalktregter het ’n wit wolk opgedwarrel en die lyne het hopeloos te ver uitgewaaier. Ek het die penningmeester se onversetlikheid bewonder. ’n Uur later is alle sportwedstryde oor die hele land afgelas.

Die mense op straat het soos kinders te kere gegaan in die kwaai wind. Hulle was heeltemal laf en uitgelate en hulle oë het geskitter, sonder ’n spoor van bekommernis. Dit het my die meeste opgeval, dat hulle oor niks besorg was nie, al is die dakteëls afgeruk en het vlieënde takke hul motors beskadig. Die pont het daardie dag nie geloop nie. Die rivier het gesidder en wilde grys golwe uitgespoeg.

Op 28 Oktober was die storm verby. Toe kom die kettingsae.

En nadat ek jou toegelaat het om dit in daardie spesifieke boek te lees, sou ek in my notaboek aanteken hoeveel jy daarvoor moes betaal.

Maar mense het geen behoefte aan so iets nie. Hulle wil glad nie hoor hoe alles gebeur het nie. Hulle glo liewer in hul eie sprokies en nagmerries, en daarom is daar geen aanvraag vir die stories van Frans die Arm nie. Dit bly lê op die rakke tot daar eendag iemand kom wat die geskiedenis van Lomark wil skryf en daarin ’n skat herken wat ’n bietjie lig werp op die jare wat verby is. Dan eers sal my werk na waarde geskat word. Tot dan bly dit ’n berg ou nuus agter in ’n tuinhuisie.

My dagboeke staan op rakke teen die agterste muur. Ek skryf elke dag. Wat geskiedkundiges en argeoloë uit die dieptes van die verlede opgrawe, raap ek in die hede op. Wat ek doen, sou mens horisontale geskiedskrywing kon noem, terwyl historici delf na dinge wat lankal verby is. Daarvoor moet hulle die diepte in: Dit noem ek die vertikale geskiedenis. Die vergelyking het by my opgekom toe ons in Aardrykskunde oopgroefmyne en gewone mynbou behandel het. Vir oopgroefmyne hoef jy nie te grawe nie, omdat die steenkool na aan die oppervlak lê – jy skraap dit eintlik net van die aarde af. Maar by gewone mynbou moet hulle werklik die diepte in en tonnels in die aarde grawe.

Ek het nogal iets in dié metafoor gesien.

In ’n sekere sin maak ek die werk van geskiedskrywers oorbodig. As hulle eendag my dagboeke kry, neem hulle net daaruit wat hulle nodig het, voorsien dit van kommentaar en noem dit hulle eie werk. Gesofistikeerde diewe eintlik, nes romanskrywers. Maar dit skeel my min, solank iemand eendag weet hoe dit werklik was, hierdie dinge met Joe. Die dinge wat ek wéét, nie wat Christof en sy trawante daaroor te sê het nie. Dis nie die waarheid nie, dis leuens en bogpraatjies.

Joe Speedboot

Подняться наверх