Читать книгу Joe Speedboot - Tommy Wieringa - Страница 16
ОглавлениеHoofstuk 11
Die vliegtuig was die breekyster waarmee die lug, die laaste element, oorwin moes word, het Joe die middag in die garage gesê. En toe hy met die idee vorendag kom om self ’n vliegtuig te bou, het ek verstaan wat hy bedoel: Die vliegtuig sou die breekyster wees waarmee ons die hemel tussen mevrou Eilander se bene sou oopbreek. Die vliegtuig sou ’n uitsig bied op die onbekende ruimte, en Joe was die ingenieur wat dit tegnies moontlik sou maak.
Ek het daardie vliegtuig sien groei, van die agttienduim-motorwiele wat van die skrootwerf gekom het, tot en met die fyn, gladde propeller wat Joe op ’n sportvliegveld in die omgewing vasgelê het.
Hulle het met die bou van hul hoëvlerkvliegtuig begin in ’n afgeleë skuur van die fabriek, tussen berge swart teerstukke wat van ou paaie afgeskraap en daar gestort is om weer eendag gebruik te word. Die asfaltbreker was al jare lank stukkend. Hulle het hom net daar laat staan tot hy mettertyd inmekaargeval het tussen die brokstukke onbewerkte teer aan die een kant en die gepunte hope fyner gruis wat aan die ander kant uitgespoeg is.
In die mineraalwêreld van die asfaltfabriek het die laaigrawe beweeg tussen hope blou porfiriet, rooi Skotse graniet, blouerige kwartsiet en allerhande soorte sand. Die gebreekte klippies is oor die water van die Duitse steenbrekerye aan die Bo-Ryn hiernatoe verskeep. As jy ’n goeie oog gehad het, kon jy soms stukkies been of slagtande van ’n mammoet daaruit opdiep, en soms gefossilleerde haaitande. Christof het so ’n goeie oog gehad. Hy het homself as die “kurator” van ’n rommelrige argeologiese museum beskou. Hy het vir besoekers die berge sand en klippies gewys en dit die Museum Maandag genoem. Niemand het hulle in die minste teëgegaan nie; Christof was die baas se seun en hulle kon doen wat hulle wou, solank hulle in niemand se pad was nie.
Op ’n goeie dag was die vliegtuig agt meter lank, ’n romp van staaldraad, buise, kabels en stange, skematies soos ’n litpotige insek. Joe het vir my verduidelik dat die elemente voortdurend driehoeke vorm.
– Die driehoek beteken ’n vaste konstruksie, meetkundig gesproke, het hy gesê. ’n Vierhoek beweeg, dit verskuif. Die driehoek is die basis van alle vaste konstruksies.
Tot op die laaste tippie het die vliegtuig nog nie vlerke gehad nie. Ek het nie vir ’n oomblik geglo dat hy regtig bedoel was om op te styg nie, veral ook omdat die gas- en smoorklephandvatsels van ’n resiesfietsrat afkomstig was. As die voorman van Betlehem Asfalt, Graad Huisman, geweet het wat die ware doel van hul bedrywighede in die skuur was, sou hy die seuns sekerlik verbied het om daar te kom, maar hulle het doodstil gebly oor hulle planne, en niemand het my ooit iets gevra nie.
Die vloer van die vliegtuigloods was besaai met sketse, boutekeninge en handleidings. Engel het velle papier vol berekenings bestudeer met ’n Dunhill in die mondhoek en een oog toegeknyp teen die rook. Hulle het ’n Opel Kadett se skokbrekers by Slopery Hermans & Seun gaan haal, dis nou om die slag van die landing te versag, en dit toe tussen die romp en die wiele aangebring. Daarna is die vliegtuig ’n meter en ’n half bokant die grond aan ’n tou opgehys, en Joe het ingeklim. Ons het asem opgehou. Joe het hard aan die tou se lus gepluk, dit het losgeskiet en die vliegtuig het neergestort. Alles was nog in een stuk, net Joe het “’n helse seer rug” oorgehou. Maar die bewys was daar dat die vliegtuig ’n landing sou oorleef.
– Oukei, het Engel gesê, nou kan ons die seil oorsit.
Voor elke nuwe fase wat met die bou van die vliegtuig aangebreek het, moes hulle eers iewers iets gaan gaps. Nou moes hulle dekseil in die hande kry.
– Maar niks anders as blou seil nie, het Engel beklemtoon, want hy het lankal besluit hoe die vliegtuig sou lyk. Hemelsblou, niks anders sou werk nie.
Donderdagaande is die kraampies vir die Vrydagmark opgerig. Die seile het al op die tafels reggelê waar die markmense dit vroeg die volgende oggend sou kry. Maar een Vrydagoggend in Oktober het ’n paar stalletjiehouers by die markmeester gaan kla. Hul seile was skoonveld. Hoe moes hulle nou hul kraampies opstel. Dis nie waarvoor hulle staangeld betaal het nie. Hulle kon darem iewers ’n paar motgevrete seile in die hande kry, en in die Lomarker Weekblad was daar selfs ’n kort beriggie oor die diefstal.
Êrens op ’n geheime plek is die seile met die geduld van engele aanmekaargewerk. Engel het geweet hoe; hy het by sy pa, die laaste palingvisser van Lomark, geleer hoe jy fuike herstel en knope maak wat nooit losgaan nie. Engel het taamlik gevloek, maar die seile was pragtig. Hy het die seil met kabelbinders om die romp gespan tot dit so styf soos ’n tromkop gestaan het.
Joe het aan die vlerke gewerk. Die geraamte het hy van ’n dun soort aluminium gemaak. Aan die hoofbalk van die vlerk is veertien vlerkribbes vasgeheg, en dit was ’n gesukkel om agt-en-twintig ribbes met presies dieselfde kurwe te prakseer. Toe het ek oorgevat, uit my eie, want as jy ’n stewige hand het en jy weet wat jy doen, het jy ’n gevoeliger werktuig as ’n bankskroef of ’n tang. Tussen my duim en vingers het ek die ribbes gebuig tot elkeen presies die regte kromming gehad het. Agt-en-twintig van hulle, let wel.
Hulle was sprakeloos.
– Bliksem, maar die vent is sterk, het Engel gemompel.
– Frans die Arm, het Joe hom herinner.
Van daardie oomblik af is ek meermale ingespan om goed te buig of styf vas te draai.
By Pa het hulle ’n aluminiumenjin uit ’n gekrokte Subaru gehaal en voor in die vliegtuig gemonteer. Die petroltenk was die tipe ding wat jy ook in plesiervaartuie kry. Hulle het uitgereken dat die vliegtuig honderd-en-dertig kilo moes kon trek om in die lug te kom. Hulle het ’n weegbalk teen die muur vasgesit en met ’n kabel aan die stert vasgemaak. Joe het ingeklim en die enjin aangeskakel. Ongelooflik! Hy het lieflik geloop. Die kabel het styf gespan, die wyster van die weegbalk het opgeskiet na tagtig kilo, negentig, die propeller het gedraai, honderd, die enjin het gedreun en papiere het deur die loods getrek asof ’n orkaan losgebars het. Arme Woensdag het met ’n paniekerige ká-ká van my skouer afgevlieg, honderd-en-tien, Engel het sy hande oor sy ore gedruk, die enjin het 5 500 revolusies gehaal en ’n ongoddelike lawaai gemaak.
– Honderd-en-twintig! het Christof geskreeu.
Die wyster het vorentoe gekruip, Joe het ’n laaste bietjie brandstof gegee en Engel het geroep: “STOP!”
Honderd-en-dertig kilo trekkrag. Die vliegtuig het die toets geslaag.
Joe het my eendag gevra of ek wou saamwerk aan ’n eksperiment. Hy het my tot teenaan die werkbank in die loods gestoot en regoor my kom sit. Die werkbank waarop Engel boutekeninge maak, het tussen ons gestaan. Hy het my hand in sy regterhand vasgevat en ons elmboë in die middel gesit, sodat ons voorarms ’n hoek van sestig grade gevorm het. Met ’n vinnige beweging het Joe my arm teen die tafel gedruk sodat my lyf skuins in die stoel gehang het. Hy het my arm weer regop getrek en nog ’n slag gedruk, maar nou met minder krag sodat ek stadiger omgedruk sou word. Die rugkant van my hand het aan die tafelblad geraak; ek het hom aangekyk en gewonder wat hy van my wou hê. Hy het my weer regop getrek.
– Laat kom ’n bietjie krag, het hy gesê.
Ek het ’n bietjie spierkrag bygesit. Hy het dieselfde gedoen. So het ons ’n tydjie oorkant mekaar gesit. Toe gooi hy sy skouer vorentoe en druk nog harder. Ek het nie beweeg nie; hy het harder gedruk en sy oë het uitgepeul. Ek het effens skiet gegee.
– Harder, verdomp! het hy gekreun.
Ek het harder gedruk en ons hande het weer na die middel van die tafel beweeg.
– Druk!
Ek het hom omgedruk. Hy het gekreun en laat los.
– Moeilik? het hy gevra.
Ek het my kop geskud.
– ’n Bietjie moeilik?
Dit was nie so moeilik nie. Joe het tevrede geknik en opgestaan. Hy is by die loods weg en het later teruggekom met ’n paar verroeste ysterstawe onder die arm. Die stawe was van verskillende diktes; die dunste een het hy in die bankskroef aan die kopkant van die werkbank vasgeklem.
– Nog ’n slag, Fransie, het hy gesê, en my by die bankskroef neergesit. Kan jy dit ombuig?
Ek het die staaf in my hand geneem en dit gebuig. Joe het die volgende staaf vasgeklem. Hy was dikker en ek het hom goed vasgevat. Ek het weinig weerstand ervaar toe ek ’n hoek daarin gebuig het, maar tog het die merk van die staaf bloedrooi in my hand gegloei. Dit het my laat goed voel as ek dinge kon buig.
Joe het nou die laaste staaf in die bankskroef vasgeklem. Dit was heelwat dikker as die vorige twee. Ek het my vingers daarom geklem en al my kragte ingespan, maar die verdomde ding wou nie roer nie. Ek het alles ingesit; ek kon nie vir Joe teleurstel nie. Daar het ’n snaakse geluid uit my keel gekom, ek het vir lewe en dood getrek, maar daar het nie veel gebeur nie. Behalwe dat ek iets soos glas wat breek en metaal op klip gehoor het. En toe gee hy mee – hy het stadig na my kant toe begin beweeg. Was dit bloed of snot wat uit my neus geloop het?
– Los maar!
Ek het laat los en tot my verbasing het die staaf soos ’n rek teruggespring. Daar was ’n harde slag en ek het gekreun van teleurstelling: Die yster was nie gebuig nie, dit was maar net die ander kant van die werkbank wat opgelig het – die geluid wat ek gehoor het, was dié van vallende bierbottels en gereedskap. Ek het misluk.
– Skitterend, het Joe gesê, moerse skitterend. Weet jy wat hierdie bank wéég?
Hy het langs my gekniel. Sy gesig was nou naby myne; hy het my aangekyk sonder om sy oë te knip en ek het gesien dat sy linkeroog iets anders uitstraal as sy regteroog – uit die linkeroog het vuur geskiet wat deur die regteroog getemper is, want daarin het ’n soort mededoë gelê wat groter was as wat ek kon verstaan.
– Daarmee kan jy nog baie dinge doen, met daardie arm van jou, het hy gesê. Hou hom fiks, mens weet nooit.