Читать книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa - Страница 9

Оглавление

Hoofstuk 4

Joe het vir niemand gesê wat sy regte naam is nie, nie eers vir Christof wat intussen sy beste vriend geword het nie. Ons het geweet sy van was eintlik Ratzinger, maar sy voornaam was ’n geheim.

As mens jou naam kry, het jy gewoonlik vrede daarmee; dis nou eenmaal wat jou naam is, en dit help nie om te kla nie. Jy het niks daaroor te sê nie, jy is jou naam, jou naam is jy, die twee van julle is een. Ná jou dood leef jou naam nog ’n rukkie voort in ’n paar mense se koppe, dit vervaag op jou grafsteen en dis die einde van die storie. Maar Joe was ontevrede oor sy naam. Nou praat ons van die tyd voordat hy op Lomark kom woon het. Hy het geweet dat hy met sy regte naam nooit kon word wat hy wou wees nie. Met so ’n naam kon jy nooit iets of iemand anders word nie. Jy kon net so goed ’n siekte hê wat maak dat jy byvoorbeeld nie uit die huis kan gaan nie. Daar was ’n misverstand: Hy is met die verkeerde naam gebore. Hy was so tien jaar oud toe hy besluit het om van hierdie naam, wat hom soos ’n horrelpoot gehinder het, ontslae te raak. Hy sou Speedboot word. Waar hy daaraan gekom het, het hy self nie geweet nie, maar Speedboot het hom soos ’n handskoen gepas. ’n Voornaam het hy nog nie gehad nie, maar hy het hom nie daaroor bekommer nie. Dit sou vanself kom, solank mens net eers die regte van beet het.

Sy voornaam het nie lank op hom laat wag nie. Toe hy eendag langs ’n boustellasie verbyloop, die soort met die lang slurp waardeur rommel in ’n houer gestort word, kry Joe – wat op daardie oomblik nog nie Joe was nie – boustof in sy oë en gaan staan hy om dit uit te vryf. Op die steier was daar ’n radio vol gruis en verfspatsels, en dit was uit daardie radio, op daardie einste oomblik, dat sy naam opgeklink het. So bly soos ’n kind wat sy ma in ’n skare herken, het hy die eerste keer sy voornaam gehoor: Joe. In die liedjie “Hey Joe” van Jimi Hendrix: “Hey Joe, where you going with that gun in your hand / Hey Joe, I said where ya going with that gun in your hand / I’m going down to shoot my old lady now / You know I caught her messing ’round with another man.”

Joe sou dit wees. Joe Speedboot. Met so ’n naam kon jy die wêreld aandurf.

In die klein voortuintjie van hulle huis in die Achterom het Joe van sy roeping bewus geraak. Dit was vroeglente ná hul eerste winter op Lomark. Ek was toe nog in die hospitaal aan die bykom. Joe het dooie blare in die tuin bymekaargehark; skerp, koue lig het oor die bedorwe reste van die seisoene geval. Onder die blare het geelbruin gras te voorskyn gekom, en deurskynende slakdoppe. Uit die rigting van Westerveld het daar ’n geluid aangeswel – soos iets wat skeur, iets wat seer maak. Dit het in golwe gekom en vinnig sterker geword. ’n Jong populier het senuweeagtig geritsel. Joe het die hark teen sy bors vasgeklem en gestaan en wag in daardie klassieke rusposisie van die munisipale werker.

Toe sien hy hulle: sewe glansende Opel Mantas, swart soos die nag en met uitlaatpype wat vuur en rook braak. Agter elke stuurwiel was ’n jongman met ’n nors, ingeteelde gesig en hare op die handpalms. Sigaretrook het deur die oop vensters getrek, een arm het ongeërg by die bestuurskant uitgehang; Joe het verbysterd toegekyk hoe die prosessie soos stadige onweer verbytrek. Hy het die hark laat val en sy ore toegedruk. Die uitlaatpype het geglim soos trompette en dit was asof die wêreld vergaan in ’n allesvernietigende lawaai as die ouens die petrolpedaal intrap terwyl hulle die koppelaar inhou, net om te wys dat hulle bestaan en om seker te maak dat niémand daaraan twyfel nie, want wat nie weergalm nie, bestaan nie.

Dit was Joe se eerste les in kinetika, in die skoonheid van beweging wat deur ’n binnebrandenjin aangedryf word.

Die motorstoet het ’n lugbel van stilte agtergelaat, en in hierdie stilte het Joe sy ma se stem deur die oop venster gehoor: “Robbies!”

Regina Ratzinger (enigeen wat haar per abuis “mevrou Speedboot” genoem het, is vriendelik maar beslis reggehelp) het soggens haar rug gedaan gewerk as huishoudster by die Tabak-gesin, en smiddae haar elmboë in ’n seningontsteking gebrei om die hele dorp van woltruie te voorsien. Hierdie truie was van uitsonderlike gehalte – iets wat uiteindelik teen haar gedraai het, want omdat daar geen einde aan die truie was nie het haar mark ’n versadigingspunt bereik en het sy later skaars iets verkoop. Die kortstondige sukses van haar truie was ook te danke aan die lewensgetroue haantjies op die bors, wat sy met fyn garing opgetower het.

Die huis het vol gestaan met mandjies wol, wat motte gelok het. Op strategiese plekke het sy lokaas gehang om hulle te vang, taai kartonstroke wat ruik na motteseks. Soms kon jy Regina Ratzinger “Mot! Mot!” hoor skree, gevolg deur ’n dawerende hou, India wat “Ag, siestog” sê, en Joe wat grinnik.

Christof kon rasend word omdat hy nie geweet het wat Joe se regte naam is nie. Tot hy eendag afgesit het na Regina Ratzinger toe.

– Mevrou Speed . . . jammer, mevrou Ratzinger, wat is Joe se naam nou régtig?

– Dit mag ek nie sê nie, Christof.

– Maar hóékom nie? Ek sal vir niemand vertel nie . . .

– Omdat Joe dit so wil hê. Hy voel dat elkeen in sy lewe ten minste een geheim moet hê, hoe klein of hoe groot ook al. Jammer, Stoffeltjie, maar ek kan jou nie help nie.

Christof is vernoem na sy oupa wat op een van die skilderye in hulle huis in Brugstraat gepryk het; verewig teen ’n agtergrond van klassieke ruïnes het hy uitgekyk oor die sitkamer wat deur die trok verwoes is. Toe Regina hom eers “Stoffeltjie” noem, het Christof besluit hy wou Johnny wees. Johnny Maandag. Dit was nou ’n ordentlike naam, dis te sê as jy nie geweet het dat sy naam eintlik Christof was en hy vir Joe Speedboot nageaap het deur sy naam te verander nie.

Daar het nooit veel van hierdie naam gekom nie. Net Joe het hom ’n ruk lank so genoem, niemand anders nie.

Christof het in die vakansies feitlik die hele tyd by Joe gekuier, waar hulle baie meer vryhede geniet het. Hulle het altyd saam op een fiets gery, met Christof wat agter Joe op die bagasierak staan soos ’n akrobaat in ’n Koreaanse sirkus as hulle op pad was Spar toe vir ’n bottel Coke of na die Phoenix-kafee vir tjips. So het hulle eendag by die beskadigde huis in Brugstraat verbygery, wat nog met steiers en bouplastiek afgeskerm was. Die huis is herbou en verkoop, want Egon Maandag het gesê hy kon ná die ongeluk nie ’n enkele nag rustig slaap nie. Hy het ’n deftige woning op ’n hoërliggende stuk grond buitekant Lomark laat bou sodat sy voete kon droog bly wanneer die waterstand baie hoog was. Daardie dag het hy egter onder die plastiek by die ou huis se voordeur uitgekom en tot sy verbasing sy seun op die bagasierak sien staan.

– Haai, het Christof gesê.

– Dag, Christof, het sy pa gesê, en ek dink dit was al wat hulle dié somer vir mekaar te sê gehad het.

Joe en Christof het dikwels tjips geëet. Die meisie van die Phoenix-kafee het ’n oulike gesiggie en ’n mollige lyfie gehad.

– Wat sal dit vandag vir die menere wees?

– Een tjips met mayonnaise en satésous, ekstragroot, met twee vurkies, sê Christof. En weet jy hoekom hierdie plek se naam Phoenix is?

Die meisie skud haar kop.

– Dis ’n mitiese voël wat oprys uit sy eie as, sê Christof. Nogal snaaks dat jy dit nie weet nie.

– Ag jammer, hoor, sê die meisie.

Sy kyk aandagtig rond, asof sy iets sien wat nie vroeër daar was nie.

– Is dit hier wat hulle hom die laaste keer gesien het, vra sy, toe noem hulle die plek so?

– Ja, sê Joe ernstig, net hier was sy nes.

Die tjips het in die olie gesis; teen die venster het ’n afgeleefde brommer geneul. Die meisie het die tjips uit die olie gelig en drooggeskud terwyl Joe en Christof hulle verwonder het aan haar goedbedeelde agterwêreld wat ritmies saamwikkel. Daar was iets verleideliks daaraan. Toe het sy sout oor die tjips gestrooi en dit omgeroer. Joe en Christof het haar fenomenale hamme stewig in hulle agterkoppe bewaar.

– Een tjips met mayonnaise en satésous vir meneer Christof, sê sy.

– Sy naam is Johnny, sê Joe. Kan ek dalk nog ’n bietjie mayonnaise kry?

Joe Speedboot

Подняться наверх