Читать книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa - Страница 15

Оглавление

Hoofstuk 10

Joe en Christof het hul tweemanskap uitgebrei en vir Engel Eleveld, my getroue pismaat, in hul geledere opgeneem. Dit het begin toe Joe en Engel weer in ’n spoeldam gaan visvang het. Daar is heelwat varswatersnoek in daardie poele, en Joe het een uitgetrek. Engel het by sy pa gehoor dat mens in so ’n snoekkop iets van Christus se lydensweg kon sien. Die vars-watersnoek se kopbeentjies sou glo die vorm van ’n hamer, spykers en ’n kruis hê. Hulle het die kop oopgebreek, maar niks van die aard gekry nie.

Van toe af was Joe en Engel vriende.

Ek het al vertel dat mens Engel jare lank miskyk, tot jy op ’n dag agterkom dat hy een of ander soort lig uitstraal. So het dit ook met Engel en die liefde gegaan. Hy het nooit soenspeletjies gespeel of liefdesbriefies uitgeruil nie. Maar hy het die wonderlikste aërodinamiese toestelle in sy hardeband-notaboek geteken en toevallige ontdekkings gemaak wat die wêreld sou verander, as hy hulle net onthou het. Heleen van Paridon en Janna Griffioen het oornag op hom verlief geraak. Waarom sal mens nie weet nie. In dieselfde week het Harriët Galama (tiete) en Ineke de Boer (nog groter tiete) ook voor hom geswig. Toe het dinge vinnig gebeur. Die eertydse helde het hul bekoring en die stryd om aandag verloor, en nog twee of drie meisies het vir Engel begin ogies maak. Uit die bloute, en sonder dat hy ’n vinger gelig het, was hy die kampioenram van die skoolgrond. Sy sakke het oorgeloop van briefies met rooi hartjies wat met bewende hande uitgeknip is. Op een van hulle het “I love joe” gestaan. Engel het dit vir Joe gegee. “Verkeerde adres,” het hy gesê.

Vir my was Engel so helder en beweeglik soos water. Musashi sê iets daaroor in die leerstuk “Water” in Go Rin No Sho: “Met water as basis word die gees ook soos water. Water se vorm hang af van waar dit voorkom; soms vloei dit sag, soms is dit ’n woeste see.”

Dit help nie om te stry nie: Engel het sy nuwe rol as casanova meesterlik vertolk. Hy het met ’n ligte hand blykies van aandag uitgedeel en verleë laggies op vele gesigte uitgelok, maar dit het hom nie genoeg geïnteresseer om regtig daarvan werk te maak nie.

Net soos Joe het Engel van jongs af belanggestel in natuurwetenskaplike verskynsels. Toe hy eenkeer hulle badkamer se medisynekassie ’n bietjie hardhandig oopgemaak het, het daar ’n bottel mondspoelmiddel, ’n strook vitamienpille en ’n ou tandeborsel uitgeval. Hy het tot by sy knieë in ’n ontploffing van glas en Listerine gestaan, maar het besef dat die bottel, die pilstrokie en die tandeborsel ondanks hul verskil in gewig die badkamerteëls gelyktydig getref het.

– Newton, het Joe gesê toe Engel hom van sy ontdekking vertel.

– O, het Engel gesê, jammer. Ek het regtig gedink . . .

– Vergeet van Newton. Hy’t ’n pruik gedra. Goodyear is die man wat ons nodig het.

Niemand kon uitmaak wat hy bedoel nie.

– Charles Goodyear, het Joe gesê, was die eerste mens wat rubber gevulkaniseer het. ’n Revolusie. Copernicus het die aarde rond gemaak, Goodyear het dit rybaar gemaak. Rubber was daai tyd nog ’n hengse probleem; dit het te sag geword in die hitte en kliphard in die koue. Hulle kon nog nie veel daarmee doen nie, maar Goodyear was mal daaroor, oor die hele idee van rubber. Hy het jare lank geëksperimenteer, sonder sukses. Maar toe hy eendag swawel met rubber meng, laat hy per ongeluk ’n bietjie daarvan op ’n warm stoof val. En toe gebeur dit: Dit word hard, dit vulkaniseer. Dis waarvoor almal gewag het, dit was die begin, en daarna sou rubber die wêreld op sy kop draai. Op rubberbande! Maar vir Goodyear self het dit nie veel in die sak gebring nie; hy kon nie eers sy eie patent verdedig nie en hy is arm dood. Martelaars, daai ouens wat hul lewe vir ’n saak aflê.

Ons was aangedaan en ’n rukkie lank doodstil, met dieselfde gevoel wat jy kry as jy hoor van jazzmusikante wat die sterre aan die brand speel, maar nooit ’n sent van die inkomste ruik nie. Mens het amper gewens dat dit hul eie simpele skuld moes wees, net om ons nie so sleg te laat voel nie.

Smiddae wanneer hulle in Joe-hulle se motorhuis rondgesit het, het India my ook soontoe gestoot. India was goed vir my. Vandat ek by Joe kom hulp vra het om Sam uit die boom te kry, was dit asof sy op ’n manier vir my begin jammer voel het. As ek dan op so ’n ledige middag met die Achterom langs gery het en hulle fietse sien staan het, het ek met die plathand op die voordeur geslaan tot sy oopmaak. Dan het sy my met ’n kordate hulpvaardigheid tot in die motorhuis gestoot en my tussen Joe, Christof en Engel neergesit. Dit was taamlik beknop. Daar was net een stoel, wat aan Engel behoort het. Ten minste, ek het nooit iemand anders daarop sien sit nie; hy wou seker sy goeie klere skoon hou. Hy is die enigste ou waarvan ek weet wat op sestien al snyerspakke gedra het. Joe het op die werkbank gesit en Christof op die enjinblok. Daardie motorhuis was die smeltery waar al hulle planne vorm aangeneem het. In daardie rookbruin hok met die reuk van sweiswerk en olie sou hulle die wêreld uitmekaarhaal en weer inmekaarsit soos hulle goeddink.

– Maar rubberbande help nie veel as die paaie hopeloos is nie, het Joe gesê. Mens moet ordentlike paaie hê: teerpaaie, nie die sandpaaie en gruispaaie wat jy toe gekry het nie. Dit was sleg vir die motor, en almal by wie jy verbygery het, het verstik in jou stof. Dit bring ons by Rimini en Girardeau.

Joe se oog het op Christof geval, wat ingedagte met sy vingers gesit en speel het.

– Dis ook die storie agter Betlehem Asfalt, Christof, julle het alles aan hulle te danke. Die ingenieurs, o ja!

Hy het sy tong geklik. Engel het gewys hy moes voortgaan.

– Alles baie eenvoudig, het Joe gesê. Rimini en Girardeau het met die idee gekom om al die klippe uit die paaie te haal en die gate op te vul. Nadat ’n padroller die spulletjie gelyk gemaak het, sou mans met groot gieters kokende teer agternakom en dit oor die padoppervlak sprinkel. Dit is dan met ’n lagie sand bedek en so gelos om ’n paar dae lank droog te word, en daar was jou eerste snelweg.

– Jy vergeet van die binnebrandenjin, het Christof gesê, vir my lyk dit belangriker as rubber en paaie.

– Oe-gg, sê Joe toe asof iemand hom ’n hou in die maag gegee het. Heeltemal ’n ander storie. Wa en perde, stoommasjien, binnebrandenjin. Ek sien dit so: Jy het vier elemente, reg? Die mens moes dit tem: een vuur, twee water, drie aarde, vier lug . . .

Dit het my mateloos geboei, want dit was ook die eerste vier hoofstukke van Musashi se boek: “Aarde”, “Water”, “Vuur” en “Wind”. (Die laaste hoofstuk bestaan uit net een bladsy: “Leegte”.)

– Vuur is die eerste element, het Joe gesê. Vuur het lig gebring in die donker van die prehistoriese tyd.

Hy het met sy hand agter sy rug gewapper asof die prehistoriese tyd agter die hardebordmuur lê waarop die vorms van die gereedskap wat eintlik daar moes hang met ’n viltpen geteken was, soos wat die slagoffers van motorongelukke en moord met kryt omlyn word. Die gereedskap self het nooit daar gehang nie; elke stuk het sy eie lewe gelei in die skuur agter Joe-hulle se huis.

– Daarmee het die beskawing dan begin, met vuur. En toe water, baie belangrik vir die boere, water. Besproeiing beteken verhoogde produksie en voorspoed vir vele. Dan die aarde: grond vir die boere, paaie vir die handelaar. Uit die paaie volg die wiel. Die handelaar en die soldaat vind die meeste baat by die wiel. Elke wiel is ’n klein ratjie op die oppervlak van die groot ratkas wat die aarde eintlik is. Figuurlik gesproke, nè. Dié twee vorm ’n meganisme. Uit die wiel volg die binnebrandenjin, wat by die wiel hoort. Die enjin bring die wiel in beweging, en deur middel van wiele begin dinge op die aarde rol. Dis dan drie.

Ek het gedink aan my eie voortbeweging, wat ook te danke is aan wiele, rubber en asfalt. Ek, half mens, half rolstoel, het myself gesien as ’n klein skakeltjie in Joe se uitkyk op die wêreldgeskiedenis; my wiele draai oor die aardoppervlak en dra by tot die beweging van die aardwiel.

– Oukei, sê Joe toe verder. Die lug was die laaste element wat oorwin moes word. Die vliegtuig was die breekyster. Die eerste mens wat regtig gevlieg het, was weereens ’n ingenieur, Otto Lilienthal, teen die einde van die negentiende eeu. Ná baie val en opstaan sou hy uiteindelik vlieg met ’n paar vlerke op sy rug, wat hy by die voëls afgekyk het. Elkeen wat wou vlieg, het die fout gemaak om voëls na te aap, wat natuurlik dom is. Die vliegspiere van voëls is so enorm groot in verhouding tot hul liggame dat jy dit nooit met jou arms kan nadoen nie, hoe sterk jy ook al is. Hierdie denkfout het die mens baie langer op die grond gehou as wat nodig was. Maar Otto het vyftien meter gevlieg, ongelooflik! ’n Paar jaar later het die eerste zeppelin deur die lug gesweef; stil en pragtig, maar ’n vlieënde bom. Vir ’n huwelik tussen die binnebrandenjin en ’n stel vlerke was daar meer hoop. In Amerika het dié twee die eerste keer gekys geraak toe een van die Wright-broers ses-en-dertig meter ver gevlieg het, meer as dubbeld so ver soos Lilienthal – ’n revolusie van een-en-twintig meter! Dinge was goed op dreef. Daar was ’n vlieënier om elke hoek en draai, en die een rekord ná die ander is oortref. ’n Vlug van een kilometer bokant Parys – wêreldnuus! Oor die kanaal in ’n eendekkervliegtuig – Engeland het mal geraak. Anthony Fokker bokant Haarlem – die einde van die wêreld!

As Joe so opgewonde raak, het hy my al hoe meer aan ’n verspotte towenaarsleerling laat dink.

– Nogal vreemd, het hy gesê, dat die vliegtuigies nog nie watwonders gelyk het nie; ’n paar stukkies bamboes, essenhout en seildoek, terwyl die atoommodel in dieselfde tyd uitgevind is.

– Dis nie snaaks nie, het Engel gesê terwyl hy een van daai sigarette met ’n goue ringetjie aansteek, die brein is die ontdekking altyd een voor. ’n Idee is gewigloos, dit sweef voor die materie uit. Ons kan allerhande goed uitdink, maar om dit uit te voer, daar lê die neukery.

– Ingenieurs het baie geduld, hoor, het Joe plegtig gesê.

– Het julle geweet dat PJ se ma kaal rondloop? het Christof die onderwerp verander.

– Pie-djy? het Joe gevra.

– Picolien Jane, het Engel gesê. Nuwe meisie, blond, kurktrekkerkrulle, van Suid-Afrika.

Joe het sy skouers opgetrek. Christof het van die enjinblok opgespring.

– Het jy haar nog nie gesien nie? Onmoontlik!

– Miskien het ek, het Joe gesê om Christof tot bedaring te bring.

Hoe ons geweet het dat PJ se ma, Kathleen Eilander, ’n nudis is? Wel, die posbode lewer elke drie maande die Athena-tydskrif van die naturistevereniging daar af, geadresseer aan “Mev. K. Eilander-Swarth”, en boonop sê Lomark se binnevaartskipper hy het haar al kaal gesien op een van die strandjies tussen die keerwalle in die rivier. Miskien was dit net praatjies, skinderstories wat so aangedik het dat Kathleen Eilander eendag die onbedwingbare en nuutontdekte behoefte sou hê om rivier toe te gaan, haar klere uit te trek en kaal te swem. Maak nie saak hoe en wat nie, ons het geweet. Ons het nog nooit ’n nudis gesien nie. Dit het na propperse naaktheid geklink, iets waarvan ons net kon droom.

Engel het na my gekyk. Sy oë was dieselfde kleur as my gunsteling-vulpenink. Hy het geweet hoe ek dit geniet as Joe smiddae in die motorhuis sit en teorieë verkondig wat met hul voete in die werklikheid staan en met die kop in die wolke.

Volgens Christof het mevrou Eilander soggens vroeg rivier toe gedraf om te gaan lyf natmaak. En het sy in die tuin agter die Wit Huis ook kaal rondgeloop. Verder het Christof gesê sy het sulke snaakse lang bene, maar dit was nie haar bene wat die oorheersende rol gespeel het in my fantasieë oor die sogenaamde nudis nie. In my verbeelding het ek ander dinge gesien. Dinge wat my keel laat toetrek het. Sy was ’n ma en dus ’n ou vrou, maar ek het agtergekom dat sy ná die nuus van die kaallopery omgetoor is tot ’n seksuele wese, met ’n geheim wat ons toevallig deel; iets wat ons koppe met dringende vrae en ons binnegoed met suikerstroop gevul het.

Joe het teësinnig die onderwerp van mevrou Eilander se bene aangeroer.

– Kan mens haar sien? het hy gevra, maar Christof het sy kop geskud.

– Daar’s ’n muur om die tuin, het hy gesê, en dis nog donker as sy gaan swem.

Joe het ingedagte die skroewedraaier soos ’n trompoppie se stok tussen die vingers van sy gesonde hand gedraai. Woensdag, my handmak kraaitjie, het op my skouer ingedommel. Die rimpelrige vliesies het oor sy kraalogies geskuif. Hy het intussen uitgegroei tot ’n pragstuk van ’n voël, ’n parmantige, trotse dier wat geleer het om terug te kom as ek vir hom fluit. Joe het goed gekies; ek glo nie daar kon ’n mooier kraai gewees het nie. Die vere op sy nek en agter sy kop was silwergrys soos grafiet. Wanneer hy geloop het, het hy sy kop op ’n manier geknik wat hom belangrik laat lyk het. Dis anders met spreeus; jy kan sommer sien hulle is van ’n laer orde. Spreeus beweeg nou wel in fantastiese draaikolke en flikkerende spirale deur die lug, maar in sulke enorme getalle dat dit jou laat dink aan groot stede waar mense mekaar haat en vertrap, maar snaaks genoeg nie sonder mekaar kan klaarkom nie.

Woensdag het ’n soort innerlike adel gehad wat hom bo minderwaardige vullisvreters soos spreeus en meeue uitgelig het. Hy sou mevrou Eilander kon sien as sy kaal loop in die tuin, maar ’n kerkkraai stel nie belang in sulke dinge nie. Ek het my dikwels in Woensdag probeer indink as hy bokant Lomark rondvlieg om my te verbeel hoe die wêreld uit ’n voël se perspektief moes lyk. Dit was my droom om alsiende te wees – niks sou meer vir my verborge wees nie, ek sou die Geskiedenis van Alles kon skryf.

Ons het in afwagting na Joe gekyk om te hoor wat hy dink. Joe het na Woensdag gekyk terwyl hy die skroewedraaier ál dringender tussen sy vingers tol. Hy kon dit ontsettend vinnig doen. Toe die skroewedraaier uiteindelik val en ons al vier uit ons dagdrome wakker skok, en almal afkyk na die betonvloer waar dit met ’n helder geklingel beland het, het Joe sy wenkbroue gelig.

– Dis eintlik baie eenvoudig, het hy gesê. As ons haar kaal wil sien, moet ons ons eie vliegtuig hê.

Joe Speedboot

Подняться наверх