Читать книгу Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith - Страница 7

2
Die dominee se bobbejaan

Оглавление

Naby die pastorie loop die vier seuns effens stadiger. Dawie lei hulle na die tuin se agterkant toe. Daar is ’n opening in die heining. Die seuns buk en loer deur – en daar sit Kees. Hy spring-spring om die paal en hardloop so ver as wat die ketting waarmee hy aan die paal vas is hom toelaat.

Trompie sê eerste iets. Sy stem klink vasberade: “Hóm moet ons hê, ouens!”

Blikkies is al een wat beswaar maak. “Wat gaan ons met die ding aanvang?”

“Met hom speel.”

“Maar …”

“Ag, Blikkies,” sê Trompie ongeduldig, “niemand sal eens weet ons het die bobbejaan gevat nie. Ons gaan speel met hom in ons fort en dan bring ons hom weer terug.”

Die vier seuns kyk met verlangende oë na die bobbejaan wat al hoe vinniger om die paal hardloop.

“Wie gaan hom vang?” wil Dawie weet.

“Trompie natuurlik,” sê Rooie. “Hy is mos ons Kaptein.”

Trompie sluk. Hy kyk weer deur die opening in die heining na die bobbejaan.

“Byt die ding?” vra hy ’n bietjie bekommerd.

“Dit moet jy maar self uitvind,” sê Rooie.

Trompie voel ongemaklik. So ’n ongedierte kan gevaarlik wees. Hy kyk na sy maats en sien hoe hulle hom aanstaar. Nee, hy sal moet gaan. Hy moet bewys hy is ’n ware Kaptein en hy is nie bang nie. Hy gee ’n sluk en sê: “Hou wag, manne! Fluit as iemand kom.”

Die seuns loer op en af in die straat. Hulle sien niemand nie. Trompie trek sy asem diep in. Hy voel soos Daniël wat in die leeuhok gegooi word. Dan duik hy vinnig deur die opening.

In die tuin loop Trompie stadig, half gebukkend en met sy hande voor hom uitgestrek na die bobbejaan toe. Hy maak paaigeluidjies en sê aanhoudend: “Kom, Kesie … Mooi Kesie … Soet Kesie …”

Die bobbejaan hou Trompie agterdogtig dop. Dan skiet hy soos ’n weerligstraal teen die paal op en sit en beloer die verbaasde seun van bo af.

Trompie kyk om na die opening in die heining. Drie gesigte loer vir hom.

“Ruk hom met die ketting af!” skree Rooie hees.

Trompie gryp die ketting en begin trek. Die bobbejaan klou vir lewe en dood aan die paal en maak onheilspellende geluide. Trompie wil los, maar die gedagte aan sy manskappe wat hom dophou, gee hom nuwe moed en krag. Hy gee ’n pluk … en daar tuimel Kees van die paal af! Hy skarrel sommer ’n rigting in, weg van die seun af. Trompie rem met sy een hand en met die ander een maak hy die ketting los van die paal. Hy trek die skreeuende bobbejaan nader na hom toe.

Die bobbejaan skop nou só ’n onaardige lawaai op dat Trompie so vinnig moontlik uit die pastorie se tuin wil wegkom. Kees trap vas en klou aan al wat ’n boompie en bossie is, maar Trompie sleep hom heining toe. “Mooi so,” sê die seuns toe hulle Trompie deur die gat help. Almal kry die ketting saam beet en begin trek … en uiteindelik kom Kees deur die heining.

Hy hardloop eers verward in die rondte en spring dan skielik op Trompie se skouer! En daar sit hy nou! Die verwilderde bobbejaan klou krampagtig aan die seun se skouer vas. Trompie is asvaal.

“Haal … haal die ding af!” skree hy. Sy maats is te verskrik om iets te doen. Trompie kom sukkelend regop, maar die bobbejaan bly sit. Die seun kyk op in sy ogies. Kees byt nie; hy hou net styf vas. Trompie begin effens beter voel. Hy kyk na die ander.

“Hoe’s daai?” sê hy, al bewe sy stem nog ’n bietjie.

“Hy ken sy pa,” grinnik Rooie.

Die vier vriende begin aanstap. Die bobbejaan sit ewe gemaklik op Trompie se skouer. Die seun word gerus. Hy streel Kees selfs met sy een hand. Trompie stoot sy bors uit en gee Tarzan se oorlogkreet. Almal bulder van die lag. Wag tot hulle by die fort kom, dan gaan hulle lekker met hul nuwe maat speel!

Trompie en sy manne hou al met die agterstrate langs. Agter die kerksaal kom ’n groot hond na hulle toe aangedraf. Dawie tel ’n klip op. “Voertsek! Weg is jy!” skree hy en gooi na die hond wat net ’n entjie wegdraf en dan weer omdraai.

“Lyk my hy ruik Kees se kind,” sê Blikkies. Die seuns loop vinniger. Dawie kyk oor sy skouer.

“Jissou!” roep hy uit. “Daar’s nou nie net een hond nie, maar vier!”

Die honde het onraad gemerk. Hulle storm blaffend op die seuns af. Dawie, Rooie en Blikkies bestook die honde met klippe, maar kry hulle nie weggejaag nie. ’n Groot bulhond spring teen Trompie op om Kees by te kom. Die bobbejaan begin histeries skreeu. Trompie skop na die hond, maar dit help niks. Skielik wip Kees van sy skouer af en daar trek hy in die pad af. Die honde sit hom agterna en die seuns hardloop agter hulle aan. Dis omtrent ’n gedoente. Kees se kind, die honde en die vier lede van die Boksombende kom by die kerksaal se hek en vlieg op dolle vaart daar in.

In die saal is die dominee besig om ’n groepie dorpsvrouens oor fondsinsameling en die eerskomende basaar toe te spreek. Die dames luister aandagtig na Dominee se keurige taalgebruik. Niemand vermoed iets van die drama wat buite die kerksaal afspeel nie.

Buite sleep die bobbejaan se ketting op die grond, maar hy is nog steeds voor. Die honde is kort op sy hakke en die vier hygende seuns vorm die agterhoede van die spulletjie wat óm en óm die kerksaal hardloop.

Kees word moeg. Hy sien ’n deur wat effens oopstaan en woerts – in is hy! Dominee sê net: “Dames, wat die basaar se opbrengs betref, moet ons natuurlik nie ’n wonderwerk verwag nie …” toe die vlieënde gedaante met die slepende ketting die gang af nael, reguit verhoog toe. Die dorpstannies gil en spring op die krakende stoele. Dominee staan die storie oopmond en aanskou en toe skree hy: “Gedoriewaar, dis mos my bobbejaan!”

Blaffend storm die honde by die saal in, gevolg deur die laggende seuns. Hier gaan hulle vir Kees voorkeer! Die verwilderde bobbejaan spring op die verhoog rond. Hy gil en skree, die honde blaf, die seuns juig. Dominee is doodsbleek en die tannies gil harder as al die ander geluide saam. Die lawaai is oorverdowend.

Die bobbejaan pyl op die predikant af. “Vang hom, Dominee!” skree Trompie. Dominee probeer, maar sy hande gryp net die lug waar Kees so pas was. Die honde spring oor die vrouens se handsakke en hoedens om by die bobbejaan uit te kom. Kees word in ’n hoek vasgekeer. Hy wip verbysterd rond en dan storm hy op die seuns af. Hulle gryp vervaard na hom, maar hy systap hulle. Kees bars deur die kordon en storm op die histeriese tannies af. Die honde, die seuns en die dominee sit hom agterna.

Die bobbejaan spring op die kollosale tant Grieta se skouer. Sy snak na asem, prewel “Ag jittetjie, help tog,” en sak met ’n plofgeluid op die plankvloer neer. Kees spartel, maar hy kan nie wegkom nie. Tant Grieta het op die ketting neergeslaan! “Ons het hom!” skree Trompie en Rooie wat eerste by is. Trompie gryp na die bobbejaan en Kees hap na hom. Die seun spring vinnig terug.

“Die ding is gevaarlik,” sê hy bang. Hy swaai om na Dominee. “Gryp hom!” skree Trompie. “Dis mos Dominee se bobbejaan!”

Dominee probeer die ketting onder tant Grieta uittrek terwyl van die vrouens haar lawe en Trompie en Rooie haar probeer wegstoot om die ketting los te kry. Dawie en Blikkies is besig om die honde met baie meer lawaai as wat nodig is uit die saal te verwilder.

Ná ’n lang geswoeg is die bobbejaan uiteindelik gevang. Die orde is herstel. Dominee stap pastorie toe met Kees onder sy arm.

Hy het vir die Boksombende gesê om hom te volg en Trompie, Rooie, Blikkies en Dawie kom sleepvoet agter hom aan.

“Ons is lelik in die moeilikheid, ouens,” sê Blikkies bek-af. Die ander knik moedeloos, maar Trompie grinnik, sit sy hande om Dawie en Rooie se skouers en sê: “Maar dit was darem groot sports ook, nè?”

Die seuns grinnik. Dit was omtrent ’n aardigheid om die tannies te hoor gil en op die stoele te sien spring toe die vlieënde gedaantes by die saal instorm. Hulle lag skielik hardop. Dominee kyk kwaai om. Die vier is dadelik tjoepstil.

“Ja-nee,” sug Trompie, “ons is diep in die sop; dis nou maar wors!”

In die pastorie se tuin staan die seuns en kyk hoe Dominee die bobbejaan aan die paal vasmaak. Trompie waag dit om vir ’n oomblik te wonder of hulle miskien weer eendag kan probeer om Kees in die hande te kry, maar hy besef dit sal nie gou wees nie. Nee, grootmense verstaan mos nie. Hier is hy en sy maats nou in die gemors en hulle het eintlik niks verkeerd gedoen nie. Hulle wou maar net met die bobbejaan gaan speel het! Hulle sou hom weer teruggebring het. Hulle bedoelings met Kees was eerlik en opreg. Maar grootmense verstaan mos nie sulke dinge nie!

Dominee sê die seuns moet na sy studeerkamer toe kom. Druipstert volg hulle hom.

Die predikant sit agter sy groot lessenaar. Die vier seuns staan voor hom. Hy voel glad nie gelukkig nie.

“Nou toe, wat het julle te sê?” vra Dominee met ’n kwaai stem.

Klein Dawie se oë is groot en sy stem klink ’n bietjie fyn: “Ons … ons wou maar net saam met hom pret hê, Dominee.”

Die leraar kyk na Trompie.

“Dit was natuurlik jy wat die bobbejaan uit my tuin kom gaps het.”

Trompie laat sak sy kop en mompel: “Ja, Dominee, maar onder die sterkste provo-… provokasie!”

Dominee glimlag. “Wat bedoel jy daarmee?”

“Ek bedoel, Dominee, ons wou regtig net graag met Kees gespeel het.”

“Maar hoekom het julle hom dan by die kerksaal laat los?” Die predikant se stem klink ’n bietjie vriendeliker.

“Dis die honde se skuld,” sê Trompie blitsig. “Hulle het ons aangeval!”

Dominee kyk voor hom uit. ’n Glimlag plooi sy mondhoeke. Hy dink aan die uitdrukking op die dames se gesigte toe die bobbejaan, die honde en die seuns die saal binnegestorm het. Dit was nogal iets om te aanskou. Die leraar kan nie help om te grinnik nie. Die seuns kyk vir hom, dan vir mekaar en begin giggel. Dominee lag hardop … die lede van die Boksombende ook. Maar dan sluk Dominee sy lag en kyk hulle weer streng aan. Die vier verstar.

“Julle kan gaan,” sê hy en probeer sy stem kwaai hou. “Ek sal julle hierdie keer oorsien, maar sorg dat dit nie weer gebeur nie. En maak seker julle is Sondag in die Sondagskool, anders is daar moeilikheid!”

“Ja, Dominee, dankie, Dominee,” mompel die seuns en is vinnig by die deur uit.

Toe hulle laggend agter die pastorie se tuin verbystap, kan hulle die versoeking nie weerstaan om deur die gat in die heining te loer nie. Vier vuil gesigte bekyk die bobbejaan wat nou houtgerus op sy paal sit.

“Ou Kesie, ons was amper in groot moeilikheid, maar eendag is eendag gaan ons jou nog kom vaslê,” sê Trompie. Dawie gooi ’n klip na die paal en die bobbejaan begin weer ’n keel opsit.

’n Paar minute later stap Trompie by sy ouers se huis in. Hy voel heel gelukkig. Dit was ’n lekker middag. Maar soos hy die voordeur agter hom toemaak en sy pet behendig deur die portaal laat trek om netjies op ’n stoel te lande te kom, merk hy onraad. Dis stil in die huis. Véraf hoor hy sy pa en ma se stemme. Hulle is in die studeerkamer en hy weet as hulle daar is, veral hierdie tyd van die dag wanneer sy ma gewoonlik in die kombuis is, praat hulle oor hom. Hy het weer iets aangevang! Maar wat? Trompie het nooit gedink sy kaskenades met die bobbejaan sal sy ouers die joos in maak nie. Dominee het hom mos al klaar voor stok gekry daarvoor! En hoe kan sy pa en ma nou al van die middag se dinge weet?

“Trompie!”

“Ja, Pa.”

Traag loop Trompie studeerkamer toe. Hoekom kan die mensdom hom nie net met rus laat nie?

“Dag, Pa; dag, Ma.”

Die ouers kyk die seun wat hulle altyd soveel probleme gee kwaai aan.

“Wat het jy nou weer vanmiddag aangevang?” vra Trompie se pa, die dorp se bankbestuurder.

“Ek? Niks, Pa; niks besonders nie.” Sy ouers kyk na mekaar. Dan sê sy ma sag: “Ek was vanmiddag in die kerksaal.”

Trompie kyk haar verbaas aan. “Ma was ook daar? En ek het Ma nie eens gesien nie! Het Ma ook flou geval?”

“Nee, ek het nie, maar jy het my in die skande gesteek deur soos ’n barbaar te skree terwyl jy agter daai bobbejaan aan hardloop.” Mevrou Toerien ruik iets wat in die kombuis brand. “Ek moet by die kospotte kom. Praat jy met hom, my man.”

Trompie slaak ’n sug van verligting. Dis nou darem een minder wat met hom gaan staan en skoor soek. Hy het nog nooit aspris kwaad gedoen nie, maar dit help nie – hy is altyd in die moeilikheid.

Soos ’n martelaar staan hy voor sy pa.

“Ek het alles gehoor van jou kwajongstreke met die bobbejaan,” sê meneer Toerien. “Hoe durf julle klomp Dominee se bobbejaan gaan steel?”

Trompie wil verduidelik dat hulle die bobbejaan net wou geleen het, maar hy weet dit sal niks help nie. Grootmense verstaan mos nooit nie. Hy sal maar stilbly.

“Trompie, jy moet gestraf word hiervoor.”

“Ja, Pa.”

“Jy werk môre heeldag in die tuin!”

“Maar Pa …”

“Ja?”

“Dis môre Saterdag – wat beteken dis vakansie – en nog ’n ding, ou Jafta jaag my altyd uit die tuin. Hy wil nooit hê ek moet hom help nie.”

“Seker omdat jy altyd in die pad is en droogmaak.”

“Is seker so, Pa,” sê Trompie gedwee en kyk aandagtig na sy skoenpunt wat so ingeduik is van al die graspolle, klippe en blikke waarna hy gedurig loop en skop.

“Ek sal met Jafta praat. Ons twee sal wel vir jou iets te doene kry aan die onderpunt van die tuin.”

Trompie lyk verslae. Hy wil iets sê, maar meneer Toerien tel sy koerant op. Die saak is afgehandel. Trompie ken sy pa. Hy weet dit sal nie help om verder te praat nie. Hy stap stadig deur toe.

“Tot siens, Pa,” sê hy sag by die deur en kyk hoopvol terug.

“Tot siens, Trompie.”

“En Pa …”

“Ja?”

“Eendag sal Pa nog jammer wees Pa het my so sleg behandel …” Trompie maak hom haastig uit die voete.

Dié aand lê die Boksombende se Kaptein op sy bed en dink vir die soveelste maal aan hoe onregverdigheid die lewe is. Sy familie verstaan en waardeer hom nie. Dit is die probleem. Sy ma raas gedurig met hom omdat hy kamtig nie na sy klere kyk nie en altyd slordig is. Hy snork verontwaardig in sy kussing. Mens sal sweer hy is ’n babatjie! En sy pa gee hom net altyd werk. Kastig om hom uit die moeilikheid te hou. Asof hy in die strate rondloop en nonsens soek! Hy sal dit mos nooit doen nie!

Dan is daar nog sy ousus, Anna – sy is nes sy pa en ma. Pik altyd op hom. Doen dit! Doen dat! Dit hou heeltyd so aan. Die afgelope tyd is sy weer hoog die dinges in. Sy praat nie ’n woord met hom nie, maar dis ook maar goed. Dan kan sy hom ten minste nie aanhoudend rondstuur nie. En hoekom is sy nou eintlik kwaad? Trompie skud sy kop vererg. Omdat hy een van haar kêrels by die hek ingewag en met hom onderhandel het! Dis al wat hy gedoen het en nou wil sy iets oorkom. Dit was bloot ’n transaksie. Hy het maar net vir die vent gesê om vir hom geld te gee in ruil vir ’n goeie woordjie by sy suster. Dis al. Kan sy nie verstaan hy het geld nodig nie? Hy skuld Rooie nou al vir twee weke ’n paar rand en die ou begin moeilik word! Is dit só moeilik om te verstaan?

Trompie gee nog ’n snork en die bed kraak soos hy omdraai. Maar toemaar, eendag sal hy hulle wys! Hy wat Trompie is, sal sy pa en sy ma en sy suster, Anna, nog wys! Hy gaan wegloop. Hy gaan ’n seerower word! Dis wat hy gaan doen! En eendag sal hy terugkom met die wêreld se skatte in ’n groot sak. Dan sal hy maak of hy hulle nie eens ken nie. Wel, miskien sal hy darem vir sy ma so ’n paar juwele gee. Maar sy pa en Anna – hulle kry niks! Môre is Saterdag, ’n heerlike dag om by die dam in die kloof te gaan speel – en hy moet in die tuin werk. Maar toemaar, hy sal ’n plan maak.

Trompie se asemhaling word al hoe reëlmatiger. Hy geniet die oomblikke net voor die slaap hom geheel en al oorval. Hy glimlag. Dit was darem groot pret daar in die kerksaal vanmiddag … En môre … Hy sal ’n plan maak … Hy sal ’n plan maak …

Trompie Omnibus 1

Подняться наверх