Читать книгу Trompie Omnibus 1 - Topsy Smith - Страница 17
7
Trompie en Boesman
ОглавлениеNá die prokureur se rampspoedige kuiertjie by Anna sorg Trompie dat hy uit sy suster se pad bly. Sy wou hom al ’n paar keer in sy kamer gaan invlieg, maar sy ma het darem altyd gekeer. Toe Trompie eendag agterkom sy lyk nie meer so kwaad nie, mompel hy vir haar ’n verskoning. Sy glimlag net en sê: “Toemaar, Trompie, dis alles is reg. Ek besef nou jy het dit goed bedoel.”
Daar is nou weer vrede in die Toeriens se huis, maar vir hoe lank?
Een middag sit Trompie op sy bed en maak sy sakke leeg. Hy pak alles op die tafeltjie langs sy bed uit. Dis warm, maar hy mag nie buitentoe gaan nie. Hy was die oggend ook nie skool toe nie. Sy arms, gesig en nek is blink gevryf met salf en nog opgeswel. Trompie, Blikkies, Rooies en Dawie het gistermiddag ’n byenes in die kloof ontdek. Die ongeluk was die bye het hulle ook ontdek. Trompie het gehardloop vir al wat hy werd is, maar dit was nie vinnig genoeg nie.
Vandag is hy in die bed. Hy sit sy knipmes op die tafeltjie neer en dan ’n tol met tou styf daarom gebind, ’n paar klippies, sy kettie, twee sywurms wat in moerbeiblare toegedraai is, ’n dooie klein platanna wat hy gister in sy onderwyseres se tas wou gesit het, maar toe nooit die kans gekry nie, en ’n halfgeëete appel wat nou al bruin is. Dit is al Trompie se besittings.
Hy het nog ander goed ook in sy kamer, maar hierdie is al wat hy besit wat hy saam met hom kan ronddra. Hy kry homself jammer. Hy is arm – vreeslik arm! Sy ouers gee mos nooit vir hom niks nie. Hy word net altyd afgejak. Trompie kyk na sy paar ou besittinkies en skud sy kop weemoedig. Die platanna gooi hy by die venster uit. Hy sal dit nie meer kan gebruik nie. Die ding begin al ruik. Hy het die sywurms vir ’n ou stukkende tol geruil. Hy wil hulle aan Katrien verkoop. Sy boer mos met die goed. Hy sal darem seker ’n ietsie vir elkeen kry.
Trompie sug. Dis swaar om so arm te wees. Hy skuld Rooie ook nog geld en hy sal moet opdok. Die ou word al ongeduldig. Ingedagte sit Trompie ’n klippie in sy kettie. Hy korrel en trek los. Dis ’n kolskoot en die wit aster by die venster se blomblare spat grond toe. Een van die dae sal hy nie meer so na die asters kan lê en skiet nie. Die goed is al erg uitgedun. Hy skiet heeltemal te goed, dis die moeilikheid.
Hy lê en wonder of hy nog een sal klits toe hy Jafta, hul tuinman, by die venster sien verbystap. Jafta loop en gesels met iemand en daar draf ’n hond agter die twee mans aan. Die hond is maer en sy tong hang uit in die warm son. Trompie spring op en hardloop venster toe, maar Jafta-hulle en die vaal hondjie is al om die huis se hoek.
Die seun gaan lê weer op die bed. Hy wonder wie Jafta se vriend kan wees. En die hond? Wie s’n is dit?
Hy besluit om sy ma te vra.
“Ma!” roep hy so hard as wat hy kan. Hy wag ’n bietjie en luister. Hy hoor nie voetstappe nie.
“Ma!” skree hy weer. Hy luister en hoor haar voetstappe met die lang gang af na sy kamer toe aankom.
“Wat’s dit, Trompie?” vra sy toe sy die deur oopmaak. Trompie lyk tog te koddig met sy geswelde, blinkgesmeerde gesig. “Het jy nog seer?”
“Nee, Ma, ek makeer niks – ’n by kan mos nie seermaak nie. Maar Ma, wie’s saam met Jafta in die tuin?”
“Dis sy broer, Safanja, wat ’n paar dae kom kuier.”
“En wie se hond is dit?”
“Seker Safanja s’n.”
Trompie dink ’n oomblik en toe vra hy skielik: “Hoekom het ek nie ’n hond nie, Ma? Ek het niks op aarde nie.”
Sy ma kom sit op die bed by hom en sê sag: “Moenie so praat nie, Trompie. Jy het vir my en jou pa en jou suster …”
“Ja, maar ek het nie ’n hond nie!”
“Miskien nie, maar kyk na al die ander dinge wat jy het …”
“Soos wat? Daar lê al my besittings.” Trompie wys na die goed op die tafeltjie.
Sy ma kyk na die sywurms, die mes, die kettie, die halwe appel en die paar klippies en dan glimlag sy teer.
“Jy weet, Trompie, ek en jou pa sal vir jou enigiets gee wat jy vra, solank dit ’n redelike versoek is.”
“Onthou dit, Ma! Moet dit nooit vergeet nie!”
Toe hy weer alleen is, lê Trompie en dink. Sy ma sê hulle sal vir hom enigiets gee wat hy wil hê. Wel, hy wil ’n hond hê, dis wat! Hy gaan kyk of sy ma regtig bedoel het wat sy gesê het. Hy wil ’n hond hê, een soos wat netnou hier by sy venster verbygedraf het: so ’n vale wat ’n ietsie van alles is en ’n goeie maat, ’n hond wat oral saam met hom sal baljaar en vir wie hy toertjies sal kan leer. Só ’n soort hond wil hy hê …
Trompie trek sy oë nouer en omdat sy gesig so geswel is, is hulle nou amper heeltemal toe. Hoekom vat hy nie sommer die hond wat nou seker in die tuin voor ou Jafta se buitekamer in die sonnetjie lê nie? Hy is dalk net mooi die regte een. Trompie besluit hy sal môre bietjie uitvind wat gaan vir wat. Die hond is mos nou hier, so hy kan sommer hier bly wanneer Jafta se broer weer weggaan. Ja-nee, net môre gaan hy ondersoek instel.
Die volgende oggend lyk Trompie se gesig baie beter. Hy kyk in die spieël en probeer vir sy pa wys daar is nog plekke wat lelik geswel is, maar dit help niks nie: hy moet skool toe. Daar is niks meer met hom verkeerd nie. Vies stap Trompie skool toe en in die klas let hy nog minder as gewoonlik op. Hy dink net aan die hond in hul tuin. Voor hy skool toe is, het hy die brak by die kombuisdeur gesien. Hy het met wakker bruin ogies na Trompie gekyk en sy lang stert gewaai.
Mevrou Toerien het gesê Trompie moet vanmiddag reguit huis toe kom. Sy is bang sy gesig kan weer opswel as hy in die son speel. Ga, dink hy, maar hulle wou hom nie by die huis laat bly nie. Moet die bye ’n mens eers doodsteek voor jy uit die skool mag bly? Maar vanmiddag is hy gretig om huis toe te gaan. Hy wil met daardie hond speel en hom bietjie deurkyk. Hy sal sorg dat hy in die ou eikeboom se skaduwee bly. Dan het sy ma niks om oor te kla nie.
Trompie eet vinnig en dan hardloop hy met die tuinpaadjie af na Jafta se kamer in die hoek aan die onderpunt van die tuin. Voor die deur sit Jafta se broer in die son en pyp rook. Langs hom lê die vaal hond. Sy stert klap lui ’n paar lastige vlieë van hom af weg. Trompie sien Jafta nêrens nie, en dis maar goed so, want hulle twee kom nie altyd so lekker klaar nie. Jafta sien gans te vinnig deur Trompie se streke.
“Jy moet Trompie wees,” sê Safanja toe hy die seun gewaar.
“Middag,” sê Trompie en gaan sit op ’n groot klip. Hy het ongelukkig die ou man se naam vergeet.
“Wat is Oom se naam?” vra hy.
“Safanja. Ek is Jafta se broer.”
“Wie se hond is dit, oom Safanja?” vra Trompie vir die uitgedroogde grysaard wat so lekker aan sy pyp sit en suig.
“Myne. Hy’t sommer saam met my met die pad begin loop die ander maand.”
“Wat is sy naam?”
“Boesman. Ek noem hom Boesman.”
Die hond hoor sy naam. Hy kyk op en waai sy stert. Met verlange in sy oë kyk Trompie na die hond.
“Wil Oom hom nie verkoop nie?”
“Nee, hy’s my maat as ek so alleen loop.”
“Kan ek maar vir hom kos gee en bietjie met hom speel?”
“Is goed so. Speel maar met Boesman.”
Trompie stap ’n paar treë weg en kyk dan na die hond wat hom aandagtig lê en dophou. Hy klap sy vingers en roep: “Boesman! Kom, Boesman!”
Die hond spring op en draf langs die seun soos hy huis toe loop. Trompie voel trots dat Boesman so mooi na hom luister. Hierdie hond wil hy hê.
Wanneer Boesman se maag vol is, gaan hulle speel. Hy is ’n lewendige hondjie en stoei blaffend met Trompie op die grasperk. Hy gaan haal ook blitsvinnig ’n tennisbal wanneer Trompie dit vir hom gooi. Hy hardloop terug na die seun toe, maar wil die bal nie los nie. Trompie sukkel om dit uit sy bek te kry. Hy sal Boesman dit nog moet leer, en sommer baie ander dinge ook. Hy begin al klaar dink die hond behoort aan hom!
Die volgende paar dae gaan Boesman oral saam met Trompie. Die ander lede van die Boksombende is net so erg oor die hond. Trompie, klein Dawie, Blikkies en Rooie gaan gereeld by Safanja soebat om hom vir hulle te gee, maar tevergeefs. Hulle vat elke keer vir hom tabak ook, maar dit help niks. Hy sê net: “Dankie, maar Boesman is my maat. Ek kan hom nie weggee nie.”
Trompie bad Boesman elke dag. Sy hare blink en sy stert swaai sonder ophou. Meneer Toerien weet hoe erg sy seun oor die hond is en hy het ook al met Safanja gepraat, maar die oubaas skud net sy kop.
“Ek wil hom nie verkoop nie. Ek gee Boesman liewer verniet weg. Maar ek wil hom self hou …”
Trompie is raadop. Die dag wat ou Safanja weggaan, kom al nader. Hy moet ’n plan maak. Trompie het nog nooit in sy lewe so lank en ernstig nagedink as oor hoe hy Boesman syne kan maak nie.
Een oggend staan hy op en voel baie beter. Hy het ’n plan. Hy het gedroom wat om te doen! Trompie lag lekker terwyl hy aantrek. Jafta en Safanja is baie bygelowig en hy wat Trompie is, gaan dit so ’n bietjie uitbuit.
By die skool vertel hy vir sy maats van sy wonderlike plan. Hulle dink ook dit sal werk. Trompie gaan vir Safanja vertel van ’n eienaardige droom wat hy kastig gehad het en dit sal die oubaas só die skrik op die lyf jaag dat hy Boesman sal weggee …
“Ja-nee,” lag ou Rooie, “dit sal werk en al werk dit ook nie, gaan ons vet pret hê.”
Net ná skool die middag begin Trompie met die eerste deel van sy plan. Hy stap na die buitekamer aan die onderpunt van die tuin. Toe Boesman hom gewaar, hardloop hy stertswaaiend nader en spring blaffend teen hom op. “Haai, Boesman, my ou maat,” sê Trompie en streel die hond liefdevol.
Die seun gaan sit op sy hurke langs Safanja.
“Hoe gaan dit vandag?”
“Nee, goed. Dit gaan sommer baie goed, Trompie.”
Trompie loer na die oubaas wat genoeglik aan sy pyp sit en suig. Nou gaan hy die aanval loods.
“Weet Oom, ek het laasnag ’n droom gehad – ’n baie vreemde een …”
“So? ’n Vreemde droom?”
“Ja, ek verstaan die storie nie eintlik nie.”
“Wil jy my daarvan vertel?”
Safanja kyk met sy verrimpelde gesig na die seun langs hom. Trompie frons en probeer bekommerd lyk.
“Wel, soos ek sê, dit was sommer ’n baie vreemde droom. Ek droom ek sit in die tuin en dis donker – baie donker. Toe sien ek ’n wit ding aankom, maar hy loop nie, aikôna, die ding sweef so deur die lug sonder enige bene of iets …”
Trompie loer na die oubaas wat ernstig sit en luister. Hy kan sien hy maak ’n indruk. Vol moed gaan hy aan: “Ja-nee, ek skrik toe, maar darem nie te groot nie. Ek kon sien dis ’n gees, maar ek het niks gedoen wat die geeste kon kwaadmaak nie. Ek is mos ’n soet en goeie seun.”
Safanja antwoord nie. Hy wag dat Trompie verder vertel.
“In elk geval, die spook kom al nader en nader, en toe hy voor my is, toe sê hy in ’n growwe stem wat lelik kwaai klink: ‘Waar is Safanja?’ Toe sê ek: ‘Hy slaap.’ Toe sê die spook: ‘Waar?’ Toe sê ek: ‘Hoekom?’ Toe sê hy: ‘Ek wil met hom praat oor ’n hond.’”
Trompie loer onderlangs na die ou grysaard wat só aandagtig luister dat hy nie eens meer aan sy pyp suig nie.
“Ek het sommer dadelik geweet hy praat van Boesman. Toe vra ek hom wat verkeerd is en toe sê hy hy’s die groot gees wat na honde kyk en toe sê hy hy wil vir Safanja sê hy moet sy hond hier laat bly, hy moenie Boesman weer langs die pad laat loop nie. Dis te wreed om so ’n mooi hondjie só te behandel …”
Trompie bly stil.
“Ja?” sê Safanja, “En toe?”
“Toe sê hy dis nou al bietjie laat om met Safanja te gaan praat, maar een van die aande sal hy kom. En toe, toe skrik ek wakker. Dis ’n baie vreemde droom, nè?”
“Ja, baie vreemd …”
Die oubaas sit ingedagte voor hom en uitstaar. Trompie staan met ’n sug op.
“Ai, ek kry oom Safanja vreeslik jammer,” sê hy en loop huis toe met Boesman al agter hom aan.
Dié middag doen Trompie al sy huiswerk, want hy wil seker maak hy kry toestemming om vanaand by Rooie te gaan kuier.
Toe sy huiswerk klaar is, haal hy ’n wit laken van sy bed af, vou dit netjies op en sit dit op die vensterbank neer. Hy hoop Rooie het ’n pampoen gekry en klein Dawie het gesorg vir die kers en vuurhoutjies. Vanaand gaan die Boksombende Safanja só laat skrik dat hy môre tog te gretig sal wees om Boesman vir Trompie te gee!
Ná aandete vra Trompie of hy by Rooie kan gaan speel. Sy pa vra eers uit oor sy huiswerk en sê dan: “Jy bly nie te lank weg nie, hoor.”
“Nee, Pa, ons gaan net ’n paar dingetjies doen, dan is ek weer terug.”
Trompie is by die agterdeur uit en langs die huis om. Hy gryp die laken by sy kamervenster en vat die pad na Rooie se huis. Rooie het ’n buitekamertjie en die Boksombende vergader daar. Blikkies en klein Dawie het ’n pampoendop aan ’n paal vasgemaak en nou smelt hulle ’n kers daarin vas. Die kers word aangesteek. Dit lyk nogaal heel aardig.
“Oom Safanja gaan hom doodskrik as hy hierdie pampoenspook sien,” sê Trompie laggend.
Hy staan op. Dis tyd om sy plan uit te voer.
“Kyk, manne,” sê hy belangrik, “ek wil nie haakplekke hê nie. Alles moet seepglad verloop. Wat doen jy, Dawie?”
“Niks, ek sit en luister na jou, Kaptein.”
“Nee man, ek bedoel wat doen jy vanaand?”
“O,” kom Dawie se piepstemmetjie, “ek kruip in die heining weg en gooi klippe op Jafta se dak.”
“Ja, maar eers wanneer jy my hoor fluit!”
“Ja, Kaptein.”
Trompie draai na Rooie. “En jy, wat is jou werk?”
“Ek klim in die eikeboom en wanneer Jafta en Safanja uitkom om ondersoek in te stel, laat ek die pampoenspook deur die takke afsak sodat dit voor hulle oë ronddans.”
“Reg,” sê Trompie. “En jy, Blikkies?”
“Ek kruip tussen die blomme langs die kamerdeur weg en wanneer hulle in hul spore vassteek soos hulle die spook sien, sê ek in ’n growwe stem: ‘Laat Boesman hier bly. As Boesman saam loop met die pad … soek jy wat Safanja is jou dood!’”
Trompie glimlag tevrede. Sy plan gaan skitterend werk.
“Perfek, manne. Wanneer die twee by die kamer uitkom, vlieg ek om die hoek, klap die deur toe, staan daar met die wit laken oor my en maak onaardse geluide. Hulle sal sien hulle is vasgekeer – voor hulle is die spook in die boomtakke en agter hulle is die gees by die deur. Hulle sal doodstil staan en bewe. Dan sê Blikkies sy sê. En dan maak ek asof ek hulle gaan stormloop. Hulle sal weghol en dan gee ons ook pad!”
Soos die geluk dit wil hê, is dit ’n donker aand. Die seuns stap stadiger toe hulle naby die Toeriens se plek kom. Hulle loop nie voor die huis verby nie, maar gaan agterlangs na die onderpunt van die tuin waar Jafta se kamer in die een hoek staan. Op hul tone beweeg hulle na die heining net langs sy kamer.
“Sjuut!” sê Trompie toe hulle by ’n opening in die heining kom. “Jy bly hier, Dawie,” fluister hy. “Het jy die klippe?”
Dawie knik en druk sy lyf half in die heining in terwyl Trompie, Rooie en Blikkies vinnig deur die opening glip.
Rooie klim in die eikeboom. Dis omtrent twintig meter van die kamer af, reg voor die deur. Blikkies gaan lê in die bedding dahlias. Trompie gaan om die hoek teen die buitegebou se muur staan.
Dis donker. Jafta en Safanja slaap seker al, want Trompie kan niks hoor nie. Hy loer na die boom. Hy wonder of Rooie reg is met die vuurhoutjies sodat hy die kers kan aansteek en die pampoenspook laat sak wanneer die twee uitkom om ondersoek in te stel. Dit lyk vir Trompie of alles gereed is. Hy bewe van opgewondenheid en loop op sy tone na die heining toe. Trompie fluit sag – ’n lae noot afgewissel met ’n hoë een. Hy staan eers stil. Dan beweeg hy terug na die muur toe.
Dit is doodstil. Gespanne wag die seuns, elkeen op sy pos. Klein Dawie trek los met ’n groot klip. Die kamer het ’n sinkdak en die klip kletter daarop neer. Trompie wip soos hy skrik. Niks gebeur nie. Stilte daal weer neer. Kadwar! Nog ’n klip kletter op die dak. Skielik hoor Trompie stemme in die buitekamer. Hy sien hoe Rooie die kers in die pampoendop aansteek.
Die kamerdeur gaan oop. Jafta en Safanja loer versigtig by die deur uit. Hulle sien niks nie en waag dit dan buitentoe. Trompie staan met ingehoue asem. Die twee kom al nader aan die boom. Stadig laat Rooie die lang stok met die pampoenspook voor hulle afsak. Dit sweef onheilspellend in die lug rond. Jafta gryp Safanja aan die arm. Sy oë is verstar in sy kop. “Argh!” sê hy en met ’n bewerige hand wys hy na die aaklige gesig wat uit die donker na hulle loer. Ou Safanja se een been is nog in die lug en hy skrik só groot dat hy skoon vergeet om die been weer op die grond neer te sit. Sprakeloos staan die twee vir ’n paar oomblikke só … en dan vlieg hulle vinnig om!
Trompie staan voor die deur met die wit laken oor hom. “Hiert!” skree hy en spring soos ’n bobbejaan op en af met sy arms uitgestrek.
Blikkies trek los met ’n donderstem: “Safanja, vanaand het die groot gees jou …” Hy wil nog aangaan, maar hier stort Trompie se plan in duie.
Met ’n “Help! Help!” hardloop die twee ou mans asof daar baie meer as net sewe duiwels agter hulle is huis toe en by die kombuisdeur in.
“Hol, manne!” skree Trompie verskrik. “My pa gaan kom kyk wat aan die gang is!”
Rooie val-val uit die boom. Die drie seuns duik deur die opening. Klein Dawie is tien meter voor hulle, maar hulle gly soos die wind by hom verby na Rooie se buitekamer toe. Daar lê die vier seuns en huil soos hulle lag. Uiteindelik bedaar hulle.
“Dit was pret,” sê Trompie. “Maar my plan het toe nie gewerk nie …”
“Nee,” antwoord Rooie. “Waar jy die fout gemaak het, was om te dink hulle gaan stilstaan sodat Blikkies van Boesman kan praat …”
Die seuns is skielik moedeloos. Hulle besef Trompie gaan nooit vir Boesman kry nie. Hul moed sak nog verder in hul skoene toe hulle ontdek Rooie was so haastig om uit die boom te kom dat hy die pampoenspook laat val en net daar gelos het. Trompie weet sy pa gaan op die ding afkom. Hy is al wéér in die moeilikheid!
By die huis gekom, gooi Trompie die laken eers deur die venster op sy bed. Toe stap hy by die voordeur in. Sy pa en ma is in die sitkamer.
Hy sluk en stap aan.
“Trompie,” roep sy pa hom terug. “Wat het jy vanaand weer aangevang?”
Die seun kyk na sy ingeduikte skoenpunt. Hy het niks gedoen nie en hy is al weer in die moeilikheid. Dit gebeur elke keer. Wat te erg is, is te erg.
“Ek het jou ’n vraag gevra, Trompie.”
“Wel, Pa,” begin hy, “hoe sal ek nou sê? Wat bedoel Pa met ‘aangevang’?”
Terwyl hy nog praat, bring sy pa die pampoenspook te voorskyn en sit dit op die tafel neer. Trompie kyk na die ding en sê nie ’n woord nie. Hy sluk net. Hy het mos geweet.
“Is jy hiervoor verantwoordelik, Trompie?”
“Wel, Pa, ’n mens kan seker so sê, ja, maar ook nie eintlik nie, nee. Dit was my idee, maar ek was nie daarvoor verantwoordelik nie.”
Trompie kyk op. Sy ma sit en brei. ’n Glimlag speel om haar mondhoeke. Sy pa frons gevaarlik.
“Pa sien,” stamel Trompie, “dis nie ek wat die ding gemaak het nie …”
“Het jy of het jy nie vir Jafta en Safanja die skrik op die lyf probeer jaag nie?”
Trompie aarsel ’n oomblik, dan kyk hy sy pa vas in die oë en sê reguit: “Ek het.”
As hulle hom wil foeter, dan moet hulle hom maar foeter. Hy is so teleurgesteld dat sy plan om Boesman syne te maak nie gewerk het nie dat hy nie eens omgee nie.
“Hoekom het jy dit gedoen, Trompie?” wil sy pa weet. Trompie is verbaas dat hy so sag praat. Dinge lyk nie te sleg nie.
“Omdat ek vir Boesman wil hê, Pa.” Trompie vertel van sy plan wat so lelik skeefgeloop het. Sy ouers lag kliphard.
“As die twee net stil gestaan en na Blikkies geluister het,” sê Trompie en dit voel skielik of hy die hele wêreld se probleme op sy skouers dra, “sou alles reg uitgewerk het, maar toe hol hulle weg!”
Trompie kry nie ’n pak slae nie. Inteendeel, sy pa vertel vir hom dat hy ook al met Safanja gepraat en hom gevra het om Boesman te verkoop, maar dat hy dit nie wil doen nie.
“Maar ek sê jou wat, Trompie,” troos sy pa, “ek sal vir jou ’n hondjie koop.”
Trompie skud sy kop hartseer. “Dankie, Pa, maar as ek Boesman nie kan kry nie, wil ek liewer nie ’n hond hê nie.”
Voor Trompie gaan slaap, gaan hy eers kombuis toe waar hy vir Boesman sakke neergesit het om op te slaap. Saggies streel hy die hond. Boesman kyk slaperig na die seun en waai sy stert. Trompie besef skielik as Boesman nie in die kombuis geslaap het nie sou hy só ’n lawaai met die spookbesigheid opgeskop het dat alles sou skeefgeloop het. Ag, maar waarom dink hy nog daaroor? Sy plan het mos in elk geval misluk … Tensy Jafta-hulle nie weet sy pa het die pampoendop opgetel nie. Miskien moet hy môre weer probeer …
Die volgende middag ná skool eet Trompie haastig en gaan dan reguit buitekamer toe. Safanja sit langs die muur en rook. Trompie speel ’n bietjie met Boesman en dan kom sit hy langs die oubaas.
“Middag, oom Safanja.”
“Middag, Kleintjie.”
Ou Safanja suig aan sy pyp. Trompie skuif om in ’n gemakliker posisie te kom.
“Het Oom dalk iets verder gehoor van daai droom van my – weet mos …?”
“Niks nie. Die droom is stil.”
Die ou man bly voor hom uitstaar. Trompie maak keel skoon.
“Niks – niks gisteraand gebeur nie, Oom? G’n spoke nie?”
“Nee, niks spoke nie. Net ’n spul kwajongens.”
So Safanja weet van hul kaskenades!
“Haai,” sê Trompie, want hy weet nie wat anders om te sê nie.
“Dit was ’n lelike ding gisteraand.”
Trompie probeer om spyt te lyk. Hy skud sedig kop en sê: “Ja-nee, ek het gehoor van die lelike ding …”
Albei bly stil. Trompie gooi klippies wat Boesman blaffend gaan optel. Hy besluit om weer te probeer.
“Oom weet, dit is ’n baie groot sonde wat Oom doen.”
“Wat is die sonde, Kleintjie?”
“Om Boesman saam met Oom te vat …”
“Hê-hê,” gee die ou man ’n droë laggie, “ek dink nie so nie. Hy gaan môre saam met my.”
Dit voel vir Trompie of sy hart wil gaan staan.
“Môre al?”
“Ja, môre gaan ek Johannesburg se koers toe en Boesman gaan saam.”
Trompie kan dit nie glo nie. Gaan hy Boesman dan nooit weer sien nie?
Hy het nie geweet ou Safanja wil só gou al weggaan nie. Hy sal ’n plan moet maak. Maar wat? Die tyd is so min.
“Wanneer wil Oom gaan?”
“Die middag laat. Die dag is te warm. Ek en Boesman loop altyd in die nag.”
Dié aand is Trompie stil aan tafel. Sy ouers en Anna weet wat die moeilikheid is. Ou Safanja gaan môre die pad vat met Boesman.
“Pappa sal volgende week vir jou ’n hondjie koop, Trompie,” sê sy ma.
“Ek wil nie een hê nie. Ek wil Boesman hê. Hy’s my hond.”
Ná ete gaan Trompie kamer toe. Boesman is by hom. Die seun sit ingedagte op sy bed en die hond lê aan die voetenent. Trompie weet hy moet nou hard dink. Boesman moet hier by hom bly. Hy besluit om tot by drie te tel, dan sal hy groot dinge dink. Hy tel: “Een, twee, drie,” en sit met gefronsde wenkbroue vooroor. Nou dink hy. Hy dink hard, maar dit help nie eintlik nie. Hy sal maar nog ’n keer tot by drie tel en dan weer begin. Hy tel. Hy dink weer. Miskien – miskien moet hy Boesman môre iewers wegsteek? As ou Safanja hom nie kan kry nie, sal hy mos maar alleen moet weggaan. Nee, dit sal nie werk nie.
Trompie kyk mismoedig na Boesman. Ou Safanja sal nooit sonder die hond die pad vat nie. Hy sal weet Trompie het hom weggesteek. Hy sal vir sy pa gaan sê. Nee, dis ’n simpel plan.
Boesman spring teen Trompie op. Hy snuif met sy nat neus aan die seun. “Ag, ou Boesman,” sê Trompie, “kan jy nie aan iets dink nie? Kan jy nie ’n plan maak nie?”
Skielik onthou Trompie van verlede week se Sondagskool. Dominee het gesê as ’n mens iets vurig begeer, dan moet jy bid! Jy moet die Here vra om jou te help. Dis wat hy sal doen! Hy sal bid! Trompie kniel voor die bed neer. Hy vou sy hande. Boesman kom sit styf teen hom.
Trompie maak keel skoon en dan begin hy: “Ag, dierbare Vader, ek wil so graag vir Boesman hê. Hy’s my maat. Werk asseblief tog aan Oom Safanja se hart en laat hom Boesman vir my gee. Asseblief tog, dierbare Vader, maak ’n plan …” Trompie se oë is styf toegeknyp. Hy dink wat om nog by te las, maar hy het mos nou gesê wat daar te sê is.
Hy sal sy gebed nou eindig soos wat Dominee altyd doen: “Ek vra dit, dierbare Heer, in die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees …” Net voor hy amen sê, voeg hy vinnig by: “Groot asseblief toggies, laat Boesman by my bly.”
Die volgende dag is Trompie besonder stil. Hy probeer selfs luister na wat die onderwyser sê. Vandag wil hy mooi lewe. Dan sal sy gebed verhoor word. Dan sal daar ’n wonderwerk gebeur.
Toe die laaste klok lui, draf Trompie huis toe. Hy eet nie eens nie, sit net sy skooltas neer en gaan reguit buitekamer toe. Boesman spring teen hom op. Ou Safanja is besig om sy paar goedjies in ’n kombers toe te draai.
“Hoe lyk dit, oom Safanja? Kan ek Boesman maar kry?”
“Hê-hê,” lag die oubaas. “Aikôna, ek het mos gesê ek gee my hond nie weg nie.”
Trompie se hart sak in sy skoene. Die wonderwerk het nie gebeur nie. Daar is nie aan ou Safanja se hart gewerk nie.
Die hele middag lank speel Trompie met Boesman. As iets tog net wil gebeur dat hy die hond kan hou. Het hy dan verniet so mooi vir ’n wonderwerk gevra?
Laat die middag kom groet ou Safanja by die huis. Sy kombers is op sy rug vasgemaak, sy pyp is in sy mond en sy kierie in sy hand. Trompie moet nou vir Boesman groet. Hy sê hy sal tot by die hek saamstap.
By die hek sê Trompie hy sal nog ’n entjie verder saamstap. Hy wil die oomblik wanneer hy van Boesman moet afskeid neem, so lank as moontlik uitstel.
Op die grootpad buite die dorpie loop die grysaard ingedagte aan sy pyp en suig. Trompie speel nog eenstryk deur met Boesman.
Skielik gaan staan ou Safanja stil.
“Klein Trompie, jy moet liewer nou teruggaan. Dis al ver!”
Die trane blink in Trompie se oë toe Boesman weer teen hom opspring en blaf dat hy die klip wat hy in sy hand het, moet gooi.
Die ou man kyk na die seun en die hond. Toe sê hy: “Klein Trompie, ons moet Boesman maar laat besluit.”
“Wat sê oom Safanja?”
“Met wie hy wil saamloop.”
Oorbluf kyk Trompie na Safanja terwyl hy verduidelik dat die seun terug dorp moet stap terwyl hy met die grootpad aanloop. Boesman moet dan self kies.
Ou Safanja stap gebukkend aan. Trompie begin terugloop. Hy kyk aanhoudend om. Boesman kyk na Safanja, dan kyk hy weer na Trompie. Sy ore staan gespits.
“Kom, Boesman! Asseblief tog, Boesman, kom!” skree Trompie opgewonde.
Die hond draf ’n entjie na Trompie toe. Safanja kyk om.
“Boesman!” klink sy krakerige stem. Die hond draai om, staan ’n oomblik stil en draf dan na Safanja toe.
“Kom, Boesman, kom! Boesman! Boesman!” roep Trompie desperaat. Die hond aarsel ’n oomblik, dan vlieg hy om en nael na Trompie toe. Blaffend spring hy teen die seun op. Trompie stap nou vinnig. Boesman draf langs hom.
Een of twee keer gaan staan Boesman botstil en kyk om na Safanja se krom figuur wat al kleiner in die grootpad word. Dan sê Trompie terwyl hy die hond streel: “Kom, Boesman, my honne!”
Trompie draai om en skree hard: “Oom Safanja, jy moet weer kom kuier!” Hy sien hoe die oubaas waai.
Die hele weste is rooi. Die seun en sy hond stap terug dorp toe. Trompie sing en lag en speel met die blaffende Boesman. Die son gaan onder.