Читать книгу Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith - Страница 5
Оглавление1
Ontmoet Trompie en sy bende
Dit is ’n warm somermiddag. In ’n voetpaadjie omtrent ’n kilometer buite die dorp loop ’n elfjarige skoolseun ingedagte en skop na graspolle. “Vat so!” sê hy elke keer as hy lostrek en een netjies raakskop. Die punt van sy regterskoen is al ingeduik. Sy kouse hang oor sy skoene en sy hemp peul by sy broek uit. Onder ’n pet wat windmakerig skeef op sy kop sit, steek ’n ongekamde boskasie uit.
Naby ’n vervalle ou skuur val die seun skielik plat op sy maag in die gras. ’n Rukkie lê hy doodstil en dan kruip hy stadig vorentoe. Hy hou sy een hand voor hom uitgestrek met die wysvinger reguit en die duim in die lug op. Dit is sy rewolwer. Hy bekruip die klomp rowers in die fort. As hulle nie saam met hom wil kom nie, gaan hy hulle een vir een platskiet.
Versigtig seil hy verder op sy maag. Elke slag loer hy oor die hoë gras. Hy glimlag by homself. Niemand kan so goed en stil soos hy seil nie. Hy sal die skurke verras en hulle vang. Hy sien al sy foto in al die koerante. Hy sien al hoe almal hom ’n held noem.
Skielik hoor hy iemand net regs van hom. Hy loer deur die gras. ’n Seun van omtrent sy ouderdom stap ’n paar meter van hom af verby.
“Fiet-fiet!” fluit die seun op die grond. Die ander een gaan staan. Hy draai om en sien die sproetgesig wat deur die gras na hom loer.
“Val plat!”
Die tweede seun val plat. Hy seil stadig tot by sy maat.
“Hallo, Trompie,” fluister hy.
“Haai, Blikkies,” groet die seun met die rewolwer.
“Is iets verkeerd?”
“Rowers in ons fort.”
“Hoeveel?”
“Duisende!”
“Soveel?”
Die twee lê roerloos. Dan fluister Blikkies: “Wat’s jou plan, Trompie?”
“Wie’s jou Trompie?”
“Orraait dan, Kaptein.”
Trompie se sproetgesig vertrek soos wat hy ernstig nadink. As leier moet hy nie sy manskappe se bloed verniet vergiet nie. Blikkies lê langs hom aan ’n grashalmpie en kou. Hy kyk na Trompie se geplooide voorkop.
“Wat doen jy?”
“Ek dink.”
“O,” en Blikkies kou verder.
Ná ’n rukkie maak Trompie keel skoon. Dit is die teken dat Blikkies nou mooi moet luister. Hy wat Trompie is, gaan nou groot wyshede kwytraak. Blikkies kou ’n bietjie stadiger.
“Kyk, Blikkies,” fluister Trompie ernstig terwyl hy nog nader aan sy maat skuif. “Na diepe beraadslaging …” Hy het hierdie frase in ’n boek gelees het en dadelik daarvan gehou. “Na diepe beraadslaging …” Ja-nee, hy hou sommer baie hiervan. Hy loer na Blikkies om te sien watter uitwerking die geleerde woorde op hom het. Maar Blikkies se kakebeen beweeg nog steeds ritmies op en af.
“Hoor jy my, Blikkies?”
“Ja, Kaptein.”
“Nou ja, soos ek sê, na diepe beraadslaging het ek besluit ons moet aanval. Jy van anderkant af en ek van dié kant af. En ons moet ’n wagwoord hê sodat ons mekaar nie skiet nie.”
“Wat’s ’n wagwoord?”
“’n Ding wat jy sê en ek sê, wat sê ons is vriende.”
“O.”
“Ja.”
“En wat’s die wagwoord?”
“Akkedis.”
“Hoekom?”
“Omdat ek nou net een by jou sien verbyglip het.”
Blikkies hou op kou. Hy kyk om, maar sien nie ’n akkedis nie.
“En nou? Wat doen ons nou?” vra hy.
“Nou val ons aan,” sê Trompie. “Begin kruip. Beweeg om die fort en moenie dat hulle jou sien nie.”
Blikkies kyk eers na die vervalle ou skuur en dan na die ompad wat hy sal moet vat as hy van agter af wil aanval. Dis vér.
“Hoekom gaan jý nie agterom nie? Dan wag ek hier.”
“Praat jy teë?” vra Trompie en maak sy stem so grof moontlik. “Jy weet wat ek verlede week met Rooie gedoen het!”
Blikkies weet.
“Orraait dan,” sê hy droogweg. Hy spoeg die grashalmpie met ’n boog uit en begin stadig en versigtig op sy maag wegseil.
Trompie lê alleen in die lang gras. Hy weet nie hoekom sy bende deesdae so opstandig is nie. Net verlede week moes hy Rooie met ’n taai klap stilmaak. Selfs klein Dawie wat hom altyd blindelings gevolg het, begin teëpraat en dit lyk vir hom Blikkies wil-wil ook astrant word.
Dit maak Trompie vies. Hy kan nie verstaan wat is dit met hulle nie. Almal weet tog hy is die sterkste en die beste. Elke keer wat hulle in die moeilikheid is, red hy hulle. Die feit dat hy hulle altyd daarin laat beland, maak nie saak nie … Hy kry hulle mos weer uit! En verder swem hy die beste en hardloop die vinnigste. En boonop klim hy die beste boom, gaps die meeste vrugte uit die Griekse oom Stavrinos se boord en spoeg verreweg die verste.
Mismoedig skud Trompie sy kop. Nee, hy weet sowaar nie wat deesdae met Rooie, Blikkies en klein Dawie aangaan nie. Maar hy wat Trompie is, is die Boksombende se Grootkaptein en hy sal hulle regsien!
Ja, hy sal dit vinnig doen. Sommer nou. Nou op die daad! Hy is in elk geval moeg vir hierdie rowerjaery en rondkruipery. Trompie spring op en hardloop vinnig na die vervalle skuur toe.
“Blikkies!” skree hy.
“Akkedis!” kom die antwoord van ’n bossie agter die gebou af.
“Akkedis se voet!”
Blikkies kom te voorskyn.
“Wat’s dit met jou?” vra Blikkies. “Ek was net reg om op hulle te begin skiet.”
“Nee wat, ek is moeg vir elke dag se rowerspeletjie. Ek wil groot dinge praat.”
Die twee seuns gaan sit elkeen op ’n ou houtkissie in die skuur.
“Watse dinge?” vra Blikkies toe hy gemaklik is en weer ’n grashalmpie in die kies het.
“Wag tot die ander kom,” sê Trompie soos iemand wat belangrike geheime het om mee te deel.
Hulle hoor veraf ’n gefluit, ’n hoë noot wat met ’n lae een afgewissel word. Trompie en Blikkies fluit op dieselfde manier terug. Ná ’n paar minute loer twee gesigte by die skuur in. “Julle’s vroeg,” sê Rooie, ’n sterkgeboude seun met rooi hare.
“Jis, julle ouens,” sê die ander een in ’n piepstemmetjie. Dis “klein Dawie”, so genoem omdat hy net nege is, twee jaar jonger as die ander drie. Twee ondeunde ogies blink in sy wakker gesig.
“Haai, Rooie; haai, Dawie,” sê Trompie en Blikkies.
Die vier seuns sit op die kissies wat hulle hierheen gedra het toe hulle die bouvallige skuur ’n paar maande gelede ontdek het. Dis hul bymekaarkomplek – die Boksombende se fort.
Trompie kyk na die drie om hom. Hulle wag dat hy moet sê wat hulle vanmiddag gaan speel. Slim klein Dawie is altyd bereid om enigiets te doen wat Trompie voorstel, Blikkies is alewig op skool in die moeilikheid omdat sy knieë klap wanneer hy opstaan en sy klasmaats hom natuurlik bly aanpor om dit te doen, en die vreeslose Rooie het al die prestasie om op een dag twee keer ’n draai in die hoof se kantoor te maak. Trompie voel ’n gloed van trotsheid. Hulle is sy vriende! Dit is sy manne dié!
Hy maak keel skoon. Dit klink mos altyd indrukwekkend. Hy het gesien sy oom doen dit altyd wanneer hy politieke vergaderings toespreek. Hy staan stadig op: “Manne, ek wil ernstige dinge gesels.”
Ses oë kyk hom aan. Blikkies se kieste beweeg stadiger. Trompie sit sy een arm oor sy bors en steek sy hand by sy hemp in. Dis mos hoe Napoleon in daardie geskiedenisboek staan.
“Wie het verlede week vir arme Dawie uit die dam getrek toe hy amper verdrink het?”
“Jy, Kaptein,” sê Dawie. Sy oë glinster en hy stoot sy bors uit.
“Jy, Kaptein,” sê Blikkies terwyl hy die grashalmpie behendig van die een kies na die ander verskuif.
Trompie kyk na Rooie. Blikkies en Dawie kyk ook na hom.
“En wat sê jy, Rooie?” vra Trompie en lig hom op sy tone sodat hy effens langer lyk.
“Jy, Kaptein, maar ek het darem ook gehelp.”
“Ja, maar wie’t eerste ingespring?”
“Jy, Kaptein.”
Trompie wil nog oor baie dinge gesels, maar hy word moeg om so ongemaklik op sy tone te staan en sy arm heeltyd op sy bors te hou. Hy gaan weer sit.
“Ek wil julle ’n reguit vraag vra en ek soek ’n reguit antwoord. Is ek julle Kaptein of nie?”
“Jy is!”
“Jy is!”
“Jy is, seker maar.”
Trompie vervies hom vir Rooie en dink vinnig hoe om hom op sy plek te sit, maar Dawie kom tussenbeide.
“Weet julle ouens wat?” vra hy in sy skik.
“Wat?” vra almal tegelyk.
“Daar’s ’n bobbejaan in Dominee se tuin!”
As Dawie ’n atoombom tussen hulle gelos het, sou hulle nie meer verbaas gewees het nie.
“’n Bobbejaan?” vra Trompie opgewonde. Hy het nou skoon van Rooie vergeet. Hier kom ’n avontuur. Hy sien al hoe loop hy met ’n bobbejaan op sy skouers soos Tarzan deur die strate. Almal sal hom bewonder.
“Wat … wat maak die ding daar?” stamel Blikkies.
“Hy sit op ’n paal. Ek het my pa hoor sê Dominee het hom gisteraand van die Bosveld af gebring.”
“Is hy mak?” vra Trompie.
“Ek weet nie. Ek het ’n klippie oor die heining na hom gegooi en voor jy kon sê mes, was hy bo-op die paal!”
Die vier seuns kyk na mekaar. Hulle dink dieselfde ding.
“Ons moet hom gaan bekyk,” sê Trompie.
Soos een man staan hulle op. Al geselsende en laggende stap hulle deur die veld dorp toe. Môre is Saterdag en dan is daar nie skool nie. Die lug is blou, die son skyn heerlik en daar is ’n bobbejaan in die dominee se tuin. Hulle slaan sommer vanself oor na ’n drafstap.