Читать книгу Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith - Страница 15

6
Trompie maak dinge reg

Оглавление

Dié Sondagmiddag is dit stil in die Toeriens se huis op Kwaggaberg. Almal is die oggend kerk toe en daarna het Trompie vir Sondagskool agtergebly. Hy het die hele tyd sit en planne beraam oor hoe hy sy suster kan help en Dirk sover kan kry om weer vir haar te kom kuier. Anna lyk nie juis kwaad nie, maar sy praat skaars met hom. Sy lyk hartseer.

Ná Sondagskool sien Trompie vir die eerste keer die ander lede van die Boksombende en laat weet hulle dat hulle die volgende middag net ná skool in die fort moet vergader. Dis ernstige sake. Hulle moet goed gewapen kom. Hulle gaan ’n edele taak verrig. Rooie, Blikkies en Dawie brand van nuuskierigheid, maar Trompie wil niks verder sê nie. Hulle sal môre hul bevele by hom kry. Vandag weet hy nog self nie wat dit gaan wees nie. Hy moet ’n plan maak. Hy moet sorg dat Dirk de Jongh weer na hul huis toe kom en vir Anna sê hy het haar lief. Die twee is mos mal oor mekaar.

Trompie slaan die bal natuurlik mis, maar hoe kan hy dit weet?

Meneer Toerien lê in sy kamer en koerant lees, mevrou Toerien sit by hul dogter en gesels en Trompie stap ingedagte in die tuin rond. Dit is ’n warm somermiddag. Hy wens hy kon in die kloof gaan swem, maar sy pa het hom belet om Sondae naby die dam te gaan. Hy wonder wat sy ouers en suster doen. Hoekom slaap mense altyd op Sondagmiddae? Dis belaglik. Trompie het al by die voorhekkie uitgestap en in die hoofstraat af, maar die dorpie is morsdood. Selfs meneer Stavrinos se kafee is gesluit. Trompie wou gaan lekkers koop. Hy het so ’n bietjie van die geld wat sy pa vir hom as Sondagskoolkollekte gegee het daarvoor uitgehou. Hy beskou dit as ’n soort lening. Volgende Sondag sal hy die geld weer by sy kollekte sit.

Trompie gaan sit in die skaduwee van die groot ou eikeboom. Hy kan ook nie eens vir Rooie, Blikkies of Dawie gaan kuier nie, want hul ouers laat hulle Sondagmiddae vir ’n ruk rus. Trompie snork minagtend. Sy ouers sal dit nooit met hom regkry nie! Nee, hy sal nie Sondagmiddae rondloop nie – hy sal by die huis bly – maar hy weier om te gaan slaap. Dis mos waarvoor die nag daar is.

Dit maak hom moedeloos om net so in die tuin rond te sit. Hy wens sy ma wil nou kombuis toe gaan en ’n bietjie koffie maak. Hy besluit om kamer toe te loop en na sy plakboek met uitknipsels van boksers te kyk.

In sy kamer blaai hy deur ’n oefeningboek waarin hy foto’s van boksers van regoor die wêreld geplak het. Lank kyk hy na een van die Suid-Afrikaanse swaargewigkampioene. Hierdie bokser is Trompie se held. Hy het die uitknipsel met klein Dawie geruil vir twee albasters. Maar met die eerste pot wat hulle gespeel het, het Rooie se ghoen die albasters in stukkies laat spat. Klein Dawie was vies en wou sy foto van die bokser terughê, maar Trompie het geweier. Dit het niks met hom te doen as Dawie sy pitte laat stukkend skiet nie.

Trompie kyk na die sterkgeboude jongman wat in ’n bokshouding staan. Ai, sug Trompie, hy wens hy kan sy vuiste so goed soos hierdie bokser gebruik, want dan is al sy moeilikheid oor en verby. Hy sal daai Dirk de Jongh sommer bydam as hy nie saam huis toe wil kom nie en weier om Anna se kêrel te word.

Die hele besigheid werk op Trompie. Môre gaan hy daai ou haal om Anna te kom sien en al die nonsens uit te praat. Net môre gaan Trompie dinge regmaak … Maar hoe?

Met ’n sug staan hy van sy bed af op. Hy maak ’n paar vinnige passies met sy voete en moker die lug met sy vuiste. Ja-nee, sy voetwerk is volmaak. Eendag gaan hy wat Trompie is die wêreld nog verras. Hy gaan ’n kampioenbokser word. Almal sal hom ken. Sy foto gaan in al die koerante wees, regoor die wêreld! Terwyl Trompie hieraan dink, slaan hy weer woes met sy vuiste in die lug. Só sal hy al sy teenstanders eendag in die bokskryt platslaan.

Maar Trompie kyk na homself in die spieël en skud sy kop. Hy is nog nie ’n kampioenbokser nie en hy sal ’n plan moet maak. Hy moet iets doen, maar wat? Hy gaan sit op die bed met sy vuis onder sy kakebeen. Met ’n geplooide voorkop staar hy voor hom uit. Dis mos hoe daardie bronsbeeldjie in sy pa se studeerkamer lyk. Onderaan staan daar: “Die Denker”. Ja-nee, dis wie hy is … daardie einste denker! Hy moet net ’n rukkie só sit, dan sal dit hom te binne skiet wat hy moet doen om Dirk de Jongh sover te kry om weer vir Anna te kom kuier. Dis al wat hy moet doen. Trompie sit. Hy plooi sy voorkop nog meer. Dit sal miskien help. Hy sit. Die blink gedagte sal nou-nou kom …

Hy wil graag loer hoe hy lyk wanneer hy so diep sit en dink, maar hy is bang dit sal die besigheid bederf. Dan gaan hy nie aan ’n slim plan kan dink nie. Nee, hy moet maar liewer net tjoepstil sit. Nie ’n spier verroer nie …

Terwyl Trompie so hard probeer om ’n plan te prakseer, sit sy suster en ma in Anna se kamer oor hom en gesels.

“Jy moenie te kwaad vir jou kleinboet wees oor hy jou gistermiddag so in die verleentheid gebring het nie, Anna.”

“Ek is glad nie kwaad nie, Ma. Ek is eintlik bly. Trompie het my oë oopgemaak. Toe ek Dirk by die partytjie ontmoet het, het ek gedink hy is die soort ou op wie ek ernstig verlief kan raak. Maar nou weet ek ek wil niks met so ’n ou suurknol te doen hê nie.”

Mevrou Toerien kyk aandagtig na haar dogter. Sy kan sien Anna bedoel wat sy sê en as ma is sy nogal taamlik verlig, want sy het ook nie juis van De Jongh gehou nie. Hy is gans te aansitterig. Anna met haar sonnige geaardheid sal nooit saam met so iemand gelukkig kan wees nie.

In sy kamer wag Trompie nog steeds vir ’n blink idee. Baie planne het al deur sy brein geflits, maar hy het almal verwerp. Hy het dit al oorweeg om Dirk de Jongh saam met sy manskappe in die donker te gaan voorlê. Klein Dawie sal hom pootjie en wanneer hy val, sak Trompie en Rooie en Blikkies op hom toe. Hulle stop ’n sakdoek in sy mond en bind sy hande en bene met ’n tou vas. Dan dra hulle hom na Anna toe en lê hom voor haar voete neer.

Maar Trompie besef hierdie plan sal nie werk nie. Die ou is dalk te sterk en dan sal hulle hom nie op die grond kan vasdruk nie. En Anna sal nie hou van ’n man wat vasgebind voor haar voete lê met ’n sakdoek in sy mond nie. Nee, sy wil mos hê hy moet langs haar op die rusbank sit en koer en handjies vashou.

Hy dink ook nie sy plan om Dirk met sy waterpistool voor te lê, sal werk nie. Maar hy hou nogal van die idee om saam met sy manskappe in die sloot te lê langs die pad waarmee Dirk na sy losieshuis toe loop, en dan vinnig op te spring en te skree: “Hensop!” Hy en sy manne sal hulle natuurlik vermom en hy sal die vent beveel om verder te stap. Trompie sal hom met die pistool in sy rug tot by hul huis laat loop en voor hy De Jongh by die voordeur instamp, sal hy met ’n bars stem sê: “Gaan in! Sy wag vir jou. As jy uitkom sonder dat jy haar gevra het om met jou te trou, is jy dood! Ek skiet jou kop van jou lyf af!” Trompie glimlag. Dit sou heerlik gewees het, maar sê nou Dirk weier om aan te stap? Sê nou hy klim met sy vuiste onder hulle in? Nee, die plan sal ook nie werk nie. Dis te gevaarlik. Hy, die Boksombende se Grootkaptein, wil nie sy manskappe se bloed verniet vergiet nie. Hy moet die ding op só ’n manier probeer uitwerk dat niemand seerkry nie.

Maar hoe gaan hy dit regkry? Dis ’n veeleisende taak. Trompie word moeg van so stil sit. Om die denker se houding na te aap, help ook nie veel nie. Hy sit gemakliker. Hy loer na homself in die spieël. Hy sien hoe sy mond oopgaan. “Vervlaks,” mompel hy, “hoekom het ek nooit daaraan gedink nie? Natuurlik! Dis die regte plan!”

Trompie spring soos ’n bobbejaan op en af van blydskap. Hy het dit! Dis só eenvoudig! Snaaks dat hy so lank moes sit voor die plan hom te binne geskiet het. Hy kyk weer in die spieël en glimlag van oor tot oor. “Ek’s darem maar slim,” sê hy selfvoldaan. Hy weet wat hy moet doen om Dirk te dwing om weer vir sy suster te kom kuier. Hy weet presies wat. Môreaand gaan die twee verliefdes tot laat sit en handjies vashou. Hy het mos gesê hy gaan dinge regmaak en hy wat Trompie is, is ’n man van sy woord. Ja-nee, ’n slim man en ’n man van sy woord, dis wat hy is.

Môre gaan hy sy briljante plan aan die ander lede van die Boksombende verduidelik. Hulle sal hom van voor af bewonder. Sowaar as paddavet, môreaand fluister Dirk mooi woordjies in Anna se oor.

Hoe kon die arme Trompie geweet het dit is die laaste ding op aarde wat sy suster wil hê?

Die Maandagoggend op skool lyk Trompie geheimsinnig en elke keer as die nuuskierige Blikkies, Rooie en Dawie kans kry om hom te vra wat aangaan, frons hy diep soos dit ’n groot denker betaam. Hy wil hulle nie nou al sê wat die probleem is en watter oplossing hy daarvoor uitgedink nie.

In meneer Blignaut (die kinders noem hom Ou Os omdat hy net so breed is as wat hy lank is) se geskiedenisklas skryf Trompie ’n briefie. Hy kry dit reg om dit klaar te skryf sonder dat Ou Os iets agterkom. Trompie lees die brief gou weer deur:

Lede van die Boksombende!

Julle Groot Leier het Groot Dinge om met julle te bespreek. Vanmiddag net na skool by die fort. Julle bars as julle my weer pes oor wat dit is. Wag tot ons by die fort is en ek my toespraak maak. Verstaan?

Ek het gesê!

Trompie

Die Leier wat julle blindelings moet volg. Diè wat nie wil nie – staan eenkant! Ek sal met julle afreken!

Toe Ou Os sy rug draai om iets op die bord te skryf, gee Trompie die briefie vinnig aan vir Rooie wat net aan die ander kant van die paadjie sit. Rooie sit met die briefie toegevou in sy hand terwyl hy aandagtig luister na wat Ou Os oor Jan van Riebeeck sê. Elke keer as die onderwyser na sy kant toe kyk, knik hy met sy kop. Rooie voel hy skep ’n goeie indruk deur kamtig so oplettend te wees. Maar in werklikheid weet hy glad nie waarvan die onderwyser praat nie. Hy brand van nuuskierigheid om Trompie se brief te lees. Toe Ou Os weer omdraai, neem Rooie sy kans waar en lees gou. Hy kyk na Trompie en knipoog. Dis alles in orde. Hy is vanmiddag by die fort.

Elke keer as die onderwyser sy rug na die klas draai om iets op die bord te skryf, vlieg die briefie van een Boksombendelid na die volgende. Al vier het dit uiteindelik gelees en almal het vir Trompie geknipoog. Hulle gaan vanmiddag by die fort wees om te hoor wat hul leier te sê het.

Trompie sit gemaklik agteroor in sy bank. Vérlangs hoor hy die onderwyser se eentonige stem. Hy luister glad nie. Nee, hy is nou besig om sy toespraak vir vanmiddag uit te dink. Dit moet sy manskappe aanvuur om hom met durf en moed te volg, al is dit ook tot die dood toe! Die onderwyser verduidelik, maar Trompie is horende doof. Dit is maar goed Ou Os druk nie op sy nommer om ’n vraag te beantwoord nie, want dan sal Trompie sowaar weer in die sop wees.

Dié middag eet Trompie vinnig. “Wat’s dit met jou?” vra sy ma. “Hoekom is jy so haastig?”

“Daar’s groot dinge wat ek moet regmaak – sommer baie groot dinge.” Met sy pet windmakerig skeef op sy kop, sy kouse op sy skoene en sy hemp wat agter by sy broek uithang, loop Trompie by die huis uit. Mevrou Toerien glimlag goedig. Sy is baie lief vir hierdie onnutsige seun van haar.

By die fort sit Blikkies al en wag. Sy kakebeen beweeg ritmies op en af. Hy is besig om ’n grashalmpie te kou. Hy en Trompie het mekaar net gegroet toe Rooie en klein Dawie al singende by die bouval se ander kant inkom.

Die vier seuns sit soos gewoonlik op die houtkissies. Trompie tel hulle.

“Almal teenwoordig, nè?” sê hy met ’n belangrike stem.

“Kan jy dan nie sien nie?” brom Rooie.

Trompie vererg hom, maar besluit om niks te sê nie. Vandag moet hulle nie onder mekaar baklei nie. Hulle moet saamstaan.

Die Boksombende se leier staan op en maak keel skoon. Blikkies, Dawie en Rooie kyk na hom. Trompie maak weer ’n paar kuggeluide. Dit moet sy manne laat besef hulle is hier oor ’n ernstige en baie belangrike saak. Al kommentaar wat sy gehoes egter uitlok, is klein Dawie wat vra: “Het jy verkoue, Trompie?”

Die Groot Leier vererg hom. Wat is dit deesdae met sy manskappe?

“Ek het nie verkoue nie en ek is nie jou Trompie nie, verstaan?”

“Ja, Kaptein,” sê Dawie vies.

Trompie begin praat. Hy probeer om sy stem te laat tril. “Manne,” sê hy, “ons vergader vanmiddag hier onder die blou hemel om ’n groot daad te verrig. Dis ’n taak waarop ons trots kan wees. ’n Edele taak …”

“Wat is dit?” wil Blikkies al kouende weet.

“Ek kom nog daarby,” sê Trompie vererg. “Hou jou mond en luister.” Hy maak weer keel skoon en gaan aan: “Soos ek sê, manne, dit is ’n edele taak. Daar is ’n meisie hier op ons dorp wat verlief is – ja, dolverlief – en ek as leier het besluit die Boksombende moet haar help.”

Trompie kyk na die drie seuns op die houtkissies voor hom.

“Praat jy van Katrien wat so mal oor jou is?” waag klein Dawie dit.

“Moenie simpel wees nie! Dis ernstige sake hierdie.”

“Nou wie is die meisie dan?” vra Rooie.

“My suster!” Trompie kyk hulle uitdagend aan.

Blikkies hou op met kou en spoeg die grashalmpie uit. “Op wie is Anna verlief en hoe gaan ons haar help?”

“Sy het haar hart verloor op daardie nuwe ou in die prokureurskantoor … Dirk de Jongh is sy naam. Nadat ek dae en nagte, sonder om een keer te eet of te slaap, oor die storie nagedink het, het ek uiteindelik aan ’n manier gedink om haar te help, maar ek sê julle nou al, ek wil nie bloedvergieting hê nie.”

“Hoe wil jy hê moet ons haar help?”

Die bendeleier loer vinnig rond, dan buk hy vooroor en sê gedemp: “My plan is baie eenvoudig. Ons moet die twee net by mekaar uitbring. Dan sal Dirk vir haar sê hy’t haar lief en Anna sal vir hom sê sy’t hom lief – en dan is alles mos reg.”

Trompie se drie volgelinge dink hieroor na.

“Dit klink goed, Kaptein,” sê Dawie, “maar hoe gaan ons dit regkry?”

Trompie praat weer in ’n fluisterstem en elke keer loer hy vlugtig of daar nie miskien iemand aankom nie. Hy weet niemand sit ooit ’n voet naby die vervalle ou skuur nie, maar dit lyk beter as ’n mens elke slag eers so rondloer.

“Ons plan van aksie is soos volg,” sê Trompie sag en hy is tevrede om te sien die ander drie skuif nader sodat hulle elke enkele wysheid wat oor sy lippe kom kan hoor, “ek en Dawie gaan vanmiddag na meneer De Jongh se kantoor toe …”

Klein Dawie se ondeunde ogies glinster en hy stoot sy bors uit. “En dan, Trompie, wat doen ons dan? Kry ons hom beet?” vra hy.

“Moenie mal wees nie!” blaf Trompie en die klomp skrik, want hy het vergeet om te fluister. Ná ’n oomblik verduidelik hy sag verder: “Jy gaan net saam met my omdat dit beter sal lyk as ons twee is.”

“Maar wat gaan ons by hom doen?”

“Jissie man, kan jy nie jou mond hou nie? Ek vertel mos nog!” Trompie gluur Dawie aan.

“Nou ja,” gaan Trompie aan, “soos ek sê, ek en Dawie gaan na Dirk de Jongh se kantoor toe. Dan sal ek vir hom sê my suster Anna het my gestuur. Sy wil hê hy moet vir haar kom kuier. Sy is verlief op hom. Al wat Dawie moet doen, is om net elke slag op die regte plekke sy kop te knik.”

Trompie swyg en kyk na sy maats. Hulle dink ernstig hieroor na.

“Maar wat doen ek en Blikkies?” vra Rooie uiteindelik.

“Ek het vir daai vraag gewag,” sê Trompie en probeer die houding inneem van iemand wat alles weet.

“Ja-nee, ek het geweet jy gaan dit vra – en dit is die tweede deel van my plan.” Trompie skuif nóg nader en fluister verder: “Wanneer ek en Dawie na Dirk se kantoor toe loop, gaan jy, Rooie, en Blikkies na Anna toe. Sy sal vanmiddag by die huis wees.”

“Wat moet ons daar gaan doen?” vra Blikkies.

“Vir Anna sê julle kom nou net van meneer De Jongh af. En dat hy julle gestuur het om te sê hy kom vanaand agtuur vir haar kuier. Want hy’s dolverlief op haar. Jy praat, Blikkies, en al wat jy doen, Rooie, is om net elke keer op die regte plekke te knik. Dis al. Verstaan julle? Dis baie beter as om bloed te vergiet.”

Die seuns dink ernstig oor Trompie se woorde na. Dan sê Rooie: “Aha, nou verstaan ek! Jy bedoel hy kom in en sê sy sê van sy groot liefde en sy sê haar sê en dan sê hulle hulle is meisie en kêrel en alles is weer reg.”

“Net so,” sê Trompie opgewonde, “dan is alles weer reg. En hulle sal nooit uitvind die boodskappe wat hulle gekry het, was nie waar nie. En al vind hulle dit ook later uit, maak dit nie saak nie. Want dan is hulle mos smoorverlief en hulle weet hulle is smoorverlief, en hulle is bymekaar.”

Die Boksombende keur Trompie se plan goed, maar hulle is nogtans nie so ingenome daarmee soos wat hy verwag het nie. “Die spul het ook g’n verstand nie,” mompel hul leier toe hy en klein Dawie na die prokureursfirma toe stap waar Dirk de Jongh werk. Rooie en Blikkies is op pad na Trompie se huis toe om vir Anna te vertel De Jongh wil kom kuier. Vanaand sal Trompie die twee in die sitkamer afloer en môre sal hy vir sy maats vertel hoe uitstekend sy plan uitgewerk het.

Voor die prokureurskantoor begeef Trompie se moed hom byna. Hy wonder of dit regtig so ’n goeie plan is. Moet hy dit nie maar los nie? Hy loer na klein Dawie. Hy sien sy maat hou hom onderlangs dop. Rooie en Blikkies is seker nou al by Anna. Nee, hy sal maar moet deurdruk.

Sommer by die eerste kantoor waar Trompie en Dawie inloer, sien hulle vir Dirk de Jongh agter ’n groot lessenaar sit. Hy kyk op na die twee vuil gesigte in die deur.

“Wat wil julle hê?” vra hy bars.

Trompie sluk en stamel: “Ons het ’n boodskap.”

“Nou kom binne. Hoekom staan julle daar?”

Trompie en Dawie maak die deur versigtig agter hulle toe.

Trompie haal sy pet af. Die twee stap nader.

Die man kyk na die slordige seuns. Die grootste een se gesig lyk bekend.

“Wie’s jy?” vra hy.

“Ek’s Trompie, Oom, Anna se boetie.”

Nou onthou De Jongh hom. Natuurlik, dis die klein skurk wat verlede Saterdag met so ’n grynslag op sy bakkies in die Toeriens se sitkamer gesit het!

“Wat wil jy hê?”

“Anna het my gestuur.”

“Ja?”

“Ja, Oom, sy sê Oom moet asseblief vanaand by haar kom kuier. Dis glo baie dringend.”

Dirk de Jongh verstaan dit glad nie. Hy was nou die dag vir die eerste keer by haar, maar dit het nie goed gegaan met die kuiertjie nie. Hy het besluit sy ’n mooi meisie, maar nie sy soort nie. Hulle pas glad nie bymekaar nie.

“Wat wil sy hê?” vra hy.

“Nee, ek weet rêrig nie,” antwoord Trompie en skud sy kop treurig, “maar sy huil van Saterdag af baie – sommer vreeslik baie …”

Klein Dawie sug diep en mompel ook: “Baie-baie …”

“Hoekom huil sy?” wil die prokureur weet.

“Wel, dis moeilik om te sê,” sê Trompie versigtig, “maar van praatjies wat ek by die huis hoor, lyk dit my sy’s verlief. Baie verlief …”

De Jongh kyk die twee seuns verbaas aan.

“Op wie?”

“Wel, …” Trompie sluk-sluk kastig. “Sy het begin huil toe Oom Saterdag so gou daar weg is en sy huil nog een stryk deur.”

Die prokureur kan sy ore nie glo nie. Anna huil oor hom? Hy trek sy das tevrede reg en skiet ’n donsie met sy wysvinger van sy hempsmou af. Baie meisies het al op hom verlief geraak, maar só gou! Nogtans, sy het dae aaneen geoefen om “Die Blou Donou” vir hom te speel. Dan moet dit seker so wees.

Hy kyk na Trompie.

“Sê vir haar ek sal agtuur daar wees.”

“Reg, Oom.”

Die twee seuns maak vinnig spore.

De Jongh staar ingedagte voor hom uit.

Buite bokspring Trompie en Dawie ’n paar keer.

“Sien jy,” sê Trompie opgewonde, “ek het jou mos gesê my plan sal werk.”

Soos afgespreek, ontmoet hulle Rooie en Blikkies voor die Griek se kafee.

“Hoe het dit gegaan?” wil Trompie dadelik weet.

“Nie te sleg nie,” sê Blikkies. “Ek en Rooie het vir Anna gesê meneer De Jongh het ons gestuur om te vra of hy vanaand kan kom kuier, maar sjoe, Trompie …”

“Wat’s dit?”

“Ons het niks gesê van sy groot liefde vir haar nie, want sy het nogal moeilik gelyk.”

“Wat bedoel jy, moeilik?”

“Wel,” antwoord Blikkies, “toe ons sê hy vra of agtuur haar sal pas, het sy net gesê: ‘Wat wil die vent hê? Maar sê hy kan maar kom.’”

Die seuns dink hieroor na.

“Trompie,” vra Rooie skielik, “is jy seker die twee hou van mekaar? Anna lyk nie soos ’n verliefde meisie nie …”

“Man, hulle is mal oor mekaar. Ek weet dit,” sê Trompie, maar hy voel nie meer so lekker oor die affêre nie.

“Ek sal vanaand kyk hoe sake staan en môre vir julle alles vertel.”

Aan tafel die aand sê Anna vir haar ouers: “Dirk de Jongh het laat weet hy kom vanaand kuier.”

“O,” sê mevrou Toerien. “Dis nogal onverwags.”

“Ja, ek wonder wat die verwaande vent wil hê.”

Trompie luister met gespitste ore. Hy hou nie van die woorde “verwaande vent” nie. Is dit moontlik dat hy wat dinge wil regmaak nou weer opgemors het?

Meneer en mevrou Toerien gaan die aand na ’n vergadering toe. Anna sit in die sitkamer en lees. Trompie dwaal voor op die lang stoep rond. Hy het reeds gesorg dat die een sitkamervenster oop is. Hy sal daardeur kan loer en hoor hoe die twee hul liefdesverklarings doen.

Die tuinhekkie piep. Trompie sien dis Dirk de Jongh. Hy sit doodstil in die donker hoekie langs die prieel. Hy hoor hoe die prokureur sy suster groet en sy hom binnenooi. Die seun loop stilletjies met die stoep langs tot by die oop venster. So ja, nou kan hy alles hoor en sien.

De Jongh sit op ’n stoel oorkant Anna wat weer op die rusbank gaan sit het. Hy maak keel skoon en dan begin hy: “Anna, ek … ek het nie besef jy voel so oor my nie.”

Anna frons.

“Wat bedoel jy?”

Die jongman gryns verleë.

“Jy weet goed.”

Anna frons nog dieper.

“Nee, ek weet nie. Wat presies bedoel jy?”

Anna se stem is so koud soos die koudste wind van die Noordpool af. Dirk de Jongh sit ongemaklik rond. Hy voel daar is iewers ’n fout. Iets is nie pluis nie. Het sy dan nie gesê hy moet vanaand na haar toe kom nie? Huil sy dan nie al van Saterdag af oor hom nie?

“Ek bedoel – jy weet mos,” stamel hy, “ek het nie besef hoe jy oor my voel nie … Dat jy … op my verlief is nie.”

Anna is asvaal. Trompie se oë is groot waar hy deur die venster staan en loer. Sake loop lelik verkeerd.

“Verlief!” Anna se stem is skril. “Op jou? Waar op aarde kom jy daaraan?”

“Maar jou boodskap …” prewel Dirk verslae.

“Wat se boodskap?”

“Die boodskap wat jou boetie en sy maat vanmiddag vir my gebring het … dat ek vanaand moet kom kuier.”

Anna kners op haar tande.

“Het jy nie twee seuns gestuur om vir my te kom sê jy wil my vanaand spreek nie?”

“Nee,” antwoord Dirk oorbluf. “En hoekom sou ek hierheen gekom het as jy my nie genooi het nie?”

Anna is woedend. Die dekselse Trompie! Wag tot sy hom in die hande kry! Sy gaan sy nek omdraai.

“Hoor hier, meneer De Jongh,” sê sy kil, “ek het nie vir jou ’n boodskap gestuur nie. Waarvoor sou ek? Ek is net so min op jou verlief soos op … die man in die maan.”

Dirk de Jongh is doodsbleek. Hy staan op en mompel: “Dit moet ’n misverstand wees …” Oomblikke later is by die deur uit en met die stoeptrap af. Die hek klap agter hom toe.

Verslae sit Trompie in die donker langs die prieel. Hy het so hard probeer om dinge reg te maak en daar flop dit toe sowaar. Hy hoor hoe Anna na sy kamer toe loop. Sy soek hom. Hy hoor haar terugkom. “Jissie,” mompel hy, “wie sou nou kon dink dinge gaan só uitwerk?” Hy sal die volgende paar dae wye draai om haar moet loop. Sy gaan hom nie maklik vergewe nie. En hy sal ook moet sorg dat hy Dirk de Jongh nie iewers teëkom nie. Die man sal hom sommer bydam en iets aandoen.

Trompie sug hard. Die ou lewe is darem maar moeilik. Grootmense verstaan nie as kinders iets goeds probeer doen nie. Hy wens daar is nie grootmense op die aarde nie. Dit sal wonderlik wees. Hy wat Trompie is, sal die Grootkaptein wees, en die Griekse kafee sal aan hom behoort.

Hy dink aan die lekkers in meneer Stavrinos se plek. Hy kan nou maar vergeet van die geld wat Anna vir hom sou gegee het. Hy sal nie lekkers kan koop nie en hy sal ook nie sy skuld by Rooie kan afbetaal nie.

Ja-nee, die lewe is maar moeilik.

Trompie Omnibus 1

Подняться наверх