Читать книгу Vier seisoene kind - Wilna Adriaanse - Страница 10

6

Оглавление

Cato steek in die deur van die teater vas toe sy Maandagoggend net na nege die deur oopstoot. Niks het verander sedert sy Saterdag hier ingestap het nie. Maar terwyl sy daardie eerste dag effens verwyderd daarvan kon voel, is dit asof elke stoel en tafel, muur en gordyn vandag afwagtend na haar kyk. Soos ’n orkes wat op die dirigent wag. Asof sy die wysie ken en vir hulle die noot en die tempo sal kan gee. Sy maak haar mond oop om iets te sê, maar bedink haarself betyds. Dis een ding om in die privaatheid van jou bed en onder die dekmantel van die nag met jouself en wie weet wat nog te praat, maar dit is nou dag. Dit is die werklikheid waarin sy ’n werkgewer is en ten minste aan die begin moet probeer lyk asof sy weet wat sy doen. Fake it till you make it, onthou sy iets wat sy êrens gelees het.

“Hulle byt nie,” praat ’n stem agter haar en sy swaai om. Adriaan is besig om plakkate in die venster op te plak. “Die stoele en tafels byt nie,” gaan hy voort. “Altans nie so vroeg in die oggend nie.”

“Ek sal jou seker moet glo, want van waar ek staan, lyk dit eerder soos ’n put vol oopgesperde krokodilkake.”

Hy lag. “Gelukkig is hulle redelik dik gevreet en sal hulle jou nie vandag te veel pla nie.”

Cato glimlag. “Moenie my sterk in my kwaad nie. Ek probeer baie hard om te lyk of ek weet wat ek doen.”

“Is dit moontlik om ooit regtig te weet wat ’n mens doen?”

“Ek het op die oomblik dringend nodig om te voel asof ek weet. Al is dit ’n gewaande gevoel.”

Hy raak liggies aan haar arm. “Jy gaan baie beter vaar as jy vrede daarmee maak dat daar ten minste elke dag ’n paar onbeplande dinge gaan opduik. Op daai manier leer ’n mens op jou voete dink.”

“Sal jy my glo as ek vir jou sê daar was ’n tyd in my lewe toe ek vir niks geskrik het nie?”

“Ja, want anders sou jy nooit so ’n besigheid gekoop het nie. Hierdie bedryf is nie vir klein, bang dogtertjies nie.”

“Jy help nie juis om my gerus te stel nie.”

Adriaan lag hardop. “Relax, girl. Die ergste is verby. Jy het dit vanoggend deur die voordeur gemaak. Die res kan net makliker wees.”

Cato gaan sit haar handsak in die kantoortjie neer en bekyk die kaal mure. Wagtend op die dirigent.

Adriaan stap agter haar in en sit ’n lys name voor haar op die lessenaar neer. “Ons is volbespreek vir môreaand, die Here alleen weet hoekom, want die kunstenaar is nou nie iemand wat volgens my op ’n verhoog hoort nie, maar die volk is mal oor hom … backtracks en al.”

Cato kyk na die foto van die kunstenaar wat op die agterkant van die besprekingslys geplak is. “Ek veronderstel een van die grootste uitdagings gaan wees om my eie voorkeure buite die prentjie te laat en met ’n besigheidskop te dink.”

“Mimi se goue reëls was dat hulle betyds moet wees, stoele volmaak en hulle woorde ken … en as hulle van backtracks gebruik maak, ten minste te weet waar om asem te haal. Vir die res het sy nie omgegee of hulle klein hondjies deur hoepels laat spring of viool op ’n treksaag speel nie. Hulle moes net professioneel wees.”

Cato kyk na die name op die lys, fokus op een. “Wie is hy en wat doen hy? Ek het probeer om redelik op die hoogte te bly met wat in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf aangaan, maar as ek na die radio luister, besef ek ek is nie heeltemal by nie.”

“Geen mens kan bybly nie. Baie van hulle slaan soos kakiebos op na ’n goeie reën in die Karoo, net om die volgende dag met die eerste warrelwind wortel en tak oor die vlaktes te verdwyn. Meneer De Wit is darem gelukkig nie heeltemal ’n eendagsvlieg nie. Ek dink hy is reeds die afgelope vyf jaar aan die gang en volgens alle aanduidings vaar hy goed, al is ek nie ’n fan nie. Ek dink nie daar gaan binnekort ’n platinumplaat teen sy sitkamermuur pryk nie, maar hy maak stoele vol en hy is professioneel.”

“En die res van die week?”

“Woensdagaand is een van my gunstelinge. Lien het die stem van ’n engel en oor ’n jaar of wat gaan ons haar met moeite kan kry. Sy is nog ’n student en begin nou maar werklik bekend word, maar sy het reeds ’n goeie klompie fans wat altyd kom as sy sing.” Hy maak ’n boek op die lessenaar oop en blaai saam met haar van dag tot dag. “Donderdagaand se groep is geruime tyd aan die gang en al is hulle jonk, weet hulle wat hulle doen en veral die studente daag in hulle hordes op wanneer hulle optree. Vrydagaand word ’n nuwe play opgevoer en ons het reeds heelwat besprekings gekry. Saterdagaand is dit jazz-aand en die twee groepe is landwyd baie gewild. Ons is reeds volbespreek.”

“Wat gebeur as enige van hierdie mense nie opdaag nie?”

Adriaan trek sy asem geskok in en maak ’n teken in die lug. “ ’n Mens praat nie oor so iets nie. Dis moeilikheid soek.”

Cato skud laggend haar kop. “Maar wat as …”

Hy hou sy hand afwerend in die lug. “Daar bestaan nie so ’n woord nie, maar dit sal help as jy iets eksoties soos paaldans aanleer.”

Sy lag hardop. “Het die res van die personeel al gekom?”

“Nelson en Fatima is hier, want ’n paar verskaffers moet vandag voorrade aflaai. Die res sal seker nou-nou hier wees.”

“Is daar iets waaraan ek nou aandag moet gee?”

“Maak maats met die ameublement en lees die e-posse. Kan ek vir jou koffie bring?”

Voordat Cato hom kan antwoord, is daar ’n oorverdowende slag en die skrik trek in golwe deur haar.

“Wat was dit?”

“Dit klink of die kombuis ontplof het.”

Cato se oë trek op skrefies toe sy na hom kyk. “Is jy nie veronderstel om my nog te probeer beïndruk nie?”

“Ek is seker ek het dit met die eerste ontmoeting al gedoen,” sê Adriaan laggend terwyl hy wegloop. Hy steek vas en loer terug om die kosyn. “Wil jy koffie hê?”

“Ek sal self gaan haal, dan kan ek sommer groet en kyk wie is besig om die plek af te breek.” Cato stap agter Adriaan kombuis toe, waar Fatima aan die sing is terwyl sy ’n krat groente uitpak. Nelson is in die instapkoelkas en knik net toe Cato hom groet. Sy weet nie of sy bekommerd of geïrriteerd moet voel nie. Sy het nog nooit van kantoorpolitiek, of in hierdie geval kombuispolitiek, gehou nie. Sy wil nie raai wat hy dink en of hy nie dalk besig is om strignien in die hoenderpastei te roer nie.

“Wat het gebreek?”

“Niks het gebreek nie. Ek het een van die stainless steel-bakke laat val,” antwoord Fatima tussen die singery deur.

“Is alles al afgelewer?” Adriaan kyk na die fakture wat op die toonbank lê.

“Ja, behalwe die vleis. Hy het probleme en het net die helfte van die bestelling gebring, maar belowe om te kyk wat hy nog kan doen.”

“Nelson, het jy vir hom gesê ons is baie besig hierdie week en kan nie met halwe bestellings uitkom nie?”

“Ja, ek het vir hom gesê,” praat Nelson vanuit die koelkamer.

“As hy teen elfuur nog nie die res gebring het nie, moet julle kom sê sodat ons ’n ander plan kan maak.” Adriaan stap na die koffiemasjien en skink twee bekers vol. Hy hou een na Cato uit.

“Drink, die dag het nou maar net begin. Gelukkig is ons Maandagaande toe, sodat jy nie vandag oorweldig word nie.”

“Fatima, wat is op hierdie week se spyskaart?”

Fatima beduie na die groot swartbord teen die een muur en Cato stap nader.

Daar is twee voorgeregte, twee hoofgeregte en twee nageregte om uit te kies.

“Hoe weet julle hoeveel om van ’n gereg voor te berei? Hierdie bredie moet tog seker voor die tyd gekook word.”

Fatima beduie na ’n groot swart boek wat op die lessenaartjie lê. “Ons skryf elke aand se bestellings in daardie boek neer, sodat ons min of meer kan sien hoe die patroon loop.”

“En daarvolgens maak julle ’n voorspelling?”

“Ja, dis al wat ’n mens kan doen, maar moenie worry nie. Ons was nog nie baie verkeerd nie en die een of twee keer wat ons was, het die mense nie omgegee om iets anders te eet nie. Ons het nog net een aand ’n vrou gehad wat ’n scene gemaak het, maar Mimi het sommer vir haar gesê waarheen sy kan gaan.”

Op daardie oomblik kom Precious by die agterdeur in en groet Cato skamerig. Cato kan onthou dat die meisie se gesig haar die eerste dag opgeval het, maar sy besef nou eers hoe mooi sy is. Alles aan haar is rond. Haar gesig, lyf, oë. Kinderlik rond. Sy bêre haar handsak onder die lessenaar en bind ’n voorskoot om haar lyf. Nelson kom uit die koelkamer, en sy groet hom met dieselfde skugterheid, maar hy knik net.

Cato is verbaas oor haar ergerlikheid teenoor die stil, regop man. Maak sy kultuur dat hy moeilik vir ’n vrou werk, of is sy verwaand om te dink sy bui het iets met haar te doen? En om te dink sy het dit goed gevind om Frans op skool en in haar eerste jaar op universiteit te neem. Nie Xhosa of Zoeloe of een van die ander inheemses nie. Frans. Sy kan nie besluit of sy op hierdie oomblik skaam moet wees of lag nie. Het die witmense gedink hulle kinders sal gespaar bly van die werklikheid van ’n Afrika-bestaan as hulle ’n Europese taal aanleer? Of waarom het hulle nie elke kind in hierdie land verplig om ’n inheemse taal aan te leer nie? Sou daar nie vandag dalk meer verdraagsaamheid gewees het nie, of het die onverdraagsaamheid en onbegrip niks met taal te doen nie? Sou sy gemakliker gevoel het as sy vanoggend met Nelson in sy moedertaal kon praat? Is haar ongemak en ergerlikheid deels toe te skryf aan die feit dat hy haar in háár moedertaal aanspreek?

Terug in die kantoor sit sy voor haar rekenaar en maak haar in-mandjie oop; een na die ander verskyn die e-posse onder mekaar, vyftien in totaal. Hier en daar is ’n persoonlike een aan Mimi, maar die meerderheid het iets met die teater te doen. Verskaffers wat haar oor spesiale aanbiedinge inlig, kunstenaars wat navraag doen oor moontlike optredes. Hier en daar bevestig ’n kunstenaar ’n bespreking en sy is verbaas toe sy Paul de Wet se naam sien. Hy tree in ’n klug op wat oor drie weke opgevoer word. Vir ’n vlietende oomblik wonder sy of hy na hulle ontmoeting bly is dinge het destyds nie tussen hulle uitgewerk nie, maar voordat die gedagte behoorlik in haar kop kan nesmaak, skud sy haar kop asof sy daarvan ontslae wil raak. Wat ’n belaglike gedagte. Of dis dalk nader aan die waarheid om te sê nóg ’n belaglike gedagte. Blykbaar is haar kop op die oomblik ’n broeiplek vir belaglike gedagtes. Hulle teel soos kakkerlakke in elke donker hoekie van haar brein uit en skarrel heen en weer deur haar kop met voelers wat parmantig omhoog staan. Sy het ’n broeiplek vir kakkerlakgedagtes geword.

Sy is nog besig om deur die laaste e-posse te lees toe Felicity by die deur inloer.

“Pla ek? Dit lyk of jy hard konsentreer.”

“Julle moet aanvaar dat enigiets op die oomblik konsentrasie verg.” Sy beduie na die stoel voor die lessenaar. “Kom sit en help my met die navrae. Hoe moet ek weet wie van hierdie kunstenaars ek vir volgende jaar wil bespreek? Die helfte van hulle het ek nog nooit gehoor of gesien nie.”

“Wie is dit? Ek sal jou dalk kan sê of ek dink hulle sal die crowds trek.”

Cato noem ’n paar name en by sommige knik Felicity ligweg, by ander skud sy haar kop. “Dis beter as jy vir Adriaan ook vra, maar volgens my kan jy daai laaste twee ignoreer. Mimi het geglo ’n mens behoort van die nuwe mense ook ’n kans te gee, maar daar moet ten minste ’n belofte van talent wees. Daai twee het nie ’n gram talent tussen hulle nie. Daai girl is eintlik ’n groot slet en die een keer wat sy hier opgetree het, het ’n vrou haar met ’n handsak geslaan omdat sy ’n lap dance op haar man se skoot uitgevoer het.”

Cato kan nie help om te lag nie. “Miskien is ons in die verkeerde bedryf.”

Felicity knik instemmend. “Praat jy! My broer werk langs so ’n klub in die noordelike voorstede en ek het al gesien hoe staan die karre oor middagete daar. Die vroue pak toebroodjies in werk toe, maar liefie is lus vir iets meer eksoties.”

“Ek sien Paul de Wet kom hierheen.”

Felicity glimlag breed. “Ja, ek het die stuk vroeër vanjaar by die KKNK gesien. Dis baie goed en hy is natuurlik ’n crowd magnet. Veral die vroue kom in bondels. Ek sweer as hulle kon, het hulle onderklere op die verhoog gegooi. Hy is eintlik ’n baie nice ou. Nie soos sommige van die kunstenaars wat al hier was nie.”

“Wat van Jacob Alheit? Het hy al hier opgetree?”

Felicity lag. “Weet jy wat kos dit om hom te kry? In elk geval is sy dagboek drie jaar voor die tyd vol bespreek. Hy is op die oomblik een van die grotes, indien nie die grootste nie. Hy maak sále vol.” Sy rek die sin.

Dinsdagmiddag vieruur het Cato al die dag se e-posse beantwoord, drie keer seker gemaak dat al die aflewerings gedoen is. ’n Paar keer in die kombuis gaan seker maak hulle weet wat op die aand se spyskaart is en die verhoog met ’n besem gevee. ’n Dosent van haar het altyd gesê ’n verhoog is ’n heilige ruimte en ’n mens moet respek daarvoor hê. Daar is iets terapeuties aan die veebeweging, asof sy ou energie wegvee. Toe sy klaar was, het sy sommer voor die voordeur ook gevee. Dalk is dit nodig om daardie ruimte ook skoon te vee, sodat niemand vanaand ou dinge intrap nie. Ou vuilgoed, ou voetspore, ou rusies en ou gedagtes. Vanaand is ’n aand vir nuwe dinge. Sy wil tuis voel binne hierdie mure. Hier moet ’n uitruil van energie plaasvind wat haar sal verseker sy het nie verkeerd besluit nie. Maar wat as daardie vonk nie vanaand hier is nie? ’n Paar jaar gelede sou sy nie so ’n gedagte gehad het nie. Sy sou gesorg het dat hierdie plek haar omhels. Hoe kan ’n mens op ’n dag vir jouself so vreemd word? Dis tog steeds sy. Sy herken haarself in ’n spieël. En tog is haar gedagtes vir haar vreemd. Asof sy op ’n gekruisde lyn na iemand anders se gedagtes luister. Sy mis haarself. Die Here weet, sy mis dit om in haar eie kop te wees, om te weet wat daar aangaan, om haar menswees te vertrou. Sy dink nie sy vertrou op die oomblik enigiets van haarself nie. Dis asof elke beweging, elke woord, elke gedagte haar onkant vang. Hoe lank kan dit aanhou? Hoe lank weer voordat sy haarself êrens in hierdie kraaines raakloop?

“Wil jy nie huis toe gaan en gaan stort nie?” onderbreek Adriaan haar gedagtes waar sy ’n plakkaat teen die muur vasplak.

Cato kyk op haar horlosie. “Is daar tyd?”

“Die eerste mense begin gewoonlik so van halfsewe af kom. Jy kan nog vinnig ’n power nap ook inkry.”

Cato skud haar kop. “Ek sal graag wil gaan stort, maar ek sal nie ’n oog kan toemaak voordat ek nie weet vanaand het goed afgeloop nie.” Sy draai om om haar handsak te gaan haal, maar steek in die kantoor se deur vas. “Ek besef nou net ek gaan dalk nooit weer in my lewe kan slaap nie, want al verloop alles vanaand glad, is die kanse daar dat môreaand of oormôreaand ’n totale ramp kan wees.”

“Jy sal weer slaap.”

“Hoe weet jy dit?”

“Want ’n mens leer later jouself en die proses vertrou. Dit beteken nie jy is minder begaan oor die plek nie, maar elke suikerkorrel wat val, laat nie meer die fondasies skud nie.”

Jy het nie jou lewensgeld en een en ’n halwe nier verpand om die plek te koop nie, wil sy vir hom sê.

Kristina staan in die kombuis en tee maak toe Cato by die huis kom.

“Moet jy nie in die bed wees nie?”

“Wie ook al daardie woorde weer vir my sê, slaap van nou af by die honde. Ek is nie ’n invalide nie.”

Cato soen haar teen die wang. “Jammer, sal nie weer nie.”

“Hoe gaan dit by Big Pink? Alles reg vir die groot aand?”

“Dis soos om vir my te vra of ek reg is vir ’n eksamen. Hoe moet ek weet? Ek kon nooit verstaan hoe mense kan sê hulle is klaar geleer of dat hulle sewentig of tagtig persent vir ’n vraestel verwag nie. Ek het nie ’n idee of ons reg is vir vanaand nie. Daar was gisteroggend ’n vertraging met die vleis, die ou wat vanaand optree het sy vliegtuig in Johannesburg verpas en gaan laat wees. Daar is darem twee meisies wat solank vir hom sal instaan tot hy kom. Verder is die tafels en stoele uitgepak, die verhoog is gevee en dit lyk of Nelson en Fatima weet wat hulle in die kombuis doen.” Sy gooi haar hande in die lug. “En dit is sover ek weet.”

“Dit klink my julle is reg. Wil jy tee hê?”

“Kan ek nie liewer ’n koppie Rescue Remedy drink nie? Dit voel of Butterfly World ’n takkantoor in my maag oopgemaak het. Fok, Kris. Ek weet nie wat my ooit laat dink het ek kan in hierdie stadium so iets aanpak nie. Ek vermoed as iemand na aan ’n mens doodgaan, word ’n stuk van jou saam met hulle begrawe. In my geval dink ek was dit my vel. Ek voel verdomp rou, asof al my senuweepunte oop sit en dis baie seer. En ek is vir alles bang. Elke geluid en skaduwee laat my bewe.”

Kristina hou ’n groot beker tee na Cato uit. “Jy is nie die eerste een wat op die eerste dag by ’n nuwe werk senuweeagtig voel nie. Ek sou bekommerd gewees het as jy kalm was. Hel, Cato, jy het baie geld spandeer en dis belangrik dat dit ’n sukses is. Dis so eenvoudig soos dit.”

Cato neem klein slukkies tee.

“Jy’s nie ’n mislukking of ’n freak nie.”

Cato kyk op. “Ek voel soos een. Ek sweer al my personeel bedank môre.”

Kristina lag kopskuddend. “Dan kom werk ek vir jou. Ek kan al ’n mean pot sop kook, ek kan tafel dek en ek kan paaldans doen.”

“Van wanneer af kan jy paaldans doen?”

“Ek het vir jou geskryf dat ek by ’n dertigste partytjie was waar iemand ons kom leer paaldans het.”

“Dis jammer ek het dit vergeet; jy kon vanaand se opening act gewees het.”

Kristina sit haar arms om Cato. “As jy vanaand bang raak, onthou net jy het al vir Shakespeare opgevoer, in die oorspronklike teks … én jy het al pryse gewen.”

Cato lig haar hand toe sy uit die kombuis loop. “Keep on talking … wat het ek nog gedoen?”

“Jy het opgehou rook … dit was byna jou einde, of eintlik was dit ek en Helen wat dit amper nie gemaak het nie.”

“En ek was getroud en kon nie eers my man hou nie … hy het sommer net doodgegaan,” roep Cato van die trappe af terug.

“Dit het niks met jou te doen gehad nie.” Kristina het tot onder die trappe geloop.

“Hoe kan jy so seker wees?”

“Dis die mens se verwaandheid wat ons wil laat glo ons is die middelpunt van elke prentjie.”

Cato gaan sit op die boonste trap. “En waar was jý in die prentjie destyds? Het dit ook nie iets met jóú te doen gehad nie?”

“Nie tot die mate dat ek dink dit was ’n straf nie, of dat ek ’n slegte mens was en ’n les moes leer nie. Hoe graag ek myself ook al centre stage wou plaas, was ek maar net een van die karakters.”

Cato staan stadig op. “Ek wens ek kon slaap en wanneer ek wakker word, moet die pyn weg wees, die verlange moet iets van die verlede wees en ek wil al die antwoorde hê. En die regte pad moet soos ’n snelweg voor my lê. Dis al waarvoor ek nou vra. Hoe moeilik kan dit wees?”

“Dalk lê die uitdaging en die lekkerte in die soek na die regte pad,” roep Kristina teen die trap op.

“Dis maklik vir jou om te sê; jy het klaar die pad gekry.” Die woorde is skaars uit, toe kom Cato teen die trappe afgehardloop. “Ek’s jammer. Ek is ’n bitch en weet nie waarom ek dit gesê het nie.”

“Cato, hou asseblief op om vir alles jammer te sê. Glo dit of nie, maar jy gaan nog ’n paar erger dinge kwytraak voor dit beter gaan en dit help nie jy slaan jouself elke keer oor die kop nie.” Kristina draai Cato om en stuur haar in die rigting van die trappe. “Gaan maak jou mooi. Jy wil nie hê die dorp moet vra wie’s die lelike bitch wat vir Big Pink gekoop het nie.”

Cato draf weer teen die trappe op, maar steek haar middelvinger in die lug.

Vier seisoene kind

Подняться наверх