Читать книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa - Страница 7

Оглавление

Hoofstuk 2

Ek het ’n jaar ouer geword terwyl ek bewusteloos was; hulle het my verjaardag in die hospitaal gevier. Ma vertel van ’n koek met veertien kersies wat hulle om my bed verorber het. Ek het 220 dae aanmekaar geslaap, en as jy die begin van die rehabilitasie bytel, was dit omtrent tien maande voordat hulle my laat huis toe gaan het.

Dis nou middel Junie. Die wonder van my wederopstanding – soos Ma dit wil hê – maak dinge moeilik vir ons gesinslewe. Ek moet gevoer, gewas en omgedraai word. Dankie, julle almal, maar dít kry ek nog nie uit nie.

Eendag neem my broers my saam kermis toe, omdat Ma so sê. Sam stoot die rolstoel en die buitelug verwelkom my met ope arms soos ’n ou vriend. Die wêreld lyk anders vandat ek terug is. Alles sprankel, asof die pous op besoek kom of so iets. Sam stoot my teen ’n stink spoed deur die strate; hy wil nie hê die mense moet ons stop met allerhande vrae oor my toestand nie. Ek kan al die kermis in die verte hoor. Die gejil, die bekpraatjies van die kermismense, die klokkies wat lui as jy iets raakskiet – die lawaai sê alles. Dis een helse hoera vir die kermis.

Dirk loop ’n ent voor ons uit, sy rug vooroor soos iemand wat skaam kry. Hy draai by Zonstraat in en hou by die café De Zon verby. Sam kom met my agterna. Die kermisklanke word dowwer; klanke wat styg en daal is al wat jy nog hoor. So, dan gaan ons seker nie kermis toe nie. Sam stoot my haastig verder straataf. Dan kom ons by Hoving se vervalle plasie aan die rand van die dorp. Ons stop eers, maar Dirk is al deur die tuinhek. Ek was lanklaas hier.

– Help ’n bietjie! roep Sam.

Die rolstoel se wiele sukkel deur die hoë gras vol surings en papawers. Dirk kom sit hand by en hulle dwing die rolstoel deur die tuin van oorlede Rinus Hoving. Sy plasie is verlate, en solank die erfgename stry oor wat daarvan moet word, gebeur daar ook niks. Hulle tel my deur die spensdeur tot binne-in die huis. Die rooi vloerteëls is toe onder ’n dik laag stof. Ek sien dat daar voetspore lê. Hulle stoot my deur die kombuis en met die gang af tot in die groot woonkamer, dan los hulle my agter die glasskuifdeure van ’n effens hoër syvertrek.

– Sit hom voor die venster, sê Dirk. Dan het hy iets om na te kyk.

– Sit hom self voor die venster.

Sam begin twyfel. Maar nie Dirk nie. Hy’s nie ’n ou wat twyfel nie, daarvoor is hy te onnosel.

– Ons kan darem nie dit doen nie, sê Sam.

– Dis sy eie skuld. Ek gaan regtig nie met hom op die rondomtalie ry nie, as dit is wat sy gedink het.

Sy, dis nou Ma. Dirk het nie veel respek vir haar nie, maar sy het ’n magtige wapen: Pa se plathand. Sam se kop skuif weer tot binne my gesigsveld.

– Ons is nou-nou terug, Fransie, oor ’n uur of so.

Dan is hulle weg.

Fantasties, nè, eenkant toe gesmyt soos ’n spul afvalhout in ’n murasie. Dit kon mens ook van hulle verwag het. Dis nes ek gedink het, ek moes nog net bewyse kry. Feite is nie so erg soos vermoedens nie. Feit is dat ek gestrand sit in ’n donker huis wat in my nek af blaas. En dat my uitsig bestaan uit ’n vensterbank vol dooie brommers, spinnerakke en stofwolle. Maar elkeen van my vrese het ’n oop oog, een wat jy nie flous nie en wat wawyd wakker is. En daar is hulle nou: Soos een man sit hulle ’n keel op, en allesbehalwe strelend. Diere! Kindermolesteerders! Goeters! Kortom, paniek. Maar hoe lank kan mens bang wees sonder dat daar iets gebeur? Stadigaan raak die gevoel net ongemaklik, en as daar nog steeds niks aangaan nie, kry jy lag vir jouself. Maar dáár was beslis ’n geluid! Ek sweer, ’n deur wat toeklap, iets wat val. Ek draai my kop, wat soveel inspanning kos dat ek kreun soos ’n moroon. Asof ek ’n boom met my voorkop moet omstoot. Dáár, in die deur . . .

– Hallo, sê die gedaante.

’n Seunstem. Ek kyk reg in die lig wat uit die kombuis kom en sien net sy silhoeët in die deur. Hy kom nader. ’n Seun, goddank net ’n seun. Hy kom staan voor my en kyk my skaamteloos op en af. Sy blik gly na die klampe om my voete, na die blou sitplek – suiwer kunsleer, meneer – die silwer buise en die hefboom met die houthandvatsel aan my regterkant waarmee jy die swenkwieletjies voor draai en armkrag op die agterwiel sit, sodat jy jou met die gedoente vorentoe kan beweeg. Gekoop met groei in gedagte, soos hulle sê. Maar ’n eersteklas rolstoel, altyd binne gestaan, jy ken mos die storie. Hulle sê ek sal eendag self kan ry, maar soos dinge nou is, kan ek nie eers ’n vlieg van my voorkop af waai nie.

– Hallo, sê die seun nog ’n slag. Kan jy nie praat nie?

’n Donker vel met helder oë. Hare soos ’n pispot gesny. Hy draai om en kyk deur die venster. Hoving se tuin: rooi klawerbolle, brandnetels en papawers wat nie omgee as jy hulle bewonder nie, maar so beledig voel as jy hulle pluk dat hulle voor jou oë verlep.

– Hulle het jou hier kom los, nè? sê die seun terwyl hy uitkyk op Lomark.

Die hoogste karretjies van die groot kermiswiel steek bokant die huise uit. Hy knik.

– Ek het gehoor van jou. Jy’s een van die Hermanse, van die skrootbesigheid. Hulle sê Moeder Maria het ’n wonderwerk aan jou gedoen. Nie sodat mens dit sal agterkom nie, as ek mag sê. As dít ’n wonderwerk is, wil ek nie weet hoe straf lyk nie, verstaan jy?

Hy knik asof hy heeltemal met homself saamstem.

– My naam is Joe Speedboot, sê hy dan. Ek het nou die dag hier ingetrek. Ons woon in die Achterom, weet jy waar dit is?

Breë hande, kort vingers. Breë voete ook, waarop hy soos ’n samoerai geplant staan – waarvan ek toevallig iets weet, dis nou van die samoerai. Van die seppuku, die weg van sterfte om jou eer te red, waar jy ’n kort swaard in jou maag steek om dit van linksonder na regsbo oop te vlek. Aan die lengte van die snit kan mens sien hoe dapper iemand was. Maar dis nie nou ter sake nie.

Ek sien wat dit is wat Dirk nie kan vat nie, dit straal soos lig uit hom uit: Hy is nie bang nie. Joe Speedboot, bomplanter, moeilikheidmaker – met jou afgesnyde broek en belaglike, gehawende leersandale. Waar was jy al die tyd?

– Net gou iets kry, sê hy.

Hy verdwyn uit my gesigsveld en ek hoor hom iewers in die huis by die trappe opgaan, tot sy voetstappe bokant my kop klink. Is dit waar sy werkplek is? Vir bomme en sulke goed? Speedboot se beheerkamer? Toe hy weer onder kom, het hy ’n wasmasjienhorlosie en twee batterye in sy hande. Hy gaan sit op die vensterbank en frons diep terwyl hy die batterypole verbind. Dan monteer hy ’n pennetjie op die horlosie en stel dit op nul. Skielik kyk hy op.

– Ons het teëspoed gehad met die trek, sê hy ernstig. ’n Ongeluk. My pa is daarin dood.

Dan buk hy weer oor sy werk.

Die eerste keer dat Lomark van Joe en sy mense gehoor het, was toe ’n Scania-trok deur die Maandag-gesin se deftige trapgewelhuis in Brugstraat gebars het. Byna tot met sy agterent in die sitkamer, waar die Maandags se seun Christof voor die televisie met ’n videospeletjie doenig was. Hy het doodstil bly sit toe dit gebeur het. Die eerste ding wat hy sekondes later sou sien, was ’n koplamp wat soos ’n bose oog deur die stofwalms en puin steek. Mettertyd het dit tot hom deurgedring dat daar ’n trok in hulle voorhuis beland het. Die hele tyd kon jy nog hoor hoe ’n videoballetjie toeink-toeink oor die skerm spring.

’n Man se bolyf het oor die rooster van die Scania gehang, sy arms slap ondertoe soos ’n voëlverskrikker wat uit die hemel geval het. Sy onderlyf was in die stuurkajuit vasgepen en hy was dood, dit kon jy sien. Maar boontoe was daar nog lewe: Die regterkantste deur het stadig oopgegaan en Christof het ’n seun van so twaalf, dertien jaar sien uitklim. Hulle was seker omtrent ewe oud. Hy het ’n goudkleurige hemp aangehad, met ’n pofbroek en sandale daarby. Sy klere het mens laat wonder of sy ouers reg wys was. Hy het doodluiters in die kamer rondgekyk terwyl die kalk om sy kop en lyf gedwarrel het.

– Hallo, het Christof gesê, met die joystick nog in sy hand.

Die ander seun het net sy kop geskud, soos een wat iets snaaks dink.

– Wie’s jy? was al wat Christof kon uitkry.

– Joe, het die seun geantwoord, Joe Speedboot.

Joe het ons dorp soos ’n meteoriet getref. ’n Dorp met ’n rivier wat in die winter sy walle oorstroom, ’n vaste netwerk waarlangs stories versprei, en ’n haan op die dorpswapen, dieselfde haan wat omtrent duisend jaar gelede ’n bende Vikings voor die poorte van Lomark verjaag het terwyl ons voorouers in die kerk gesit en bid het, verbeel jou. “Dis die haan wat bly staan” is ons leuse hier rond. ’n Ding wat iets anders buite hou, dis ons simbool. Maar Joe het met soveel geweld hier ingeval dat niks hom sou stuit nie.

Hy was as gevolg van die ongeluk halfpad wees, want die man wat deur die voorruit van die trok gehang het, was sy pa. Sy ma het bewusteloos in die stuurkajuit gelê; sy jonger sussie India het teen haar pa se skoensole vasgekyk. Christof en Joe het mekaar aangestaar soos wesens uit verskillende sterrestelsels – Joe gestrand met sy ruimteskip en Christof wat sy hand uitsteek om kennis te maak. Hier was iets wat hom sou bevry uit die neerdrukkende doodsheid van hierdie dorp waar die haan vir ewig bly staan, daardie ellendige klein gedierte waarin jy jou orals vasloop: op die deure van brandweerwaens, op die gewel van die stadsaal en in brons op die markplein. Die haan word met karnavaloptogte op ’n sierwa rondgetrek en hy kraai vir jou langs tientalle voordeure van versierde dakteëls af; tot by die bakkery kry die haantjie lyf (’n simpel krummelkoekie met mueslivlokkies). Op elke buffet, kaggelrak en vensterbank sien jy hane van glas, hane van keramiek en gebrandskilderde hane, en hane wat in olieverf aan die mure pryk. Ons kreatiwiteit is eindeloos as dit by hierdie haan kom.

Joe het hom verkyk aan die huis waarin die noodlot (lees: ’n stuurfout gekombineer met ’n oorskryding van die maksimumsnelheid in ’n beboude gebied) hom geslinger het. By sy eie huis, die vorige een wat hulle vir die huis op Lomark verruil het, was daar nie sulke skilderye met ernstige gesigte wat jou aangluur asof jy iets gesteel het nie. En natuurlik het jy altyd iets gegaps en sou daardie gesigte jou in elk geval altyd so aankyk. Dit was dus nie nodig om vir hulle bang te wees nie, jy kon net vriendelik na hulle kant toe knik en sê “toe julle ouens, lag ’n slag”.

Die kroonkandelaar was ook vir hom mooi, nes die antieke buffetwaentjie waarop Egon Maandag se kristalkraffies gestaan het, vol whisky van Loch Lomond tot Talisker. By Joe-hulle was daar net boepensbottels met vlierbessiewyn, donkerpers en tuisgemaak met ’n waterseël wat borrel soos iemand met maagmoeilikheid. Hierdie wyn was altyd nét nie reg vir drink nie, of nét verby die vervaldatum. “Maar dit het tog ’n besondere smaak, of hoe, skat?” (Sy ma aan sy pa, nooit andersom nie.) Daarna sou hulle met oorgawe drink, net om die hele spul ’n dag later in die toilet af te spoel omdat die babelas nie veel verskil het van die naby-doodervarings van Russiese spiritusdrinkers nie.

Joe sou later hoor dat hy in die sitkamer van die Maandag-sakeryk beland het, die belangrikste familie van Lomark, eienaars van die asfaltfabriek langs die rivier. Egon Maandag het vyf-en-twintig mense by sy fabriek in diens gehad, bo en behalwe ’n diensmeisie en soms ’n au pair, kort-kort van iewers anders in die wêreld.

Joe het hom vergaap.

Christof het later gesê Joe se rondkykery was sy manier om nie die dooie man wat by die voorruit uithang raak te sien nie. Toe hy eindelik sy oë losskeur van Christof en sy omgewing, het hy omgekyk na sy pa. Hy het sy hand uitgestrek en dit op die bebloede agterkop gelê. Heel versigtig het hy oor die hare gestreel en iets gesê wat Christof nie kon uitmaak nie; sy skouers het geruk. Hy het geloop na die gat waar die trok deur die buitemuur geploeg het, oor die brokstukke buitentoe geklim en uitgestap in die son. Toe het hy met Brugstraat af geloop tot by die winterdyk, daaroor geklim en in die rigting van die rivier koers gekry. In die oewerveld was daar ’n klompie springerige verskalwers, en aan die doringdraad het pluksels droë gras gehang wat ná die winteroorstromings agtergebly het, soos vlasagtige Viking-baarde. Joe het by die somerdyk en die veeroorgang gekom. Op die kabelpont het hy teen die reling gaan sit, sy bene laat afhang en nie op- of omgekyk toe Piet Honing uit die stuurkajuit kom om geld vir die oortog op te neem nie.

Dat Joe en Christof vriende sou raak, was so onvermydelik soos vis op ’n Vrydag. Dit het begin met Christof se blik toe hy die kalkbepoeierde seun uit die vervoerwa met sy oë verslind het. Agter Joe het sonlig deur die verkrummelde buitemuur tot in die sitkamer gestroom en die vertrek met ’n stralende lentedag gevul. So iets het Christof nog nooit aanskou nie. Die beeld van die seun in die vloed van lig het hom vervul met ’n begeerte om sy ou lewe af te skud.

Maar Christof was nie so nie, en hy sou ook nooit so word nie. Daarvoor was hy te senuweeagtig en te veel van ’n twyfelaar. In sy heimlike verlange om soos die seun uit die trok te wees, het daar ook ’n soort jaloesie geskuil wat jou oogtande laat water, daardie vampieragtige drang om die lewe uit iemand te suig.

Die ongeluk met die trok het hulle gevorm. Dit het die stoïsyn in Joe versterk en by Christof iets oumensagtigs na vore gebring, iets besorgds. As Joe ’n vliegtuig wou bou, sou Christof vra: “Moet jy nie eers jou fiets se bagasierak regmaak nie?” As Joe ’n apparaat aanmekaargeknutsel het waarmee hy Sondae se radio-uitsendings van die Evangeliese Gemeente – “Radio God”, soos almal dit genoem het – kon vervang met speedmetal wat agteruit speel, en die maandelikse alarm van die burgerwag toevallig op daardie oomblik op die bank se dak afgegaan het, was dit vir Christof ’n teken dat die bou van steursenders ’n onheilige besigheid was. Vir Joe het dit beteken dis twaalfuur, en hy is honger.

Joe het ons eerste ontmoeting met ’n meneer van ’n bom gevier, soos ek dit sien. Dieselfde nag nog, nadat ons mekaar op Hoving se plasie ontmoet het, jaag hy die hele Lomark uit die vere. Dis ’n gawe wat hy het. Honde blaf, in party huise gaan die ligte aan, mense bondel op straat saam. Joe se naam is op almal se lippe. In die bed lê en grinnik ek van oor tot oor.

’n Paar mans gaan kyk wat aangaan. Hy het ’n elektrisiteitshuisie opgeblaas. Nou is die kermis se flonkering weg, en ’n hele klomp huise s’n ook.

Die maan lek aan die relings van my bed. Ek oefen my arm.

Joe Speedboot

Подняться наверх