Читать книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa - Страница 14

Оглавление

Hoofstuk 9

Dinge wat in die buiteland gebeur, raak ons hier op Lomark selde direk. Soms, as die brandstofprys byvoorbeeld gestyg het, weet ons dat daar iets in die Midde-Ooste aan die gang is, en as daar ná ’n reënbui ’n rooi stoflaag op die motors lê, moet dit seker in die Sahara gestorm het; verder gaan die meeste dinge in die wye wêreld by ons verby. Maar wanneer Lomark ’n nuwe tandarts kry, is dit beslis ’n direkte gevolg van globale verskuiwings. Ons het sy koms te danke aan die toespraak wat die Suid-Afrikaanse president Frederik Willem de Klerk op 2 Februarie 1990 gehou het. Op dié dag het die president die African National Congress ontban. Daarby het hy die vrylating van Nelson Mandela aangekondig, die leier en simbool van die stryd teen apartheid. “He’s a man with a vision as wide as God’s eye,” sê aanhangers van Mandela, en hulle plaas hom op dieselfde vlak as die groot gees van Indië. In 1990 stap Mandela uit die gevangenis, en ’n paar uur later hou hy sy eerste toespraak ná sewe-en-twintig jaar. Die grap is dat hy sy leesbril in die tronk vergeet het, sodat hy teen wil en dank die toespraak met sy vrou se bril op sy neus moes voorlees. Drie jaar later ontvang Mandela en De Klerk die Nobelprys vir vrede, en in 1994 volg Mandela De Klerk op as president van Suid-Afrika.

Die omwentelinge in die land het groot sosiale spanninge en wedywering om mag en middele meegebring. Julius Jakob Eilander, ’n tandarts, en sy vrou, Kathleen Swarth-Eilander, is Afrikaners van die vierde geslag. Hulle sien hoe die bure steeds hoër mure om hul huise laat bou en alarmstelsels laat installeer wat so sensitief is dat ’n vallende blaar of ’n ritselende akkedis die sirenes laat loei. Die Eilander-gesin wag nie tot die land transformeer nie. Hulle vertrek na Europa, “terug na die ou Holland”, wat hul voorouers in die negentiende eeu verlaat het.

In Januarie 1993 kom hulle op Schiphol aan. Ná ’n paar weke by verlangse familie en ’n paar maande in ’n vakansiehuisie tussen dennebome en karavane, neem Julius Eilander die praktyk oor van Lomark se tandarts, wat so lank die inwoners kan onthou ons gebitte van stopsels, krone en brûe voorsien het. Die praktyk is op die eerste verdieping van die huis wat deur die plaaslike inwoners die Wit Huis genoem word, maar volgens die bordjie op die gewel die naam Quatre Bras dra.

Julius en Kathleen Eilander het ’n dogter, Picolien Jane, afgekort tot PJ, en uitgespreek as pie-djy. Ná Joe en India is sy die derde aankomeling uit die buitewêreld by ons skool.

Ons kan ons oë nie glo nie. Sy het ’n kroon van onstuimige krulhare wat soos ’n waterval om haar skouers val. Ek dink aan see en skuimbranders; my dagboeke is vol van haar. Haar vel is bleek, en ek het nog nooit sulke blou oë gesien nie; hulle sit so effens skuins in haar mooi, oop gesig. In die pouse verdring die meisies mekaar om met die kurktrekkerkrulle te speel, wat soos ’n rekkie terugspring as jy daaraan trek. Die meisies wil almal PJ se vriendin wees. Haar manier van praat het almal in vervoering. Die halfbekende en tog geheimsinnige Afrikaans laat ons om die beurt giggel en ril van die tipe genot wat ’n mooi taal in jou wakker maak.

Ons hoor dat hulle van Durban kom. Dié naam het dieselfde toorkrag as Nineve of Isfahan. In Durban is die lug bedompig en die sout op jou vel smaak na ammoniak. Ek dink aan PJ en verbeel my hoe sy in Durban rondloop. In my dagboek fluit die papegaai en bevroetel die apie homself. Die hemel moet daar ongetwyfeld anders wees. PJ se oë spieël wyer horisonne as ons s’n, en geheime wat regtig iets beteken, nie die niksseggende swye waarmee ons mekaar verveel nie. Ware geheime, wat meer met lig as met donker te make het; die donkerte waarin ons broei oor etterende sondes waarvoor geen vergifnis bestaan nie omdat die pastoor doof is en nie ons fluisterstem hoor as ons bieg nie. PJ is gebore uit ’n samespel van lig, haar vel is so bleek soos die aartappeluitloopsels in die kelder. Sy is amper deurskynend, maar haar hare is vlammende koring . . .

Daar word al hoe meer mondeling oor Suid-Afrika gedoen.

Sy sê: “Wat kyk julle so vir my?”, maar sy móés tog iets besonders wees, anders het ons nie so voor haar gesmelt nie.

Terwyl ons ouers inmekaarkrimp van pyn en vrees onder haar vader se tandartslamp terwyl hy in hulle monde wikkel, karring en boor, sit ons sprakeloos in PJ se stralende nabyheid. Kom nou, sê nog iets, PJ, laat ons die rillings kry, moenie skaam wees nie.

In dié tyd laat Joe die eerste keer sy hare poenskop skeer. Hy sit vooroor op ’n enjinblok in die motorhuis agter hulle huis terwyl Christof met ’n haarknipper paadjies oor sy kop trek. Die dik hare val grond toe tot daar net ’n skaduwee op sy kopvel oorbly, met ’n paar bleek littekens wat deurskyn. Nou lyk hy presies soos ’n nomadiese stepperuiter, ’n Uyghur of ’n Hun, met daardie oë wat so half skuins sit. Joe die Hun, op ’n onblusbare steppeperd met ’n stuk rou vleis onder sy saal. Mense vra hom partykeer of daar ’n swart Afrikaan in sy familie is, of miskien ’n Oosterling, want in Joe se gesig sien jy ’n mengsel van verskillende raskenmerke. Joe was vir elkeen iets anders, maar met sy vreemde gelaatstrekke was hy vir my die ewebeeld van ’n perderuiter uit die steppe.

Joe Speedboot

Подняться наверх